Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: Desember 2019 projek – Dans asof niemand kyk nie – Uitslae en kommentaar

Deur Anze
Datum gepubliseer: 3 Februarie 2020 Aantal woorde: 4505 94 Kere gelees 1

Baie geluk aan hierdie 9 lede!

WENNERS          
GEDIGTE            
BRONS
WENNER No 12 – Theresa Postma met Laaste dans van Grovenor
2DE No 16 – Amanda Meyer De Meillon met Laaste dans met Pa
3DE No 13 – Marsofine Krynauw met Uitgespreide siervere
 
SILWER
WENNER No 19 – Charleine Collins met Sy dans
2DE No 20 – Charleine Collins met Danse macabre
3DE Geen
 
GOUD  
WENNER No 9 – Carma Shaw met Onthou om te huppel
2DE No 5 – Anzé Bezuidenhout met my kleivlerke
3DE No 1 – Anzé Bezuidenhout met Darteldans
 
GORREL              
No 1 – Theresa Postma met Ekkerigheid

RUBRIEKE          
WENNER Geen

ARTIKELS           
WENNER Geen

VERHALE            
WENNER No 7 – Helena Mellet met Dans dans meisie
2DE No 5 – Marsofine Krynauw met Dans van dankbaarheid
3DE No 6 – Riaan Palmer met Lettie en die Wietbiekstroue

GEDIGTE            
 
BRONS:
 
2.Uit die gebrande potjie
(58)
Kan jy onthou die “Budha” wat op die bergrivier se waterloop
net die dag vóór die reën se doop
hóe die son helder oor daai dag kyk
en diep agter uit die wolke kruip

Hóe eendjies almal bymekaar om die tent vergaar,
dit was daai partitiewe oomblik, sakraal
jou krulbruinhare wat stadig deur die wind
oor jou bikini veug?

Buite die tent was die gras groen en die rivier koel
tyd sweef rond aan ‘n naaldekoker se vlerk
my oë het jou pakkende lyf getotus
soos my aura om jou dans, en almal kon maar staar …

Agter die gebrol, nie langs my nie, maar alom
het vrede verbrand in die pot
my liefde was maar een, een alleen
en die hoender was nie ‘n vegetarian nie.

Kyk na my voorstel aangaande jou eerste strofe:

“Kan jy onthou:  Buddha op die bergrivier se waterloop
die dag vóór die reën se doop
hoe die son helder oor daardie dag waak
en diep, agteruit die wolke kruip”

Wat is die belangrikheid van punktuasie? Dit orden nie nét die vers vir die skrywer nie, maar ook, en meer so, vir die leser.  Ek gee toe, daar is genoegame vryheid in digkuns dat ‘n skrywer sy/haar werk as literati kan aanbied.  Sonder reëls en voorskrifte, enjambies sonder punktuasie ens. ens.  Ek voel egter, daar ontstaan ‘n behoefte aan orde in sekere gevalle.  Hierdie vers van jou, veral omdat dit soveel vleis om die been het, kan sy oorspronklike bedoeling en essensie verloor met ‘n gebrek aan nodige metrum, rus en variasie in spoed.  Ek maak ‘n voorstel aangaande jou eerste strofe en jy kan self besluit of my raad op gewillige grond val. Dankie vir jou deelname.

3.Kuns van ‘n danser
(41)

dit vat ‘n kunstenaar
om ‘n ware danser te wees
en om te weet hoe om te dans
op die ritme van my gees
waar my hartsmure sy liedjies skryf
en my siel sy musiek speel
raak ek verlore in die misterie
en dans ek vir myself

dans in ‘n kuns
wat vloei uit ‘n sielvolle hart
en in daai oomblik
leef jy
passievol
v o l u i t

Alhoewel  jou gedig vir my beter sluit, begin hy asof jy ‘n artikel in plaas van ‘n gedig skryf.
Kyk my voorstel:
“Is dit jy, kunstenaar
‘n ware danser –
jy wat weet hoe om te dans
op ritme, in my gees
waar my hartsmure sy liedjies skryf
en my siel sy musiek speel…” ens. ens.

Kan jy sien hoe maklik kan jy wat na ‘n “verslag” lyk in ‘n gedig verander? Stuur gerus vir my ‘n inboks op INK.  Dankie vir jou deelname.

  1. Die dans van die verlore kind

(41)
Stil wil ek getuig, asemdiep in my
roer ek die roes van die dag
met sy langlag sweet;
koel is die nag sé greep –

ek het my skoene in my beursie vergeet
skoenloos-dronk savoureer sonder weet;
te wete van die dans –
lê daar ‘n morsdood kat;

swart is die kat, stil in sy kyk
stil is ek, swart soos sý lyk
dof die pyn, nog die wyn
om die rondomtalie om, lyk hul nes spoke;

aalglad gly die vloer, gluipend wil hul ons roer
onder die oggend son, agter die goëlste maan;
lui was die dag in sy kokon
braaf lag die nag in sy graf

stil wil ek asemdiep getuig
vrolik sal ons juig
daar waar ons swartlyke lê en dans;
daar waar die katt’e oor ons einde dans.

Ek lees die eerste strofe van jou gedig en is so opgewonde oor wat vir my voorlê.  Jy gebruik assonansie pragtig in die eerste strofe.  Maar dan, helaas, is ek totaal verlore in en om die inhoud van die res van die vers.

Ek gaan gou eers na die akademiese kyk en dan ‘n paar woorde rep oor die inhoud.
Die gebruik van die akuut aksent op plekke soos: “nag sé greep” sou beter werk as “nag se gréép”.
Alhoewel ek ‘n voorstaander is van goeie en funksionele punktuasie dink ek tog dat jy dit nie in die gedig onder die knie gekry het nie.

Wat die inhoud betref.  Ek het verlore geraak in jou gedig end it moeilik verstaan.  Ek gee toe dat elkeen dinge anders interpreteer en dat ander lesers van my mag verskil.

Ek dink jou gedig het ongelooflike potensiaal maar ek sou wou sien dat daar effe orde geskep word.
Kyk ook na die apostroof in “katte”?

7.Stille wens
(58)
In die weskus se blou
wil ek dans saam met jou
op ‘n spierwit strand
met die son wat rooi oor die oseaan brand

Ek wil die oomblik vir altyd onthou
wil stywer jou hand vashou
ek wil wegraak in jou
wil dans asof niemand kyk nie

Stille oseaan neem ons
tot daar waar jou golwe gaan
bind ons vas vir altyd saam
sodat die lewe nooit stil gaan staan

Al verdwaal ons soms op verskillende paaie
wil ek altyd dans saam met jou
op ‘n spierwit strand
dans asof niemand kyk nie

Ek wil eerstens die akademiese behandel voor ons oor die inhoud en die murg van jou vers gesels.
Indien ‘n vers met ‘n hoofletter begin MOET dit altyd met ’n leesteken sluit.
Ek sou vir kontinuiteit en netheid aangaande die tipografie voorstel dat jy al jou strofes met kleinletters begin. Op sekere plekke in die gedig voel die ritme stomp, maar dit is nie oordadig steurend nie.  Ek sou egter daarna kyk en dit redigeer.

Wat die inhoud betref:
Inversie is ‘n belangrike deel van versmaak, maar ons moet waak dat dit nie dodeenvoudig aangewend word om ‘n gedwonge rympatroon te bou nie.  Ek sou baie eerder in hierdie mooi vers wou sien dat jy skryf soos ons praat.  Die rymstyl is besonder belangrik as die oorheersende skoonheid van (selfs die vrye-) die vers. Ek het jou vers egter baie geniet en my maatstaf is altyd: sal ek die vers weer wil lees?  My antwoord is ja. Dankie vir jou deelname.

