Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: Die groot misverstand

Deur Elroux
Datum gepubliseer: 11 Junie 2018 Aantal woorde: 1568 373 Kere gelees 1

Alida kners op haar tande. Sy het nog nooit so beledig en geminag gevoel nie. Hoe durf die Gerda vroumens en die ander vrouens, wat haar nie eers ken nie, sulke nare dinge van haar kwyt raak wonder sy geskok hier waar sy in haar motor sit. Maar die ergste is haar man Gerhard se ontrouheid. Hoe kan hy so iets aan haar doen? Van ander mense kon sy dit nog dink, maar van Gerhard het sy nooit soveel ontrouheid verwag nie. Hy is ‘n regte tweegesig. Die trane begin sommer weer oor haar wange loop.
“Ek is nou al byna twee jaar met Gerhard getroud en nog het hierdie boeregemeenskap met die uitsondering van Gerhard se vriende en die dierbare ou Dominee en mev. Dominee, my nie aanvaar nie. Seker maar omdat ek ‘n stadsmeisie was, want meeste mense hier glo mos dat daar niks goeds uit die stad kan kom nie. Of is die rede vir hierdie afgunstigheid dalk eerder omdat ek met een van die hubaarste en vooruitstrewendste boere in die omgewing getroud is.
“Vooruitstrewend mag hy wees,” dink sy vererg, “maar hy is ‘n regte jakkals om my so om te bedrieg, en dan nog vir my te sê dat ek die liefde van sy lewe is. Ek gee nie meer om wat die ander dink nie maar hy het vir my gelieg en daarvoor gaan hy betaal. Ek laat nie so met my mors nie.”
Alida voel hoe haar wange en haar ore vlam en haar handpalms begin sweet van ingehoue woede. ‘n Mislikheid stoot in haar keel op en die trane lê vlak as sy net dink aan wat vroegoggend gebeur het toe sy haar gebak wou kom afgee het.
Sy hoor weer hoe die Apteker se vrou smalend sê terwyl sy na die deelnemers van die landbouskou se name kyk : “Nou toe nou, dan wil Hardus se ou vroutjie nou ook deelneem met haar gebak. Waar het jy nou al gesien ‘n ou stadsmeisietjie kan bak?”
“Ai Gerda,” het ‘n ander vrou met ‘n hoe tooisel op haar kop, voort gegaan met die gesprek, jy is reg, ek weet regtig nie wat hy aan die ou dingetjie sien nie. Dit moet seker maar die verskriklike liefdesteleurstelling wees wat hom met haar laat trou het. Jy weet, toe Kotie nou die verlowing verbreek het, en hy haar nou nie kon kry nie. Siestog die arme man, hy was tog so lief vir haar, dat hy seker nooit daaroor sal kom nie.”
“Haai julle,” het ‘n derde vrou by die gesprek aangesluit. “Daar is mos nou ‘n storie dat hy nog steeds vir Kotie skelmpies kuier. Anna het nou die dag sy motor tot laat by Kotie sien staan. Julle weet mos waar ‘n rokie is, is ‘n vuurtjie.”
Alida kon nie verder luister nie en het net daar omgedraai en na haar motor toe gehardloop. Hier sit sy nou en weet nie wat om te doen nie. Een ding is seker sy sal met Gerhard moet praat.
“Ek kon nog nooit ‘n moordkuil van my hart maak nie, so ek gaan vir Gerhard trompop konfronteer.”
Gerhard sou vroeg al saam met haar gekom het, maar toe het Weerlig sy spogmerrie verlede nag siek geword en moes hy eers vir die veearts wag om na haar te kom kyk. Nou wonder sy of hy ooit die waarheid gepraat het. Met bewende hande neem sy haar selfoon en skakel haar man.
Dit is nou net na nege uur en die Dr Tom was seker al by Weerlig. Gerhard antwoord dadelik sy foon: “Hallo my skat ek is 5 minute weg van die feesterrein, ek sien jou nou.”
“Ek sal vir jou in my motor wag,” sê sy met ‘n moegheid in haar stem toe sy die foon dooddruk.”
Gerhard parkeer reg langs haar en klim vinnig uit sy motor met ‘n bekommerde uitdrukking in sy oë.
“Is daar iets verkeerd skat? vra hy toe hy langs haar inskuif.”
Sonder om na hom te kyk vra Alida met ‘n bot stem. “hoekom het jy my nie van Kotie vertel nie?”
“Maar my liewe vrou omdat dit niks met jou te doen het nie en ek nie gedink het dat jy sou wou weet nie.”
Alida voel hoe die woede in haar haar hele wese totaal oorneem. Hoe durf hy vir haar sê dat dit nie haar besigheid is nie, terwyl dit haar hele lewe is wat op die spel is. Trane stroom oor haar wange.
“Jy is nog altyd lief vir Kotie maar jy het niks van julle verhouding en die verlowing gesê nie, jy het my vir die gek gehou, om te sê jy is lief vir my en nou sê jy dit het niks met my te doen nie!”
Alida ruk die motor se deur oop. Sy moet net wegkom, weg van Gerhard af en weg van hierdie plek, maar Gerhard keer haar. Hy gryp albei haar hande so vas dat sy nie kan roer nie.
