Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: Die bitter en soet.

Deur Taai
Datum gepubliseer: 16 Desember 2019 Aantal woorde: 706 117 Kere gelees 1

Ons het ’n aasvoëljaar belewe, waar ander ons bene probeer skoon eet het. Maar … tog was die jaar ook gevul met goue sonskyndae wat tussen ons beendere deurgeskyn het om vir ons die mooi van die lewe te wys. Soms wou ons op moedverlore se vlakte gaan speel. Veral as ons voor ’n donker mismoedige gat te staan gekom het wat na ons hakskene gehap het of ’n donkergat wat sy mond wawyd oopgemaak het om ons diep in sy lang keelgat af te probeer druk. Soos die gesegde lui: Sink of swem. Jy laat maar jou arms oortyd werk om jou uit daai gat te probeer kry. Net wanneer jou arms moeg raak, breek ’n wolk met ’n silwer randjie die grou en word jy op goue sonskynvlerke bo droomwolke gelig en vlieg jy salig op lewenswinde.
Maar, soms kom klop ’n wolf in skaapsklere aan jou deur en sleep jou terug na die “ons breek jou moed” gat en herinner jou dat jy vergeet het om op jou knieë te bly. Veral as die droogte se knelhand om jou oeste span of wanneer jou vee gegaps word in die donker van die nag en moordend aangejaag word vir kilometers ver tot waar die “nuwe eienaars” hul gebuite fonds kan oor brandmerk en laai (want hul wil nie ‘valslik’ beskuldig word dat dit nie hul vee is nie) of selfs rustig hul jassies kan afskil en vir jou dit los om die volgende dag te vind. Of as daar fout gaan met die oeste, en duisende ter duisende rande sien jy voor jou oë wegkwyn en jy is magteloos om iets daaraan te kan doen. Ja, dan breek ons harte en ons trane meng met woede wat neerstort om ons voete.
Soms beleef ons weereens ’n goue sonskyndag. Jou kinders wat skaterlag vir die eenvoudigste dingetjies terwyl hul in die plaasdam swem, drukkies en soentjies wat soos ’n warm kombers om jou hart vou, die wonder en skoonheid van die natuur wat jou asem skoon wegslaan, ’n veldblom wat manlief vir jou gepluk het en die stilte van die nag wat jou koel omvou met net die sterre se skitter, tarentale se geskree en paddas se gekwaak in jou ore. Ja, sulke tye maak die bitter ook soet in die lewe.
Ja, ek is ’n boer se vrou. Dis nie aldag maklik nie, maar ek verruil dit vir niks anders in die lewe nie. Want hier staan ons op die laaste dag van die jaar besig om koring van die lande af te haal en ek en my dogtertjie het gou middagete gemaak en weggevat lande toe. “Kom stroop gou saam.” kom dit uitnodigend van manlief (skaars hoorbaar bo die dreuning van die stroper) en ons laat nie op ons wag nie, want dit is nog ’n goue sonskyn oomblik. Al is die stroper warm en die lugreëling blaas volstoom sy asem op jou uit, kyk ek in verwondering na die goue koring, die broeiende belowende weer om ons en die drie reiers en klomp witborsluisvoëls wat al aasend om ons saam vlieg. Want, sien, soos die rollende koringtafel die koring sny en opgooi oor die roller, so word insekte en goggas wat daar geskuil het ook die lug ingegooi. Wat ’n feesmaal vir die voëls wat ons volg. By die laaste stukkie koring wat ons stroop hardloop vier tarentale skielik (tussen die koringrye) voor die rollende koringtafel uit. Onwetend het ons bo-oor hulle nes gegaan. Die reiers en witborsluisvoëls kon hul oë nie glo nie. Hulle het weggelê aan die klein tarentaalkuikens wat in die nes was. Ek het eers hartseer gekyk na die arme spartelende kuikens, terwyl die vier tarentaal ouers magteloos op die kantlyn gestaan en toekyk het. Maar soos manlief my daaraan herinner het … dít is die lewe. Die reiers moet ook eet.
Ons gaan die nuwe jaar met koringstrooptyd in en is dankbaar vir dit wat ons van die lande kan afhaal. My nuwe jaars voorneme is om geen nuwe jaars voornemens te maak nie. Ek gaan liewers elke dag die mooi van die dag wegsit in my hart vir die ‘donker gate’ wat dalk vir ons vorentoe mag lê en wag.

© Taai Bonthuys




TEMAS

Laat u kommentaar

GESKRYF DEUR

Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

Publikasies: 37
Kommentaar telling: 1

Digter, Skrywer en professionele rekenmeester.

Gebruikers Aanlyn

0 Lid, 45 gaste aanlyn

Bydrae Totale