Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: Die Boontjiesop geskenk

Deur PieterNaude
Datum gepubliseer: 17 Oktober 2018 Aantal woorde: 914 412 Kere gelees 6

As daar nou ‘n substans op hierdie pragtige blou planeet is wat met meer humor bespreek word as Boontjiesop wil ek dit graag hoor. Dit word nie verniet in sekere kulture beskryf as musikale bone nie. Die stapelvoedsel van menige Afrikaner gesin en die bekostigbare proteïenryke aanvulling vir die gemiddelde siel wat nie finansieel sterk genoeg is om elke aand oesters en vrot kaas te verorber nie.

Almal weet egter dat ‘n lekker bord of beker Boontjiesop tog maar ’n redelike hoë prys aan hom gekoppel het. Almal ken die roetine; dis of ‘n gedempte, dog dapper “jammer liefie” of ’n oordrewe “ag nee Wagter wat de drommel het jy nou weer geëet” wanneer die swawel bevattende buikflater(kie) sy lelike gesig kom wys.

Dit help egter nie om die brak die skuld te gee nie, alhoewel hondekos gewoonlik ryk is aan sojabone. Vat dit soos ‘n man en in vadersnaam moenie vir jou vrou lag as sy self ‘n ou blaffie gee wanneer sy rek om daardie ekstra kombers uit die boonste rak van die gangkas uit te krap nie. Jy sal êrens daarvoor boet, glo my.

Die oorsaak vir die gas oorskot is nie te vinde by die nederige boon nie; dis as gevolg van ’n gaping in die lysie van ensieme wat uitgedeel word by geboorte. Bone (en kool en ertjies en uie) is ryk aan ‘n lomp ou suiker molekule wat nie lekker afgebreek word in die dunderm nie. Ons liggame kan net eenvoudige suikers soos glukose gebruik en om hierdie ou beer vanaf die boontjie te knak het jy ‘n ensiem nodig wat jy het nie het nie so die suikertjies gaan regdeur na die dikderm op die lang pad na vryheid. Ongelukkig is daar ‘n paar honger bakterieë wat wel hierdie ensiem besit en siedaar, die suiker word uiteindelik aangewend vir energie – nie energie vir jou nie, maar wel vir die goggas in jou derm. Hulle is so bly oor die bonus dat hulle sommer nog ‘n paar biljoen vennote bykry om te help deel in die oorvloed. Dit is nou hier waar jou vraatsug sy tol begin eis meneer. As jy gestop het na die eerste bordjie was daar dalk net so tien biljoen outjies wat elkeen sy eie ou flatussie in jou dikderm gelos het, maar nee, toe Mammie daardie broodjies met die druiwekonfyt voor jou neersit toe moes jy mos nog twee borde vol sop inbewe! Doen maar die somme. Onthou net om te knyp terwyl jy diep delf in jou geheuebank vir die 3X- tafel.

Vertel Oom Lood my nou die dag van die oggend wat Tant Magriet ’n groot bak, prima gehalte, dik Boontjiesop, summier weggegee het. Dit was ‘n hele sameloop van omstandighede maar die geweldige hoeveelheid oligosakkaried wat hulle ingeneem het die vorige dag vanuit ‘n reuse pot van hierdie boeretroos, was uiteindelik seker maar die oorsaak vir hierdie ongekende, vroeë oggend, ruimhartige, gebaar; ‘n boontjiesop geskenk in die ware sin van die woord.

Oom Lood het volgens legende – en natuurlik sy eie vertolking, hierdie ongelooflike vermoë ontwikkel om die opbou van hierdie swawel dampe sodanig te beheer dat hy bykans ongehoord, in klein, beheerde hoeveelhede, daarvan ontslae kan raak. Dis ’n vermoë aangeleer uit nood. Tant Magriet duld nie die basuin-agtige klank van ’n vibrerende distale kringspier nie. Deur noukeurige beheer en jare se repetisie, het Oom Lood nou die “stealth fart” status bereik en pla die effek van die sop hom nie meer nie. Die talent word natuurlik ondersteun deur Tant Magriet se kroniese sinus- verstopping.

Die tante aan die ander kant, het soos die jare aangestap het, al meer van ‘n ander probleem ontwikkel. Medies nog nooit bewys nie maar met vaste vertroue in my diagnostiese vermoëns, dink ek dat dames van ‘n vroeë ouderdom af begin om ‘n unieke senuweebaan te ontwikkel wat deur hulle hele lewe bly groei en dan, een dag, onvoorspelbaar, bereik hierdie baan sy eindpunt. Ek glo dat mans nie hierdie senuwee ontwikkel nie, want hulle het hom desnoods glad nie nodig nie. Hierdie senuwee baan noem ek die nervus pulmonarectus distalis want dit verbind die lugpyp met die vêrste kringspier beskikbaar.

Die effek wanneer hierdie baan voltooi is, is dat skielik eendag, wanneer die dame ‘n harde hoes gee, dan klink dit meer soos die laasten basuin. Skielik werk die twee opening saam en kom daar ewe veel lug aan beide kante uit; die een kant net meer saamgepers as die ander kant; die een kant vol swawel en die ander kant vol ou koffie geure.

So reken Oom lood my dat hy die oggend rustig sit en koerant lees op die porselein ponie toe hy duidelik hoor, nie net een maal nie, maar ten minste drie maal, hoe Tant magriet uit haar bors uit hoes en hoe oulik die diskant saam dreun van die ander kant af. “Twee lekker borde sop gisteraand geëet nê,” dink Oom Lood toe so amper hardop. Hy hoor haar onderlangs mompel en brom, maar al wat hy kan ontsyfer is iets oor “…die blerrie sop…”

Later die oggend, so net voor die heruitsending van Binnelanders op die nuwe plasma beeldradio, raak Oom Lood toe mos lus vir nog so ou bordjie van die dik, romerige en net effens souterige Boontjiesop.

“Ek het alles wat oorgebly het vir Aia Siena gegee my man”, is al antwoord wat hy uit Tant Magriet kon kry terwyl hy nog ’n beheerde hoeveelheid metaangas laat ontsnap…..




TEMAS
1 Kommentaar
  1. Ano

    4 Januarie 2019

    Whaaaaaaaa- nee…. maar ja, ek hoor!

Laat u kommentaar

GESKRYF DEUR

Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

Publikasies: 2
Kommentaar telling: 0

Vir iemand wat die skryf van opstelle op skool gehaat het en eerder somme wou maak, is dit 'n wonderwerk dat ek hoegenaamd kan skryf. Wys jou wat 'n paar dekades aan mens se prioriteite kan doen.Ek het nog baie om te leer maar geniet elke oomblik van die proses en met 'n ouer broer (ja dis moontlik op my ouderdom) wat sy lewe lank al 'n Afrikaanse onnie is, sal ek maar gaan kers opsteek by die slimmes.

Gebruikers Aanlyn

2 Lede, 101 gaste aanlyn

Bydrae Totale