Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: Die Inwoner

Deur Riaan Palmer
Datum gepubliseer: 8 Januarie 2020 Aantal woorde: 1354 143 Kere gelees 3

Ai tog. Ek het sommer geweet vandag gaan een van dáái dae wees toe die simpel koei weer ‘n uur in die badkamer spandeer het. Na al die tyd het sy nog nie agtergekom dat daar geen salf – of grimering – te smeer is om daai gesig beter te laat lyk nie. Sy wonder altyd hoekom sy sleg lyk op haar Facebook foto’s. Dis haar gesig. Geen ander rede nie. En ek het dit al reguit vir haar gesê ook. Maar toe ignoreer sy my asof ek nie eers bestaan nie. Teef. En toe word by vermoedens bevestig dat dit gaan ‘n moeilike dag wees toe ek haar nota op die yskas sien. “Dringende inwoner vergadering. 7 uur, Maandag aand. Carmen.”

Ons almal haat dit. Carmen se simpel vergaderings. Maar niemand het ‘n keuse nie, anders skop sy jou uit. Of eerder haar pappie. Carmen se pa besit die huis wat as kommune dien vir ons sewe inwoners. Natuurlik Carmen, wat dink omdat haar pa oneindig baie geld het, dat sy sommer almal se baas is. Maar haar persoonlikheid het soveel diepte soos ‘n piering melk. En nie eers te praat van haar intelligensie nie – of moet ek eerder sê die tekort daaraan. Ek het al droë herfsblare gesien wat meer insig as daai meisie het.

Die inwoners? In die hoofslaapkamer woon Dawie en Mariska. Mariska is een van daai meisies wat uit die platteland af hier aangekom het, onskuldig en naïef soos net ‘n plasie kan wees. En daai onskuld het net gehou tot die eerste dag wat sy Dawie ontmoet het. Mos net ‘n halwe mooi woord uit die mond van ‘n mooi man en ‘n naïewe meisietjie gaan lê plat op haar rug. Seker nie dat iemand haar kwalik neem nie. Dawie is ‘n Griekse god. Sy spiere het spiere. Sy spiere se spiere het spiere. Daai oneindige diep blou oë kan enige hart laat fladder. Michelangelo sou een beeld na die ander van Dawie kon kap. Hy sou net meer marmer nodig gehad het vir sekere dele, as vir die Dawid beeld. Maar Dawie probeer so hard om sy manlikheid te bewys. Die slaapkamerdeur is meer toe as wat dit oop is, en daai bed kan gerus bietjie olie kry. Dis ‘n wonder dat arme Mariska nie al bakbene gekry het nie. Dawie dink niemand weet dat hy die Men’s Health nie koop vir sy gesondheid nie. Hy koop dit vir die prentjies van die gespierde mans. Maar hy sal dit seker nooit erken nie, al gaan sy siel elke dag bietjie meer dood as hy saam Mariska in die bed klim.

Af in die gang bly Willem. Of soos hy homself noem, Xolotl – god van die onderwêreld. Eens ‘n vaal Afrikaner seun van Heidelberg waar sy pa die dominee van die NG Moedergemeente is. Nou is Willem ‘n “Goth”. Sy muis bruin hare pikswart gekleur en regop gebou in ‘n punk styl. Sy gesig spierwit gepoeier met pikswart lipstiffie. En gaatjies met stukke metaal deur, órals. Deur sy ore, deur sy neus, deur sy wenkbroue en ook heelwat ander plekke waar ‘n mens nie veronderstel is om gaatjies óf metaal te hê nie. Ek het al hoeveel keer in die nag in hom vasgeloop dan skrik ek my gat af – dog ek elke keer die dooies het uit die gate uit opgestaan. Dis nou van “gogga maak vir baba bang”.

Willem – verskoning, Xolotl – deel ‘n kamer met Hendrik. Hendrik is ‘n derdejaar elektriese ingenieurstudent. Hendrik is baie oninteressant. Ek het eenkeer gelê en kyk hoe gras groei en dit was baie interessanter as Hendrik se lewe en persoonlikheid.

Die ander een in die huis is Theuns. Theuns kon ‘n dokter gewees het. ‘n Breinchirurg. Of selfs ‘n slim wetenskaplike wat vuurpyle op Mars laat land het. Maar Theuns het aap-twak ontdek. Nou laat hy, met elke zol wat aangesteek word, selfs vir Carmen lyk soos Einstein. Ek is verbaas hy kry dit reg om gelyktydig te loop en asem te haal.
Dan is daar natuurlik ek. Ek hou my eenkant en bekyk maar net die spulletjie so. Ek pla niemand. Niemand pla my nie.

Uiteindelik breek 7 uur aan en ons almal drentel eetkamer toe, nou nie vreeslik opgewonde oor nog ‘n uittrap-sessie nie. Waaroor kan Carmen tog nou weer kla? Het iemand weer ‘n vuil bord in die wasbak gelos? Of dit nagelaat om ‘n nuwe toilet rol in te sit? Die lewe is te kort vir dié twak, maar hier sit ons…
“Baie welkom en dankie dat julle almal stiptelik teenwoordig is.”, begin Carmen en gee Theuns ‘n kyk, aangesien hy maklik kan vergeet watter tyd van die dag of jaar dit is. “Ek wil graag die olifant in die vertrek aanspreek. Dit help nie ons ignoreer dit meer nie.” Die groep inwoners rol eenparig hulle oë. Behalwe Theuns. Hy rol ‘n vars zol. Carmen is egter te leeg in die kop om haar gehoor te lees, en gaan onverpoosd voort. “Daar is ‘n gees in die huis. Dit goël hier.”
Dawie giggel senuweeagtig terwyl Willem – ag ek bedoel Xolotl – met belangstelling regop sit. Ek kan nie help anders as om te sug nie. Carmen is versot op drama. Almal volg haar reëls tot die letter, nou dink sy maar belaglike goed uit vir nuwe drama. Ek meen, dit is seker nie onmoontlik nie… Die massiewe huis is in die vroeë 1700’s gebou, as herehuis, en hier is al vele mense bokveld toe in die gebou. Maar daar is mos nie iets soos spoke nie?!
Carmen bly ‘n oomblik stil, vir effek, voor sy aangaan met haar bogstories. “Ons almal het die tekens al gesien. Ligte wat in die nag aangaan. Krane wat oopgemaak word – en oop gelos word. Goed in die kombuis wat nie op hulle plek is nie…”
“Het jy saam Theuns begin rook?” Val Hendrik haar in die rede. “Dis mos eenvoudig. Iemand by hierdie tafel kom nie die reëls na nie. Waarskynlik Theuns wat, kom ons wees nou maar eerlik, bietjie in gedagte kan wees. Of Willem wat enige iets sal doen vir aandag.”
“Jou hol.” Sê Willem in ‘n emosielose toon.
“Ek het ook eers gedink dit is een van julle.” Carmen was duidelik gereed hiervoor. “Dis hoekom ek my pa laat kameras installeer het. En dit is…”
“Wat!? Jy kan ons nie afneem sonder ons toestemming nie!” Dawie bloos bloedrooi en die vrees is duidelik in sy stem. Hy’s net bang Carmen weet wat hy doen as hy alleen is.
“Ek kan maak nes ek lus is. Dis my familie se huis. Ek is in beheer van sake.” Sit Carmen hom bitsig op sy plek. “As jy nie daarvan hou nie, weet jy waar die deur is…”
Dawie laat sak sy kop. Blyplek is skaars naby die universiteit.
Carmen gee hom kans om iets te sê, en toe dit duidelik is hy het geen verdere objeksies nie, gaan sy aan. “Ek het deur die video-opnames gegaan, en dit is duidelik dat hier ‘n poltergees in die huis is. Die ligte gaan vanself aan. Die krane gaan self oop. Die kombuiskaste gaan van self oop en jy kan sien hoe skuif borde en goed rond.”
My geduld is besig om op te raak. Die vroumens het sowaar as waaragtig stapelgek geword. Die res van die inwoners kyk haar net met ongeloof aan.
“En dit mag dalk nou skadeloos wees, maar ek het al genoeg flieks gekyk om te weet dit gaan eskaleer. Dis net ‘n kwessie van tyd voor die… gees… iemand gaan seermaak, en uiteindelik dood maak! Ek stel voor ons kry ‘n geestelike leier of ‘n siener om die huis te kom reinig van die bose geeste!” Carmen is naby aan histerie.

Ek is verby histerie. Ek kan nie meer na hierdie waansin luister nie. Ek staan op, en klap hard op die tafel.
Almal staar verskrik na my en ek sis deur my tande. “Wat se absolute snert! Ek bly al 173 jaar in hierdie huis en ek het nog nóóit iets vreemds gesien nie. Jy is mal in jou kop!”




TEMAS
1 Kommentaar
  1. Anze

    8 Januarie 2020

    Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die Januarie 2020 projek

Laat u kommentaar

GESKRYF DEUR

Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

Publikasies: 36
Kommentaar telling: 24

Ek moet die gedagtes wat hier in my kop maal neerskryf, want die goed hol rond en skop die tafels om en soek moeilikheid met ander gedagtes. Mens sal mos mal word as jy dit nie uit jou kop uit kry nie. Party mense noem my 'n "drama queen". Hulle is verkeerd. Ek is 'n drama prinses. Alles wat ek kwytraak moet met 'n knippie sout geneem word. Wag. Nee, 'n pond sout. Alles is tong in die kies. Of is dit? Kom ons vra die Heilige Koeie... Ek meng my tale, gebruik te veel ellipse, maak sommer woorde op en vloek vreeslik. Sorrynotsorry daaroor.

Gebruikers Aanlyn

0 Lid, 60 gaste aanlyn

Bydrae Totale