Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: Die Hoender-meisie van Nooitgedacht

Deur Riaan Palmer
Datum gepubliseer: 30 Julie 2019 Aantal woorde: 1583 97 Kere gelees 1

Daar is duisende kilometers se grondpad in Suid-Afrika waar geen mens ooit ry tensy jy daar moet ry nie. Een so pad is die pad tussen Warmbad en Nooitgedacht. Daar het ‘n paartjie Oom Drik (uitgespreek Dirk, maar gespel Drik, oorlat sy Pa disleksies was) en Ta’ Alie ‘n plaas gehad. (Nie Tant Alie van die liedjie nie; hierdie was ‘n ander antie.) Die twee was heeltemal selfversorgend: Hulle het self al wat ‘n groente is geplant, beeste, skape, varke en hoenders gekweek en selfs katoen gegroei om klere mee te maak (ten minste al die klere wat hulle nie uit leer uit wou maak nie, want mens wil tog nie met ‘n leer onderbroek stap, in die somer in die Bosveld nie). Hulle het nie eers elektrisiteit gevat toe Eskom kom lyne lê nie, wat beteken daar was ook geen draadloos of prentjie-boks nie. Hulle het dus geen rede gehad om ooit op die dorp te kom nie, en soos die jare geloop het, het die hele kontrei skoon vergeet die paartjie bestaan enigsins.

Dis eers toe Oom Abel ‘n jong Brahmaan bul bestel het, wat almal weer onthou het van Oom Drik en Ta’ Alie. Sien, Oom Abel lees in die Landbou weekblad van al die fancy beeste waarmee die Amerikaners vorendag kom met “kruisbestuiwing”. Hy bestel vir hom ‘n massiewe Brahmaan bul wat net-net ‘n vrugbare ouderdom bereik het, met die gedagte om die bul tussen sy Jersey koeie los te laat, om sodoende ‘n nuwe, massiewe ras melkkoeie uit te broei. Dié dag word die jong Brahmaan afgelaai met die hele spul Jersey koeie wat nuuskierig naderstaan om te kyk wat gebeur. Die Brahmaan storm uit, vat twee keer grond en is bo-op die eerste Jersey, Bessie, nog voor sy eers daaraan kan dink om haar onskuld te beskerm. Bessie se bene knak dubbeld soos ‘n Russiese gimnas en vir weke daarna skrik sy nog in die middel van die nag wakker, van die bomskok. Die res van die Jerseys bekyk die saak so ‘n sekonde of wat, besef wat kom en so vlug die hele trop in die vier windrigtings, die veld in. Kom ons sê maar net dat geen grensdraad ‘n angsbevange Jersey, wat vlug vir haar onskuld, kan keer nie.

Toe die Brahmaan weer teruggepos is, en die werf weer veilig is vir ‘n onskuldige melkkoei, stuur Oom Abel die volk uit om sy trop Jerseys te gaan bymekaarmaak. Met die gesoekery vir die trop Jerseys eindig die soekgeselskap op Oom Drik en Ta’ Alie se plaas. Hulle kry dié twee se geraamtes in die kombuis. Nie Konstabel Lappies of Dok Koos kon enige leidrade kry waaraan die twee dood is nie, maar Dok is seker hulle was al ‘n goeie 8 jaar dooi. Dit was egter nie die grootste skok vir die kontrei nie. Wat niemand geweet het nie, is dat Oom Drik en Ta’ Alie ‘n dogter die wêreld ingebring het. Groot was die verbasing toe Konstabel Lappies die werf verken en ‘n poedelkaal dogtertjie saam die hoenders in die hoenderhok kry. Sy loop so ewe op haar hurke met haar armpies onder haar kieliebakkies ingevou en skrop in die sand saam die hoenders. “Kô-kô-kô” ook so ewe. Blykbaar het die hoenders die arme kind, wat omtrent ‘n jaar oud moes wees toe haar ouers gesterf het, aangeneem en grootgemaak.

Na ‘n kerkraadsvergadering, ‘n skoolraadsvergadering, ‘n vrouevereniging vergadering en ‘n paar geselsies oor ‘n bier by die naaste kroeg, besluit die kontrei se mense dat Oom Drik en Ta’ Alie se kind deur die Van Verlangens aangeneem sal word. Die Van Verlangens egpaar was net te gretig – of eerder dankbaar – om die kind in hulle groot, leë huis te verwelkom. (Maak nie saak watter posisie Gert van Verlangens probeer het nie, sy vrou Hettie wou nie vat nie en vir hom ‘n eersgeborene in die wêreld bring nie.) Op Dominee se aandrang word die kind met moeite na die naaste natsel toe gesleep en word sy gedoop as Kiepie van Verlangens. (Nie vreeslik oorspronklik nie, maar wat anders sou jy nou ‘n kind wat deur hoenders grootgemaak is noem?)

Van dag een af was dit net opdraande in die Van Verlangens huishouding. Kiepie wou niks weet van klere dra óf binne die huis wees nie – wat nog te praat van op ‘n bed slaap. Hol al hurkend weg vir Hettie van Verlangens, as sy vir haar ‘n rokkie probeer aantrek, en gaan sit buite in die lukwartboom waar sy die res van die dag ontsteld sit en kô-kô-kô. Hettie kry gelukkig ‘n helder oomblik, sny drie vere kussings in flarde en maak die pragtigste sonrok vir Kiepie uit die verbleikte vere. Sy lok vir Kiepie uit die lukwartboom met ‘n handvol mieliepitte en kry die vere-rok oor die kind se kop. Kiepie is buite haarself want sy’t nog nooit méér soos ‘n hoender gevoel as in haar vere-gewaad nie. Uiteindelik kon Gert van Verlangens ook huis toe gaan want daar was nie meer skaamteloosheid op sy werf nie. Gert doen ook sy deel, en hy bou ‘n glorified hoenderhok in die agterplaas – nogal kompleet met moerse bloekom stok waarop Kiepie kan sit en slaap. Gert het ook vinnig geleer dat as Kiepie aan die kekkel gaan in die hoenderhok, dan het sy kammakastig ‘n eier gelê. Dan moet Gert maar inderhaas hardloop met die graaf en die onheil verwyder, vóór Kiepie daaraan dink om die “eier” uit te broei.

Doktors kom van heinde en verre om die hoender uit Kiepie te probeer praat of dokter. Kop dokters, mediese dokters, spesialiste, spiritualiste, sangomas en selfs ‘n veearts of twee. Maar Kiepie se toestand bly onveranderd. Inteendeel, raak Kiepie erger. Sy begin ophou eet: Nie mieliepitte nie, nie kropslaai nie, niks. Sy trek selfs haar neus op vir ‘n handvol tuinslakke (wat Kiepie in die verlede met groot oorgawe uit Hettie se hand gepik het). Naderhand sit die stomme kind dag in en dag uit en wegkwyn op die stok in die glorified hoenderhok. Sy gee net so nou en dan ‘n sagte kô-kô-kô, net om te laat weet sy leef nog indien iemand sou belangstel.

