Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: Dans van die Harlekyn

Deur Amanda
Datum gepubliseer: 25 Junie 2020 Aantal woorde: 1774 79 Kere gelees 2

Dans van die Harlekyn

Simon vee liggies oor sy voorhoof. Hy swets toe die gesigverf op sy hande beland. Stadig maar seker neem die blou traandruppel vorm aan op sy gesig. Hy skuif die punthoed oor sy gladgevryfde hare en loop spieël toe. Dooie oë staar terug na hom.
“Hoe lank nog Here? Hierdie maskerade moet tog een of ander tyd end kry.”
Die musiek vanuit die groot tent bou tot ‘n crescendo. Simon stap haastig in die nou gangetjie af na waar die ligte helder flikker.
Dawerende applous bars los toe Simon die arena betree. Met ‘n swaai van sy arm buig hy in al die rigtings. Sy oë vleg deur die skare wat voor hom sit. Sal hy haar vanaand sien? Toe die ringmeester hom een aand inroep en meedeel dat hulle eerder die Wolwekrans roete toer, moes hy homself keer om die man nie te omhels nie. Dit is vandag presies drie jaar wat hulle die laaste keer hier gekamp het. Drie jaar van hel. Simon struikel oor sy voete toe hy die bekende gesig raaksien. Die skare lag en klap hande. Vir ‘n breukdeel kyk Simon af. Sy is weg toe hy weer in haar rigting soek.
Dit is alreeds middernag toe Simon moeg na sy woonwa strompel. Die skotteltjie met lou water staan al en wag langs sy spieëlkas. Goeie ou Mina. Sy is sy regterhand. Sonder dat hy hoef te vra is sy altyd daar met ‘n koppie boeretroos of ‘n klein versnappering. Sy beweeg soos ‘n skim tussen die karavane deur. Dit was ook Mina wat hom aan Kimberley voorgestel het.
Simon was sy hare en vee sorgvuldig die verf van sy gesig af. Daar is ‘n ligte klop aan sy deur. Dan staan sy voor hom.
“Kimberley.”
Hy uiter die woorde met ‘n snik in sy stem. Dan is hulle in mekaar se arms.
Die son skyn helder deur die karavaan se venster toe Simon uiteindelik wakker skrik. Was sy werklik hier? Die reuk van pers laventel sluimer nog in die karavaan. Hy het hom nie verbeel nie. Hy ruk die laken van hom af. Daar is geen teken dat hier wel iemand saam met hom in die karavaan was nie.
Is hy besig om mal te word? Simon gooi nog ‘n hoop strooi in die voerkrip. Dit was Kimberley se gunsteling hings. Hy onthou nog so goed toe Mina haar die dag hier aangebring het. Haar lang blonde lokke het ritmies saam met die perd se passies gewapper. Sy was op haar gelukkigste hier tussen die perde. Waar sy vir ‘n rukkie van haar pa se tirade kon ontsnap. Miskien moet hy ‘n draai op die plaas gaan maak. Hy was ‘n lafaard; ‘n swakkeling. Hy moes drie jaar terug al teen haar pa opgestaan het. Simon skrik toe Mina skielik agter hom praat.
“Jy kan haar nie vergeet nie nê Simon?”
“Sy was, is my lewe Mina. Ek was ‘n sot om nie vir haar te veg nie. Ek het gedink die seer sou minder word.”
Mina skud haar kop toe Simon stadig in die rigting van die Oifante beweeg.
Die skare klap hande toe Simon op die rug van ‘n Olifant die arena betree. Die Olifante trompetter en flap hulle groot ore in perfekte harmonie. Simon glip van die groot rug af. Vir ‘n breukdeel van ‘n sekonde gly sy oë vinnig oor die magdom besoekers. Tot groot vermaak van die toeskouers trap hy die klein wit leertjie mis en maak hy knieg eerste, hard met moeder aarde kennis. Hy hoor en voel hoe sy knieskyf meegee. Simon beduie vir sy twee dwerg assistente. Hulle knipoog in sy rigting. Gelukkig is ‘n klein houtkarretjie deel van die vertoning en kan hulle Simon al grapmakend uit die sirkel dra. Die vertoning moet aangaan.

