Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: Deel 2 Hoe sien jy vrouwees?

Deur Lynelle
Datum gepubliseer: 9 Julie 2019 Aantal woorde: 969 63 Kere gelees 1

Hoekom kompeteer ons teen mekaar of is ons jaloers op ons susters?
Het julle al opgemerk hoe mans kommunikeer?
Hulle sal mekaar nooi vir ‘n bier en vir ure gesels oor die mees onbenulligste dinge en bande word gevorm. In ander kringe sal een ‘n pyp opsteek en word die pyp van man na man gestuur, rokers en nie-rokers vat ‘n beurt en ‘n band is gevorm. Daar sal grappies gemaak word, draak gesteek word, en dan stap hulle weg as bondgenote. So eenvoudig, gun wonder hulle dink ons vrouens is vol nonsens nie. As ‘n man depressief is koop sy maat vir hom ‘n dop, luister en klop dan die vriend op die skouer met ‘n “praat later, ou maat.” Die lewe druk en hulle trek self swaar maar daar is altyd geld vir ‘n bier. Mans is net makliker om te vrede te stel.
Jaloesie of kompetisie met mekaar dui daarop dat jy eintlik minderwaardig voel. Dat jou selfbeeld so laag is dat jy dink jy skiet te kort teenoor ander vroue.
Hoekom is jy onseker?
As jy ‘n huisvrou is hoef jy nie terug te staan vir ‘n beroepsvrou nie. Ons elkeen leef volgens die keuses wat ons maak. Vir elke vrou werk dinge anders uit. Nie een se pad is met rose besaai nie. Die beroepsvrou sukkel weer met haar eie tekortkominge maar dit maak haar nie minder vrou nie.
Ek was self vir 19 jaar ‘n huisvrou. Grimering is net ‘n naweek gedoente omdat jy besig is, alleen is die meeste van die tyd en dan voel jy soos ‘n vaalmuisie teenoor ander vrouens. Hoekom sal jy dan nou jouself mooi maak? Is wat die meeste huisvrouens dink. Maar ander vrouens beny weer jou vryheid en om by jou kinders te kan wees.
Plaas dat ons wegkyk van die fisiese dinge en dieper kyk, verby al die tipes en beelde wat ons in ons kop het en eerder mekaar waardeer vir wie ons is. Ons status in die lewe is nie wat ons besonders maak nie. Maar hoe ons oorkom en optree is wat tel. ‘n Huisvrou het die tyd om meer te doen, soos oefen of stap. Sy kan lees, nie net romanse nie. Sy kan in mense se lewe deponeer wat ‘n beroepsvrou nie kan doen nie. Sy is betrokke in die samelewing. ‘n Beroepsvrou is weer betrokke by die bestuur van dinge omdat sy daagliks met dit werk. Sy het nie tyd om koek te bak of koekverkopings doen nie maar sy kan organiseer sodat als glad verloop.
As ons ook die spreekwoordelike pyp opsteek en vir mekaar aangee hoe sal ons verhoudings dan lyk? Ek wil my verstout deur te dink dat ons dan minder nydig sal wees. Mekaar meer sal ondersteun en vertrou. In die fliek, Hidden figures gaan die fliek nie net oor Katherine nie, daar is twee ander vrouens wat saam met haar gewerk het. Deur saam te staan kon hulle die siening van mans verander en hulle volle potensiaal bereik. Jy sien, dit is net deur hande vat en samewerking wat ons bo kan uitkom. Alleen sal ons dit seker kan doen, maar dit sal langer vat en moeiliker wees. Wanneer ons saam staan maak ons die las ligter vir mekaar.
Afguns is ‘n lelike ding en wanneer dit uitkom wys dit net die lelike kant. Daar is niks mooi daaraan nie. In teen deel dit is dan wanneer ons mekaar afbreek en afkraak, om wat te bereik? Met alles wat mooi is aan ons kan ons lelik wees en dit is gewoonlik gemik teen ons mede susters. Hoekom?
Ons is jaloers oor mekaar se huise, voorkoms, mans, hoe ons kos maak, of iets bereik soos ‘n boek vrystel, of hoe ons-ons kinders groot maak. Ek weet ek het baie daarmee gesukkel. My kinders was toe baie klein en ons was deel van ‘n huiskerk. Elke keer wat die kinders baklei het was my kinders die ‘scapegoats’, veral my seun, op daardie stadium net 2 jaar oud. As iets gebreek het was dit sy skuld. Dan het die aandag na my toegeskuif. Ek was nie lief genoeg vir my man nie of ek het nie my kinders genoeg gedissiplineer nie of ek is nie lief vir hulle nie. Ek kon net nie die aanvalle verstaan nie. In ‘n klein gemeenskap was dit belangrik om saam te staan maar op die ou einde het dit ons juis opgebreek. Ek was geweeg en te lig bevind. Ek het agterna geweldige selfbeeld-probleme gehad en geglo ek is ‘n swak ma, vrou en gelowige, as gevolg daarvan. Ek was gedurigdeur onder die vergrootglas en het daardie tye nooit geweet waar ek inpas nie. Daardie soort jaloesie het my as mens gebreek en het ek geleer om terug te trek en op my eie aangewese te wees.
Ons is nie in wedywering met mekaar nie, daar is geen rede dat ons nydig met mekaar hoef te wees nie. Ons het genoeg druk op ons sonder die wedywering of die twyfel dat ‘n vriendin ons in die rug gaan steek. Maar dit is presies wat gebeur. Ons kan saam staan, Magda het my weer laat glo dat ek mense kan vertrou. Dat ek nie hoef te twyfel in ander vrouens se motiewe nie. Nou stap ek my eie pad, help waar ek kan met die wete dat ek met geen vrou kompeteer nie.
Ons vrouwees hangaf van hoe ons die wêreld beskou. Hoe ons groot geword het en ons geloof. Wanneer ons respek het vir mekaar en mekaar help dan bou ons brûe na ander wêrelde toe en vorm ons ‘n eenheid wat niks in die lewe kan skei nie.
So skitter ons elkeen in ons eie reg maar ook korporatief. ‘n Glans wat niemand kan verdof nie.
Diamant Divas Augustus 2018




TEMAS

Laat u kommentaar

GESKRYF DEUR

Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

Publikasies: 55
Kommentaar telling: 12

Ek het my eerste boek in 2012 gepubliseer en my tweede in 2014. Ek hou van nuwe uitdagings en is gereeld besig om my skryfkuns te beoefen. Ek is woonagtig in Alberton, Gauteng.

Gebruikers Aanlyn

0 Lid, 67 gaste aanlyn

Bydrae Totale