Jongste aktiwiteit:

Dampraatjies

“Wag, ek moet julle díé vertel.” groet Hettie Welgemoed haar kletsvrinne. Sy is skoon uitasem van die vinnig stap na die bankie onder die wilgerboom by die eendedam. Dis Saterdag-agtermiddag, en die kletsvrinne kom oudergewoonte bymekaar om nuus uit te ruil oor ʼn glasie wyn of iets.
Hulle kuier wel heeldag en aldag oor en weer in Skemerkelkie Aftree-oord, maar Sáterdag-agtermiddag se kuiers is die hoogtepunt van die week. Dan is al wat kind of kleinkind of verlangse familielid of wie ook al kom kuier het huis toe, en die kletsvrinne tot barstens toe vol met nuwe nuus.
“Kry net eers jou asem Hettatjie, ek skink so lank ʼn ietsie. My kleinseun is mos nou so handig met ʼn stookketel en toe bring hy vir my ʼn botteltjie perske-mampoer.” Zitse moet altyd die eerste brag inkry.
“My oorle pappie het so witblits gestook. Mense het van heinde en verre gekom om sy mampoer te koop. Hy het altyd gesê die geheim van ʼn goeie mampoer is in die… “
“Nee wag nou met jou oorle pa se sêgoed Rina. Luister híérna” val Hettie vir Rina in die rede. Sy het haar asem terug en haar nuus kan nie langer wag nie.
“Dorrie is in die ander tyd!” laat bars sy haar groot skinderbom.
“Wat! Dorrie van Dummy? Daai Dorrie?” vra Sus grootoog van skok
“Einste!” antwoord Hettie trots. Nie een van die ander gaan hierdie storie vandag troef nie.
“Gooi nog een ou Zitse, ek’s nou so geskok ek het skoon hartpalpitasies.” Linda hou haar glas uit maar bly in afwagting na Hetta kyk: “Wie’s die pa?” vra sy kortasem van opgewondenheid.
“Wat vir ʼn simpel vraag is dit nou Linda? Sy is mos getroud met Arrie. Wie anders sal dan nou die pa wees? Ek weet ook nie wat is nou so danig daaraan dat sy swanger is nie. My oorle mammie het altyd gesê as die kinders net eers …”
“Ag Rina, bly stil! So wie is die pa?” vra Linda weer.
“Ek sê mos vir jou dis Arrie! Sy is getroud met Arrie!” Rina trek haar dun lippies nog dunner. Sy kan haar so vererg vir Linda wat haar altyd in die rede val.
“Rina, hy kan nie kinders hê nie, hy was mos in die ongeluk toe het hy sy water en ligte verloor. Jy onthou mos!” help Sus net weer vir Rina op die regte spoor.
“O! Ja! Ek onthou nou. Shame, so kort na die troue. Hulle was op pad met honeymoon nê? Ag siestog. Toe lê hy in die hospitaal die hele tyd. Oorle mammie het my vertel van die arme ou paartjie wat ook so ongelukkigheid op hals geloop het die dag toe…”
“Rina! Kan jy net vir ʼn oomblik stilbly! Toe, vertel nou Hetta, wie’s die pa?” vra Linda ongeduldig en gluur vir Rina oor die raam van haar bril.
“Wat bedoel jy met hy het sy water en ligte verloor?” vra Rina
“Dit beteken hy kan nie kinders hê nie.” proes Sus agter haar glasie witblits. Sy geniet vir Rina verskriklik. Sy kan nie glo een mens kan so onkundig en naïef wees nie.
“Nou wat het water en ligte te doen met kinders kry? Ons het al die jare op die plaas nooit ‘lektriek gehad nie, net kerse en paraffienlampe. Ook net boorgat water en ek en Stoffel het agt kinders gehad. Mense kan kinders hê sonder water of ligte. Oorle pappie het vir my gesê as ʼn mens ʼn kers en ʼn ….”
