Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: Die Begin van die Einde

Deur Ronel Janse van Vuuren
Datum gepubliseer: 10 Julie 2018 Aantal woorde: 3335 365 Kere gelees 3

Bewend trek Daphne Beskermer-leer aan. Tussen die belaglike koue en die verskriklike nagmerries wat sy nie kan ontsnap nie, was haar nag absoluut aaklig.

Soos sy deur die Oniks Labirint loop sien sy, ten spyte van die koue wat haar nogsteeds beet het, dat die steen mooi herstel het na die aanval deur die groumolle ‘n week tevore.

Kwaai fluister woorde vul die Labirint, maar wetende dat dit te doene het met die vreemde temperature maak dat sy nie veel aandag daaran skenk nie. Veral omdat die lewende steen nie met haar speel soos gewoonlik nie. Sy kon direk na prinses Calliope se kamer gaan.

Vreemd, dink Daphne soos sy die deur oopmaak.

‘Goeie more, prinses,’ groet sy.

‘Goeie more, Daphne,’ groet prinses Calliope. Sy staar na die verskeie blommerangskikkings, borde en ander goed wat die bruilofbeplanners gelos het vir die groot dag.

Daphne maak seker dat haar gesig, selfs haar oë, emosieloos bly. Sy moet veral versigtig wees na haar idiotiese ineenstorting toe Brandon amper saam met die oniks steen dood is. Al het albei oorleef, het sy steeds beheer oor haar emosies verloor. Gelukkig het net Ruhan, die Beskermer wat alreeds van alles weet, dit gesien.

Die prinses lyk ‘n bietjie afgehaal.

Miskien is dit die koue, dink Daphne toe ‘n ysige briesie deur die vertrek waai. Sy onderdruk ‘n gaap en weet dat sy ondersoek sou ingestel het as sy beter geslaap het.

Twee elfies, Shahnaz en Cola, bring hitte saam met hulle die vertrek binne.

‘Ons vra om verskoning vir die koue.

‘Dis ‘n newe-effek van die Labirint wat herbou word.’

‘Moenie daaroor bekommer nie,’ sê prinses Calliope en trek haar pels mantel stywer om haar skouers.

Die elfies gaan deur die vertrek en vryf die oniks steen. Daphne kan sien hoe toorkrag van hulle af in die mure inbeweeg. Sy kyk weg, omgekrap oor alles wat sy kan sien. Dinge het baie verander tussen haarself en die lewendige steen van die Oniks Labirint.

Iemand klop hard aan die deur. Een van die elfies maak dit oop.

Vier Beskermers in donker grys mantels staan buite die deur. Hulle is nie van die Oniks Labirint nie.

Daphne sluk swaar. Hulle is van die Hoë Hof.

Selfs die hitte wat die vertrek begin vul kan nie die koue vrees wegvat wat sy voel nie. Sy hou hulle dop.

Hulle is die Bekermers van die Heerser van die hele Labirint. Hulle maak seker dat almal die reëls volg.

Sy kan nie besluit of sy kwaad of bekommerd moet wees nie.

‘Julle moet almal saam met ons kom.’

‘Hoekom?’ vra Calliope.

‘Die Hoë Koningin se Beskermer beveel jou.’

Selfs ‘n prinses kan nie daarteen stry nie.

‘Los jou wapens,’sê een van die Grys Beskermers vir Daphne.

Sy weet dat sy moet doen wat beveel word, maar dit gaan teen alles wat sy as ‘n Beskermer geleer is.

Prinses Calliope knik en Daphne verwyder al haar wapens. Sy los hulle op die tafel en volg die prinses uit die vertrek uit, die elfies agter haar aan.

Sy probeer die verstand-skakel om die Kommandant van die Beskermers te laat weet wat aangaan, maar sy kan niemand anders vind nie.

Daphne hou die ander Beskermers dop en hou haar gedagtes vir haarself. Sy voel agterdogtig jeens hulle omdat sy nie met haar Kommandant in aanraking kan kom nie. Veral omdat dit verbode is vir Beskermers om in te meng met die beskerming van vorste.

