Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: Die eerste skoot

Deur Carin Marais
Datum gepubliseer: 19 Februarie 2018 Aantal woorde: 313 426 Kere gelees 7

(Oorspronklik geskryf vir Microcosms, met die porre “komapasiënt”, “melkwegoorlog”, “memoir”.)

Hierdie keer het hulle nie vir ons myne gekom nie, maar vir ons ander hulpbronne – skoon water in oorvloed en goedkoop arbeid. Die oorlog tussen die kolonie en Aarde was oor in ses dae. Ek het wakker geword op die dag wat dit geëindig het. Ek dink almal was op soek na ’n wonderwerk nadat soveel dood is. Ek skat ek was maar die eerste en beste gesig: die eerste slagoffer.
Ek was na my familie se ontsnappingstuig op pad toe die koeël deur my skouer skeur. Vaagweg onthou ek die tweede skoot, die ontploffing. Ek onthou die ontsettende hitte en die geluid van stemme. Ek hoor gille, voel hoe my liggaam geskuif word, sien myself vanuit die hoek van die operasiesaal se dak en hoor hoe ’n priester langs my bid terwyl ek in ’n vleestronk vasgevang is.

Ná my herstel lees ek oor alles wat gebeur het. Ek sit alleen in my kamer en blaai deur die vele berigte oor die oorlog. Hier en daar lees ek oor myself alhoewel die berigte maar onsamehangend is en net die helfte van die verhaal vertel. Blykbaar het huilende mense saamgedrom om vir my te bid. Die foto wat hulle van my gebruik het, is vroeër daardie noodlottige dag geneem buite die troulokaal. Ek grynslag. Wat ’n liegspul. Die wit rok. Alles. Ek sou met die Aarde se ambassadeur getrou het. In plaas daarvan het hy my – die dogter van die kolonie se Sekretaris van Verdediging – gebruik.
Ek onthou sy oë toe hy besef dat die paradys wat hy belowe was net ’n leuen is. Ek raak aan my skouer. My huwelik moes my kans gewees het om weg te kom van hierdie helagtige plek in die ruimte. Ook maar goed hy het misgeskiet. Ook maar goed ek het nié.




TEMAS

Laat u kommentaar

GESKRYF DEUR

Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

Publikasies: 26
Kommentaar telling: 42

Carin Marais skryf vonkfiksie, kortverhale en rubrieke en is tans besig met haar eerste roman.  Haar blog kan gelees word by www.maraiscarin,com Volg haar op Twitter by @CarinMarais of Instagram by @CarinMarais1

Gebruikers Aanlyn

0 Lid, 100 gaste aanlyn

Bydrae Totale