Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: BRUIDSBOS

Deur Nico Schamrel
Datum gepubliseer: 20 September 2019 Aantal woorde: 1080 59 Kere gelees 2

Hulle sê jy loop nie sommerso deur Bruidsbos nie. Dis godsheilig daar; jy loop kaalvoet deur die bos as jy soontoe gaan. Dan vra die mense hoekom dan so godsheilig? Dis omdat daar net spierwit groei, wit-blom-goed, reinwit maagdeblom en konfettibos.
Wanneer jy Bruidsbos besoek, moet jou kop oopte hê.
Jy moet ’n mot wees – fyn luister.
As jy iets wil sien, moet jy die arend se oë leen.
Of net ’n kind wees, soos Nina.
Jy kan nie die draadheining van die grondpad sien nie, al rek jy jou nek hoe lank. By die wit kantblomme is ’n paadjie, net een voetbreedte wat tot by die heining strek. Dan klouter sy oor die leertjie wat wydsbeen oor die heining staan, versigtig asof sy bang is sy trap iets stukkend.
Sy en hy, hulle al twee klim oor. Maatjies.

Soms wag hy by die stroompie of by die esdoringboom. Soms sien sy hom reeds by die waterval met sy voetjies in die groot poel.
“Dis godsheilig hier,” sê sy en klouter oor ’n dik stomp.
Die grondpaadjie slinger tussen die digte ou stinkhoutbome deur, kolletjies sonlig oral, tot sover as die stroom. Hier spring sy van klip tot klip, arms uit soos een wat vlieg en land met al twee voete aan die oorkantste wal. Hier en daar maak jy jou rug krom om onderdeur ysterhoutboom se takke te kruip, hou vas aan bobbejaantou, klouter oor ’n omgevalle esdoringboom en loop stadig, voetjie vir voetjie, oor klam mos en komposblare. Hier steur jy niks.
“Godsheilig is nie vloek nie. Godsheilig beteken dis soos kerk. Heilig.”
Op teen ’n helling en dan weer versigtig af. Die waterval se dreun kom al nader.
Wat gaan ons vandag doen, vra hy.
“Ons soek na ’n wit woudpapegaai, maar …” Sy kyk op na ’n stinkhoutboom waar hy sy nes sal maak, “ek dink hy het sy fluit verloor.”
Hoe lyk sy fluit?
“Sy fluit is ’n groen rietjie wat hy langs die wit boslelies gepluk het, met klein gaatjies soos visogies. Ons kan vir sy fluit soek. Ons soek orals tot ons dit kry,” sê sy opgewonde.
En wanneer ons dit kry, vra hy.
“Dan begrawe ons sy fluitjie onder die stinkhoutboom.”
Eendag het sy woudpapegaai bo in die boom sien sit; doodstil, toe trap sy saggies op die mos, sjuut-stilletjies sodat hy haar nie hoor nie – en sy kruip weg tussen die wit aronskelke en loer versigtig hoe hy sy vere pluis.
Daardie Sondagmiddag knak ’n tak iewers naby die stinkhout. Weg vlieg woudpapegaai; oor die boslelies, tussen deur die swarthout, bo-oor die wildekastaiing se toppe en vlak oor die waterval, deur die wasem tot diep onder waar die esdoring ruig staan. Weg, iewers, alleen.
Sy hoor die skarrel deur die bos, gaan kyk – ’n strik met meidoringbessies. Dit was die enigste keer dat sy bang was in Bruidsbos.
“Wit is die wolke – blou, blouer, blouste is die lug.” Knyp sy toe twee wit blommetjie van die sysselbos af en hang ’n blommetjie aan elke oor.
Dit pas mooi by jou wit spinnerak-rokkie, sê hy terwyl sy met vuil hande oor haar wit rok streel.
Sy dra haar wit rokkie van spinnerak geweef, met roosknoppies borduur en ’n fyn kartelrand.
Jy lyk mooi in jou spinnerak-rokkie, sê hy.
“Kyk!” skree sy saggies, duik agter ’n wit sneeubalbos in en loer tussen die ronde trosse blomme deur.
“Sien jy? Dis die woudpapegaai, sjuut, moenie roer nie.” Haar oë opgeslaan na die blouste lug, blouer as die see en die berge en die blou sysselbos. Woudpapegaai draai-draai net bo die waterval, dynserig teen die wasem.
Agter haar, in die wag-’n-bietjieboom met sy skerp wit dorings, skuil hy ook met ’n hand vol meidoringbessies.
Duik af na onder met twee klappe van sy vlerke, verdwyn onder die waterval. Sy kom waaksaam uit haar skuilplek.
Pasop, jou spinnerak-rokkie gaan aan die dorings haak, waarsku hy.
Die koel stroom spoel oor rotse van onderdeur die grondpad, deur poele tot waar dit die afgrond bereik. Hier stort die water na benede, ’n dreuning wat oorverdowend eggo teen die boomstamme van silwer beukehout en ’n indringer denneboom.
Kort-kort staan sy stil, luister vir ’n wyle, kyk rond met haar oë wat gly van tak tot grond tot heel bo na die boomtoppe.
“Kom, ons is amper daar.” Voete glip en gly oor klam klippe, mos wat groen en glad klou aan rotse. Tussen aspersievarings rus klippe en krieke.
“Ons gaan eers musiek luister, dan die fluitjie soek.” Kaal, vet voetjies met klein toontjies wat waaksaam in poeletjies trap en dan waaghalsig tot naby die einde van die waterval gaan staan.
Oë toe; die diep dreuning wat binne haar bors vibreer, klarinet se klank wat deur die wildekastaiing suis. Piepklein trompette basuin uit boslelie-se-blom. Iewers van onder, die strelende snare van bosviooltjies. Note, sag en rein wat in wasem om haar draai – ’n mistige bruid-se-sluier wat haar toevou. Wit is die konfettibos, witter is die treurbruidsbos. Saggies, teer die klank van druppels wat delikaat spat, dan saam met die stroom dawerend na onder plons. Wasem sag sy stem wat roep-roep.
Kom staan hier by my, smeek hy.
Rookmis hang dig; die klippe stoom. Saam met die wind kom uit die duister skaduwees die tjello deur helder swarthoutbome. Die wind blaas sy panfluit, al sterker en sterker. Die water waai wasem uit ’n ketel se tuit, bruid-se-sluier draai stywer om en om.
Kom dans hier vir my, sê hy, dans soos gister, dan gee ek jou die woudpapegaai se fluitjie, belowe.
“Wys my eers die fluitjie,” sê sy. Trippel op haar tone, draai in die rondte. Haar spinnerak-rokkie tol holderstebolder. Duiselig is die dans, wit is die wolke, silwer is die water. Weg.
Dié was haar speelplek; godsheilig, haar wit paradys – in Sy Bruidsbos. Dis hier waar haar verbeelding ryp geword het. Waar Nina drome kon droom, iemand denkbeeldig gehad het om mee te praat. Dit is juis die voëlvanger wat haar gekry het, verkluim agter die waterval. ʼn Wonderwerk, sê hulle.
Hy gee vir haar sy rietfluitjie en sê sy moet blaas terwyl hy vir hulp loop soek.
Agtermiddag, toe hulle terugkom, hoor hulle van ver die rietfluitjie speel.
Wanneer jy Bruidsbos besoek, moet jou kop oopte hê om alles te verstaan.
Jy moet ’n mot wees – fyn luister om die rietfluitjie te hoor.
As jy iets wil sien, moet jy die arend se oë leen, want woudpapegaai skuil iewers in die skaduwee.
Of net ’n kind wees, soos Nina.




TEMAS

Laat u kommentaar

GESKRYF DEUR

Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

Publikasies: 6
Kommentaar telling: 10

My werk wissel tussen fiksie, roman, komedie en erns. Verskeie van my kortverhale is gepubliseer in drie bundels - Vlerke, Ses Dae en Tydpalet - asook op verskeie platforms. Ek het ook 'n Croyez-benoeming ontvang vir 'n kortverhaal wat in 'n keurbundel verskyn.  Ek werk tans aan my eerste Afrikaanse kortverhaalbundel - Engela - asook 'n boek (komedie). http://pendit.co.za/

Gebruikers Aanlyn

1 Lid, 68 gaste aanlyn

Bydrae Totale