Hulle betree die troon kamer. Daphne is nie verbaas om Hertog Brandon daar te sien nie. Ook nie die Kommandant nie. Maar sy is verbaas dat die Heler, Ruhan, Henri en die tweeling – Clive en Conan – ook daar is.

Al die ander Beskermers daar is vreemdelinge vir Daphne. En hulle almal dra grys mantels oor hul bypassende Beskermer uitrustings.

Sy hou haar uitdrukking neutraal toe die deure toegaan en hulle toesluit saam met die Hoë Hof Beskermers.

‘n Pragtige vrou loop tot voor hulle en gluur vir almal van die Oniks Labirint.

‘Ek is Zinhle, die Hoë Koningin se Beskermer. Ek is hier met my mede Hoë Hof Beskermers om insae te kry oor ‘n saak wat my koningin bekommer.’

Sy bly still en kyk almal in die oog. Daphne weier om weg te kyk.

‘Wees gewaarsku: ons is hier oor verbode liefde. Almal hier teenwoordig weet daarvan of is betrokke.’

Niemand maak ‘n geluid nie. Daphne was amper bang. Nie te lank gelede het beelde van haar op ‘n brandstapel haar wakker gehou. Maar dit is al ‘n hele ruk sedert sy en Brandon hul verhouding verbreek het. Steeds, hierdie Grys Beskermer lyk seker van haar feite. En sekere dinge is strafbaar deur die dood maak nie saak hoe lank terug dit gebeur het nie. Daphne sluk. Sy’t geen idee hoe hierdie Beskermer kan weet van wat in die Oniks Labirint aangaan nie.

‘Alles gaan reg uitdraai, Beskermer Daphne,’ hoor sy ‘n elfie se stem in haar kop. Sy besef dat dit deur haar nuwe verbintenis met die Oniks Labirint moontlik is. ‘Hulle sal niks uit ons kry nie.’

Sy sou verlig gewees het as net die elfies geweet het van haar geheim.

‘Ons sal elke gerug en insident ondersoek. Ons sal die waarheid uitvind. En die straf vir die skuldiges sal streng wees,’ sê Zinhle.

Daphne hou haar asemhaling kalm en normaal. Niemand wat die waarheid weet sal ooit bewys lewer nie. En enigiets anders kan nie bewys word nie. Sy staar voor haar uit soos die leier van die Grys Beskermers op en af loop voor hulle. Al wat sy oor bekommerd hoef te wees is om die prinses veilig te hou.

Twee vreemde Beskermers begelei die Heler na ‘n stoel in die middel van die troon kamer.

‘’n Paar maande gelede is Beskermer Daphne aangeval deur ‘n feetjie kat. Ooggetuies sê dat Hertog Brandon haar na jou kwartiere gedra het,’ sê die Grys Beskermer vir die Heler.

‘Ja.’

‘Wat het toe gebeur?’

‘Ek het haar gesond gemaak.’

‘Duidelik. Feetjie kat gif vat die verstand se skanse weg. Wat het Beskermer Daphne se gedagtes onthul?’

‘Pyn.’

‘En?’

‘Niks om te herhaal nie,’ antwoord die Heler en kyk reguit voor haar uit, haar kake geklem.

‘Stem jy saam?’ vra die Grys Beskermer vir die Kommandant van die Oniks Labirint Beskermers.

Sy knik.

‘Goed dan.’ Zinhle sug.

Beskermer Ruhan vat die Heler se plek.

‘Wat het gebeur tydens die jagtop op die feetjie katte?’ vra sy vir Ruhan.

‘Dit is Oniks Labirint besigheid. Selfs jy het nie toegang tot dit nie,’ sê hy in sy moeilike manier.

‘Vertel my wat jy dink van Beskermer Daphne.’

Hy kyk net na haar en daag haar uit om iets te doen wat al die Grys Beskermers uit die Oniks Labirint geskop gaan kry.

Daphne kan sien hoe die Grys Beskermer op haar tande kners toe jong Henri die ander Beskermer se plek neem.

‘Ooggetuies sê dat jy saam met Beskermers Daphne en Ruhan na die Orakel gegaan het. Was dit jou eerste misie?’

Henri se kake is geklem en hy staar reguit voor hom uit.

