Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: Daantjie Andreas oor Riemvasmaak

Deur Zeekoesteek
Datum gepubliseer: 14 Augustus 2016 Aantal woorde: 1381 1575 Kere gelees 19

Daantjie Andreas oor Riemvasmaak

Daantjie Andreas is ‘n Xhosa. Hulle het in 1973 getrek. Hy was deel van die Riemvasmaak “Bantoes” wat King Williamstown toe getrek het.

“O, jinne, daai was ’n moeilike tyd. Ons ken mos nie so ’n wêreld nie. Ons het mos hier in Riemvasmaak groot geraak. Hy reënt aanmekaar en daar’s ook nie hout nie, die hout is nat. Die grond is nat, alles is nat.”

Op King Williamstown het hulle huise gekry en met die paar diere wat hulle kon saamvat weer begin boer. Die res van die diere moes hulle verkoop voor hulle vertrek. Die plaaslike boere het die diere by hulle gekoop teen die pryse wat hulle die Riemvasmakers wou aanbied.

“Daar aangekom het die jong mannetjies hulle loop gekry. Party is Kaap toe en ander het truggekom Grootrivier toe. Annerse is Pofadder toe. Daai mense praat ’n hoër Xhosa. Ons kon nie vir hulle verstaan nie. Ons was te lank hier in dié wêreld. Die ou mense het almal daar gedood. Dit het te veel gereënt. Dit reënt te elke dag. Daar’s mos dik bome aan daai kant.” Daantjie vertel die storie asof dit gister gebeur het.

Daantjie het na ’n jaar teruggekom en by ’n boer in Namibië gaan werk. “Daar’t ek vir dertig jaar gewerk. Daai boer was baie goed vir my. Toe ek die dag daar weggaan toe is ek ’n welgestelde man. Ek het hier aangekom met ’n trop skaap en ’n Landdrover. Gert du Preez. Goeie man daai. Hulle het vir my hier deur die gat gekom getrek.”

Daantjie het nie saam met die ander groep teruggekom Riemvasmaak toe nie. Hy was in niemandsland. Omdat hy op sy eie van die Oos-Kaap af “weggeloop” het, het hy eers die kat uit die boom gekyk. “Laat die anderse maar eers trugtrek. Ek weet wat ek het.”

“Kyk die Xhosas het hier gekom van swaarkry. Daar was nie werk in Xhosaland nie. Die groot mense het hier gekom werk en hier gekom vrou vat. Dis dié lat ons Afrikaans praat. Die groot mense het hier kom werk op die myne en tussen die Boere langs die Grootrivier. Namakwaland en al daai plekke. Tungsten en Beril. Daai goeterse. Daai tyd se voor-Xhosas het vir my gesê hulle het daar in Xhosaland vir vyf pennies in die dag gewerk. Toet hulle hier kom toe kom kry hulle darem ’n bietjie meer hier tussen die Boere. Na hulle hier gekom vrou gevat het toe gaan hulle nie weer trug nie. Toe bly hulle net hier.”

“So ek wou eers die affêre bekyk. Ek ken te veel van swaarkry. Hier op Riemvasmaak het ons swaargekry. Die jong klomp kjenners luister al daai mooi stories van vandag se politiek. Ek is ’n aap maar ek is ’n ou aap.”

“Kyk die Boesmans was eerste hier, voor almal. Maar hulle het net so geloop-geloop. Geslaap waar hulle wil. Maar eintlik is dit hulle se plek die.” Daantjie het dit geniet om die storie te vertel.

Bobbejane begin om slaapplek te soek. Klipbokkies staan teen die randte en kyk uit vir ’n verdwaalde luiperd. Dis laatmiddag en Daantjie het die wêreld se tyd.

“Kyk, daai tyd toe het die Koningin vir die Damaras hierie plek gegee. Hulle was die ǃHâuǁnain bondel. Toe kom van die Xhosas hier en vra blyplek. Toe gee die Hoofman, ou David Davids van die Damaras vir ons daai grond by !Hûbu-!Hûb. Daar teen die rivier. Dis oor daai besnydenis ding. As hulle klaar is, kan hulle sommer net so in die rivier instap. Maar ek het nie daar gebly nie, ek het hier by Bok-se-puts gebore geword.” Daantjie haal diep asem en vertel verder. Waar hy vashaak vul Mark Damarah aan.

Mark Damarah se oupagrootjie was David Davids. “My oupagrootjie was slim. Die wat iets gehad het, het hy daar by Riemvasmaak gehou en die wat niks gehad het nie het hy af gestuur rivier toe. As hy aan die einde van die maand ’n os wou gehad het, het hy net gesê hy soek betaling, dan het hy ’n os gekry. Hy’t die grond by Koninging Elizabeth gekry, hy was die groot yster.”

