Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: DIE KEISER EN DIE APPEL

Deur Toom
Datum gepubliseer: 14 September 2018 Aantal woorde: 1696 152 Kere gelees 1

DIE KEISER EN DIE APPEL

Kaptein Mirnako sit styf en stram op sy sitkussing. Voor hom sy oggendmaal waaraan hy slegs gepeusel het. Sy drinkbeker het hy glad nie eers aangeroer nie.

„Jy moet sterk wees, Silaki. Jy weet waar die geld en die silwer beker in die bos begrawe is. Wag tot na die middagete en neem die kind saam na my ouers op die dorpie. Laat dit lyk asof julle eenvoudig ‘n entjie gaan stap. Te voet moet julle binne drie dae daar uitkom, skat ek. . .”

„Ja, my man. Ons het dit al dikwels deurgeplan.” Sy kyk hom met wyd oopgesperde oë en bibberende kin aan.

Die kind sit in die ander hoek van die kamer en speel met haar poppie, „Alles op-eet, my Lief. Môre moet jy sterk wees. Ons gaan ver stap. Pappie moet hier bly. Sake, wee’jy. Hy’s mos militêr — ‘n offisier. Miskien moet hy gou oorlog maak, of so. Dan kom hy ook. Na Ouma en Oupa wee’jy. Nog ‘n lepeltjie vir Ouma. . .”

Buite dreun marsjerende voetstappe verby en halt bietjie verder af in die straat aan. ‘n Stemgegons en dan kom hulle weer nader en maak weer halt.

„Eers Mosanko, dan Birlak. Dan ek.” Mirnako staan op. Hy neem sy swaard van die haak af en lê dit plat op die vloer in die deuropening.

„Maak oop in die naam van die Keiser!”

Silaki gaan na die deur en sluit oop. Haar man buk en neem die swaard in altwee hande. Hy presenteer dit op sy uitgestrekte handpalms met ‘n effense buiging aan die offisier wat teenoor hom staan. Sonder ‘n woord neem die vreemde kaptein dit, gee dit aan ‘n onderoffisier, salueer, keer om en marsjeer uit op die straat. Mirnako tree na vore tussen twee onderoffisiere. Voor hom, elkeen tussen twee onderoffisiere, staan sy kamerade.

„Voorwaarts mars!”

Mamma, hoekom huil jy, hê, Mamma? Het jy weer hoofpyn?”

„Hartseer, my kind. Loop speel maar, Lief. Ek roep jou weer om te kom eet.”

Die kind spring na buite met haar pop aan haar bors gedruk. En wat sien sy daar? Daar regs buig ‘n groepie soldate na links af en marsjeer in die hoofportaal van die kasteel in. „Solda-te, solda-te; heerlike soldate! Pappie’s ook ‘n soldaat; Pappie’s ook ‘n soldaat!”

Sy draf agterna en loer deur die donker gang in die binnehoof. Die wagposte staan eenkant aan die muur aangeleun met hulle wapens aan die bors onder gevoude arms vasgeklem en gesels. Die kind trippel ongesiens aan die soldate verby deur die donker tonnel in die lighoof.

lyk dit hierbinne! Watse heerlike vlagge hang aan die mure, en soveel soldate, en soveel verskillende uniforms, en soveel blink vensters langsmekaar. Hjoei, en oormekaar en nog ‘n ry en nog oormekaar en langsmekaar! Hjoei! En ‘n groot deur met wit trappe voor. En wat kan daarbinne wees? Die kind hou haar pop aan die een hand vas en die voete van die pop maak pa-doep, pa-doep, pa-doep soos sy die trap uitklim.

Een van die deure is nie heeltemal toe nie, en ‘n skyfie lig streep oor die vloer tot voor haar voete. Daarbinne staan ‘n man. Hy leun met sy een hand aan die muur en kyk na onder en sug. Hy sug nogeens en draai van die muur af weg. Hy druk altwee hande op sy gesig en kreun.

„Kry Oom seer? Moenie huil nie, Omie. Liefie smeer ‘n salfie op. Waar maak dit eina, kop of magie? Hmm?”

„Waar kom jy vandaan? Wat soek jy hier, kind?”