“Los my,” skree Alida, buite haarself van woede, maar Gerhard hou. Alida wil haar verbeel dat sy ‘n halwe glimlag om sy mondhoeke sien en dit maak haar nog kwater. So ‘n sadis wat hom verlekker in haar seerkry. Hoekom het sy tog met hom getrou? Haar ma het haar gewaarsku om nie so gou te trou nie maar sy was so lief vir die sterk boer met die eerlike bruin oë en nou, nou is hy die grootste tweegesig! Sy het regtig gedink dat sy die liefde van sy lewe is soos hy dikwels vir haar sê.
“My liewe vrou,” se Gerhard sag, “wag nou eers dat ek verduidelik. Hier is ‘n groot misverstand, hulle het van ou Hardus van Skoonspruit gepraat wat die vreeslike liefdesteleurstelling gehad het, en onlangs getroud is, nie van my nie.”
Alida weet nie of sy moet huil of lag nie. Sy voel so sleg oor wat sy alles gedink het, maar terselfdertyd voel sy so verlig.
“Ek is so jammer my man, ek het nie geweet wat om te dink nie,” stamel sy.
Gerhard neem haar liefderik in sy arms en soen haar vol op die mond. Sy voel so veilig in sy sterk arms toe hy vol deernis sê: “My liewe Alida, jy moet altyd weet jy is die enigste vrou vir my. Ek het jou gekies en ek het jou baie lief.”
“Ek vir jou ook my man,” sê Alida terwyl sy hom styf vashou.
Die glimlag om Gerhard se mondhoeke verbreed en hy begin lag. Alida kan nie help om van pure verligting saam te lag nie.
“Kom droog nou jou trane af en dan gaan wys jy vir die ou skinderbekke dat jy kan bak.”
Skielik besef Alida dat sy haar gebak net daar gelos het toe sy vanoggend na haar motor gehardloop het. Hulle kon dus al haar gebak beoordeel het sonder dat sy daar was.
“Kom Gerhard,” is al wat sy kan uitkry toe sy vinnig met ‘n bonsende hart na die feesterrein begin aanstap. “Ek dink hulle het reeds my koeke beoordeel.”
Die feesterrein is ‘n bonte roesemoes van stalletjies en mense. In die middel van die terrein is daar lang tafels onder ‘n tent. Mnr Booysen, die hoof van die laerskool is die aankondiger.
“Vriende, dit is nou tyd dat ons ons dames se gebak beoordeel. Ongelukkig is Mev Dominee vandag bietjie olik en daarom het ons vir Nettie Erwee ons baasbakster van die kontrei gevra om die beoordeling te doen.”
Alida voel hoe haar hart ‘n slag mis, want Nettie Erwee is niemand anders nie as die vrou met die tooisel op die kop wat vanoggend so van Hardus en Kotie geskinder het. Met Mev Dominee as beoordeelaar het sy dalk nog ‘n kans gestaan. Maar nou.. Sy sien net nie kans vir die vernedering nie. Alida tree vorentoe en alles word swart om haar.
Toe sy bykom lê sy in ‘n bed in die klein hospitaaltjie op die dorp en Dr Marais buk oor haar.
“Hoe voel jy nou mevroutjie?” vra hy besorg. “Jou man sit hier buite in die wagkamer, hy sê jy was onder groot spanning vanoggend, ek hoor jou sjokoladekoek het eerste prys gewen. Baie geluk.”
“Wat het gebeur?” vra Alida verdwaas, “het ek flou geword”
“Ja, maar daar is goeie rede daarvoor, jy is swanger”
Toe Dr Marais die kamer verlaat is Alida so opgewonde om vir Gerhard die wonderlike nuus te gaan vertel dat sy van die bed afgly en wankelrig na die wagkamer aanstap.
Gerhard is in druk gesprek met een van die saalsusters en hulle sien haar nie. Alida versteen toe sy hoor hoe Gerhard sê: “Ai Kotie, ek voel sleg dat ek vir Alida moes sê dat hulle van Hardus gepraat het en nie van my nie, maar dit was die enigste manier hoe ek haar tot bedaring kon bring en dit is maar beter as sy nie van ons twee weet nie.”
Alida voel weer die woede en mislikheid in haar opstoot en hardloop na die naaste badkamer toe en sluit die deur terwyl die trane vrylik oor haar wange stroom.
Sy hoor nie hoe Kotie sê: ” ja Gerhard, ja, dit is beter as ons die verlede se dinge in die verlede los. Ek verstaan nou dat ek my groot liefde gevind het, dat jy nie daarvoor gevra het om op Alida verlief te raak en my vir haar te los nie.”




TEMAS
1 Kommentaar
  1. Anze

    11 Junie 2018

    Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die Junie 2018 – Poëtiese orde projek

Laat u kommentaar

GESKRYF DEUR

Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

Publikasies: 168
Kommentaar telling: 206

'n Pretorianer van geboorte tot nou. Ek was 'n navorser en het die lewe van alle kante gesien en beleef. Ek is geseën met vier lieflike kinders en 'n wonderlike man. Op 68 jaar is ek in my herfstyd waar ek elke dag binne die genade van die Here leef. Om te dig gee betekenis aan my lewe en ek hoop dat my skrywes iets vir ander mense kan beteken.

Gebruikers Aanlyn

0 Lid, 94 gaste aanlyn

Bydrae Totale