!Hûbu !Hûb, of Xhubuxap, soos dit op die kaart staan beteken “Eierlaagte.” Dit is so genoem omdat daar baie volstruiseiers in die droë rivierbed gelê het. Die eiers was deur die San gebruik om water in te dra.

“Die Damaras het hier teen die rivier langs gekom.” Weer was Mark aan die woord. “Daar was mos ’n skietery. Daar Oorlogskloof langs. Kyk die Bondel Swarts was onse mense. Dis die Duitsers wat die ouens was wat ons daar uitgejaag het. Hulle het mos vir Suid-Wes gehad. Dis hoe ons hier gekom het. Ons stam van die Bondel Swartse af. Hulle was hardegat. Hulle bly vandag se dag daar nog by Warmbad. Die Namas het daar by Ramansdrif omgedraai. Hulle sit daar by Goodhouse en Witbank en daai plekke. Ons het so skiet-skiet gekom. Ons kom almal uit Suid-Wes uit. Dis hoekom die Damaras terug gevat is Khorixas toe.” Hy vertel die storie asof hy self die geveg en trek meegemaak het.

Die Oorlogskloof rivier loop in die Bakrivier in wat op sy beurt in die Oranjerivier invloei.

Riemvasmaak is deur die Britse Koningshuis tydens die bewind van George V aan die Dameras gegee nadat hulle deur sendelinge gehelp is uit haglike omstandighede. Dit was die nadraai van die Duitse besetting van “Duits-Wes” vroeg in die 20ste eeu. Die brutale uitwissing van Nama, Herero en Damara groepe was Duitse beleid en derduisende het omgekom in die proses.

“Daai tyd was die Herero’s ook hier gekom. Die Marengo’s. Hulle het later gechange na Mepanka toe. Hier James Mepanka se mense was Herero’s.” help Mark verder om insig te gee. “Hier was Boesmans ook. Dis waar die naam Riemvasmaak vandaan kom. Die groot mense het die Boesmans se beeste gevat en vasgemaak. En die volgende dag het net die rieme daar gelê. Weg is die beeste. Die Boesmans is hier doodgemaak. Hulle se grafte lê daar op Riemvasmaak.”

Daantjie het nie meer veel diere oor nie. “Daai tyd was hier nie bobbejane wat bokke geëet het nie. Die goed vreet alles op. En die mense steel! Ek het nog ’n paar beeste oor en ’n paar bokke wat daar by Sollie Andreas loop. Lammers kry ek nie hier groot nie. Die bobbejane vreet alles op.” Daantjie gaan een maal per maand met die donkiekar na winkel by Arries om sy pensioen te kry. Dan koop hy die nodigste en “’n bietjie soetwyn” en kom dan weer terug Bok-se-puts toe. Die tog neem hom twee dae. As die pad sleg is na reën koop hy meer soetwyn en die tog neem langer.

“Hier is nie kampdrade nie. As dit reën dan trek al wat mens en dier syntoe. Dan word al wat opslag opgevreet nog voor dit kans kry om veld te wôrre. Dom mense hierdie.” Daantjie is nie vol lof vir die Riemvasmakers se veldbestuur nie.

Mark is opsigter by die rooskwartsmyn. “Ek het al ’89 gehoor daar is sprake van ons regmatige grond terugkry. Mar toe het hulle vir ons belowe ons sal hier kry huise en sulke goeters. Hulle het nie vir ons belowe goud, wierook en mirre nie. Net huise. Met water en krag. Maar toe ons hier kom is daar niks. Net weermag tente. Die huise het eers baie later gekom. Ek het kliphard stene gemaak maar ek het nou nog nie ’n huis nie. Ek werk nou daar by die rooskwarts maar ek het Februarie laas geld gesien. Klomp skelms.”

Siegfried Swarts het sy eie storie oor die ontstaan van die naam Riemvasmaak. “Kyk die Boesmans het swaargekry onder dié mense. As hulle gevang word, is hulle soos diere aangehou. Toe die Boesmans nog in die Molopo gebly het, het die Damaras hulle gevang en probeer makmaak. Hulle is toe met rieme vasgemaak. Die Boesmans het geleer dat hulle die Damaras nie kon vertrou nie. Hulle is gemaak werk vir die Damaras. As hulle die Damaras sien kom het hulle geroep: ‘!Hida!xoi.’ Dit beteken: Kom ons hardloop, hier kom die Riemvasmakers.”




TEMAS
1 Kommentaar
  1. neels

    14 Augustus 2016

    was nou baie lekker om hierdie bydrae te lees

Laat u kommentaar

GESKRYF DEUR

Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

Publikasies: 8
Kommentaar telling: 0

Gebruikers Aanlyn

4 Lede, 99 gaste aanlyn

Bydrae Totale