8.Dans asof niemand kyk nie
(41)
o die wind wat so waai
hier oor st helenabaai
my lyf wil net saamdans
met elke flap en flans

gaan haal die reën vriend
bring dit soms onverdiend
speel vir ons die wysie
met elke skuifel trappie

o die wind wat so waai
waarin seemeeue draai
laat my sing en stil dans
my ou lyf se laaste kans

in sagte druppels reën
dans ons sonder ween
laggend speel ons sommer
het ons weinige kommer

op mooi st helenabaai
dans ons tot hanekraai
wals ons in son se baan
tot sy strale onder gaan

Soms is die vryevers die beste keuse as ons wil uiting gee aan nostalgie en die liefde vir die lewe.
Indien ‘n rympatroon willens en wetens, ten alle koste, geforseer word lees ‘n gedig eenvoudig nie mooi nie. Ek is so versot op die heerlike ritme hierin, die sensoriese wonder van dans, maar dan word die skoonheid ontneem deur ‘n geforseerde rympatroon. Probeer jou vers herskryf sonder die beperking wat jy op jouself plaas deur ‘n rympatroon na te jaag.

10.Genade-dans
(51)
Het jy ook vandag
die reën geruik;
die blomme sien dans
in die hemel se glans?

Het jy ook vanaand
die stilte gewaar;
die maan sien skyn
oor ‘n sterre-tuin?

Dan het jy ook seker
‘n storie gaan haal,
van liefde wat hunker
en ‘n prys kom betaal!

Dan het jy miskien ook
die wete gewis,
dat die dans van die lewe
‘n genade-guns is!

Koppeltekens is nie nodig in die titel en in “sterretuin” nie.
Ek sou die gedig sluit: “’n genadegawe is!”

Ek vind gedwonge rym op party plekke in jou vers.  Die inhoud is egter sorgsaam en ritmies.
Waak net daarteen om nie ten elke prys ‘n rympatroon na te jaag nie. Dankie ir jou deelname.

11.Dans van die rolbos
(46)
Dans van die rolbos,
alom en alom…
Soos ou blik-kitare
en die “doef” van n trom.

Rol oor die rante
geblaas deur die wind,
bo-oor die klippe,
speels soos n kind.

Sweef oor die bome
soos n vlieër in vlug;
draaiend en swaaiend,
hoog in die lug.

Saai so sy sade
reg deur die dag;
skuil in die lang gras
vir n wyle se wag.

Kry vinnig koers
op n rukwind se rug;
rol weer van vooraf
op sy ou pad terug.

Rof was sy lewe
en vinnig daarby;
takkies gebreek,
le hy stil op sy sy.

Dans van die rolbos
alom en alom…
Sy lewe gegee,
maar sy nasate blom!

Ek wil net van die staanspoor sê dat ek baie van die inhoud van jou vers hou. Dit is ‘n besonderse interpretasie van die opdrag. Tog moet ek jou aanspreek oor die slordige aanbieding hiervan.
Daar is nie hakies op jou [‘n’e] nie en nie kappies op jou [ê’s] nie.  Verder is die gebruik van die ellips nie funksioneel nie en word di took nie met ‘n hoofletter gevolg nie. Die koppelteken by blikkitare is onnodig en die aanhalingstekens by “doef” is ook nie nodig nie. Verder hou ek van die gedig maar onthou dit is die klein jakkalsies wat die wingerd verniel.  ‘n Woordaanbieding moet foutloos wees sodat dit nie net jou liefde daarvoor nie, maar ook jou verbintenis kan weerspieël. Dankie vir jou deelname.

12.Laaste dans van Grovenor
(81)
Dans vir my jy wat die hellevaart van die wind in jou seilree dra
jy met die uitgebolde maste en kruistogte
dans vir my as jou skeepskiel die vaarwaters breek
jy wat kyk na die gange van die maan.
Dans vir my jy wat kom deur die nag op die diepseeblou
en soos ʼn groot hand landwaarts stuur
jy met die driedubbele dek en wapperende vlag.
Dans vir my as rotse die dreunsang van jou kanonne stukkend slaan
en jou ankerketting laas na die bedding sak
daar waar die skadu’s spoel oor sterblom en wier.

