Titel: Desolaat
Deur Ronnie

Instagram …
eksotiese disse in klandestien restaurante,
wydvermaarde plekke in verre lande, of net straataf
selfies met … WOW!
In hoë definisie ʼn lewensverhaal
in hiërogliewe
op tablet- en foonskerms
verspied deur miljoene smarag oë.
Facebook …
vriende uit ‘n prille jeug
nuwe vriende –
(maak die sirkel groter)
bekendes, opinielyers, B&B’s
vir kyk-my-glamour-lewe
(wees jaloers toe s’blief),
vir netwerk-bou
(jy is wie jy ken),
vir spesiale aanbiedinge
(waar kry jy die geld?)
Vriendskap sonder voordele?
Hoe absurd!
Twitter …
volg trends
volg absurde
volg alles
volg almal
bly op hoogte
bly besig
foon in die hand, altyd
vingers tweet, tweet
Sosiale media…
besweer ordinêre
besweer godverlatenheid
wildoes eensames
kom
bemark jou lewe
elke kleurlose oomblik my mens –
vang die oog
bevriend VIPs
snoef supernova
jý –
met die skare aanhangers.
Die Oom van Die Stem sê:
“’n Skare is ‘n versameling van eensames”.
Volgeling …
volg hier, daar, daai een, die een
volg en word vervolg
kom
bou daai profile my mens …
babbel, beswadder, belaster
dalk haal jou post die nuus
steek dit ʼn vuur aan
ontmasker jy ʼn rassis, terroris of bedrog op hoë vlak
word jy veelgeprese.
Die Man met belaster hale op die rug sê met trane in sy oë
“hulle is soos skape wat ʼn herder soek”
alleen, bang, onvergenoegde mense …
soekend
swerwend
bakhand
vir aanvaarding en erkenning
vir liefde en vriendskap
verkoop ʼn kluitjiebak lewens
in hiërogliewe
op tablet- en foonskerms
wat weerkaats in miljoene smarag oë.