Die Van Verlangens is raadop en laat kom weer vir Dok Koos, want ten minste ken Kiepie teen die tyd al die gryskop omie. Hy luister aandagtig na wat die Van Verlangens paartjie hom vertel, steek sy pyp aan en stap met rustig met bolle rook die glorified hoenderhok in. Hy kô-kô-kô in haar rigting. Sy kô-kô-kô saggies terug. Hy staar diep in Kiepie se oë en sy wys vir hom haar siel. Dan stap Dok Koos koponderstebo weer terug tot by die Van Verlangens.
“Sy ly aan depressie. Sy’s hartseer. Sy mis haar mense…uhm…hoenders. Sy gaan doodgaan van ellende as sy hier bly.” Dok Koos se stem is bewoë want hy weet daar is niks wat enige dokter vir ‘n gebroke hart kan doen nie.
“Se moer!” Sê Hettie van Verlange, rol haar moue op en stap woedend – doelgerig – die glorified hoenderhok in, nog voor die twee mans iets kan sê of doen.
Hettie gaan staan vierkantig voor Kiepie en druk haar wysvinger voor die kind se gesig, waar sy op die stok sit en kô-kô-kô.
“Luister nou mooi vir my! Jy’s nie ‘n verdomde hoender nie!” Hettie is buite haarself van weke se frustrasie wat opgebou het tot by breekpunt. “Klim onmiddellik van daai stok af en gedra jou soos ‘n normale mens!”
“Kô-kô-kô…”
“ON! ME! DE! LIK!” Die are staan skoon bulte op Hettie se gesig soos sy die lettergrepe in hoofletters sê.
“Kô-kô-kô…”
En toe pik Kiepie vir Hettie van Verlangens. Reg teen die voorkop. En weer. En weer. Hettie slaan agteroor neer dat die stof soos ‘n wolk om haar hang. Kiepie is van die stok af, pens-en-pootjies bo-op Hettie se bors en sy pik en sy pik. Dit kos beide uitgegroeide mans om Kiepie met moeite van Hettie af te kry, want as jare se hoender-selfverdediging opleiding inskop, het jy moeilikheid!

Twee dae later is Kiepie weer terug op haar oorlede ouers se plaas saam die ander hoenders op die werf. Hettie van Verlangens het dit net-net oorleef en darem net weggestap met 60 steke, ‘n gebreekte neus en ‘n glasoog. Hettie is ook vir altyd genees van haar begeerte om kinders te hê. Sy’s ook vir altyd genees van KFC.
Gert van Verlangens het egter lief geword vir die kind, en het gereeld vir Kiepie en die ander hoenders sakke vol mieliepitte gevat. Hy’t ook gereeld vir Dok Koos daar gekry, wat darem seker gemaak het dat die kind nog gesond is, en nie Newcastlesiekte opgedoen het nie. Dan sit die twee mans oor ‘n bier en wonder wat van Kiepie gaan word.

Dit was járe terug. Dok Koos is lankal oorlede en Gert van Verlangens nie te lank daarna nie. Niemand is meer seker presies waar op die pad na Nooitgedacht lê Oom Drik en Ta’ Alie se plaas nie. As jy die volk in die kontrei vra oor die plaas en Kiepie dan skud hulle net hulle koppe.
Óf hulle waarsku net “Djy moenie daar gaat nie. Darrie hoenôr vrou gat vir djou pêk. Hy maak so kô-kô-kô en as djy weer sien dans jou oog by die grond.”
Maar dis tog net ouvrou stories en bangmaak praatjies. Nè?




TEMAS
2 Kommentaar
  1. Kiekies

    30 Julie 2019

    Not a dem, dis alles waar!!

  2. Riaan Palmer

    30 Julie 2019

    @kiekies 😂😂😂 Net so! Ek sal mos nooit lieg nie! 😉

Laat u kommentaar

GESKRYF DEUR

Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

Publikasies: 22
Kommentaar telling: 18

Ek moet die gedagtes wat hier in my kop maal neerskryf, want die goed hol rond en skop die tafels om en soek moeilikheid met ander gedagtes. Mens sal mos mal word as jy dit nie uit jou kop uit kry nie. Party mense noem my 'n "drama queen". Hulle is verkeerd. Ek is 'n drama prinses. Alles wat ek kwytraak moet met 'n knippie sout geneem word. Wag. Nee, 'n pond sout. Alles is tong in die kies. Of is dit? Kom ons vra die Heilige Koeie... Ek meng my tale, gebruik te veel ellipse, maak sommer woorde op en vloek vreeslik. Sorrynotsorry daaroor.

Gebruikers Aanlyn

3 Lede, 60 gaste aanlyn

Bydrae Totale