Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: Die dag toe Sue se switch flip … (BRONS)

Deur Marlene Erasmus
Datum gepubliseer: 26 Augustus 2020 Aantal woorde: 717 144 Kere gelees 2

Die dag toe Sue se switch flip …

Sue sug behaaglik en skop haar skoene uit. Te hel met die huis, die kinders, honde en hope vuil wasgoed wat haar smekend aankyk. “Te hel met julle, ja! met julle ALMAL!” skree die stem in haar kop.

Sy gryp die TV remote en doen channel hopping op die naat van haar rug! Voete in die lug en glas koel Rose in haar hand.

Sy laat haar gedagtes huppel na die spoorwegbuurt – kompleet soos die een waar Aunty Stienie agter elke man famous geraak het. Met een groot verskil – in die sepies lyk dit nie soos in die Kloof se stofstrate nie.

Sue onthou skielik die dag toe Juffrou White haar uit die klas jaag toe sy en haar maats aan die giggel gaan – doodnormale stadium vir elf-, twaalfjarige dogters om onbedaarlik te giggel vir alles wat nie vir ander mense snaaks is nie.

“Uit! Trap uit my klas en gaan staan buite in die gang! Dit is hoeka ‘julle’ soort van onderkant die spoorlyn wat eendag moet trou!” Verskrik en bang vir die skel wat wag in die perdeskoenhuisie wonder Sue wat bedoel Juffrou met ‘moet trou’? Wel nie lank gewonder toe kom die hoof aangestap en bulder: “Wat is dit met julle standerd 5 dogters?”

Na nog ʼn sluk van die pêrelpink vog wandel Sue se gedagtes na die stofstrate van die Kloof. Hoeveel bittersoet herinneringe lê daar in die reuk van stof? Sorgelose “kennetjie-dae” vermeng met “blikaspaai” en “bok-bok-staan-styf” … Hoeveel vingers, ja hoeveel vingers op jou lyf? Pa wat werk van vroeg tot laat en ma wat die huis met ysterhand op koers hou. Sue smile sag en dink aan ure se kartondooshuisies en popspeel op die gras. Dawie die babapop met dogtertjiekleertjies en vernoem na: “Vat hom Dawie, vat om laag …” van “Die Bats” in die jare sestig waar die volk gretig na die Springbokke se wedstryde gaan kyk het.

Sue voel hoe nostalgie oor haar spoel as sy die groot trek onthou na die destydse Suid-Wes se hoofstad: Windhoek. Bang en onseker herleef sy haar eerste skooldag in die vreemde nuwe hoërskool. Die verandering tussen standerd vyf en ses het veroorsaak dat sy haar laaste jaar in die Laerskool Daan Viljoen gemis het. Dit was die jaar toe die regering besluit het standerd ses pas beter by die hoërskool as by die laerskool. Geen afskeids-piekniek, geen vaarwel en geen voorbereiding op die Hoërskool.

Verdwaald en bang die eerste week oorleef in die nuwe groot stad en nog groter skool.

Sue onthou met ʼn sweempie van ʼn glimlag die aand van die Sotte-konsert as sy aan haar glasie Rose teug. Aangetrek met grimering van ʼn Egiptiese godin sweef sy op maat van “Walk like an Egyptian” oor die houtvloere van die skoolsaal, skare wat hande klap. Net daar voel sy sy is goed genoeg om deel te wees. Na die konsert kyk sy grootoog na al die kinders wat vrolik by hulle ouers staan en gesels, Sue staan eenkant alleen, want haar ouers woon nie sulke goed by waar klomp mense saamkom nie.

Later die aand in die bed verf haar trane swart maskara strepe op haar wange.
Brose tienerjare deurgegaan in Haddy-straat. Soms met verlange sit en kyk na die skerm van die inryteater in die verte – beelde wat dof heen en weer beweeg. Lang trane gehuil oor maats wat garage parties hou en gewonder het hoekom daar nooit enige uitnodigings na haar kant gekom het nie.

“Wat gaan in hierdie huis aan dat hier NIKS aangaan nie?” ruk die stem van haar man haar terug uit haar ontsnap-oomblik op hul roesbruin sitkamerbank!

Vervaard pluk sy haarself regop en druk die wynglas onder die bank in.

“Ek kom liefie, jy is vroeg – soek jy jou kos?”.

“Mens kan ook nie jou rug draai of hier gebeur absoluut niks nie!”

Sue skarrel na die kombuis met die hoop wasgoed in die hoek en haal die pan uit vir ʼn vinnige middagete terwyl sy die bondel wasgoed in die masjien prop.

“Hierso my man, jy hou mos so van Wors en boontjies.”

“Lyk my ek moet meermale vroeër huis toe kom, liefie.”

Sue glimlag stil en neem oorkant Leo plaas met haar koppie boeretroos. Hulle sê nie verniet dat koffie alles beter maak nie.

©Marlene Erasmus
26/08/2020

(721 woorde)




TEMAS
1 Kommentaar
  1. Anze

    27 Augustus 2020

    Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die Augustus 2020 – OOP projek

Laat u kommentaar

GESKRYF DEUR

Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

Publikasies: 58
Kommentaar telling: 4

Gebruikers Aanlyn

0 Lid, 30 gaste aanlyn

Bydrae Totale