Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: Die groen sak

Deur HelenaMellet
Datum gepubliseer: 5 Februarie 2020 Aantal woorde: 2044 260 Kere gelees 4

(brons)

Sara Vermaak trap die sole van haar skoene aan die brand. Sy loop heen en weer voor die preekstoel verby. Van die diakens se vier rye banke tot by die ouderlinge se afdeling en terug. Met elke tree se trap word die vraagteken in haar binneste groter. Wat het sy my die dekselse groen lap sak gemaak? Sara kyk op haar polshorlosie. Beide wysters lê swaar op die drie. Ben sal al terug wees by die huis en na haar begin soek, maar sy durf nie nou teruggaan pastorie toe nie. Nie voor die vraagteken binne haar in ’n punt verander het nie. Hoe verduidelik sy vir haar man dat die belangrike groen sak net spoorloos verdwyn het? Wat sal die gemeente sê as hulle hoor Mevrou Dominee het Sondag se kollekte verloor?

Dis wraggies Murphy’s Law dat die groen sak in haar toesig moet verdwyn. Sara se pligte as dominee se vrou strek eintlik net tot by die oues van dae van die gemeente. Die ander afdelings en takies rus op die skouers van die koster, skriba en die jong dominee se vrou. Laasgenoemde is ook eintlik in charge van die kerk se finansies. Dis háár job om elke Maandag die laaste Sondag se kollekte te gaan bank. Nou is die jong dominee en sy vroutjie met verlof en die koster is dringend weg na ’n siek moeder op Kakamas. Sara het gewillig aangebied om te help waar sy kan en toe word die groen lap sak vanoggend vroeg in haar hande gedruk. Dit is ’n eenvoudige grasgroen lap sak. Sommer een van daai wat jy by Spar by die till kan koop. Elke Sondag na kerk word die kollekte getel en aangeteken. Dan word dit in ’n wit bank sakkie gesit en dan weer in die groen lap sak. Die groen sak maak dit minder ooglopend dat die inhoud finansieel van aard is. So het die jong dominee se vrou gereken. Niemand weet van die sak behalwe die dominees en hulle vroue nie en dan ook die koster en die skriba. Toe dié sak vanoggend aan Sara oorhandig is, het sy haarself voorgeneem om dit met haar lewe te bewaar. Die opdrag was eenvoudig. Bank toe en terug, maar toe breek die Maandag blou en die herrie is los toe die pastorie se geiser bars en die hele kombuis onder water los. Boonop moes Ben vandag ’n begrafnis behartig. Oom Daan se begrafnis, een van die dorpie se oudste inwoners. Oom Daan en sy familie is goeie mense. Sout-van-die-aarde mense, maar hulle kry vreeslik swaar. Sara het elfuur die diens gaan bywoon om haar laaste respekte aan oom Daan te betoon. Die groen lap sak styf onder haar arm. Sy sou ná die diens die kollekte gaan bank en dan die water gemors in haar kombuis takel. Hulle moes elk geval vir die loodgieter wag wat eers later die dag ’n opening in sy skedule sou hê. Halfpad deur oom Daan se roudiens het haar selfoon begin lastig raak en sonder ophou vibreer. Dit was die loodgieter. Noodgedwonge het Sara uitgeloop en die oproep beantwoord. Die loodgieter se skedule het verander en hy kan hulle nou dadelik help. Hy staan voor die pastorie, maar alles is toegesluit. Sara het vir hom gaan oopsluit en omdat die roudiens elk geval so te sê klaar was, het sy maar begin om die kombuis skoon te maak. So deur sy werkery kort die loodgieter ’n part of ’n ding en moes hy toe terug na sy werkswinkel toe. Sara moes mooi die broeiende ongeduld dood bid. Die kollekte moes by die bank kom en die loodgieter mannetjie se langdradigheid het op haar senuwees begin werk. En dan was sy nog vies ook omdat oom Daan se diens vir haar kort geknip is. Sy hoop die Here is haar genadig oor die vies, die loodgieter doen net sy werk en oom Daan sou verstaan.