„Nee, ek was nog nooit hierbinne nie. Hier’s mos waar die keiser woon, nè? Ken Oom die keiser? Hy’s mos ‘n goeie mens, nè? Of hoe?

Nou praat tog man! Is hy dit?”

„My liewe kind. . .”

„Nou toe nou: Ja of nee?”

„Mm, ja, mm, ek sou sê, ja, hy is elkgeval nie ‘n slegte mens nie. Of minstens probeer hy om nie sleg te wees nie. Is dit ‘n antwoord vir jou?”

„Nou goed dan. Maar Mammie sê immer, praat reguit en nie om die bos nie. Hoekom moet grootmense altyd so bossiesom praat, hmm?”

„Nouja, mens kan sê, hoe groter die mens word, hoe moeiliker word dit om iets reguit te praat. . .”

„A-ag. is dit. Ja, ek sien . . . Dan is dit vir die grootste mense die moeilikste, nè? En dan is dit vir die keiser die heelmoeilikste. . .”

„Presies so is dit, my kind. . .”

„Ja, maar wat doen die keiser heeldag? Bevele uitgee? Waar werk hy dan?”

„Juis hier in hierdie kantoor. Hier gee hy die bevele uit. Hier skryf hy sy bevele op hierdie lessenaar.”

„Hah! Dan wil ek ok maar keiser wees. Of keiserin. Bring my ‘n bankie, dan kan ek ok bevele skryf. . .”

„Hierso, ek hou jou om die lyfie vas, dan kom jy aan die skryfplaat. . .”

„Ja, maar ek kan nie eers skryf nie. Laat los. Sit my neer.

Ken jy die keiser? Hmm?”

„Ja, so kan mens sê. Ek ken hom goed.”

„Sê maar, ís jy miskien die keiser?”

„Ja my engel, ek is die keiser. . .”

„Dan is ek jou keiserin.”

„Goed dan, u Majesteit.”

„En hoekom het jy so gehuil?”

„Dis soos jy sê, die grootste mense het die grootste kommer.”

„Dan wens ek as keiserin dat jy nie meer soveel kommer het nie!”

„Ongelukkig is dit nie so maklik nie. Maar, omdat jy vir my iets gewens het, gee ek jou ook ‘n wens vry. Is daar iets wat jy graag wil hê?”

„A-ag, ek wou net. . .”

„Keiserlike Majesteit, die gevangenes het aangekom en wag in die spreeksaal.”

„Ja, ek kom, ek kom. Bly hier sit, my engeltjie. Ek’s nou-nou weer hier.”

Keiserlike Majesteit, aldrie gevangenes word daarvan beskuldig dat hulle téén Majesteit se leer geveg het nadat die vrede reeds gesluit is en die oud-keiser afgeset is. Daar is bewys word dat hulle saamgesweer het om, kos dit wat dit wil, deur die omsingelende regimente deur te breek om die oud-keiser te bevry. Ek pledeer: Skuldig aan hoogverraad met doodsvonnis.”

„Aldrie het geloofwaardig betuig dat hulle vir die kroon geveg het. As die kroon op die oud-keiser se hoof gerus het, dan vir die oud-keiser; as dit op die nuwe keiser se hoof rus, dan vir die nuwe keiser. In die wirwar van die oorlog het hulle nie geweet dat die vrede reeds gesluit is nie. Ewe so min het die regimente waarteen hulle geveg het dit geweet.”

„Die feit bly staan dat hulle teen die troepe van die nuwe keiser geveg het. En dit geld as verraad. Hoogverraad.”

„Aan altwee menere generaal, vir die aanklagte asook vir die verdediging: Juis dit is ons probleem. Aldrie is getroue onderdane en aldrie het ons aangeval. Dit lyk my daar is eweveel reg as onreg hier aanwesend.”

„Maar iemand moet sterf vir die veraadsgeval. . .”

„Ja, adjudant?”

„Perdalks is dit genoeg as slegs op een die doodsvonnis opgelê word en die ander twee vrygelaat word. . .”

„Hoe gaan ons kies watter een moet sterf en watter twee moet leef?”

Die keiser strek sy hand in die lug op. „Wag eers. Net ‘n oomblik. . .”

„Majesteit?”

„Die hemel sal besluit. Ruim die saal. Ons wil met die twee generale alleen praat.”