Mina vee ‘n donker krul van Simon se voorhoof af. Sy sien hoe sy oë flikker voor hy dit oop forseer. Dan probeer hy regop kom. ‘n Skerp steekpyn deur sy knie laat hom in die kussings terugsak.

“Wat het gebeur Mina?”

“Jy het buite die tent inmekaargesak Simon. Ons het jou hospitaal toe gebring sodat hulle jou kon behandel. Jy het jou kraakbeenskyf beseer. Dr Havenga moes dringend opereer om die swelling te verlig. Hy gaan jou oornag hou en jy sal more kan huis toe gaan. Ongelukkig gaan jy vir vier weke buite aksie wees.”

“Jy weet wat dit beteken Mina. Oubaas Flugel gaan na ‘n nuwe Pierrot soek. Wie gaan nou ‘n ou hanswors in diens neem as hy my afdank?”

Mina loop haastig deur die verlate hospitaal se gang. Sy het genoeg gehad. Flugel kan haar ook maar laat gaan. Vannaand gaan sy haar monster van aangesig tot aangesig aanvat. Wolwekrans se baas gaan vannaand hoor en luister. Mina draai die motor se neus in die rigting van die grootpad.

Die motor se ligte gly oor die wit gepleisterde mure van die masiewe plaashuis. Mina sit ‘n rukkie stil voordat die ou hout voordeur stadig oopswaai. Sy trek haar asem skerp in toe Dewald in die ligkring van die motor verskyn. Dan klim sy vasberade uit en klap die deur agter haar toe.

“Mina? Wat maak jy die tyd van die nag hier? Ek het jou die plaas verbied, of het jy vergeet?”

“Nee Dewald, ek het nie. Maar vannaand gaan ek praat en jy gaan luister.”

Mina stap voor Dewald uit. hoe goed ken sy nie die paadjie na die kombuis toe nie. Haar kombuis. Dewald het haar die plaas verbied omdat sy nie haar sirkus lewe wou opgee nie. Sy was op haar tyd die gewilde Madame M, sweefstok artiste en ster van die vertoning. Na die val wat haar haar loopbaan gekos het, het sy hardkoppig geweier om terug te keer plaas toe. Kimberley het haar hier in gesteun. Sy wonder wat het Kimberley laat besluit om te bly. Die paar briewe wat sy ontvang het was ook vaag en onduidelik.

“Jy weet Dewald, drie jaar gelede het jy weereens lewens vernietig. Hoekom moes jy in die kinders se lewe inmeng. Hulle was gelukkig. Jy het my uit jou lewe verban. Ek moes my kind prysgee. Ek was ‘n swakkeling, maar ek gaan nie terugstaan en kyk hoe jy Kimberley vernietig nie. Sy en Simon hoort bymekaar.”

Mina kyk verbaas toe hoe Dewald se skouers begin ruk. Die eens trotse man sak op sy knieë langs haar neer.

“Mina, weet jy hoe het ek gebid dat jy moet terugkeer. Ek was ‘n dwaas. Ek besef dit nou. Ek wou jou straf deur Kimberley van jou af weg te neem. Jare lank moes ek toekyk hoe sy die pad dophou en wag vir die groot sirkus trek. Toe jy haar drie jaar gelede hier weglok met die perde vertonings… ek kon haar nie ook verloor nie.”

Mina se gedagtes dwaal. Jare lank was sy en Dewald die sterre van die sirkus. Kimberley kon as kleuter al haar verskyning in die groot tent maak. Sy was ‘n gebore ruiter. Mina se hart ruk toe sy daardie ramspoedige dag onthou. Haar vingers het tydens ‘n oefensessie uit Dewald s’n geglip. Kimberley was toe 14 jaar oud. Flugal het volstrek geweier dat die vertoning voortgaan. Dewald het Kimberley Wolwekrans toe geneem. Die sirkus was in Mina se bloed. Sy sou nooit weer kon swaai of touloop nie maar het vinnig by die perde ingeval. Na ‘n hewige rusie het Dewald haar die plaas verbied en het sy by die sirkus aangebly. Dit was op een van hulle toere wat Flugal vir Simon in diens geneem het. Simon was ‘n weeskind. Hy was oud genoeg om die weeshuis te verlaat, maar met geen familie nie, was dit moeilik om op sy voete te kom. Mina het haar oor hom ontferm.