Net na een trek sy die voordeur agter haar en die loodgieter toe en ry reguit bank toe. Sy het skaars die die motor se enjin afgesit, toe lui haar foon. Dit was ’n baie benoude Ben. Hy het sy Bybel in die kerk vergeet. Ben is saam met oom Daan se geliefdes begraafplaas toe om die verrigtinge daar voort te sit. Daar was ’n spesifieke teksvers wat by die graf gelees moes word en ’n kort gedig wat een van die kleinkinders geskryf het. Ben kon seker ’n Bybel iewers geleen het, maar wie vat nou ’n Bybel saam graf toe? Die papier met die gediggie was elk geval binne sy Bybel, dus moes die Bybel dringend begraafplaas toe. Sara het haar motortjie weer aan die gang gekry en, met ’n onbetaamlike spoed vir ’n pastoriemoeder, kerk toe gejaag. Die Bybel het sy gekry en weer vet gegee begraafplaas toe. Dis gelukkig skaars ’n kilometer uit die dorp. By die oop graf het die groepie bedroefdes reeds ’n kring gevorm. Die begrafnisondernemer was besig om te verduidelik wat volgende sou gebeur. Ben het eenkant gestaan, hande senuagtig agter sy rug. Sara was net betyds. Uitasem gejaag het sy agter om almal gesluip en saggies die Bybel in Ben se hande gedruk en toe ’n paar treë teruggestaan. Sy sou net vir ’n rukkie bly, het sy gedink. Eerstens om haar asem terug te kry en omdat dit ongeskik en steurend sou wees as sy weer net laat spat. Iewers het iemand van agter haar op die skouer getik. Die begrafnisondernemer se helpertjie het ’n mandjie vol langs teel rose in haar hande gedruk en toe weer verdwyn. Sy wou nog vra wat sy daarmee moes maak, maar het nie kans gekry nie. “En dan kan u elkeen ’n roos neem om op die kis te sit as nagedagte aan oom Daan. Ek sien Mevrou Dominee staan juis gereed met die rose.” Die begrafnisondernemer het stip na Sara gekyk en geknik. Toe begin sy maar rose onder die begrafnisgangers uitdeel. Sy wou vir haarself ook een uithou, maar daar was nie genoeg rose vir almal nie. Sara moet bieg, sy was nogal teleurgesteld. Eers kon sy net ’n halwe roudiens bywoon en toe kon sy nie eens ‘n ou rosie op oom Daan se kis sit nie.

Toe die trane klaar gevloei het en die lang steel rose almal op die kis lê, begin die mense om die graf verdaag na die gemeenskapsaal daar naby vir verversings. ’n Takie wat die susters van die VLV aangepak het om die sukkelende familie te ondersteun. Sara het die geleentheid gebruik en haarself uit die voete gemaak. Ben sou saam met die familie na die gemeenskapsaal gaan. Tannie Dottie het daarop aangedring, want hulle wou hom bedank vir die baie mooi diens. Ben sou nie nee sê nie, want hy eet graag en dit het Sara ’n middagete se maak gespaar. Dus ry sy toe weer bank toe om die kollekte uiteindelik te gaan bank. Sy het kliphard gebid dat die vyand ook net eers op ’n lunch break sal gaan sodat sy die groen sak se besigheid kan afhandel. Die swernoot vat blykbaar nie breaks nie. Toe sy weer voor die bank stilhou, kry sy die groen lap sak nêrens nie.

Sara trek haar skoene uit en gaan staan hande in die sye voor die preekstoel. Die rooi kleedjie se goue letters sê: God is liefde. God van liefde, wees my nou genadig asseblief, bid Sara. Sy het teruggegaan op al haar spore van die oggend en oral gesoek. Die kombuis en die kar het sy van hoek tot kant omgedop, selfs seker gemaak by een van die bankklerke of sy nie dalk die sak daar gelos het nie. Sara is ook terug begraafplaas toe. Daar was niemand en niks, net die vars toegegooide graf. Die laaste wat sy werklik bewus was van die groen sak, was hier in die kerk. Styf onder haar arm toe sy uit die diens uitgeloop het om die loodgieter se oproep te beantwoord. Die sak is ook nie hier in die kerk nie, daarvan het sy seker gemaak toe sy op haar knieë tussendeur die banke gekruip het. Maak nie saak hoe sy probeer onthou of dink nie, die sak bly spoorloos. Sara sug en tel haar skoene op. Sy sal maar terug pastorie toe gaan, vraagteken en al.

***

Die week het sy loop gegaan en die vraagteken oor die groen lap sak dag vir dag met hom saamgevat. Dis ’n nuwe Maandag en Sara Vermaak sit met ’n koppie tee op haar stoep. Oom Daan se begrafnis was gou ou nuus toe die storie oor die groen sak uitkom. Sara het die vraagteken na haar man toe gevat verlede Maandag. Sy het die sak laat wegraak en sy weet nie hoe en waar nie. Ben het haar hele storie geduldig aangehoor. Die skriba, koster en die jong dominee se vrou is in kennis gestel. Daar is besluit dat Ben, die Sondag wat kom, ’n afkondiging in die kerk sou maak oor die voorval en vra dat enige een met kennis oor die sak asseblief na vore sal kom. Die skaam was groot vir Sara en sy het haarself siek gehuil en bekommer. Geen troos het gehelp nie. Selfs nie eens die mooi boodskap van die jong dominee se vrou nie. Dié het Dinsdag ’n SMS vanaf die vakansieoord gestuur waarin sy Sara probeer gerusstel dat dit ’n glips is wat enige een kon oorkom. Sara wou nie die enige een met dié soort glips wees nie. Sy’t haar voorgeneem om nie weer haar voete by die deur uit te sit voor die sak nie uitgekom het nie. Iemand moes tog êrens die groen gedoente gesien of gevat het. Gelukkig was Sara se selfopgelegde huisarres van korte duur. Donderdagaand lui die foon in die pastorie en Ben het geantwoord. Na ’n baie kort gesprek kom staan Ben voor haar met ’n breë glimlag op sy gesig. Die groen lap sak is gevind!

Oorlede oom Daan se dogter is Maandag laatmiddag terug na die begraafplaas toe om vir oulaas haar pa te gaan groet. Daar gekom sien sy iets groen in die grond op haar pa se graf uitsteek. Sy het daaraan getrek en toe kom die sak uit. Groot was haar verbasing oor die sak in die grond. Hoe kon die graf toegegooi word sonder dat iemand die sak sien? Nog groter was haar verbasing oor die inhoud van die sak. Sy het eers nie geweet wat om van die situasie te maak nie. Sy het die begrafnisondernemer en naaste familie gekontak om te hoor of iemand ’n groen sak verloor het, maar niemand weet iets van die sak nie. Sy’t natuurlik niks gesê oor wat in die sak was nie. Die dogter besluit toe om te wag tot Donderdag. As die sak se baas nie uitkom nie, sal sy dit sien as ’n teken. En toe kom Donderdag en oom Daan se dogter móés net vir dominee Ben bel om hom van God se almagtige genade te vertel. Bo en behalwe dat hulle finansieel so in die knyp is, gaan haar man binnekort sy werk verloor en klein Daantjie se skoolfonds is maande agterstallig. Die beheerliggaam dreig al met regstappe. Die Here weet hoe hulle ’n klein bietjie uitkoms nou nodig gehad het. Sy glo God self het die groen sak daar by haar pa se graf gelos vir haar om te kry. Hoe dan anders verduidelik mens hoe die sak daar beland het sonder dat ’n enkele oog dit sien gebeur het?

Dominee Ben het die skriba, koster en die jong dominee se vrou in kennis gestel. Oom Daan se dogter is nie reggehelp oor die groen sak se werklike storie nie. Daar is besluit dat die geld as ’n skenking aangeteken sal word in die kerk se boeke. Sara se vraagteken het nie heeltemal verdwyn nie, want sy kan nie onthou dat sy die groen sak uit die kar gehaal het toe sy vir Ben die Bybel gaan gee het nie. Maar wie is sy om ’n punt wat die Here self aan die einde van ’n sin gesit het, te bevraagteken? Sy is Sara Vermaak. Mevrou Dominee, wat ook menslik befoutig, die kerk se kollekte kan verloor.




TEMAS
1 Kommentaar
  1. Anze

    6 Februarie 2020

    Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die Februarie 2020 Limeriek projek

Laat u kommentaar

GESKRYF DEUR

Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

Publikasies: 125
Kommentaar telling: 85

Ek is maar net 'n kaalvoetkind van Namakwaland, verslaaf aan die reuk van ink op papier en honger vir woorde wat siele versadig, of dit nou uit my pen kom of joune.

Gebruikers Aanlyn

0 Lid, 114 gaste aanlyn

Bydrae Totale