Jongste aktiwiteit:

Riaan Palmer
vir
0 views

Riaan Palmer

Lees meer oor Riaan Palmer

April 2019 Humor projek

2.Dag van die beduiwelde eiers

Ouvrou Wippers is toe nou uiteindelik dood. Askies dat ek sê “uiteindelik” maar ek glo die dorpenaars sal ieder en elk saamstem dat “uiteindelik” die regte woord is. Niemand is seker hoe oud sy was nie. Katryn Brilboks, die bibliotekaresse, het navorsing gedoen en die vroegste verwysing wat sy in ‘n ou koerantuitknipsel kon kry, dui daarop dat Ouvrou Wippers omtrent 124 jaar oud was.

‘n Mens praat nou nie sleg van ‘n ontslape nie, maar niemand waarvan ek weet het van Ouvrou Wippers gehou nie. Sy was doodeenvoudig nou maar net ‘n onaangename, knorrige vrou. As jy haar die eerste keer gesien het dan sou jy gedink het sy loop en kou ‘n suurlemoen, want jou gesig lyk mos net so as jy iets suur eet. Maar nee, dis sy maar hoe sy gelyk het. Suur. Dis hoe haar hart ook was. Suur. As sy die dorp ingestap het verdwyn die res van die dorpenaars by die anderkant uit. Los sommer alles waarmee hulle besig was net so, of dit nou ‘n trollie vol inkopies of ‘n half-gesette perm was, jy vlug. More is nog ‘n dag. Die wat nog nie van beter geweet het nie, het gaan staan en kyk hoe die ou vrou aangestap kom, want dit was ‘n eiesoortige skouspel. Ouvrou Wippers het mos groot geword in die tyd van korsette en toe sy mondig word weier sy botweg om enige iets aan te trek ‘vir ondersteuning’. Sy het gemeen haar lyf is nie ‘n rankplant wat vasgebind moet word nie, en alles laat loshang wat wou loshang. Na 100 jaar se gravitasie hang dinge wat hang mos maar laer en losser as in die verlede. As sy loop lyk dit kompleet soos ‘n oupa klok met twee pendulums.

Ouvrou Wippers het altyd iets gehad om oor te kla of te kritiseer. Mens sal sweer sy was die gemeenskaplike skoonma vir die hele Vaalwater. As jy per ongeluk paaie met haar gekruis het, dan het die ‘gesprek’ (wat gewoonlik maar ‘n monoloog was) altyd begin met “Wat kyk jy? Ek het nie jou brood gesteel nie!”, al het jy nie eers vir haar gekyk nie. Sodra sy jou aandag het, dan het sy van die geleentheid gebruik gemaak om vir jou mooi te verduidelik wat jou grootste foute was
“’n Dame van jou raamwerk moet mos nie pienk dra nie. Swart is al wat die voue gaan help wegsteek. Dan moet jy begin blare eet. Mens kan mos sien dis al dertig jaar se melkterte wat daar op jou boude lê gekry het. Groen goed is al wat gaan help. Of nog beter: Hou jou kake vir so paar dae stil.”
“Dame, verbeel ek my of is daar alweer ‘n broodjie in die oondjie? Wat is dit nou? Pyporrel nommer 6? Goeie genade. Dalk maar bietjie leer om ‘dankie maar nee dankie’ te sê vir al wat man is wat vra.”
Dan het sy omgedraai en om die hoek verdwyn terwyl jy sprakeloos daar staan en selfondersoek doen.

Die eerste keer wat ek die ou vrou in aksie gesien het, was toe ons by die een en enigste restaurant op Vaalwater gesit. Ons kos het nét gekom, toe sê my pa ons moet maar sit en eet, ons kan nie nou vlug vir Ouvrou Wippers nie. Swaai Ouvrou Wippers die restaurant binne en gaan sit by die tafeltjie langsaan. Ons gesinnetjie staar koponderstebo almal na ons borde kos asof dit die interessantste aanskouing in die geskiedenis van tyd is. Sy bestel ‘n glas kraanwater met ys in, maar “nie te veel ys nie, anders raak die water te flou”. Nie lank nie en sy roep die kelner weer nader.
“Draai bietjie daai lugverkoeler van julle af, kêrel, ek gaan verkluim hier waar ek sit. Die koue gaan sit in my beendere en dan moet ek weer die heeldag sjerrie drink vir bietjie hitte.” Kla sy.
“Ja Dame. Goed Dame.” is al wat die kelner sê en verdwyn agter by die kombuis in.
Enkele minute later klap sy weer haar vingers en beduie die kelner moet vinnig kom.
“Dink jy nou jy is ‘n hanswors? Nou kry ek weer so warm dat ek moet begin klere uittrek om te oorleef. Of is dit jou plan al die tyd? Draai die ding koeler.”
“Nee Dame. Goed Dame.” En hy verdwyn weer by die kombuis in.
So hou dit aan vir omtrent ‘n halfuur. Dán is dit te koud. Dán is dit te warm. Elke keer vra die kelner net om verskoning en verdwyn by die kombuis in. Toe sy uiteindelik haar glas water klaar gedrink het en duidelik so geïrriteerd is soos ‘n mamba met ‘n seer tand, verklaar sy dat sy nie meer honger is nie, en verdwyn swaai-swaai by die deur uit.
Toe die kelner weer by ons tafel uitkom vra my pa hom hoe hy so kalm bly met die moeilike kliënt.
“Nee. Ek gee nie om nie, Meneer.” Antwoord die kelner doodluiters. “Sy’s elke week hier. Elke keer dieselfde storie. Ek’s dit al gewoond.”
“Nou hoekom stel jy nie net die aircon die regte temperatuur dat sy jou kan uitlos nie?”
“Want ons het nie ‘n aircon nie, Meneer.”

Niemand weet hoekom Ouvrou Wippers so suur vir die lewe was nie. Vir ‘n bestaan het sy met slakke geboer en al wat ‘n restaurant in die Noorde verskaf met die beste en grootste slakke wat die Bosveld nog gesien het. My ma meen dit is oordat Ouvrou Wippers heeldag loop en praat het met die goggas in die hokke dat sy nie geweet het hoe om met mense te praat nie.
Dis ook waar hulle die ou vrou gekry het – daar in die slakhokke. Hulle weet nie hoe lank sy dood was nie, want met ‘n lyf wat so oud is weet jy nie wat is die dood en wat is net die ouderdom nie. My pa het gewonder of die slakke aan haar begin eet het, en net daar besluit om nooit weer ‘n knoffel slak by ‘n restaurant te eet nie. My ma was egter van mening dat een slak ‘n hap aan Ouvrou Wippers gevat het, en toe hy proe hoe bitter die vrou is, haar net daar gelos het.

Sy het natuurlik geen kind of kraai gehad nie – ‘n slak is mos nie ‘n kraai nie – so Dominee Sarel het dit maar op sy hande geneem om die begrafnis te reël. Ek het gewonder hoekom enigsins moeite doen, want g’n mens sou wou gaan gedenk of afskeid neem van die vrou nie. My ma het egter aangekondig dat ons gaan begrafnis toe want “sy was ons naaste en mens betoon respek aan jou eie mense”. Blykbaar het almal kammakastig so gevoel want die hele dorp was by die begrafnis. Almal het egter geweet – maar nie gesê nie – dat almal eintlik net wou seker maak dat sy regtig dood was en begrawe word.

My ma bied aan om te help met die happies vir na die begrafnis en so word die hele gesin in ‘n produksielyn gesit die aand voor die tyd. Ma besluit op beduiwelde eiers (ek weet tot vandag toe nie wat is die regte Afrikaans vir ‘deviled eggs’ nie). Pa dop af. Ma skep eiergeel uit en meng mayonnaise ek vul weer die eierwitte. Nou as ek twee swakhede het is dit fudge en beduiwelde eiers, en laasgenoemde kry jy moes net (vir onbekende redes) op ‘n begrafnis. Dit beteken natuurlik vir elke twee eiers wat ek vul daar net een op die skinkbord beland. Ma wonder aanvanklik hoekom 8 dosyn eiers so min lyk, maar toe ek nie wil aandete hê nie, toe verstaan sy die wiskunde beter.

Volgende oggend daag die hele dorp, al die maplotters en meeste van die Waterberge se boere by die kerk op. Daar was met die Mampoerfees van ‘87 laas so baie mense by die kerk. (Na die nagmaal wynkelkies ook betrek was by die Mampoerfees, was dit die laaste keer wat die fees by die kerk gehou was.) Ekstra stoele word uitgepak, en die sy-saal se deur word ook oopgemaak om plek te maak vir almal. Toe almal ‘n plekkie vir die agterstewe het, word die kis ingedra en Dominee Sarel skop af. Dominee Sarel wat aanvanklik net van plan was om Spreuke 24:17 te lees en vinnig op die gewetens te speel, is verheug om gemeentelede te sien wat hy laas by die Mampoerfees gesien het, en besluit toe om die laaste 3 weke se preke te herhaal vir almal wat dit gemis het.
So begin my marteling.

Daar is mos maar sekere soorte kos wat allerhande chemiese reaksies veroorsaak met ’n mens se maagsure. Dis ‘n natuurlike proses. Kool byvoorbeeld. En uie en bone en brokkoli. En eiers. Met my stadige metabolisme saam het gisteraand se beduiwelde eiers uiteindelik begin verteer. Dit gorrel. Dit broei. Dit kook. Dit maak gasse. Ek voel wat besig is om te gebeur. Dominee Sarel praat. Ek skuif dié kant toe. Dit begin kramp. Ek skuif dáái kant toe. Dominee Sarel praat. Die druk begin opbou en ek besef die kans het gekom en gegaan om stadig en geluidloos die druk onder beheer te hou. As enige kleppe nou oopgaan, gaan dit nie saggies wees nie. Ek konsentreer verwoed om te knyp. Dominee Sarel praat. Die sweet staan op my voorkoop soos kondensasie op ‘n koue bier. Dominee Sarel praat. Ek skuif rond met die hoop om gemak te kry. My ma gee my ‘n knyp – die universele teken dat ek moet stilsit. Dominee Sarel praat. Ek begin koue koors kry soos die druk op al wat ‘n senuwee punt is, opbou. Dominee. Sarel. Praat.

Ek besef hier is moeilikheid. Ek gaan ‘n plan moet maak. So vang my oog die groot Familiebybel langs my en ek kry die beste plan sedert die wiel uitgedink is. Ek gaan ‘per ongeluk’ die Bybel laat val en met die harde knal, sal ek die nodige druk verlig. Ek vat die swaar boek en maak asof ek die vers opsoek waar Dominee Sarel nou trek. Ek leun vorentoe, tel tot by drie en maak my hande oop dat die boeke uitglip en ontspan.
Die Bybel val plat op die houtvloer en die klap geluid weergalm deur die kerk. Almal draai en rek hulle nekke om vir my te kyk. My tydsberekening was uit. Heeltemal uit.
“Ppppprprprrrrrrrrrrrrrrrrrrrrrtrtrtrtrtttttttttttrrtttt!!”
Dominee Sarel is stil. Ek is bloedrooi. Ma is bloedrooi. Pa se oë is toe. My neus begin brand. Ma se oë begin traan en sy gryp haar neus tussen twee vingers vas. Soos ‘n rimpel gaan dit deur die bedompige gebou. Mense kreun en druk hande en kledingstukke voor hulle neuse en monde. Dominee Sarel begin weer praat maar is net drie woorde diep in sy sin toe die reuk by die preekstoel uitkom, en hy weer stil word vir ‘n paar sekondes. Dan rammel hy af sonder om asem te skep: “Kollektesalbydiedeuropgeneemword. Daariseetgoedindiesaal. Amen.”

So is die iesegrimmige Ouvrou Wippers toe nou die ewigheid ingestuur: Die hele distrik se gesigte met dieselfde wrang uitdrukking waarvoor sy so berug was.

Riaan Palmer

Mei 2019 projek

1.Kaptein

Beste leser. Ek weet wat jy gaan dink. Ek het dit self telkemale al gedink – nee – geglo. Bog. Blote waansin en onsin. Maar ek gaan jou in elk geval vertel. Dis tyd.

Ek het as jong man ‘n brandende nuuskierigheid en belangstelling in die geskiedenis van oudhede gehad. Nie antiekhede nie, maar tweedehandse items. Ek kon ure, partykeer dae, in liefdadigheidswinkels, by veilings en in tweedehandse winkels spandeer. Jy kan my maar goedkoop noem as jy wil, maar vir my was dié winkels ‘n skatkis. Elke liewe item wat ek sorgvuldig opgetel en bestudeer het, het ‘n onvertelde storie gehad. Die ou gekrapte Elvis plaat het in my verbeelding aan ‘n tiener meisie behoort wat in die 1950’s tot laataand Blue Suede Shoes geluister het; kwaad vir haar Pa wat haar liefde vir die bure se ducktail seun verbied het. Ek sou ‘n storie optower vir ‘n stokou kitaar wat byna nooit gespeel is nie: ‘n geskenk aan ‘n jong seun wat drome gehad het om ‘n popster te word. Maar die tekort aan opleiding en oefen het gemaak dat geen vordering in sy talent gemaak is nie, en die kitaar uiteindelik verkoop is. Hy het as ‘n liasseerklerk by die stadsraad beland waar hy elke dag, bitter, sy tekort aan ambisie blameer. Elke ou, stowwerige item wat vir ander mense rommel was, was werklike tasbare skatte vir my – almal met ‘n storie om te vertel; almal met ‘n unieke uitsig oor en insig in die wêreld.

As iets nuut is, is dit soos ‘n baba. ‘n Skoon bladsy sonder ‘n merkie of woord op – geen ervaring van die lewe nie. ‘n Splinternuwe motor, byvoorbeeld, het baie min gesien. Dit kom uit ‘n steriele fabriek, eindig op in ‘n vertoonlokaal met blink vloere en ‘n onopregte verkoper met ‘n ewe skitterende, skynheilige glimlag. Dit het geen kennis van die oop pad of van die horison wat in die verte strek soos ‘n onbeperkte belofte van avontuur nie. Of selfs van die onbeperkte bedreigings nie. Nee, ‘n nuwe kar is ‘n baba. Gee my ‘n motor met ‘n paar duisend kilo’s op die klok en wiele wat die stof van ‘n somerdag in die Karoo, die bevrore vuil van ‘n Jo’burg winternag ingesluk het en dit op die pad agteruit gespoeg het. Daardie motor het dinge gesien, was deel van ‘n reis. Dit het sy eienaar leer ken – die musiek waarvan hy hou, die roete wat hy elke dag geneem het werk toe, die pad gevind het na ‘n oorlede Ouma se tragiese begrafnis toe en ook die keer wat hy sy oë droog op die dashboard gehuil toe ‘n liefde sy hart gebreek het. Daardie motor ken die wêreld, ten minste ‘n deel daarvan. Dit ken die mense wat hom besit het en dit het al die rou gevoelens beleef, klein oomblikke van genot ervaar en lewensbrekende tye omhels en geassimileer – almal van hulle.

Elke ou item het vir my ‘n duisend stories gehad om te vertel. Ek weet nie of dit verbeelding was en of ek die stories regtig kon ‘sien’ nie, maar ek was bereid om luister en al die ou besittings was net te gretig om te vertel. En tog, tog is sommige herinneringe, sommige ervarings, dalk beter om te laat gaan; om te los soos asem op ‘n spieël. Laat dit verdamp, verdwyn asof dit nooit bestaan het nie. Ek sê dit omdat ek uit ervaring uit weet dat netsoveel as wat ek ‘n voorwerp se storie van ‘n vorige eienaar kan romantiseer, net so kan dit ‘n nagmerrie beskryf; versmoor, gewelddadig en brutaal.

Die tannie, Tannie Esther, by die hospice se liefdadigheidswinkel het my natuurlik goed geken. So goed dat sy my begin bel het as daar ‘n interessante skenking ingekom het. Dis op ‘n Saterdagoggend vroeg wat Tannie Esther my bel en sê ek moet vinnig kom – daar het iets “lekker” (haar woorde) ingekom. Kinderlik opgewonde drafstap ek minute later die winkeltjie binne. Sy beduie na twee swart sakke wat sy oudergewoonte so gesit het dat ander klante dit nie sommer sal sien nie. Ek hol nader en loer by die eerste een in. Daar is porselein beeldjies, hout kissies en stapels boeke in. Terwyl ek deur die skat gaan en elke item noukeurig bestudeer, kom staan Tannie Esther agter my om my opgewondenheid te geniet. Daar is egter nie veel in die sak wat regtig met my praat nie. Tannie Esther het seker gesien die wind is uit my seile dat sy begin verduidelik: “Daar was ‘n Franse vrou hier in die hospice. Sy’s gisteraand dood. Sy’t g’n familie gehad nie. Regte, propperse Frans. Die susters sê sy het jare terug Suid-Afrika gevlug uit Parys. Glo een of ander familieskandaal.”
Die nuus was nou nie juis opwindende nuus vir my nie. As iemand in die hospice doodgaan wat nie familie gehad het nie, dan kom hulle besittings wat hulle by hulle gehad het hospice toe. Maar ek weet ook die verpleegsters stroop alles wat die moeite werd is voordat die besittings hier in hospice beland. Ek begin opstaan met die wete dat daar niks vir my in die sakke is nie, maar Tannie Esther druk my aan my skouer. “Kyk in die ander sak.” Sê sy met ‘n glinster in haar oog.
Ek loer. Die tweede sak is vol klere. Gewoonlik het ek nie aan klere belang gestel nie. Klere was dalk vir my té persoonlik. Of dalk onhigiënies? Dit het doodeenvoudig nie met my gepraat soos “goeters” nie. Maar dié baadjie… Die baadjie was anders. My oog het dit onmiddellik gevang waar dit onder ander vervelige vroueklere my naam geroep het. ‘n Bloedrooi mansbaadjie. Dit het fyn borduurwerk al langs die kante gehad, met ‘n hele string goue knope – meer as wat regtig nodig was. Dit was nie ‘n moderne baadjie nie – definitief nie iets wat jy by Edgars sou kry nie. Tog het dit byna nuut gelyk. Die kwaliteit van die naaldwerk en materiaal was beter as wat ek nog ooit aan enige kledingstuk gesien het. Dalk was dit ‘n baadjie wat in ‘n toneelstuk of in ‘n fliek gebruik was? Dit was nie. Ek kon voel hoe die baadjie gevra het om ‘n storie te vertel. ‘n Baie ou storie. EK het opgewonde opgestaan, die baadjie in my hande asof dit fyn porselein was. Tannie Esther het tevrede geglimlag, bly dat sy my dag kon maak.
“Hoeveel?” Vra ek, alhoewel ek eintlik die antwoord geken het.
“Nougat. Die met die ordentlike neute. ‘n Grote, asseblief en dankie.”
Met ‘n luidrugtige “Dankie Tannie!” en ‘n soen op haar wang vat ek die pad met die tower kleed in my arms. Wat eintlik snaaks was, want ek het nooit net 5 minute in die winkeltjie spandeer nie. Wie weet hoeveel ander skatte was daar nog in die winkel wat ek gemis het?

Terug in my kamer het ek dadelik die baadjie aangetrek en voor die ou vollengte spieël gaan staan. Dit het gemaklik gevoel, soos ‘n ou vriend en perfek gepas asof dit vir my ontwerp en gemaak is. Baie in my noppies het ek met teerheid die baadjie uitgetrek en dit versigtig in die losstaande eikehout kas langs my bed gehang. Nadat ek dit nog ‘n paar minute bewonder het, het ek aangegaan met my dag. Tog het my gedagtes voortdurend teruggekeer na my laaste aankoop, maak nie saak waar ek was of wat ek gedoen het nie. Daar was ‘n konstante opgewondenheid in my hart, soos ‘n kind wat ‘n nuwe speelding gekry het. Dit was vreemd vir my, want ek was nooit regtig geïnteresseerd in klere of modegiere nie, en kon nooit die geesdriftige plesier verstaan wat ander mense vir ‘n hemp of ‘n paar skoene het nie. My klere was maar altyd eenvoudig en vervelig – denims en T-hemde was meer as voldoende vir my. Deur die loop van die dag was ek egter kort-kort weer voor die spieël met die stylvolle baadjie aan – soos ‘n model en ‘n onnatuurlik tevredenheid met myself. Dit het my op ‘n manier formeel en stylvol laat voel en my verbeelding laat loop met stories van groot feeste in koninklike sale waar mans met oneindige rykdom duur wyn gedrink het en met die mooiste dames gedans het. Die baadjie het my avontuurverhale vertel van die Middeleeue, musketiers wat met swaarde geveg het en ongekende kiste vol skatte van suiwer goud. Ek het my oë toegemaak en kon alles hoor en sien en ruik.

Daardie aand skrik ek benoud wakker; my hart klop verwoed in my bors. ‘n Geluid? Ek het aan die slaap geraak terwyl ek op die bed lê en lees het so die bedlampie was nog aan. Die gloeilamp se lig was te flou om die al donker in die kamer uit te hou. Ek het regop gesit, styf gespan van die spanning en probeer fokus op die donker hoeke en skadu’s, opsoek na ‘n rede vir my skielike wakker skrik. Maar daar was niks nie. Niks waarneembaar nie. Net die stilte van lewelose meubels wat in die nag rus, maar in my agterkop was daar die ego van ‘n geluid wat my rus verstoor het. Ek het die ego probeer uitken, erken, maar dit het net buite my geheue se bereik gebly. Ek het opgestaan en by die kamervenster uitgekyk. Buite was dit stil. Net die geel van die straatlig wat die verlatenheid probeer verlig het. Ek het deur die woonstel geloop en een na die ander lig aangesit totdat daar nie ‘n enkele donkerte in die plek was nie. Ek kon doodeenvoudig nie die oorsaak van wat my wakker gemaak het kry nie. Toe ek uiteindelik seker was dat alles veilig is het ek myself oortuig dat die geluid net die gesigtelose produk van ‘n droom was wat vergeet is en het ek weer gaan slaap. En tog het ek om een of ander rede nog steeds ontsenu gevoel – so dat ek die bedlamp aangehou het, want ek het tevergeefs probeer om my pad terug te vind na die warm vertroosting van slaap.
Sondag was basies ‘n herhaling van die vorige dag. Verskeie kere voor die spieël in die manjifieke rooi baadjie, my kop gevul met vlugte van fantasie. Sondagaand skrik ek weer wakker sonder klaarblyklike rede en bly verdere slaap my ontwyk.

Die volgende dag is ek werk toe, hoogs geïrriteerd as gevolg van die min rus. Die heeldag het my gedagtes teruggekeer na die baadjie in my klerekas; hoe aantreklik ek daarin gekyk het, sjarmant tog manlik. Ek kon nie wag om dit weer aan te trek nie. Ek het die ure omgewens en die oomblik toe vyfuur aanbreek, het ek myself met ‘n gemompelende woord verskoon en so vinnig as moontlik huis toe gejaag.
Ek het lomp gesukkel om die sleutel in die slot te kry, geswets en uiteindelik die woonstel ingeval, my sak op die vloer laat val en na die eikehout kas in my slaapkamer gehaas. Ek het die kas oopgemaak en met koorsagtige verligting na die baadjie staan en kyk waar dit gehang het – soos ‘n leë vaartuig wat gevul moes word. Ek het die mou tussen my duim en vingers gevat, en die bloedrooi materiaal saggies gevryf. Met sorg het ek dit van die hanger afgehaal en voor die spieël gaan staan. Ek was geskok toe ek my eie gesig sien! My hele volwasse lewe was ek sorgeloos oor die stand van my hare. Dit was deurmekaar en onversorg. As jy daardie pragtige baadjie dra, lyk dit nie reg nie. Ek het skielik baie skaam gekry oor hoe ek gelyk het. Ek het badkamer toe gegaan en met die hulp van ‘n ou bottel haar jel en ‘n kam my hare, pynlik netjies, plat gekam.
Toe ek weer voor die spieël in die kamer gaan staan, was my voorkoms meer aanvaarbaar; my hare soos wat dit ‘n ware heer betaam. ‘n Glimlag het oor my gesig gekruip, soos wat die baadjie sy storie begin vertel het aan my verbeelding. In die baadjie het ek respek en mag gesien. Ja, voorwerpe vertel inderdaad verhale. Die baadjie het verskriklike dinge gesien – mans wat beveel is en onvoorwaardelik bevele uitgevoer het. Swaard gevegte. Moorde met ‘n dolk. Dit het die wet van die straat geken het. Ja, het ek gedink, die stories wat die baadjie kon vertel.
Die Kaptein het altyd ‘n gryns grimas gehad. ‘n Wete dat die aristokrasie die wat minder en laer is altyd sal verdruk.
Die Kaptein het baie gesien. Maar hy was geen onskuldige toeskouer nie.

Ek is onwillekeurig uit die greep van ‘n droom, rustige sluimering, geruk. Bekendheid het die stilte gebreek; ‘n geluid wat ek geken het, maar nie kon plaas nie. Hierdie keer harder as die vorige twee aande. Dit het alles onwillekeurig laat vibreer voordat dit net so skielik opgehou het as wat dit begin het. Ek het verskrik uit die bed gespring my sintuie intensief en wakker. Ek het stadig van vertrek na vertrek geloop en al wat ‘n venster en wegkruipplek ondersoek, bang vir die vooruitsig dat ‘n inbreker ingekom het en iewers wegkruip. Maar die woonstel het in die stilte gesit, sy mure leweloos en die skaduwees van die nag, stil en senutergend. Ek het die geluid herken; ek het dit geken. Maar dit was soos ‘n ontluikende naam op die punt van my tong; die herinnering het geweier om homself te openbaar.

Die volgende dag het ek selfs meer gesukkel om te konsentreer by die werk. Die gebeure van die vorige nag het by my gespook – op en af deur my gedagtes getrap opsoek na ‘n antwoord. Die geluid het my ontstel, dit het my verswelg. Ek was gefrustreerd deur die feit dat ek dit geken, maar tog nie geken het nie. Wat was die geluid? Die irritasie en frustrasie het begin opbou, wat my gedwing het om my interaksies met kollegas met ‘n aangeplakte glimlag te verduur. Omring deur betekenislose papierwerk was my enigste troos deur die lang dag om aan die baadjie te dink. Daardie warm herinnering wat my in sy omhelsing geneem het. Natuurlik het ek geweet dat die baadjie – die Kaptein – net ‘n karakter in my gedagtes was. Die mees onlangse in ‘n lang reeks stories wat ek geskep het om sentiment aan die wêreld te voeg. Maar ek was so lief vir hom as wat ek vir sy besitting was.

Teen 17:30 was ek by die huis, en soos die vorige dag het ek my sak neergegooi en reguit na die eikehout kas gegaan. Voor die spieël het ek teleurgesteld gevoel oor wat ek gesien het. My hare was ongerep, gekam tot perfeksie, maar die vaal-wit hemp wat ek gedra het werk toe was goedkoop en vuil. Trouens, dit was die eerste keer dat ek opgemerk het hoe onindrukwekkend en vaal my werk uitrusting werklik was. Dit was nie goed genoeg nie. Glad nie goed genoeg nie.
Ek was net betyds om voor 6 by die hospice winkel op te daag. Ek het ‘n sug van verligting gegee dat Esther die winkel nog nie gesluit het nie. Sy het vir my geglimlag toe ek verby haar stap, maar ek het skaars opgemerk en reguit na die swart sakke gestap waar ek die baadjie gekry het. Ek het die inhoud sommer uitgekeer op die vloer en feitlik onmiddellik gesien wat ek gesoek het. Ek het met ‘n glimlag na die toonbank toe gestap en met sweet op my voorkop ‘n handvol note oorhandig.
In die sak het ek die ou hemp gekry. Spierwit asof dit gister gemaak was. Ek was nie seker van die materiaal nie, maar dit was pragtig, kundig vervaardig. Niks soos die goed wat in massas geproduseer word in Chinese fabrieke nie. Ek het dadelik geweet dit was ‘n hemp wat die Kaptein se baadjie waardig was. Ek het ook ‘n goue onderbaadjie gekry. Gemaak van die sagste sy wat ek nog ooit gevoel het. Die fynste borduurwerk wat moontlik deur ‘n mens se hand geskep kan word. Ek het die hemp, onderbaadjie en baadjie aangetrek en voor die spieël gaan staan. Die elke item het die ander komplimenteer. Die een kon nie bestaan sonder die ander nie! Die Kaptein sou bly wees.

Weereens het ek wakker geword in die duisternis, ‘n geluid wat my uit die slaap uit kom ruk het – dieselfde geluid wat ek die vorige drie nagte gehoor het. Ek het effens gebewe, nie omdat ek koud gekry het nie, maar van iets in my. ‘n Virus of ‘n kiem, wat dit ook al was het ‘n ligte koors veroorsaak. My lakens sop nat van die sweet en ek moes werk daarvan maak om asem te kry. Ek het te swak gevoel om die geluid te ondersoek en het net bly lê in die greep van ‘n vreemde en ongekende vrees. Die kamer was donker – nee, meer as donker: swart. In die leidrade van voorwerpe, die buitelyne van mure en stoel en klerekas, het my oë die spieël gekry. Die refleksie was nie leeg en donker soos wat mens sou verwag nie. Dit was gevul met ‘n onduidelike beeld. Soos ‘n skaduwee, die stille suggestie van iets. My geheue bly vaag, maar een ding wat my tot vandag toe by bly: twee oë, wit en wyd, het oopgemaak in die refleksie van die spieël wat my oë ontmoet het. ‘n Beskuldigende, kwaadaardige staar wat oor my gevee het. ‘n Vreemde ysige koudheid het oor my gesak en die slaap het gekom – ondanks die feit dat ek dit probeer teenstaan het.

Die volgende dag het ek snaaks genoeg goed gevoel. Ek het die refleksie in die spieël as ‘n hallusinasie, gevuur deur die koors, afgelag. Ek het egter steeds ‘n hoë temperatuur gehad en het my baas gebel en gesê ek’s siek ek gaan nie werk nie. Ek moet erken dat die gedagte om ‘n dag vir myself te hê, aanloklik was, en seker die eintlike rede was wat ek nie werk toe is nie. Na ‘n lang stort en tyd voor die badkamerspieël het ek uiteindelik weer waardig gevoel om die spierwit hemp, goue onderbaadjie en trots van die versameling – die rooi baadjie – aan te trek. So het ek die hele dag voor die spieël spandeer, geklee in die uitrusting. Glimlaggend. Gelukkig.

Dit was eers toe my foon lui dat ek besef het ek het die meeste van die dag gewortel voor die spieël gestaan. Geen herinnering aan die voorafgaande ure nie; net vae, vormlose visioene van lig en donker malend voor my, vergesel deur vreemde veraf klanke. Vir iemand wat by hulle volle verstand was, sou dit dalk kommerwekkend gewees het. Nie vir my nie. Nee, ek was net bekommerd oor een ding: ek het nog nie reg gelyk nie! Ek is die woonstel uit – die luiende foon en oop voordeur net so gelaat – af na die hospice toe.
Daar het Esther gevra of alles in die haak was, want sy was bekommerd dat ek ‘n bietjie af gelyk het. Ek het kortaf geantwoord dat sy haar by haar eie sake moet bepaal, en die swart sakke weereens gepak. Sonder om daaroor te wonder het ek ‘n noupassende broek van ‘n onbekende materiaal, ‘n paar stok ou leer stewels met gespes asook ‘n breë leer belt met ‘n goue gespe uit die swart sak gehaal. Ek kan nie onthou of ek vir dit betaal het of nie. Al wat ek kan onthou, is dat ek by die woonstel was, besig om die trappe op te struikel. Op pad terug na die spieël toe.

‘n Siek gevoel het my oorgeneem. My maag het gepyn en gedraai asof dit teen die ongesiene golwe van ‘n onstuimige see probeer veg. Sukkelend, maar kompulsief, was ek weer voor die spieël waar ek dieper en dieper na my eie weerkaatsing gekyk het. Die broek wat my soos ‘n handskoen pas, die glinsterende belt en gespe, leerskoene wat nuwe lewe in gepolitoer is, die spierwit hemp wat foutloos gestryk is, die knus onderbaadjie en natuurlik die Kaptein se baadjie. Ja, perfeksie. Dit was volmaak. Alles was net reg. Ek was volmaak.
Met diep teue lug het ek diep gekyk. Ek het in my eie siel gekyk, maar nie gesien nie. Dit was ‘n faksimilee van myself wat uit die spieël uit geglimlag het. Die siekte het verdwyn met elke asemteug wat die ritme van my pols gevolg het. Die sekondes het minute gebaar, en die minute het in ure gebloei. Oomblikke. Fragmentêre blikke van helderheid het deurgesyfer soos sonlig wat deur die skrefies tussen gordyne die donkerte probeer insluip. Ek het stemme gehoor. Ver. Onduidelik. Gemompel. Maar die toon was onmiskenbaar een van woede en konflik. Ek het flitse van lig gesien met vorms van die duisternis wat verbybeweeg en probeer inkom. My oë wou nie mooi fokus nie – my sig was onduidelik, wasig en het my bly weerhou van die waarheid. Vae bekende vorms het voor my rondbeweeg, maar dit was asof ek deur waspapier daarna probeer kyk het. Daar was geluide. Onbekende geluide. Die geluid. Onbekend maar bekend. Om my, by my, maar ver.

Soos die son buite gesak het, het die woedende stemme gekombineer – stemme van ontelbare mense, in een gedagte saamgesmelt, een pynlike dreuning. Die baadjie het sy storie genadeloos vertel. Visies het voor my afgespeel. Ondraaglike koninklikes, ‘n vuil stad en uiteindelik iets met einde, iets tasbaar. Geld. Baie geld. ‘n Bende mans. Soldate wat marsjeer. Stewels, vertrap, skare mense bang en swaarde wat genadeloos steek en kap. Toe was daar liggame, ontelbare bloedige slagoffers in donker stegies en vuil hotelkamers. Die stem, wat nou gedistilleer was, het nader gekom. Woorde het hul pad tussen geklemde tande gedwing, in my ore geroep, nog steeds gedemp soos deur ‘n onsigbare viskose membraan gepraat.
Ek het gewig gevoel, ‘n swaar, koue metaal wat my hande belas het, vuil en vol bloed. In my hand was ‘n swaard. En toe ek opkyk, kon ek die lig en donker sien wat onophoudelik voor my beweeg het. Ek kon die vorm uitmaak van ‘n sterk, jong man. Sy oë het my gedagtes deurdring terwyl hy geskree het. Ek het nie verstaan wat hy skree nie, maar dit was onmiskenbaar Frans. En sy stemtoon was onmiskenbaar woedend, wreedaardig en gevul met wraak.
Ek het die swaard begin swaai en mense om my begin kap en steek. Dood uitgedeel. Dit was boosaardig, gruwelik. Verkeerd. Immoreel. Die stem het voortgegaan, hoog bo die bloedbad uitgebulder, my aangespoor en my beveel om nog lewens te neem. Bloed. Nog bloed. Ek het die een lyk na die ander in my spoor gelos, want die man, daardie ewige imperiale figuur wat ek liefdevol na verwys as die Kaptein, het nader gekom, in my oor geskreeu, die hitte van sy asem naby en tasbaar. Ek het gebewe. Dit was nie ek nie, nie nou nie, nie toe nie, nooit nie. My huiwering het veroordeling ontluik van die Kaptein se silhoeët. Ek wou hom nie teleurstel nie, en terwyl ek pynlike lojaliteit van plig en patriotisme gevoel het, kon ek nie meer die gesigte van daardie mense aanskou nie. Smekende oë, uitgestrekte hande terwyl ek oor hulle staan en hulle in hul laaste oomblikke konfronteer. Ek het die swaard laat val, en soos wat die metaal op die klip by my voete weerklink, sien ek my weerkaatsing weer in die spieël; smekende oë met ‘n uitgestrekte hand wat hulp aanbied.