‘Jy is die een wat vir almal wat wou luister vertel het dat net ‘n soen van ware liefde die donker muse se mag oor Hertog Brandon kon breek. En dat dit Beskermer Daphne was wat hom gesoen het.’

‘Ek het nooit so-iets gesê nie.’

‘Dan was dit Beskermer Ruhan wat hom gesoen het?’

‘Nee.’

‘Jy?’

‘Dit was ‘n lawwe storie om vrouens se aandag te trek. Ek vra om verskoning. Die prag van die muse en die orakel het my vir die waarheid verblind. Ek het aannames gemaak. Straf my vir gerugte sprei, maar moenie die nonsens wat ek vertel het glo nie.’

Zinhle lyk nie gelukkig nie. Maar nie eens sy kan hom vertel om te sê wat sy wil hoor nie.

Daphne kon dit nie glo nie. Henri lieg. Om die waarheid te draai is moontlik vir feë. Maar om te lieg? Nee.

‘Dis die toorkrag van die Oniks Labirint. Dit wil jou beskerm,’ fluister die elfie langs haar in haar kop.

Al is sy nie gemaklik daarmee nie, is sy wel dankbaar.

‘Ons kan net lieg as ons wil,’ sê die ander elfie.

‘Elfies!’ draai Zinhle kwaai na hulle. ‘Vertel my alles wat julle weet van verliefdes in die Oniks Labirint.’

‘Verlief?’

‘In die Oniks Labirint?’

‘Liefde bestaan nie hier nie.’

‘Geen punt nie, is daar?’

‘Die lewe is te kort vir sulke lawwigheid.’

‘Selfs die Hertog trou uit plig uit.’

‘En die prinses ook. Hulle sal enigiets vir hul onderdane doen.’

‘Liefde het geen plek hier nie.’

‘Net berusting.’

‘Genoeg!’ Zinhle lyk woedend.

Clive en Conan word saam na die middel van die vertrek gelei.

‘Julle twee, vreemde tweeling. Vertel my wat julle omtrent Beskermer Daphne gewaar het.’

‘Haar beste vriend is Beskermer Ruhan.’

‘Dis vreemd, want hy is nie die vriendelikste vent nie.’

‘Albei mentor die idioot beginner.’

‘Beskermer Henri.’

‘Alhoewel ek seker is dat sy hom al ‘n paar keer wou verwurg.’

‘Die gerugte?’ vra Zinhle en ignoreer die vreemde manier waarop hulle mekaar se sinne voltooi.

‘Miskien.’

‘Defnitief tydens die pooka katastrofe.’

‘Enigiets onwelvoeglik in haar optrede?’ vra die Grys Beskermer en gluur vir Daphne asof sy die rede is vir die hele storie.

‘Sy’s te geheg aan die prinses.’

‘En dieselfde gaan vir die prinses teenoor haar beskermer.’

‘Die prinses het geweier om sonder Daphne te vlug tydens die groumol aanval.’

‘En Beskermer Daphne maak asof sy in beheer van ons almal is vandat sy die prinses se beskermer geword het.’

‘En dan is daar die feit dat sy net saam met Beskermer Ruhan sal werk.’

‘Met Henri as ‘n stertjie.’

‘En hoe is dit onwelvoeglik?’druk Zinhle.

Die tweeling kyk vir mekaar.

‘Ons glo dat hulle romanties betrokke is.’

Daphne lag amper hardop. Veral toe sy die skok, verrassing en selfs walging op die gesigte van die ander van die Oniks Labirint sien. Om regverdig te wees, Brandon en Ruhan kan maar gewalgd voel. Wat haar verras is Calliope se uitdrukking – selfs sy voel walging daaroor. Daphne kyk terug na die tweeling.

‘Regtig?’vra Zinhle, duidelik agterdogtig. ‘Niemand anders hier stem saam nie.’

‘Miskien omdat Daphne dit heeltemal verloor het tydens die groumol aanval.’

‘Ons ook. Die Hertog was amper dood.’

‘Maar dit moenie as enigiets as lojaliteit aan die Oniks Labirint gesien word nie.’

‘Selfs al lyk dit asof daar iets meer daar aangaan.’

‘Vroulike Beskermers is hoogs emosionele wesens.’

