Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: Bismarck, die Rottweiler

Deur Lynelle
Datum gepubliseer: 13 Desember 2019 Aantal woorde: 828 83 Kere gelees 1

Ek en Isak het mekaar ontmoet op die 14de April 2017. Vandaar af was ons lewe gevul met die goeie en die nie so goeie tye. Ons het ook al ‘n sak sout of twee opgeeet in die kort tyd. Dinge wat ons goed geskaaf het sodat ons nog bymekaar is. Dit is al ‘n wonderwerk. Maar daar is tog dinge wat konstant bly.
In baie nuwe verhoudings is daar altyd dingetjies wat dierbaar is of uitstaan en waarmee die ander party vergas word met staaltjies van die dierbare cuteness. Jy verdra dit want dit is deel van daardie persoon.
Bismarck is een so ‘n konstante staaltjie wat gedurigdeur op kom. Ongeag die gebeurtenis, as die onderwerp na honde draai word Bismarck genoem; met trots. Of, wanneer ons verby ‘n huis ry met ‘n rottie wat stertswaaiend voor die hek staan, word ek breedvoerig ingelig oor Bismarck se merkwaardige verskille en dat die hond net nie in dieselfde klas is as sy rottie nie. As jy nou ‘n hondesnob wil ontmoet dan is Isak jou man.
Ek het Bismarck nog nooit ontmoet nie maar die Rottweiler is “larger than life” in ons verhouding. Toe ons by ‘n hondeskou was in Gallagher in die winter moes ons oplaas na die rotties gaan kyk. Dit was nou behoorlik ‘n gedoente. Soos ‘n opgewonde kind het Isak my rondgetrek van een kampie na die ander en is elke hond breedvoerig bespreek. Van die manier wat die stert gehou word, die reguit rug tot die manier wat die hond beweeg of staan. Of ek nou wil weet of nie, ek moet luister. Ek dink nie ek is al ooit so baie breedvoerig oor ‘n hond ingelig soos met die rottweiler nie.
Huidiglik hang daar ook ‘n skildery in ons kamer van die groot hond met die blink pels en groot pink tong. ‘n Pragtige skildery deur een van ons Faceboek vriende, Elsa du Plooy.
Om die waarheid te sê, toe ons in Julie ‘n vakansie wegbreek verniet ontvang het, het ons Elsa ontmoet. Sommer so in die warm swembad en was ons werklik begeesterd deur die aangename en opkomende kunstenaar. Toe ons deur haar portfolio blaai was Isak se eerste woorde aan haar, “Sal jy Bismarck kan skilder?” Die man was nou behoorlik begeesterd en was ek deur elke stap van die skilder proses vergas op Faceboek. “Het jy gesien hoe vorder sy?” of, “Hy lyk mooier as die foto.” Moes ek aanhoor vir ‘n week lank en toe ek van die Eksderde kamp af kom in November hang Bismarck in my kamer.
Bismarck is Isak se hond vir die laaste paar jaar maar vandat hy geskei is het die hond agtergebly om nog die voordeel van die groot erf te kan benut. Isak was bereid om met baie min oor die weg te kom in daardie tyd solank Bismarck net gemaklik is.
So ‘n ruk gelede, my gedagtes ontgaan my nou presies wanneer, is Bismarck gediagnoseer met kanker en moes uitgesit word. Toe Isak die nuus hoor was hy stil. Trane het geloop en het hy homself onttrek van almal in die huis. Deur die nag was hy rusteloos maar die volgende oggend laat weet hy sy dogter om Bismarck nie te laat uitsit nie. God sal hom genees. Hy was so oortuig dat niemand hom sou kon oorreed het om sy gedagtes te verander nie. Ek dink nie ek het al ooit iemand so hard hoor bid vir ‘n hond nie. Maar die gebed van ‘n gelowige dra veel krag en die hond se lewe is gered. Nou hardloop hy weereens die wêreld vol en gaan dit baie goed met hom, en Isak.
Dit is die een ding van ‘n egskeiding, dit ontneem jou van diere en selfs mense met wie jy ‘n hegte band gevorm het en dan, skielik, omdat jy en sy nie meer oor die weg kom nie word daardie hegteband verbreek. Isak het al verskeie kere probeer om weer die hond te sien na al die jare maar was tot dusver nog onsuksesvol. Daarom verdra ek nou maar die hond in my kamer. Ek kla nie as ek my oë oopmaak en die rottie lê oop mond vir my en kyk nie, hoekom, want dit maak Isak gelukkig. Gelukkig maak die raam op daarvoor… danksy Elsa. Miskien het sy iets aangevoel die dag tydens ons ontmoeting, hoe ook al als werk ten goede uit.
So is dit in enige verhouding, reg. Ons verdra mekaar, leer om dinge te geniet wat vir die ander belangrik is en deel in die lief en leed al is die hond eintlik ‘n vreemdeling vir jou. Bismarck is ‘n lewensgrote werklikheid maar vir Isak is hy ‘n konstante persoonlikheid wat hom in ‘n groot mate anker.
So hou ons almal vas aan iets of iemand, dit anker ons en gee ons die rustigheid ongeag die ander veranderde dinge in ons lewens. In Isak se geval is daardie anker (benewens God) Bismarck.




TEMAS

Laat u kommentaar

GESKRYF DEUR

Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

Publikasies: 70
Kommentaar telling: 14

Ek het my eerste boek in 2012 gepubliseer en my tweede in 2014. Ek hou van nuwe uitdagings en is gereeld besig om my skryfkuns te beoefen. Ek is woonagtig in Alberton, Gauteng.

Gebruikers Aanlyn

1 Lid, 51 gaste aanlyn

Bydrae Totale