Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: DANS MET DIE ROOI ROK

Deur Martha
Datum gepubliseer: 11 Desember 2019 Aantal woorde: 554 82 Kere gelees 4

Dans met die rooi rok, die hartlam van my. Dis die rooi rok, dis die mooi rok, dis die rooi rok wat waai …

Al in die rondte, vinniger en vinniger totdat die aarde ‘n draaiende waas om haar is. Sy draai en swaai en gly oor die vloer. Rooi rok. Draai, draai, draai. Mooi rok. Gly en draai en swaai. … die hartlam van my …

Hulle is alleen op die groot, blink vloer van die reusagtige balsaal. Die orkes is iewers agter plante en dekor verskans. Dis net sy en haar hartlam en die oorverdowende, polsende musiek. Die lang, rooi rok sit soos ‘n handskoen aan haar en die silwer sandaaltjies rond die prentjie af. Haar held, in ‘n pikswart tuxedo, is ‘n sjarmante heer en uitmuntende danser.

Die tempo van die musiek neem toe – nou is dit ‘n wilde samba. Die tromme se polsende ritme ruk deur haar lyf. Sy is ‘n sensuele rooi blom wat wieg en ruk en pluk op maat van die musiek. Haar maat staan en verwondering na haar en kyk. Só het hy haar nog nooit gesien nie! Sy lag uitlokkend en nooi hom met die hand om mee te maak, maar hy skud sy kop. Hierdie prentjie moet hy vir ewig en altyd in sy hart vasbrand, weet hy.

Die sensuele ‘Time of my life’ neem haar liggaam oor. Sy is ‘n vuurwarm rooi bol energie wat uitlokkend om hom flirt. Hy probeer byhou, maar dis asof sy glad nie van hom bewus is nie. Haar liggaam en die musiek is een. Sy skuur uitlokkend teen sy liggaam en verdwyn weer, nog voordat hy kon toegee aan die emosie van die oomblik. Die laaste note sterf weg en sy leun met haar kop teen sy bors.

Die musiek hou vir ‘n paar oomblikke op. Sy tree weg van hom af, lag uitgelate en gooi haar kop agteroor. Haar lang, swart hare het losgeraak uit die kapsel bo-op haar kop en is nou ‘n welige swart maanhaar oor haar skouers. Sy stap ‘n paar treë weg van hom af en gaan staan met haar rug na hom toe; haar hele wese in afwagting op die volgende musiek.

Die ligte domp tot ‘n sagte skemering. Die enigste lig is ‘n kers hier en daar. Die atmosfeer is gelaai, asof in afwagting op ‘n grootse gebeurtenis.

Die sagte vioolklanke van ‘n Weense wals vul die saal. Hy kom van agter af en draai haar om in sy omhelsing. Hulle sweef oor die vloer in volmaakte eenheid. Hulle praat nie. Hulle oë hou die een die ander gevange.

Meteens is dit pikdonker en die musiek is stil. “Agge nee!” kreun sy sag.

Die kind kom by die kamer in en stoot die rystoel opsy. “Mamma, Pappa vra of ek …” Sy storm op haar ma af wat in ‘n klein bondeltjie op die vloer lê.

“Mamma! Wat het gebeur? Hoe kom jy uit die stoel uit?”

Sy sug hartseer. “Ek wou dans, my kind.”

Die kind probeer haar ophelp, maar haar verlamde liggaam is te swaar. “Pappa, kom help my, asseblief,” skree sy af met die gang. “Mamma het geval.”

Toe sy weer in die stoel is, kyk sy hartseer na haar man. “Jy sal sien, wanneer ek uit hierdie rystoel uit opstaan, sal ek dans. Ek sal dans asof niemand kyk nie.”




TEMAS
1 Kommentaar
  1. Anze

    11 Desember 2019

    Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die Desember 2019 projek – Dans asof niemand sien nie

Laat u kommentaar

GESKRYF DEUR

Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

Publikasies: 43
Kommentaar telling: 11

Ek is 'n Namibier in murg en bloed. Ek hou my lewe lank skook, met hier en daar 'n kort tussenpose. Ek is getroud, het drie kinders en (op die oomblik) drie kleinkinders. Dit het my my lewe lank gevat voordat ek die moed gehad het om te begin skryf. PUBLICATIONS Books: Tuiskoms, by Martha Poller. Published by Malherbe publishers (2018), 193 pages. ISBN 978-1-928413-65-3 Hagar, by Martha Poller. Published by Malherbe publishers (2017) 270 pages, ISBN 978-1-928413-70-7   Short stories: ·         My lewe in ink – ‘n versameling van inspirerende dagstukkies. Published by Carpe Diem Boeke (2002) ISBN 1-919912-07-X Martha’s contribution: Jesus, ek is blind! (page 180) ·         Keur van verhale 4 – ‘n Potpourri Publikasie (2018) Published by Malherbe Publishers. ISBN 978-1-928413-40-0 Martha’s contribution: Die Misverstand (page 72) ·         Kierangspruit se Sirkus – ‘n Potpourri Publikasie (2018) Published by Malherbe Publishers ISBN 978-1-928413-90-5 Martha’s contribution: Rocco se hartseer vertoning (page 82) ·         Verspeelde Matriekafskeid Published by Huisgenoot (8 February 2018) and read on Maroela Media  (2 February 2018) ·         In die grasie van jou wese – ‘n Potpourri Publikasie (2018) Published by Malherbe Publishers   ISBN 978-1-928415-57-2 Martha’s contribution: (V)oorbegin

Gebruikers Aanlyn

1 Lid, 76 gaste aanlyn

Bydrae Totale