‘Hm. Prinses –’

‘O, dis so onstellend!’ val prinses Calliope die ondervraer in die rede. Sy lyk asof sy gaan flou val en hou ‘n hand teen haar voorkop. ‘Ek het nodig om eers te herstel voordat jy my ondervra.’

‘Goed dan. Vergesel die prinses na haar kwartiere.’

‘Ek dring daarop aan dat my beskermer saam met my kom. Sy is die enigste een wat ek vertrou.’

Duidelik nie in die bui vir koninklike uitbarstings nie, laat Zinhle dit toe.

Daphne is beïndruk deur die prinses se toneelspel.
#
‘Is jy wel?’ vra Daphne toe hulle alleen is in die prinses se kamer.

‘Ek moet jou dit vra.’

Daphne hou haar versigtig dop.

‘Tsk! Dis nie nou die tyd vir speletjies nie. Natuurlik weet ek van jou en Brandon. Enigiemand wat julle fyn genoeg dophou kan sien dat julle in honderde soorte pyn is. Argh! Plig! Dit moet strafbaar wees.’ Calliope marsjeer van een kant van die vertrek na die ander.

Die muur beweeg en die elfies en Brandon kom deur.

‘Ag, gaan vir dit. Daar is geen rede om meer weg te kruip nie.’

Daphne en Brandon haas na mekaar en hou hande vas.

‘Jy okay?’ vra Bandon bekommerd.

‘Ja. Conan en Clive is idiote, maar gelukkig vermoed hulle niks nie.’

‘Maar Zinhle doen.’

‘Ja. En dit bekommer my. Veral omdat Calliope hier is.’

‘Ek?’

‘Ja.’ Brandon sug. ‘Jy het hier kom bly na gerugte oor ons die rondte gedoen het.’

‘Hm. Zinhle sal dit as bewys sien.’ Calliope hou aan op en af loop. ‘Moenie bekommerd wees nie. Ek sal weier om te antwoord.’

‘As nog iemand weier om te antwoord sal sy ons almal na die Grys Labirint vat na die Hoë Koningin,’ waarsku Brandon.

‘Die Oniks Labirint sal jou help lieg as jy wil. Nes dit vir Beskermer Henri gedoen het,’ piep ‘n elfie.

Calliope glimlag vir die eerste keer daardie dag. Selfs haar oë vonkel.

‘Kom ons gaan terug na die troon kamer.’
#
Daphne was nie seker oor enigiets nie. Om nog iemand te hê wat van haar gevoelens vir Brandon weet voel onwerklik. Veral omdat dit iemand is wat hul geheim sal hou. En veral vreemd omdat dit haar geliefde se verloofde is.

‘Is jy gereed om ‘n paar vrae te antwoord, u hoogheid.’

‘Ja.’

‘Is Beskermer Daphne in ‘n ongewenste verhouding met iemand in hierdie vertrek? Die Hertog, miskien?’

‘Daphne en Ruhan is saam. Daar, ek het dit gesê. Die enigste rede hoekom die tweeling wou hê dat jy moet glo dat sy iets met my verloofde te doen het is om hul eie geheim te beskerm.’

‘Wat wat sal wees?’

‘Hulle is jaloers.’

‘Hoekom?’

‘Clive is verlief op Ruhan. Conan is verlief op Brandon.’

Die Grys Beskermes snak na asem. Daphne hou dit als woordeloos dop. Sy’t gedink dat Calliope sou sê dat Conan op haar verlief is.

Om die beskermers sonder hul gewone kalmte dop te hou is nogal pret. En sy weet dat dit juis die prinses se plan was.

‘Elfies?’ vra Zinhle die stil kamer.

‘Ons het nog nooit die tweeling sien flirt met vrouens soos Henri nie.’

‘Niemand flirt soos Henri nie,’ sê een tweeling.

‘Dis sommer net belaglik,’ sê die ander een.

‘Genoeg!’ gil Zinhle vir die tweeling. ‘Hertog Brandon, het jy enigiets te sê?’

‘My gevoelens is dieselfde jeens alle Beskermers. Maar as Ruhan dieselfde oor Clive voel…’ Hy haal sy skouers op. ‘Wie is ons om in hul pad te staan?’