Die koors was terug, so ook die ondraaglike pyn in my maag. My lyf het geruk asof ek wou opgooi, asof my liggaam iets van binne probeer verdryf het, maar dit wou nie uit nie. Ek het op die vloer inmekaargesak, uitgeput. Ek het al my krag inspan om by my volle bewusyn te probeer bly. Ek het elke druppeltjie energie bymekaar geskraap om basies uit die Kaptein se baadjie te kruip. Toe die baadjie eers van my af was, was dit maklik om die onderbaadjie uit te trek. Nog makliker die hemp, skoene en broek. Ek het ‘n tyd lank op die vloer gelê. Naak. Weerloos. Ek het effens gebewe – krampagtig – terwyl sweet van my afgeloop het, asof ek besig was om ‘n onheilige infeksie af te skei. Telkemale deur my waan het ek my oë oopgemaak en weer vir die hoop klere gekyk. Ek wou dit weer aantrek. Die baadjie. Wat ‘n pragtige baadjie! Maar dan is daardie behoefte weer weggewas deur ‘n vloed van walging. Ek wou leef. Daar was lewe en hoop en ‘n tweede kans na die slagting.

Ek het wakker geword van die geluid. Dieselfde geluid wat my nag na nag wakker gemaak het. Dit het my weer geroep uit die slaap, gedwing om wakker te word. Ek het probeer om regop te kom, maar die siekheid was steeds in my. Pyn. Naarheid. Walging. ‘n Koue sweet het oor my kaal lyf gefluister totdat dit ‘n byna ondraaglike crescendo geword het. Die geluid het in my oor bly weerklink, en in daardie oomblik, in die kloue van die siekheid en swakheid, het die oorsprong – die identiteit -uiteindelik na vore gekom. Die besef het my ontstel en paniekerig deur my lyf geslinger. ‘n Eenvoudige klank, een wat ek elke dag gehoor het. Maar in die swartheid van daardie vertrek, het dit ‘n ander – ‘n nuwe – betekenis aangeneem. ‘n Bedreiging, onder die dekmantel van die nag. Die geluid was so duidelik. So ooglopend. Die geruis van die baadjie se materiaal. Die klik van die knope teen mekaar as die baadjie hanteer word. Maar wat sagte klanke moes wees, was soos die gedreun van ‘n duisend golwe.

Ek het bewegingloos gelê. Ek kon nie meer die klere sien waar dit vroeër gelê het nie. My oë het die duister probeer penetreer, opsoek na die bloed baadjie. Die doodskis van lap wat gasheer vir iets onsigbaar gespeel het, en wat die wêreld buite besmet het met ‘n skrille vrees. Ek het onwillekeurig my asem opgehou en gewag vir ‘n teken van beweging. Ek het my verbeel ek hoor voetstappe. My hart het geklop, soos ‘n drom wat tot breekpunt geslaan word. In my verswakte toestand het die vrees my vasgevang en verlam. Ek was totaal hulpeloos en magteloos, as iets uit die donker sou kom.
Ek het ‘n beweging in die spieël se weerkaatsing gesien, en onwillekeurig uitgeroep. Ek het geswets en myself berispe omdat ek die vrees toegelaat het; dat ek so onverskillig aankondiging het dat ek daar was.
Daar was inderdaad iets in die donker – net buite die bietjie lig wat die straatlig van buite af probeer bied het. Iets onheilspellend. ‘n Indringer. Alhoewel ek dit nie gesien het nie, het ek geweet dis daar. In die hoek van die kamer, weggesteek deur skaduwees. ‘n Figuur, sterk en dominant. Ek het geweet dit staar na my onder die mantel van die nag. Uiteindelik kon ek die oë sien. Skrefies wit in ‘n esoteriese nagmerrie.

Daar was ‘n vreemde oomblik tussen ons. ‘n Stilte wat meer vrees in my veroorsaak het as wat ek ooit kon glo was moontlik. Ons het vir mekaar gestaar, en dit het my gevoel asof die indringer my opmeet. Berekening van die koste. ‘n Strategie vir aanval, evaluering van hoe verswak ek werklik was.
Skielik, geluidloos beweeg hy in my rigting. Vir ‘n oomblik was hy verlig deur die geel van die straatlig buite. Die baadjie waarmee ek so behep was, die onderbaadjie, die hemp, die broek, die blink skoene, alles daar. Foutloos netjies, swierig gedra deur ‘n man wat respek afdwing, onverskillig en onheilig; sy gelaatstrekke en hande, niks anders as verduisterde mis nie. Die klere – die man – het met presisie beweeg, en ek het verskrik uitgeroep. Terwyl die klanke nog weergalm, was die skaduwee-oortreder oor my. Die donker, steenkoolagtige mis van ‘n hand het uitgestrek na my, my aan die keel gegryp en my sonder moeite soos ‘n hol pop opgetel en geslinger na die ander kant van die kamer.
Ek het met ‘n hik die vloer getref. Ten spyte van my die lamheid en swakheid van vlees het ek uiteindelik ‘n vloed adrenalien gekry wat aangedring het dat ek na die slaapkamerdeur toe vlug. Maar die man was te vinnig en gryp my aan die arm en gooi my teen die spieël vas. ‘n Duisend glasskerwe ontplof om my, en soos wat ek die grond tref, kerf die glassplinters my kaal lyf vol snye. Ek voel die stukke in my rug steek en die warm vloeistof wat om my begin poel maak die terreur soveel meer werklik. Ek het nie kans om te reageer of bietjie te herstel nie. Die koue vingers sluit om my skouers en hy lig my van die vloer af op en laat val my weer op die slagveld van glas. Die stukke wat reeds in my is steek dieper en nog ‘n dosyne ander skerwe sluit aan by die slagting. Ek gil soos wat ek bewus word van elke individuele stukkie glas in elke spier, groot en klein. Daar wil ‘n donkerte oor my vou maar ek baklei teen my liggaam om nie flou te word nie.

Dan sak ‘n stilte vir ‘n oomblik oor die kamer neer, en ek kry vir ‘n oomblik ‘n titseltjie hoop. Die klank van swaar stewels op gebreekte glas verpletter daardie hoop egter baie vinnig. Die donker figuur, steeds netjies, behoorlik en aanwesig in die Kaptein se klere, sit die swaar stewel op my bors en met begin met genadelose krag trap. Elke lem, splinter en skerf van glas druk dieper en pynliker in my vel en vleis, gewelddadig aangemoedig deur die hardheid van die vloer en onnatuurlike kragtige stewel op my bors.
Ek kry nie ‘n geluid uit nie. Ek probeer gil, maar my longe is leeg. My arms spartel swak om die drukking te verlig met geen resultate nie. Ek hoor hoe kraak ‘n rib of meer, en die pyn raak net te veel. Ek wil hê die donkerte moet tog net kom…
Die Kaptein sê iets. Weereens duidelik in Frans, maar ek weet nie wat dit beteken nie. Dan lig hy sy voet van my bors af en bulder weer ‘n opdrag. Hy vat my aan my arm en trek my regop. Maar ek is swak en my bene wil niks weet van staan nie. Ek gly in die plas bloed en instinktief gryp ek om my balans te probeer kry. Ek gryp die bloedrooi baadjie raak en in die proses ruk ek twee van die baadjie se knope af. Dit gebeur vinnig. ‘n Breukdeel van ‘n sekonde. Maar ek sien dit raak. Die Kaptein tree geskok agteruit en in daardie oomblik flikker hy. Ek weet nie hoe om dit te verstaan of te verduidelik nie, maar hy flikker soos ‘n kers wat voor ‘n oop venster staan. Dit was genoeg vir my om te besef, te verstaan. Ek beur orent, ‘n groot skerf glas in my hand. Die bloed vloei vrylik uit die diep sny wat dit maak, maar ek voel niks meer nie. My kaal, gebroke lyf registreer nie meer die pyn nie. Koorsagtig spring ek vorentoe met die glasskerf omhoog. Hy lig sy hande om te keer, en ek sny ‘n diep gat in die mou van die baadjie. Weer val ek aan. Nog ‘n skeur in die mooi, duur materiaal. Die gedaante steier agteruit en ek begin kap na hom soos ‘n masjien. Skeur na skeur in die eens ongerepte klere. Hy sak neer op sy knieë. Sy oë woedend. Sy krag, mag en prag aan flarde.

Sowat ‘n week later word ek uit die hospitaal ontslaan.
Ek stap onseker deur my woonstel. Die toneel presies soos wat ek dit onthou. Die glas gestrooi oor die vloer, my eie droë bloed. Ek word gekonfronteer met die geskeurde baadjie en ander klere wat voor my lê soos ‘n lyk – die skoene, broek, hemp, onderbaadjie, baadjie – alles impliseer die vorm van ‘n man. Ek word oorweldig deur ‘n hartseer. Dit was so ‘n mooi baadjie. Dit is tragies. Die Kaptein het soveel meer verdien as dit… Ek begin wonder of ek die klere kon herstel – genoeg naald en garing om die glorie en skoonheid van die klere te laat herleef. Maar ek kom vinnig tot my sinne. Ek word gevul met ‘n naarheid en vir ‘n oomblik sien ek weer die gesigte van die mense wat vermoor word in my geestesoog.
Ek maak die klere bymekaar – half bang om daaraan te vat – en gooi dit in ‘n sak en bind dit styf toe. Ek ry sowat ‘n uur uit die stad uit tot ek ‘n stil afgeleë grondpad kry waar ek aftrek. Ek haal ‘n plastiek bottel vol petrol en die sak met die klere uit die kar en gooi dit op die grond. Vir oulaas haal ek die klere uit die sak. Ek streel met my vingers oor die pragtige geborduurde vorms, die goue knope en die sagte voering. Aan die binnekant van die baadjie raak my vinger aan ‘n stukkie materiaal wat anders voel as die res van die baadjie. Ek dop die baadjie om en bekyk die etiket.

Propriété du Capitaine Louis Dominique Cartouche.

Capitaine? Kaptein? Kaptein Louis Dominique Cartouche? Die steekpyn van gebreekte ribbes bring my weer terug aarde toe, en sonder om verder te aarsel deurweek ek die klere met petrol, gooi ‘n vuurhoutjie op die hopie en staan terug. Die vlamme verswelg die klere. Ek moet myself dwing om nie die klere te probeer red van die verterende vlamme nie. Uiteindelik is daar net ‘n hope swart as oor. Dit is klaar, gedoen, oor en verby.

Die nuuskierigheid vreet my egter op en ek stop eers by die biblioteek. Dit is nie lank voordat ek ‘n verwysing kry van Kaptein LD Cartouche nie:
“Kaptein Cartouche en sy bende het vir ‘n paar jaar Parys geterroriseer. Hulle het gemoor en gesteel van die koninklikes en adellikes. Sy volgelinge het hom voorgestel as ‘n Robin Hood-figuur wat van die rykes gesteel het en vir die armes geld gegee het, maar die waarheid is dat Cartouche genadeloos en wreed mense, selfs vroue en kinders, voor die voet vermoor het. Uiteindelik is Cartouche deur ‘n lid van sy eie bende verraai en is hy gevang. Cartouche is tot die verligting van Parysenaars ter dood veroordeel en is in 1721 in die publiek tereggestel. Die terreur van Cartouche het selfs in die Afrikaner volksmond ‘n plek verewig deur die uitdrukking ‘’n bende van Kardoes’ wat gesê word van ‘n rowerbende of skorriemorries.”

Bo-aan die artikel is ‘n antieke skildery van Cartouche. Alhoewel die foto in swart en wit is, is daar geen twyfel wie en wat die man is nie. Die aantreklike jong man in die prentjie het ‘n baadjie aan, wat afgewerk is met baie knope en geborduurde patrone, ‘n onderbaadjie en ‘n spierwit hemp. Hy’t egter ook ‘n pragtige hoed op. Ek het die boek toegeklap en net daar gelos. Ek het belangstelling verloor. Ek wou nie weet waar is die hoed nie. Natuurlik ook die rede wat Tannie Esther en hospice my nooit weer gesien het nie.

Ja, liewe leser, dit is my storie. Jy kan maar jou oë rol. Maar dinge het meer as gevoelens, hulle het herinneringe. Hulle geniet die gedagtes en optrede van die mense in die omgewing. Hartseer, lag, vreugde. Vrees. Ek het daardie dae en my onderonsie met Kaptein Cartouche nooit vergeet nie. Dikwels keer my gedagtes terug na die knope, wat ek sekerlik daar buite langs die grondpad lê, met roet, maar onaangeraak deur die vuur. Ek dink aan die pragtige baadjie – die herinnering van die pragstuk spook steeds by my, trek my, roep my.
Gereeld stap ek verby iets anders wat my aandag soek, uitroep om ‘n storie te vertel. Maar ek stap verby. Dis ander mense se stories. Ek het my eie storie. Die letsels op my lyf kan jy sien, sal jou vertel. Maar my siel se letsels. Dis is vir my om te sien. Vir my om te luister. Dis nie vir jou nie, liewe leser.

Riaan Palmer

Junie 2019 projek

2.Heengaan van ‘n roos (489 Woorde]

Hy druk weer sy neus plat teen die ruit, maar maak nie saak hoe hard hy probeer nie, daar gebeur niks. Die wolkombers. Die kaggel. Watse kans staan hy? Hy stap vies om die huis tot by die ry roosbome en bekyk die welige struike vir ‘n oomblik. Hy hou sy hand voor hom uit en die swart ryp vloei uit hom, soos ‘n geluidlose swart slang tussen die stamme en dorings deur; die skade permanent daar waar dit aan blare raak. Hy glimlag tevrede.

Hy draai om en stap die straat af. Hiér bedek hy ‘n grasperk met wit kristalle. Dáár vries hy ‘n pyp wat verseker tot ‘n gebarste geiser gaan lei. Hy is verveeld. Hy’s seker al die afgelope driehonderd jaar verveeld. Dis net nie meer dieselfde nie. Vandat dié lot allerhande slim plannetjies begin uitdink het om hom uit te oorlê, kry hy bitter min uitgerig. En die verdomde kweekhuisgasse het hom bykans lamgelê. Hy kan nie eers onthou wanneer laas party van die plekke sneeu gesien het nie! Hy mis die dae wat hy regeer het. Die tyd van eindelose sneeuvelde en gletsers wat oor die wit vlaktes gekruip het. O ja! Hý was koning en hulle was sy onderdane. Hulle het hom gevrees!

Nou? Nou lag hulle in sy gesig: “Winter, simpel winter!”

Tot hulle motors se sitplekke maak hulle agterstewe warm. Regtig? Hy’t nie eers meer die klein plesiertjie van koue boude op ‘n leer sitplek nie!

Sy oog vang ‘n beweging onder ‘n bos. Hy stap nader en bekyk die bondel vuil, verslonsde klere. Tussen die lappe is daar iets – iemand – wat eens mens was. Die boemelaar het ekstra hitte probeer kry deur ou koerante as isolasie te gebruik. Dit sou dalk gewerk het, was dit nie vir die feit dat die man net vel en been is en dae laas geëet het nie. Hy ken die man se storie. Die storie van iemand wat net een te veel verkeerde besluit gemaak het. Iemand wat ook eens op ‘n tyd mens was; liefde geken het. Ook vreugde, blydskap, hoop… En nou? In ‘n wêreld van wolkomberse, kaggels en roosbome, onder ‘n bos lê: Vergete.

Is dít al wat oor is vir hom – die eens magtige Winter? Is die toppunt van sy mag om weerlose, verpletterde ou mensies te verkluim? Hy staan met gevoude arms oor die ou man wat lê en bewe en moeë wasem wolkies uitblaas. Dis nie dat hy jammer voel vir die ou man nie, dis net dat… Die man het geen meer baklei in om nie. Tog, as hy die ou siel los, gaan Pestilensie hom kom vat. Of Tyd. Winter buk oor die ou man, en weer vloei die koue uit sy hande. Maar dis nie ‘n genadelose, bitter koue soos vroeër nie. Dis ‘n sagte koue wat verlos met respek en menslikheid. ‘n Bietjie menslikheid in ‘n wêreld van wolkomberse wat aan ánder mense behoort.

Riaan Palmer

Julie 2019 projek – ‘n Reis in Tyd

1.Lucy leer loop 

Petrus is nie seker hoe hy hierdie opdrag gekry het nie. Blykbaar het iemand in die hoër range vertroue in hom. (In ‘n latere oomblik van helderheid het Petrus onthou, sy pa was ‘n Generaal in K.O.P.P.) Dit was Petrus se eerste week in die pos, en in sy persoonlike opinie was hierdie ‘n redelike belangrike opdrag. Die toekoms van die hele mensdom het in sy hande gerus; dalk moes een van die meer senior ouens dié een gevat het?
Petrus was ‘n Federale Offisier vir die Kultuurhistoriese Observasie Prekognisie Program – of sommer kortliks: ‘n F.O.K.O.P.P. Die K.O.P.P. se werk was om seker te maak dat die geskiedenis gebeur soos wat dit móét gebeur. As sekere gebeure nie gebeur nie, kan dit ‘n negatiewe effek hê op die toekoms van die mensdom – amper soos die sogenaamde “skoenlapper effek”. Byvoorbeeld as John F. Kennedy nie vermoor was nie, sou daar ‘n kernoorlog tussen Amerika en Rusland uitgebreek het, wat sou maak dat die Internet nie uitgevind is nie, wat weer sou beteken het dat die mensdom nie Facebook gehad het nie. (John F. Kennedy is nie deur Harvey Lee Oswald geskiet nie. Harvey kon nie eers die breë kant van ‘n huis met ‘n haelgeweer raakskiet nie, wat nog te sê ‘n sluipskutter wees. Toe Harvey die sneller trek, het hy voorspelbaar gemis en moes ‘n F.O.K.O.P.P. die daad deurvoer. Dit is hoekom daar tot vandag toe nog teorieë oor JFK se dood die rondtes doen.) Die feit dat iets in die geskiedenis gebeur het, soos wat dit gebeur het, beteken dat die K.O.P.P. seker gemaak het dat dit gebeur het, anders sou dit nie gebeur het nie. (As die leser nie die konsep kan verstaan nie, is dit ‘n gebrek aan begrip aan die leser se kant, en nie die skrywer se onvermoë om dit te verduidelik nie.)
Petrus word 3,181,293 miljoen jaar in die verlede gestuur. Sy opdrag: Maak seker Australopithecus afarensis (of sommer net ‘die Lucy-Mense’) klim uit die bome uit. Sien, die Lucy-Mense was die voorsate van die moderne mens (Homo Sapien) en hulle het in bome gebly. As hulle nie uit die bome geklim het nie, sou die Neandertal die dominante spesie geword het, en Homo Sapiens sou nie bestaan het nie.
Petrus hoef nie ver te loop voor hy ‘n trop Lucy-Mense in ‘n boom kry nie. Hy is ietwat teleurgesteld, want hy het gehoop hulle sou teen die tyd al self op die grond rondgeloop het. Petrus hou hulle vir ‘n wyle dop om te sien of een dalk uit die boom klim, maar na “ure” (3 minute om presies te wees) raak Petrus verveeld, en besluit hy maar om die proses bietjie aan te help. Hy stap nader. Daar is ‘n vreemde gebabbel uit die boom toe die Lucy-mense hom gewaar.
“Hallo! Ek’s ‘n F.O.K.O.P.P. Klim asseblief uit die boom uit!” Daar is doodse stilte in die boom.
Petrus haal ‘n piesang uit sy sak uit en waai dit in die lug. “Kyk wat het ek hier! Kom! Lekkernomnom!” Steeds geen beweging in die boom.
Petrus vererg hom, tel ‘n klip op en slinger dit die boom in. Daar’s ‘n dowwe “doef” geluid gevolg deur takke wat breek en ‘n Lucy-mannetjie wat “Kaplaks!” op die grond val. Die Lucy-mannetjie bly bewegingloos lê.
“Oeps.”
Voor Petrus iets verder kan doen, staan die hele trop Lucy-mense in ‘n halfmaan om hom.
“Ten minste is julle uit die boom!” Sê Petrus en glimlag onseker.
“Wat de moer maak jy, man!?” Vra die een Lucy-mens, voor ‘n harige hand Petrus teen die kop tref.
Riaan Palmer

2.In die begin 

Adam het gedink die kort advertensie is ‘n grap:
“GESOEK: Iemand om terug te reis in tyd. Bel 9021234567. R50000 betaling op terugkeer. Eie wapen opsioneel. Slegs ernstige aansoeke.”
Maar hy kón nie anders nie en die nommer gebel. ‘n Geoutomatiseerde stem het ‘n adres gelees, en Adam het by ‘n stokou, gebou in Sunnyside op geëindig. Adam het geaarsel voor die verwaarloosde deur en sy hand het onwillekeurig berusting gesoek in sy sak waar sy knipmes was. ‘n Ou omie met ‘n dik bril en ongekamde hare die deur oopruk. As daar al ooit ‘n prentjie van ‘n stereotipe “stapelgek wetenskaplike” was, was dit dié oom.
Enkele minute later staan Adam in die “tyd-kajuit”. Hy het totaal weerloos gevoel, want die omie – genaamd Professor Elyon – het gesê hy moet al sy klere uittrek en nakend die reis aanpak, want “…ek kan nie toelaat dat enige iets van ons tyd per ongeluk agterbly nie. Dit kan ‘n paradoks veroorsaak…”. Sonder sy mes ook nog. Als is baie verdag, maar die belofte van R50,000 het Adam se inhibisies bietjie vrye teuels gegee.
Die opdrag was eenvoudig: “Ek stuur jou 4000 jaar terug in tyd, jy klim uit en begrawe die tydkapsule net waar jy is, klim jy terug, druk die rooi knop in die tyd-kajuit en jy’s terug hier. Ek gee jou R50,000 en jy gaan huis toe en vergeet van my. En ek het bewyse dat my tyd masjien werk.”
Die kajuit se deur gaan toe en sonder verdere oponthoud begin die tyd-kajuit saggies dreun. Die dreuning word harder en harder totdat dit voel of Adam se oordromme gaan ontplof. Dan voel dit vir Adam asof iets sy siel uit sy liggaam probeer trek. Dan is alles doodstil.
Die kajuit se deur gaan oop en Adam val uit. Dit voel of ‘n trok oor hom gery het. Asof hy dae laas iets geëet of gedrink het. Adam word bewus van die son wat op sy gesig skyn en maak sy oë oop. Hy lê iewers in die bosveld. Welige bome en die pragtigste blomme oorheers die landskap. Voëls kwetter en fluit opgewonde in die bome. Adam word bewus van ‘n bruin vrou wat vir hom staan en kyk. Sy’s so kaal soos more heeldag, wat hom herinner dat hy self nie ‘n draad klere aanhet nie. Hy bloos bloedrooi en probeer toemaak sover sy hande kan bedek. Sy stap tot by hom en kniel langs hom; sy het geen skaamte nie. Sy hou ‘n kalbas na hom toe en sê iets in ‘n vreemde kliektaal. Hy vat die kalbas en begin dorstig drink, toe hy sien dis water daarin. Toe sy dors uiteindelik geles is beur hy orent en strompel die klein tyd-kajuit binne. Hy swets toe hy tot die besef kom dat alles verniet was. Professor Elyon, het soos ‘n tipiese verstrooide professor die instruksies om die tydkapsule te begrawe vir hom gegee, maar nooit die tydkapsule self nie. Adam ruk die tyd-kajuit se deur toe en druk koorsagtig die rooi knop.
Niks gebeur nie.
Hy druk dit weer ‘n paar keer. Steeds niks.
Adam strompel spierwit van die skok uit die tyd-kajuit.
“…’n paradoks…”
Die bruin vrou staan nog steeds en bekyk vraend vir Adam voordat sy weer iets in die kliektaal aframmel.
Adam kyk vir haar en skud sy kop woordeloos. Dan sit hy sy hand op sy bors, en sê sy naam hardop.
“Adam. Ek is Adam.”
Die vrou kyk vir ‘n oomblik vraend na hom, voordat sy tot die besef kom, en met haar hand teen haar bors antwoord. “E-vah.”

Riaan Palmer

Augustus 2019 – Wilde wind projek

1.Krisjan Visser maak ‘n plan  

15 kilometer van Norvalspont was die plaas Houvasjouhoed. Die topografie van die vallei waarin die plaas gelê het was presies dieselfde vorm as ‘n straalvliegtuig se enjin. Dit het veroorsaak dat daar konstant wind gewaai het. Nou nie daai ligte Suid-Ooster briesie van die Kaap nie . Nee, ons praat hier van Wind – met ‘n hoofletter! As daai berge nie vas aan die aarde was nie, het hulle ook weggewaai! Met die konstante wind wat waai, was daai vallei droëer as Ouma se wintersvoete. Baksters kon hulle mosbeskuit 5 minute op die stoep sit, dan was die beskuit so droog, dit kon ‘n hele koppie koffie met een doop opsuig. Beeste dink nog hulle loop en wei, dan is hulle skielik kurkdroog. Jy kan net die vel afskil en die stink dele uitkrap, dan het jy genoeg biltong vir rugbyseisoen. Inwoners van die plaas het graag oor naweke Karoo toe gery, net om bietjie water te sien.

Oordat dit so ‘n droë stuk aarde was, met die oneindige wind, het Houvasjouhoed honderde kere van eienaar verwissel. ‘n Onwetende boer – met ‘n oor vir ‘n winskopie – hoor van Houvasjouhoed wat te koop is vir ‘n appel en ‘n ui, en koop die plek sonder om eers rond te vra. Party hou nie eers ‘n dag nie, tipies dié wat geskok toegekyk het hoe die kakebeenwa soos ‘n wafferse strand sambreel die vallei inwaai, met meubels, osse en al. Ander hou bietjie langer. Totdat hulle besef al die mielies wat hulle gister geplant het, lê vandag in die boer aan die anderkant van die vallei se lande.

 

So gebeur dit dat Krisjan Visser die plaas koop in 1964. Krisjan was ‘n oujongkêrel wat nog nooit enige geluk in sy lewe geken het nie. Die teenspoed het hom gevolg soos ‘n honger straatbrak. Mense het Krisjan vermy, omdat hulle geweet het daar enige oomblik ‘n ongeluk of ‘n tragedie gaan gebeur. Krisjan het die eerste dag al besef dat daar ‘n wind-vloek op Houvasjouhoed rus. Die aand het Krisjan wakker gelê, nie net omdat die hartbeeshuis se dak afgewaai het en hy vasberade moes vasklou aan sy kombers nie, maar ook omdat hy lê en dink het. Hy móés ‘n plan maak. Hy was gatvol vir die lewe se stampe en stote.

 

Vroegmore klop Krisjan aan die buurplaas se deur. Hy wou ‘n perd leen, want sy eie perd het gewaai tot in ‘n apiesdoring se takke, waar nou vasgesit het.

Laat die aand kom Krisjan terug moet ‘n massiewe myntrok vol lood. Krisjan begin dadelik bou – die grootste en swaarste windpomp wat Suid-Afrika nóg gesien het. Die bure lag. “More het daai windpomp tot op Kimberley gewaai!”

Hulle was verkeerd. ‘n Week later pomp die windpomp ‘n dik straal water, wat die Vaaldam sou laat bloos. ‘n Maand later was daar water orals. Bure laat weet dat Krisjan moet stop, want hulle hoenders kan nie swem nie en die mielies begin muf. Maar daar was geen stop aan daai windpomp se draai nie, selfs al wou Krisjan dit stop. Naderhand is die hele Vrystaat en Noord-Kaap tot vleigebied verklaar. Toe Suid-Afrika begin sink, het Hendrik Verwoerd uiteindelik ingespring, en bestel ‘n damwal van die Franse. In 1971 het die water uiteindelik ophou vloei, toe die watervlak oor die windpomp se kop styg. Die wind het finaal gaan lê toe die vallei vol water is.

Tot vandag toe nog stop al wat ‘n Transvaler is by die Gariep dam, om hulde te bring aan Krisjan en die beste pomp wat Suid-Afrika nog geken het.

Riaan Palmer

September 2019 – Verplasings projek

2.Tannie Sakkie Pampoene

Tannie Sakkie het op ‘n plaas buite Wepener geboer. Sy was alom bekend vir haar pampoene. Ongelukkig nie die stroopsoet Hubbard-pampoene wat sy produseer het nie.
Tannie Sakkie was soos soveel ander Afrikaner vroue die slagoffer van eersgebore benaming – aan Oupa se kant. Gedoop Isak Florence Koekemoer, agter oorle Oupa Isak en Ouma Florence aan. Sy het natuurlik “Sakkie” geword nog voor sy kon praat. (Want Afrikaners kan mos nie ‘n naam los soos wat dit is nie. Dit moet mos altyd iets anders word met ‘n ‘kie’ agteraan. Koekie, Bokkie, Bekkie, Tokkie en wie weet wat nog. Hoekom nog die moeite doen om ‘n kind te doop?)

Haar vloek het vroeg al kop uitgesteek en op 10-jarige ouderdom die eerste van vele trane veroorsaak. Na die Desember vakansie was Sakkie Koekemoer nie meer plat nie. Die klasmaats het die twee knoppe vreeslik amusant gevind en arme Sakkie heeldag gespot en in die proses die stomme kind se hart gebreek.
Op 13-jarige ouderdom het die ander meisies bietjies-bietjies begin inhaal. Die seuns se stemme het begin breek en daar het bolle hare in belaglike kolle op hulle lywe uitgeslaan. Skielik was Sakkie se twee gawes nie meer ‘n onderwerp van bespotting nie, maar een van misterie en uitlokking. Die twee steiltes het seuns uitgelok en geroep soos meerminne met sang destydse matrose gewink het na hul ondergang. Die seuns wou net loer, sien, kyk, voel, vat.
Sakkie het by haar ma gesoebat en gepleit, maar Ta’ Koekie Koekemoer het haar voet neergesit. ‘n Vrou se liggaam is soos ‘n wilde dier. Jy bind niks vas met valletjies of koppies of rekke nie; dit moet los en vry wees. Daar was geen sprake van enige sport, hardloop of selfs net vinnig by ‘n stel trappe afloop vir Sakkie nie. Sakkie se trane was oneindig en haar kindwees en onskuld iets van die verlede.

15 jaar later is Sakkie se ma sonder spektakel oorlede en Sakkie het die boerdery oorgeneem. Daar het Sakkie haarself afgesonder, kwaad vir haar eie lyf en vir die wêreld se mans. Mense wat kom pampoene koop het, het gewoond geraak aan die gesig van die sterk vrou wat uit die land gestap kom met borste oor die skouers en ‘n pragtige groen pampoen onder elke arm. Soggens het sy die lande ingestap, kaal bolyf, haar vloek en las oor elke skouer gegooi en die grond geploeg met elke greintjie sielesmart en woede in haar. Sy het ook begeertes gehad. Om nie alleen te wees nie. Om liefde te ken. Nog ‘n asem in die kil plaashuis. Dalk die gelag van ‘n kind of drie? Maar kindwees se seerkry het die mure om haar te hoog gebou. Sy was Tannie Sakkie Pampoene. En sy was bitter.

Sakkie was net-net aan die regte kant van 40 toe sy die knop voel. Sy’t al die pad Bloemfontein toe gery, want die dorp se dokter, Martin, was saam haar op skool. Die Bloemfonteinse dokter het gevoel en gedruk. Haar vloek en haar las is in ‘n masjien platgedruk. ‘n Biopsie is gedoen net om seker te maak.
“Sakkie, op die stadium is jou keuses ‘n lumpektomie en maande se bestraling of ‘n mastektomie.” Het die dokter swaarmoedig verduidelik.
Die wêreld het gaan staan en die trane het vlak in Sakkie se siel gaan sit. Maar die trane het nie gekom nie. Sy huil al vandat sy 10 was. Genoeg trane was al gestort oor hierdie oomblik.
“Noem my asseblief Blydskap.”
Blydskap Koekemoer was alom bekend vir haar pampoene. Sulke stroopsoet, grasgroen Hubbard-pampoene.

Riaan Palmer

Desember 2019 – Dans asof niemand kyk nie projek 

3.Lettie en die Wietbiekstroue

Wanneer ‘n danser dans, probeer sy nie op ‘n spesifieke plek op die verhoog of dansvloer uitkom nie, maar om elke tree te geniet. Dit is eintlik ook hoe ‘n mens die lewe moet leef.

* * *

Elke familie het mos maar so ‘n gesin. Hulle is deel van die familie, maar as jy kan kies dan was hulle eerder iemand anders se familie. So was dit ook in die Wietbieks familie. Die Wietbieks familie was internasionaal bekend vir hul rykdom, klas, mag en invloed. Die familie het hul ryk gebou deur die verkope van ‘n graankos wat se naam ek nie mag noem nie, oor ek bang is vir ‘n dagvaardiging. Kom ons sê maar net dat dié graankos is basies lae dun karton wat saamgepers is, en in sulke reghoekige blokkies verkoop word. Jy’t baie melk en suiker nodig om dit in jou lyf te kry. Tog het dit oneindige rykdom vir die Wietbieks familie beteken.
Die jongste dogter van sewe kinders, Sophia, moes op 17 trou met Johan Stapelberg. Sy’t dit egter oor haarself gebring, want sy’t nie na haar pa geluister nie. Hy’t sy kinders altyd gewaarsku: “Jy beter na 11 uur die aand by die huis wees, want na 11 breek almal se wilskrag af.” Sophia het so geskrik vir dié ongeluk dat sy sommer alles wat vrugbaar was laat uitsny het, en sommer Johan s’n ook. Deur ‘n dokter, natuurlik.

Johan Stapelberg was in elke moontlike sin die teenoorgestelde van die Wietbieks familie. Sy bankrekening was soos ‘n sif met water in. Sy redenasie was dat hy eerder enige geld so vinnig moontlik moet spandeer, voordat dit op is. En met die wat Johan ‘n kettie tegnikus was, het dit beteken dat daar nie veel geld was om mee te begin nie. Johan het altyd met ‘n kortbroek en ‘n help-my-sterk-lyk-hemp rondgeloop, natuurlik nie sonder sy Crocs nie. (En jy sal mos nie iemand van die Wietbieks familie dóód in enige van die bogenoemde kry nie.) As Johan geglimlag het, het dit gelyk of hy ‘n geel mieliestronk in sy mond het waarvan die helfte van die pitte al uitgeval het, asook ‘n sigaretstompie wat halfmas in die hoek van sy mond hang. Maar Sophia was gelukkig. Sy was lief vir Johan en Johan was lief vir haar en dis al wat sy nodig gehad het. Saam het hulle in vrede in ‘n karavaan gebly buite Venterskroon, met hul dogter Lettie wat nie van beter geweet het nie. En die Wietbieks familie het doodeenvoudig nie meer met Sophia gepraat nie. Ván haar, ja, maar nie mét haar nie.

Margaret Wietbieks, Sophia se ouer suster, was ordentlik en elke aand voor 11 by die huis. Maar teen die ouderdom van 25 kon sy ook nie meer uithou nie. Selfs die Wietbieks familie het drange gehad soos gewone mense. Margaret het onmiddellik ja gesê toe haar kêrel, John, op sy knie neersak. Hy wou eintlik net sy skoenveter vasmaak, maar met die idee van die Wietbieks rykdom het hy ook nie Margaret se fout reggestel nie. Oomblikke later is daar begin troureëlings tref. ‘n Ontwerpers rok uit Frankryk, getooi met meer valletjies as ‘n ‘n gehekelde doilie, meer strikke as in ‘n hele meisieskool se hare en meer kristalle as in iets met baie kristalle. Aanvanklik is die hele Sun City geboek vir die troue, totdat iemand onthou het dat ‘n sekere berugte Indiese familie dieselfde gedoen het, so dit kan dalk as bourgeois gesien word. Die hele Kruger Wildtuin is toe nou maar geboek vir ‘n naweek.

Daar is gewik en geweeg of die Stapelberg gesin genooi moet word en uiteindelik is daar besluit, familie is familie en die uitnodiging, op die witste Japanese papier geskryf in 24 karaat goud, is Venterskroon toe gestuur. (Sophia het op agterop ‘n leë sigaret boksie geskryf sy kom en dít gepos, in stede van die poskaart wat bedoel was om te RSVP. Want sy het die goue letters afgekrap en verkoop vir sigaret geld.) Sophia het geduldig gewag vir instruksies. Dit is mos tradisioneel dat elke dogtertjie in die familie een of ander taak kry soos om pamfletjies met die gesange op by die kerkdeur uit te deel, of die ringe die kerk in te dra of verlepte roosblare in die paadjie te strooi voor die bruid instap. Maar die tyd het aangeloop en daar is geen taak aan Lettie Stapelberg toegeken nie. 6 maande voor die groot dag het Sophia se Wietbieks gene uiteindelik ingeskop, en het sy met ‘n stofwolk gestap tot by die Venterskroon tiekieboks en Margaret gebel om te hoor wat gaan aan. (Interessant genoeg is Venterskroon die enigste plek waar jy nog ‘n tiekieboks gaan kry wat met tiekies werk. ‘n Ou 1-sent muntstuk doen dieselfde werk as ‘n tiekie.) Margaret het eers dié kant toe en dáái kant toe probeer keer. Al die takies wat klein dogtertjies kon uitvoer was reeds uitgedeel. En daar kan nie 13 blommemeisies wees nie, want dis ‘n ongelukkige getal. Wat Margaret nie hardop gesê het nie, was dat klein Lettie Stapelberg maar eerder in die agtergrond moes wees. Met te veel Stapelberg gene was die stomme kind nou nie presies prentjie mooi nie, en die feit dat sy so breed as wat sy lank was het nie die saak aangehelp nie. Maar Sophia het haar voet neergesit; tradisie is tradisie. Na hittige onderhandelinge is daar besluit klein Lettie Stapelberg sou voor die onthaal vir die gaste dans.

Lettie Stapelberg kon nie dans nie. As gevolg van haar pokkel lyfie en die sterkte van die aarde se swaartekrag kon sy net-net waggel tot waar sy moes wees. Maar Sophia was vasbeslote. Lettie sou die hoogtepunt van Margaret se troue wees. Dag in en dag uit is daar YouTube video’s oor dans gekyk by Venterskroon se Internet kafee. Die biblioteek word gestroop van al wat ‘n boek is waarin die woord “dans” voorkom. Lettie word sommer uit die skool gehaal om elke dag te oefen in die karavaan se tent – waaruit al die kampstoele geskuif is om plek te maak. Die dae word weke word maande en met die fisiese aktiwiteit raak Lettie se kenne minder en minder. Die spookasem-gevaarte van ‘n Tutu (wat tweedehands op Gumtree gekoop is) se soom moet elke twee weke ingevat word. En een keer ‘n maand word daar ‘n nuwe paar plakkies vir Lettie gekoop soos sy die sole opdans.

Oplaas breek die groot dag aan. Die Ford Escort word gepak en die Stapelbergs sit af Wildtuin toe. Die diens self was pragtig en daar was nie ‘n droë oog in die banke nie. Die Pous homself het die diens behartig, die Johannesburgse strykorkes het die instap en uitstap musiek behartig en die hele Oos-Rand se voorraad wit duiwe word losgelaat (wat die Wildtuin se ekologie totaal verinneweer het, maar dis ‘n ander storie). Na die diens word konfetti uit kanonne oor die egpaar geskiet en ‘n paar van die ouer gaste moet skoon onderklere gaan aantrek. Die gaste het maar lusteloos voor ‘n groot markiestent aan pragtige, maar smaaklose, kanapees gewurg terwyl die egpaar in eksotiese posisies afgeneem word. Sophia was teen die tyd so opgewonde sy’t skoon vibreer van die afwagting en Lettie het kalm al wat ‘n spier was begin losmaak, in haar Tutu wat haar soos ‘n pienk tossel laat lyk het.

Na ‘n ewigheid kom die egpaar eindelik aangestap, die teken word vir die orkes gegee en hulle skop af met Laurika Rauch se “Mannetjies Roux”. Lettie buig grasieus (soort van) en sy gaan aan die dans. (Ek gebruik die term dans maar baie losweg hier.) Lettie draai en swaai. Sy plie’, sy releve’, sy saute’ en sy elance’. As jou naam Fred en jou van Astaire was, sou jy onder andere ‘n paar fokstrot, tango, wals, Chacha en moontlik samba bewegings opgetel het. Die gaste staan verstom. Hier en daar verloor ‘n kelner ‘n skinkbord met duur Franse vonkelwyn soos hulle probeer drankies bedien en kyk te gelyke tyd. Elke keer as die orkes by “seën my ma en seën my pa” kom maak Lettie ‘n wawiel. Iewers langs die pad verloor een van Lettie se plakkies. Iewers langs die pad beland ‘n plakkie op Mevrou Rademeyer se hoed. Lettie dans en dans. Die orkes het naderhand opgehou speel, maar Sophia klap haar hande om Lettie te help ritme hou. Naderhand dans Lettie die bosse in, Sophia al klappend agterna. Die verbaasde gaste kyk rond, onseker wat nou moet gebeur. Margaret Malan (née Wietbieks) staan versteen met ‘n uitdrukking op haar bakkies wat jy gewoonlik sien by iemand wat ‘n grusame moord aanskou het. Die volgende oomblik kom Lettie weer uit die bosse met wat moontlik die grootste tourne’ in die geskiedenis van tyd kon wees. Sophia klap-klap agterna. Lettie gooi haar lyf die lug in vir die finale pièce de résistance, maak 3 bollemakiesies in die lug en land met haar bene oopgesper reg voor Margaret.

Nie een van die gaste kan onthou hoe Margaret gelyk het, watter blomme in haar ruiker was of wat vir hoofgereg bedien is nie. Niemand kan onthou wat haar nuwe man se naam was nie. Maar almal is daar weg met Sophia se telefoonnommer. Of eerder Venterskroon se tiekieboks se nommer sodat hulle ‘n boodskap kan los. ‘n Jaar later moes Sophia ‘n weermag tent langs die karavaan opslaan om plek te maak vir al die studente by Sophia se dansskool. TV reekse word verfilm met Sophia as beoordelaar. Russiese ballet instrukteurs kom vra raad. Skielik raak die geld nie meer op in die Stapelberg bankrekening nie en Johan Stapelberg kan uiteindelik sy eie kettie-herstelwerk winkel oopmaak. Hy dra nou hemde met krae en knope, maar dit het steeds nie moue nie. Die Wietbieks familie onthou skielik wanneer Sophia verjaar en stuur selfs kerskaartjies. Maar Sophia antwoord nie. Sy verwys maar net na dáái familie.

Riaan Palmer

Januarie 2020 – OOP Projek

1.Die inwoner

Ai tog. Ek het sommer geweet vandag gaan een van dáái dae wees toe die simpel koei weer ‘n uur in die badkamer spandeer het. Na al die tyd het sy nog nie agtergekom dat daar geen salf – of grimering – te smeer is om daai gesig beter te laat lyk nie. Sy wonder altyd hoekom sy sleg lyk op haar Facebook foto’s. Dis haar gesig. Geen ander rede nie. En ek het dit al reguit vir haar gesê ook. Maar toe ignoreer sy my asof ek nie eers bestaan nie. Teef. En toe word by vermoedens bevestig dat dit gaan ‘n moeilike dag wees toe ek haar nota op die yskas sien. “Dringende inwoner vergadering. 7 uur, Maandag aand. Carmen.”

Ons almal haat dit. Carmen se simpel vergaderings. Maar niemand het ‘n keuse nie, anders skop sy jou uit. Of eerder haar pappie. Carmen se pa besit die huis wat as kommune dien vir ons sewe inwoners. Natuurlik Carmen, wat dink omdat haar pa oneindig baie geld het, dat sy sommer almal se baas is. Maar haar persoonlikheid het soveel diepte soos ‘n piering melk. En nie eers te praat van haar intelligensie nie – of moet ek eerder sê die tekort daaraan. Ek het al droë herfsblare gesien wat meer insig as daai meisie het.

Die inwoners? In die hoofslaapkamer woon Dawie en Mariska. Mariska is een van daai meisies wat uit die platteland af hier aangekom het, onskuldig en naïef soos net ‘n plasie kan wees. En daai onskuld het net gehou tot die eerste dag wat sy Dawie ontmoet het. Mos net ‘n halwe mooi woord uit die mond van ‘n mooi man en ‘n naïewe meisietjie gaan lê plat op haar rug. Seker nie dat iemand haar kwalik neem nie. Dawie is ‘n Griekse god. Sy spiere het spiere. Sy spiere se spiere het spiere. Daai oneindige diep blou oë kan enige hart laat fladder. Michelangelo sou een beeld na die ander van Dawie kon kap. Hy sou net meer marmer nodig gehad het vir sekere dele, as vir die Dawid beeld. Maar Dawie probeer so hard om sy manlikheid te bewys. Die slaapkamerdeur is meer toe as wat dit oop is, en daai bed kan gerus bietjie olie kry. Dis ‘n wonder dat arme Mariska nie al bakbene gekry het nie. Dawie dink niemand weet dat hy die Men’s Health nie koop vir sy gesondheid nie. Hy koop dit vir die prentjies van die gespierde mans. Maar hy sal dit seker nooit erken nie, al gaan sy siel elke dag bietjie meer dood as hy saam Mariska in die bed klim.

Af in die gang bly Willem. Of soos hy homself noem, Xolotl – god van die onderwêreld. Eens ‘n vaal Afrikaner seun van Heidelberg waar sy pa die dominee van die NG Moedergemeente is. Nou is Willem ‘n “Goth”. Sy muis bruin hare pikswart gekleur en regop gebou in ‘n punk styl. Sy gesig spierwit gepoeier met pikswart lipstiffie. En gaatjies met stukke metaal deur, órals. Deur sy ore, deur sy neus, deur sy wenkbroue en ook heelwat ander plekke waar ‘n mens nie veronderstel is om gaatjies óf metaal te hê nie. Ek het al hoeveel keer in die nag in hom vasgeloop dan skrik ek my gat af – dog ek elke keer die dooies het uit die gate uit opgestaan. Dis nou van “gogga maak vir baba bang”.

Willem – verskoning, Xolotl – deel ‘n kamer met Hendrik. Hendrik is ‘n derdejaar elektriese ingenieurstudent. Hendrik is baie oninteressant. Ek het eenkeer gelê en kyk hoe gras groei en dit was baie interessanter as Hendrik se lewe en persoonlikheid.

Die ander een in die huis is Theuns. Theuns kon ‘n dokter gewees het. ‘n Breinchirurg. Of selfs ‘n slim wetenskaplike wat vuurpyle op Mars laat land het. Maar Theuns het aap-twak ontdek. Nou laat hy, met elke zol wat aangesteek word, selfs vir Carmen lyk soos Einstein. Ek is verbaas hy kry dit reg om gelyktydig te loop en asem te haal.
Dan is daar natuurlik ek. Ek hou my eenkant en bekyk maar net die spulletjie so. Ek pla niemand. Niemand pla my nie.

Uiteindelik breek 7 uur aan en ons almal drentel eetkamer toe, nou nie vreeslik opgewonde oor nog ‘n uittrap-sessie nie. Waaroor kan Carmen tog nou weer kla? Het iemand weer ‘n vuil bord in die wasbak gelos? Of dit nagelaat om ‘n nuwe toilet rol in te sit? Die lewe is te kort vir dié twak, maar hier sit ons…
“Baie welkom en dankie dat julle almal stiptelik teenwoordig is.”, begin Carmen en gee Theuns ‘n kyk, aangesien hy maklik kan vergeet watter tyd van die dag of jaar dit is. “Ek wil graag die olifant in die vertrek aanspreek. Dit help nie ons ignoreer dit meer nie.” Die groep inwoners rol eenparig hulle oë. Behalwe Theuns. Hy rol ‘n vars zol. Carmen is egter te leeg in die kop om haar gehoor te lees, en gaan onverpoosd voort. “Daar is ‘n gees in die huis. Dit goël hier.”
Dawie giggel senuweeagtig terwyl Willem – ag ek bedoel Xolotl – met belangstelling regop sit. Ek kan nie help anders as om te sug nie. Carmen is versot op drama. Almal volg haar reëls tot die letter, nou dink sy maar belaglike goed uit vir nuwe drama. Ek meen, dit is seker nie onmoontlik nie… Die massiewe huis is in die vroeë 1700’s gebou, as herehuis, en hier is al vele mense bokveld toe in die gebou. Maar daar is mos nie iets soos spoke nie?!
Carmen bly ‘n oomblik stil, vir effek, voor sy aangaan met haar bogstories. “Ons almal het die tekens al gesien. Ligte wat in die nag aangaan. Krane wat oopgemaak word – en oop gelos word. Goed in die kombuis wat nie op hulle plek is nie…”
“Het jy saam Theuns begin rook?” Val Hendrik haar in die rede. “Dis mos eenvoudig. Iemand by hierdie tafel kom nie die reëls na nie. Waarskynlik Theuns wat, kom ons wees nou maar eerlik, bietjie in gedagte kan wees. Of Willem wat enige iets sal doen vir aandag.”
“Jou hol.” Sê Willem in ‘n emosielose toon.
“Ek het ook eers gedink dit is een van julle.” Carmen was duidelik gereed hiervoor. “Dis hoekom ek my pa laat kameras installeer het. En dit is…”
“Wat!? Jy kan ons nie afneem sonder ons toestemming nie!” Dawie bloos bloedrooi en die vrees is duidelik in sy stem. Hy’s net bang Carmen weet wat hy doen as hy alleen is.
“Ek kan maak nes ek lus is. Dis my familie se huis. Ek is in beheer van sake.” Sit Carmen hom bitsig op sy plek. “As jy nie daarvan hou nie, weet jy waar die deur is…”
Dawie laat sak sy kop. Blyplek is skaars naby die universiteit.
Carmen gee hom kans om iets te sê, en toe dit duidelik is hy het geen verdere objeksies nie, gaan sy aan. “Ek het deur die video-opnames gegaan, en dit is duidelik dat hier ‘n poltergees in die huis is. Die ligte gaan vanself aan. Die krane gaan self oop. Die kombuiskaste gaan van self oop en jy kan sien hoe skuif borde en goed rond.”
My geduld is besig om op te raak. Die vroumens het sowaar as waaragtig stapelgek geword. Die res van die inwoners kyk haar net met ongeloof aan.
“En dit mag dalk nou skadeloos wees, maar ek het al genoeg flieks gekyk om te weet dit gaan eskaleer. Dis net ‘n kwessie van tyd voor die… gees… iemand gaan seermaak, en uiteindelik dood maak! Ek stel voor ons kry ‘n geestelike leier of ‘n siener om die huis te kom reinig van die bose geeste!” Carmen is naby aan histerie.

Ek is verby histerie. Ek kan nie meer na hierdie waansin luister nie. Ek staan op, en klap hard op die tafel.
Almal staar verskrik na my en ek sis deur my tande. “Wat se absolute snert! Ek bly al 173 jaar in hierdie huis en ek het nog nóóit iets vreemds gesien nie. Jy is mal in jou kop!”

 Riaan Palmer

Maart 2020 – Triomfboog projek

1.Verdwyning van die SS Waratah

Drie dae. Hy het gesê net drie dae. Hy was verkeerd. Of hy het gelieg? Ons sal seker nooit die antwoord ken nie.

Ek het nuus gekry uit die Kaap. My ma was ernstig siek en sou waarskynlik nie die einde van die week sien nie. Ek het haastig probeer planne maak. Per wa sou te stadig wees en ek het nie genoeg geld gehad om per skip te gaan nie. Ek het gesoebat, gesmeek en gehuil totdat ‘n matroos my uiteindelik na Kaptein Joshua Edward Ilbery toe gevat het. Hy het my jammer gekry en ingestem dat ek op die skip kon gaan na Kaapstad en my reis betaal as skottelgoedwasser. Dit was die Skotse skip, die SS Waratah, se tweede vaart. Die vaart het begin in Adelaide en was op pad Europa toe. Sy het geanker in Durban, waar ek op die spoorweg gewerk het, vir voorraad. Ons het net na agt die aand van 26 Julie 1909, Durban se hawe verlaat. 211 siele aan boord, waarvan 118 van ons, bemanning was.

Dit was my eerste keer op ‘n skip en my gestel was glad nie tevrede met die geskommel nie. Na net twee ure op die onstuimige oseaan was daar niks meer in my maag nie, maar my lyf se spasmas het steeds probeer om iets uit te werp, al was daar niks. Na twee dae in die piepklein kajuit het my liggaam vrede gemaak met die heen en weer gewieg, en kon ek uiteindelik vars lug gaan soek. Buite het mis oor die skip gehang, soos ‘n blinddoek oor iemand wat op pad na die galg toe is se kop. Dit het my vasgedruk en omsingel en ek het terug gevlug na die “ruimte” van die kajuit wat net-net groter was as die 4 hangmatte wat as beddens gedien het.

29 Julie 1909 het gekom en gegaan. Ek het uiteindelik genoeg energie gehad om my plig as skottelgoedwasser na te kom, maar steeds nie durf na buite gaan waar die mis steeds die skip onheilspellend, versmorend bedek het nie. Die onrustigheid was tasbaar in die lug. Die ouer bemanningslede het die vertraging as vanselfsprekend aanvaar. Hulle het die see en haar speletjies al goed geken. Maar die passasiers en ons wat nie ons lewens op die see spandeer het nie, kon nie vrede maak met die vertraging nie. Ons moes teen 29 Julie in die Kaap anker.

Teen 30 Julie het die esoteriese mis niemand toegelaat om te weet presies waar ons was nie. Ons was iewers op die wye oseaan. En nie eers ‘n kompas kon Kaptein Ilbery ‘n leidraad gee waar nie.

Teen 5 Augustus kon jy die vrees in die gesoute matrose se oë sien. Hulle het probeer om kalm te lyk, maar selfs die beste leuenaar se oë verraai hom. Van die dames passasiers het konstant gesit en snik en konstant die hoeke van hulle oë met sakdoekies droog gedruk. Die gewone luukse etes is stopgesit na die kaptein beveel het om kos te rantsoeneer. Ek het Ilbery net een keer vinnig gesien waar hy doodsbleek met sy tweede in bevel ‘n gefluisterde, tog ernstige gesprek gevoer het. Dit was duidelik dat paniek op die punt was om die sterkste man aan boord te oorweldig.

8 Augustus was nie ‘n goeie dag nie. Nie dat enige dae op die vervloekte skip regtig ‘n goeie dag was nie. Sewe van die ouer passasiers en ‘n maande oue baba is oorlede. Dalk wanvoeding. Dalk vrees. Dalk het hulle net moed opgegee. Ilbery het ook beveel dat die gevangene wat op die skip was vir sy verhoor in die Kaap, oor boord te gooi. Baie van ons het daarteen vasgeskop en ‘n enkele geweerskoot het later bevestig dat die veroordeelde ten minste ‘n menslike dood gesterf het in stede daarvan dat hy verdrink.

11 Augustus 1909 was die dag wat die laaste van ons menswees verdwyn het. Ons het dae laas vleis gehad om te eet, maar ewe skielik het die kok potte vleis voorgesit. Niemand hoef iets te gesê het nie. Niemand het iets gesê nie. Oorlewing was al wat in ons gedagtes was. In stilte het ons dankie gesê vir die wat die stryd teen die mis verloor het.
Eet. Of word geëet. Die wet van die natuur.

Die aand van 12 Augustus was daar ‘n opgewondenheid op die dek. Almal wat nog kon loop het gehardloop agter die verheugde roepe aan om hulle stemme by te voeg. Deur die mis kon ons ‘n lig op die horison sien flits. Die lig wat met ‘n boog deur die mis dring en uitroep: “Kom hier! Dis veilig hier! Hier is land!”. ‘n Triomfboog wat sê die einde is in sig. Die toeskouers het mekaar omhels en gedruk. Iemand het ‘n bottel Franse vonkelwyn uitgehaal en mense het sommer so uit die bottel gedrink. Nuwe lewe het deur hulle gevloei. Hulle het getriomfeer oor die mis. Oor die gruwels. Oor die dood.

Maar party van ons het morsekode verstaan. “Draai om.” Het die boodskap gekom met lang en kort flitse. “Dit is nie wat julle dink nie. Die dood wag hier vir julle.”
Ek het paniekbevange na Kaptein Ilbery gekyk. Hy het triomfantlik geglimlag. Die siele vir sy skuld het uiteindelik hulle bestemming bereik.

**

Die Waratah sou na verwagting op 29 Julie 1909 Kaapstad bereik, maar het nooit sy bestemming bereik nie. Geen spoor van die skip is nog gevind nie.

**

Claude Sawyer vertel dat hy tydens sy reis op die SS Waratah drie keer in drome die gedaante van ‘n man, geklee in ‘n baie eienaardige uitrusting gesien het. Die man het met ‘n lang swaard in sy regterhand gestaan. In die ander hand het hy ‘n lap wat vol bloed was vasgehou. Sawyer het besluit dat hierdie visie ‘n waarskuwing was, en was een van die redes waarom hy besluit het om nie die reis op die Waratah voort te sit en op 25 Julie 1909 van die skip af geklim, in Durban.

Riaan Palmer

April 2020 – Grendel projek

3.Dokter Aasvoël

Die dood is nie ‘n mislukking nie. Die dood is normaal. Die dood is miskien ons vyand, maar dit is ook die natuurlike orde van die lewe.

**

Ek lees die kort nota weer om seker te maak ek verstaan reg. Die skrywer se handskrif is bykans onleesbaar en die hoeveelheid spelfoute maak die boodskap bykans onverstaanbaar. Maar as ek reg verstaan is dit slegte nuus. Baie slegte nuus.

Genua was tot dusver redelik onaangeraak deur die pestilensie, of die Swart Dood, soos die dorpsmense daarna verwys. Burggraaf Guglielmo Embriaco het sonder om te skroom trentino in plek gesit, wat beteken dat enige besoeker aan die stad vir 30 dae in isolasie moes bly in die ou gevangenis. Opgesluit, maar darem goed versorg. Maar soos die nuus uit die res van Europa aangekom het oor die verwoesting, het die Biskop in Embriaco se oor gefluister om die isolasie 40 dae, oftewel quarantino, te maak. Dit het moontlik die hawestad van die Plaag gered. Tot nou.

Die dood het egter steeds by die poorte van die stad aangeklop. Letterlik. Die stad was onder beleg deur die Tataarse-Mongoolse weermag. Tot dusver kon die massiewe houtdeure en hoë stadsmure die aanval weerstaan. Die vyand het nou, soos verkeerdelik uitgespel in die nota in my hande, ‘n nuwe slinkse plan uitgedink. Die Swart Dood het saam met die vyand by die poorte opgedaag en onder hulle soldate begin moor. Nou skiet hulle met die katapults die lyke van die besmette soldate oor die stad se muur…

Ek maak die lendelam houtkas oop en haal die swaar leer klere uit. Ek het bly hoop dat ek dit nooit hoef aan te trek nie, maar hier was dit nou. Ek laat my hande oor die oppervlakte gly wat glad is van die waslagie wat oor die leer gesmeer is. Is dit goed genoeg om my te beskerm teen die onheil? Net een manier om uit te vind. Ongelukkig kry ek net een kans om uit te vind. Dit is my plig. Ons plig. Die dokters van die stad is opgeroep om die lyke te verwyder.

Ek sukkel onhandig om die gewigtige klere aan te trek. Voor ek die jas aantrek kry ek die masker reg. Dit herinner my weer aan die skedel van ‘n aasvoël met die snawelagtige holte en die swart holtes waardeur die draer moet sien, en soos aasvoëls draai die dokters, met dié gewaad, om die lyke in die strate. Ek stop die holte van die snawel vol droë kamfer takkies, gevolg deur ‘n lap wat geweek is in peperment- en lampolie en steek dit aan die brand. Dan trek ek haastig die heftige jas en handskoene aan. Ek aarsel ‘n oomblik voor ek die masker en hoed oor my kop trek. Ek verstik aan die rook en weerstaan die behoefte om die masker van my kop af te ruk. Toe my asemhaling uiteindelik egalig is skuif ek vir die eerste keer in 14 dae die grendel van die voordeur oop, en stap die sieklike wêreld binne.

**
Dit was drie dae voor die eerste van ons eie mense dood is. En hulle was die gelukkiges. Baie het meer as vyf dae lank gely. Ek het in my jare as geneesheer nog nooit iets so vinnig sien dood nie. Eers het die draer se kliere begin swel, gewoonlik nie onmiddellik opvallend nie, maar wel pynlik. Dan het die swart kolle gekom, onder die arms of in die dye. Die teken dat Die Dood jou gaan kom haal. Dan kom die bloed, spasmas, koors en ‘n lang lys ander simptome wat Satan sekerlik self uitgedink het om die mens te laat ly.

Toe die dood eers die strate invloei, kon die vloed nie gekeer word nie. Vader het kind verlaat, man sy vrou, die een broer die ander. Dit was duidelik dat hierdie siekte deur asem, sig en die dikste bloed slaan. So het hulle gesterf. Uiteindelik was daar nie meer genoeg lewendiges, geld, vriendskap of menslikheid om die dooies te begrawe nie. Gesinne het hulself in hulle huise toegesluit. Om kerse in hongerte gewag vir die Swart om te kom. Elke oggend het ek met die wa deur die strate geloop, die klok gelui en geroep “Bring uit julle dooies! Bring uit julle dooies!”
Ma’s, pa’s, kinders het dan die ontslapenes gesleep tot in die vore wat verby die huise loop. Dan laai ek, of een van die ander dokters, die lyke op die wa om buite te stad te gaan verbrand. Sonder priester en sonder heilige afskeid of seën. Nie dat daar veel dokters oor is nie. Ek weet nie meer wie loop saam met my in ‘n aasvoëlpak opsoek na lyke nie. Ons praat nie. Ons lui net die klok vir die dooies.

Ek was nie seker hoeveel mense meer lewendig was in die huise nie. Dit het gevoel of ek meer lyke al uit die stad uit gevat het as wat daar ooit in die stad lewendig bymekaar was. Buite die poorte het die Khan se weermag in puin gelê en ontbind. Hulle het nie respek verdien dat hulle lyke verwyder word nie. Ons het hulle lyke net daar gelos vir die kraaie en jakkalse om te eet.

Na nog ‘n dag van eindelose lyke stap ek terug na my huis toe. Die strate verlate, met net die rotte wat vanuit die skaduwees in stilte my geselskap hou. In die donker het ek het eers gedink dit is ‘n hoop rommel, maar toe ek nader stap kon ek haar fyn gelaatstrekke uitmaak. Sy was seker nie ouer as 15 of 16 nie. Reeds dood. En die swart kolle en bloed oor die ontblote dele van haar vel het nie probeer om die rede ‘n geheim te hou nie. Ek het hartseer my kop geskud en begin aanloop toe ek dit hoor. Ek het my oë magteloos toegeknyp en net so bly staan en luister. Die gehuil van die baba het harder en harder geword. Naderhand was dit in my kop, in my lyf en geruk aan my hart. Ek het weer omgedraai en tot by die jong meisie gestap. Ek het haar so versigtig as wat ek kon met my stewel omgestoot waar sy in hurkende posisie gesit het, asof sy eintlik besig is om te bid. Die bondeltjie lappe het uit haar arms gerol. So versigtig as wat die groot leerhandskoene toegelaat het, het ek die bondeltjie oopgemaak. Daar was geen swart kolle aan die gesig nie. Ek het die hempie opgelig, en daar was ook geen swart kol onder die armpies nie. Wat moes ek doen? Ek het nie melk gehad vir die kind nie. Na ‘n oomblik se bepeinsing het ek die bondel gegryp en na Nicolò da Voltri se huis gehardloop. Sy vrou het onlangs ‘n seun gehad. Uit asem het ek aan die deur geklop nadat ek die kopbeen-masker afgeruk het, om nie die inwoners bang te maak nie.
Nicolò het versigtig die deur oopgesluit en die deur net ‘n skrefie oopgemaak sodat ek net sy oog kon sien.
“Dokter?!” het hy verbaas uitgeroep toe hy my erken.
“Nicolò, laat die kind asseblief drink.” My stem was pleitend en ek het die huilende kind voor my uitgehou.
Hy het onmiddellik die deur toe geklap en op grendel gesit.
“Wat maak jy Dokter?! Jy gaan my gesin doodmaak!” Roep hy naby aan histerie uit.
“Die kind is gesond.” Het ek kalm geantwoord. “Jy kan self kyk.” Ek het byvoorbaat die kind uit die bondel lappe gehaal, die hempie uitgetrek en weer voor my uitgehou. Na ‘n ewigheid of selfs langer Nicolò weer die deur oopgemaak, en die kind gevat soos wat iemand die skerpste mes in die wêreld sal vat en die deur haastig weer toegemaak. Die kind se huil het stil geword.
Na ‘n ruk breek die gille van ‘n vrou die nag se stilte. Ek spring op en storm die huis binne. Die kind lê op die tafel waar die vrou klaarblyklik die kind wou skoonmaak. Die vrou self sit in ‘n bondel op die vloer en huil histeries. Nicolò se gesig is spierwit, sy oë vol vuur.
“Jy het die dood by my huis ingebring! Gaan net en vat die duiwel se werpsel saam met jou!” Gil die man, buite homself, vir my. Ek stap tot by die kind en sien die swart kolletjies, soos onskuldige insekte aan die binnekant van sy dye.
“Ek…” Ek kry nie woorde nie. Ek tel die kind op en stap die swart van die nag in.
**

Ek het enkele besittings in my huis gaan haal, al my boeke en ‘n paar bokke gaan koop by Giovanni Battista. Ek en die kind het met ‘n handvol munte ‘n kaptein van ‘n klein seilskip oortuig om ons weg te neem. Die Dood het ons gejaag. Soos die swart kolle ons lywe besmet het, het die Dood aan die deur geklop. Maar ek het nie oopgemaak nie. Die kind het ook bly veg. Na dae se hallusinasies, van lyke wat in die strate loop en aasvoël-mense wat sirkel om my bed, het die koors gebreek en het die Dood die punt van my mantel laat los.
Ons het egter nooit ophou vlug nie. Dit het altyd gevoel of die Dood ons jaag om sy skuld te eis. Ons was altyd op ‘n skip of op die pad op soek na iewers waar die Dood ons nie sou kon kry nie. Ek weet nie of het die kind ooit rus vir sy siel gekry nie, selfs na die Dood my ingehaal het. Ek moet seker ophou praat van “die kind”. Ek het die kaptein gevra om hom te doop. My seun, Cristoforo Colombo.

**

Epiloog: Alhoewel die verhaal historiese feite bevat, is dit nie histories akkuraat nie.
Dubrovnik, Kroasië (destyds Ragusa) was in 1377 die eerste stad wat isolasie (kwarantyn) ingestel het vir besoekers uit ander stede.
Die Franse dokter, Charles de l’Orme, het in die sewentiende eeu die skrikwekkende pak ontwerp, wat lyk asof dit gebaseer is op ‘n voël, wat vereenselwig word met dokters en die dood tydens die builepes. Die masker was so ontwerp om kruie in die holte te sit om die dokters te beskerm teen “plaag in die lug”. Die pakke was nie baie effektief nie en het geen ekstra beskerming vir genesers gegee nie.
Tussen 1347-1349 het die Tataarse-Mongoolse weermag die plaag na Italië gebring, en die Italianers besmet deur die lyke van oorlede soldate oor die muur van Genua (Genova) te katapult.

Riaan Palmer

Junie 2020 – Vryheidsprojek

1.Die ou man se winter

Ek het gevoel soos ‘n haas in ‘n aankomende stel kopligte. Verlammende skok. Jeanie was weg. Ek het uit die ou leunstoel gebeur; geswets omdat my ou beendere so gesukkel het om saam te werk. Toe ek orent is, kies ek dadelik koers kombuis toe. Jeanie se plek. Daar waar sy haar dae vertoef het om die heerlikste gebak op te toor uit net droë meel, botter en eiers. Ek het weer geswets. In my kop het ek voluit gehardloop. Maar my ou lyf het my getreiter met klein rukkerige bewegings. Soos die van ‘n ou man. Wanneer het ek ‘n ou man geword? Wanneer het my spiere wat soos ‘n span osse gespan het verdwyn? Wanneer het my ratse voete begin skuifel oor die vloer?
Ek het ‘n ewigheid en ‘n dag later uiteindelik die kombuis ingekom. Die oond was af. Jeanie se stoel voor die es was leeg. Die es was koud, nie eers ‘n kooltjie wat wag vir ‘n stomp nie. Geen reuk van kaneel en anys wat jou kon herinner dat jy ook maar net mens is nie.

“Jeanie!?”
My stem het my ook herinner dat ek oud is. Krakerig. Vol spinnerakke en stof soos enige iets wat vir lank nie gebruik is nie.
Net stilte het geëggo. Ek het benoud omgedraai om Jeanie in ons slaapkamer te gaan soek. Ek het afgekyk na die twee ou oom voetjies wat skuifel-skuifel geweier het om spoed op te tel en die woede het begin opbou. ‘n Lelike woord. Ou oom. Ek dink terug aan die dae wat ek as tiener ou mense gespot het. Neergekyk het op hulle. Ek was selfs so verwaand om hulle suurstofdiewe te noem. En nou? Wat ‘n grap. Karma. Die vloek van tyd.
Jy spandeer die eerste deel van jou lewe om te leer, jy word sterker en ervare. En dan, met geen fout van jou eie, begin jou liggaam ingee. Alles begin agteruitgaan. Sterk ledemate word swak, skerp sintuie vervaag, jou eens geharde gesondheid versleg. Jou skoonheid verlep. Jou organe dink nuwe kwale uit… Ek onthou myself aan die begin en wonder waarheen daardie mens is. Eers is jou liggaam jou trots, ‘n tempel. Maar voor jy nog besef wat aangaan is jou verraderlike liggaam ‘n gevangenis. ‘n Kokon waaruit jy nie kan ontsnap nie.

Na nog ‘n ewigheid en ‘n dag kom ek in die kamer aan.
“Jeanie!?”
‘n Onheilspellende leweloosheid hang oor die kamer. Ek gaan sit op die bed. Aan Jeanie se kant. Daar waar sy in goeie en in slegte tye aan my sy geslaap het. Ek voel hoe die hartseer oor my spoel? Weer en weer hoor ek my stem uitroep, met riviere van warm sout oor my wange. Net om met stilte beantwoord te word.
Ek word bewus van ‘n vrou wat in die deur staan en vir my kyk. Die hartseer maak plek vir vrees.
“Wat het jy met my vrou gemaak?!” Ek probeer braaf klink, maar die ou oom stem verraai my.
“Buks…”
Die vrou stap nader. Ek probeer besluit of sy aggressief voorkom, maar sy is by my voordat ek ‘n besluit kan maak. Ek beur orent en stamp die vrou weg. Of dit was die plan. Sy bly staan soos ‘n rots en ek kry dit net reg om myself van balans af te stoot en die grond kom nader voordat enige boodskappe om te keer, by my ledemate kan uitkom.

***

Ek tuur oor die park maar sukkel om op die mense se gesigte te fokus. Waar kan sy wees? ‘n Vrou met ‘n hond stap verby en glimlag daardie onsekere glimlag wat jy vir vreemdelinge aanbied.
“Verskoon my dame…”
Sy stop en die hond begin opgewonde aan my broekspype snuffel.
“Ek is opsoek na my vrou. Jeanie. Kan jy my dalk help soek? My oë en bene is nie meer wat dit was nie.”
“Sorry Oom. Ek het ‘n afspraak ek kan ongelukkig nie.” Sy draai om en die hond gee haar ‘n hartseer kyk want hy het nog nie alles geruik wat hy wou ruik nie.
Ek skud my kop. Ja toe. Gaan na jou afspraak. As jy maar net geweet het… As jy jonk is, voel jy altyd asof die lewe nog nie begin het nie – dat die “lewe” altyd na verwagting volgende week, volgende maand, volgende jaar, na die vakansie, sal begin. Maar dan is jy skielik oud en die geskeduleerde lewe het nie aangebreek nie. En jy vra jouself… Nee, ek vra myself: “Presies wat het ek gehad – die tussentyd – die gejaagde waansin – al die tyd wat ek gehad het om te leef?”

My gedagtes word onderbreek deur ‘n iemand wat aan my arm vat. Dis ‘n polisieman.
“Buks? Buks Nienaber?” Vra hy.
“Ja… Het jy Jeanie gekry?” Hoop vlam op in my bors.
“Kom sit hier, Oom.” Die polisieman lei my aan die arm na een van die bankies toe en wag dat ek gaan sit.
Hoekom wil hy hê ek moet gaan sit? Het hy slegte nuus. Die hoop gaan dood.
Ek wag met inspanning dat hy nuus met my deel, maar hy is besig om met iemand op sy radio te praat.
Toe hy klaar is kom sit hy langs my en begin praat oor die land se ekonomie en die weer, maar ek stel nie belang nie. Ek beantwoord net sy vrae deur te vra waar Jeanie is. Telkens wil ek opstaan om haar te gaan soek, maar die man dring daarop aan dat ek bly sit. Ek weet my krag is te min om enigsins weerstand te bied.
Uiteindelik kom ‘n vrou aangestap. Dit lyk of sy baie gehuil het. Dalk is haar man weg?
Sy bedank die polisieman en hy verdwyn haastig met die voetpad langs.
Intussen kom sit die vrou langs my. Sy is nogal mooi. Oud. Maar mooi.
“Weet jý waar Jeanie is?” Vra ek haar.
Sy glimlag maar die glimlag steek nie die hartseer in haar oë weg nie.
“Jy hoef nie sleg te voel omdat jy my vergeet nie.” sê sy uiteindelik.
“Wat bedoel jy?”
“Elke keer as jy my vergeet, kry jy net die kans om my weer te leer ken. En jy hou daarvan, want ek is eintlik ‘n baie aangename persoon om te leer ken.” En sy soen my op my voorkop.

***

Ek probeer fokus. Ek kan voel dat my liggaam nou genoeg gehad het. Uiteindelik kom genoeg van my sintuie bymekaar dat ek kan verstaan wat om my aangaan. My hart maak ‘n bolmakiesie en ek glimlag so breed as wat my mondhoeke my toelaat. Jeanie sit langs my op die bed.
“Jeanie…” My stem is ‘n vae sug.
“Ek’s hier Buksie.” Sy soen my saggies op my voorkop. Langs die bed staan Elmarie. Ons pragtige dogter. In haar arms hou sy Chantel, my kleinkind, styf vas.
“Dankie.” Ek weet net een woord is nodig. Ek onthou. Ek onthou dat ek geleef het. Ek onthou dat elke dag saam met die vrou ‘n seëning was. Ek onthou… die Alzheimer’s. En ek onthou Jeanie se belofte.
“As die dag ooit kom dat jy langs my wakker word en my naam nie op jou lippe kom nie, wanneer daardie verbaasde blik in jou oë nie verdwyn nie, sal ek vir ons altwee onthou. Ek sal nie toelaat dat jy die lewe wat ons saam gebou het, vergeet nie. Ek sal jou nie laat gaan nie.”

“Dis ‘n plesier my man. Elke oomblik was net ‘n plesier.”
“Ek is lief vir jou.” Ek dink dit is goeie laaste woorde.
“Wees vry my man. Ontsnap uit jou gevangenis en wees vry.”

Riaan Palmer

2.Liesbet ontsnap

(1038 Woorde)

Ek’s nie seker of ek geslaap het of wat nie. Ek het net bewus geword. Ek het bewus geword van die styfheid in my hele lyf. Asof ek gister gehardloop het en daar te veel van my spiere verwag was. Ek het my oë oopgemaak, maar alles was steeds stikdonker. Nie donker soos die nag nie. Donkerder as dit. Swart, maar ‘n swarter skakering van swart. ‘n Donker wat nie gesien of gehoor kan word nie Jy kan dit egter voel asof dit ‘n fisiese vorm het en oor om en in jou vloei. ‘n Koudheid. Daardie donker wat agter die sterre lê en onder heuwels; wat leë gate vul. Die donker wat eerste hier was en laaste sal wees.

Ek het met moeite probeer regop sit. Ek was moeg gelê. Asof ek te lank stil gelê het. Eers was dit asof my brein nie vas was aan my lyf nie. Asof die opdragte aan stywe beendere in die niet verdwyn het. Toe ek uiteindelik aan die res van my lyf die konsep van beweging verduidelik het, en regop beur, toe word my poging gestuit deur iets reg bo my kop. Ek het stil gelê en my milieu probeer inneem. My hande het versigtig op ‘n ontdekkingstog gegaan. Ek was in ‘n baie klein spasie. Net groot genoeg dat ek daarin kon pas. Maar die tekstuur was sag, soos watte. Asof iemand bang was ek kry seer en my hier gesit het om my te beskerm.
Hier.
Hier?

Asof daar kerse oral in my verstand aangesteek word, het verskillende gedagtes hulself aangekondig.
“Waar was ek?”
“Hoe het ek daar gekom?”
“Hoekom was ek daar?”
“Hoe lank was ek al daar?”

Stilte.

“Wie was ek?”
Elizabeth. Elizabeth Notnagel. Liesbet. My ma het my my Liesbet genoem.
Ek het die lig probeer aanwaai na die donker dele van my geheue om die vraende gedagtes te probeer stilmaak. Die probleem met kerslig is dat dit skaduwees gooi. Dit het donker gebly.
Snaaks genoeg was daar ‘n kalmte in my. Ander mense sou dalk histeries word in so ‘n situasie. Maar nie eers die klop van angsbevange hart het die stilte van my sel gebreek nie. Is dit waar ek gaan doodgaan? Is dit waar ek die laaste oomblikke van my lewe gaan spandeer? Ek is nie bang vir die dood nie. Ek sou dalk ten minste net bietjie meer inligting oor my dood wou gehad het…

Die kerslig in die gange van my denke het geflikker asof ‘n vars bries daaroor gewaai het.
“Wat is die dood?”
Gedagtes het weer begin praat – so al asof hulle die antwoord geken het. Maak jou oë toe, laat alles gaan. Luister na die stilte. Jy sal onthou wat jy vergeet het.
Wat?
Jy word nooit regtig gebore nie en sal nooit regtig sterf nie. Dit het niks te doen met die denkbeeldige idee van ‘n eie self, ander mense, die hele heelal met alles daarin nie: self is slegs ‘n idee, ‘n sterflike idee. Dit wat was en is en gaan wees is alles een. ‘n Droom wat verby is – waaruit jy wakker word. Daar is niks om voor bang te wees nie en niks om oor bly te wees nie. As ek nou sterf gaan ek net weer deel word van dit wat ek reeds deel is. Net in ‘n ander vorm, maar sal altyd bly voortbestaan.
Ek het gefrons. Was dit my eie gedagtes? Treine van opdragte het weer my verstand verlaat en uiteindelik by die eindbestemming van my mond uitgekom. Soort van. Die opdrag was “Roep om hulp”. Maar al wat gebeur het was ‘n droë roggel geluid wat uit die dieptes van my keel gekom het. Droë.

Droog.

Ek het besef hoef droog my mond was. En honger. So honger.
My vingers het my gevangenis weer begin ondersoek, en ‘n skeurtjie in die hoek ontdek. Koorsagtig het vingers begin trek aan die materiaal. Dit het verbasend maklik gedisintegreer tot ek weer gestuit is deur ‘n harde oppervlak.

Hout.

Moedeloos het ‘n klank weer my uit my keel ontsnap. Dit was nie “help” nie.
Ek het my hande gedwing om weer te probeer. Stadig maar seker het die hout, splinter vir splinter, onder my krappende vingers begin ingee. Ten koste van ‘n vingernael of tien. Uiteindelik kon ek die anderkant van die houtmuur kry.

Grond.
Grond?

‘n Gedagte het van een skaduwee na ‘n ander gehardloop. Die gedagte het iets belangrik gehad om te sê, maar was te skaam om te praat.
Minute, ure (,dae?) het ek gegrawe, gerus, baklei. Ek móés ontsnap. Anders. Anders sou daardie klein spasie sweerlik my graf wees.

Uiteindelik.

Uiteindelik was daar nie meer weerstand onder my vingers nie. Vryheid. Ek kon die koue wind deur my vingers voel. Emansipasie. Daar was ‘n klammigheid onder my vel. Dou? Boodskappe, opdragte, ongekende krag is na my vingers, hande, arms – elke spier in my lyf gestuur tot my liggaam vry en onbeperk uit die gat in die grond beur en vir ‘n oomblik die sensasie van ongebondenheid kon waardeer. Alhoewel dit nag was, was dit steeds beter as die eindelose donker van my gevangenis. Ek het opgestaan en net ‘n rigting begin stap. Die maan se lig was helder genoeg om daardie een gedagte in die skadu’s uiteindelik te verlig. Dit het egter nie die honger gekeer nie. Ek móés eet.

**

Daniël was nou al 30 jaar die opsigter hier. Hy was vir niks bang nie. In die 30 jaar het hy nog nooit in die begraafplaas vir sy lewe gevrees nie. Hy kon nie dieselfde sê van daar buite waar die lewende mense hulle gang gegaan het nie…
Sy selfoon se flitslig het heen en weer oor die grafte gespring soos ‘n speelse kind wat te veel energie gehad het. Die lig het egter tot ‘n skielike stilstand gekom op ‘n hopie vars grond op een van die grafte. Daniël het onseker nader gestap, terwyl hy die selfoon se liggie om hom gestuur het, opsoek na antwoorde of moontlike gevaar. Hy het gaan staan voor die gat in die grond en verward die grafsteen verlig.

Elizabeth ‘Liesbet’ Notnagel
5 Junie 1999 – 23 Julie 2016

In die donker was daar ‘n stem. Of ‘n roggel.

Riaan Palmer

Julie 2020 – Klanknabootsingprojek

1.Tannie Tokkie Toeter en die lykswa

Tannie Tokkie Toeter was ‘n baanbreker. Dalk nou nie ‘n baanbreker soos Marie Curie of Katherine Johnson nie, maar op Philippolis is die verwagtinge darem ook maar anders as in die stad. Nee, tannie Tokkie Toeter het genoeg geld gehad om altyd die nuutste en beste van enige iets te hê. Sy was byvoorbeeld die eerste persoon op Philippolis om ‘n porselein troon in die huis te hê. Dit het natuurlik die skindertonge laat klap want die spreekwoord sê tog “jy moenie bollie waar jy slaap nie” (net met ‘n dubbel ‘k’ en ‘n middel ‘a’). Hoe kon dit nou higiënies wees om jou onnoembare funksies bínne die huis te doen? Dit is ook vanselfsprekend dat tannie Tokkie Toeter die eerste persoon op Philippolis was wat ‘n toilet borsel gehad het. Lang storie kort het sy gelukkig ook na ‘n rukkie uitgevind van toiletpapier en waarvoor ‘n toilet borsel nou eintlik is.
In ieder geval, sy kan seker maar as die eerste jappie beskryf word.

Waar haar oneindige rykdom vandaan kom, is ooglopend. Die eerste motorkarre het almal fietsklokkies gehad. Met ander woorde as ‘n stout kind ‘n bal voor jou motorkar inskop dan het jy jou trieng-trieng gelui. (Mens kan mos nou nie ‘n ding wat op ‘n motorkar is ‘n fietsklokkie noem nie. Dis dieselfde ding, maar jy roep hom iets anders!) Tot die dag wat tannie Tossie Toeter, Tokkie Toeter se ma, ‘n trop kwakende eende gestaan en bekyk het en ‘n blink plan gehad het. Na ‘n week in die waenhuis het tannie Tossie Toeter die toeter uitgedink soos ons dit vandag nog ken, in ‘n motorkar. Die Toeter familie het natuurlik tantieme vir elke toeter wat in ‘n motor geïnstalleer word gekry, en as jy al ooit tydens spitstyd op die pad tussen Pretoria en Johannesburg was, dan weet jy dit moet báie geld wees.

Met die wat tannie Tokkie Toeter altyd die nuutste en die beste wou hê, het sy gedurig ‘n nuwe man aan die arm gehad. Totdat sy ‘n aantrekliker, sterker, wulpser of jonger man gewaar het, dan het sy die oue laat verstaan dat sy tyd om te gaan gekom het. Of is dit nou dat sy tyd om te kom, gegaan het? Of so iets. Wat geld egter nie kan koop nie, is tyd. Tannie Tokkie Toeter het een goeie dag geflikflooi met ‘n nuwe hubare 21-jarige op Philippolis, toe laat hy haar in geen onduidelike terme verstaan daar is nie genoeg geld in die wêreld dat hy naby tannie Tokkie Toeter se katel sou kom nie. Letterlik en figuurlik. Sy was ongelukkig op die ouderdom wat haar plooie, plooie gehad het. En dié plooie se plooie het weer rimpels gehad. Selfs die mees desperate hormoon het sy punt van “geen kans”.
Tannie Tokkie Toeter was 80 jaar oud en sonder kind of kraai. Geen van haar aardse dinge kon meer vir haar geluk bring nie en die besef dat die dood haar adres gaan begin opsoek het in haar kop begin draai. Maar vir wie sou sy tog die eindelose rykdom los?

Net soos haar ma, tannie Tossie Toeter, het ‘n blink plan op tannie Tokkie Toeter neergedaal. Sy so die eerste persoon op Philippolis wees om haar begrafnis te hou voordat sy dood is. Dit maak tog sin. ‘n Begrafnis is mos ‘n duur affêre. As soveel geld op jou gespandeer gaan word, kan jy maar netsowel lewendig wees en dit saam geniet. En dan kan jy mos hoor wat die mense van jou dink. Dis ook die ideale geleentheid om ‘n erfgenaam te kies – tipies die persoon wat die meeste huil of die mooiste woorde van jou spreuk.

So gesê, so gedaan. Tannie Tokkie Toeter gaan gesels met Karel van AVBOB om haar begrafnis te reël. Alles in die geheim, anders gaan die mense aansit – as hulle hoor sy leef nog en sit daar in die gehoor by haar eie begrafnis. Nee. Tannie Tokkie Toeter wil met ‘n “Verrassing!” uit haar kis uit spring sodra die preek en die praatjies verby is.
Sonder veel detail of inligting word die nuus toe versprei dat Tannie Tokkie Toeter se begrafnis Woensdagoggend 10 uur gaan wees. (Elke keer gevolg deur die woorde “Ek het nie eers geweet sy is siek of dood nie”.) Almal is welkom. Daar gaan baie eetgoed en ‘n regte Oempa-orkes wees met mampoer uit die Waterberge. Die mense van Philippolis laat hulle nie twee keer nooi vir iets nie, al is dit nou ‘n begrafnis. Die skooltjie sluit vir die dag, kinders word vir ‘n verandering gebad en hier en daar word daar selfs kamme deur boskasies getrek. Springbok bustoere se hele vloot busse word uitgeboek om die stringe mans uit tannie Tokkie Toeter se verlede aan te ry. ‘n Uur voor die tyd is die kerk al vol en word die sy-saal oopgemaak terwyl die katkisasie klas aangesê is om plastiek stoele te pak.

Intussen, by die begrafnisondernemer se plek sit tannie Tokkie Toeter al in die lykswa en wag vir Karel om klaar te maak. Sy lê op die toeter en gil by die venster uit dat sy weier om laat te wees vir haar eie begrafnis. Sy ry, mét of sónder Karel. Karel is ‘n totale senuweewrak. Hy is nie gewoond daaraan dat sy kliënte hom aanjaag nie. Hy is gewoond daaraan dat hulle stil en teruggetrokke agter in die lykswa lê en wag. Skoon bewerig van die angstigheid neem Karel uiteindelik sy plek agter die stuur in, net om met ‘n droë tjorro-tjorro gegroet te word toe hy die lykswa probeer aanskakel. Sy moed sak in sy skoene en hy sien al in sy geestesoog hoe word hy vir die eerste keer ooit deur ‘n kliënt gemoker. Tannie Tokkie Toeter gaan haal ‘n paar woorde wat jy nou nie in die Bybel sal kry nie – nie eers in die Satanistiese Bybel nie. Sy vlieg uit die lykswa en beduie vir Karel dat hy die enjinkap moet oopmaak. Die Toeter familie is mos nou al jare betrokke by motors se enjins, so dit is net vanselfsprekend dat tannie Tokkie Toeter ‘n slag moet hê met enjins. Of so oortuig sy haarself. Sy hang oor die enjin druk hier aan ‘n vonkprop, trek daar aan ‘n draad en gil vir Karel dat hy weer moet probeer. Die enjin gee ‘n tjorro-kugge-kugge so al asof dit al vir jare Texan plain rook. Tannie Tokkie Toeter swaai haar handsak met mening in die rigting van die vergasser terwyl sy vir Karel gil dat hy moet “gas gee”. Karel se bene raak lam van al die opwinding. Hy is gewoond aan stil en stemmig, nie hierdie soort geharwar en geraas nie. Sy voet gly van die koppelaar af en die kugge-kugge word ‘n diep wroem en sonder waarskuwing gee die groot lykwa ‘n tree vorentoe. ‘n Egalige doef-doef laat die bloed heeltemal uit Karel se gelaat vloei. Karel loer in die truspieëltjie en sien net tannie Tokkie Toeter se kerkskoene staan daar was sy oomblikke terug self was. Hy klim doodsbleek uit die lykswa en stap stadig na die voorkant. Daar kry hy tannie Tokkie Toeter tussen al die dooie goggas in die rooster van die lykswa; haar 80-jarige lyf het nie ‘n kans gestaan teen die massiewe lykswa nie. Karel loer om hom rond of iemand iets gesien het, maar die Philippolis se mense sit en wag reeds in die kerk vir die begrafnis om af te skop. Redelik oortuig dat niemand iets gesien het nie, gaan haal Karel ‘n eierspaan uit die huis en krap tannie Tokkie Toeter van die lykswa se neus af – so versigtig as wat hy kan – en sit die krapsels in die kis.

Vandag is tannie Tokkie Toeter se begrafnis. Sy was toe nou nie die eerste persoon op Philippolis wat lewendig haar eie begrafnis bygewoon het nie.

©Riaan Palmer
1308 Woorde

3.Ouma en Blik Bettie

Ek het doodonskuldig my ma vertel van die fliek, Christine, wat ek die vorige aand gekyk het, toe Ouma uit die kombuis gestoom kom en my ‘n klap teen die oor gee. Nou as Ouma jou aan die kant van jou kop bykom en jy sien dit nie kom nie, dan hóór jy eers die klap-klap voor jy besef wat aangaan. Dis natuurlik die geluid van Ouma se plathand teen jou oor, gevolg deur die oor aan die ander kant wat ook ‘n klap geluid maak soos die momentum jou kop swaai. Vir ‘n toeskouer is dit natuurlik vreeslik amusant. Nie soseer vir die ontvanger van die dubbel-klap nie.
Ouma het darem die ordentlikheid gehad dat jou ore ophou suis voor sy met jou begin praat.
“Jy praat nie van daai goed in die huis nie!”, het Ouma spierwit, maar in geen onduidelike terme, gesê en sonder verduideliking op haar hakke gedraai en is weer die kombuis in.
Toe ek uiteindelik by my sinne kom het ek met waterige oë vraend vir my ma gekyk, wat net haar kop geskud het. Haar oë ook waterig, maar van die lag en nie van pyn soos myne nie.

Vir dae het ek gesit en wonder waaroor Ouma nou nie wil hê ons moet oor “Christine” praat nie. Christine is natuurlik ‘n fliek wat gebaseer is op ‘n Stephen King boek wat gaan oor ‘n motorkar wat deur bose magte ingeneem word en hoe die kar dan mense vermoor.
Ek het om Ouma begin draai soos ‘n lam vlieg, maar darem ook op ‘n veilige afstand. Ouma was dalk ‘n groot boertannie, maar so rats soos ‘n hottentotsgot en glad nie minder dodelik nie.
Uiteindelik het sy ophou knie aan die bol wit deeg en my aangegluur.
“Wat wil jy hê?” Het sy gevra en met ‘n ondeundheid in haar oog gemik in my rigting.
“Hoekom mag ek nie oor daai fliek praat nie, Ouma?” Het ek senuweeagtig gevra nadat ek seker gemaak het die tafel en ‘n paar stoele is tussen my en haar.
Sy het my stil aangekyk, so al asof sy gestaan en meet en pas het of sy my gaan kan bykom. Uiteindelik het sy haar kop laat sak en weer begin knie, die tafel al kreunend onder haar klaarblyklike eindelose krag.
“Want dis ernstige sake daai. ‘n Motorkar wat vervloek is.” Ouma het ingedagte oor die plaaswerf getuur. Uiteindelik het sy gewys na die wrak wat agter die hoenderhok gestaan het. “Daai Blik Bettie is só motorkar. Vervloek deur die duiwel homself.”
Ek het gekyk waar sy wys, alhoewel ek presies geweet het waar “Blik Bettie” gestaan het. Nie dat ek meer geweet het as die feit dat Ouma na die wrak verwys het as “Blik Bettie” nie. Ek het dit nog nooit bevraagteken nie. Dit was net só. Blik Bettie was die wrak van ‘n 1924 Model T Ford bakkie. So nou en dan het ‘n verdwaalde hoender met ‘n kekkel en ‘n kô-kô-kô ‘n eier op die wrak se voorsitplek gelê, en jy kon maar weet sonder om te kyk, dat daai eier vrot was. Selfs al was hy sopas gelê.

Dit was nie nodig om meer uit te vra nie. Ouma sou vertel op haar tyd en haar manier.

Oorle’ Oupa Johan was nou nie besonder ryk nie. Prakties. Netjies. ‘n Jentelman. Vriendelik. Maar nie ryk nie. So was die 1930’s mos maar moeilike tye vir almal. Geld was daar nie. Net leë mae en kinders met gate in hul kerkskoene. Oupa het besef dat hy plan sou moes maak, anders het al 6 die Van Staden kinders van die hongerte heengegaan. ‘n Mens kon dalk redeneer dat daar genoeg kinders was om dalk maar een of drie af te staan. Maar mens raak glo geheg aan die kleingoed. Of so beweer Ouma. Oupa het toe maar by die bank gaan aanklop vir ‘n lening en drie van die kinders as waarborg afgeteken. ‘n Week later het Oupa uiteindelik die twintigste eeu betree en dié Model T Ford op ‘n vendusie gekoop, wat sy plaas sou red en help om die kinders se mae minder te laat gôr.

Daar was onmiddellik waarskuwingstekens dat alles nie pluis was met die Blik Bettie nie. (Oupa was trots Afrikaans, en het geweier om die kar ‘n “tin Lizzie” te noem.) Sommer daar by die vendusie is Oupa ‘n duim kwyt. Die jonges van dae het geen idee hoe gelukkig hulle dit het met moderne motors nie. In dáárdie dae het jy nie net ingeklim, ‘n sleutel met ‘n tjôrro- tjôrro gedraai en weggery nie. Nee, dit was ‘n tweemansaak om ‘n Model T aan die gang te kry. (Of ‘n een man en een vrou saak in Oupa en Ouma se geval.) Die een persoon moes binne die motor sit om knoppies te druk en hefbome te trek, terwyl die ander een voor by die neus ‘n slinger moes draai. Smoorder trek, draai die slinger en op die regte oomblik, as die klik-klik ‘n klak-klak word, moet die brandstofpedaal getrap word. (Dit is dan ook hoe jy weet of ‘n man lief is vir sy vrou – afhangende van wie buite die slinger moet draai en wie binne sit en wag. Oupa was lief vir Ouma, so Ouma het vinniger leer bestuur as Oupa.) Wat niemand vir Oupa gesê het nie, is dat jy die slinger moet draai met net jou linkerhand, want as die klik-klik ‘n klak-klak word, kan daai slinger terugswaai en ledemate afhaal. Dit was ook hoekom Oupa toe nou maar moes leer om die pyp met sy linkerhand vas te hou, en die twak met sy regterduim te stop.

Soos die tweetjies ry van die hospitaal af terug plaas toe, toe kom die volgende teken. Aanvanklik het die motorkar se enjin ‘n egalige klak-klak-klok geuiter soos dit geduldig die wapad aangedurf het, maar op ‘n stadium toe slaan die enjin oor in wat maar net kan beskryf word as ‘n kakofonie van klanke.

Ouma raak stil asof sy iets probeer onthou wat nét buite haar geheue rondloop. Ek het my asem opgehou in afwagting dat Ouma die kakofonie vir my kan demonstreer. Asof sy uit ondeundheid of moedswilligheid my afwagting wou uitrek, gaan sy aan sonder ‘n demonstrasie.

Om dié klank te verstaan, moet jy die geskiedenis van die motor verstaan. Toe Oupa Johan besef – of eerder aanvaar – die onheil bly in die kar het hy begin navorsing doen. Genoeg dreigemente en genoeg geklingel van munte het Oupa uiteindelik by At Vanne Merwe, die vorige eienaar van Blik Bettie, uitgebring. Nie dat At Vanne Merwe veel te sê gehad het nie, want hy was reeds dood. Toe gaan gesels Oupa maar met die Vanne Merwe weduwee. Volgens die Vanne Merwe antie het At Vanne Merwe se pa die Model T Ford in 1924, uit die boks uit, gekoop. At Senior Vanne Merwe het ook daarop aangedring om die motor self uit die boks uit te ry op Durban se hawe. At Senior Vanne Merwe het staan en skree op die mense om versigtig te wees met die krat. Sy laaste woorde “Ek sweer as daar ‘n krappie aan my motorkar is gaan ek by jou kom spook!”, het skaars stil toe die hyskraan se tou reg bo At Senior Vanne Merwe breek, en met ‘n oorverdowende kardoef, hom in ‘n plat rooi morsige spul verander. Die Ford het nie ‘n skrapie opgehad nie. Dieselfde kon nie van At Senior Vanne Merwe gesê word nie. Die motor het egter ‘n vreemde klankie bygekry wat die egalige klak-klak in ‘n effense onegalige klak-klak-kardoef verander het.

Omdat die motor nog nie in die testament opgeskryf was nie, het die oudste seun, Karel Vanne Merwe die motortjie geërf. Vreeslik opgewonde laat hy ook nie op hom wag nie en beland per trein, perd en uiteindelik te voet op die hawe om die motor uit die boks te ry. Maar in al die chaos en opgewondenheid het niemand vir Karel die twee-hand of twee-man reëls geleer nie. Karel het voor die groot krat gaan staan en sonder om twee keer te dink die slinger gedraai. (Of selfs sonder om een keer te dink.) Die enjin het met ge-klik-klik en na sommer ‘n halwe draai ge-klak-klak-kardoef, Karel se arm by die naat afgehaal en sommer bo-oor Karel gery met ‘n onseremoniële doef-doef-eina. Karel het net daar bly lê. Die motortjie het dit tot by die hawe se hek gemaak voordat dit weer tot rus gekom het. Sonder ‘n stamp of ‘n stoot. Gelukkig was At Senior Vanne Merwe se oorblyfsels (of is dit nou skraapsels?) nog nie huis toe gestuur nie, en kon hulle Karel saam in dieselfde boks, huis toe pos.

Volgende op die lys van erfgename was die dogter ene Ena Vanne Merwe. Sy het – vreemd genoeg – vreeslik senuweeagtig geraak oor die idee van die motortjie, en die Ford verkoopsman oortuig om die gedoente op die hawe te gaan haal. Die verkoopsman het natuurlik al die reëls van een arm en twee mans geken, en sonder verdere insidente die motor van die hawe tot op Vaalwater gery. Hy het egter nie ‘n woord aan Ena gesê oor die ritmiese klak-klak-kardoef-doef-doef-eina-dreuning van die enjin nie.

Dit was omstreeks dieselfde tyd wat Ena begin gemaklik raak het met die Model T, wat daar ‘n Skotsman langs haar ingetrek het. Dit vat ook geen verbeelding om te weet wat volgende gebeur het nie. Die Skotsman het dag in en dag uit op sy doedelsak geblaas dat die hele Vaalwater aanvanklik gedink het dat daar ‘n trop brandsiek skape – wat van die noot af blêr – in die Skotsman se huis was. Ena moes gedurig oor die muur hang en gil en soebat vir bietjie stilte, maar hetsy dit nou moedswilligheid of doofheid was, het die Skotsman nooit einde gekry aan die blasery nie. Niemand is seker wat presies gebeur het daardie Sondagoggend net na drie nie. Die Sersant raai dat Ena se kop uiteindelik uitgehaak het van al die van-die-noot-af geblêr. Sy’t in die Ford geklim en regdeur die Skotsman se sitkamer muur gery. Sersant meen die Skotsman moes opslag, met ‘n laaste ba-toet in die doedelsak, die tydelike met die ewige verwissel het. Bewyse op die toneel dui egter daarop dat Ena die Skotsman met haar ukelele gesteek het, net om seker te maak sy blaas is klaar…
Ena is toe nou maar in die malhuis op Nylstroom opgeneem, en At Vanne Merwe – die jongste van die Vanne Merwe gesin – het die Ford op Vaalwater gaan haal. So het At met die Model T (minus een koplig) klak-klak-kardoef-doef-doef-eina-ba-toet al die pad van Vaalwater tot op Ellisras gery.

At Vanne Merwe was ‘n wiskunde onnie by die hoërskool. At Vanne Merwe was ook maar net man. At Vanne Merwe is bo-op ‘n sestienjarige meisietjie (wat na skool gebly het vir ekstra klasse), agterop die Ford dood, waar dit parkeer was onder ‘n boom op die rugbyveld. Hy’s dood sommer so sonder klere. Klaarblyklik het hulle alles behalwe wiskunde gedoen. Of ten minste het hulle wiskunde verkeerd gedoen. Sy hart kon nie byhou nie. Pleks dat At Vanne Merwe maar eerder wiskunde gedoen het.
Die Vanne Merwe antie het daardie selfde dag wat sy ‘n weduwee geword het sommer alles wat At Vanne Merwe besit het op ‘n veiling verkoop.

So eindig Oupa Johan met dié Blik Bettie op. Daar was geen manier dat Ouma iemand kon bekruip in dié motor nie, want daai ge-klak-klak-kardoef-doef-doef-eina-ba-toet-skwiek-skwiek-ôg kon jy ‘n plaas myl ver hoor aankom. Die Model T het inderdaad die plaas help red. Groente kon vinniger, alhoewel meer raserig, by die mark gekry word as met die donkiekar. Ouma het vinnig al Blik Bettie se nukke en grille verstaan en Oupa het geleer om sy bek te hou en net saam te ry. En met een hand te slinger. Maar soos die lot dit wou hê (of bloot net die feit dat Oupa en Ouma so vrugbaar was?) raak Ouma weer swanger en kon sy naderhand nie meer goed genoeg knyp om met die Model T oor die sinkplaatpad dorp toe te ry nie. Oupa moes toe nou maar die hele motorry besigheid oorneem so op sy eie.

Die Model T het nie eers ‘n dag gewag voor sy haar kans gewaag het nie. Oupa het die slinger gedraai – met een hand – en die klik-klik het net bly klik-klik. Oupa het weer gedraai en weer gedraai, sonder enige teken van sukses. Sy humeur het al hoe meer begin suur word, en uiteindelik heeltemal kop verloor en die slinger met twee hande vasgevat. Daar was net een klik en toe ‘n klak-klak-kardoef-doef-doef-eina-ba-toet-skwiek-skwiek-ôg. Gelukkig het Oupa nie meer ‘n duim gehad nie, anders was die duim af. Die motortjie het gesien sy’t gemis en sonder om te aarsel plan B uitgevoer en op Oupa afgejaag. Oupa het in ‘n stofwolk omgeswaai en begin hol met Blik Bettie agterna. Ouma het die spulletjie uit die kamervenster dopgehou en besef vandag is daar moord op die werf. Oupa het al glyende oor die los klippe, hakende deur die roostuin en bloeiende deur die rotstuin gevlug vir sy lewe. Hy het die sigsag metode probeer, maar Blik Bettie het bloed geruik en saam ge-sig as Oupa ge-sig het en saam ge-sag as Oupa ge-sag het. Oupa se asem het egter vinniger opgeraak as Blik Bettie se petrol. Oupa het neergesak en vir oulaas met heimwee gedink aan sy geliefde vrou en al die kinders (nie dat hy by al die kinders kon uitkom nie, want daar was te min tyd en te veel kinders om aan te dink). Net voor Blik Bettie vir Oupa met ‘n klak-klak-kardoef-doef-doef-eina-ba-toet-skwiek-skwiek-ôg kon trap, toe skiet Ouma vir Blik Bettie reg op die neus met die ou sanna.

Ouma en Oupa kon nooit saamstem oor Blik Bettie se laaste klanke nie.
Oupa Johan het gesê hy’t gehoor klak-klak-kardoef-doef-doef-eina-ba-toet-skwiek-skwiek-ôg-petwang-psssst.
Ouma dring daarop aan dat sy gehoor het klak-klak-kardoef-doef-doef-eina-ba-toet-skwiek-skwiek-ôg-petwang-fokmy.

Wat dit ook al was, dit was Blik Bettie se laaste woorde en laaste poging tot moord. So gelaat staan en so gelos. En van daai dag af praat jy nie oor duiwelsbesete karre op die plaaswerf nie. Want Ouma gaan vir jou moer.

Riaan Palmer

Augustus 2020 – OOP projek

1.Die groot honger

Nog ‘n dag. Soos gister en die dag voor dit, is dit die honger waarvan ek eerste bewus word. Altyd honger. Daar is nooit iets anders nie. Die gevoel van die onbevredigde behoefte in my maag. Hulle sê die oorlog is verby en Hitler is dood. Maar die oorlog gaan vir jare nog aanhou. Dalk vir altyd.

Ek begin my daaglikse roete na die mark toe. My oë herken al die geraamtes van die geboue wat nie die bomme oorleef het nie. Kameraad Stalin noem dit sy stad van helde… Leningrad. Maar wat presies was die prys? Wat het dit enige iemand gebaat om teen die Duitsers op te staan. Die Finse magte uit die Noorde en die Duitse magte uit die Ooste, en in die middel is hoeveel mense dood van die honger? En nou is die Duitsers verslaan en so baie van ons mense dood, vir wat? My pa, wat iewers sonder glorie op die slagveld dood is. My ma wat die bietjie wat sy kon bymekaarskraap om te eet alles vir my gegee het, en met haar lewe geboet het vir haar opoffering. Ek kon van een oomblik tot die volgende sien hoe sy wegkwyn. Sy was lankal nie meer daar teen die tyd wat haar liggaam ingegee het nie. En iewers sit ou, vet mans in koue vertrekke en maak besluite oor ons lewens. Hulle verklaar oorlog, maar dis nie hulle wat hulle lewens op die slagveld gaan neerlê vir volk en vaderland nie. Maar dis húlle wat die wat rye en rye medaljes kry. Standbeelde word in hulle eer opgerig, sonder dat daar ‘n druppel van hulle bloed die bevrore grond bevlek het waarvoor daar baklei was.

