Jongste aktiwiteit:

Die Klap deur die Gesig

Die Klap deur die Gesig

In die geregshof

„u Word daarvan aangekla dat u hierdie kind in die gesig geslaan het. Het u iets om te sê?”

„Dis my kleinseun, en terwyl ek op die lewwie was, het hy my koerant aan die brand gesteek…”

„En dan het u hom in die gesig geslaan?…”

„Nee, edelagbare. Eers maar geblus en die vlek op die stoep geskrop…”

„Daarna?”

„Nee, hy het verdwyn, en ek moes hom gaan soek. Ek vind hom toe eindelik in my kamer, waar hy besig was om papierblommetjies en klere vir poppe uit te sny…”

„En dan geslaan?”

„Ja, hy was besig om klere uit papiergeld te sny…”

„Stilte in die hof!

Maar dit gee u nie die reg om ‘n kind te mishandel nie, bowendien is u ‘n afgetrede onderwyser. u Moet dog weet hoe om met kinders om te gaan.

En nou, my kind, jy sit so styf aan jou oupa aangeleun. Is jy nie bang vir hom nie?”

„Nee, Oom, dis mos my oupa.”

„En het hy jou geslaan?”

„Ja, Oom.”

„En hoekom?”

„Ek was stout, Oom.”

„Slaan hy jou dikwels?”

„Net as ek stout is, Oom.”

Oupa sit agteroor inmekaargesak en dink, half-mymerend vir homself, „Kyk hoe hang sy das oor die kant van die tafel. En ek sou graag daai inkpot op sy papiere wil omdop dat dit op sy broek afdrup.” Naas hom sit iemand wat aanskynend ook sulke gedagtes het.

„Wat máák jy daar, kind? Hou op! Hou op! Laat staan! Laat staan! Konstabel, vat hierdie kind hier weg!”

„Los daai kind uit!”

„Kom hie’so, blikskotteltjie, ek kry jou nog!”

„Laat staan daardie kind! Vat daardie kind nie aan nie! Ek kla elkeen aan wat daai kind aanraak!”

„Eina! Wil jy my byt? Wag net, ek…”

„Laat los daai kind, julle word gefilm. Vanaand kan julle dit op YouTube sien! Markus! Kom dadelik terug! Nou, sê ek! Of moet ek jou kom haal?”

Blatt! Die klap deur die gesig weerklink in alle hoeke van die stilgeworde hofsaal.

_______________

In die polisiemotor

„Toemaar, Oom, twee jare is gou verby. Ons ken die mense daar en die meeste is ordentlike kêrels. Ja, gaaf kan mens sê. Ons praat bietjie met die manne, hoor. Maar ek moet sê, sonder jou opvoering in die hofsaal was dit glad nie eers ses maande nie…”

„Wat fluit en fluit daai trein dan so?”

„Ky’daar! Die bakkie staan dwars oor die spoor en die kinders agterop skreeu…”

„Die drywer is mal! Hy hardloop soos ‘n wilde barbaar op die trein toe…”

„Spring uit kêrels, ons drie kry die bakkie gou van die spoor af…”

Maar die gevangene hardloop die paniekbevange bestuurder agterna, vat hom laag en trek hom neer. Met al die krag van sy geboeide hande slaan hy die man deur die gesig dat die snot so spat. Dis die magistraat, wat wakkerskrik en die naderende gevaar bemerk. Altwee spring saam uit die spoor en rol die klein afhang af net voor die trein met skreeuende remme aan hulle verbyraas.

______________

By die Verkeerskommissieondersoeking

„Ja meneer, ons twee het die bakkie tognog betyds van die spoor af weggestoot. Maar die gevangene het gedros… ag,… het die bestuurder agternagesit, en verder weet ek nie…”

„Dit word gesê dat u histeries in die rigting van die aankomende trein gehardloop het…”

„Dit is waar, ek het klaarblyklik my kop verloor — tot die gevangene my tot besinning gebring het. Regtydig, soos dit blyk. En daarvoor moet ek beslis dankbaar wees.”

„Dan lyk dit mos of alles meer of minder goed afgeloop het: Geen noemenswaardige skade aan mens of eiendom nie; ‘n bietjie baie adrenalien gepomp, verbeel ek my.

Nou wil ek my persoonlike hoogagting uitspreek vir die flinke reaksie van…”

„Meneer die Voorsitter, ek onderbreek u nie graag nie. Maar ek kla my self hiermee aan:

*Dat ek uit polisiebewaring ontsnap het,

*dat ek ‘n aanwysing van ‘n polisiebeampte nie nagekom het nie;

*ek het hierdie onnosele magistraat geweld aangedoen,

*sodoende het ek ook die gereg versmaai,

*en nou net het ek ‘n hofbeampte ook nog beledig;

*as herhalingsmisdadiger geld ek as gevaarlik en verdien ‘n besonders swaar straf.

Ek wil net sien hoe julle die twee jaartjies op vyftien opskroef, net omdat ek hierdie magistraatjie se lewe gered het.”

©.10e.Februarie2017.___.§.________________.2013.tje




1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed