Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: Carpe Diem se Watsenaam

Deur Ano
Datum gepubliseer: 27 April 2016 Aantal woorde: 709 1058 Kere gelees 20

….en eintlik is ek nou al moeg gegryp aan al die dae. So moeg, dat dit reg voel om enetjie deur my vingers te laat val. Bietjie gryp na die veerpen wat saggies verby gesweef kom, en ‘n druppeltjie ink uit hom druk.

So laat Hubby se “sit jy alwéér hier” my ongemaklik op die stoel rondskuif. Dit is nie eens ‘n kwessie van ‘alweer’ nie, maar eerder dat hy my nooit op ‘n ander plek sien nie. Wel, terwyl hy in sy kantoor papiere rondstoot, stoot ek aan hierdie kant sagte bont lappies rond.

Dit is inderdaad so dat hy my soggens vroeg by die rekenaar agterlaat – werkend. Smiddae steeds daar aantref – lesend. Skynbaar tel die ander besig wees ure tussen-in glad nie. As hy nou net lank genoeg in my rigting wil kyk, sal hy gou sien dat ek vyf vingers in die lug hou. Hy mag maar ‘n vinger kies. Verkieslik die derde een, en hy kan self kies of hy van regs of links wil tel. Solank dit net die derde ene is! En ek het boonop twéé beskikbare hande!

‘n Deel van my rekenaarure word opgeneem deur ondersteuning te gee aan mense wat iemand deur middel van selfdood verloor het. Maar vandag kan ek net nie meer nie. Die lewe is uit my uitgesuig en ek oorweeg al self om die stomp bottermes uit die laai te gaps en skelm om die hoek te verdwyn. Immers kan ‘n mens nie onophoudelik oor oseane heen rek en iemand aan die skouers gryp en skud tot hul tande klap nie. En vandag voel ek presies so. Wil die merrie so ‘n harde skud gee dat ‘n stuk van haar brein by haar neusgat uitskiet.

Vir vandag gee ek toe aan die gevoel van ‘uitgebrand’. Sal more weer my fakkeltjie onverpoost laat skitter.

Hoeveel mense en ure moet ‘n persoon probeer om ‘n ander staande te hou? Is dit tog moontlik om iemand van homself te red? Kyk, ek verstaan hierdie algehele ineenstorting – was immers al self daar. Maar dit is menslik onmoontlik om aanhoudend ‘n helpende hand uit te steek, pleit en smeek dat sy hulp moet kry, voor my humeur die oorhand begin kry. Iewers in my agterkop het ek al meermale gewonder of dit nie iemand is wat net aansit en soos ‘n ou hond op ‘n kluit sit en kerm nie. Vir twee maande hoor ons al hoe sy ly. SONDER OPHOU. Nie net skaak sy die spasie vir profiel-opdaterings nie, maar klits die hele wêreld daagliks in ‘n skuimbol deur te vertel hoe sy nou-nou haar bakkie van die brug gaan afry of ’n tou iewers gaan vasknoop, EN dan kwaad word wanneer haar man die polisie bel, al is dit in ‘n poging om haar van haarself te red.

Vir eers het ek genoeg gehoor. Dit is seker waarom sielkundiges sulke allemintige stywe fooie vra! In hul gedagtes spandeer hulle dalk die gekleurde note terwyl hulle week na week dieselfde storie moet aanhoor.

Immers het hierdie vrou (en elke ander mens) ook ‘n verantwoordelikheid teenoor haarself. Niemand kan jou help as jy nie gehelp wil wees nie. Niemand kan jou aan die hare deur ‘n situasie trek en baklei as jy nie van jou kant af ook iets doen nie. En ek het ‘n skerp vermoede dat sy nie baie lank gaan neem om haar dag aan te gryp nie. Nog een wat deur die krake sal val, al keer almal vir ‘n vale. So nou en dan gebeur die ongelukkigheid en word ‘n onomkeerbare besluit geneem.

Maar intussen gaan die lewe op ‘n drafstap voort. Iewers het ek kennis geneem dat Zuma ‘n laaaaang soustrein het, en ek het onverwags ‘n kaartjie daarop gekry. Dit het nog nie aan my bankbalans verander nie, maar ek leer op ‘n ander se onkoste. Skynbaar hoef ‘n mens nie vir alles in hierdie land te betaal nie. Wat ‘n verrassing vir my lelie-blank-velletjie! Maar anderdag meer hieroor. Ek proe nog saggies aan daardie sousie, en sal laat weet of dit vrugte afwerp.

En intussen verlang ek na skryf en my skryfmaters. Balans is wat ek nou nodig het. Niks lappie-werk nie, nikse gesmeek nie, nikse gryp hierdie dag nie – net gesels.




TEMAS
4 Kommentaar
  1. Anze

    27 April 2016

    Heerlik gelees! Baie dankie vir jou bydrae tot die Carpe diem projek

  2. neels

    27 April 2016

    My wêreld Ano ek het jou gemis. hoe gaan dit met Guppy. soos altyd lekker gelees

  3. Arnold

    27 April 2016

    Ja ‘n mens se siel word aanmekaar gehou deur te kommunikeer.

  4. Kiekies

    27 April 2016

    Jislaaik ek is so soo bly ons kon weer gesels! Dankie vir die tee en koekies. Weet jy, daar is mos mense wat hulp soek maar dood bang is, hulle gaan hulp kry! Ek het ook so een wat aan my haakskeen vasbyt. Nou het ek agtergekom al wat help….die harde koue kille waarheid. Ek draai nie doekies om nie.

    En daai sousie……agge nee man jy kan my mos nie so aan ‘n tak laat hang soos ‘n bokkom nie. Toe-toe uit daarmee. Wat het Zoempies jou belowe?

Laat u kommentaar

GESKRYF DEUR

Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

Publikasies: 52
Kommentaar telling: 94

Hier's ek weer, Hier's ek weer, Met my storie voor jou deur....   HOOP, 'n Reis van Rousmart na Heling (2015) Guppy en Anderste Stories (2018) vir navrae, e-pos aan Floksie@telkomsa.net

Gebruikers Aanlyn

0 Lid, 24 gaste aanlyn

Bydrae Totale