Die dorpdigter (Silwer)
Die digter op die dorp
het almal in ‘n knoop.
Dis sy spottery met siekte
wat alger daartoe noop.
Dit het begin met Covid
toe oom Piet die siekte kry;
kort na die begrafnis
het dié wraakgedig gedy:
“‘n Selfgemaakte masker
dié het die oom versmoor;
die tannie lyk maar alte bly,
sý het oom Piet vermoor.
Sy wou so graag haar hande
op die oom se boedel kry;
na jare se mishandeling
sou haar wrok die oorhand kry”
Die vryval van Tant Ralie
uit die venster by haar huis,
het die digter weer laat wonder
en dié skrywe laat verrys:
“Tant Ralie se los voete
was die oorsaak van haar dood.
Oom Koos het haar balansprobleem
by die venster uitgestoot.
Hy had haar nie meer lief nie
almal weet waarom,
toe die jongman daar loseer het
het die liefde omgekom.”
Die digter se probleme
is op die spits gedryf
toe hy Mev. Dominee
se toestand só beskryf:
“Dis al die vat van dominee
uit die susters se kombuis
dat die Here hom gestraf het
met sy vrou se siektekruis.
Die hemele sien alles
tot verby ‘n vroom gebed,
dwarsdeur die komberse
van ‘n ander vrou se bed.”
Die dominee is briesend
die gemeente ly aan skok.
Die klagtes van die dorp
hang aan die kerk se klok.
Die digter hou sy kop omhoog
en slaan sy oë na bo.
“Wat dan van digtersvryheid
en die wat daaraan glo?”
In die skoolsaal hang die fotos
uit die jare sestig uit.
Die jongman is in Standard 6
en hy loer speels deur die ruit…
Die rugby en die netbal
die kiekies hang ook daar;
die tannie met die bene…
en oom Koos…
loer vir mekaar.
Seirdna (A Fourie)
2020.10.05
4 Kommentare
-
morne du preez
Maar jy weet seker ek sou die woord "poeskas" gebruik in plaas van "boedel" maar dit is net vir die wis en onwis.
-
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die Oktober 2020 – OOP-projek
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
morne du preez
Die Gedig het een van my gunsteling gedigte geword, letterlik Bravo Andries!