Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: Bome, Paadjies en Feë Maatjies

Deur Ronel Janse van Vuuren
Datum gepubliseer: 27 September 2016 Aantal woorde: 2406 1443 Kere gelees 8

Die groep van ses loop teen ‘n stywe pas oor die ongelyke grond paadjies deur die woud. Carla is fiks genoeg om deur ‘n inkopiesentrum te warrel, maar hierdie natuur stappie laat haar bene brand. Sy’s seker dat hulle nog nie eens twee ure aan die gang is nie, maar dis defnitief tyd vir ‘n ruspose. Nie dat sy kla nie: dis onaantreklik.

Hierdie staptog was nie haar idee van ‘n ideale wegbreek naweek nie – wie stap vir pret van George na Knysna deur die woud? Toe Ivan gesê het hulle gaan stap en bome kyk, het sy ‘botaniese tuine’ gedink.

Varings wat lyk soos monsters – vergelykend met die een in haar badkamer – groei orals. Die bome om hulle is hoog en groot genoeg om die son die meeste van die tyd te keer, maar dit stel teleur. Sy’t massiewe bome verwag soos in die flieks – nie hierdie dun stam goedjies nie. Net die mos wat orals in die nat bos groei val nie kort van haar verwagtinge nie. Die ruie bosse keer dat sy deur die woud kan sien. Dis soos ‘n labirint wat haar alleen laat voel in die bos.

Die ander dra diksool stapskoene wat al goed gebruik is as die verblykte kleur en veters in fraiings geglo kan word. Hulle dra dit met klere wat lyk soos die duur goed wat sy in die buiteluglewe winkel gesien het toe sy haar nuwe stapskoene en dik kouse gekoop het. Sy dra sommer ‘n denimbroek en ‘n liggewig baadjie wat sy gekry het as verjaarsdag geskenk vroeër die jaar van haar vriendin wat heel voor loop. Sy skud haar kop. Nou weet sy dat hulle die ding al lank beplan.

Die klein rugsak wat sy moeisaam dra het haar middagete in sowel as verskeie bottels water. Nie dat sy sommer sal drink nie. Dis nie asof sy al ‘n toilet gesien het nie…

‘Kan ons dalk rus?’ vra sy. Haar bene voel asof ‘n seekat haar beet het en sy dit moet saam sleep.

‘Eers oor ‘n uur,’ kom die antwoord van voor.

‘Asseblief. Net vir vyf minute,’ smeek sy.

‘Nee.’

Die ander hou aan loop. Sy kan dit skaars glo. Dis nie asof sy kerm en kla oor die pas wat hulle aangee nie. Sy wil net vir ‘n oomblik haar bene lig om bloedvloei weer reg te kry.

Sy wip haarself en gaan sit op ‘n rots. Die paadjie draai nie te veel nie, so sy kan hulle dophou terwyl sy net vir ‘n oomblik rus.

‘Ek wonder of hulle dit eens sal besef…? Waarom is ek hier?’ vra sy haarself terwyl sy haar seer kuite masseer.

Haar bene voel nie vreeslik beter teen die tyd wat sy moet opstaan om hulle in te haal nie. Toe sy aan die einde van die paadjie kom, staan sy verstom. Sy’t aangeneem dat dit net nog ‘n kronkel soos al die ander gaan wees. Maar hier verdeel die pad in drie. Watter vurk het die ander gevat?

Angs laat haar vinniger asemhaal terwyl dit haar hart pynlik druk. Sy’t nie ‘n idee waarheen hulle gegaan het nie. As sy die verkeerde paadjie kies, kan sy dalk vir ewig in die woud ronddwaal. Sy kan ook nie net daar bly nie. Wie sê hulle gaan agter kom sy’s weg en haar soek? Terugdraai kan sy ook nie. Met haar geluk verdwaal sy dan éérs.

Vrees laat haar versteen staan. Sy kan dit nie glo nie: sy wou nie eens op hierdie simpel uitstappie gaan nie en nou is sy alleen in die bos.

Sy begin hortend asemhaal. Die bome draai om haar soos ‘n maalkolk en sy weet dat sy ‘n paniekaanval beleef. By die huis sou iemand geweet het wat om te doen, dink sy onsamehangend voordat die swart haar verswelg.