‘Dit sal in ‘n ander vergadering bespreek word. Eindelik, Beskermer Daphne: wat het jy te sê oor die klagtes jeens jou?’

‘Watse klagtes?’

‘Dat jy romanties betrokke is by Beskermer Ruhan. En Hertog Brandon.’

‘Ek weet van niks. Maar ek sal erken dat ek gevoelens het wat ek nie moet hê nie… ‘n sagte plek vir die prinses.’

Daphne hou die ondervraer dop en daag haar uit om te maak van dit wat sy wil.

Almal hou haar stomgeslaan dop. Selfs die Prinses en Hertog.

‘Belaglik!’ bars een van die tweeling uit.

Almal gil hul opinie, tog het niemand enige opinie oor haar sagte plek vir die prinses nie.

‘Genoeg!’ gil die ondervraer.

Die vertrek word weer kalm.

‘Ons sal ‘n breek vat en dit bespreek. Dan sal ek my oordeel lewer.’

Die Grys Beskermers val toe op hulle. Die tweeling word weggelei op hul eie. Daphne en die ander Beskermers word na ‘n ander plek gevat.

‘Die koninklikes word êrens anders gehou,’ mompel Ruhan soos hy op en af loop. ‘Maar hoekom word ons apart van die tweeling gehou?’

‘Dit het gelyk asof jy hulle wou vermoor,’ sê Henri tussen lag en skrik.

‘Ek is seker daarvan ons is in ‘n afgesonderde kamer sodat ons nie probeer ontsnap nie,’ sê die Kommandant voordat Ruhan sy mond kon oopmaak.

‘Dink jy regtig Clive is verlief op Ruhan?’ vra Henri die ander Beskermers.

‘Maak dit saak?’ vra Daphne, haar maag sommer seer soos die erns van die situasie op haar neer daal. Dis amper maklik om te ignoreer toe sy die prinses moes beskerm. Maar nou…

‘n Smal opening vorm in die muur. Sy hou dit met ‘n frons dop soos dit groter word.

Haar twee gunsteling elfies, die Heler, prinses Calliope en Brandon kom die vertrek binne. Daphne beweeg nie. Die ander Beskermers vra vrae, maar sy kan hul uitdrukkings lees. Daar is ernstig fout.

‘Asseblief, ons het nie baie tyd nie,’ fluister Calliope. ‘Ons kon die Grys Beskermers afluister. En dis nie goed nie.’ Sy lyk asof iemand al haar visse in haar akwarium vermoor het.

Brandon se kake is strem, pyn brand in sy oë.

‘Hulle weet nie wat om te glo nie. Tussen die ooggetuies, gerugte en wat hulle vandag gehoor het weet hulle net dat Daphne baie drama veroorsaak,’ sê die Heler.

‘En weet julle wat hulle besluit het?’ vra die Kommandant.

‘Hulle gaan haar na middagete teregstel.’

Die ander Beskermers snak na asem, maar nie eens dit kan Daphne se skok deur gee nie. Sy het geweet dat die Hoë Hof vol lawwe reëls en regulasies is, maar om iemand tereg te stel net omdat baie drama hulle volg…

‘Dis nie die ware rede nie,’ sê sy hardop. ‘Zinhle glo die gerugte. En al het almal haar ander stories probeer vertel, weet sy.’ Sy kyk hartseer na Brandon.

Sy’t altyd geweet dat haar liefde vir hom net in gekheid, moedeloosheid en dood kan eindig. Ten minste gaan sy nie vir hoogverraad verbrand word nie.

‘Ek sal jou nie laat doodgaan nie,’ sê Brandon.

Niemand anders bestaan meer nie. Dis net hulle twee in die vertrek. Daphne kan verdrink in sy uitdrukking.

‘Sy gaan nie doodgaan nie,’ piep een van die elfies. ‘Ons het ‘n plan.’

‘Hier,’ die heler deel klein houertjies uit. ‘Dit sal ons herinneringe beskerm teen ander.’

Hulle drink die drankie. Net Daphne het nie gekry nie.

‘Ek gee nie vir jou nie, Daphne. Jou verstand moet helder bly as jy wil oorleef.’ Die heler hou haar styf vas.

‘Jy gaan onstsnap deur ‘n spesiale tonnel. Ons sal donker toorkrag blameer. Om dit by die ander klagtes teen jou te voeg is beter as om jou dood te sien,’ sê Calliope ernstig. Haar oë blink met ongestorte trane. Sy hou haar beskermer styf vas. Daphne druk haar terug in verbasing. ‘Moenie dood gaan nie, okay?’ Calliope gee vir Daphne haar pels mantel.

Daphne knik.

‘Geen idee hoekom hulle net jou wil straf nie. Ek is die een wat aangejaag het,’ sê Henri na aan trane.

‘Moenie huil nie, Henri. Ons maak almal foute. Jy gaan okay wees. Jy moet die prinses in my afwesigheid oppas.’

Hy knik en hou haar ‘n oomblik vas voordat hy terug tree en teen die muur gaan staan.

‘Bly skerp. En bly weg van die half-feë af,’ sê Ruhan en gee vir haar ‘n mes.

Sy grinnik. Hoe hy dit by hom kon hou, weet sy nie. Sy sluk die knop in haar keel weg en druk hom.

‘Dankie,’ fluister sy en laat hom gaan.

‘Ons het geweet dat hierdie ‘n moontlikheid is,’ sê die Kommandant. ‘Ek is jammer dat ek jou gefaal het,’ fluister sy.

Daphne druk haar. Trane brand haar keel.

‘Jy het nie. Pas hulle mooi op.’

Sy tree terug en almal beweeg een kant toe om haar en Brandon soveel privaatheid as moontlik te gee.

Hy rus sy voorkop teen hare en hou haar styf vas. Daphne drink die oomblik in, wetend dat dit hul laaste is.

‘Ek kan jou nie laat gaan nie,’ fluister hy.

Hulle soen vlugtig.

‘Ek sal ‘n manier kry om jou terug te bring,’ belowe hy.

Sy streel sy gesig.

‘Ek is lief vir jou,’ fluister sy en soen hom weer.

Sy tree terug. Tyd vlieg te vinnig.

‘Ek is lief vir jou ook,’ sê hy en hou haar hand vas.

Die elfies maak die nuwe tonnel oop.

‘Dit sal agter jou toeval. Moenie terug draai nie.’

Sy druk vir Shahnaz die elfie.

‘Dit lei na die hoof Labirint. Hopelik kry jy genoeg afstand tussen jouself en hierdie plek,’ sê Cola die elfie. Sy druk hom ook.

Daphne staan in die opening van die tonnel en kyk terug na al haar geliefdes. Sy was dankbaar dat hulle soveel waag sodat sy kan lewe. Pyn skiet deur haar hart soos sy na hul gesigte vir die laaste keer kyk. Sy weet dat maak nie saak wat hulle dink of belowe nie, sy gaan nie weer terug kan kom na die Oniks Labirint nie. Die lewe was net te kort daarvoor.

Sy betree die tonnel en kyk net voorentoe.




TEMAS
1 Kommentaar
  1. Ronel Janse van Vuuren

    10 Julie 2018

    Hierdie is die agste verhaal in my reeks “Verhale van die Oniks Labirint”. Soos altyd gaan dit oor die Feë en hulle wêreld binne ons eie. Kommentaar is altyd welkom.

Laat u kommentaar

GESKRYF DEUR

Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

Publikasies: 93
Kommentaar telling: 264

Daagliks skryf ek die stories neer wat in my kop woel. Of dit nou oor olifante en kabouters in die Knysna bos is en of dit oor ‘n tienermeisie is wat die wêreld moet red, ek is daar. My wêreld draai om my twee Rottweilers – hulle leer my om die perfekte dag na te streef, want vandag kan die laaste wees. Die perfekte dag: lag, dink en huil. Om te skryf maak elke dag die perfekte dag. In 2016 EN 2018 was ek ook benoem as Verhaalskrywer van die jaar hier op INK. Ek kan gevolg word op Twitter @miladyronel en meer van my gedagtes kan gevind word op my webtuiste http://www.ronelthemythmaker.com.

Gebruikers Aanlyn

3 Lede, 105 gaste aanlyn

Bydrae Totale