Laat aldrie gevangenes blinddoek en met die gesig aan die muur staan. Die hande agter die rug oormekaar gelê om iets te ontvang wat daarin geplaas mag word. Die een wat iets ontvang sal die veroordeelde wees en sal onthoof word.

Sê sy Majesteit dat alles voorberei is.”

Kom, my engeltjie, Neem hierdie appel. . .”

„So ‘n lekker rooie! Hmm! Mag ek hom eet?”

„Nie nou nie. Later gee ek jou ‘n hele mandjievol vir jou mammie. Maar nou, sien jy die drie manne daar oorkant? Gaan lê die appel in enigeen van hulle se hand.”

„Dis mos drie offisiere, nè? En kyk daar, die ene is mos my pappie. Hy kry die mooi appel. Hie’so, Pappie. Ek sal hom oral ken. Kyk, die trossies aan sy skouers is net so rooi soos die appel. Vat die appel, Pappie. Dis seker die mooiste, rooiste appel uit die keiser se kombuis. Net vir jou!”

Stilte heers in die saal, swaar gedempte stilte wat op almal se gemoed lê. Soos ‘n loodkombers. Die keiser kry skaars sy mond oop: „Die hemel het gekies. Die engel van die hemel het gekies,” mompel hy bitter.

Die kind huppel terug en spring aan die keiser hoog. „Vang my, vang my! Tel my op!”

„Oom keiser,” sê sy as sy op sy arm sit, „Oom het gesê dat ek ‘n wens vry het, nè? Ek wens dat jy Pappie huistoe stuur. Laat hy éénmaal by die huis bly. Mammie het só gehuil toe hy vammôre met sy oorlogsvriende weggaan. Toe Oom, toe.”

„Ja, maar kind. . .

Ja, maar kind! Ja, maar kind! Altyd Ja, maar kind! Jy het vir my verspreek dat ek enigiets kan wens. En nou sê jy, Ja, maar kind! Hoekom hou jy jou nie aan jou verspreking nie!”

Die keiser buk en sit die kind sagkens op haar voete op die vloer neer. Hy sug diep en ‘n glimlaggie in sy oog kruip af na sy mondwinkel. Hy staan op en wend hom aan die versameling van soldate. „Die kapteins Girlak en Mosanko word vrygespreek. Kaptein Mirnako word begenadig. Die engel van die hemel het besluit.”

Soos een man kom dit uit alle kele in die saal: „Amen!”

14.September2018____⌘⌘⌘_________________tje

[Hierdie verhaal het ek seker meer as sestig jaar gelede gelees – en vergeet. toe sê iemand, ja, maar dis mos die storie deur Mark Twain oor Cromwell nadat hy die koning afgeset het en lord protector geword het.

Watse voetnota kan ek skryf?

1. Dat dit ‘n vertelling na Mark Twain se oorspronklike tema is (soos by my Afspraak-in-die-park-verhaal)?

2. Dat dit ‘n vae herinnering uit my kindheid is (soos by my Kersgeskenk-verhaal)? Want ek het nie meer geweet nie.

Ek kan dit nie, soos mense vroeër gemaak het, sommer as ‘n eie verdigsel verkoop nie. Buitendien het ek dit êrens in ‘n land geplaas sonder naam. In ‘n tyd sonder datum.

Nou goed dan: Nommer 1 is die geldige voetnota. Met nr 2 se ondersteuning.]

 




  • TEMAS

    Laat u kommentaar

    GESKRYF DEUR

    Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

    Publikasies: 176
    Kommentaar telling: 168

    Wat ek weet, of meen dat ek weet, het ek onder meer op praktiese manier in die klaskamer geleer - aan en van die kinders - ook my belewenisse van konferensies en kongresse, dagblaaie, biertjies op die stoep en die gans normale daaglikse waansin. Byna vyftig jare woon ek al in Duitsland; eindelik kan gestolde gedagtes, verflenterde notatjies nou uit hul winterslaap wagword. My uitgangspunt is dat die woorde lekker moet proe, glad oor die tong moet rol. Alles wat ek skryf is outobiografies - ek het nie die geld vir die prokureur nie.

    Gebruikers Aanlyn

    0 Lid, 58 gaste aanlyn

    Bydrae Totale