Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: Dag van die beduiwelde eiers

Deur Riaan Palmer
Datum gepubliseer: 5 April 2019 Aantal woorde: 1858 233 Kere gelees 4

Ouvrou Wippers is toe nou uiteindelik dood. Askies dat ek sê “uiteindelik” maar ek glo die dorpenaars sal ieder en elk saamstem dat “uiteindelik” die regte woord is. Niemand is seker hoe oud sy was nie. Katryn Brilboks, die bibliotekaresse, het navorsing gedoen en die vroegste verwysing wat sy in ‘n ou koerantuitknipsel kon kry, dui daarop dat Ouvrou Wippers omtrent 124 jaar oud was.

‘n Mens praat nou nie sleg van ‘n ontslape nie, maar niemand waarvan ek weet het van Ouvrou Wippers gehou nie. Sy was doodeenvoudig nou maar net ‘n onaangename, knorrige vrou. As jy haar die eerste keer gesien het dan sou jy gedink het sy loop en kou ‘n suurlemoen, want jou gesig lyk mos net so as jy iets suur eet. Maar nee, dis maar hoe sy gelyk het. Suur. Dis hoe haar hart ook was. Suur. As sy die dorp ingestap het verdwyn die res van die dorpenaars by die anderkant uit. Los sommer alles waarmee hulle besig was net so, of dit nou ‘n trollie vol inkopies of ‘n half-gesette perm was, jy vlug. More is nog ‘n dag. Die wat nog nie van beter geweet het nie, het gaan staan en kyk hoe die ou vrou aangestap kom, want dit was ‘n eiesoortige skouspel. Ouvrou Wippers het mos groot geword in die tyd van korsette en toe sy mondig word weier sy botweg om enige iets aan te trek ‘vir ondersteuning’. Sy het gemeen haar lyf is nie ‘n rankplant wat vasgebind moet word nie, en alles laat loshang wat wou loshang. Na 100 jaar se gravitasie hang dinge wat hang mos maar laer en losser as in die verlede. As sy loop lyk dit kompleet soos ‘n oupa klok met twee pendulums.

Ouvrou Wippers het altyd iets gehad om oor te kla of te kritiseer. Mens sal sweer sy was die gemeenskaplike skoonma vir die hele Vaalwater. As jy per ongeluk paaie met haar gekruis het, dan het die ‘gesprek’ (wat gewoonlik maar ‘n monoloog was) altyd begin met “Wat kyk jy? Ek het nie jou brood gesteel nie!”, al het jy nie eers vir haar gekyk nie. Sodra sy jou aandag het, dan het sy van die geleentheid gebruik gemaak om vir jou mooi te verduidelik wat jou grootste foute was
“’n Dame van jou raamwerk moet mos nie pienk dra nie. Swart is al wat die voue gaan help wegsteek. Dan moet jy begin blare eet. Mens kan mos sien dis al dertig jaar se melkterte wat daar op jou boude lê gekry het. Groen goed is al wat gaan help. Of nog beter: Hou jou kake vir so paar dae stil.”
“Dame, verbeel ek my of is daar alweer ‘n broodjie in die oondjie? Wat is dit nou? Pyporrel nommer 6? Goeie genade. Dalk maar bietjie leer om ‘dankie maar nee dankie’ te sê vir al wat man is wat vra.”
Dan het sy omgedraai en om die hoek verdwyn terwyl jy sprakeloos daar staan en selfondersoek doen.

Die eerste keer wat ek die ou vrou in aksie gesien het, was toe ons by die een en enigste restaurant op Vaalwater gesit het. Ons kos het nét gekom, toe sê my pa ons moet maar sit en eet, ons kan nie nou vlug vir Ouvrou Wippers nie. Swaai Ouvrou Wippers die restaurant binne en gaan sit by die tafeltjie langsaan. Ons gesinnetjie staar koponderstebo almal na ons borde kos asof dit die interessantste aanskouing in die geskiedenis van tyd is. Sy bestel ‘n glas kraanwater met ys in, maar “nie te veel ys nie, anders raak die water te flou”. Nie lank nie en sy roep die kelner weer nader.
“Draai bietjie daai lugverkoeler van julle af, kêrel, ek gaan verkluim hier waar ek sit. Die koue gaan sit in my beendere en dan moet ek weer die heeldag sjerrie drink vir bietjie hitte.” Kla sy.
“Ja Dame. Goed Dame.” is al wat die kelner sê en verdwyn agter by die kombuis in.
Enkele minute later klap sy weer haar vingers en beduie die kelner moet vinnig kom.
“Dink jy nou jy is ‘n hanswors? Nou kry ek weer so warm dat ek moet begin klere uittrek om te oorleef. Of is dit jou plan al die tyd? Draai die ding koeler.”
“Nee Dame. Goed Dame.” En hy verdwyn weer by die kombuis in.
So hou dit aan vir omtrent ‘n halfuur. Dán is dit te koud. Dán is dit te warm. Elke keer vra die kelner net om verskoning en verdwyn by die kombuis in. Toe sy uiteindelik haar glas water klaar gedrink het en duidelik so geïrriteerd is soos ‘n mamba met ‘n seer tand, verklaar sy dat sy nie meer honger is nie, en verdwyn swaai-swaai by die deur uit.
Toe die kelner weer by ons tafel uitkom vra my pa hom hoe hy so kalm bly met die moeilike kliënt.
“Nee. Ek gee nie om nie, Meneer.” Antwoord die kelner doodluiters. “Sy’s elke week hier. Elke keer dieselfde storie. Ek’s dit al gewoond.”
“Nou hoekom stel jy nie net die aircon die regte temperatuur dat sy jou kan uitlos nie?”
“Want ons het nie ‘n aircon nie, Meneer.”

Niemand weet hoekom Ouvrou Wippers so suur vir die lewe was nie. Vir ‘n bestaan het sy met slakke geboer en al wat ‘n restaurant in die Noorde verskaf met die beste en grootste slakke wat die Bosveld nog gesien het. My ma meen dit is oordat Ouvrou Wippers heeldag loop en praat het met die goggas in die hokke dat sy nie geweet het hoe om met mense te praat nie.
Dis ook waar hulle die ou vrou gekry het – daar in die slakhokke. Hulle weet nie hoe lank sy dood was nie, want met ‘n lyf wat so oud is weet jy nie wat is die dood en wat is net die ouderdom nie. My pa het gewonder of die slakke aan haar begin eet het, en net daar besluit om nooit weer ‘n knoffel slak by ‘n restaurant te eet nie. My ma was egter van mening dat een slak ‘n hap aan Ouvrou Wippers gevat het, en toe hy proe hoe bitter die vrou is, haar net daar gelos het.

Sy het natuurlik geen kind of kraai gehad nie – ‘n slak is mos nie ‘n kraai nie – so Dominee Sarel het dit maar op sy hande geneem om die begrafnis te reël. Ek het gewonder hoekom enigsins moeite doen, want g’n mens sou wou gaan gedenk of afskeid neem van die vrou nie. My ma het egter aangekondig dat ons gaan begrafnis toe want “sy was ons naaste en mens betoon respek aan jou eie mense”. Blykbaar het almal kammakastig so gevoel want die hele dorp was by die begrafnis. Almal het egter geweet – maar nie gesê nie – dat almal eintlik net wou seker maak dat sy regtig dood was en begrawe word.

My ma bied aan om te help met die happies vir na die begrafnis en so word die hele gesin in ‘n produksielyn gesit die aand voor die tyd. Ma besluit op beduiwelde eiers (ek weet tot vandag toe nie wat is die regte Afrikaans vir ‘deviled eggs’ nie). Pa dop af. Ma skep eiergeel uit en meng mayonnaise en ek vul weer die eierwitte. Nou as ek twee swakhede het is dit fudge en beduiwelde eiers, en laasgenoemde kry jy moes net (vir onbekende redes) op ‘n begrafnis. Dit beteken natuurlik vir elke twee eiers wat ek vul daar net een op die skinkbord beland. Ma wonder aanvanklik hoekom 8 dosyn eiers so min lyk, maar toe ek nie wil aandete hê nie, toe verstaan sy die wiskunde beter.

Volgende oggend daag die hele dorp, al die maplotters en meeste van die Waterberge se boere by die kerk op. Daar was met die Mampoerfees van ‘87 laas so baie mense by die kerk. (Na die nagmaal wynkelkies ook betrek was by die Mampoerfees, was dit die laaste keer wat die fees by die kerk gehou was.) Ekstra stoele word uitgepak, en die sy-saal se deur word ook oopgemaak om plek te maak vir almal. Toe almal ‘n plekkie vir die agterstewe het, word die kis ingedra en Dominee Sarel skop af. Dominee Sarel wat aanvanklik net van plan was om Spreuke 24:17 te lees en vinnig op die gewetens te speel, is verheug om gemeentelede te sien wat hy laas by die Mampoerfees gesien het, en besluit toe om die laaste 3 weke se preke te herhaal vir almal wat dit gemis het.

So begin my marteling.

Daar is mos maar sekere soorte kos wat allerhande chemiese reaksies veroorsaak met ’n mens se maagsure. Dis ‘n natuurlike proses. Kool byvoorbeeld. En uie en bone en brokkoli. En eiers. Met my stadige metabolisme saam het gisteraand se beduiwelde eiers uiteindelik begin verteer. Dit gorrel. Dit broei. Dit kook. Dit maak gasse. Ek voel wat besig is om te gebeur. Dominee Sarel praat. Ek skuif dié kant toe. Dit begin kramp. Ek skuif dáái kant toe. Dominee Sarel praat. Die druk begin opbou en ek besef die kans het gekom en gegaan om stadig en geluidloos die druk onder beheer te hou. As enige kleppe nou oopgaan, gaan dit nie saggies wees nie. Ek konsentreer verwoed om te knyp. Dominee Sarel praat. Die sweet staan op my voorkoop soos kondensasie op ‘n koue bier. Dominee Sarel praat. Ek skuif rond met die hoop om gemak te kry. My ma gee my ‘n knyp – die universele teken dat ek moet stilsit. Dominee Sarel praat. Ek begin koue koors kry soos die druk op al wat ‘n senuwee punt is, opbou. Dominee. Sarel. Praat.

Ek besef hier is moeilikheid. Ek gaan ‘n plan moet maak. So vang my oog die groot Familiebybel langs my en ek kry die beste plan sedert die wiel uitgedink is. Ek gaan ‘per ongeluk’ die Bybel laat val en met die harde knal, sal ek die nodige druk verlig. Ek vat die swaar boek en maak asof ek die vers opsoek waar Dominee Sarel nou trek. Ek leun vorentoe, tel tot by drie en maak my hande oop dat die boeke uitglip en ontspan.
Die Bybel val plat op die houtvloer en die klap geluid weergalm deur die kerk. Almal draai en rek hulle nekke om vir my te kyk. My tydsberekening was uit. Heeltemal uit.
“Ppppprprprrrrrrrrrrrrrrrrrrrrrtrtrtrtrtttttttttttrrtttt!!”
Dominee Sarel is stil. Ek is bloedrooi. Ma is bloedrooi. Pa se oë is toe. My neus begin brand. Ma se oë begin traan en sy gryp haar neus tussen twee vingers vas. Soos ‘n rimpel gaan dit deur die bedompige gebou. Mense kreun en druk hande en kledingstukke voor hulle neuse en monde. Dominee Sarel begin weer praat maar is net drie woorde diep in sy sin toe die reuk by die preekstoel uitkom, en hy weer stil word vir ‘n paar sekondes. Dan rammel hy af sonder om asem te skep: “Kollektesalbydiedeuropgeneemword. Daariseetgoedindiesaal. Amen.”

So is die iesegrimmige Ouvrou Wippers toe nou die ewigheid ingestuur: Die hele distrik se gesigte met dieselfde wrang uitdrukking waarvoor sy so berug was.

[Brons]




TEMAS
1 Kommentaar
  1. Anze

    5 April 2019

    Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die April 2019 projek

Laat u kommentaar

GESKRYF DEUR

Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

Publikasies: 19
Kommentaar telling: 17

Ek moet die gedagtes wat hier in my kop maal neerskryf, want die goed hol rond en skop die tafels om en soek moeilikheid met ander gedagtes. Mens sal mos mal word as jy dit nie uit jou kop uit kry nie. Party mense noem my 'n "drama queen". Hulle is verkeerd. Ek is 'n drama prinses. Alles wat ek kwytraak moet met 'n knippie sout geneem word. Wag. Nee, 'n pond sout. Alles is tong in die kies. Of is dit? Kom ons vra die Heilige Koeie... Ek meng my tale, gebruik te veel ellipse, maak sommer woorde op en vloek vreeslik. Sorrynotsorry daaroor.

Gebruikers Aanlyn

0 Lid, 83 gaste aanlyn

Bydrae Totale