“Hoe de hel het jy agt kinders gehad en weet jy nog steeds nie van die dinge van die lewe nie?” Linda is nou goed warm onder die kraag. Die knertsie witblits wat Litze gooi help ook nie haar gemoed bedaar nie.
“Ek weet alles van die dinge van die lewe Linda Swanepoel! My mammie het my alles vertel! Ek hoef dit nie te gaan uitvind in die donker stegies saam met al wat broek gedra het op die dorp nie!” Rina is nou ook goed omgekrap. Linda moet nie vir háár kom danig hou hier nie. Sy wat Rina is ken elke storie oor Linda Tert.
“Ekskuuuuus?” Linda rek die woord ekstra lank uit en haar groen oë blits gevaarlik: “Ten minste het ek nie met die eerste lunsriem getrou wat kom vlerksleep het nie. Dis nie mý skuld jy moes maar vat wat jy gekry het omdat jou ou mammie en pappie jou nie verder as die voordeur sonder toesig laat gaan het nie.”
“Los my mammie en pappie uit! Dis ook nie mý skuld dat jou pa dronk gelê het in elke kroeg en jou ma moes uitwerk om kos op die tafel te sit nie! Almal weet julle het wild grootgeword.”
Die twee gluur mekaar aan soos twee katte by dieselfde bak room.
“Ja, toe nou maar julle twee. Drink nog ʼn knertsie en begrawe die strydbyl vir ander dag.” paai Sus en Zitse skink nog ʼn rondte.
“Die boetie blykbaar” sê Hetta in die ongemaklike stilte.
“Wie se boetie nou?” vra Linda.
“Arrie se boetie.” antwoord Hetta.
“Wat van Arrie se boetie. Was hy ook in ʼn ongeluk?” vra Rina. Sus proes weer.
“Die pa jou simpel.” antwoord Zitse.
“My pappie was nie simpel nie Zitse Koekemoer!” Rina is dadelik weer op haar perd. Sus begin hardop lag.
“Nie jóú pa nie man, die kind se pa.” kap Zitse terug.
“Watter kind se pa? Ons praat van ons jongdae Zitse en jy praat nou weer oor iets heeltemal anders. Ek dink jy het te veel van jou kleinkind se mampoer in. My pappie het altyd gesê as mens mampoer…”
“So waar as wragtig, vandag klap ek vir jou tot anderkant die eendedam Rina Verster! So help my!” Linda se moermeter is nou diep in die rooi.
“Wag nou wag nou.” paai Sus en sukkel om haar lag weg te steek. “Dorrie se baba se pa is Arrie se boetie.” kleur sy vir Rina die prentjie mooi tussen die lyne in.
Rina se oë verdubbel in grote: “Sy verwag haar eie swaer se kind!” fluister sy geskok.
“Gooi vir haar ʼn stywe een Sitze sy is so wit soos ʼn laken. Arme ding is baie beskermd grootgemaak. Haar pa was mos hoof-ouderling sy hele lewe lank.” sê Linda besorg en waai met haar sakdoek in ʼn poging om Rina te lawe wat wasbleek sit en nikssiende voor haar uit staar.
Rina vat ʼn slukkie mampoer toe Sus die glasie teen haar lippe tilt. Sy stik so paar keer, hyg na asem, neem nog ʼn slukkie en knip die trane uit haar oë. Pappie se mampoer het ook ʼn mens se oë so laat traan.
“Kom ons praat oor iets anders. Hierdie dinge ontstel net vir Rina.” stel Sus voor.
“Zitse jou kleinseun se mampoer is eersteklas, net soos my oorle pappie s’n.” kom dit flouerig van Rina.
Niemand weet van Stoffel se skietongeluk pas na hul troue nie. Net sy, Stoffel en Sarel, Stoffel se ouer broer wat nooit getrou het nie en by hulle aan huis gewoon het, het geweet dat Sarel se onverskillige skoot dáái dag vir Stoffel getref het daar waar sy kinders vandaan moes kom…




2 Kommentare

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed