Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: DANS DANS MEISIE

Deur HelenaMellet
Datum gepubliseer: 31 Desember 2019 Aantal woorde: 1630 201 Kere gelees 3

(Brons. 1625 woorde)

Annelie kyk stip na die goue bord op die koningsblou tafeldoek. Haar hande is styf inmekaar gevou op haar skoot. Die versoeking is baie groot om nie nou ’n sluk van haar vonkelwyn te vat nie. Nie dat mens hel toe sal gaan as jy onder gebed drink nie, maar sy sal skeef aangekyk word. Sy het al genoeg skewe kyke vir dag gehad omdat sy omtrent die enigste persoon by die troue is sonder ’n metgesel. Sy en natuurlik dominee Venter wat op die laaste nipper besluit het om te bly vir die onthaal nadat die bruidegom se ma hom eintlik vir ’n halfuur lank daarin geboelie het. Selfs die fotograaf en die platejoggie het ’n plus one, al is dit net hul assistente wat hulle help. Die twee oumas van beide families is mooi netjies langs mekaar sit gemaak sodat hulle mekaar geselskap kan hou. Die enigste twee oop sitplekke is dié van die bruidegom se pa wat die tafelgebed doen en die stoel langs Annelie.

Sy kon ook ’n date saambring, maar Smittie, haar regular date vir troues, het iets anders aan die naweek. Sy kon dalk ook soos met twee vorige troues ’n vriendin saambring, maar dan was die tonge éérs los. ’n Ongetroude vyf-en-dertige jarige vrou wat ’n ander vrou as metgesel na ’n familie troue saam nooi, kolf sekerlik vir die ander span. Sy kan al net sien hoe tannie Hettie hierdie woorde agter haar hand vir almal fluister. Dit het al gebeur. Die mense wat Annelie wel ken, sal maar te goed weet dis nie waar nie, maar dis genoeg om onnodige vrae en ongemaklike oomblikke te veroorsaak. Sy wat Annelie is, speel nie vir die ander span nie. Sy is nou maar net een van daai ongelukkige siele wat nie so maklik man kry nie. Sy kan haar werk as rekenmeester die skuld gee daarvoor, maar dis niks meer as ’n flou cliché nie. Dinge verloop maar net soos dit doen en sy aanvaar dit so. Sy sien ook nie die nut daarin om te veel tyd te spandeer aan verduidelikings nie. Dié wat moet weet, weet sonder die vrae. Sy is maar net dierbare ou Annelie. ‘n Raps voor veertig en sonder man.

Die tafelgebed se Amen kom ook net betyds. Annelie maak haar glas leeg. Die bruidspaar verskyn op die dansbaan en die musiek begin speel. Hulle het dit goedgedink om die baan te open voor die hoofgereg bedien word. Sodoende kan die wat wil eet, eet en die wat wil kuier en dans, kan hulle ding doen. Die musiek is sag en romanties en die bruid se rok vee soos ’n wolk oor die gepoeierde dansbaan. Annelie kyk die dansende paartjie glimlaggend aan. Haar niggie lyk beeldskoon. Sy het geweet Minka sal ’n mooi bruid wees. Die bruidegom swaai sy nuwe vrou tot in sy arms en laat haar laag afsak tot haar kop amper op die grond raak. Die gaste klap hande en ’n paar karakters fluit stuitig hard. Annelie se oog vang die paartjie by die tafel langsaan. Die man skink nog wyn in die vrou se glas. Sy kyk vinnig weg toe die vrou liefderik haar kop op die man se skouer sit en liefies glimlag. Annelie mik vir die vonkelwyn bottel en maak haar eie glas vol. Sy sit aan ’n tafel vol vreemde gesigte. Almal jong mense. Sy kan sien dit is een van die kuier tafels. Die span is amper nooit by die tafel nie. Kort-kort is een by die kroeg of glip by die saal se sydeur uit vir ’n dampie. Sy kou ekstra hard aan die kougom in haar mond om nie ook saam met hulle by die sydeur uit te gaan nie. Sy rook nie by familie troues nie. Dit bring net nog vrae wat nie nodig het om antwoorde te kry nie. Die kelners kom ingeloop met borde vol kos. Een vir een word die tafels bedien. Annelie het haarself voorgeneem om te bly tot ná die hoofgereg. Sy het klaar die bruidspaar gelukgewens en geselsies gemaak met wie sy moes. Sy het haar deel gedoen, sy was hier en dit kan ook nou van haar lysie afgemerk word.

Skewekop sit en staar sy na die dansende bruidspaar. Die gevolg en ouers het ook intussen by hulle aangesluit. Die glimlagte op die dansbaan is breed en die oë blink. Die wat sit en toekyk, wag of vir die kos of vir die geleentheid om ook hulle moves op die dansbaan te wys. Annelie se familie hou van dans. Sy ook, dis hoe haar en Smittie se paadjies gekruis het, maar vanaand gaan sy nie dans nie. Net eet, groet en dan reguit terug na die gastehuis toe. Net voor die liedjie klaarmaak, glip ’n klein figuurtjie in wit op die dansbaan. Dit is die blommemeisie. Annelie skat haar so vyf jaar oud. Die kind loop oor van energie. Nog voor die seremonie vroeër, het sy op en afgehardloop tussen die mense deur om af te show met die wit rokkie vol blinkers en blomme. Toe het die tannies almal nog oor haar gekoer en gekloek, maar nou-nou sal al die jong poppies haar geïrriteerd aangluur en oë rol oor ouers wat nie hulle kleintjies intoom kan hou nie. Dit werk mos maar altyd so by troues waar die klein mensies in ’n stadium dink hulle die dansbaan kan oorneem. Dan word hulle minder oulik en net in die pad vir die wat dink hulle is die vasdans kampioene.

