Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: Dagboek van ‘n stukkende vrou (uittreksel)

Deur Amanda
Datum gepubliseer: 26 Junie 2019 Aantal woorde: 1161 106 Kere gelees 4

“Jy kan ook net soveel keer in ‘n deur vas loop jy weet”. Sy vou haar arms beskermend oor haar
lyf. Hoeveel keer moes sy al hierdie woorde hoor. Die monitor beep beep saggies. Sy luister na sy
rukkende asemhaling. Moet sy of moet sy nie. Dis maklik, draai net die drip se kraantjie oop…. laat
daar ‘n lugborrel in sy drip se pypie oploop. Hulle sê…hulle… hulle… hulle…. wie is hulle? Verdomp.

“Ons sal moet opereer Mevrou. So gou as moontlik. Jou man het twee gate in die maagwand”. Die
Dokter hou die plate omhoog. Hy wys na twee donker kolle wat boosaadig na my teruggluur soos
twee beskuldigende ogies….dis jou skuld…jou skuld… Al die Kerrie. Al die olierige kos wat jy hom
voer. Al die kere wat jy hom so kwaad maak. Sy kyk af na die stil figuur op die wit hospitaalbed. Sy
gesig vertrek in helse pyn. Lekker jou bliksem, dink sy, dis vir al die kere wat ek my gesig moes
toeplak met onderlaag. Vir al die kere wat ek saggies moes trap omdat die pyn van ‘n gebreekte rib
elke asemeug hel gemaak het. Vir al die kere wat jy my soos ‘n vloerlap op die grond gesmyt en my
eie bloed daarmee opgevee het. Vergewe my Here…..

Dis net na middernag toe hulle hom uit die teater stoot. Ek loop vooroor gebuk agter die tjirr tjirr
van die trollie aan. My beste jare vir hom gegee. Sielsmoeg maar tevrede. My hulp kom van bo en
ek weet, ek moet glo dat hierdie die laaste lopie na die wenpaal is. Ek het ‘n belofte gemaak daar op
my knieë in die wagkamer. Ek sal hom versorg totdat die dood hom kom haal.

“Bly by die huis!” Die woorde eggo deur my kop. “Nee Here! Nie vandag nie.” Weer praat God met
my. “Amanda bly by die huis, vandag het hy jou nodig”. “Nee Here, ek kan nie. Ek wil nie hier wees
nie.” Laas nag al het ek geweet. God praat met sy kinders. HY het my voorberei vir vandag. Ek glo in
drome. Gistraand se droom was helder en duidelik. Ek weet dat dit sy laaste dag is.

Ek loer vinnig by die kamer in voor ek my handsak haastig gryp. Hy sitlê met sy kop skuins oor die
kussing. Sy oë staar dof na my. Die uitgeteerde liggaam moeg en bleek. Ek klop saggies aan my seun
se kamerdeur. “Boeta bel my dadelik as jy my nodig het asseblief.” Sonder verduideliking haas ek
my uit die huis.

Ek wip soos ek skrik toe die selfoon skril langs my skreeu. “Ma asseblief kom gou, ek kry hom nie op
nie.” Ek verwag die ergste toe ek die voordeur oopstoot. Voel skuldig toe ek in die bleek gesig van
my seunskind vaskyk. Hy verdien dit nie. Hy is nog pure kind. Hoeveel seer lê op sy skouers. Te gou
moes hy groot word. Sy ma verdedig teen ‘n woede monster. Self klappe en vuishoue verduur om sy
ma te beskerm. Vandag is ‘n verlossing vir ons almal. Ek loop die kamer vinnig binne. Die reuk van ou
rook en dood hang in die vertrek. Hy mompel onsamehangend. “Ek gaan die ambulans bel”. “Nee”
kom dit skor oor sy lippe. Genade tog mens sou dink die baklei het al uitgewoed. Hy is ‘n patetiese
bondel bene. Sy oë vertel my hy weet. Vandag is sy laaste baklei, sy laaste geveg teen die duister wat
wag.