Sulke interpretasies van ‘n opdrag maak my opgewonde.  Jy dink totaal buite die boks en bied ‘n ongelooflike vers aan wat dan op die koop toe geskiedkundig eg is. Ek wil jou net hiermee gelukwens en het nie nodig om enigiets anders te sê as onoortroffe nie. Baie geluk met ‘n uitstaande vers.

13.Wanneer dit stil word . . .  en sy dans
(59)
Wanneer dit stil word
jou voete nie meer kan weg hardloop
van die gemis in jou hart

Wanneer dit stil word
niemand meer met jou praat
hoor jy net nog die stemme van gister in jou hart

Wanneer dit stil word
daar niks is om jou meer te verlaat
klem jy vas aan die herinnering van die lag-gevulde gisters in jou hart

Wanneer dit stil word
jy jou hart se stem duidelik hoor praat
begin jy ‘n nuwe lied neurie oor die skone môres wat nog in hul moederskoot wag!

Hoor jy die melodieë
vind jou voete terstond die ritme
dans jy op die akkoorde van ‘n nuwe vreugdelied
dans jy asof niemand kyk
dans jy die siele-letsels deur al die gisters gelaat – uit
‘n nuwe skone môre in!

Die dubbel ontkenning in Afrikaans is ‘n vasgestelde reël en moet ten alle koste toegepas word.  Ek wonder egter of jou gedig nie sorgsaam genoeg is om daarmee weg te kom nie?  Ek wil nie ‘n akademiese uitspraak daaroor waag nie, maar persoonlik dink ek die essensie (met ‘n  eerlike aardsheid) en integriteit gaan nie verlore nie.   Let op spelling: weghardloop; vreugdeslied; sielletsels
Die gebruik van die ellips het spesifieke reëls: Dit is ALTYD 3 punte, sonder spasies voor, na of tussen-in. Die inhoud van jou vers is aangrypend en skeppend. Baie dankie vir jou deelname.

14.Uitgespreide siervere
(41)
Statig pronk die kraanvoël
met hul lang pote
met hul goue kuif en rooi-goue stert
kan hul sierlik dans

Hul draai al in die rondte
met hul sierlike lyf
buig hul koppe laag
en staan op een been

Kraanvoëls se danse is uniek
dit bekoor die mens wat daarna kyk
lang buigings, trippeldanse en spronge
die dans van ‘n grasieuse ballerina

Skud gerus jou veredos
en sprei jou vlerke oop
buig vooroor en begin te dans
dans asof niemand kyk nie

Jou vers lees soos ‘n verslag en nie soos ‘n vers nie.  Maak gebruik van beeldspraak en al die ander gereedskap wat poësie bied om jou vers aantreklik en sinlik te maak vir die leser. Ek wil nie ‘n artikel lees nie maar ‘n gedig uit jou hart uit.

  1. Feëtjies se sterlig dans

(54)
Sjuut! … volg my stilletjies
kom saggies op jul toontjies
ons gaan vanaand gou loer
waar feëtjies, hul danse uitvoer

kyk … daar skyn ’n floue lig
hul dans by ons waterkuil met sterlig
sjuutjies op jul tone nou
anders verdwyn hul soos wind se fluister gou

di li di li dal … di li di li dal
kyk hoe dans hul op ‘n wal
op klein, kleiner, kleinste voetjies
huppel hul ewe rats in silwer skoentjies

hoor hoe sing hul al
di li di li dal … di li di li dal
dansend met spinnerak-vlerke
onder maanskyn se lig merke

ritmies dans plante saam oraloor
onder sagte towermusiek bekoor
en gee wit asters pretritte gou
vir alle feëtjies binne in druppels dou

ek wonder waar hul woon
waar rus hul sag bedags so skoon
maar haas moet ons weer terugkeer
want ou Klaas Vakie soek ons al weer.
Ek dink daar bestaan ‘n mark vir  verse wat mens op ‘n sprokiesreis kan neem.  Dit kan ook ‘n oorbrugging wees om ‘n liefde vir poësie by kinders te kweek. Let daarop dat jy nie inversie gebruik net om gedwonge rympatrone te skep nie. Kyk na metafore soos “spinnerak-vlerke”.  Sinonieme soos sysag vlerke klink mos beter en skep in sagter beeld, nie waar nie? ‘n Duidelike voorbeeld van dwangrym kan in jou laaste strofe gesien word.  Lyn 1 en 2:  Jy het “skoon” slegs gebruik om met “woon” te rym omdat met of sonder “skoon” vertel die 2 reëls presies dieselfde storie.  Moenie die “pappegaai-arsenaal’ (soos ek dit noem) implimenteer as jy ‘n woord soek om te rym nie. “Wat rym met woon?” “Skoon” “soom” “oom” “Boom” ens ens.  Ek weet jy giggel nou want ons het dit al almal een of ander tyd gedoen. Jou vers het baie potensiaal en met ‘n klein bietjie aandag kan dit tot ‘n pragtige skat ontwikkel word.

  1. Laaste dans met Pa

(71)
Jou silwergrys hare kinkel skewelyn om jou ore
jou wingerstok vingers
vou saggies om myne
in ‘n laaste dans.
Pappa; jou oë vind myne en saggies,
amper onhoorbaar begin jy neurie.
Ek is weer kleindogtertjie klein,
my oë vasgevang in joune
in ‘n “make believe” wals.
Kleine voetjies op joune,
rondomtalie ons,
draai en swaai ons terug na die verlede.

Pappa; saggies neurie ek die wysie
van toekatyd se walse op die ou houtvloer.
Dans, dans asof niemand rondom ons bestaan nie,
dans ons laaste dans, totdat die sagte vlerksimbaal
jou na jou hemelhuis kom haal.

Jou silwergrys hare kartel om die draaibaan van my vinger,
pappa, hierdie laaste dans is joune.

Ek hou van die nostalgiese toon hierin.  Dit is altyd makliker om te skryf oor iets waarin ons gedeel het of waavan ons weet. Ek sou “jou” in die eerste 2 reëls uitlaat om onnodige herhaling te vermy en dit vernader niks aan die oorspronklike idee nie. Let op die gebruik van punktuasie. Dit kan soms bloot onnodig wees en meer so as die verkeerdes gebruik word. Die inhoud van jou vers is keurig en beelde soos “Kinkel skewelyn”, “toekatyd se walse” en “Kartel om die draaibaan van my vinger” is werklik vars en besonder. Baie dankie vir jou deelname.

17.Dans van lewe
(50)
suutjies sag in stille afhanklikheid
nie onderhewig van omstandigheid

dartel-dans ek op maat van vreugde
goddelik geskape – ʼn vrou van deugde

soos vurig kandelaar van ouds gevul
met lewend vloeistof in Sy glorie gehul

so vlinderdans ek met my lamp vol olie
skyn geen glim of glans van melancholie

vinkervlerk vry my dans van vrede
weet ek Hy is my doel en my rede …

Die doel van ‘n ellips […] is om die gedig (of gedagte) oop te laat vir interpretasie.  Ek dink dus nie jou vers het dit nodig nie aangesien ek dink die gedagte is gedeel end at jy daarby sal staan.  Dus, nie funksioneel nie. Woordkeuse is ook belangrik: mens sal eerder praat van “nie onderhewig aan omstandigheid” en nie “van” gebruik nie.  Wat beteken “vinker”?  Is dit ‘n neologisme?

Let daarop dat jy rympatrone ontwikkel ter wille van waarde toevoeging en nie net gedwonge woorde gebruik om ten alle koste te rym nie.

18.Ek groet 2019
(40)
Dis die laaste dag van die jaar . . .