“Ek het haar nie weggelok nie Dewald. Jy weet die perde was haar lewe. Toe ons drie jaar gelede hier kom kamp opslaan het, wou ek my kind weer sien. Sy was oud genoeg om haar eie besluite te neem. Tog het jy dit reggekry om in te meng. Ons is hier weg sonder haar.”

Dewald peuter met sy teelepel.

“Jy sal nie verstaan nie Mina.”

Mina stoot haar stoel heftig agteruit.

“Ek verstaan maar alte goed Dewald. Ek gaan terug hospitaal toe. Ek wou kom vrede maak. Vir Simon en Kimberley se onthalwe.”

Mina hoor hoe Dewald agter haar aanroep. Sy klap die voordeur toe en sonder om om te kyk stuur sy die motor in die dorp se rigting. Sy sal vannaand langs Simon se bed waak. Kimberley sou haar motor gesien het. Miskien sal sy kom groet voor die sirkus weer verkas.

Simon kyk af na die slapende figuur op die stoel langs sy bed. Hy wonder waar Mina so haastig heen verdwyn het gistraand. Flugal het na die vertoning ook sy opwagting gemaak. Hy het een van die handlangers aangestel as Pierrot. Die vertoning moet aangaan. Simon swaai sy been versigtig van die bed af. Die pyn kan hy hanteer. Hy het vroegoggend al, met ‘n groot gesukkel, skoon klere aangetrek. Nou wag hy net om ontslaan te word. Hy spits sy ore toe hy stemme in die gang hoor.

Mina strek haar uit. Die stemme in die gang laat haar regop sit. Sy ken daardie stem. Sy soek na Simon en gewaar hom waar hy in die hoek van die kamer met die krukke aansukkel. Mina gaan staan langs Simon toe Dewald die vertek binneloop.

“Dag Simon; Mina.”

Dewald steek sy hand na Simon uit.

“Ek is hier om verskoning te vra. Ek wil hê julle moet huis toe kom, asseblief. Mina, jy word nie jonger nie. Ek en jy hoort bymekaar. Die laaste paar jaar was hel. Ek.. ons mis jou Mina.”

Mina laat haar oë sak. Sy het Dewald gemis. Haar hand soek na Simon s’n.

“Wat van Simon Dewald, gaan jy toelaat dat hy en Kimberley ‘n toekoms saam kan bou? Jy weet hulle is lief vir mekaar. Ek is seker daarvan Kimberley voel ook nog dieselfde.”

Dewald kug saggies.

“Wolwekrans benodig ‘n voorman. Die pos is beskikbaar. Ek hoor Flugal het ‘n nuwe Pierrot. Ek is seker Simon sal belangstel.”

Dewald neem Mina se hand en trek haar na die deur.

“Kom, Kimberley wag buite. Los die kinders dat hulle gesels. Daar is baie om op te vang.”

Simon sit die krukke op die bed langs hom neer. Kimberley maak die deur saggies agter haar toe. Simon kyk verstom na die dogtertjie aan haar sy. Dieselfde potblou oë wat asof in ‘n spieël na hom terugstaar.

“Simon, ontmoet vir Simonè. Ons wag al lank vir jou.”




TEMAS

Laat u kommentaar

GESKRYF DEUR

Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

Publikasies: 48
Kommentaar telling: 26

Ouma van Vier woelwaters. Ma van 5 (2 stief) en vrou van 'n wonderlike Godsman. Woon tans in Alberton. Skryf is my uitlaatklep. My hart bloei ink op papier.

Gebruikers Aanlyn

0 Lid, 59 gaste aanlyn

Bydrae Totale