Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: Die haakdoring-haarborsel voorval.

Deur Taai
Datum gepubliseer: 22 Desember 2019 Aantal woorde: 1363 153 Kere gelees 5

Grote griet! Dis ’n inmekaargedraaide, ineengestrengelde koekerasie van epidermiese proporsies wat ek nou hier aanskou. Selfs ’n kraaines sou skoon skaam kry as dit langs hierdie koekerasie moes kom staan. In my wildste drome sou ek dit nooit voorsien het nie. Maar hier staan ek, ’n ongelowige toeskouer, wat ’n noodgedwonge deelnemer gaan word. Jy ken die gesegde: Met jou hande in jou hare sit. Wel, hier sit ek vandag – letterlik en figuurlik – met my hande in iemand anders se hare. ’n Vier-uur-lange martelsessie neem ons lewens oor. Daar staan ek toe stoksielalleen en probeer ’n tiener se laaaaang hare red en ek weet nie herwaarts of derwaarts nie want daar is geen ander asems naby wat my te hulp kan snel met raad en daad nie.
Maar kinders sal ook maar kinders bly en boonop los ’n mens nie ’n sewejarige en ’n veertienjarige alleen in mekaar se geselskap met ’n plat haarborsel nie. Dis moeilikheid soek, want iets gaan iewers skeef loop, veral as die sewejarige die haarborsel ’n lewe van sy eie gaan gee. Nou wat deur die veertienjarige se kop gewoel het, weet nugter alleen, maar dat sy die toestemming gegee het vir die skep van hierdie verknoping haaihoei, is gewis. En net daar word amok gebore. Die sewejarige besluit dat die veertienjarige krulhare moet kry en sy begin draai en draai daai laaaaang hare om die haakdoring-haarborsel. En klou, klou daai haakdoring-borsel en hy wil nie sy prooi laat gaan nie. Maak nie saak hoe die sewejarige spook om dit te probeer uitkry nie. Wat gedoen is, is gedoen. Daar sit die borsel nou net mooi netjies vasgekoek bo-op die kop wat nou lyk na ’n muis se ideale nes in die veertienjarige se baie lang hare.
Haar boetie tree toe dapper na vore, as ’n moontlike kandidaat-ridder-op-sy-witperd, om haar uit die benarde hareborsel-koekerasie situasie te probeer red. Hy trek en hy probeer ontknoop en hy trek, maar die haarborsel wil nie sy houvas prysgee nie. Na wie weet hoe lank se gespokery, besluit die een nefie genoeg is genoeg, so kan dit nie aangaan nie en dapper gaan haal hy versterkings. Dis hoe ek toe in die hande-in-die-hare prentjie inkom. Dis skaars vier namiddag en ek sak met my seun af na die stoor toe. Daar gekom gewaar ek die tiener wat kop onderstebo sit, haar boetie wat besig is om met die hareborsel te stoei en hul niggie (die medepligtige) wat toeskouer speel.
Tussen my en jou. Ek het natuurlik gedink as ek probeer help, dit ’n baie vinnige, pynloser storie gaan wees. So … toe tree ek mos baie braaf vorentoe, want ek is die volwassene en met ook al my jare in pag behoort ek mos genoeg wysheid te hê om hierdie situasie te kan red. Maar dis waar ek toe ook my moses teëkom. Ek bekyk daardie haakdoring-haarborsel en gekoekte hare van alle kante. Ek probeer hier ontknoop en daar trek. Hopelik sonder om enige kosbare hare uit haar kop te pluk in die proses. Ek spook toe so ’n uur en ’n half totdat kwynende daglig ons huiswaarts dwing. Miskien is daar dalk beter raad.
Ons stap die honderd meter terug na my huis en ek jaag haar reguit badkamer toe. Ek spuit ontknoper en masseer kondisioneermiddel in haar hare. Kyk … my redenasie op daardie oomblik was dat die kondisioneermiddel dalk die hare sag en glybaar gaan maak. Dan sal als mos maklik ontknoop. Maar dit was ’n skrale troos gewees. Min het die haakdoring-borsel se kloue ontsnap, die res het nogsteeds halstarrig bly vassit en my uitgekoggel.
Moed opgee was nog lank nie in my woordeskat nie. Ek haal diep asem. Neem ’n gemaklike posisie in, want ek besef – hier kom ‘n baie lang stryd. Die vordering is pynlik stadig en bietjie vir bietjie kry ek hier en daar ’n sliert hare uit die haarborsel se kloue. Maar as ek sê dis pynlik stadig, bedoel ek dat ’n slak vinniger kruip as my uiters stadige suksessies. Sodra ek ’n paar hare se verlossing wen, knoop van die ander net erger in sy kloue. Ek maak die hare bo-op nat, doop my langtand kam in water en begin weer. Ek spook so voort vir ‘n verdere drie-ure.
