Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: Die Beskermer

Deur Ronel Janse van Vuuren
Datum gepubliseer: 20 Januarie 2017 Aantal woorde: 1275 535 Kere gelees 13

Daphne maak of sy flou val en dadelik het sy die volle aandag van die bestuurders van die trokkies wat kos na een of ander geleentheid vat. Behalwe vir hulle, was die straat tussen die hoë geboue heeltemal leeg. Haar strik werk en die twee mans hardloop dadelik na haar toe.

Terwyl hulle ‘n ophef van haar maak, hou sy die donkerbruin akkedis-tipe gediertes uit die hoek van haar oog dop soos hulle al die kos uit die trokkies verwyder en af ‘n drein vat na die stormwater tonnels. ‘n Spesiale trollie wag daar onder vir die kos. Die vyf kaboutermannetjies maak vinnig seker dat daar nie ‘n krieseltjie kos agter bly nie.

‘Dankie,’ sê sy vir die twee mans soos die laaste kos saam met die kaboutermannetjies verdwyn. Daphne sit regop en gee hulle ‘n stralende glimlag – dit beroof hulle van hul sinne vir ‘n oomblik. Sy duik in die drein in agter die Feetjie diewe.

Sy verkies dit om met die kaboutermannetjies te werk bo die Rooi Kappies. Die kaboutermannetjies is wragtig goeie diewe en hulle luister na bevele, waar die Rooi Kappies meesal net almal se bloed wil giet wat tussen hulle en hul prys staan.

Daphne spring vinnig van die stormwater drein na die ingang van die Labirint. Die opening is besig om al hoe kleiner te word. Sy veg teen die begeerte om haar oë toe te maak soos sy die lang afstand val na waar die kaboutermannetjies vir haar wag.

‘n Swart-grys kat krap haar linker hand soos sy die Labirint in val. Verblindende pyn skiet deur haar hele lyf en bars by haar vingerpunte uit. Sy vloek die Feetjie Kat toe sy haar hand sien: twee gaatjies op haar middel vinger was staalgrys en word al hoe donkerder soos die res van haar vinger silwer word. Sy weet dat haar vinger staalgrys en dan swart gaan word – ‘n teken dat haar dood naby is.

Die kaboutermannetjies bestuur die trollie met gemak deur die Labarint. Bruin klip maak plek vir swart en Daphne voel verlig soos hulle die Oniks Labarint binne gaan. Ten minste sal geen Feetjie Kat êrens daar kan rondhang om haar van kant te maak nie. Sy voel swakker en swakker soos hulle dieper in hul tuiste beweeg. Sy kan die kaboutermannetjies se kommer voel, maar sy konsentreer net daarop om wakker te bly.

‘Sterkte,’ sê hulle en ry weg van die hoof gebou af. Die swart klip glinster in die swak lig. Haar enigste gedagte is dat sy by die heler moet uit kom.

Sy loop en loop maar die lewendige klip weier om haar toegang te gee tot die heler se kamers. Eindelik kom sy in die binnehof aan die ander kant uit en ‘n paar treë neem haar tot op die groen gras onder die kunsmatige sonlig.

‘n Elfie, ‘n Feë van die kneg klas, lei ‘n groepie twaalfjariges êrens.

‘Ek het jou hulp nodig,’ sê sy met ‘n buiging.

‘Raak weg, Beskermer. Die Elfie vat ons na Haar Hoogheid se teater,’ sê ‘n snuiter in blou.

‘Verskoon tog, Beskermer. Wanneer ek klaar is, sal ek jou kom vind,’ sê die Elfie bedees.

Sy kyk hulle agterna. Woede bou in haar oor die snuiter se selfsugtigheid. Net Elfies, met hul fyn bou en punterige ore, kan gaan waar hulle wil in die Oniks Labirint. As sy nie gou by die heler uitkom nie, gaan sy dit nie maak nie.

‘Hoe voel jy vanoggend?’

Die stem laat haar al die dinge voel wat verbode is aan haar.

‘Goed genoeg, u hoogheid,’ sê sy sonder om op die kyk na die aantreklike aangesig van die Hertog.

‘Kom nou, daar is geen formaliteite tussen ons nie,’ sê Brandon en draai haar gesig na hom. Sy oë blink op die gelukkige manier wat hulle altyd doen wanneer hy haar sien. Haar hart gallop wild wanner sy naby hom is.

Maar realiteit het altyd ‘n manier om terug te keer. Hulle kan nooit saam wees nie. Hy moet met die prinses van ‘n ander Hof trou om hul gemeenskap se toekoms te verseker. Sy was maar net ‘n Beskermer – te laag in stand om ooit meer as net sy lyfwag te wees.

‘Miskien moet daar wees,’ sê sy en kyk weg. Hy laat sy hand van haar wang val.

Pyn skiet deur haar hand en haar vinger word die donkerste staalgrys wat sy al ooit gesien het.

‘Kort. Heler,’ sê sy voordat sy ineen stort.

Hy hardloop met haar in sy arms na die kamers van die heler. Daphne hou net-net haar bewussyn.

Sy sien die ouer vrou se gesig bo haar sweef soos sy haar ondersoek. Die snak to sy haar hand sien is diepgaande.

‘Wat het dit gedoen?’

Daphne kon nie praat nie, so sy wys haar die herinnering van die Feetjie Kat wat haar aanval deur haar gedagtes uit te saai na die heler. Dit voel so goed om nie die versperring op te hou nie.

‘Bly by my,’ beveel die heler.

Sy voel die skerpste pyn in haar hand en alles word donker.

Daphne is in die tuin, nagemaak om te lyk soos iets bogronds met die maan wat die area verlig, waar sy veronderstel is om op die uitkyk te wees vir ongenooide gaste en hulle te keer om die aand te bederf. Haar hart is besig om te breek soos die sekondes aan stap. Hy is besig om verloof te raak aan daardie prinses. Sy weet al die redes – veral die politiese redes – hoekom, maar sy haat dit steeds.

‘Hoekom so hartseer?’

Sy spring effens. Dit is hy.

‘Jy weet hoekom,’ sê sy kragteloos.

‘As dit net oor jou en my was, sou ek nooit dit gedoen het nie. Maar die toekoms van ons Hof rus op my.’

‘Ek weet. Ek wens…’

Die woorde hang tussen hulle.

En hulle soen. En nie beleefd nie. Vurig. Iets wat nie deur ander gesien moet word nie.

‘Ek moet gaan,’ sê Brandon.

Sy knik stil, simpel, en kyk hom agterna.

‘Jy is weer springlewendig en gesond,’ sê die heler se stem. Daphne knip haar wimpers, die sprokie-droom weg en vervang deur die donker kamer van die heler en die heler se gesig en dit van ‘n ander vrou. Haar kommandant.

‘Dit was ‘n wetter van ‘n gif,’ sê die heler.

‘Hoekom het jy ons nie vertel nie?’ vra Daphne se kommandant in ‘n skaars beheerde sis.

‘Wat?’

‘Dat julle gesoen het.’

Daphne kyk na hulle verward.

‘Jy het jou gedagtes uitgesaai,’ verduilelik die heler.

Paniek probeer Daphne oorweldig.

‘Moenie bekommer nie, ons het dit in hierdie kamer gehou.’

Daphne onstpan.

‘Hoekom het jy ons nie vertel nie?’ vra haar kommandant weer, hierdie keer kalm.

‘Omdat daar niks is om te vertel,’ antwoord sy ontwykend, haar keel droog en krapperig.

‘As daardie herinnering die een is waaraan jy moes klou om deur die gif se pyn te kom, dan is dit nie niks nie,’ sê die heler.

‘As julle albei so voel, dan is ons diep in die moeilikheid. Die koors kan julle vat en dit kan katastrofies wees,’ sê Daphne se kommandant terwyl sy op en af loop in die kamer.

‘Hy sal dan nie met die prinses kan trou nie en ons toekoms sal dan donker wees.’

‘Bly weg van hom, vir almal se onthalwe.’

‘Veral jou eie.’

Vreugde dat hy oor haar voel soos sy vir hom word oorskadu deur die aakligheid van was sal gebeur as hy nie met die prinses trou nie. In plaas van die geluk wat gedeel moet word wanneer die koors twee vat, sal sy gestenig – of erger – word vir haar liefde.

Hulle sal haar brand vir verraad.




  • TEMAS
    5 Kommentaar
    1. Ronel Janse van Vuuren

      Januarie 20, 2017

      Hierdie is die eerste verhaal in my nuwe reeks “Verhale van die Oniks Labirint”. Soos altyd gaan dit oor die Feë en hulle wêreld binne ons eie. Kommentaar is altyd welkom.

    2. neels

      Januarie 21, 2017

      ek sien uit na die res Ronel

    3. Anze

      Januarie 23, 2017

      Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die INK gedenkbundel projek 

    Laat u kommentaar

    GESKRYF DEUR

    Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

    Publikasies: 77
    Kommentaar telling: 260

    Daagliks skryf ek die stories neer wat in my kop woel. Of dit nou oor olifante en kabouters in die Knysna bos is en of dit oor ‘n tienermeisie is wat die wêreld moet red, ek is daar. My wêreld draai om my twee Rottweilers – hulle leer my om die perfekte dag na te streef, want vandag kan die laaste wees. Die perfekte dag: lag, dink en huil. Om te skryf maak elke dag die perfekte dag. In 2016 EN 2018 was ek ook benoem as Verhaalskrywer van die jaar hier op INK. Ek kan gevolg word op Twitter @miladyronel en meer van my gedagtes kan gevind word op my webtuiste http://www.ronelthemythmaker.com.

    INK E-formaat tydskrif

    Gebruikers Aanlyn

    1 Lid, 20 gaste aanlyn

    Bydrae Totale