Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: DANS MY WEER

Deur GhwarriegatQueen
Datum gepubliseer: 17 Oktober 2019 Aantal woorde: 418 107 Kere gelees 3

DANS MY WEER

Valiant Swart het vir Jou die son gevang sodat dit daar iewersters in ‘n stil hoekie van die (Getsemane)tuin kan speel.
Koos Doep het vir jou ‘n ou skatkis met kettings gebind daar in die land van BlouSaffiere gaan haal; legende het dit dat hy 10000ure moes loop gekaart oor swart riviere.
Theuns Jordaan het vir Jou ‘n Namibsroos gepluk om in jou knoopsgat te druk vir wanneer Jou Gees Slowdance met die blou planeet.
Sonja Herholdt het ‘n tafel gedek in indigo vir waterblommetjiebredie en rooiwyn gedêps uit die Harlekyn se kelder, daar ver in Saldanhabaai vir ‘n heildronk op ou mies Victoria.
Gert Vlok Nel het vir jou sy ou gedenkalbum oopgemaak en vir Jou al die kiekies van sy beautiful Beaufort-Wes gewys.
Laurika Rauch het Jou gestiek vir koffie in die BlouKaffee en net vir Jou ‘n wysie gemaak op Girlie se vals klavier.
Steve Hofmeyr het vir Jou ‘n Pampoen-sprokie vertel terwyl julle praat oor ‘n spaarplan vir die donkiekar en die predikant.
En Koos van der Merwe het met Jou gedans tot die einde van die liefde toe….. Maar.
Maar ek; ekke is net die GhwarriegatQueen, my God.
Die son het aspris deur my vangnet getuimel en agter ‘n slampamper-wolk se rug gaan slenter.
Die duiwel het my kaart na daai BlouSaffierLand gesteel en verpand vir ‘n pennie en ‘n drop licorice.
Die Namib wil my nie ‘n paspoort gee nie.
Ek kan nie kook nie en die Harlekyn se rooiwyn is op.
My kiekies het almal wegverloor enne……
Die BlouKaffee is gesloop, Girlie se klavier verkoop en ek sal geld moet leen vir ‘n Wimpy-koffie.
Ek ken niemand iemand met ‘n donkiekar nie en my PampoenSprokie se ink het per ongeluk verdwyn.
Al wat ek het is my kaalvoetspoor rou geëts in klamsand se witskuim brander breek… En die branders rol in.
En die branders rol uit… My kaalvoetspoor en die splinterruit gebreek van my hart se huil.
Dis al wat ek het; dit en my hart verpand in die weerbarstige, kakelbont bossie kosmos daar aan die onderpunt van die reënboog rondom Jou troon. Per dalks is die kaartjiewoorde al verbleik van my eie 10000ure se stap; maar die inkwoorde staan ook op my hart: Dans my weer…. Dans my weer na die liefde toe, seblief my God… My Lord of the Dance.

Kyk mooi na jouself, liewe Bokkie my babie; en mag vandag passie drentel in die mistieka van jou Godgemaakte wese.
©Liza Daniells




TEMAS

Laat u kommentaar

GESKRYF DEUR

Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

Publikasies: 68
Kommentaar telling: 21

Vergun my net so n skeutjie se agtergrond; seblief - Ek sal dit kort hou. Ek was vir 26 jaar (van ouderdom 8 jaar) vasgevang in prostitusie, delms, satanisme; ens. Ek sal jou nie opsaal met die detail nie. Ek is nou al 21 jaar deur God se genade vrygemaak van daai boeie van die verlede; maar ek ervaar steeds baie vervolging en verwerping van kerk en Establishment. En - verloor om n laaang storie kort te maak, ek het net mooi ALS - letterlik en figuurlik verloor. Hoeveel maal in die winter moes ek fisies op straat slaap; enne is nou een keer gegangrape......nou sit ek met serviks kanker. Maar dis nie die punt nie. Nie nou nie, in elk geval. Ek wil nie chemo of n hospitaalbed he nie. Ek wil weer die seesand onder my voete voel; die see sien. Ek is onherroeplik mal vir die see; vir mooi, ou Kaapland. Ek wil waag om te glo in die gebeur van n wonderwerk. Weer geluk vind; liefde. Ek wil LEWE!!!

Gebruikers Aanlyn

0 Lid, 49 gaste aanlyn

Bydrae Totale