Hy dwing my om die ambulans te kanselleer. Sit vooroorgebuk op die bed. Vir ‘n wyle lyk dit of hy
ons getroef het. Sy wilskrag is sterk. Die bedkassie staan vol medisyne, koeksoda, sigarette en
Grandpas. Hemel weet, die verdomde grandpas. Twintig per dag, indien nie meer nie. Dokter het
gewaarsku, nog een poeier en hy teken sy eie doodsbrief. Die roggel van die bed af laat my verskrik
opkyk. Ek skreeu vir Justin om my te kom help. Ons sleepdra hom tot in die rolstoel. “Boeta jy sal
moet bestuur, Leratong is die naaste.” Ons sleep skuif sy swaar liggaam oor op die agtersitplek van
die motor.

Here vandag moet U help. Justin is maar net 17 Here. Die kind kan nog nie behoorlik ‘n kar hanteer
nie. Ons trek by die vulstasie in. Die Here is goed vir my. ‘n Verkeersman staan eenkant en gesels.
Ek hardloop om die motor om hulp te vra. Hy loop saam na die motor en loer deur die agterruit.
“Boeta kan jy ry, ek gaan die pad voor jou oopmaak, jy ry deur die rooi ligte, hoor jy, ek sal jou help”.
Genade vandag het ek U nodig Here, hou U hand op hierdie stuur. Ons jaag Leratong se gronde
sonder enige probleme binne.

Ek staan langs die trollie waarop hy lê. Die hokkies is vol siek en bloeiende mense. Sy trollie staan
teen ‘n muur geskuif. Rye pasiente lê en wag vir ‘n dokter. Ek buk laag oor hom. “Alles gaan ok
wees”, fluister ek. Ek kan alleen regkom. Hy gee ‘n diep sug asof hy verstaan. Uiteindelik stoot hulle
hom deur na die ondersoek kamers. Die Dokter beduie ek moet wagkamer toe. Masjiene piep en
skreeu om my. Die reuk van urine en ou bloed vul die vertrek. Ek vlug. Justin kom kop onderstebo
vanuit die parkeer area aangeloop. ‘n Hand raak sag aan my arm. Dis die verpleegster. “Mevrou kom
saam seblief.”

Ek skuif die gordyn weg. Sy kop lê agteroor. Die masjiene is grafstil om sy bed. “He had nothing but
water in his veins, he bled internally, it was too late, why didn’t you bring him earlier”. Beskuldigings,
nee wat Doktertjie, vir my gaan jy nie beskuldig nie. Hy wou nie terug hospitaal toe nie. Die laaste
keer het hy snags demoniese beelde deur die vensters sien loer, die lakens se hospitaal stempels het
snags monstergesiggies geword. Elke dag moes ek na werk deurry om sy doek te kom skoonmaak
want hy wou nie hê julle moet dit doen nie. Hy het self hier uitgeloop en self besluit om eerder huis
toe gaan. Ons het albei geweet dis net ‘n kwessie van tyd. Ek plaas my hande op sy bors. “Vader
wees met hom asseblief. Hou sy siel veilig in U hande. Vergewe hom Here. Dankie dat U sy leiding
gestop het. Amen.” Die Dokter lei my na ‘n klein kamertjie aan die agterkant van ongevalle. Ek vra
na my seun. Hulle belowe om hom te roep. Dra vir my ‘n glas water aan. Wonder hoekom huil ek nie.
Eers toe my foon lui en my vriendin vra of als reg is, skeur ‘n rou snik uit my bors. Verligting, soveel
jare se seer val van my skouers af. Justin weet sonder om te vra. Hy kom sit langs my. Sy hand
saggies op my arm. “ Is ek nou die man in die huis moeks?” Ek druk hom styf vas. “Ja my seun jy is.”




TEMAS
2 Kommentaar
  1. Anze

    26 Junie 2019

    Amanda, die slypskool gaan vir eers net op gedigte konsentreer, daar sal heelwat later in die toekoms ook plek gemaak word vir die verhale, artikels, rubrieke ens.

  2. Kiekies

    28 Junie 2019

    Sjoe hierdie skrywe het my vas gevang tot die einde toe. Ek kon die verligting voel!!

Laat u kommentaar

GESKRYF DEUR

Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

Publikasies: 31
Kommentaar telling: 19

Ouma van Vier woelwaters. Ma van 5 (2 stief) en vrou van 'n wonderlike Godsman. Woon tans in Alberton. Skryf is my uitlaatklep. My hart bloei ink op papier.

Gebruikers Aanlyn

3 Lede, 106 gaste aanlyn

Bydrae Totale