Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: Die Alkoholis

Deur Lila Bloeisels
Datum gepubliseer: 2 Mei 2019 Aantal woorde: 1256 69 Kere gelees 1

‘n Man strompel by die straat af en gaan sit op die asblikke buitekant ‘n restaurant se deur. Hy ruik die geure van die gebak en brou van die restaurant. Hy is honger maar vandag is hy so dors.
“Hier sit ek vandag op die asblikke in die stegie. Hulle noem my die koning, Koning Alkie. Ek is nie dronk nie! Ek drink net so twee doppe ‘n dag. Waar kom hulle daaraan,” sê hy baie mismoedig.
Hy kyk op na die hemel bo. Die son sak nou-nou. Die blou lug verdwyn stadig maar daar is nog mooi wit wolke. Hy kyk weer af en sug. Hy skud sy kop.
“Ek kry swaar, maar ek is dors. Die pyn op my maag is groot, maar ek is dors! Ek roep uit na hulp, niemand hoor my nie!”
Paar minute van stilte gaan verby.
“Vervloek is julle almal!” skreeu hy uit met ‘n pap handgebaar.
Trane loop oor sy wange en hy bewe. Arme Alkie, hy sit daar op die asblik tussen al die rommel. Niemand soek hom nie, niemand dink aan hom nie, weggegooi is hy. Toe sak die nag om hom neer. Die stegie is donker, die son is weg. Hy snik nog steeds.
Sy hande is vuil, sy naels pikswart en lank. Hy stink. Sy asem wat hy uitasem is vol ou gis. Hy vee die trane af met sy mou en begin ewe skielik hardop te lag. Hy lag so vir homself dat die spoeg uit sy mond loop. Hy lag hard en lekker vir almal wat hom so gelos het. Dit is mos hulle skuld dat hy hier sit, nie sy eie skuld nie.
Hy hou ewe skielik op. Een oomblik gee hy homself die skuld, bejammer homself en dan gee hy almal die skuld!
“Maar wie se skuld is dit dat ek so lyk?” vra hy dat die spoeg spat.
Hy mompel nog so paar woorde, raak duiselig en neuk amper agteroor.
“Ek is glo dronk, my vriend,” sê hy en beduie met sy hand aan sy onsigbare vriend.
Daar val hy van die asblik af! Soos ‘n groot sak sement en met ‘n dooie val land hy gesig eerste op die grond. Dit moes seer gewees het maar hy kan mos niks voel nie, hy is besope. Nou bloei sy bo-lip. Sy gesig is geswel van al die drank en nou bloei hy ook.
Hy maak sy oë op skrefies oop. Langs hom lê ‘n hoop rommel. Dinge wat nie in die asblik pas nie. Hy probeer regop kom. Hy sukkel want sy krag is min. Sy maer hand gryp die een asblik vas en hy trek homself regop. Nou sit hy teen die asblik en hou sy kop vas.
Na ‘n paar minute kyk hy rond. Hy sien niemand nie en haal ‘n silwer drank botteltjie uit sy baadjiesak uit. Drink twee slukke en sê, “Gesondheid!”
Die lag kom weer, want hy proe bloed en alkohol, dit is lekker. Sy bo-lip brand. Dit is stukkend van die val. Hoe het hy nou al weer in so ‘n situasie beland. Hy vee sy lip af met sy mou.
Die hoop ou boeke langs hom wat eintlik in die asblik hoort staan nou stewig langs hom. Netjies gepak, net as iemand dit dalk nog wou gebruik. Hy wil leun met sy een arm op die hoop, maar voor hy dit doen sien hy die boonste boek se opskrif raak. Hy haal die boek af en lees stadig met oë wat rond sweef.
“En wat het ons hier?, The remarkable wardrobe of Nataniëls Closet.” Hy skud sy kop.
“My magtig Nataniël, het jy ook ‘n storie?” vra hy met ‘n amper glimlag op sy gesig.
Nataniël swem nou voor hom maar hy blaai die boek deur. Net soos ‘n dronk man dit sal doen, vee hy weer bloed en spoeg van sy mond af. Die boek is nou vol bloed. Wat ‘n gemors?
Ewe skielik gooi hy die boek eenkant toe dat hy deur die lug trek.
“Wie klop nou so op my kop?” vra hy vir Hoofpyn. Hy voel nou sy hoofpyn, dit het deurgedring.
Hy gryp sy kop vas en begin weer hardop huil, maar niemand hoor hom nie. Na ‘n paar minute van huil en snik kan ‘n mens hom jammer begin kry. Alles het gemeng, trane, spoeg en bloed en dit is die hele plek vol.
Wat doen hy toe, haal weer die silwer botteltjie uit sy sak en drink sy twee slukke. Hy vee sy hele gesig af met sy mou. Dit lyk nou al of iemand vir Alkie ‘n opstopper gegee het. Hy haal diep asem, maar die spoeg loop nog steeds. Hy staar voorentoe na sy ou skoene.
Die skoene wat hy aan het word vier pare en dan twee. Die hele plek om hom swem en hy begin opstyg en daar sweef hy bo sy eie liggaam. Hy moes flou geword het en hy voel of hy droom. Hy sien hoe sy liggaam stadig langs die vuil asblik neersak en toe is die lewe weg. Die alkoholis is weg.
Silte val om Alkie se liggaam neer. So verdrietig is die oomblik en alleen. ‘n Alleen siel wat verhoed kon word, deur sleg ‘n wonderwerk van God kon ontvang. Die “divine intervention” soos hulle sê, ‘n ware wonderwerk het gebeur. Maar dit was afdraande pad vir Alkie se liggaam. Sy sirkel is voltooi, klaar en dood. Alkie was gedaan, gedaan van al die drink. Twee asemhalings in en uit en daar lê hy nou in sy eie tuigemaakte graf. Sy oë is nog oop en dit lyk of hy op kyk na die hemel.
Die stêrre glinster daarbo. ‘n Ligte briesie waai in die stegie af, bo-oor sy liggaam waar daar geen lewe is nie. Ver weg hoor jy die stadsgeluide.
“Hoor julle, Koning Alkie lewe nie meer nie, kom kyk!” roep die wind uit.
‘n Hond tjank ver weg en so gaan al die geluide gewoonweg aan. Toe kom daardie doodse stilte.
Die volgende oggend vroeg draf daar ‘n jong man in die stegie af. Die frisgeboude outjie hol eers verby, maar iets sê vir hom om liewer te gaan kyk. Vinnig het hy op sy selfoon die polisie geskakel.
“So wat sal word van hom, Konstabel?”
“Staatsbegrafnis ou seun, dit is maar wat met almal gebeur wat in strate en stegies hul lewens eindig, hiér rond. Die konstabel skud sy kop. Ons sal uitvind of daar familie was, maar in meeste van hierdie gevalle wil die familie niks weet nie. Dit is ‘n jammerte!” sê die konstabel en rook sy sigaret verder.
“Hoop maar hy het die pad van vergifnis gekies, Konstabel?” vra die jong man. Die konstabel trek net sy skouers op.
Koning Alkie se liggaam is uit die stegie verwyder en na die staatslykhuis geneem. In sy baadjiesak was ‘n paar besittings. Die silwer drank botteltjie, ‘n pen en ‘n papier wat aandui dat hy ‘n slim man was met ‘n graad. Sy naam en van kon baie help, maar wie sal omgee. Alkie het sy eie dood bepaal. Sy klere is later verbrand en sy liggaam gewas.
Siestog, as hulle maar net weet dat die engele hom klaar skoon gewas het en hom voorberei het om sy sitplek in die hemel in te neem. Alkie se wonderwerk het toe gekom. Hy het geweet dat hy sou nooit weer normaal kon wees nie, want drank was sy kos, water en lewe. Die groot gif van, Bitterheid!




  • TEMAS

    Laat u kommentaar

    GESKRYF DEUR

    Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

    Publikasies: 5
    Kommentaar telling: 0

    Gebruikers Aanlyn

    2 Lede, 2,855 gaste aanlyn

    Bydrae Totale