Die minute sleep verby. Die dans liedjies volg een na die ander op mekaar. Annelie se bord kos word voor haar neergesit en sy val weg. Sy is die enigste een by haar tafel. Die rokers en drinkers het nog lank nie lus vir kos nie. Tussendeur die skaapboud en gebraaide aartappels hou Annelie die dansbaan dop. Sy moet erken, haar voete jeuk en sy mis vir Smittie. Jonk en oud volg die ritme met hulle voete en lywe. Die krulkop blommemeisie is nog eenstryk by. Sy draai en swaai en skud haar lyfie, soms heeltemal van die beat af, maar dit pla haar glad nie. Die kind se ma probeer ’n keer of wat om haar van die dansbaan af te kry, maar dis tevergeefs. Die poppies begin loer en gluur toe ook in die kind se rigting die oomblik toe die musiek trant verander. Nou gaan daar ge-jive en ge-losdans word en die geduld is maar min met die klein lyfie wat steeds probeer byhou. Die mooi wit rokkie met sy blomme en blinkers was toe ook net vir so lank oulik. Nou is dit net ’n bysaak, maar die klein mensie steur haar aan niks en niemand. Toe Annelie haar mes en vurk neersit en haar mond afvee, is die kind nog altyd aan’t dans. Annelie is verstom oor die energie en uithouvermoë van die klein dogtertjie. Sy beny die kind se kinderlike onskuld en lewenslus, die doelgerigte wil om te doen waarvoor sy lus is, ongeag die kommentaar en gevolge. Die ogies lyk al moeg, maar die mondjie lag nog wyd en oop. Dan besef Annelie die kind dans nie tussen die grootmense om aandag te kry nie. Sy dans, want dit maak haar gelukkig. Sy dans, want sy wil en sy kan.
ie ander mense aan Annelie se tafel keer een vir een terug vanaf die kroeg en rokers hoekies. ’n Kelner kom haal haar leë bord. Nou moet sy besluit; gaan sy bly vir poeding en geselsies maak met die vreemdelinge aan haar tafel uit ordentlikheid of gaan sy net ongemerk haar goedjies vat en ry. Sy is versadig; vir poeding is daar nie juis plek nie en die gesprekke aan haar tafel is so uiteenlopend dit laat haar kop draai. Annelie stoot haar stoel versigtig terug en staan op. Niemand sien dit raak nie. Sy vat haar selfoon en handsak en loop weg. Voor die saal se sydeur gaan staan sy stil toe ’n nuwe liedjie begin speel. Annelie kyk vinnig oor haar skouer om vir oulaas die blommemeisie te sien dans. Die kind is nie meer daar nie. Teleurgesteld loop Annelie by die saal uit die donker nag in. Dis ’n entjie se loop na die parkeer area en sy het boonop in die heel agterste ry parkeer ook. Dis genoeg tyd vir ’n vinnige smoke. Met die aansteek van die sigaret merk sy die maan op. Hy lê sekel op sy rug, so wit soos die blommemeisie se rokkie. Die musiek in die saal agter haar agtervolg vir Annelie tot by haar motor. Sy blaas behaaglik die laaste rook die naglug in en skiet die stompie grond toe. Sy lig haar voet om die rooi spikkel dood te trap. Met die neersit en draai van haar voet kom daar iets los in haar lyf. Die musiek wat nou dof vanuit die saal kom en die klein dansende dogtertjie se gesig steek vas tussen Annelie se ore. Eers begin haar kop op en af knik op die maat van die ritme en toe kom haar vingers al klappende by. Sy wieg eers effens heen en weer en trek toe los al swaaiende en draaiende. Annelie maak stof en spore soos sy trap en tree. Sy knyp haar oë toe ’n gaan voluit. Die liedjie maak klaar en toe is dit stil in die saal. Iemand praat oor die mikrofoon. Annelie maak haar oë stadig oop en hou haar asem op. Niemand het gesien nie. Sy lag saggies by haarself toe sy in die motor klim en die enjin aanskakel. Toe Annelie wegtrek sien sy die klein blomme meisietjie in die saal se sydeur staan. Sy waai vir Annelie en verdwyn weer terug na binne, terug na die musiek.




TEMAS
1 Kommentaar
  1. Anze

    2 Januarie 2020

    Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die Desember 2019 projek – Dans asof niemand sien nie

Laat u kommentaar

GESKRYF DEUR

Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

Publikasies: 125
Kommentaar telling: 85

Ek is maar net 'n kaalvoetkind van Namakwaland, verslaaf aan die reuk van ink op papier en honger vir woorde wat siele versadig, of dit nou uit my pen kom of joune.

Gebruikers Aanlyn

0 Lid, 124 gaste aanlyn

Bydrae Totale