Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: Bosveldstilte deur Lynelle Clark

Deur Lynelle
Datum gepubliseer: 15 Oktober 2019 Aantal woorde: 611 33 Kere gelees 3

DAAR IS IETS WAT KENMERKEND is van die bosveldstilte wat jy nie ervaar op ander plekke nie. As gereelde kampers beleef ons dit dikwels.
Dit is ‘n stilte wat jy voel tot in jou beendere en jou heel laat. Van die noorde tot die suide van die land is die bosveldstilte eiesoortig. Die stilte se spore in jou gemoed altyd treffend wanneer jy terug verlang na die besondersheid en sodra jy weer daar kom voel jy tuis. Op jou gemak en gerus; reg soos koffie kapitaal vroeg in die oggend.
Dit is baie meer tasbaar in die aandskemering en nag. Die getinte hemelruim in goud gehul wat jou Asemloos laat. Deur die dag is dit die sonbesies, swerms vlieë en derglike insekte plus die dag tot dag take wat jou besig hou maar laat middag tot skemer begin jy rustig raak, selfs die muskiet iets wat jy vinnig wegklap terwyl die natuur se magnetisme ‘n daadwerklike invloed het wat jou outomaties lei na buite. Na die ooptes en jy jou longe vol trek van die vars lug.
Voor die bostv kan jy die stilte hoor in die soelheid van die aandskemering. Die geritsel van die natuur in wonder soos dit haarself gereed maak vir die donkerte. Die volmaan wat stadig maar seker die hemelruim klim kompleet asof hy opgetrek word aan ‘n katrol. Verskans tussen blare en takke klim hy die hemelruim op ‘n defnitiewe koers. Die natuur se kleur verandering laat ‘n heimweë agter verskans in skaduwees wat dan in jou beendere kom sit. Dit dwing jou om te ontspan sodat jy ingestel kan word op die mees basiese dinge. Niks is dan meer belangrik as daardie oomblik vasgelê in tyd nie. ‘n Tyd van gesels, vriende maak, suie aan ‘n glassie rooiwyn omring met die nagtelike geluide terwyl die vuur sy dans dans.
Die vuur praat sy eie taal soos dit suis en kners. Die ligte bries laat vuurvliegie-tonge rond dans, net so bo die gloeiwurmhout. Snoesig in sy vuurkombers. Net om so nou en dan te knetter in luide klanke gevul met hitte en energie. Dit boei jou. Vernuwe jou. Jou praat en lag kom dan natuurlik, jou luister beter ingestel. Daardie oomblikke van saamwees skep ‘n nuwe energie in jou eie wese maar maak jou kalm meer oplettend.
Dan is daar die wind wat behoorlik baljaar tussen die droeëblare. Diè jaar is die bome en veld dor van dors nog so laat in Oktober. Gestroop van groenigheid is hulle nog verskuil in hul bruin wintersgewaad. Skakerings van groen ‘n kleur wat jy kry rondom die watergat of spreier, vir die wat nog gelukkig is om ‘n boorgat te hê.
Tussen dit als bly die stilte praat. Sy stem stil met ‘n defnitiewe suising wat so nou en dan versteur word deur die geritsel van die wind of die klap van die vuur. So asof hulle in ‘n vergadering is. Met ordelike tussenposses en individuele spreekbeurte.
Dit is dan wat jy as mens net kan luister na die stil klanke. Die harmonie van natuur, stilte en vuur asook die wind in ‘n eenheid vasgevang wat jou wese vul met geure en verlange. ‘n Verlange na dinge wat jy nie behoorlik weet nie. Na die onmeetlike soos die uitspansel bo jou uitstrek, die flikkerende sterre ‘n herinnering van ‘n Hoër hand. Wat jou opnuut weer klein laat voel. Jou aandag vasgevang in die wonder wat om jou afspeel.
Ja, die stilte is ‘n defnitiewe gebeurtenis wat jou versadig laat. ‘n Versadiging van innerlike vrede dat dit môre sal goed gaan, dat vandag verby is. ‘n Gewaarwording so groot soos die uitspansel self.
Kopiereg voorbehou

Foto geleen




TEMAS

Laat u kommentaar

GESKRYF DEUR

Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

Publikasies: 65
Kommentaar telling: 12

Ek het my eerste boek in 2012 gepubliseer en my tweede in 2014. Ek hou van nuwe uitdagings en is gereeld besig om my skryfkuns te beoefen. Ek is woonagtig in Alberton, Gauteng.

Gebruikers Aanlyn

4 Lede, 122 gaste aanlyn

Bydrae Totale