 

Sy word wakker, uitgestrek op die bosvloer. Sy sug hard terwyl sy kyk na die hoë boomtoppe. Sy weet dis haar eie skuld dat sy hier is. As sy nie vir Ivan wou beïndruk nie – dat hy haar dalk eindelik sal sien as vrou – was sy nou êrens in ‘n inkopiesentrum veilig tussen klere en verkoopsklerke in plaas van bome en kabouters.

Sy skrik en sit regop. Wraggies! Kabouters, soos sy hulle onthou van stories op TV toe sy klein was, omsingel haar. Skerp ore en al. Sy maak haar oë toe. Dalk het sy haar kop op ‘n klip gestamp? Sy maak haar oë weer oop. Nee. Hulle is steeds daar – elkeen so groot soos haar duim. Hulle is tussen die veelkleurige bosse en op die varings en van hulle val uit die bome met groot blare as valskerms.

‘Sy’s lewendig!’ gil ‘n groen kabouter verskrik.

‘Vals alarm!’ skree ‘n ander.

Van die kabouters lyk teleurgesteld en verdwyn weer terug in die woud in. Carla wonder of sy hulle skerp gesiggies reg gelees het. Hoekom sal hulle teleurgesteld wees dat sy nie dood is nie?

‘Soveel vir middagete!’ sê ‘n groen ene langs haar.

Ah, dink sy. Dit verduidelik baie.

‘Eet julle gereeld enigiemand wat doodval in die woud?’ vra sy nuuskierig.

‘Dis een manier om die woud skoon te hou,’ sê die kabouter wat so teleurgesteld oor middagete geklink het. Vier kabouters het agtergebly: een van hulle is bruin en die ander drie is groen.

‘So, wat het met jou gebeur?’ vra ‘n groen kabouter met ‘n stem wat defnitief vroulik klink.

‘Ek’t verdwaal.’

‘En toe verloor jy jou bewussyn. Logies,’ sê die ander groen kabouter.

‘Wens ons kan jou help,’ sê die eerste groen kabouter, ‘maar ons moet nog kos vind voordat die dag verby is.’

‘Wag!’ sê sy en haal haar rugsak af. ‘Wat as ek julle vergoed met kos? In ruil daarvoor dat julle my kry waar ek veronderstel is om te gaan in die woud?’

Die groen kabouters kyk gretig na die bruin een. Carla besef dat hy dalk ouer as hulle is. Hy knik.

‘So, hoe het jy op jou eie in die woud beland?’ vra die vroulike kabouter terwyl Carla haar middagete uitpak.

Sy verduidelik wat gebeur het.

‘Dis sommer net gemeen van hulle,’ sê een kabouter.

‘Het ek ook gevoel,’ sê sy terwyl hulle haar middagete deel. ‘Seriously, wie behandel hul vriende so?’

‘Dalk probeer hulle jou ‘n les leer,’ sê die bruin kabouter.

‘Soos wat?’ vra ‘n groen kabouter en sluk ‘n springmielie heel in.

‘Miskien dat sy die natuur meer moet geniet?’ sê-vra hy en skud sy kop met ‘n frons soos hy vir die een kyk wat so half-en-half aan die springmielie stik soos hy dit afsluk.

‘Ek hou van die natuur. Maar dit beteken nie ek wil déél van dit word nie,’ sê sy en drink die koffie wat sy saam gesmokkel het.

‘A – ons sal jou wys hoe om die natuur te geniet,’ sê die kabouter wat die springmielies geniet.

Nadat hulle alles geëet het en weggepak het, lei hulle haar dieper die bos in. Weg van die paadjies.

Wit blomme groei in ‘n ring. Tussen hulle is vuisgrootte klippe met helder mos wat die ring verseël. Die ring gloei en Carla kan voel hoe sy nader getrek word. Wanneer sy binne die blom-rots-mos ring staan, gloei dit so helder dat sy haar oë moet toe maak.

‘Nou kan on jou wys hoe om die woud te geniet.’

Sy kyk rond. Sy kan nie glo dat sy so groot soos die kabouters is nie.

‘Wow,’ sê sy met wonder terwyl sy om haar kyk.

Die varings beweeg en sy word daarop gevang. Hulle hou aan beweeg en sy kan skaars glo dat hulle deur die woud beweeg.

‘Is dit nie pret nie?’ vra ‘n groen kabouter wat rondspring op die varings.

‘Seker,’ as jy dink dat alles ‘n grap is, maak sy haar sin klaar in haar gedagtes.