Ek wens ek kon my bitter gedagtes ontsnap. Maar die puin om my was ‘n refleksie van die puin in my. Jy kan dit nie ontsnap nie. Almal is honger, nie net ek nie. Die oneindige honger.
Voor my was die mark. Mense het rondgemaal in ‘n chaotiese stroom van lywe. Die met geld het van een stalletjie na die volgende een beweeg met die hoop om iets – wat die eindelose honger kan stil – te kan koop. Die wat nie geld gehad het nie het enige iets probeer verkoop van derdehandse klere, wat waarskynlik van lyke af gestroop is, tot hul eie lywe net om dalk vandag ‘n brood te kon bekostig. Almal weet jy steel nie, want die prys is jou lewe. Telkemale het ek gewonder of die dood nie ‘n makliker uitweg was as die konstante uitdaging om te oorleef nie. My oë het deur die skare geswem opsoek na ‘n geleentheid, en na ‘n paar minute het ek hom sien uitstaan soos ‘n seer vinger. Hy was ‘n ouerige man, in ‘n pak geklee en sy weg deur die skare probeer vind met ‘n kierie in die hand, maar het telkemale in iemand vasgeloop. Ek weet al dit help nie om te bedel nie. Mense het nie geld om vir wildvreemde kinders op straat te gee nie. Nee, ek werk vir my geld. Ek soek iemand wat hulp nodig het – en wat duidelik geld het – om my dienste voor aan te bied. En as alles goed gaan stop hulle jou ‘n muntstuk in die hand. Soos hierdie oom. Hy was perfek.
Ek het sonder moeite deur die skares mense gevleg tot ek voor die oom gestaan het. Hy het egter nie om my probeer loop nie, en my maermerrie met sy kierie raakgeslaan. Vir ‘n oomblik was ek briesend, maar die kloutjie het uiteindelik by die oor uitgekom toe ek sy bril met die swart gerookte lense sien. Hy was blind. Perfek.
“More Oom!”
Hy het in sy spore gestop en sy kop na links gekantel. Ek het sy arm geneem en hom effens eenkant toe getrek. Vir ‘n oomblik het hy probeer loskom, maar ons altwee het geweet hy’t nêrens gehad om te gaan nie.
“Wie is daar?” Vra hy en hou weer sy kop skuins.
“Dimitri, Oom.” My vriendelikste stem wat drup van die heuning. “Dit lyk of Oom sukkel. Kan ek Oom help?”
“Jy kom asof jy gestuur is Dimitri…” Die man se hand verdwyn in sy baadjie se sak en hy bring ‘n spierwit koevert te voorskyn. “Ek moet hierdie belangrike brief na die adres op die voorkant neem. Dit is ‘n kwessie van lewe en dood…”
Ek kan nie onthou wanneer laas ek ‘n koevert gesien het nie. Watter belangrike boodskap kon moontlik in hierdie koevert wees? En wat was dit werd vir die man? Kom ons kyk…
Ek het die koevert uit sy hand geneem en na die adres gekyk. Ek het die straat geken, en as die gebou nog gestaan het, sou ek die plek maklik kon kry.
“Ek weet waar dit is.” Het ek baie selfvoldaan gesê. “Kan ek Oom daarnatoe neem?” Ek het nie die koevert vir hom probeer teruggee nie. Die versoeking was groot…
“Is dit ver?” Die man se gesig was vraend, hoopvol.
“Dis ‘n hele entjie, Oom.” Dit was nie so ver nie. Maar ‘n leuen het niemand nog ooit seergemaak nie. “Seker so uur se loop.” Of soos ek loop, nie langer as 10 minute nie.
Die man se gesig het geval. Hy was, soos ek gehoop het, nie te vinde vir ‘n gestappery nie. Ek het die kans genooi en hom gegryp met altwee hande.
“Ek kan dit vir Oom gaan aflewer.” En plant die saadjie. “Vir ‘n klein fooi.”
“Maar natuurlik.” Die man se hand het in sy broeksak verdwyn en uitgekom met ‘n paar Roebels. Dit was genoeg om die honger vir ‘n dag of twee te stil.
“Tot u diens.” Ek het vriendelik geglimlag, selfs met die wete dat hy nie my vuil gesig kon sien nie.
Hy het die geld voor hom gehou en ek het dit soos ‘n gulsige straatbrak opgeraap.
“Ek is jammer, ek het nie veel aan my nie, maar ek belowe as jy daar kom sal hulle vir jou nog gee.” Het die man met ‘n glimlag bygevoeg.
“Ek sal seker maak dit kom veilig daar uit.” Ek het omgedraai en begin hardloop in die rigting van die adres op die wit koevert. Net so paar tree verder het ek tot stilstand gerem. Dit was bietjie ongeskik. Ek het nie eers sy naam gevra of totsiens gesê of niks nie. Vir hierdie klomp geld kon ek ten minste na die tyd vir hom gaan sê dat die brief suksesvol afgelewer was. Ek het op my hakke omgedraai opsoek na waar die man oomblikke terug gestaan het. Maar hy was weg. Dit kan mos nie wees nie. My oë het geoefend deur die skare beweeg opsoek na die man se figuur. Uiteindelik het ek hom ‘n paar meter verder sien beweeg deur die stroom mense. Op ‘n drafstap. Die kierie was nie meer pateties voor hom uitgestrek nie, en hy het sonder moeite om die mense gedraf-stap wat in sy pad was, soos…
…Soos iemand wat kon sien.

Iets was nie reg nie.

Ek het die wit koevert om en om in my hand gedraai. My vingers oor die swart letters op die voorkant gevryf asof ek ‘n verborge boodskap kon lees. Ek het die koevert in die lug gehou en gehoop om die geheime aan die binnekant te sien. Maar soos altyd was dit bewolk en geen geheime het uitgelek nie. Ek kon die koevert in die asblik gooi en wegloop. Maar nog geld kon nie skade doen nie. En my woord was my eer. Wat sou my Ma sê as ek by iemand sou steel? Sy mag dalk dood wees, maar ek sou selfs in haar dood haar trots maak.
Ek kon egter nie die swaar gevoel van onheil in my maag afskud nie.

Iets was nie reg nie.

Ek het weer stadig in die rigting van die adres begin stap, met my oë op die koevert asof ek gewag het vir een of ander openbaring. Die volgende oomblik loop ek in iemand vas. Ek beland op my stuitjie asof ek in ‘n muur vasgeloop het.
Voor my was ‘n soldaat. Iemand met ‘n rang, wat respek afgedwing het. Hy het my vies op en af gekyk, die koevert gewaar en dit uit my hand gegryp voor ek iets kon doen.
“Waar het jy dit gesteel?” Sy woorde was ‘n bevel. Sy kyk iets wat net ‘n militêre man kan vervolmaak.
“Ek het dit nie gesteel nie! Ek moet dit aflewer vir iemand… My baas.”
Hy het ‘n dreigende tree nader gegee, maar daar was ‘n sagtheid – ‘n omgee in sy gesig. Niemand gee vir straatkinders om nie. Maar vir ‘n oomblik het ek my pa in die man se gesig gesien.

Iets was nie reg nie.

Die woorde het begin uitloop asof ‘n kraan oopgedraai is. Ek het hom vertel van die blinde man, die koevert, die geld en hoe die man klaarblyklik weer kon sien.
Die soldaat het sy kop stadig geknik, gefrons en by ‘n deur so paar meter van ons af in verdwyn. Ek het orent gesukkel en net voor ek ook by die deur kon instap, toe kom die soldaat met sowat ‘n dosyn ander soldate agter hom uitgestap.
“Kom!”
Ek’s nie seker of hy dit vir my gesê het of vir die klomp soldate in tou nie. Ek is in ieder geval agter hulle aan.

Uiteindelik het ons in die straat aangekom wat op die koevert geskryf was. Na ‘n vinnige bespreking onder die soldaat met die rang en ‘n ander een, slaan ons weer ‘n rigting in.
Ek hoor ‘n harde knal, en soos enige iemand wat onlangs deur ‘n oorlog is, val ek plat op die grond en begin skuifel na skuiling. Iemand het op ons geskiet. Geweerskote klap. Mense roep. Iewers gil ‘n vrou. Uiteindelik is dit stil. Ek lig my kop op net betyds om te sien hoe die klomp soldate by ‘n gebou instorm. Mans roep. Nog skote. Dan stilte.
Ek draf nader en wil ook by die gebou ingaan maar die soldaat met die rang kom uitgestap en keer my.
“Vat jou geld. Gaan huis toe.” Sê hy. Hierdie keer was dit ‘n uitdruklike bevel.
Maar my oë is op die toneel agter hom. Ek kan tot in die kombuis sien waar ek staan. Vleis wat aan hake hang. Vleis en bloed op die tafel. Dit vat my verstand ‘n oomblik om te besef wat ek sien. Dis ledemate. Mense se arms en bene. Party het nog vel aan. My mond hang oop en ek gee ‘n geskokte tree agteruit. Die reuk van vars bloed oorweldig my neus. Die reuk van dood wil my laat naar word, maar ‘n leë maag ken nie so iets nie. Ek het gedog dit is ‘n ouvrou storie. Die mense van Leningrad is so honger dat al wat oor is om te eet die mense… Kannibalisme…
“Gaan.” Sê die soldaat weer. Sy stem en sy oë saggies.
Ek draai om, om te gaan, maar die vraag stop my.
“Wat is in die koevert?” Ek het die antwoord geken, maar ek moes dit hoor.
Die soldaat kyk my ‘n oomblik aandagtig aan en gee die koevert, wat oopgeskeur is, vir my.

Daar was ‘n enkele sin op ‘n vel wit papier geskryf. ‘n Boodskap van lewe en dood.
“Daar is te veel soldate in die mark. Hierdie is die laaste een wat ek gaan stuur vir eers. Hou asseblief vir my ‘n ordentlike stuk.”

Riaan Palmer

2.Vrees vir vrees

(2293 Woorde)

Franklin D. Roosevelt het mos gesê mens hoef niks meer te vrees as vrees self nie. Maar dit is absolute snert. Die werklikheid is daar is geen vrees so kragtig soos die vrees vir die onbekende nie. En as jy mooi daaroor dink, is die enigste onbekende aan die einde van die dag, Die Dood. Daar is nie ‘n meer monsteragtige gedagte of groter potensiaal vir gruwel as die masker van Die Dood nie.

En so leef ons as mense: In ‘n naïewe misverstand van hoe die heelal werk. Aangegryp deur die verlammende vrees vir ons eie sterflikheid. In ons dwase wysheid dink ons dat Die Dood die finale bestemming is. Ons is vas oortuig dat die besoekers wat die oewer van Die Dood besoek nooit weer kan terugkeer nie. Ons moet desperaat vasklou aan selfs die mees tragiese, martelende of nuttelose lewens. Dit is wat ons almal dryf. Mens. Dier. Plant. Virus. Oorlewing is ons enigste dryfveer. Die Dood probeer ons elke oomblik van elke dag haal, en al wat ons van dag tot dag doen, is om te probeer oorleef.
Wat ‘n ellendige bestaan…

As jy eers Die Dood se masker afgehaal het, besef jy daar is niks om te vrees nie. Meeste van ons het dit al gesien, ervaar, ontleed en opgeteken of afgeskryf as die laaste sterwende spasma van neurale flikkerings.

Terwyl ek hier lê en weet dat dit die einde is, besef ek hoe absurd dit is om bang te wees vir die leegheid wat kom. Die belofte van niks of alles. Terwyl ek nog seker was van my lewe, sou ek nie Die Dood ervaar het nie – per definisie. So hoekom moes ek bang wees daarvoor? En nou, terwyl ek doodgaan…? As jy dood is kan jy tog niks ervaar of beleef nie? Wat bly oor om te vrees? Die gedagte het my troos gebring terwyl ek gevoel het hoe my liggaam – my hart – ‘n nuttelose stryd stry teen die onvermydelike.
Toe Die Dood die stryd oorwin is daar laaste dringende gedagtes wat hopeloos (of met hoop?) deur my brein flits:
Wat as dit nie Die Dood is wat gevrees moet word nie? Wat as daar iets meer as dit is?

En so het my sterflike verstand weggeglip na die onbekende, ‘n wêreld ver weg van rede. Tog… My oë het gesoek na rede om my. Ek was nog steeds in die hospitaalbed. Die verpleegsters en dokters het steeds angstig om my gewerskaf, maar dis asof hulle deurskynend begin raak het. Die masjiene wat noodkrete uitgeroep het dat my einde daar was, en iemand tog net iets moet doen, se skril gil het begin kwyn. ‘n Skemer het gekom, asof die son agter donker wolke verdwyn het. Dit het gelyk of elke klank ‘n eggo was van wat dit eens was; elke gesig ‘n refleksie van iets anders. Met elke oomblik wat verbygegaan het, het die wêreld minder werklik geword…

Maar al daardie beelde en geluide het nie net verdwyn nie. Dit het gesmelt soos ‘n kind se klei op ‘n warm dag. Dit het gevou, gesmelt en verander in ‘n swart massa van agtergrond geraas. Langs my het ‘n figuur duideliker begin word. Hoe minder werklik die steriele vertrek, en die malende mense geword het, hoe werkliker was die figuur. Totdat die figuur so solied, eg, was, dat ek onseker was of die res ooit bestaan het.

Sy mantel was swart. Nie die kleur swart nie, maar die kern daarvan. Dit was asof ek ‘n leeftyd gedink het ek weet wat “swart” is, maar nou eers besef het dat ek na ‘n kind se rowwe tekening van swart gekyk het.
In die figuur se hand was ‘n sens. Die stoflikheid het soos ‘n kwas wat in waterkleure verf om die sekel gevloei. Ek kon elke elementêre deeltjie, en selfs tyd self, oor die lem sien draai en dans.

Dít, het ek gedink. Dít is die rede hoekom ons Die Dood vrees.
Ek het die laken oor my probeer trek, maar die dun materiaal wat my eens wanhopig probeer warm hou het, het soos mis deur my hande gevloei. Ek het kaal en kwesbaar gevoel. Ek het in daai oomblik geweet dat daar niks meer werklik as Die Dood self was nie. Niks kon my wegsteek van hom af nie. Wat was hy? ‘n Engel? Iets anders? Ou Niek? Die rooi duiwel wat ons tergend met ‘n pylstert en ‘n hooivurk voorgestel het in kinderboeke?

“Jy is laat.”
Dit was nie woorde nie. Nie klanke uit ‘n mond met ‘n tong soos ek aan gewoond was nie. My kop het oorgeloop met hierdie kennis. Die feit dat ek laat was. ‘n Wete soos ‘n onontkombare wet van fisika so onomwonde soos swaartekrag.

“Ons het nie tyd vir die gewone praatjies en vrae nie. Maak gou.”

Dit het gevoel asof ek deur ‘n magtige orkaan om hom gewaai word. Voordat ek kon besef wat aangaan, was ons buite die hospitaal. Ons het so vinnig beweeg dat die wêreld om my vervaag het tot ‘n duiselingwekkende tonnel van flitsende lig.

“As jy gelukkig is, sal HY verveeld geraak het om vir jou te wag.”
My gedagtes was oorspoel met vrae. Elkeen het geveg om eerste aandag te kry, maar nie een enkele een het by my mond uitgekom nie.

“Jy is stil. Ek respekteer dit. Gewoonlik vra mense te veel vrae.”

“Wat is die punt?” Ek het gevra. My stem was dor en leweloos in vergeleke met sy oorweldigende teenwoordigheid. “Hoe kan ek probeer om iets te verstaan wat groter as my klein verstand is?”

“Jy kan nie. Maar dit is steeds menslike natuur om te vra.”

Dit het gevoel of ons vinniger en vinniger beweeg. Ons het nie gehardloop of gevlieg of enige ander beweging gemaak wat ek kan beskryf nie. Dit was meer asof die res van die wêreld rondom ons beweeg het, terwyl ons stilgestaan het. ‘n Vae duisternis en ‘n swaar klam reuk het leidrade gegee dat ons ondergronds moes wees, maar ek kon nie met sekerheid sê nie.
“Kan ek maar een vraag vra?’ Ek het nie gewag vir ‘n antwoord nie. “Wat is daar nog? Buiten vir jou?”
Ons het albei geweet dit is ‘n nuttelose vraag. Ek kon gewag en self gesien het. My klein verstand kon doodeenvoudig nie die grootheid van alles en die kleinheid van myself prosesseer nie.
“Die Dood is nie ‘n plek of ‘n persoon nie. Dit is al wat daar is.”
Onrusbarende gedagtes, maar die gevoel van ongemak was meer as gevolg van die toenemende gille en roepe van pyn wat uit die donkerte rondom ons begin vibreer het. Dit het gelyk asof ons na onder begin daal, en die lug het warmer en dikker geword – amper tropies. Die geluide net buite my sig het harder, meer intens geword. Dit het kompleet geklink asof die aarde self ly en uitroep om hulp.
Die wêreld het uiteindelik tot stilstand gekom en ek kon byna die grond onder my kaal voete voel, maar my ou liggaam se sintuie was iets van die verlede.
“Wie is HY?” Ek het nou eers begin wonder wie die “hy” is waarvan Die Dood oomblikke terug gepraat het.
“Ek is hier om jou te beskerm teen HOM.”
Dit was nie ‘n antwoord nie.

Met ‘n beweging wat aan geen natuurlike wette gehoorsaam is nie, het hy die sens se lem teen die grond gekap. Die grond was ‘n vreemde tekstuur. Iewers wou ‘n gedagte dit wat ek sien erken. Die aarde het geantwoord met ‘n reën van vonke, ‘n gedreun en uiteindelik die grond wat voor ons oopgeskeur het. Voor ons was ‘n ondergrondse meer – sover as wat die oog kon sien. Of ten minste sover as wat die donker my toegelaat het om te sien.
Ek was verbaas. Die prentjie het my herinner aan die ou Griekse mitologie van die rivier Styx. Die grens tussen die Lewe en die hiernamaals.
“Ek dog jy het gesê jý is al wat daar is?” Dit was nie ‘n beskuldiging nie. Net ‘n vraag.
“Nee. Ek het gesê Die Dood is al wat daar is.”

Lig van een of ander onsigbare bron het op die sekel se lem geflits en weerkaats oor die eindelose meer. Dis asof die lig olie was wat op die water vasgevang was. Allerhande kleure het gedans en gekolk op die oppervlakte. ‘n Miljoen reënboë wat vasgevang was en gespartel het om los te kom.
“Ek dog jy is Die Dood?”
“Die Dood is nie ‘n persoon nie.”
Die lig het helderder begin skyn in die water asof dit lewe gekry en vermenigvuldig het. Die stil oppervlak van die water het begin kloof met enigmatiese energie. Dit het my deurmekaar gedagtes ‘n rukkie geneem om te besef dat ék die energie was wat in die meer vloei. Maar terselfdertyd het dit nog steeds gevoel of ek verstrengel was met Die Swart Figuur. Ons was nou ‘n ligstraal wat in die water beweeg, kook.

Ek het geweet dat ek dit nie kon verstaan nie, maar dit het my nie gekeer om gefrustreerd te voel nie. As Die Dood al is, wat is HY dan? Wat het op my gewag? Die water het om, teen en binne-in my gevloei. Ek kon nie meer praat nie, hoewel ek nog op een of ander manier kon asemhaal.
“HY is hier.” Die Swart Figuur het amper bang geklink. Nie bang nie. Iets anders.

Ek het agtergekom dat daar iets was in die water om my. Hande het gegryp aan my bene en my begin ondertoe sleep – na die diep donkerte van die eindelose water. Ek was vir ‘n oomblik verbaas toe ek besef dat ek weer ledemate het. Dit het so vreemd gevoel. Asof dit nie myne was nie. Asof ek nog nooit voorheen arms en bene gehad het nie. ‘n Verblindende lig het soos donderweer geflits van die sens se lem, en ek kon voel hoe die hande wat my bene probeer gryp terugdeins en my laat gaan dat ek na vryheid kon vlug. Die gille en geroep uit die donker het harder en harder begin word. Dit het ‘n soort ritme gekry en dieper begin raak soos ‘n Afrika drom – lank vergete. Die Dood – of die Swart Figuur – het teen iets geveg. Ek kon nie regtig uitmaak wat aangaan nie. Net ‘n gespartel, flitse van die sekel se lem en waansin in die water om ons. In my.

Die brullende, kloppende klank uit die donker het ‘n crescendo bereik, en elke polsende slag het die water rondom my laat wegdeins en saamtrek soos ‘n lewende, vloeiende dier. Ek het nie meer die arms aan my bene voel trek na die onbekende toe nie. Het Die Swart Figuur die vyand oorwin? Afgesny soos ‘n onkruid? Was ek veilig? Ek het meer en meer bewus geword van my nuwe liggaam. My nuwe arms en bene het lomp gevoel. My kop het swaar gevoel asof daar iets fout was met my nek. Asof ek nie meer krag gehad het om myself regop te hou nie. Die ritmiese klank was nou bykans oorverdowend naby. Tog het die polsende klank my nie bang gemaak nie. Dit is asof dit ‘n mooi klank was. Die water was dik en aangenaam. Net toe ek rustig genoeg raak toe voel ek weer die hande om my bene. Dit het my na onder getrek. Ek het probeer gryp na iets, om te keer dat ek in die dieptes in verdwyn. My hele lyf was onder die water en ek het probeer boontoe swem, maar my nuwe, lomp ledemate het gemaak asof hulle nog nooit van die konsep van swem gehoor het nie.
Ek het probeer uitroep, maar my nuwe mond wou nie die klanke se vorms maak nie. Dit is asof ek weer van voor af teen Die Dood, of die vrees vir Die Dood moes baklei. Ek het begin verstik aan die vloeistof – wat duidelik nie water was nie…

Die drukking om my het my begin oorweldig. Dit het gevoel of die vloeistof – die kante van die meer reg teen my lyf druk met ondenkbare krag. Ek het vir oulaas Die Dood – of wie dit ook al was – probeer soek, maar my oë was waserig en wou nie fokus nie. Ek kon nog sy teenwoordigheid voel. Ver. Maar daar.
Ek het bewus geword van ‘n verblindende lig aan die onderkant van die meer, en ek het halfhartig probeer veg teen die hande wat my onverbiddelik voortgesleep het.
Ek het sy woorde weer gehoor. Vanuit die anderkant van die heelal. Asof hy nie meer die realiteit was nie.
“Ek is jammer. Ek kon HOM nie keer nie.”
Die druk, die vloeistof om my – in my mond en my neus, die kloppende geluid, die hande wat my sleep na die verblindende lig…

Die vrees het my uiteindelik oorweldig. Maar dit was nie vrees vir Die Dood nie. Nee. Ek was klaar dood.
Dit was vrees vir die onbekende.

Ek maak my oë toe en skree. Ek kan voel ek is nie meer in die water – of vreemde vloeistof – nie. Maar die hande het steeds my bene vasgehou. Die wêreld was onderstebo. Deurmekaar. My sintuie was totaal oorweldig. Ek het net aanhou gil – so hard as wat my nuwe longe toegelaat het. Ek kon HOM nie in die gesig staar nie.
Ek hoor iemand praat. Woorde. Regte, mens woorde uit ‘n regte mens mond. My sintuie is so oorweldig dat ek glad nie kan sin maak daarvan nie.
Vir ‘n oomblik besef ek Die Dood is sopas vir my ontmasker. En net so skielik is die wete en herinnering daarvan weg.

Die klanke in my nuwe ore was net so bekend as onbekend:
“Baie geluk! Hy is ‘n gesonde babaseuntjie.”

Riaan Palmer

September 2020 – Liefdesprojek

1.As jy lief is vir my, sal jy

Oom Shakespeare loop en vertel mos dat jy moet lief wees vir almal, net ‘n paar mense vertrou en niemand skade berokken nie. Makliker gesê as gedaan. ‘n Mens is geneig om te dink dat liefde ‘n onskuldige, skadelose emosie is wat net goeie dinge in die wêreld bring. Die waarheid is dat liefde altyd ‘n prys het. Partykeer loop jy ‘n winskoop raak. Jy ontdek dalk die waardevolste liefde van ‘n leeftyd, in ‘n klein koffiewinkel in Kaapstad – vir die prys van ‘n verloofring en jou lewe as ‘n vrygesel. Of jy kan op ‘n laataand – as die res van die stad slaap – in ‘n donker stegie, vir ‘n handvol ponde aan ‘n gewillige vreemdeling, betaal vir iets wat met liefde verwar kan word. Iets wat net drie minute lank hou en as julle wegstap van mekaar onmiddellik weer vergeet hoe die gesig van die ander gelyk het. Daar is altyd ‘n prys vir liefde.

Hendrik het dadelik geweet dít is sy trouvrou. Net soos miljoene tienerseuns vóór hom ook wellus verwar het met liefde. Op 17-jarige ouderdom word ‘n seunskind oorheers deur die storm van hormone en die drang van die begeerte na die fisiese. Asof die natuurdrif ‘n vuur is wat net nooit geblus kan word nie. Hy het haar die eerste keer raakgesien toe hy na skool die stowwerige pad huis toe aangedurf het. Sy het in die spaaider sit en wag terwyl haar pa, die nuwe dokter op Stellenbosch, sy weeklikse bestelling gaan insit het by die algemene handelaar.
Skielik het Hendrik elke woord verstaan wat Salomo in Hooglied geskryf het. Skielik het die storie van Romeo en Juliet totaal sin gemaak. Die wêreld het vir ‘n ewigheid of ‘n oomblik stilgestaan. Daar was geen klank nie. Niks en niemand anders as nét sy nie. Sy het al volwassenheid bereik en was die perfekte eksemplaar van ‘n vrou. Lang, raafswart hare. Groen oë met ‘n vurige vonkel. Vel wat Hendrik herinner het aan sy ma se beste porselein teekoppies. So wit én so glad. Alhoewel haar rok niks verklap het nie, kon Hendrik duidelik die twee groot rondings op haar bors sien op en af beweeg soos twee wilde diere wat wag om ‘n prooi te vang.
Hendrik het van die perd afgespring en met die sekerheid van ‘n kryger na haar toe gestap. Vir ‘n oomblik het hy haar net aangestaar. Sy het hom met amusante belangstelling bekyk en gewag vir wat kom. Soos ‘n spinnekop op ‘n web.
“Middag Juffrou. Mag ek jou vra wat jou naam is?”
Op die oog af sou jy sê sy was die toonbeeld van onskuld. ‘n Dame wat mans op ‘n afstand gehou het, om haar hart en lyf te beskerm. Jy sou verkeerd wees.
“Lilith Blake.”
Daar was ‘n kilheid in haar stem. Sy het reeds belangstelling verloor. Sy het genoeg gehad van tienerseuns – kinders. Sy het genoeg gehad van hulle lomp pogings om net hulle eie behoeftes te bevredig. Sy het nou net belangstelling gehad in mans, wat ‘n vrou volkome kon laat voel. Hendrik het egter nie die kilheid raakgesien nie. Hy het net die skoonheid van sy toekomstige vrou raakgesien.
So het Hendrik se opdraande stryd begin om Lilith se hart te probeer wen.
Daagliks het Hendrik die pad van die plaas na die dokter se herehuis net buite die dorpie aangepak, gewapen met blomme, lekkergoed, groente, vleis, biltong, boeke, gedigte of mooi woordjies wat hy sag in Lilith se oor wou fluister. Lilith het die aandag geniet en die geskenke opgeraap asof dit haar reg was, maar net-net genoeg aandag aan Hendrik gegee sodat die vloed van geskenke nie sou opdroog nie.

Teen die tyd wat Hendrik se perd al self die pad geken het na die Blake landgoed, het Hendrik se ma, Anjana, besef iets is aan die gang. Hendrik het sy werkies op die plaas begin nalaat en sy oë het gestaar in die verte asof hy na iemand verlang of iewers moes wees. Hendrik is al wie Anjana in hierdie wêreld oorgehad het. Haar man is dood aan bosluiskoors, nog voor hulle nóg kinders kon kry. Sy moes noodgedwonge die klein boerdery oorneem om vir Hendrik ‘n goeie lewe te kon gee. Saam het ma en seun die een na die ander struikelblok oorwin en ‘n sukses gemaak van ‘n lewe wat eintlik van die begin af gedoem was. Anjana het altyd geweet haar enigste seun sou haar eendag verlaat en sy liefde vir ‘n ander vrou op ‘n ander manier gee. Maar nóú was nog te gou. Hy was nog ‘n kind – haar baba seuntjie.
“Wat tuur jy so in die verte, Hennie?” Vra Anjana oor aandete, nadat Hendrik weer die hele middag weg was met die perd. “Het jy muisneste?”
Hendrik het bloedrooi gebloos en van oor tot oor geglimlag.
“Ek dink aan Lilith, Ma.” Hy skaam erken en die kos op sy bord met sy vurk rond gestoot.
“O ja? En wie is Lilith nogal? Saam jou op skool?” Anjana het hard konsentreer om bly te klink, maar haar hart het swaar geword.
“Dis Dokter Blake se dogter.”
Anjana het vir ‘n oomblik dood stil gesit. Sy het al vir Lilith op die dorp gesien en geweet dis die tipe vrou wat mans se harte breek. ‘n Ma weet. “Is sy nie bietjie oud vir jou nie? Sy’s mos al 21, is sy nie?”
“Ja. Maar ek is lief vir haar, so al was sy 40 sou dit geen verskil gemaak het nie.”
Anjana het lank stilgebly. Sy het geworstel met die gedagtes en emosies wat diep in haar wou gil en skree en haar enigste kind beskerm teen die wêreld. Uiteindelik het sy kalm gesê, “Jy moet jou hart oppas my kind. Meisies soos daai het al vele mans se ondergang beteken.”
Die woede het sonder waarskuwing uit Hendrik geborrel: “Ma ken haar nie eers nie en nou wil Ma haar só kom sleg maak? Sy is liewer vir my as wat enige iemand nog ooit was.” Hendrik het sy eetgerei hardhandig neergegooi op die bord en die veld ingestap. Anjana het in stilte bly sit met net haar seer as geselskap. Nóg ‘n paaiement was betaal vir Lilith se liefde.

Na daardie aand, het Hendrik die minimum met sy ma gepraat en selfs nog minder van sy werk op die plaas gedoen. Anjana moes vroeër begin opstaan en later gaan slaap om by alles uit te kom sodat die plaas nie agteruit gaan nie. In die aand het sy nog steeds ‘n bord warm kos voor Hendrik neergesit waar hy dit woordeloos verorber het.
Intussen het Hendrik dividende begin verwag van Lilith, maar al beloning wat hy gekry het vir sy meedoënlose offers en gebare van liefde, was ‘n soen op die wang of ‘n sagte aanraking aan sy arm. Hy het haar telkemale gevra wat hy moet doen dat sy haar hart vir hom sal gee en met hom trou met hom sal trou. Elke keer het Lilith die prys opgestoot en Hendrik het gedweë die paaiement betaal. ‘n Disa wat groei op die kranse van die Matroosberg. Die pels van ‘n rob van Mosselbaai. Die horings van ‘n bloubokkie. Elke keer dink Lilith die prys is onbekombaar hoog, dan bewys Hendrik net weereens dat niks groter is as sy liefde vir haar nie.
Uiteindelik was Lilith moeg vir die speletjie. Hendrik se konstante teenwoordigheid op die werf het die ander hane van die omtrek weggehou.
“Wat moet ek vir jou doen dat jy met my sal trou?” Het Hendrik vir die soveelste keer een middag gevra en diep in Lilith se oë probeer kyk. Sy was egter meer geïnteresseerd in een of ander voël wat in die boom ‘n oninteressante deuntjie probeer tjirp het.
“Lilith?” Het Hendrik weer probeer.
Toe sy belangstelling verloor in die voël, kyk sy hom uiteindelik in die oë. “Bring vir my jou ma se hart.”
Haar gesig was sonder enige emosie. Sy was soos ‘n kat wat moeg was om met haar prooi te speel, en sonder moeite of gewete die slagoffer die doodslag toegedien het.
Hendrik het in stilte gesit en wag vir enige iets wat sou verraai dat sy nie ernstig was nie.
“Bring vir my jou ma se hart, en sit dit in my hand. Daar is geen groter liefde as die liefde tussen ma en seun nie. Bring my jou ma se hart, en ek sal weet dat jy liewer vir my is, as vir enige iemand of iets anders. Dan sal ek met jou trou.” Dit was ‘n speletjie vir Lilith. ‘n Prys te hoog vir selfs Hendrik.
Hendrik het woordeloos, doodsbleek opgestaan en weggeloop. Die pad terug na die plaas toe was ‘n miljoen myl in sy gedagtes. Die gedagtes het gemaal, gedraai, geredeneer, gevra, geraas en probeer sin maak. Toe hy by die plaashuis instap het sy ma reeds by die tafel gesit en wag met aandete wat ongeduldig begin koud word. Vir ‘n oomblik wou hy sy ma omhels en vir haar jammer sê, maar die beeld van Lilith se volmaakte gesig het al die ander emosies oorskryf, doodgemaak. Anjana het vir Hendrik geglimlag en gevra hoe was sy dag. Hendrik het net langs die tafel bly staan en van die een dis na die ander gekyk. Sy oë het tot ruste gekom op die broodmes. Voordat Hendrik verder daaroor kon tob of Anjana besef wat gebeur was die mes in sy hand. Teen Anjana keel. Oor haar keel. In haar keel. Hendrik het sy ma vir ‘n oomblik vasgehou terwyl sy flou probeer baklei teen die onafwendbare. Sy oë het sy ma s’n vir ‘n oomblik ontmoet. Haar oë was vol vrae. Nie haat of woede of beskuldigings nie. Net vrae.
En toe was Anjana dood.
Hy het haar lyk saggies op die grond neergesit, en met die broodmes haar bors oopgeklief. Versigtig het hy sy ma se vlees en bloed gesny en gekerf om nie haar hart skade aan te doen nie. Uiteindelik het hy sy ma se hart uit die vernielde liggaam gehaal, versigtig die prys in ‘n kaasdoek toegedraai en uitgestap die donkerte in.

Hendrik het geweet sy perd sou te veel sukkel en struikel in die eindelose donker onder die donkermaan, en maar te voet die pad na die Blake herehuis aangepak. ‘n Paar myl verder raak Hendrik die pad byster en loop hy die donkerte in. Hy besef nie hy is by die De Krans plaas nie. Skielik is daar nie meer aarde onder sy voete nie en hy tuimel by die krans af. Ver genoeg om sy liggaam te kneus, maar nie ver genoeg om sy lewe te neem nie. In die tuimel verloor hy Anjana se hart iewers tussen die klippe, stof en bosse. Na ‘n ewigheid, of ‘n paar sekondes, strompel Hendrik orent. Sy liggaam skree uit verskillende plekke vir hom dat daar groot fout is. Maar die waansin oorheers alles. Hy sak op sy knieë neer en begin rondtas in die eindelose donker, opsoek na die hart. Na nog ‘n ewigheid voel hy die klam, nog effens warm orgaan onder sy vingers en in trane probeer hy die stof en stokkies van sy ma se hart afstof. Die rooi massa is skaars sigbaar in sy hand. Maar die stem. Die stem wat uit die hart uit praat. Die stem wat uit die lewelose hart uit weerklink is oorverdowend. Sonder twyfel Anjana se stem. Hendrik se ma se stem.
“Het jy seer gekry my kind?”

Riaan Palmer

2.Blake

Ella word bewus dat iets haar wang kielie en sy krap onwillekeurig. Dan maak sy haar oë oop, net om vas te kyk in ‘n paar oë wat haar herinner aan die ligblou van die hemel; die blou van die lug net voor die son vroegoggend die aarde met warmer kleure kom verf. Blake kyk haar stip aan sonder om enige leidrade van emosie weg te gee. Hy doen dit gereeld. As Meneer Blake besluit het sy slaap nou te veel, sal hy saggies aan haar gesig raak. Maar sy gee nie om nie. Hy wil net bietjie aandag hê. En Ella gee glad nie om, om die nodige aandag te gee nie.
“Goeiemore Sexy…” Sê sy saggies en blaas vir hom ‘n soentjie.
Hy bly net stip vir haar kyk. Sy kan wegraak in sy oë. Daar waar al die geheime van die lewe en die dood weggekruip het. Al die kennis in die wêreld en die wysheid van millennia se leef.
Toe hy tevrede is dat sy wakker is, klim Blake van die bed af en stap die gang af.

“Jy kon maar so rukkie by my gelê het…” Sê Ella met ‘n snedige toon in haar stem.
Maar sy is nie kwaad vir hom nie, want sy weet net-nou as sy maag vol is gaan hy net by haar wil wees. Sy kyk hom agterna, en kan nie anders as om sy grasieuse, elegante bewegings te bewonder nie. In ‘n ander lewe kon hy dalk ‘n balletdanser of ‘n gimnas gewees het. Daar moet sekerlik koninklike bloed in hom wees. Net prinse kan met soveel selfversekering en charisma ‘n kommerlose lewe lei. Baie mense wonder hoe sy met hom kan huishou, maar hulle liefde is nie iets wat sy kan verduidelik nie. Dis iets wat jy moet voel. Die onvoorwaardelike liefde wat nie deur woorde gewys word nie, maar deur die kleinste gebare. Blake is nie sonder foute nie. Inteendeel… Maar dis mos maar wat liefde is. As hy wil aandag hê sal hy dit eis by haar, en as sy nie dadelik los waarmee sy besig is nie, sal hy skuins bedonderd wegstap en haar die res van die dag ignoreer. En dan is daar die kere wat sy vir hom ‘n drukkie wil gee, of haar hande deur sy sagte hare wil streel en mooi woorde in sy ore wil fluister, dan sal hy in geen onduidelike terme vir haar laat weet dat sy hom moet uitlos. Partykeer sal hy haar sommer fisies bykom. Ella het al ophou tel hoeveel keer Blake haar bloed laat vloei het. Ander kere sal hy net verdwyn en eers dae later weer by haar in die bed klim, sonder enige verduideliking van waar hy was. Ella kan nie help om te wonder of is daar buite iewers nog ‘n familie is wat Blake met haar deel. ‘n Ander vrou se bed waar hy inkruip as die wind koud is en Ella alleen in die donker moet lê.

Tog is hy altyd daar as sy hom nodig het. As die hartseer haar oorval of die dag net te lank en te moeilik was. Sonder dat sy ‘n woord hoef te sê, sal hy styf teen haar kom lê en met net sy teer lyf en sy liefde haar beter laat voel.

Haar gedagtes word onderbreek deur Blake wat weer in die gang aangestap kom. Hy gaan staan voor die bed en terwyl Ella so stil moontlik lê – asof daar ‘n kans is dat hy haar nie sal sien nie. In watter bui is hy nou weer vandag? Gaan hy nou weer beduiweld wees net omdat sy nie vinnig genoeg sy ontbyt bedien het nie?
Dan is hy op die bed met sy gesig reg teen hare. Vir ‘n oomblik staar hulle mekaar diep in die oë. Ella probeer weer sy geheime lees in die oneindige blou van sy oë, maar hy verklap niks. Dan lek hy haar wang. Ella giggel en probeer wegtrek. Dan draai hy elegant om sodat sy gatkant reg in haar gesig is.
Ella bars uit van die lag. “Haal jou hol uit my gesig uit, jou simpel kat!”
Sy gryp hom met altwee arms en druk sy warm lyfie styf teen haar. Hy maak sagte spin-geluidjies en probeer weer haar gesig lek.
“Ek is lief vir jou.” Sê sy in antwoord.

Riaan Palmer

Februarie 2021 – Liefdes projek

2.’n Voorval van liefde

Daar was niks spesiaal aan Attie nie. Hy was nie mooier, slimmer, vinniger of selfs ‘n beter jagter as enige van die ander nie. Hy was maar net Attie wat geëet en geslaap het. Of om nou bietjie onsensitief te wees: Attie het net bestaan. Of Attie nou bestaan het of nie bestaan het nie, sou geen verskil aan die totaliteit van die heelal gemaak het nie. Tog het Attie elke dag opgestaan en gedoen wat hy moes om te oorleef, sonder om homself jammer te kry of te diep oor die lewe te dink. Hy het ‘n stil lewe gelei. ‘n Lewe waar die toekoms maklik was om te voorspel en die verlede niks meer as net ‘n konsep was nie. Het gister werklik gebeur? Attie het nie te veel daaroor gedink nie. Maar soos die lewe is het dit alles verander toe Attie háár gesien het. Hy sou later uitvind haar naam is Victoria. Sy was beeldskoon. Die soepel vorms van haar lyf; haar pragtige dun bene; haar voorarms wat gebult het met die belofte van oneindige krag; die grootste, groenste oë wat Attie nog ooit gesien het.

Attie was smoorverlief en móés haar syne maak, al was sy dalk te mooi en spesiaal om eers in sy rigting te kyk. Maar Attie was gedryf deur ‘n onsigbare krag – ‘n drang. Níks sou hom keer nie. Skielik het sy lewe betekenis gehad – dit is vreemd hoe die lewe begin betekenis kry as liefde ter sprake is. Attie het begin dink oor die lewe en die betekenis van die lewe. Hy was woedend vir homself omdat hy soveel tyd gemors het op ‘n sinnelose bestaan. Spyt dat hy op so laat ouderdom eers besef het dat daar meer in die lewe is. Soos soveel lewende wesens vóór, en ná Attie was die ontdekking dat hy nie ‘n storie – ‘n rede – gehad het nie, skrikwekkend, maar gelukkig nie te laat nie.

Na Attie Victoria ontdek het, het hy soggens, nog voor die eerste sonstrale die wêreld aangeraak het, tussen die struike gaan wegkruip vanwaar hy Victoria kon dophou. Dag na dag het hy haar bewonder, begeer. Sy was die toonbeeld van skoonheid en perfeksie. Na ‘n paar dae het Attie nader en nader begin skuil aan die plek waar sy eerste liefde, Victoria, haar dae vertoef het. Toe, sonder dat hy dit beplan het, kruis hulle paaie. Attie het nog versigtig rondgekyk opsoek na sy geliefde, toe staan sy reg voor hom. Haar groot, groen oë het hom noukeurig bestudeer, terwyl sy haar kop eenkant toe en dan anderkant toe gedraai het – asof sy hom opgemeet het. Sonder dat ‘n woord verruil of ‘n teken gegee is, het Attie geweet sy wou hóm hê. Hy was hare. Hy het stadig nader gestap, senuweeagtig soos ‘n onervare tiener wat die eerste keer die vroulike geslag probeer verstaan; onseker oor die reëls en voorwaardes van interaksie tussen die manlike en die vroulike … Liefde, hartstog, begeerte, seksuele aantrekkingskrag en wellus was tasbaar tussen hulle, en het alle vrese en onsekerheid weggespoel.
Steeds sonder dat ‘n enkele woord geuiter is, klim Attie versigtig op sy pragtige Victoria en die natuur neem oor. Weke se frustrasie, hoop, liefde en begeerte vloei deur Attie toe hy een word met Victoria. Passievol, ongetem, rou en sonder enige inhibisies of verleentheid deel die paartjie ‘n ongekende hartstog, soos wilde diere. Emosionele gevoelens word fisiese aanraking. Attie raak bykans lam soos die klimaks oor hom spoel. Hy het uiteindelik betekenis in die lewe gekry. Die grootste oomblik van sy lewe.

Dit is die laaste gedagte wat deur Attie se kop gaan. Victoria gryp Attie se kop vas met haar kragtige voorarms, en in ‘n vinnige, ysingwekkende beweging ruk sy Attie se kop af. Attie se lyf val om en sy bene maak hopelose bewegings soos wat hulle opsoek is na seine van die brein, wat nooit weer gaan kom nie. Victoria kyk emosieloos na die laaste bewegings van Attie se lyf, terwyl sy een na die ander gulsige hap uit Attie se kop vat, totdat daar niks oor is nie. Dan stap sy die bosse in asof moord ‘n alledaagse gebeurtenis vir haar is.
Nie lank daarna nie, lê Victoria eiers, veilig weggesteek teen haar gunsteling struik se stam – nie te ver vanwaar Attie haar altyd dopgehou het nie. Ses maande later, toe die lente se dae warm genoeg is vir nuwe lewe, kruip daar sowat 400 van Attie en Victoria se nasate die wye wêreld in – party kragtige, gewetenlose jagters soos hulle ma, Victoria en party so bietjie pateties soos hulle pa, Attie. Attie se bestaan het tog ‘n verskil gemaak aan die totaliteit van die heelal, want as jy mooi daaroor dink bestaan ‘n hottentotsgot se heelal nie uit veel meer as ‘n struik of twee nie.

Riaan Palmer

Maart 2021 – Liefdes projek

1.Vir Dao Mau

Ek staan voor die opening van die grot, en staar die onheilspellende donkerte in. Wat wag vir my? ‘n Pynlike, stadige dood of ‘n vinnige heengaan na die hiernamaals?

Ons dorpie is nie veel anders as ‘n dosyn ander soortgelyke dorpies in die Quang Binh provinsie van Vietnam nie. Wel, dis seker nie heeltemal waar nie. Ons dorpie Son Trach is vrugbaar en oorvloedig. Almal het genoeg om te eet, bly in ‘n groot, goed uitgeruste hut en daar is werk vir almal. Dit is ‘n paradys, as daar ooit so iets is. Die ander dorpies in die omgewing is vervalle. Armoede het die mense tot op hulle knieë gedwing. Selfs die kinders gaan slaap honger, en bitter min mense het ‘n hut waar hulle, hulle kop kan neerlê. Meeste mense probeer snags, onder dakkies gemaak uit takke en blare, slaap. Mens sou dink dat enige dorpie wat in die middel van ‘n reënwoud is, nie te sleg sou vaar nie. Dit is dalk ‘n eenvoudige lewe, maar daar behoort genoeg te ete wees vir almal. Die ander dorpies is egter oorbevolk en al wat ‘n dier is, is tot op die rand van uitsterwing gejag. Hoeveel spesies bestaan nie meer nie, want die mense se honger hou nooit op nie? Bome wat vrugte dra is afgesny vir vuurmaakhout of die vrugte word gepluk en in die stad verkoop vir ‘n paar sent, net sodat dit in eerste wêreldse lande ten duurste weer verkoop word aan mense met meer geld as wysheid. En dan is daar die honderde jare se burgeroorloë en klassisme wat ons mense arm en gebroke gelaat het. Dis net die dooies wat ooit die einde van ‘n oorlog sien.

Ons dorpie se voorvaders het egter jare gelede al gesien wat kom. Hulle het besef dat daar net soveel hulpbronne en kos is, om ‘n gemeenskap te onderhou. Gebruik te veel, en daar is niks. Hulle het seker gemaak hulle neem net soveel van die aarde as wat nodig is. Hulle het ook aan die aarde teruggegee, en sodoende ook oorbevolking verhoed. Wanneer die moeson seisoen begin, dan word een van ons die grot – Son Doong – ingestuur. Volgens oorlewering is dit waar Dao Mau, die Moedergodin van die natuur bly. Sy sorg vir ons, en ons sorg vir haar. Wanneer dit tyd is, kom ons almal bymekaar. Ná die seremonie van vrugbaarheid word daar lootjies getrek, om die volgende persoon, wat die offerande gaan wees, te kies. Die persoon trek die mooiste groen kleed aan en juwele van die reinste smaragde word aan die offergawe se vingers gesit. Dan stap ons almal saam na die ingang van die mistieke Son Doong, en sing liedjies van dankbaarheid, terwyl die geliefde dorpenaar die grot instap.
Niemand kom ooit weer uit nie. En ons dorpie beleef nog ‘n jaar van oorvloed en vrugbaarheid.

Die eerste moesonreën het gister geval, en die stamhoof, Ngoc Ma, het die boodskap die dorpie ingestuur dat dit tyd is. Ons het vanoggend gedans, geëet, gesing en mekaar waardeer, want vandag sou die laaste keer wees wat iemand ons vir altyd sou verlaat. Elke een dink altyd dat dit iemand anders gaan wees. Ek ook. Maar hierdie keer was ek verkeerd. Ek het die kleinste klippie gekry. Ek is dié seisoen se offerande aan Dao Mau.

Ek staan voor die opening van die grot, en staar die onheilspellende donkerte in. Wat wag vir my? ‘n Pynlike, stadige dood of ‘n vinnige heengaan na die hiernamaals? Die groen kleed om my lyf voel vreemd. Ek is gewoond daaraan om net ‘n lendedoek te dra. Agter my sing die dorpenaars ‘n opgewekte liedjie. Is hulle so opgewek omdat hulle eintlik dankbaar is dat dit nie een van hulle is wat hier hoef te staan nie? Ek dink terug aan al die kere wat ek tussen hulle gestaan en sing het. Die offer aangehits het om die ondeurdringbare donker in te stap. Tot nou het ek nog nooit regtig oor die dood gedink nie. Wat gebeur as jy doodgaan? Hoe is dit? Hoe voel dit? Dit is lekker om te lewe, en ek vermoed die dood is vreedsaam. Ek dink dit is die oorgang van die een na die ander wat moeilik is.
Ek skud my kop. Ek gaan nie dat vrees my wen nie. Ek gaan nie onthou word as ‘n lafaard nie. Dit is wanneer ‘n mens op sy bangste is, wanneer hy die dapperste is. Ek doen dit vir my mense.
Ek kyk ‘n laaste keer om, gee ‘n skewe glimlag en stap die oneindige donkerte in. Die grond onder my voete is meestal gelyk. Hier en daar is ‘n klip, maar ek stap stadig genoeg dat ek nie my toon stamp nie. My hande is voor my uitgestrek. Die lig van die warm son word flouer en flouer soos wat ek die diepte in stap. My uitgestrekte vingers ontdek die gladde oppervlak van die grot se muur. Ek laat my vingers oor die rotswand gly soos ek die draaie en op-en-af van die muur volg. Dit voel soos kilometers wat ek stap. In die verte sien iets. Het my oë gewoond geraak aan die donker? Dis ‘n flou lig. Ek begin vinniger stap in die rigting van die lig, en dit word helderder soos wat ek nader stap. Het ek in die verkeerde rigting gestap? Is ek weer by die ingang? Ek hoor nie meer die sangstemme van my mense nie. Voor my maak die tonnel oop en ek stap ‘n reuse grotsaal binne. Orals is daar klippe of kristalle wat gloei; genoeg lig gee dat ek sonder moeite die onbekende omgewing kan ondersoek. Ek bekyk die grot van kant tot kant. Ek ondersoek die klippe wat ek nog nooit gesien of eers van gehoor het nie. Die stilte word gebreek deur … voetstappe? Ek steier agteruit. Dis seker Dao Mau, die Moedergodin wat my kom haal. EK staan trots regop soos ‘n kryger, gereed om my plig vir my mense te voltrek. ‘n Figuur kom die grot ingestap. Ek het nooit regtig gedink oor hoe Dao Mau lyk nie, maar ek het glad nie verwag dat sy soos ‘n mens gaan lyk nie. Die figuur stap nader en ek probeer vriendelik en braaf tegelykertyd te lyk, maar dit voel of my bene onder my gaan ingee. Uiteindelik is die figuur naby genoeg dat ek haar kan sien. Hóm kan sien? Dit is dan … Ek ken die figuur. Dit is Trinh Minh wat ‘n paar jaar gelede geoffer is! Ek vergeet van Dao Mau en die dood, en omhels Trinh Minh met meer blydskap as wat ek nog ooit ervaar het.
“Wat gaan aan? Hoe het jy …? Waar het jy …?” Ek het soveel vrae dat ek nie eers een sin kan klaarmaak nie.
Trinh Minh glimlag en sê: “Ontspan. Jy sal nou verstaan.” Hy draai om en beduie dat ek hom moet volg. Ek laat my nie twee keer nooi nie en volg hom tot by die verste punt van die grotsaal. Daar sak hy op sy knieë neer en kruip by ‘n klein tonnel in. Ek volg sy voorbeeld en bly kort op sy hakke. Na, wat soos nóg kilometers voel, word die tonnel groot genoeg dat ons kan regop staan, en ‘n ent verder eindig die tonnel in ‘n groter saal as die vorige een. Ek staan verstom. Dit lyk of ek by ‘n dorpie ingestap het. Die saal is helder verlig deur gloeiende klippe. Daar is kliphuise in die kante van die saal gekerf. Hier en daar brand vure waarop vis gebraai word. En orals sit mense rond wat gesellig met mekaar praat. Hulle word stil as hulle my sien, en spring opgewonde op en hardloop nader. Ek herken elke een wat my kom groet. Le Hoan! Quang Khai! Truong Dinh … Nog dosyne ander! Almal mense wat in die verlede die grot ingestap het as offers aan Dao Mau. Daar is egter ook ‘n paar jongmense en kinders wat ek nie ken nie. Toe almal my klaar vreugdevol gegroet het, begin hulle my alles in die grot-dorpie wys. Die huise, die gemeenskaplike kuierplek waar etes bedien word, waar hulle visvang, die plante wat sonder sonlig groei en heerlik is om te eet, die skool en die klipwerke waar klippe gekap word om nog huise en nuttige gereedskap te maak. Selfs ‘n tempel oftewel dinh waar Cao Son Dai Vuong, die Berggod aanbid word. Pragtige kalsiet en kwarts kristalle wat dit ‘n towerwêreld maak. Diep poele water wat oneindig die lig reflekteer. Dít is die paradys.

Nóg mense wat “geoffer” is het by ons aangesluit. Mense het verlief geraak, saam gebly en die natuur het sy gang gegaan. Op ‘n stadium het daar nie meer mense by ons aangesluit nie, maar ons het dit skaars agtergekom want ons het vergeet dat daar ‘n wêreld daar buite bestaan. Hiérdie was ons wêreld.
Ek het geen idee hoeveel tyd het verbygegaan nie, want tyd het stilgestaan sonder ‘n son en maan. Ek het al ‘n lang grys baard gehad teen die tyd wat die probleme begin het. Ons mense het begin baklei oor kos. Die vissermanne het begin terugkom sonder ‘n enkele vis of net een of twee klein vissies. Die groot groep wat ons was het die voedsame plante ook vinniger opgeëet as wat dit kon groei. Die mense het begin honger word. ‘n Honger mens is soos ‘n gevaarlike dier.
Ek en die ander twee oudstes, Trinh Minh en Thi Xuan, het begin praat. Ons het besef dat ons iets moet doen, anders gaan die mense mekaar doodmaak of, nog erger, begin eet.
“Daar is meer mense as wat daar kos is.” het Thi Xuan die ooglopende verklaar.
“Cao Son Dai Vuong is kwaad vir ons. Al wat ons doen is neem, maar ons gee niks terug nie.” voeg Trinh Minh by.
Ek het egter reeds geweet wat moet gebeur. Oorbevolking en ‘n ongelukkige berggod. Die antwoord was so duidelik soos ‘n gloeiklip.
“Ons moet iemand offer aan Cao Son Dai Vuong …” sê ek saggies. Lank verlore herinneringe het my nie laat besef dat dit nié ‘n oorspronklike idee was nie.
Trinh Minh en Thi Xuan het hartseer instemmend geknik.

Ons het die mense bymekaargeroep en verduidelik wat die probleem is en wat die antwoord is. So is ‘n nuwe tradisie gebore. Ons vier fees. Ons hou ‘n seremonie. Een van ons mense word gekies as offer aan die Berggod, Cao Son Dai Vuong.
Opoffering is deel van die lewe. Dit is veronderstel om te wees. Dit is nie iets waaroor jy spyt is nie. Dit is iets om na te streef. Dit is nie moeilik om te besluit wat jy in die lewe wil hê nie. Wat moeilik is, is om uit te vind wat jy bereid is om op te gee. Om dit te doen wat nodig is vir dít waarvoor jy regtig omgee.

Ons sing en dans en vereer die offerande. Sit pragtige kristalle aan die martelaar se hande.

Die lewe is ‘n sirkel. Dit het geen begin of einde nie. Net die eindelose stryd om oorlewing. Die onafwendbare dood is die reël. Oorlewing is die uitsondering. Leef nóú. Doen wat jy wil, nie net wat jy móét nie. Ons leef nie vir ‘n ewigheid nie. Ons het net hierdie oomblik, skitterend soos ‘n ster, met beloftes van geluk en vreugde – maar dit smelt soos ys. Ons moet dit gebruik voor dit te laat is, want more is jy die offerande vir iemand anders.

Ons stuur hulle uit die grot. Ons stuur hulle na die lig aan die einde van die tonnels. Vir Cao Son Dai Vuong. Vir ons mense.
Niemand het nog ooit teruggekom nie.

Riaan Palmer

April 2021 – Oordenkingsprojek

1.Die soeke (797 woorde)

Ek sluip katvoet van een skaduwee na ‘n ander. Telkens loer ek oor my skouer om seker te maak niemand volg my nie. In die verte kan jy die polsende klank van voertuie wat vlieg en die ritmiese klak-klak van die wat op spore beweeg hoor. Miljoene mense wat iewers moet wees. Reuse hologramme flikker die dag se nuus en eindelose advertensies, maar die lig kan nie tot in die donker van die nou stegie penetreer nie.
Ek gaan staan oorkant ‘n geroeste metaaldeur en maak kyk weer na die nota om seker te maak dit is die regte plek. Ek besef ek sal moet nader gaan, want ek kan nie die simboliese merke sien van waar ek staan nie. Ek stap senuweeagtig tot voor die deur. Daar, net-net sigbaar in die eindelose donker van die nag, is die rooi strepe aan die kosyne van die metaaldeur geverf. Ek aarsel; as dit ‘n lokval is, is dit my laaste oomblikke van vryheid. Dis nie te laat om, om te draai nie… Nee! Ek moet dit doen. Ek moet volstaan by dit wat ek glo. Ongeag wat die gevolge is. Al is die gevolge die dood…

Dit is jare sedert ek laas Die Fees gevier het. Die Fees was verban nog voor ek gebore was. My ma het haar bes gedoen om my gereeld te vat na Die Gemeenskap toe. Totdat hulle haar gearresteer en doodgemaak het. Sy het met heimwee stories vertel hoe dit was vóór geloof totaal verban was. Hoe gelowiges openlik in groot ouditoriums bymekaar gekom, gesing, gebid en feesgevier het.
Maar soos wat sosiale media geblom het, is opinies die wêreld ingestuur. Mense wat met wetenskap probeer bewys het dat daar geen opperwese of almagtige wese was nie. Meer en meer mense het ophou glo en ateïste geword. Die ateïs-beweging het groter en groter geword. Hulle het mense wat steeds geglo het in ‘n almagtig, alwetend en alomteenwoordige entiteit, gespot en verkleineer. Burokrate en politikusse het vergaderings gehou en komitees is opgeroep om godsdienste te ondersoek. Daar is bevind dat geskiedkundig het godsdiens die mensdom net verdeel het. Godsdiens is uiteindelik verban. Ironies genoeg was die manier wat ateïste hul ongeloof verkondig het, nie veel minder as nog ‘n geloof nie.
Saam met godsdiens was die viering van die nagmaal ook verban. Die komitees het besluit dat om brood te eet, ter herinnering van die liggaam van Christus, het kannibalisme bevorder. Die drink van wyn, ter herinnering van Jesus se bloed wat gestort is, het kwansuis vampirisme bevorder. Paasfees, het hulle weer bestempel as die viering van zombies.
Die wat vasgehou het aan hulle geloof het hulle nie gesteur aan aardse wette nie, en voortgegaan om hulle Skepper en Here openlik te aanbid. Die owerhede het hard teruggekap: die doodstraf is ingestel. Enige iemand wat rituele van enige geloof beoefen, was ter dood veroordeel. Aanvanklik het die gelowiges vas bly staan in hulle geloof, en so is duisende gelowiges vermoor.
Deesdae is daar net ‘n handvol gelowiges oor, wat in donker vertrekke bymekaar kom. Soos vanaand. Geheime boodskappe is aan die gestuur wat nog Christene was: “Dis Paasfees! Die gemeenskap van Christus moet dit saam vier!”

Ek klop saggies aan die metaaldeur en dit voel asof die klop-klop se hol klank weergalm deur die hele stad.
“Johannes drie vers sestien?” Die stem agter die deur is sag en bewerig.
“Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.” antwoord ek en hou my asem op.
Slotte word oopgesluit en die deur maak ‘n skrefie oop. Ek herken die gesig en die gesig verhelder toe hy my erken. Hy maak die deur heeltemal oop en ek stap in. Dan voel ek hoe my bloed stol.
Voor my, tussen die handjievol ander mense, staan vier lede van die geloofspolisie; dienaars van die dood.
Een stap nader en ek retireer, maar die deur agter my is reeds weer gesluit.
Die man glimlag en steek sy hand uit, maar ek koes.
“Moenie bang wees nie.”, sê hy “Ons is hier want ons wil deel wees van julle gemeenskap.”
Ek frons verbaas.
“Ons wil ook beleef wat julle beleef. Die liefde. Die gemeenskap. Die vrede. Die hoop.”, verduidelik hy verder.
Ek glimlag. Meer en meer ateïste soek na geloof. Hulle voel leeg. Hulle wil verstaan hoekom hulle smag na “iets”…iets wat hulle nie in ateïsme kry nie.
Ek neem die man se hand, en lei hom na ‘n stoel. “Kom sit.” sê ek met opgewondenheid. “Kom ek vertel jou van die liefdevolle God en Sy Seun se opoffering vir alle mense.”
Die man lyk skepties.
“Ja, selfs vir jou ook.” Stel ek hom gerus.

2121 is ‘n goeie Paasfees.

Riaan Palmer

Mei 2021 – OOP Projek

1.Dans

In ‘n ou huis, met hout vloere, is die klank van voetstappe niks vreemd. Om te waarheid te sê, jy kan nie ‘n tree gee sonder dat die hele huis jou hoor nie. Dit is dus glad nie eienaardig toe die stilte gebreek word deur die geluid van trippelende voetstappe, vanaf die tweede verdieping, bo my kop, nie. Ek neem aan dis weer Daniel, my jonger broer. Hy het altyd te veel energie in daai lyfie, en hopeloos te min om te doen, so hy is altyd op en af en heen en weer, asof die duiwel hom jaag. Aanvanklik steur ek my nie veel daaraan nie, maar die voetstappe word harder en meer opsetlik. Ek sug.
“Daan! Ek probeer leer!” gil ek in die rigting van die plafon. Die geskuifel word stil en ek probeer weer konsentreer op die statistiek handboek voor my. Oomblikke later begin die klop-klop-klop weer. Ek sug weer en swets hardop. Ek maak my oë toe in ‘n poging om kalm te bly. Die voetstappe word amper oorverdowend. Daar is ‘n ritmiese patroon aan die gestampery van voete, amper asof hy besig is om te dans. My kop knik onbewustelik op maat van die ossillerende geluide, wat meer en meer klink soos die drom van ‘n vergete stam iewers in ‘n oerwoud. Ek skud my kop om uit die waas te kom.
“Deksels, Daniel! As ek hier opstap gaan ek jou aan jou ore rondruk!”

Stilte.

Ek wag dat dit weer begin, maar al wat ek hoor is die gesuis in my ore van die skielike stilte. Uiteindelik begin ek die bladsy waarmee ek besig was, vir die derde keer, van bo af lees.
Die klopdans begin weer met mening, maar nie weer bo my kop nie. Verder af in die huis, naby die trappe. Ek vlieg woedend op en begin in die rigting van die trappe drafstap. Maar ek stop dood in my spore toe die skrikwekkende boodskap, vanaf my onderbewussyn, my tref. My broer is nie by die huis nie! Hy is saam met my ma winkels toe, om kruideniersware te koop. My pa werk heeldag. Ek is alleen by die huis. Behalwe net … duidelik is ek nie! Die polsende stampe begin by die trappe, af in die gang, afkom. Ek wil eers uitroep – verneem wie deel die leë huis met my. Maar ek het al genoeg flieks gesien om te weet dit is altyd ‘n boosdoener, en hulle antwoord nooit terug nie. Soos wat die klopdans nader kom, let ek op dat daar ‘n singery die klop-klop-klop begelei. Die lied is melodies en op ‘n manier bekend, alhoewel ek geen woorde hoor nie. Ek weet nie of dit ‘n neurie of ‘n gefluit of ‘n onbekende instrument is nie. Uiteindelik voel ek my bene smeek dat ek moet vlug. Ek draai om, en kyk verskrik deur die studeerkamer. Daar is geen ontsnappingsroete nie. Die diefwering voor die venster maak die vertrek niks minder as ‘n valstrik nie. Om by die huis uit te kom, gaan ek verby die trappe moet kom, maar die kans om dit te doen is verby. Die singende danser trek al af in die gang. Al redding wat daar is, is die kas in die hoek van die vertrek. Nou nie die beste wegkruipplek in die wêreld nie, soos soveel flieks al vir my gewys het, maar dis beter as niks. Dit is ‘n kans vir veiligheid!
Ek ruk die deur oop en gooi koorsagtig komberse en ou lakens vol stof uit die kas uit, om plek te maak vir my logge lyf. Die klopdans en mesmeriserende gesing is net buite die studeerkamer. Ek duik-val die kas binne en trek die deur, so styf as wat ek kan, toe. Buite my skuiling kom die klopdans op maat van die melodie die kamer binne. Ek hou my asem op; die pols van my hart oorverdowend in my ore. Die danser se klopdans beweeg heen en weer deur die vertrek, maar die gesang vul die hele vertrek – elke hoek en gleuf. Ek snak na lug toe my longe amper wil bars.
Wie kan dit wees, of eerder, wát kan dit wees? Gaan ‘n booswig nou regtig op en af in die huis dans? Vir wat? Sekerlik skeer iemand met my die gek?

My nuuskierigheid oorwin my vrees, en ek maak die kasdeur op ‘n skrefie oop. Byna onmiddellik ruk ek die kas weer styf toe, maar die beeld is vir ewig in my oë gebrand.
Die danser is ‘n man wat handeviervoet op en af beweeg, en sy hande en voete om die beurt stamp op maat van die sang. Is dit ‘n man? Dit lyk soos ‘n mens wat weke, of dalk maande laas, geëet het. Sy gesig uitgehol; sy lewelose oë diep in sy oogkaste. Die klere aan sy lyf is niks meer as flenter lappe nie. Die gesing kom uit sy mond, maar sy lippe beweeg nie. Sy mond – met meer gate tussen die vrot tande, as tande self – is wawyd oopgesper, asof hy permanent gaap, terwyl die hipnotiese note uit hom vloei.

Ek sit doodstil.

Die musiek is … pragtig. My voet tik onwillekeurig op maat van die verleidende deuntjie. Ek probeer konsentreer om my voet stil te hou, alhoewel die kreatuur sekerlik weet waar ek wegkruip. Ek wag, dalk vir minute, dalk vir ure, voordat die klopdans uit die vertrek af in die gang af verdwyn. Die klopdans word sagter totdat dit uiteindelik stilte word. Maar die betowerende lied vul nog die lug. Ek frons en luister aandagtig. Dan besef ek die gesing kom uit my eie mond uit! Ek beweeg nie my lippe nie, en my tong lê doodstil, maar die note vloei oneindig uit my mond.
Dans.
Ek val vooroor uit die kas, en beland handeviervoet op die houtvloer.
Dans!
Ek kom nie weer op nie. My regtervoet lig op, en kom met ‘n stamp af op die houtvloer.
Dans! Dans! Dans!
Dan lig my linkervoet op en weer af. Stamp! Dan weer die regtervoet. Dan my linkerhand. My regterhand volg daarna. Klop. Klop. Klop.
Dans … Dans. Dans!
My vier ledemate beweeg soos die suiers van ‘n binnebrandmotor op en af, op ritme van die musiek.
My lyf begin die polsende ledemate volg in die rigting van die voordeur. Selfs my hart klop op die maat van die musiek. My stembande verkondig die lied van die dans.
Dans.
Ek besef ek dans die straat af. Ek weet nie waarheen nie. Ek gee nie om nie. Statistiek, eksamens, ouers, broer, kos, klere, rede … vergete. Ek weet net ek moet dans. Ek weet net ek moet die dans met nóg mense deel. Almal moet dans.

Hoor die lied.

Dans!

Piaan Palmer

Junie 2021 – Interteksualiteits projek

1.Die ontelbare name van God (835 woorde)

Wagner was onseker hoe om te reageer. Sy tegnologie maatskappy het rekenaarbedieners al regoor die wêreld geïnstalleer, maar ‘n Tibettaanse klooster iewers in die Himalajas was ‘n eerste. Hy het ook geen idee gehad hoe om op te tree teenoor die ou man, in sy eenvoudige oranje karsaai, wat oorkant hom gesit het nie.
“Kan u dalk verduidelik presies waarvoor u die bediener wil gebruik?”, vra Wagner nuuskierig.
“Natuurlik,” sê die monnik vriendelik. “Julle OLCF-4 kan maklik komplekse wiskundige bewerkings uitvoer wat gewone rekenaars jare sal neem om te doen. Ons wil dit natuurlik nie gebruik vir nommers nie, maar vir letters.”
Wagner was baie trots op hulle maatskappy se vlagskip bediener. Die superrekenaar kon die mees komplekse berekeninge doen teen die spoed van lig. Fisikusse, ekonome, wiskundiges en kosmoloë het almal al, ten duurste, ‘n OLCF-4 aangeskaf om die mees komplekse probleme op te los. Maar wat sou ‘n eenvoudige klooster in die berge moontlik met so ‘n kragtige masjien wou doen?
“Ek verstaan nie …” het Wagner uiteindelik gesê.
“Dit is ‘n projek waaraan ons al drie eeue werk.” het die ou man geduldig verduidelik. “Ons is besig om ‘n lys op te stel wat al die name van God bevat. Ons het rede om te glo dat elke moontlike naam van God kan met net nege letters geskryf word. Wat ons sowat vyftienduisend jaar sou neem om met die hand te doen, sal binne dae klaar wees met julle bediener.”
“Ek verstaan hoekom julle die bediener wil gebruik, maar … wat is die punt?” Wagner het hard probeer om nie die man te affronteer nie.
Die ou man het ‘n oomblik in stilte gesit en verby Wagner gestaar, sy skouers opgetrek en gesê, “Noem dit maar ritueel. ‘n Filosofiese probleem wat belangrik is vir … ons geloof. As ons elke permutasie van God se name, soos Jehova, Allah, Adonai en so aan op skrif het, sal dit ons probleem oplos. As die polinoom P maal 9 tot die mag 370 tot die mag 7 139 gebruik word, en dieselfde letter nie drie keer na mekaar voorkom nie… Jy sien, dit is ‘n aardige hoeveelheid.”
As ingenieur het Wagner die wiskunde verstaan, maar iets het nie sin gemaak nie. “Ek verstaan maal nege, maar hoekom ook tot die mag 370 en 7 139?”
“O ja! Ek het vergeet om te noem. Die masjien moet die name in elke alfabet en elke simbool wat nog ooit bestaan het, uitdruk. Dit is natuurlik die drukwerk wat die proses effens stadiger gaan maak, maar ek is seker jy gaan ‘n doeltreffende oplossing hê.”
Wagner het sy kop geknik toe hy uiteindelik die versoek verstaan. “Daar is dan nog net een kwessie…”
“Natuurlik!” het die monnik hom onderbreek. “Hier is die bankgewaarborgde tjek. Julle kan dit met graagte solank gaan bank.”

*

Wagner het sy hande vinnig teenmekaar gevryf, terwyl hy oor die ysige landskap getuur. Vir ander mense sou dit dalk mooi gewees het, maar hy het die stad verkies. En hitte. Dit was koud tot op die been hier.
Agter Wagner het George uiteindelik te voorskyn gekom.
“Kom, roer jou litte! Dis nog ver lughawe toe, en dis amper tyd …” het Wagner vies gesê. Oor die laaste drie weke het hy en George dag en nag gewerk om die superrekenaar op te stel en honderde drukkers aan die netwerk te koppel. Uiteindelik is die roetine aan die gang gesit en die drukkers het duisende bladsye begin uitgespoeg.

Een dag het George twee monnike hoor praat in gebroke Engels. George het dadelik, met dit wat hy gehoor het, na Watson toe gehardloop. Hy móés net die brokkie nuus deel. Die hele projek het skielik sin gemaak. Blykbaar glo die Boeddhiste in dié klooster, dat sodra al God se name op skrif is, Sy wil volstrek is. Dit sou dan die einde van die wêreld, oftewel Armageddon, beteken. Watson was nie beïndruk nie. Hy was nou nie regtig gelowig nie, en het glad nie gedink dat die projek ‘n sukses sou wees nie. Dan, volgens hom, sou die monnike hóm definitief blameer vir die mislukking. Dit is hoekom hy en George so vinnig as moontlik hier wou wegkom – enkele ure voor die laaste name op die laaste bladsye gedruk sou word.