Tussendeur die harestryd, het die veertienjarige se pa twee keer vinnig ingeloer en met ’n skêr gedreig as enigste oplossing vir hierdie krisis, maar hierdie tannie het vir die vale gekeer. Daar gaan geensins hare geknip word as ek dit kan verhoed nie Soos ’n wafferse soldaat maak ek my staan tussen die gekoekte hare en haar pa en pluk my gluur-kabouter uit om die komende aanslag te keer. Ek verwoord ook kliphard die ‘Oor my dooie liggaam-gevoel’ teenoor hom, want ek weet hoe lank dit neem om sulke lang hare te kan groei. Albei kere weer ek die aanslag suksesvol af en neem weer stelling agter die muisnesserasie in, haal diep asem en begin stelselmatig met operasie red. Na agtuur daai aand spook ek nogsteeds voort, toe haar ma uiteindelik opdaag. Sy kyk hier en sy kyk daar. Sy neem stelling op my plek, en ek neem stelling aan die voorkant. Dis toe wat ons die stryd tweeman-sterk aansê. Sy bewerk die hare met my langtand kam tot waar die haakdoring-haarborsel een of twee tande onder teen die borsel ontbloot. Dan kom ek met ‘n knewel van ’n skêr en knip daai tand of twee deur. Ry vir ry herhaal ons die proses tot ons onverklaarbaar gestuit word. Dalk is dit die moegheid of laat aand of ongeduld wat ons nou aan die pen laat ry.
Dis toe amper aan die einde van ons kragte wat my ridder op sy witperd net betyds opdaag. Eers probeer hy met sy kale hande die haakdoring-borsel in twee dele te verdeel. Brute krag het nie die gewenste uitwerking gehad nie, want slegs die borsel se hef is morsaf, nek omgedraai. Klou, klou die haakdoring-haarborsel nogsteeds soos ‘n neet in haar hare. My ridder verdwyn vir ‘n paar tellings en uit sy arsenaal gaan haal hy toe ‘n saag. Bid jou aan … ‘n saag! ‘n Regte, egte saag. Een hand vou ferm oor die oorblywende stukkie handvatsel en ‘n heel ander hand by die borsel se kop. Hier sien ek gaan nog bloed vergiet word. Maar aai, die saag maak slegs ‘n klein duik in die haakdoring-haarborsel se lyf en dié lag weer oorwonne vir die saag. En onder die hele spul sit ‘n benoude veertienjarige wat dit duidelik maak dat dit moord gaan wees, op hierdie plaas, indien daardie saag sou gly. Ek knyp my oë toe, toe ek sien die saag kom weer nader. My gestel sal die bloedvergieting nie kan hanteer nie. My sesde sintuig maak van my gebruik as spreekbuis om enige verder saag-aanslae te keer. Bloed kan ons waaragtig nie hier in my huis vergiet nie. Ek wil nog vanaand salig kan slaap sonder om ‘n nagmerrie perd bloots te moet ry oor gestorte bloed in my huis.
My ridder op sy witperd gaan haal toe die volgende moordwapen uit sy arsenaal. ‘n Knyptang en begin stelselmatig om die haakdoring-borsel lid vir lid deur te knip. Dit blyk toe ‘n effektiewer stukkie gereedskap te wees as die saag. Stelselmatig verloor die haakdoring-haarborsel al hoe meer sy houvas op haar hare totdat die veertienjarige heeltemal verlos is uit sy nare kloue. Al wat toe oorbly is ‘n baie lelike kraaines op haar kop. Maar gelukkig is dit haar ma se probleem verder.
Blykbaar het hulle nog die volgende dag gespook om al daardie koekerasies uit te kry en moes daar toe noodgedwonge ‘n stuk afgeknip word. Ek is net dankbaar dat die veertienjarige haar lang bos hare kon behou en dat daar op die ou einde geen bloed aan ons hande was nie, behalwe natuurlik vir die arme haarborsel wat sy lewe in die stryd verloor het. Later sou ek hoor dat mens eintlik ‘n hekelnaald gebruik om sulke ineengestrengelde hare uit so ‘n haakdoring-borsel se kloue te kry. Wys jou net. Mens is nooit te oud om te leer of om binne-in ‘n malkopdaad te beland nie.

© Taai Bonthuys




TEMAS
2 Kommentaar
  1. Toom

    23 Desember 2019

    Baie, baie mooi!
    Dankie vir die hoogpedagogiese aanwysing in tieneropvoeding. (Of volwasseneöpvoeding?)
    Sal weet hoe om met sulke probleme om te gaan, as en wanneer dit weer sou voorkom. Dank jou duidelike aanwysings. Leesgenot puur.
    Het jy nie nog meer sulke onoorwindbare probleme vir ons nie?
    GvT

  2. Taai

    24 Desember 2019

    Baie dankie! Sal beslis vorentoe nog sulke vertellings plaas.

Laat u kommentaar

GESKRYF DEUR

Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

Publikasies: 43
Kommentaar telling: 4

Digter, Skrywer en professionele rekenmeester.

Gebruikers Aanlyn

0 Lid, 54 gaste aanlyn

Bydrae Totale