‘So, wat dink jy van ons handewerk?’ vra die vroulike kabouter.

Carla kyk verbaas rond.

‘Ons hou die woud aan die gang. Nie net plant ons nuwe boompies nie, ons het verskeie insekte wat vir ons werk,’ sê die ernstige groen kabouter.

‘Buiten dit,’ sê die bruin kabouter, ‘maak ons agter mense skoon wat ons woud soos ‘n asblik behandel.’

Carla kyk skuldig weg. Sy weet wat mense aan die planeet as ‘n geheel doen. Hoekom sal hierdie woud anders wees?

Soos die varings hulle teen ‘n gevaarlike spoed deur die woud vat, sien sy bome wat sy nie eens geweet het bestaan nie. Die varings vat hulle ook oor verskeie stroompies en selfs ‘n klein waterval. Die verskeie blomme – selfs varkore – laat Carla gereeld na haar asem snak.

Sy’t ‘n nuwe waardering vir die woud.

‘Waarnatoe was julle oppad?’ vra die bruin kabouter.

‘Een of ander geelhoutboom. Asof ek die verskil ken.’ Sy sug en kyk na die verskillende bome om haar. Die enigstes wat sy herken is die dennebome – en selfs hulle het verskillende soorte.

‘Daar’s ‘n spesiale geelhoutboom waarheen baie mense gaan,’ sê die ernstige groen kabouter.

‘Hoekom?’ Sy kan dit glad nie verstaan nie.

‘Sy’s baie oud,’ sê die groen kabouter met wydgestrekte oë, ‘en baie wys.’

‘Sy?’ vra Carla versigtig.

‘’n Boomnimf woon in die massiewe geelhoutboom. Sy’s die oudste boomnimf in die hele woud,’ sê die bruin kabouter en knik sy kop asof hy elke woord wat hy uiter beaam.

‘O-kay,’ sê sy sag. Sy’s steeds nie seker wat aangaan nie. Wie in hul regte verstand praat met feetjies oor feetjies?

Die varings vat hulle oor ‘n houtplankpaadjie en stop. Carla val amper af.

‘Daar is sy,’ sê die lawwe kabouter eerbiedig.

Carla kyk op.

‘Wow. Sy’s pragtig,’ sê sy in dieselfde stemtoon as die kabouter.

Bas wat kraak met mos wat binne dit begin groei laat die stam lyk asof dit vervel. Die takke is so hoog dat dit nie gebruik kan word om die boom te klim nie. Die reguit stam gaan op, op hoog bo al die ander bome.

‘Kom, jy moet weer jou gewone self word.’

Die varings vat hulle ‘n entjie weg na nóg ‘n Feetjie Ring. Carla klouter oor die klippe en voor sy haar oë kan knip, is sy weer groot.

Sy volg die kabouters wat oor die plante skarrel terug na die geelhoutboom.

‘n Houtplankpaadjie lei na die boom en om dit. Selfs noudat hulle haar weer haar gewone grootte het, is die varings groot. En die geelhoutboom massief.

‘Toe ek nog groen was,’ sê die bruin kabouter, ‘was hierdie hele woud gevul met bome so groot soos dié een.’

‘Jy was nooit groen nie!’ skerts die groen kabouter wat duidelik die nar tussen hulle is.

‘Het hulle almal ‘n nimf gehad wat in hulle gewoon het?’ vra sy.

‘Nee, nie almal nie,’ sê ‘n nuwe stem hartseer.

Die kabouters val plat op die grond. ‘n Liggroen vrou stap uit die boom uit. Sy dra ‘n rok wat van die boom se blare gemaak is.

‘Jy’t meer hulp nodig as wat die liewe kabouters jou kan gee,’ sê die nimf vir Carla.

Die mensvrou knik stom.

‘Jou vriende is nog jonk – hulle sal nog leer dat jy nie net ‘n voëltjie in die lug kan gooi en hoop dit vlieg nie. Gelukkig het die kabouters jou gevind.’

Die boomnimf draai haar kop na die kant. ‘En net dalk is hy net so bang soos jy vir verhoudings. Maak die eerste stap.’

Sy knik vir hulle en verdwyn terug in haar boom in.

‘Dankie,’ sê Carla sag. Die nimf het haar baie gegee om oor te dink.

‘Ons sal hier by jou bly totdat jou vriende opdaag,’ sê die ernstige kabouter na ‘n ruk.

‘Hoe lank dink julle gaan my vriende vat om hier uit te kom?’ vra sy nuuskierig.

‘Seker nog ‘n uur of wat. Dit hang af hoe vinnig hulle loop,’ sê die bruin kabouter.

Sy glimlag en haal haar slimfoon uit haar rugsak.

‘Wat doen jy?’ vra die kabouter nuuskierig.

‘Ek gaan ‘n blog begin oor die woud. Hoe wonderlik dit hier is en hoe om dit te beskerm.’

‘Asof jy als weet,’ brom hy.

Hulle kyk nietemin vreeslik geïnteresseer na die tegnologie in haar hand.

‘Sosialemedia kan baie meer mense bereik as die vaal plakkate en pamflette wat ek gesien het by die ruspos waar ons begin stap het vanoggend.’ Sy tik ‘n paar knoppies op die raakskerm en maak ‘n nuwe blog. ‘Buitendien – geen bome hoef te sterf hiervoor nie en dit maak nie rommel nie.’

Die kabouters oe en a oor alles wat sy op die klein skermpie doen.

‘Die woud is goed vir die liggaam – en nog beter vir die siel. As jy nodig het om te ontspan of net te ontsnap, is die woud vir jou. Met al die verskeie bome en plantegroei wat jy nooit eens verbeel het bestaan nie, kan jou perspektief op die lewe verander word in een oggend.’ Sy tik dit vinnig op die skerm.

‘Dink jy ons kan ook ‘n blog hê?’ vra die bruin kabouter versigtig.

‘Hierdie kan óns blog wees,’ antwoord sy. ‘Hier,’ sy sit die slimfoon neer. Hulle kyk grootoog vir haar. ‘Waaroor wil jy praat? Besoedeling in die woud? Hoe om loeries in toom te hou?’

‘Enigiets?’ vra die groen kabouter stout.

‘Solank dit oor die woud gaan.’

‘Ons kan nie al die inligting nou skryf nie,’ sê die bruin kabouter met ‘n frons.

‘Natuurlik nie. Ek sal elke naweek afvlieg, dan kuier ons hier in die woud en skryf ons blog. Hoe klink dit?’

‘Na ‘n interessante plan.’

‘Jou vriende is oppad,’ sê die ernstige kabouter.

Hulle kyk harsteer vir mekaar.

‘Hier,’ sy haal die sakkie kos uit wat sy hulle belowe het. ‘Geniet.’

Hulle vat dit by haar.

‘Sien jou volgende naweek,’ groet hulle en verdwyn in die ruie bosse in.

Sy staan op en leun teen die hout reling wat om die boom gaan. Sy lag vir haar vriende wat moeg aangeloop kom. Hulle lyk verdwaas dat sy voor die yslike geelhoutboom vir hulle wag.

‘Julle was maar lekker stadig, né?’ sê sy.

‘Wat het jou besiel om te verdwyn? Weet jy hoe bekommerd ons oor jou was?’ raas Ivan.

Sy soen hom om hom stil te maak. Verbaas, soen hy haar terug.

Hul vriende fluit en klap selfs hande. Carla ignoreer hulle; sy’t soveel meer as wat sy daardie oggend gehad het. Sy kan die kabouters hoor giggel in die bos agter haar.




TEMAS
2 Kommentaar
  1. neels

    28 September 2016

    ek het hierdie storie baie geniet Ronel

Laat u kommentaar

GESKRYF DEUR

Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

Publikasies: 99
Kommentaar telling: 265

Daagliks skryf ek die stories neer wat in my kop woel. Of dit nou oor olifante en kabouters in die Knysna bos is en of dit oor ‘n tienermeisie is wat die wêreld moet red, ek is daar. My wêreld draai om my twee Rottweilers – hulle leer my om die perfekte dag na te streef, want vandag kan die laaste wees. Die perfekte dag: lag, dink en huil. Om te skryf maak elke dag die perfekte dag. In 2016 EN 2018 was ek ook benoem as Verhaalskrywer van die jaar hier op INK. Ek kan gevolg word op Twitter @miladyronel en meer van my gedagtes kan gevind word op my webtuiste http://www.ronelthemythmaker.com.

Gebruikers Aanlyn

0 Lid, 62 gaste aanlyn

Bydrae Totale