‘n dag soos enige ander
wat kom en weer sal gaan
vaalwit spoegwolkies
beklad die kobaltblou lug
asof die aarde
met staccato-wasem sug

die kwik sal styg
sweet pêrel op vlees
terwyl veld en dier
dorstig na water hyg

‘n jaarsak tot barstens vol
ingeprop vol lief en leed
sukses en mislukkings
trane en sweet

en al wat nou oobly
is om dit toe te knoop
te bestrik en etiketteer
voor ek dit finaal
op my lewensrak wegpak

kyk, daar hang al klaar
‘n 2020 inpaksak –
skoon en leeg
(wonder wat ek als
daarin gaan pak)

ek gaan poog om selektief te wees in keuses
te sif kwaliteit van kwantiteit
en om elke inpak versigtig te benader
met kundigheid, insig en wysheid
(natuurlik verkry van Bo)

Ek begin by die ellips.  Daar is baie spesifieke reëls aangaande die vertoning daarvan.  Daar is GEEN spasies voor of tussen die punte nie.  Dit volg die woord direk en benodig geen spasies tussen-in nie.
Jy maak jouself skuldig aan dwangrym in jou gedig.  EK gaan dit nie uitlug nie want ek wil hê jy moet dit self soek en dit redigeer.  ‘n Rympatroon is mooi en soms ook nodig, maar ons moet nie in die strik val om dit te skep ten koste van alles nie. Die opdrag gaan oor “dans asof niemand jou sien nie” en die interpretasie was oopgelaat sodat elkeen ‘n eie ontwikkeling doen, maar ek vind dit baie moeilik in jou vers om dit met enige vorm van dans te verbind. Ek sien nie die opdrag in jou vers nie.

SILWER
 
 19.Sy dans
(79)
Die dekseltjie lig stadig, tergend
en wys skelmpies, asemrowend,
die tintelende geheimenis
van waar die fynste engel-feëtjie
skuil as sy weg van die wêreld is.

Die plaatjies begin een-een pluk
aan tandjies van die orreltjie
en saam met die wyer oop
neem Für Elise soos ‘n klokkie,
kristalklank, sy oorbekende loop.

Die kleinste, kleinste dansertjie
van goudfineer draai en draai
en swaai in ‘n spinnedraadrokkie,
‘n vergulde blommetjie wat fraai
skitterliggies uitflits soos die son.

Tower veredelde vlerkies
van eg verweefde filigraan
flonker ragfyn in die lig,
in die vervoering in haar oë –
die wonder op my kindjie se gesig.

Goud deur vuur geraffineer en rein,
is so louter soos háár hart se lied,
die smeltkroes van die aardse kruik
het haar broos en teer en skoon verfyn,
ook meesterlik, ‘n kunswerk, suiwer op musiek.

Dit is een besonderse vers. Die ritme, puntuasie, tipografie en aanbieding is uitstaande en ek kan geen jota daaraan kritiseer nie. Baie geluk met ‘n pragtige vers.

20.Danse macabre
(74)
Dans asof niemand sien nie?
Dit maak snedig geen
snars se skedelbeen
saak nie.

Of ek leef, of sweef,
of plat op my ruggraat
rus,
uitgewerwel skeef
in rigor mortis
en uit wans –
dit maak nul verskil nie,
raak nie ‘n siel nie,
traak jou niks.

So, in triplikaat
en dubbel ontken
kan ek nie, nie, nie
in my wals
se een, twee, drie,
tot ek blou in die gesig
en kisserig,
wag vir een omkyk
na my (en hoe ek) lyk.

Ek het baie min kritiek hieroor.  Dit is vars, skerpsinnig en goeie poësie.
Ek sal net voorstel dat jy in [kursief] aandui in jou gedig langs die titel aangesien die sagteware dit nie toelaat nie. Baie geluk met ‘n uitstaande vers.

GOUD  

  1. Darteldans

(81)

skugter spore dartel
onder die sterrekoepel
se konfetti-reën
terwyl Orion wag speel
bepaal die Suiderkruis
asemloos die koers

stadig bou die ritme
tot ‘n magtige crescendo
wat soos die Augrabies
rivieroewers oorspoel

op die reëlmaat
van die natuurorkes
groei fetusdrome
tot dit in barendsnood
tussen stoppelgras
op die klanke van
‘n statige wals
geboorte skenk
met die volgende asemteug
fluister die wind
encore . . .  encore . . .

Dit is net die reël aangaande die ellips wat ek onder jou aandag wil bring.
Dit is ‘n besonderse mooi gedig en die beelde daarin is besonders mooi.
Baie geluk.

  1. ’n Dans vir Gina

(74)
Ek skryf vir jou ’n dans, Gina
midde hierdie donkerste uur.
Kom die môrelig hier aan
wil ek ’n wals en ’n woord
vir jou stuur.

Dans, Gina, dans –
uitbundige danse
soos die fynbos wat groei
teen Potberg se kranse.
Soos ’n riet in die wind
wat verlossing vind in dié wete:
Al sou storms en weer
tot die uiterste terg,
met voete geanker in die ewige berg,
kan jy dans, Gina
kan jy dans.

Dans
al voel die swart sonder ophou,
al lê die dag ’n ligjaar ver.
Hoe dieper die donker, Gina
– hoe blinker, hoe blinker
die ster.

Dans, Gina, dans
want die dans maak jou vry
(dans, Gina, dans)
want jou nag is verby.

‘n Mooi vers waarvoor en nét lof en geen kritiek het nie. Lieflike digkuns.

  1. my kleivlerke

(87)
vandag wil ek my kleivlerke sprei
op die klanke van Mendelssohn
tot verby die Jordaanrivier
om daar ‘n olyftak te soek
wat nuwe drome
sal bring

my voete sal kwartelspore maak
op Vivaldi se vier seisoene
wat dool op die wind
sweef op die groenduif se vlerk
‘n sfeer van voldoening
laat kring

dartels van my hande vry laat tas
deur Wolfgang Amadeus
se elfde sonate klanke
wat deur die donker eklips
sal dring

vandag wil ek my kleivlerke sprei
bedelbakkies met my hande maak
onbeheersd huppel en dans
terwyl my voete luid
hallelujas sing

Dit is ‘n besonderse interpretsie van die opdrag.
Die inhoud is deurdag, sensories en denk-vriendelik.
Ek dink dit is ‘n besonderse stukkie skryfwerk. Baie geluk.

9.Onthou om te huppel
(88)
Huppel over berge en heuwels
volg die kronkelpaadjies
wat oor veld en vlaktes vurk
en hurk langs die spikkeleier van ’n bloukraanvoël.
Kyk, dit lê op barre aarde
tussen klippertjies en gras.

Skulp die kuiken van ’n kolgans
in die holte van jou palms vas
voel hoe sag voel veredons
as jou vingers daaroor streel

en selfs die sekretarisvoël
sal haar kinders aan jou toevertrou
aan jou, met die helder oë
en die onskuld aan jou hande.

Dans oor somer koringlande
al staan die stoppels droog en vaal;
immer sal die goue son
die amber en die heuning
uit jou gelaat en hare haal.

Wals onder ’n hemel van blou saffiere
vind die stroompies
volg die riviere
wat water na die dorses bring.

Vind jou vrede
daar waar velde nog oor wye vlaktes baan,
waar jy die penne van jou tent
diep in die aarde vas kan slaan.

Huppel over berge en heuwels
selfs in die donker van die nag;
volg die kronkelpaadjies
wat deur gras en klippers vurk
en hurk waar spikkeleiers op die barre aarde vir jou wag.

En onthou
iewers vonkel vonkelsterre
en êrens
edeltin ’n maan.

Dit is ‘n ritmiese paradys wat die leser saamsleur tot teen die edeltin crescendo!
Sjoe, ek is amper moeg hierdeur gesleep teen ‘n tempo van ekstase.
Werklik ‘n besonderse toertjie wat groot saad vir nagedagtenis by die leser plant.
Ongelooflik!

GORREL              
1.Ekkerigheid
(79)
Dit is ‘n besonderse introspektiewe gorrel hierdie.  Jou aanbieding is besonders en die woordordes en keuses is keurig. Die heel beste Gorrel wat ek nog op INK gelees het, en nie omdat dit ‘n geestelike ondertoon het nie, maar omdat dit juis is wat ‘n gorrel behoort te wees:  ‘n innerlike gerasper oor dinge wat vir die skrywer van belang is en wat in geen ander genre sal inpas nie.

2.Sus se maanlig-dans . . .           

Interessante kykie in die ontvlugtingswêreld van ‘n persoon.  Jou gorrel is eerder ‘n inleiding tot ‘n fantasie verhaal.  Ek dink dit mag dalk tot so iets ontwikkel kan word.  Die geheim egter van ‘n suksesvolle verhaal is beoorlike karakter ontwikkeling.  Miskien is hierdie skryfsel in die verkeerde genre?

RUBRIEKE          

1.Dans asof niemand kyk nie     

‘n Rubriek word gebruik om ‘n persoonlike standpunt aangaande een enkele saak te belig.  Jy vra die regte vrae in jou rubriek, maar ek dink nie jy beantwoord dit genoegsaam nie.  Ontwikkeling is belangrik, aan beide kante van ‘n argument, en dan gebruik die skrywer, subtiel wel maar steeds oortuigend, hul eie standpunt om die leser te probeer oortuig.

ARTIKELS

1.Dans jou hart uit

‘n Artikel is ‘n voertuig om feitlik om te gaan met inligting sodat die leser, na aanlees daarvan, ingelig is oor die onderwerp.  Jy het nie daarin geslaag in jou artikel nie.

VERHALE            

1.Dans met die rooi rok

(42)        Alhoewel daar geen voorskrifte was hoe die verhaal aangebied word nie, wil dit blyk asof jy ‘n woordtelling beperking op jouself geplaas het.  Alhoewel die verhaal goed ontwikkel in die begin is dit asof dit stomp eindig.  Jou verhaal sou daarby baat as die rolstoel karakter meer omslagtig kon gesels oor haar ervaring en die gevoelens rondom die emosies.

2.Rooi tower stewels

(57)        Dit enigste kritiek wat ek vir jou het oor hierdie verhaal is dat jy op sommige plekke baie lang sinne skryf sonder punktuasie.  Geen persoon praat so nie en daarom moet dialoog geskryf word soos ons praat.  Ek hou van jou verhaal.  Storie ontwikkeling is belangrik.  Moenie inligting jaag nie, maar ontwikkel die storie.  Daar was geen woordtelling beperking nie, so dit kan nie as verskoning gebruik word nie.

3.Die lewe is n dansvloer

(67)        Dit is ‘n heerlike lees.  Goeie storie ontwikkeling.

4.Versteende woud

Kyk na woordkeuse en sinkonstruksie:
“Sy neem ‘n foto sommer van haar selfoon af, van die skilderagtige landskap”
Kyk na die eenvoudige voorbeeld.  “Sy neem ‘n foto van die skilderagtige landskap met haar selfoon.”
Oorweeg woordkeuses en sinvorme.
Die verhaal het potensiaal en kan met goeie redigering ‘n treffer wees.

5.Dans van dankbaarheid . . .

(69)        Die storie lees heerlik.  Goeie karakter ontwikkeling. Baie geluk met ‘n uithaler verhaal.

6.Lettie en die Wietbiekstroue

(68)        Ek het hierdie humoristiese verhaal geniet.

7.Dans dans meisie

(71)        Heerlike leesverhaal.  Ek het heerlik hieraan gelees.




TEMAS

Laat u kommentaar

GESKRYF DEUR

Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

Publikasies: 250
Kommentaar telling: 2785

Woorde is my asem en skryf my passie!!! Ek waardeer elke stukkie kritiek, verkieslik positief, maar kan die negatiewe ook hanteer. Dankie dat jy die tyd neem om na my werke te kyk en dit te beoordeel. Ek is n Boeremeisie in murg en been... mal oor die wye natuur van plaaslewe wat my omring Ek is getroud met die wonderlikste man (Willie). Ons is geseend met 3 pragtige dogters en 'n kleinseun en 3 kleindogters. My verhouding tot my Skepper loop baie diep en ek dank Hom elke dag vir al die voorregte en genade gawes wat ek so onverdiend ontvang... Loutering is deel van my lewe en ook daarvoor dank ek Hom daagliks want dit maak dat daar altyd groei in my lewe is...

Gebruikers Aanlyn

0 Lid, 76 gaste aanlyn

Bydrae Totale