Jongste aktiwiteit:

Covid-oordenkings – ʼn “Blessing in Disguise” :

(Woordtelling 400)

Na ʼn jaar van gedwonge inperking en probeer om nie in die openbaar te hoes nie, kyk ek bietjie terug en tel my seëninge.

Skoonseun was veronderstel om Januarie 2020 by ʼn lugredery te begin werk, maar omdat die maatskappy onder geldelike stremming was, is alle nuwe aanstellings en opleiding onmiddellik opgeskort. Natuurlik was dit ʼn geweldige terugslag want daar moes inderhaas by die ou werkgewer gesmeek word om sy vorige pos terug te kry. Dit het gekeer dat hulle nie alles verloor het en van ons afhanklik geword het nie. ʼn Blessing in disguise.

Dogter moes in Maart weer begin werk na ʼn paar maande tuis met nuwe baba, maar omdat die lugvaart letterlik tot stilstand gekom het, was haar pos ook na die maan. Dit was natuurlik ook ʼn skok, maar sy is innoverend en talentvol en tussen borsvoedings en slapelose nagte het sy ʼn suksesvolle bakkery op die been gebring. Slegte nuus vir die oomblik maar uiteindelik ʼn blessing in disguise.

Intussen het die jaar van gedwonge tuis bly my laat besef dat ek nie meer hier eenkant soos ʼn uil op ʼn kluit wil sit en kyk hoe die kinders aan die ander kant van die land grootword nie. Die president het nog nie eens gekug terwyl hy die reis tussen provinsies opgehef het nie, toe is die besluit al geneem. Die lewe is te kort en ons gaan teen almal se advies tog agter die kinders aan trek.

Huis word in die mark gesit, ons kry ʼn oënskynlike oneerlike agent en die eerste koopkontrak loop genadiglik skeef. Genadiglik? Iewers langs die pad vind ons uit dat die ander vent se “verkoopte” huis deel ʼn onafgehandelde boedel is. ‘n Blessing in disguise maar ek swets steeds ʼn paar woordjies. Intussen word ʼn groot wens hemelwaarts gestuur : ʼn kontant koper asb. en jong mense met klein kinders – hierdie erf soek kinders. So word die gesinnetjie netjies by ons adres afgelewer, perfek volgens bestelling! Drie weke na die dokumente onderteken is, is die registrasie afgehandel. Wie sou ooit kon raai dat enigiets in hierdie tyd so vinnig kan gebeur?

En terwyl ek luister hoe ʼn pensionaris *** en kla oor die verlore jaar (?) en ʼn ander nie kan kuier en kerk toe gaan nie, vou ek my hande uit dankbaarheid saam vir al die oorvloedige seëninge wat oor ons pad gekom het. Voorwaar ʼn geseënde jaar!




Hier's ek weer, Hier's ek weer, Met my storie voor jou deur....

1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed