Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: Bring my die ou-ou tyding

Deur Ano
Datum gepubliseer: 26 Maart 2019 Aantal woorde: 1333 208 Kere gelees 3

As daar nie verskillende menings bestaan nie, sou ons almal absoluut dieselfde gelyk, gedink en gedoen het. Miskien is dit waarom die mense wat modes slaafs navolg, so verveeld, vervelig en tot vervelens toe oninteressant eenders kan lyk.

Dieselfde geld vir boeke en ander geskrifte. Dit is mos lekker om iemand anders se idees te lees, bietjie wyer te kyk en sien hoe ander die wêreld ervaar en ondersoek. As jy nou nie te toe-kop is nie, mag dit selfs ʼn deurtjie na ʼn anderste denkwêreld vir jouself oop forseer. Ons leer mos van mekaar! En daarby hou ek daarvan om meer dikwels boeke te lees deur skrywers van ander kontinente. Daarso dink hulle anders, hulle ervaar die lewe op ʼn ander eerste wêreldse vlak en ons het verseker nog baie om te leer. Soms kan Suid-Afrikaners heeltemal te hard vasklou aan hul dikwels te enge en verouderde sienswyse en wil alles en almal beveg wat dit waag om iets te bevraagteken. Of dit net vir ons geld weet ek nie, maar die liewe Boere kan maar hardkoppig en moeilik wees!

Nie net is ons taal lewend en altyd aan die verander nie, maar ons hele bestaan het met die koms van die internet op sy kop gedraai. Na ʼn ewigheid van afsondering kon ons by ander nasies inligting met die druk van ʼn knoppie uitruil. Tydskrifte en ander leesstof van anderkant die groot water het hul verskyning op die winkels se rakke begin maak.

Tog kry nie almal se geskrewe werk kry ʼn gemaklike sitplekkie in my gedagtes nie en ʼn boek wat nie sin maak nie, word gou eers boekrak toe verskuif voor dit uiteindelik na die naaste liefdadigheid winkel verhuis. Soms kan mens bloot net nie met die ander se skryfstyl of idees identifiseer nie. En dit is alles reg – daar is vir elkeen ʼn plekkie in die son.

Met so ʼn uitdaging steek ek nou eintlik my kop baie bewustelik in ʼn tamaaie byenes in en sal nie verbaas wees indien hy gou ʼn paar knoppe gaan opdoen nie. Hubby het my al vroeg na ons kennismaking ingelig dat mens nie oor politiek en godsdiens praat nie want dit loop te maklik op n stryery uit. Jy hou jou mond en sit op jou handjies. En in hierdie huis waag ek dit ook nie om te kibbel oor die teenstellings wat in die Bybel voorkom nie. Sommige onderwerpe is nie onderhandelbaar nie en vrede is verkieslik bo ʼn getwis oor iets wat nie werklik die onrus werd is nie.

Die heel oudste geskrif wat ek dus al onder oë gehad het, is sekerlik die Bybel. Kleintyd al het ek geleer om dit wat daar staan nie te bevraagteken nie. Daardie boodskap was immers afgelewer tesame met “ek is jou ma/pa en jy sal ten alle koste vir my luister”. Tog kan ek soms nie help om te wonder waarom ons in twee-duisend jaar as mens en samelewing en as intellektuele wese soveel kon groei en verander, en steeds elke ding tot op die laaste letter moet uitvoer nie. Ek bedoel, die uwe se uitgebreide familie is byna fanaties in die nakoming van die Tora en is op die oog af besig om vir hulself ʼn mooi plekkie oop te werk.

Maar net vanoggend lees ek ʼn artikel van ʼn mede-gelowige wat ʼn paar stukke uit die Bybel aanhaal. En soos te wagte kan wees is Ryan Chase, ʼn Pastoor in Sioux Falls, South Dakota, besig om ʼn groot preek af te steek oor hoe mens aan rou uitdrukking BEHOORT te gee. Jip, en hy haal al die mooie teksverse uit die Bybel aan wat vertel hoe ʼn gelowige nie behoort te rou nie. Sulke goed maak my nie net warm onder die kraag nie, my hele lyf begin sommer brand. Hy verloor uit die oog dat elke mens en elke situasie uniek is en dat een pleister nie vir almal dieselfde plak nie.

Ryan Chase het een van sy tweeling baba seuntjies begrawe – baie hartseer inderdaad. Hy begin sommer om die stelling “daar is nie ʼn verkeerde manier om te rou nie” uit te daag. Volgens hom is daar net een manier, en dit is die Bybel s’n. Hy verloor heeltemal uit die oog dat mense nie in klein boksies gebore en getoë word nie en dat ons darem al in die laaste twee-duisend jaar meer kennis opgedoen het en vooruit beweeg het. Ons doen dinge bloot net anders as doerie tyd! As dit nie so was nie, sou ons steeds te voet oor stowwerige paaie van een dorp na die ander beweeg het.

Boonop preek hy dieselfde woorde wat ek al meer as een keer uit ʼn ander se simpatieke mond moes aanhoor. (Simpatie, wanneer jy iets nie met jou hart verstaan nie, is leë woorde.) Ek wil dit eintlik voorskryf noem, maar omdat dit so in die Bybel staan, is dit natuurlik vir baie die eerste en laaste woord. En omdat dit in die Bybel staan, is dit reg en gepas vir enige situasie.

Hy vergeet dat die samelewing ʼn eeu of twee gelede eers die bedroefdes toegelaat het om ʼn jaar lank sonder skaamte swart klere te dra. Dit was bloot die uiterlike stelling aan die wêreld dat jou hart seer is. Daarna was dit as verkeerd gesien en in die laaste eeu is die mense byna geforseer om “asb. net nie daaroor te praat nie”, want dan rol jy soos ʼn varkie in jou hartseer (geniet dit seker ook) en, ons wil asseblief net nie daarvan weet nie. Dus, die moderne mens word aangemoedig om asseblief net so gou moontlik te vergeet want, volgens die geleerdes (en ongeleerdes wat dink hulle verstaan alles), mag jy nie “if only” of “what if” vra nie. Jy moet jou trane ten minste reeds na die derde dag kan afdroog en treur soos ʼn gelowige mens wat in die ewige lewe glo. Mense wat vrae vra (wat ʼn heeltemal natuurlik gebeurtenis in ʼn baie moeilike situasie is), treur dus soos ʼn ongelowige. Miskien praat hy nie die hele waarheid oor dit wat dalk in sy huis gebeur het, die oomblik wanneer die voordeur agter die laaste besoeker se hakke toegeslaan het nie.

Neem die kennis dat jou geliefde in die hemel is dan die hartseer en pyn van verlies weg? Ongelukkig nie. Jy kan aan die ewige lewe glo en sonder twyfel weet dat hierdie persoon ook daarin deel, steeds onbeskryflik hartseer wees en langer treur as wat die samelewing daarvan wil hoor. Geloof is nie ʼn wonderpil wat alles net regmaak nie asof iets nooit gebeur het nie. Jy sal lang trane huil en dit is goed om daardie trane te stort. Dit wat teruggehou en onderdruk word omdat jy as Christen veroordeel word omdat jy huil (ja, been there, heard that) sal uiteindelik jou gesondheid en selfs jou lewe kos.

Geloof is nie die plaasvervanger vir hartseer nie. Dit maak niks reg nie. En beide die gelowige en ongelowige huil ewe hard wanneer hul hart en drome aan flenters lê.

Openbaring 21:4 word gou uit verband aangehaal en as ʼn troos aangebied. “Hy sal al die trane van hulle oë afdroog. Die dood sal daar nie meer wees nie. Ook leed, smart en pyn sal daar nie meer wees nie. Die dinge van vroeër het verbygegaan.” Job se storie word net soveel verkeerdelik opgedis en eintlik redelik misbruik. ʼn Absolute gunsteling wat my oombliklik van bloedgroep laat verander is Matteus 5:4, “Geseënd is dié wat treur, want hulle sal vertroos word.”

Ek sal nooit voorstel dat die Bybel verander moet word nie maar kan nie help om die begeerte te hê dat die druk-pers ‘n probleem mag ontwikkel en ‘n paar versies per ongeluk kan verdwyn nie. Eintlik is dit eerder die leser se plig om met groot omsigtigheid om te gaan met dit wat hy uitdeel as ‘goeie raad’. Net omdat dit daar staan en ons dit as die Woord van God aanvaar beteken nie dat dit van toepassing op elke situasie is nie. Dit is om ʼn saak onnodig te oorvereenvoudig sonder om al die komplekse fasette daarin raak te sien.




TEMAS
2 Kommentaar
  1. Anze

    27 Maart 2019

    Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die Maart 2019 projek

  2. Toom

    30 Maart 2019

    So reg na my smaak!
    Dankie, hoor.
    Dit sluit so reg aan my Artikels BYBELVERTALINGS en DIE ALLERHOOGSTE uit 2017 aan.
    Of beter gesê: My lang (langwierige) artikels sluit hier aan.
    Nogmaal baie dankie vir ‘n leesbare, lesenswerte uiteensetting oor hierdie tema.
    GvT

Laat u kommentaar

GESKRYF DEUR

Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

Publikasies: 43
Kommentaar telling: 87

Hier's ek weer, Hier's ek weer, Met my storie voor jou deur....   HOOP, 'n Reis van Rousmart na Heling (2015) Guppy en Anderste Stories (2018) vir navrae, e-pos aan Floksie@telkomsa.net

Gebruikers Aanlyn

1 Lid, 57 gaste aanlyn

Bydrae Totale