*

Soos wat Wagner en George oor die landingstrook stap, dink George hardop, “Ek wonder of die masjien al klaar is met die laaste name…”
“Kyk …” antwoord Watson wat opkyk na die naghemel, en George volg Wagner se blik.
Bo hulle, sonder enige fanfare, verdwyn die sterre een vir een, soos ligte wat afgesit word.

* Arthur C. Clarke het “The nine billion names of God” in 1953 geskryf, toe rekenaars nog met vakuumbuise gewerk het en baie stadig was. Die verhaal is gemoderniseer om moderne tegnologie in ag te neem, aangesien dié interessante mengsel van wetenskapfiksie en godsdienstige filosofie steeds vandag van waarde is. Die analitiese kombinatorika berekening [P(9)^370^7139] gee ‘n getal wat baie moeilik met woorde geskryf kan word, en dus was die oorspronklike titel ook nie meer van pas nie.

Riaan Palmer

2.Die berugte Bengaalse Ming

(792 Woorde)

As ek kan een ding sê van vandag, dan is dit dat dit die beste en miserabelste dag van my lewe was. Die dag het wonderlik begin. Dit was ‘n pragtige sonskyn dag. Maar buiten vir dit, het ek wakker geword met ‘n gewaarwording: Ek was verlief. Ek was nie verlief op Maharaj of Saskia, wat die hok met my gedeel het nie. Om die waarheid te sê, my liefde was nie eers vir ‘n tier nie. Ek was verlief op my hanteerder en versorger, Kitch. Ek weet dit klink vreemd dat ‘n tier op ‘n mens verlief is – die besef was net so ‘n skok vir my. Dit is dieper, groter liefde as enige ander liefde. Mooi. Misterieus. Kitch sorg vir my al vandat ek ‘n welpie was. Ek en Kitch het ‘n spesiale band – iets wat die ander tiere nie gehad het nie. Elke dag bring Kitch klokslag ons kos en met sy vriendelike stem sal hy ons roep om te kom, sodra hy weer buite die kamp was. Maar vandag … vandag het Kitch nie gekom nie. Ek het gewag en gewag. Ek het konstant die lug geruik, maar die reuk van honderde toeriste wat om die hok gedrom het, het dit onmoontlik gemaak om een spesifieke reuk uit te sonder. Die honger het gegroei, en lateraan het ‘n hoofpyn by die honger aangesluit. Die geraas van die babbelende toeriste het dit ook nie beter gemaak nie.

Uiteindelik, net toe dit voel of my kop in ‘n miljoen stukkies gaan bars, hoor ek die grendel van die hek oopskuif. Weg was die hoofpyn! Weg was die honger! Die wêreld was weer perfek, want Kitch was hier.
My liewe, liewe Kitch.
Hy het die kamp ingestap, en ek het in ‘n oogwink tot langs hom gespring. Uit blydskap. Om hom te sê hoe lief ek vir hom was. Die vreeslikste ding het egter gebeur. Ek het skaars langs Kitch geland, toe slaan hy my met die stok reg op my neus. Nog nóóit het hy my met sy stok geslaan nie.

Tot my spyt het ‘n ongekende woede soos ‘n vloed deur my gevloei. Ek het bo-op Kitch gespring en hom gebyt. Geskok het ek geretireer in die rigting van die skuiling. Ek het my geliefde Kitch gebyt! Dit was net ‘n ongeluk… Of dalk was dit so bietjie opsetlik. Miskien iewers tussen die twee.
Ek het weer tot by Kitch geloop, en hy het angsbevange probeer wegkom. Maar ek moes dit wat nou gebeur het ongedaan maak! Ek het die vier perfekte ronde gate, wat deur my slagtande gelos is in sy nek, begin lek om die bloeding te stop. Sy bloed was heerlik. Soet. Lekkerder as enige van die ou vleis wat hy elke dag vir ons gebring het. Weereens het ek besef wat ek besig was om te doen. Ek het besef dat die lek van my growwe tong nie die bloeding gestop het nie. Ek het opgekyk na die skare mense om die hok, op soek na hulp. Ek het angsbevange begin brul; gesmeek om hulp. Die hordes mense het paniekbevange gegil en my gegooi met leë blikkies en klippe. Ek het opgelet dat die hek na buite toe nog oop was. Dalk was daar iemand daar buite wat Kitch kon help. Ek het vreesloos uitgehardloop. Weg van die kamp wat my tuiste was. Mense het op en af gehardloop, in al die verskillende windrigtings. Dalk het hulle ook gehardloop om hulp te gaan kry vir Kitch?

Een vrou het gestruikel en haar mens-welpie het uit haar arms geval. Ek het nader gehardloop om haar te help. Ek het die huilende mens-welpie versigtig in my kake geneem, en dit het feitlik onmiddellik ophou huil. Verbouereerd het ek besef wat ek gedoen het – my skerp tande en sterk kake het die brose welpie seergemaak.
Ek wou huil. Dít moes nie gebeur het nie. Ek wou nie my liewe Kitch seermaak nie, en ook nie die arme mens-welpie nie!

Die mens-welpie se ma was skielik by my. Sy het my geslaan met haar vuiste, haar hande in my kake gedruk en dit probeer oopsper. Ek het haar welpie laat val en haar gebyt. Ek het haar ingewande uitgetrek en daaraan begin gesmul. Haar bloed was soet op my tong. Die vleis van haar beendere getrek; sag en heerlik.
Dít was nie ‘n ongeluk nie.
Ek wóú haar doodmaak. Dit was onvermydelik. Noem dit maar … instink, as jy dit iets wil noem.
Ek was nog nooit so gelukkig soos nou nie!

Ek het te laat die man met die geweer gesien. Ek het te laat die harde knal gehoor.
‘n Stilte het neergedaal om my. ‘n Vrede. Gevul met die wonderlike gevoel van liefde, vir my Kitch.

‘n Verwerking van “The Infamous Bengal Ming”, deur Rajesh Parameswaran.

Riaan Palmer

Julie 2021 – OOP projek

1.Ons moes nie met Ta’ Anna gaan praat het nie

Ek het grootgeword in ‘n klein dorpie in die Noord-Kaap. Postmasburg. Jy’t waarskynlik al van die plek gehoor, maar gaan waarskynlik nie op ‘n kaart kan wys waar die dorpie is nie. Dis maar net nog ‘n dorpie in die middel van niks en nêrens, met ‘n kerk en vyf drankwinkels. Een van daai dorpies wat jy wonder hoekom enigiemand daar sal wil bly of wat die mense heeldag doen.
Ek het die plek gehaat. Daar was vele redes om die plek te haat. Bitter min kinders van my ouderdom, so, bitter min vriende. Niks om te doen nie. Maar die ergste was die koue. In die winters het die koue oor die dorpie neergesak, klaarblyklik met die uitsluitlike doel om alles te verkluim en dood te maak. Dit was ‘n ander soort koue. Dit het ingedring tot op die been, en geen hoeveelheid truie of frokkies kon die koue verdryf nie.

As mens in ag neem dat die dorpie se mense almal tipies konserwatiewe Christene was, was die feit dat hulle Ta’ Anna geglo het eintlik vreemd. Ta’ Anna Kuiper het in haar eenvoudige huisie so kilometer uit die dorp gebly. Haar bekendheid was egter nie te danke aan die feit dat sy familie van die rolprentster, Dawid Kuiper was nie, maar die feit dat sy ‘n siener was. Of dalk ‘n waarsegster? Ek weet nie regtig wat sy was nie, maar sy het dinge geweet wat sy onmoontlik nie sommer net kon “weet” nie. Soos as ‘n lammer van ‘n boer weggeraak het, dan sou sy die boer presies kon sê waar om te gaan soek. Of as jy wou weet wanneer die reën kom sodat jy betyds kon plant, dan het jy Ta’ Anna gaan sien. Daar was selfs mense wat haar gaan sien het om te weet wat die toekoms vir hulle inhou. Ek het myself egter as “ingelig” beskou en glad nie in dié bygelowige stories geglo nie. Seker maar omdat ek, uit verveeldheid, my dae in die biblioteek vertoef het. Ek was welbelese; in my opinie.

Ek gaan egter lieg as ek sê ek was nie nuuskierig nie. Ook maar net kind. Dit het dus nie veel oortuiging van my vriendin, Francis, geneem dat ek saam met haar na Ta’ Anna toe moes gaan nie. Tussen die twee van ons kon ons ‘n volle vyf Rand bymekaarskraap, as betaling vir Ta’ Anna se tyd. Niks in die lewe is mos verniet nie. So het ons op die afgesproke dag die pad te voet aangedurf, na Ta’ Anna se huis toe. Alhoewel die huis klein, en onindrukwekkend was, was daar iets vreesaanjaend aan die plekkie. Dalk net die idee van wat moontlik daar binne aan die gang was. Ons het eers lank voor die tuinhekkie gestaan en mekaar moed ingepraat, voordat ons uiteindelik tot by die voordeur gestap het. Voordat ek aan die deur kon klop, het die deur oopgevlieg en ek het probeer om met alle mag weg te hardloop, maar my bene het geweier om my instruksies te volg. Toe ek die toneel egter inneem, verdwyn alle vrees. Ta’ Anna was ‘n klein verrimpelde vrou, met ‘n breë tandlose glimlag. Presies soos wat jy ‘n Khoi-San vrou sou voorstel wat 100 jaar oud is. Of dalk eerder 200 jaar oud.
“Ons wil hoor wat Ta’ Anna te sê het. Oor óns… Die toekoms…”, het Francis probeer verduidelik wat ons daar soek, en sommer die vyf Rand in kleingeld voor haar uitgehou.
Ta’ Anna het die geld opgeraap – vinniger as wat mens verwag van so ou tante – die munte in haar toe hand geskud langs haar oor. Sy het tevrede geglimlag en haar hand met die geld in het voor in haar voorskoot verdwyn, terwyl sy met die ander hand beduie het dat ons haar moet volg. Ons het haar agterdogtig gevolg tot in die eetkamer. Die vertrek was half teleurstellend. Ek het ‘n kristalbal, bolle wierook, diere se organe in bottels en dalk ‘n opgestopte bokkop verwag. Dalk ‘n teken van die duiwel iewers teen die muur. Maar die vertrek was soos enige ouma se eetkamer. Vol doilies, lelike glas vrugtebakke en dosyne porselein standbeeldjies van kinders wat visvang en verliefde jong paartjies wat diep in mekaar se oë staar.

Sy het by die tafel gaan sit, en ons het haar voorbeeld gevolg.
“Vra.”, het sy sonder onnodige kletspraatjies gesê.
“Met wie gaan ek trou?”, het Francis sonder om daaroor te dink, gevra.
Ta’ Anna het haar oë toegemaak en so met toe oë en al, met ‘n krom wysvinger aan Francis se voorkop geraak. Byna onmiddellik het sy haar oë weer oopgemaak en gesê, “Gideon Wolmarans.” So al asof dit vanselfsprekend was.
“Gideon Wolmarans. Gideon. Wolmarans.” het Francis die naam oor en oor gefluister, asof dit woorde was wat lekker sê.
Toe Francis uiteindelik stil word, het ek vir ‘n oomblik gedink, maar niks interessant het by my opgekom nie.
“Vertel my enige iets van my toekoms.”, het ek uiteindelik gesê.
Weer het sy haar oë toegemaak en haar vinger teen my voorkop, reg bo my neus, gedruk. Sy het lank stilgebly, en dit het naderhand begin voel of haar vinger my brand. Ek het probeer wegtrek, maar dit was asof haar vinger aan my voorkop vasgegom was.
Skielik het sy haar hand weggeruk asof sy gebrand het, en geprewel, “Hy gaan jou doodmaak.”
My oë was soos pierings en het net groter gerek soos wat sy aanhou praat het.
“Hy werp sy vel af voor hy jou doodmaak.”
“Hy maak sy kloue skerp voor hy jou doodmaak.”
“Hy was die bloed van sy hande voor hy jou doodmaak.”
“Jy gaan nie die eerste een wees nie. Jy gaan nie die laaste een wees nie. Jy gaan hom nie sien kom nie.”
Uiteindelik was daar stilte. Ta’ Anna het net so verstom gelyk as wat ek en Francis gelyk het. Ta’ Anna het skielik bang gelyk, soos ‘n kind wat besig was om kwaad te doen, en uitgevang is.
“Vat dit terug. Dis nie reg nie…”, het sy na nog ‘n ongemaklike stilte gesê en die hoop munte wat ons haar gegee het, op die tafel neergesit en bygevoeg, “Gaan net. Asseblief.”
Ek en Francis het ons nie twee keer laat nooi nie. Ek het die munte opgeraap, en al het daar ‘n paar geval het ons uit die huisie gevlug en die stofpad afgehardloop, totdat die moegheid ons ingehaal het. Ons het uitasem na mekaar gestaar, toe bars ek uit van die lag.
“Die mal vrou!”, is al wat ek kon uitkry tussendeur die gesnak na asem.
“Gideon Wolmarans…”, het Francis geantwoord.
Ons het al giggelend die pad terug dorp toe aangepak. Vir weke daarna het ons laggende oor ons avontuur gepraat. Maar my lag was bietjie aangeplak. Of seker baie aangeplak. In my agterkop het die woorde bly draai: “Hy gaan jou doodmaak.”

Ek het nooit vir iemand anders vertel van ons ervaring en die ou vrou se woorde nie. Ek het begin om konstant, senuweeagtig oor my skouer te kyk. Ek het dit vermy om snags buite te wees. Voor ek gaan slaap het, het ek noukeurig onder my bed en in my hangkas gekyk vir… Ek was nie seker waarvoor ek bang was nie.
Hy werp sy vel af.” Was dit dalk ‘n slang? Sou ‘n slang my pik? “Hy maak sy kloue skerp.” Nee, ‘n slang het nie kloue nie. Watter ander dier vervel of verloor sy vel?
Dag in en dag uit het Ta’ Anna se woorde in my kop weerklink. Vrae en nog meer vrae is al wat gevolg het. Op ‘n stadium het ek dit oorweeg om weer met Ta’ Anna te gaan praat, maar volgens gerugte in die dorp het sy, ongelukkig, verdwyn.

Alhoewel die paranoia my nooit gelos het nie, het die jare en volwassenheid, die vrees verdryf totdat dit net agtergrond geraas was. Ek het ná matriek die pad gevat Pretoria toe. Weg van die geraamtes, vrese en die ongenaakbare koue. Nadat ek graad gevang het, het ek sommer in Pretoria werk gekry, huis gekoop en die stadslewe terdeë geniet. Postmasburg was die verlede.
Ek was 27 toe ek vir die eerste keer in ‘n lang tyd weer van Francis hoor. Francis het nooit my haat vir Postmasburg gedeel nie, so sy het haar wortels daar geskiet – of eerder verder daar gegroei. Ons het ure lank gepraat, wat ‘n skrikwekkende telefoonrekening tot gevolg gehad het, maar dit was elke sent werd. Op ‘n stadium noem Francis dat sy ‘n man ontmoet het; ‘n boer wat nuut was in die kontrei. Gideon Wolmarans. Die naam het bekend geklink, asof ek moes weet wie dit was. Francis het stilgebly en gewag dat die klokkie lui. Toe dit my tref het dit my eers spraakloos gelos, maar toe bars ek uit van die lag. “Kan jy nou meer! Die ou vrou was reg!”
Ses maande later toe kry ek die uitnodiging in die pos.
“Gideon Wolmarans en Francis Meyer trou! Kom vier dit saam met ons!”
Ek het my kop geskud. As ek nou al ooit ‘n selfvervullende profesie gesien het, dan was dit nou Anna se “voorspelling” en Francis se uiteindelike troue. Sy het ‘n vent ontmoet met die naam Gideon Wolmarans, en besluit dis dié man van wie Anna gepraat het. Francis sou waarskynlik met iemand anders getrou het, was dit nie vir daai dag by Ta’ Anna nie. Tog het die haartjies in my nek regop gestaan en ek het onwillekeurig oor my skouer gekyk. Ta’ Anna se woorde ‘n eggo in my ore, asof sy dit sopas weer gesê het.

Drie jaar later moes ek weer die pad Postmasburg toe aanpak. Natuurlik nie iets waaroor ek vreeslik opgewonde was nie, maar my ouers het verlang. Soos my ma dit altyd gestel het as ek haar gebel het: “Wat? Wie praat nou? Het ek sowaar nog ‘n seun?”
Die week het verby gesleep. Daar het nie veel in Pa en Ma se lewens gebeur om oor te praat nie, nie dat my lewe in die stad juis veel interessanter was nie. Die feit dat dit hoog winter was het ook glad nie my tydjie op Postmasburg beter gemaak nie. Dag drie het my geluk wonderbaarlik gedraai. Die weerman op die TV aangekondig dat Postmasburg die bestemming vir ‘n sneeustorm sou wees, en ek het Pa en Ma vaarwel geheet. Ek kon nie bekostig om vasgesneeu te word nie, want my verlofdae was op. ‘n Paar kilometer uit op die Kimberley-pad ry ek verby die afdraai na Gideon en Francis Wolmarans se plaas. Ek het geweet Francis sou my kwalik neem as ek in die kontrei was, en nie daar ingeloer het nie. Ek was ook nuuskierig om te sien hoe behandel die lewe op die plaas vir Francis. Ek het ‘n U-draai gemaak en solank gebel om haar te waarsku dat ek op pad was. Die foon het egter dadelik na stempos toe gegaan, wat nie ‘n verrassing was nie, want opvangs op die plaas was maar bietjie nukkerig.

Teen die tyd wat ek voor die ou plaashuis stilgehou het, was dit al skemer. Ek was nie vreeslik gelukkig oor die saak nie. Om nié buite in die aand te wees nie, was tweede natuur vir my. Die plan was dus om vinnig te groet, en dan deur te ry Kimberley toe en daar in ‘n gastehuis te oornag.
‘n Enkele lig vanuit die huis se rigting het die grys van die bewolkte lug darem bietjie warmte gegee. Toe ek nader stap het nog ‘n lig in die huis aangegaan en toe die stoeplig. Die deur het oopgegaan en Gideon het uitgestap gekom.
“Welkom! Sjoe, jou darem lanklaas gesien! Francis gaan so bly wees om jou te sien.”, het Gideon my joviaal gegroet. “Kom in!”. Hy het, sonder om sy hand uit te steek om my te groet, omgedraai en die huis ingestap. Ek het hom tot in die sitkamer gevolg, toe hy omdraai en sê,“Francis moes gou in ry dorp toe. Ons is besig om vleis te verwerk en die speserye vir die wors het opgeraak. Sy sal seker enige oomblik terug wees.”
Soos my oë Gideon bestudeer het, het ek besef die oorpak wat hy aangehad het was bloedbesmeerd. Ek kon die metaalagtige reuk van vars bloed ruik. Sy hande was ook nie veel skoner nie. Agter hom kon ek die kombuis sien. ‘n Dier se karkas het op die tafel gelê, die vel weg en meeste van die vleis van die beendere af gesny. ‘n Verskeidenheid messe, asook ‘n saag het langs ‘n slypsteen gelê, so ook bondels lappe – alles met betrek met vlekke in verskillende skakerings van rooi.
“Rooibok.” het Gideon byvoorbaat gesê, toe hy sien ek bekyk die spul. “Wag, laat ek gou gaan skoonmaak dat ek darem vir jou ‘n nattigheid vir die keel kan aanbied. Ek’s nou terug.”
Sonder om my kans te gee om te antwoord, verdwyn hy die gang af, en ek kon hoor hoe die ou geiser kla toe ‘n kraan oopgedraai word. Ek het gaan sit op een van die verweerde banke en ingedagte die vertrek bestudeer. Dit het my opgeval dat daar geen foto’s of skilderye of iets anders met kleur, teen die mure was nie. Om die waarheid te sê was die vertrek redelik leeg. Net ‘n koffietafel met ‘n paar ou tydskrifte op. My oog het die afdak reg langs die venster gevang, waar ‘n bakkie en Francis se stokou Volkswagen gestaan het. Twee karre? Sover my kennis gestrek het, het die Wolmaranse net twee motors gehad. Ek het gefrons. Nou waarmee het sy…
My mond het skielik kurkdroog geword. Ek het in die kombuis se rigting gekyk en na ‘n ewigheid het ek, asof ek gehipnotiseer was, na die kombuis toe gestap. “Jou idioot. Jou paranoia is weer op hol.
Soos wat ek die kombuis insluip het, was dit asof ‘n onsigbare glas yswater by my rug afgegooi was. Die karkas was nie die van ‘n dier nie. Dit het gelyk soos ‘n…
Hou op!” Ek het die gedagtes, wat op hol was, uit my kop probeer kry.
Ek het ‘n vullissak wat in die hoek gestaan het bewerig oopgemaak. Binne was bebloede klere. Vroue klere? En bondels hare. Lang, blonde hare. Soos Francis s’n.

Hy gaan jou doodmaak.
Ek het geretireer. Dit kon nie wees nie! So iets gebeur net in films!
Hy werp sy vel af voor hy jou doodmaak.
Hy het sy oorpak gaan uittrek.
Hy maak sy kloue skerp voor hy jou doodmaak.
Die hoop messe langs die slypsteen het my naam geroep, en ek het onwillekeurig in hulle rigting gekyk.
Hy was sy hande van bloed voor hy jou doodmaak.
Ek het agtergekom die geiser se gedreun was stil. ‘n Lamheid het oor my gedaal.
Anna se stem was so duidelik soos daglig. “Hy gaan jou doodmaak.” Ek het omgekyk om te sien of sy nie daar langs my gestaan het nie, maar dit was net ek en…
My verstand het my lam bene gesmeek om te beweeg. Die lamheid moes gewyk het, want ek was die volgende oomblik buite in die donker koue. Toe was ek in my motor. Toe ry ek verby Bloemfontein. Teen die tyd wat ek uiteindelik begin inneem wat om my aangaan, toe sit ek in my geparkeerde kar in my motorhuis.
Ek het my kop geskud en probeer sin maak van wat gebeur het. Die son se eerste strale het deur die venster gevloei en vrese, monsters en nagmerries is weggespoel.
Ek het my foon uitgeruk en koorsagtig die knoppie gedruk om Francis te bel. Dit was steeds net die stemboks wat geantwoord het. Ek het 1-0-1-1-1 op my foon ingetik, maar toe die foon die eerste lui gee in my oor, toe druk ek weer dood. Wat sou ek vir hulle sê? My vriendin se man het haar doodgemaak en hy is besig om biltong van haar te maak?
Alhoewel my maag leeg was het ek opgegooi asof ek te veel geëet en gedrink het.
Ek het vies uit die kar geklim en onder die stort se water gaan staan wat al die koue uit my lyf uit probeer dryf het, maar daar was ‘n ongekende koue in my wat water nie kon verdryf nie. Ek kon ook nie die siek gevoel of die reuk van bloed van my lyf af was nie.

Later die dag het ek Michael Balhuizen, ‘n bekende privaatspeurder, gebel. Hy het gelukkig geantwoord en, sonder om my te onderbreek, geluister na die woorde wat uit my gestroom het. Die plaas. My vriendin. Haar man. Gisteraand. Die karkas. Die bloed. Die messe. En… Ek weet nie.
Toe ek stil word verwag ek dat die man uit sy maag uit gaan begin lag. Maar hy het in ‘n ernstige stemtoon al my, Francis, Gideon en die plaas se details gevra, en gesê hy sal terugkom na my toe.

‘n Dag het verbygegaan. Twee dae. Dag drie hoor ek die nuusberig oor die radio. ‘n Boer van Postmasburg word gesoek in verband met die verdwyning van sy vrou.
Later die dag was Michael Balhuizen by my voordeur. Hy het my oor ‘n glas skoon whiskey vertel dat hy op die plaas aangekom en die verlate plaashuis deursoek het. Hy het ‘n bebloede kombuis met ‘n hoop messe en sae in die wasbak gekry. Daar was geen teken van Gideon of die karkas nie. Michael het die polisie laat weet van die bebloede toneel, en ‘n forensiese span het die plaashuis oorgeneem. ‘n Polisiehond het die speurders gelei tot by ‘n vlak graf, waar hulle menslike oorskot gekry het. Basies net ‘n geraamte en ‘n paar organe.
Gideon Wolmarans was weg. Nie net letterlik nie. Dit is asof die man nie bestaan het nie. Die huurkontrak van die plaas was in ‘n besigheid se naam. Die besigheid het nie bestaan nie – het nog nooit bestaan nie. Nêrens in die huis was daar enige foto’s of dokumente wat ‘n leidraad kon gee wie of waar die man was nie.
DNA toetse sou op die oorskot gedoen word om die identiteit te bevestig. Ek het egter reeds geweet dat dit Francis was.
My liewe Francis.
Michael het my gegroet met die woorde dat hy nie sou rus totdat hy Gideon Wolmarans, of wie hy ook al was, gekry het nie.
Dis daai verdomde Anna se skuld.
Ek wou eers vir Michael sê dat ek vermoed ek weet waarnatoe Gideon op pad was, maar het myself bedink. Dit was net paranoia. Behalwe net, duidelik was dit nie.
‘n Eggo. “Jy gaan nie die eerste een wees nie. Jy gaan nie die laaste een wees nie. Jy gaan hom nie sien kom nie.
Ta’ Anna Kuiper kan in haar moer vlieg. Ek hoop sy’s al vrek en brand in die hel.
Ek sál gereed wees vir Gideon Wolmarans.
Ek sál hom sien kom.
Ek sál wraak neem vir Francis, al is dit die laaste ding wat ek doen.

Riaan Palmer

 

2.Word wakker

Trauma is personal. It does not disappear if it is not validated. When it is ignored or invalidated the silent screams continue internally heard only by the one held captive.” – Danielle Bernock

 

Dit is asof ek wakker word uit ‘n droom. Nee. ‘n Nagmerrie. Was dit net ‘n droom? Stadig maar seker begin al my sintuie doen wat hulle moet doen. My neus vertel my dat ek iewers in ‘n vuil, muwwerige plek is; die klammigheid in die lug herinner my aan die bedompigheid van seelug as dit mistig is. Soos my oë gewoond raak aan die donker kan ek vier mure uitmaak. ‘n Dun straal lig probeer onderdeur ‘n swaar deur inkom, maar die donker is baie sterker en stuit die lig voordat dit die vertrek te ver kan binnedring. Die baksteen mure is vaal en laat die vertrek soos ‘n tronksel voel. Nie dat ek al ooit in ‘n tronksel was nie, maar as ek een moet voorstel, sal dié vertrek ‘n perfekte voorstelling wees. Behalwe daar is geen venster met tralies voor, wat my ‘n kykie kan gee van wat buite gebeur nie. My ore suis van die stilte, maar as ek mooi luister kan ek elke nou en dan ‘n enkele waterdruppel wat iewers drup, hoor. Water. Ek besef hoe dors ek is. My tong voel dik en my keel brand, opsoek na vog. Ek beweeg my wange en my tong om speeksel te probeer maak, en besef daar is sere in my mond. Ek voel versigtig aan my gesig. My lip is geswel en my wang voel pofferig en pynlik. Ek besef my hele liggaam kerm van die pyn. Ek probeer regop sit, maar my lyf is te seer en swak. Ek bly lê terwyl ek diep teue van die vrot lug inasem. Ek maak my oë toe en probeer agterkom waaroor my lyf alles kla. Soos ek asemhaal voel ek die ribbes aan my linkersy uitroep van pyn. My gewrigte voel asof dit met ‘n mes gesny is. My kop klop en met elke klop word die hoofpyn erger. As ‘n bysaak noem my knieë dat daar waarskynlik nie meer velle op hulle is nie.

Ek weet nie hoe lank het ek weer weggeraak nie. Dalk ‘n paar sekondes. Dalk ‘n paar uur. Dit het egter niks gedoen vir my welstand nie. Klanke vanuit die deur se kant af ruk my tot my volle bewussyn. Ek rol op my regtersy, wag ‘n oomblik dat die seer bedaar en dan rol ek op my maag. Ek stoot myself stadig op en ‘n stortvloed van pyn golf deur my, oor my, maar ek baklei deur die ongemak totdat ek wankelrig orent is. My bene vra of ek nie eerder weer wil plat gaan lê nie, maar ek oortuig hulle om so bietjie regop te bly. Ek fokus op die geluide wat van die deur se kant af kom, terwyl ek retireer totdat ek die rou, growwe bakstene teen my rug voel. Soos die koue muur geniepsig my rug aanraak besef ek, ek het net my onderklere aan en ek voel selfs méér weerloos.
Die deur gaan stadig oop en my oë sukkel om die skielike lig te hanteer, maar ek forseer hulle om oop te bly. Al wat ek sien is ‘n silhoeëtte wat roerloos bly staan.
“Hallo? Wie’s daar?” Of dit is wat ek wou sê, maar met die wat my mond en keel kurkdroog is, is al wat uitkom sagte klanke wat ek self nie herken as woorde nie.
Die figuur kom nader en alles in my gil dat ek moet weghardloop. Maar daar is nêrens heen om te hardloop nie. As ek nie kan hardloop nie, moet ek seker maar baklei. Ek lig my ken op en trek my skouers agtertoe. My oë soek vir ‘n sagte teiken, ‘n swak plek waar ek die naderende gevaar kan bydam.
“Toemaar. Wees rustig. Ek is hier om jou te help.” Die man se stem is sag en kalm. Vriendelik? Hy hou iets voor hom uit en ek koes en knyp my oë toe. Niks gebeur nie. Ek maak my oë versigtig oop en sien dat hy ‘n bottel water aanbied. Ek aarsel, maar die dors is groter as die vrees. Ek gryp die bottel, ruk die prop af en laat die koue vloeistof gulsig my dors les. Ek is teleurgesteld toe die laaste sluk in my keel verdwyn en probeer nog ‘n paar druppels uit die leë bottel druk, maar dis tevergeefs. Ek laat sak die bottel en bekyk die man. In die halfdonker kan ek nie veel uitmaak nie. Hy is heelwat langer as wat ek is, en breër ook. Dit is seker hoe dit gelyk het toe Goliat oor Dawid getoring het. Die denim en T-hemp wat hy aan het verklap niks van hom nie, so ook nie die oninteressante haarstyl nie. Daar is ook niks aan sy gesig wat hom kon onderskei van enige ander gesig in ‘n skare mense nie. Die reuk van goedkoop naskeermiddel – iets tussen muskus en tabak – en sweet wat soos ‘n wolk oor hom hang, laat die hare op my nek regop staan.
“Wat gaan aan? Waar is ek?” Dit is ooglopende vrae, maar dit moet hardop gevra word.
“Jy was in ‘n ongeluk.” Dit is asof daar ‘n hartseer in die man se stem is.
“Maar ek…” Onsekerheid spoel deur my gedagtes.
“Dít sal alles verduidelik.”, sê hy terwyl hy ‘n gevoude stuk papier voor hom uithou.
Ek vat die stuk papier, maar kyk nie daarna nie. Ek hou die man agterdogtig dop. Iets is nie reg nie.
Hy draai om en loop met lang treë uit die vertrek, en verdwyn uit sig. Ek volg hom hoopvol, maar hy is byna onmiddellik weer in die deur se opening. Hy hou ‘n skinkbord met ‘n paar snye brood, ‘n kers en ‘n boksie vuurhoutjies voor hom uit. Ek aarsel eers weer, maar vat dit waaksaam uit sy hand. Hy draai sonder om verder ‘n woord te uiter om, en maak die deur agter hom toe.
“Wag!” roep ek angsbevange, maar die skuif van ‘n grendel is al wat my antwoord.
Dan is dit stil.
Ek sit die skinkbord neer en steek die kers aan. Die snye brood is dik gesmeer met margarien, en met die hongerpyne waarvan ek skielik bewus word, is dit ‘n koningsmaal.
Terwyl ek smul aan ‘n sny brood vang my oog die stuk papier wat ek laat val het toe ek die man probeer volg het. Ek gaan sit langs die kers en vou die papier oop.

Daar word vertel dat sommige slagoffers van trauma in ‘n trans gaan en ‘n fantasiewêreld skep waaruit hulle nie kan wakker word nie. In hierdie katatoniese toestand leef die slagoffers steeds hulle lewens asof die trauma nooit gebeur het nie. Ander slagoffers vertel weer dat hulle vasgevang was in ‘n situasie of plek waaruit hulle nie kon ontsnap nie. Een manier om hulle te laat besef dat hulle wakker moes word, was ‘n briefie wat hulle in hul fantasiewêreld gevind het. Dit sou hulle die waarheid vertel. Dit sou hulle herinner van die trauma. Dit sal jou herinner dat jy in ‘n motorongeluk was. Die brief sou hulle smeek om WAKKER te word. Dit kan maande wees voor jy wakker word, maar sodra jy die werklikheid aanvaar sal jy gereed was om te ontsnap uit jou fantasiewêreld en WAKKER TE WORD. WORD WAKKER ASSEBLIEF.

Ek draai die handgeskrewe brief om, maar daar is niks anders om leidrade te gee van wat aangaan nie. Ek lees dit weer. Beteken dit…? Was ek in ‘n ongeluk? Is ek vasgekeer in my kop omdat ek nie die trauma kan aanvaar nie?
Vir die eerste keer probeer ek onthou wat my laaste herinnering is. Sover ek kan onthou, was ek definitief in ‘n kar. Ek was op pad… Ek was op pad na Linda se ooievaarstee toe. En … en wat? Dit is asof daar ‘n swart gat is waar my herinneringe moes wees. Ek probeer logies dink oor wat aangaan. Ek is Michelle Peens. Ek woon in Northcliff. My gedagtes beweeg van een herinnering na die volgende. Ek weet wie my ouers is, wie my suster is, waar ek werk en wat ek laas vir ontbyt gehad het. Ek is seker daar is niks fout met my geheue nie. Behalwe net … duidelik is daar.
Die tyd stap aan. Minute. Ure. Dae? Ek weet nie. Nêrens in die klein vertrekkie is daar enige leidraad wat verraai watter dag, of selfs watter die tyd van die dag dit is nie. Ek verwyl my tyd deur elke hoekie van die vertrek te ondersoek, opsoek na vryheid. As die pyn te veel raak gaan lê ek op die walglike matras en probeer onthou wat gebeur het, voordat ek hier wakker geword het. Elke nou en dan is dit asof ‘n beeld of ‘n herinnering ‘n verskyning wil maak, maar dit bly elke keer net-net buite bereik, asof dit my tart.

Teen die tyd wat die kers lankal uitgebrand het, en die brood en water lank vergete was, hoor ek weer geluide by die deur. Ek vlug weer so ver van die deur af as wat ek kan. Soos tevore gaan die deur oop en die silhoeët van die reusagtige man blok die ingang. Hy wag ‘n oomblik voor hy stadig nader beweeg, soos iemand wat probeer om ‘n bang, weerlose dier te nader. Na ‘n ewigheid staan hy by my met ‘n bottel water wat hy vir my aanbied. Ek vat die bottel by hom en vat klein slukkies om nie weer my voorraad op een slag op te gebruik nie. Tussen slukke bekyk ek die man weer noukeurig. Hy het dieselfde denim en wit T-hemp as voorheen aan. Ek besef ek is nie eintlik bang vir hom nie. Hy is dalk ‘n kolossale mens, maar daar is niks dreigend of gevaarlik in sy vriendelike gesig nie.
“Verstaan jy wat aangaan?” vra hy na hy my genoeg tyd gegee het om te drink.
“Nee.” antwoord ek hom, maar bedink my antwoord. “Dalk.”
“Wat verstaan jy nie?” vra hy met besorgdheid in sy stem.
“Ek glo nie ek was in ‘n ongeluk nie. Hierdie voel te werklik. Die pyn is werklik. Die honger en dors is werklik.” Daar is geen twyfel in my stem nie.
“Die mens se brein is ‘n besondere orgaan. Dit kan wonderlike doen om ‘n jou te beskerm van trauma.” Die man praat met gesag in sy stem, asof hy ‘n dokter of ‘n kenner van die brein is.
“Wie is jy?” Dit is eintlik wat ek heel eerste moes vra.
“Kom ons sê maar net ek is … ‘n beskermengel. Ek is hier om jou te help. Ek is hier om vir jou te sê jy moet wakker word. Hierdie is nie die werklikheid nie.”
“Watse bewys het jy, of seker ék, dat hierdie alles in my kop is?” Ek sukkel om die weifeling in my stem weg te steek.
“Daar is geen bewyse nie. Jy moet net die werklikheid aanvaar. Jy was ‘n ongeluk. Jy moet wakker word. Die oomblik as jy die feite aanvaar sal jy wakker word.” Daar is ‘n teerheid in sy stem asof hy my wil troos.
“Goed.” antwoord ek. “Ek aanvaar dat ek in ‘n ongeluk was.” Ek weet dit is ‘n leuen. Ek glo dit nie vir een oomblik nie.
Hy bly stil, asof hy wag vir iets om te gebeur. Hy sug, draai om, verdwyn om die hoek en kom dan weer met ‘n skinkbord met ‘n kers en brood te voorskyn. Hy wag vir ‘n oomblik om te sien of ek iets doen, maar ek bly bewegingloos teen die muur staan. Sy oë sak en bekyk my lyf op en af. Ek onthou dat ek net onderklere aan het, en probeer lomp om my lyf toe te maak met my arms. Iets verander in die man se gesig, maar voordat ek kan lees wat presies dit is, draai hy om, stap uit en maak die deur agter hom toe.
Ek sak op die vloer neer. Moedeloos. Is dit regtig in my kop?
Die reuk van die man se naskeermiddel bly lank in die lug hang, sterker as die reuke wat uit die emmer in die hoek kom. Die haartjies in my nek staan regop. Wat mis ek?

Tyd verloop. Ek probeer die sekondes tel, maar my gedagtes dwaal af, opsoek na antwoorde of herinneringe wat die antwoord sal onthul. Die man besoek my gereeld. Elke keer presies dieselfde as die vorige keer. Hy probeer my oortuig dat ek in ‘n fantasiewêreld leef. Hy smeek my om wakker te word. Dan verdwyn hy weer, maar los sy reuk van muskus en tabak agter, wat my die ritteltits gee. Nou en dan sal hy weer vir my ‘n stuk papier gee met dieselfde boodskap as die eerste keer, of net met die woorde “WORD WAKKER”, geskryf in dieselfde handskrif. En ‘n eindelose voorraad water, brood en kerse.

Ek probeer myself oortuig dat ek in ‘n ongeluk was en dat hierdie alles in my kop is. Ek skep gebeurtenisse in my kop. Ek verbeel my ek was in my kar, ‘n trok het in my vasgejaag en ek het baie seergekry. Ek vertel myself dat ek in ‘n koma is. Ek probeer wakker word. Maar my verbeelding wil nie as werklikheid posvat in my kop nie.
En tyd verloop.
Hoe lank is ek nou al in ‘n koma? Hoe lank is ek al in my fantasiewêreld? Is tyd hier anders as in die werklike wêreld? Is ‘n week hier maar net ‘n oomblik in die wêreld daarbuite, soos in ‘n droom?

Vir die honderdste keer, of dalk die duisendste keer, lê ek en tower gebeure op wat my tot hier gebring het. Ek verbeel my hoe ek in my kar klim en die straat af ry. Ek sien elke beweging, elke draai, elke stopstraat en selfs ander verkeer. Dalk … dalk dit is meer ‘n werklike herinnering en nie net my verbeelding nie? Ek … dink so… Ek sien in my geestesoog hoe ek die pad ry na Linda se huis toe. In my verbeelding ry ek oor die groot interseksie. ‘n Taxi stop nie by die rooi lig nie en tref my kar. Maar ‘n herinnering laat my verder ry.
Of is dit net nog verbeelding?
Ek draai af in ‘n stil straatjie wat my altyd senuweeagtig maak. ‘n Ent weg sien ek ‘n man langs die pad lê. Dis ‘n groot man. Ek wonder of ek moet stop en help, en of ek nie maar net iemand moet bel nie.
Die beelde in my geestesoog word helderder, asof dit donker was en lig nou daarop skyn. Is my verbeelding besig om die oorhand te kry?
Ek stop en kyk rond of daar nie iemand anders is wat kan help nie. Die straat is stil. Ek klim uit en stap versigtig nader. Die reuk van muskus en tabak hang in die lug. Ek buk oor die man. Ek herken sy gesig. Ek herken sy gesig nóú, maar tóé was hy ‘n vreemdeling. Hy beweeg skielik en slaan my met sy vuis in my gesig en ek slaan neer op die teer. My knieë is nerfaf en ek is lam van die pyn. Ek het nie kans om te herstel nie. Die massiewe man staan oor my en gee my ‘n skop in die ribbes. Ek’s seker ek het iets hoor kraak. Hy sit met sy groot, stink lyf bo-op my, haal ‘n inspuiting met ‘n vloeistof in uit sy sak, en maak dit leeg in my skouer. Die wêreld word donker om my.
Ek kom orent. Ek onthou! Ek is wakker! Ek storm na die deur en begin met my vuiste daarop hamer.
“Laat my uit!” gil ek totdat ek hees word.
Uiteindelik hoor ek die geluide agter die deur en die deur gaan oop. Onmiddellik begin ek die silhoeëtte aanval met alles wat ek het, maar ek kon netsowel teen ‘n rots probeer baklei het. Die reus klap my dat ek ‘n paar treë agteruit steier voordat ek met ‘n hik op die sementvloer beland. Hy is op my voor ek kan herstel, en vou sy kolossale hand om my keel. Ek probeer sy hande van my keel af trek, maar hy druk stywer soos ‘n luislang om sy prooi.
“Ek moet sê, jy hou langer as al die ander.” sê hy smalend.
“Hoekom…?” ek sukkel om die woord uit te kry. Sy hand wat die lug en lewe uit my keel druk.
Hy ontspan die drukking op my keel effens.
“Hoekom nie?” Hy lag uit sy maag uit. “Dit is so lekker om julle te sien spook met die werklikheid. Wat is werklik? Wat is in julle koppe? Uiteindelik breek almal en ek kan maak met hulle wat ek wil. Soos lappoppe. Swak, patetiese vroue.” Hy geniet sy eie woorde voordat hy byvoeg, “Die mens se verstand kan ook net sóveel vat voordat dit ingee.”
“Jou siek vark!” ‘n Golf krag en moed spoel oor my. Hy gáán my nie breek nie. Hy gáán nie doen wat hy wil met my nie. My hande kry sy gesig. Ek krap verwoed. Dan kry my duime sy oë. Ek druk met elke greintjie krag wat ek kan bymekaarskraap. Hy gil en laat los my keel. Maar dit is te laat. Die wêreld word donker om my, en die donkerte sluk my in.

Ek maak my oë oop. Ek lê op ‘n hospitaalbed. Pypies en drade is oral op en in my lyf. Langs my sit my ma. Haar gesig helder op en sy omhels my. Ek begin huil. Sy probeer iets deur haar eie trane en snikke sê, maar geen verstaanbare woorde kom uit nie. Na ‘n ruk laat los sy my en susters, dokters en selfs polisiemanne kom draai om my soos brommers. Party probeer my troos. Ander maak seker ek ervaar nie pyn nie. Ander het vrae en vrae en nóg vrae. Toe die beweging om my bed uiteindelik stil word, kom sit daar ‘n ander man langs my ma. Dit lyk of hy ‘n harde lewe agter die rug het. Hy sê hy is ‘n speurder. Hy vertel my hoe ek vir weke vermis was. Hulle het my motor verlate gekry in ‘n systraat in Melville. Hy vertel my dat hulle uiteindelik ‘n leidraad gekry het wat hulle gelei het na Stefan Wiese se huis. Hulle het ‘n klopjag uitgevoer op sy huis en tydens die klopjag is Stefan doodgeskiet. Hy was blykbaar ‘n reeksmoordenaar wat al vir bykans twee jaar die stad geterroriseer het. Hulle het my in ‘n baksteengebou agter in sy erf gekry. Ek was vir vier weker lank vasgebind, gemartel en verkrag.
Vasgebind? Dit kan mos nie wees nie. Ek herroep die gebeure van die donker vertrek. Die man. Die brood. Die water. Die briefies. Ek word oorval deur ‘n warboel van herinneringe en dit voel asof die kamer begin draai. Ek probeer my gedagtes sorteer in werklike herinneringe en verbeeldingsvlugte. Niks maak sin nie. Of … dalk maak dit perfekte sin. ‘n Fantasiewêreld. ‘n Ontsnapping.

Ek is alleen in my kamer. Dis net die meganiese klanke van die mediese toerusting wat die stilte breek. Ek lê en dink oor alles wat die speurder my vertel het. Ek het vrede gemaak dat hierdie die werklikheid is. Dat my verstand my weggesteek het in ‘n fantasiewêreld om my te beskerm teen die trauma waardeur ek elke dag gegaan het. Kon my verstand nie maar ‘n mooier of veiliger wêreld geskep het nie? Maar aan die einde van die dag is dit ‘n gelukkige einde na ‘n nagmerrie. Ek is veilig. Hy is dood. Ek sal weer opstaan.
Die hare in my nek staan skielik regop. Die kamer ruik na muskus en tabak. Ek sien ‘n gevoude stuk papier op my bedkassie en ek tel dit bewerig op. Ek hoef dit nie oop te maak om te weet wat daarin staan nie. Maar ek maak dit oop. Dis ‘n kort boodskap.
WORD WAKKER.

Riaan Palmer

September 2021 – Positiwiteitsprojek

1.Koedoe

Ek weet nie wat het gebeur nie. Die een oomblik was ek nog regop; die volgende oomblik staan ek hande viervoet op die vlymskerp rotse. My hande pyn. My knieë pyn. Ek probeer myself orent stoot, maar ek het net nie genoeg krag nie.
“Wat maak jy?”
Die onverwagse stem hier agter my laat ‘n lamheid oor my kom en ek verloor heeltemal my balans. Ek draai my lyf sodat ek nie op my gesig val nie, en beland ‘n hik op my rug. Ek bly doodstil lê en probeer die woede tot bedaring bring. Die pyn maak dit nie maklik nie.
‘n Seuntjie kom staan voor my waar ek hom kan sien.
“Ek vra… Wat maak jy?” Die selfversekering pronk in sy stem.
Ek gaan sit regop. Die bloed sypel uit diep kepe in my hande waar die rotse my gegaffel het. Uiteindelik beur ek orent en kyk die seuntjie op en af. Sy moulose hempie het beter dae gesien. Sy broek is ook nie beter af nie. Dit lyk ook of hy self nie onlangs seep en water gesien het nie. Hy kyk my vraend aan, dan rek sy oë so groot soos pierings as hy my bebloede hande sien.
“Kan jy nie sien ek jag koedoes nie, man!?” Sê ek geïrriteerd.
“Koedoes? Ek dink nie hier is koedoes nie. Nog nooit een hier gesien nie.”
My mondhoeke gee ‘n effens opwaartse beweging. Die onskuld van ‘n kind ken nog nie die bittere smaak van sarkasme nie.
“Hou op snert praat en gee my stok aan.” Sê ek en beduie na waar my kierie beland het.
Sonder om te aarsel raap hy die kierie op en hou dit voor hom uit asof hy vir my ‘n geskenk aanbied.
“Wie’s jou jy?” Vra ek kwaai terwyl ek die houtstok uit sy hande gryp. “Jy sê vir my Meneer. Of Daniël. Nie jy nie. En ook nie oom nie.”
Hy bly vasgeplant, in stilte, voor my staan. Dan trek hy die verrinneweerde hempie uit en hou dit na my toe.
“Wat doen jy? Dit gaan mos nie vir my pas nie.” Sê ek, onseker oor die vreemde gebaar.
“Vir Meester se hande.”
‘n Lig gaan aan. “Ek kan nie… Ek’s reg dankie.” Die wind is uit my seile. Ek voel hoe ek bloos oor die ongeskikte manier wat ek die argelose kind toegesnou het.
Hy neem my een hand versigtig en vee die hemp saggies oor die oop wonde. Die gedagte dat ek klem-in-die-kaak gaan kry van die vuil hempie hardloop deur my kop, maar die onbaatsugtigheid van die gebaar laat die gedagte vassteek in sy spore.
Terwyl hy doenig is vang my oog die lyfie van die kind. Hy is brandmaer, so dat ek sy ribbes kan tel. Ek het nooit besef iemand wie se velkleur bruin is, óók doodsbleek kan wees nie.
“Het jy nie skool nie?” Vra ek om die ongemaklike stilte te breek.
“Dis vakansie.”
Ek weet dis nie vakansie nie. Ek sal nooit strand toe kom as die spul vakansiegangers die vrede kom verjaag nie. Dit is hoekom ek so lief is vir die winter. Geen ongenooide sonsoekers wat my siel kom versondig nie.
“Waar’s jou Ma?”
“Sy’s by die huis. Dis ons huis wat se dak daar uitsteek.” Hy mik met sy oë na die ry huise toe, waar die nok van ‘n huisie net-net bo ‘n duin uitsteek.
Ek weet dadelik van watter huis hy praat. Ek het al baie gewonder oor die huisie wat soos ‘n seer oog tussen die rykmanspaleise staan. Vervalle. Die wit verf dop af en lê soos skilfers om die huis. Die dak was op ‘n tyd dalk groen of blou, maar die grys gee te min leidrade om vir seker te weet. Alhoewel die huisie omring is deur praalwonings, is dit asof die groot huise wegdeins van die krot – bang dat die rot aansteeklik is.
Uiteindelik is die kind tevrede dat die bloed gestop het en my hande relatief skoon is. Ek bekyk self my hande. Die wonde is toe nou nie naastenby so erg soos wat ek gedink het nie.
“Dankie. Jammer oor jou hemp.”
“Moenie worry nie, Meester. Dis nie my fancy hemp nie.” Ek frons oor sy gebruik van ‘Meester’. Dit voel argaïes; verkeerd.
Hy hurk en spoel die bloed uit die hemp in ‘n rotspoel, voordat hy dit uitdroog en oor sy skouer gooi.
Die wind sny genadeloos deur my en ek trek my baadjie stywer om my. Ek besef dat die kind gaan verkluim in sy huidige uitrusting. “Jy beter huis toe hol en iets warm aantrek. Jy gaan koue vat.”
Hy trek sy skouers op. “Kan ek kyk hoe Meester koedoes jag?”
“Ek dink die koedoes is weg vir vandag.” Ons kyk vir mekaar met net die dreuning van die golwe op die rotse wat die stilte breek.
“Goed. Ek moet seker gaan. Meester, moet maar versigtig hier op die rotse wees. Dis glad.” Hy draai om en met ‘n bokspring of drie is hy op die strand en verdwyn oor ‘n duin.

Die volgende dag is ek weer, dieselfde tyd, sukkelend met die kierie tussen die rotse. Ek weet die rotse is nie ‘n plek vir ou toppies met kieries nie. Maar dis al wat ek het om my tyd te verwyl. Terwyl ek buk om ‘n seester op te tel, is die stem weer hier uit die bloute uit agter my.
“Enige koedoes vandag, Meester?”
Ek skrik nie weer nie. Asof ek die stem verwag het. Ek besef ek het nie eers die moeite gedoen om sy naam te vra nie.
“Nee. Ek dink jy was dalk reg. Die koedoes wei nie so ver uit nie.”
Ek kyk vir ‘n oomblik na die seester in my hand, voordat ek dit agter die golwe probeer gooi.
“Wat was dit?” Vra hy nuuskierig en kom staan reg langs my.
“’n Seester. Hy was besig om dood te gaan. Hulle het water nodig.”
“Maar hier lê nog baie seesterre hier rond. Gaan Meester hulle almal red? Dit gaan mos jare neem!” Sê hy en beduie met sy hand na die dosyne seesterre wat met hoogwater op die – nou droë – rotse en sand beland het.
“Nee.” Antwoord ek. “Daar is te veel. Ek kan nie almal red nie.”
“Wat help dit om daai een seester te help as al die ander gaan doodgaan. Watse verskil maak dit nou eintlik?”
“Vir daai een seester, maak dit al die verskil in die wêreld.” Ek merk op hy’t weer dieselfde hempie en broekie aan as gister.
Hy staan en staar diep ingedagte na die golwe wat oneindig breek en breek. Uiteindelik kyk hy na my voordat hy glimlag en self ‘n seester optel en dit na die golwe se rigting gooi.
Ek haal die rugsak van my rug af en haal ‘n plastieksakkie uit. “Hier.”
Hy kyk vraend na die sakkie. “Wat is dit?”
“Maak oop en kyk.”
Hy ruk opgewonde die sakkie oop en haal versigtig, asof dit gaan verbrokkel in sy hande, ‘n splinternuwe Spiderman hempie uit die sakkie. En nog een. En ‘n broekie. Dan druk hy dit styf teen sy lyfie vas.
“Dankie Meester! Dis die mooiste hemde en broek in die hele wêreld!” Ek twyfel of enige iets ooit die glimlag van sy bakkies gaan afkry. En dit laat my glimlag. Ek kan nie meer onthou wat dit is om te glimlag nie.
Ons stap in stilte verder. Tel die een seester na die ander op en probeer dit red, met ‘n boog deur die lug, die water in.

Elke dag, reën of sonskyn, dieselfde tyd gaan stap ek op my gewone plek. Elke dag verskyn hy van nêrens – kondig homself aan met ‘n vraag oor koedoes. Ons stap. En praat. Algemene dinge. Diep dinge. Ek is telkens stomgeslaan oor die emosionele volwassenheid van die kind. Tog is daar ‘n onskuldigheid wat ek onaangeraak probeer los. Week in en week uit. Hy weet naderhand alles van my af.
Dis ook nie lank nie en hy weet dat ek my vrou se foto elke dag strand toe bring. Dat my dierbare, dierbare vrou nooit die see gesien nie. Sy het altyd gevra wanneer ons see toe gaan, dan het ek geantwoord ‘Een van die dae’. Sy het geduldig gewag dat ek tyd maak om die see vir haar te kom wys. Maar ek het altyd nóg ‘n vergadering gehad. Nóg ‘n kontrak wat gesluit moes word. So is 40 jaar verby sonder dat ek dit besef het. Of eerder te laat besef het. Die kanker het haar gevat voor ek haar die see kon wys. Ek het afgetree en kus toe getrek. Nou bring ek haar elke dag strand toe om te probeer opmaak. Ek wil niks met mense te doen hê nie. Ek wil net krepeer in my selfverwyt en seer. Ek het meer geld as wat ek moontlik kan spandeer in ‘n leeftyd, maar ek sou elke liewe sent gee vir nog tyd saam haar. Die cliché steek soos ‘n dolk in my hart, elke oomblik van elke dag. Geld kan nie tyd koop nie. Al daai geld het net seer en die alleenheid gekoop.
Ek weet nie of hy verstaan waarvan ek praat nie. Hoe kan die naïewe kind weet van die stad se gejaag en ‘n internasionale besigheid se eise. Wat weet hy daarvan om verantwoordelik te wees vir duisende werknemers?
Tog, luister hy aandagtig, maar sê niks.
Soos wat die winter aanloop raak my hart ligter. Ek groet selfs ander mense wat verby my loop op die strand. Een dag besef ek met ‘n skok, ek het my vrou se foto by die huis vergeet. Het ek háár vergeet? ‘n Wolk hang oor my en die kind kom agter ek praat die dag minder as gewoonlik. Hy respekteer die stilte. Asof hy weet. Ons stap die strand op en af soos ou vriende. Sonder om ‘n woord te sê. Dis ‘n gemaklike stilte. Met elke tree verdwyn die wolk oor my bietjie-bietjie, en ‘n lig kry die geleentheid om op my siel te skyn.

Die volgende dag kom ek oor die duin aangestap en ek word bewus van stemme en ‘n gelag in die verte, skaars hoorbaar bo die gedreun van die golwe. Toe ek op die kruin van die duin tot stilstand kom besef ek met ‘n yskoue ontnugtering dat die vakansie aangebreek het. Die eerste vakansiegangers het opgedaag om die welkome hitte van die nuwe seisoen te waardeer. Kinders. Mense. Orals.
Ek kan nie! ‘n Angs pak my beet en gaan sit drukkend op my bors. Die mense maak my verbouereerd en ek volg my hart haastig op en af tussen die rotse. Ek het lankal nie meer die kierie nodig nie. Weg van die mense af gaan sit ek op ‘n rots, en wag vir die vraag oor koedoes agter my. Maar dit kom nie. Die tyd stap aan en die son moedig my naderhand aan om koelte te soek. Met die terugloop vang my oog ‘n plastiek sakkie wat tussen die rotse lê. Ek sukkel oor die rotse tot by die sopnat sakkie en loer in. Binne is twee Spiderman hempies en ‘n broekie. Dit voel asof my hart uit my bors geruk word en die koue water ingeslinger word. Ek spring op en hardloop na die vervalle huis toe waar hy daardie eerste dag gesê het hy bly. Ek klop aan die lendelam voordeur. Na ‘n ewigheid, maak ‘n stokou tannietjie die deur oop.
Sy gluur my aan voor sy bitsig sê, “Nee, ek wil nie my plek verkoop nie!”, en begin die deur toemaak.
“Wag Mevrou! Waar is die kind?” Ek ken steeds nie sy naam nie. Hoekom nie? Hoe kan ek na weke se praat nie sy naam ken nie?
Sy kyk stip in my. Nie ná my nie. In my. Dit voel of sy my siel kaal uittrek. Na ‘n lang stilte antwoord sy, amper versigtig. “Hier is nie ‘n kind nie.”
“Nou al vir 40 jaar nie.” Voeg sy by.
Sy sien die verslae verbasing, pyn en hartseer in my gesig en haar oë word sag.
“Ek is jammer.” Sy glimlag. “Hy’s 40 jaar gelede dood. Gegly hier onder op die rotse. Sy kop gestamp en verdrink. Nou’s hy ‘n engel. Hy red die een na die ander siel. Tel die siele op soos uitgespoelde seesterre en gooi hulle weer terug in die see, om hulle nog ‘n kans te gee. As jy hom nie meer sien nie, dan is hy klaar met jou. Jou vrede gegee en jou siel gered.” Sy vat my hand en hou dit met teerheid vas. “Hoekom was jy hier?” en sy beduie in die rigting van die strand
“Om vir my vrou die see te wys.”
“Die dooies kan nie sien nie.” Antwoord sy, steeds met ‘n sagte glimlag.
“Om myself te vergewe.”, sê ek saggies. Hierdie keer eerlik.
Sy gee my hand ‘n drukkie, knipoog vir my en verdwyn die huis in. Ek staan ‘n oomblik voor die toe deur. ‘n Duisend emosies vloei deur my. Dan stop dit by ‘n gelukkige vrede.

Ek stap weer af na die strand toe. Haar foto is wéér nie in my sak nie. Ek gaan sit op die sand en bekyk die mense. Meisies giggel vir elke brander wat oor hulle spoel. Daar speel ‘n klomp jong latte rugby. ‘n Jong paartjie kyk diep in mekaar se oë.
“Dankie, Koedoe.” En ek glimlag.

Riaan Palmer

Oktober 2021 – Akrostiese projek

1.Vir die reën (4834 woorde)

Oscar was gefrustreerd. Hulle sê “die lewe is wat gebeur wanneer jy ander planne maak” en Oscar kan definitief daarvan getuig. Sy planne was om ‘n tweede praktyk oop te maak. ‘n Verskil te maak in die wêreld. Ryk te word. Maar toe kom sý in sy lewe. Min het hy geweet toe sy instap dat sy lewe onherroeplik gaan verander. Hy het skaars sy doktorsgraad in sielkunde gekry; vol hoop. Die wêreld sou sy oester wees. Sy praktyk het net begin lewe kry, toe sy voor hom kom sit. Sy was ‘n nimfomaan. Hy sou haar help om van haar verslawing ontslae te raak. As dit nie was vir haar lang vloeiende blonde hare soos die maanhare van ‘n wilde merrie wat oor die vlaktes galop nie. Haar bene wat vir ewig aangehou het. Haar mond met die skewe glimlag en die meegaande groen oë soos die van ‘n baba hondjie wat vra om vertroetel te word. Hy is ook maar man. Hy was skuldig aan een van die grootste taboes in die reëlboek. Die lyn tussen professioneel en persoonlik het grys geword en uiteindelik verdwyn. Tot haar man uitgevind het. Oscar moes vlug soos ‘n dief in die nag. Hy het uiteindelik hiér geëindig. Kuruman. Sonder ‘n toekoms. Sonder drome. Sonder oesters.

Kuruman was klein genoeg, en ver genoeg van die beskawing, dat geen wraakgierige eggenoot hom sommer hier kon opspoor nie. Tog groot genoeg dat daar genoeg mense is wat moontlik sielkundige hulp of selfs net terapie nodig gehad het. Aanvanklik was die dorpsmense skepties oor die nuwe verskyning op die dorp. Daar was nog nooit ‘n sielkundige op die dorp nie. Die wat nou regtig van lootjie getik was, is Upington toe vir hulp. Die grootste deel van die bevolking was in elk geval swart en kleurling mense, wat geglo het sielkundiges is vir malles en wit mense. Oscar se ervaring in die stad was ook meestal met ryk vroue wat kom klae het oor hulle mans wat gelol het met die sekretaresse en mammas wat iets vir die senuwees soek, want die lewe as ‘n huisvrou is net té oorweldigend. Niks wat ‘n verwysing na ‘n psigiater nie kon oplos nie. In ruil vir ‘n ietsie uit die psigiater se bankrekening, natuurlik.

Toe die eerste paar inwoners uiteindelik Dok Oscar gaan sien – meestal uit nuuskierigheid – het dit gesneeubal. Mense moes hoor van hul sielkundige probleme, wat hulle nie geweet het hulle het nie, en skielik was hulle gereëlde pasiënte. Sê wat jy wil van Dok Oscar, maar hy was goed in sy beroep. Hy het werklik sy pasiënte as individue verstaan en hulle gehelp om beter mense met goeie geestesgesondheid te wees. Die pasiënte het oor mure, om koffietafels en selfs in kroeë, Dok Oscar se lof besing. In so ‘n mate dat die dokter darem ‘n goeie bestaan kon maak. Maar hy het na ‘n dag se terapie met heimwee gedink aan die stad se liggies, die massiewe winkelsentrums en die sakke vol geld wat glad nie vergelyk het met die inkomste uit Kuruman se arm gemeenskap nie. Maar wat hy die meeste gemis het, was die uitdagings. Gejaagde mense in die stad is baie meer gebroke as mense op die platteland wat ‘n eenvoudige lewe gelei het. Daar was geen interessante uitdagings soos skisofrenie of dissosiatiewe afwykings nie.

*
Bernadine was gewoond aan ongeletterde, arm en mishandelde kinders. Twintig jaar as onderwyseres in Kuruman leer jou dat volwassenes wreed en ongevoelig teenoor ‘n kind se behoeftes kan wees. In ‘n plek soos Kuruman is drank, in baie huishoudings, belangriker as kos. As die drank eers gevloei het was kinders ook gewoonlik maklike teikens om frustrasie op uit te haal. Hul beddens was telkens buite op die grond en ‘n bad iets wat dalk eenkeer ‘n week gebeur het. So, Bernadine het die wêreld se geduld met die tien-jariges in haar klas gehad. Sy het hulle met die teerheid en menswaardigheid behandel waarmee ouers eintlik hulle kinders moes behandel. So het sy meeste kinders se respek en liefde gewen, wat die deur oopgemaak het om íets opvoedkundig in die kinders se honger verstand te plant. Oktober was egter ‘n uitdaging vir haar – nie die maand nie, die kind. ‘n Naam soos Oktober is glad nie vreemd in die omgewing nie. Dit was eintlik meer skaflik as party van die name soos Seihoghyd Koekemoer of Speiderman Komotie. Dit was asof Oktober totaal afgesonder was van die res van die wêreld. Hy het nooit ‘n woord gesê nie; sy oë altyd opsoek na iets op die grond. Pouse het hy alleen onder ‘n boom gaan sit en die verte in staar. Sy kan nie onthou dat sy hom al ooit met ‘n ander kind sien praat het nie. Sy kan ook nie onthou of sy hom al ooit iets sien eet het nie. Sy tenger lyfie het getuig daarvan. Wanneer hy gebukkend besig was om te skryf het sy ruggraat soos koppies op ‘n vlakte deur sy hempie probeer steek. Sy oë was gesonke in sy gesig wat mens onwillekeurig laat dink het aan ‘n zombie in ‘n riller. Sy beentjies was so dun dat mens nie anders kon as om te wonder hoe hy regop gebly het nie. Wat haar egter die meeste gepla het was die manier waarop hy gekoes het as iemand skielik naby hom beweeg het. ‘n Duidelike teken van iemand wat gereeld aangerand word. Alhoewel sy nog nooit ‘n enkele blou kol op sy lyfie gesien het nie. Wanneer die kinders in kunsklas skoenlappers, sportmotors of vrolike figure in die son op die strand geteken het, het Oktober donker, meestal swart, somber prentjies geteken. Van die swart gestaltes in sy sketse het gelyk soos monsters, met lang, skerp geel tande wat toorn oor ‘n klaarblyklike lyk omring met poele bloedrooi bloed. Ander sketse het weer mense geklee in swart wat messe of swaarde vashou wat met bloed besmeer is. As sy moes punte gee vir die kunswerke het sy telkens koue rillings gekry wanneer sy by Oktober s’n gekom het. Bernadine kon op geen manier deur Oktober se mure van ysterklip dring om die gebroke kind binne te probeer help nie. Sy het besef sy het hulp nodig gehad. Dok Oscar het opgedaag asof hy gestuur was.

*
Elke Dinsdag en Donderdag het die maer, senuweeagtige kind in stilte voor Oscar gesit. Die stilte is net verbreek deur die dokter wat elke nou en dan ‘n vraag vra om iets uit die kind te probeer kry. Oscar kon nie wag vir dié sessies nie. Dit was uiteindelik ‘n uitdaging wat sy vermoë as sielkundige getoets het. Snags het hy sy ou sielkunde handboeke gelees of joernale op die Internet nageslaan, opsoek na tegnieke om deur te dring tot die kind. Die antwoord het baie toevallig gekom. Oscar het ‘n sjokolade wat ‘n vroeëre pasiënt vir hom gegee het, op die hoek van sy lessenaar gelos. Die oomblik toe Oktober die spreekkamer instap het sy oë die sjokolade gevang, en sy aandag gehou. Oscar het dit onmiddellik opgelet en die geleentheid raakgesien.

“Raak jy ook lus vir tjoklits op die onmoontlikste tye?” vra Oscar toe Oktober sy sit kry.
Oktober het sy oë van die sjokolade af na Dok Oscar en toe na die grond toe gedwing, asof hy stout was en uitgevang is.
“Kry vir jou…” Oscar het met aanmoedigend die sjokolade na die seuntjie toe uitgehou.
Trane was vlak in die skaam seuntjie se oë, maar ‘n glimps van opgewondenheid het ‘n skielik in die dowwe oë laat gevlam. Versigtig, tydsaam het hy die sjokolade uit die dokter se hand geneem, asof die sjokolade onder die wakende oog van ‘n dreigende slang was. Hy het die lekkergoed om en om in sy hande gedraai en bekyk van alle kante af. Uiteindelik het hy bewerig die papier afgehaal, asof hy die papier van ‘n porselein vaas van onskatbare waarde aftrek. Bewerig het hy die sjokolade tot by sy dun lippies gebring, en ‘n groot hap gevat. Sy gesig het begin straal soos die van iemand wat in totale ekstase is. Vir die eerste keer vandat Oktober die dokter begin besoek het, het ‘n breë glimlag die kind se gesig versier.
“Baie dankie,” sê Oktober nadat hy elke liewe happie van die sjokolade met genot laat verdwyn het. “Ek het nog nooit tjoklit gehad nie,” sê hy verder, terwyl hy die laaste gesmelte smeersels van sy vingers af lek.
“Ek…” Oscar het nie geweet wat om te sê nie. Mens neem soveel dinge vanselfsprekend en vergeet eintlik hoe bevoorreg jy is. Selfs die kleinste bederfie kan ‘n lewens veranderende oomblik in iemand anders se lewe wees. “Ek sê jou wat,” sê Oscar uiteindelik toe hy besef dat die eerste stap geneem is. “Elke keer as jy by my kom kuier, dan gee ek jou ‘n tjoklit. Maar in ruil daarvoor, moet jy met my gesels. Oor enige iets waaroor jy wil gesels. Wat sê jy?”
“Reg!” antwoord die kind met ‘n glimlag, sonder om twee keer oor die nagevolge te dink.

*
Oscar was byna net so opgewonde oor sy deurbraak, as wat Oktober oor die sjokolade was. Weg was sy frustrasie en verlange na die stad. Aanvanklik was die stappies tydens die sessies, baie klein. Oscar het vrae gevra en Oktober het net “ja” of “nee” geantwoord, terwyl hy aan sy betaling gesmul het. Later het Oktober begin deelneem aan die gesprek. Hulle het gesels oor skool, wat hy daar leer, Juffrou Bernadine en die “simpel kinders by die skool” – soos wat Oktober hulle met ‘n ondeunde glimlag beskryf het. Naderhand het Oktober uit sy eie uit begin gesels oor sy dag by die skool, sonder dat Dok Oscar enige iets hoef te vra. Stadig maar seker het Oscar weer die frustrasie voel opstoot. Hy het iets uit die kind uit gekry, maar het hy die kind regtig gehelp? Hy het basiese goed van die kind geleer. Oktober was lief vir skoolgaan. Hy het gulsig elke stukkie kennis wat Juffrou Bernadine uitgedeel het, opgeslurp. Die kind was totaal antisosiaal. Hy het nie belanggestel in maatjies nie. En alhoewel hy begin oopmaak het teenoor die dokter, het Dok Oscar na weke nog niks geweet van die kind se huislike omstandighede of wat die bron van sy klaarblyklike mishandeling was nie. Die dokter het besef dat iets moes gebeur, voordat die sessies stagneer en sinneloos raak.

*
“Kan jy my bietjie meer hieroor vertel?” het Oscar gevra en Oktober se reaksie noukeurig dopgehou. Oscar het ‘n skets wat Bernadine vir hom gegee het voor Oktober neergesit. Die toneel was besonder gewelddadig. Drie gesiglose figure in swart mantels het om ‘n kleiner figuur wat op die grond gelê het, gestaan. Die drie figure het elkeen ‘n mes vasgehou – die lemme het gedrup van die bloed. Die figuur op die grond het gelê in ‘n plas van bloed, die lyf klaarblyklik vol steekwonde. Die figuur het manlik gelyk. Hy het dieselfde klere aangehad wat Oktober elke tweede dag aangehad het – een van twee stelle klere.

Tot Oscar se teleurstelling het die seuntjie onmiddellik ‘n sigbare metamorfose ondergaan. Weg was die ontspanne, vriendelike seuntjie. Terug was die benoude Oktober met die mure hoog om hom. Sy oë het weer die vloer gevind en vinnig op en dan weer af in die deur se rigting geflits.

“Ons het almal geheime, Oktober. Ons almal het iets waarvoor ons skaam is. Iets wat ons dink ander mense ons voor gaan veroordeel. Iets…iets wat ons seermaak,” Oscar se stem was kalm en vriendelik. Soos ‘n oop deur wat jou nooi om in te kom. Hy het vir ‘n oomblik gewonder of hy moet aangaan. Sou die kind ooit verstaan? As hy wou hê die kind moet eerlik wees met hom, sou hy moes eerlik wees met die kind. “Kan ek jou mý geheim vertel?”

Benieud het Oktober na die dokter gestaar, terwyl hy weer ‘n happie van sy sjokolade gevat het.

“Ek was eers ryk. Ek het alles gehad wat my hart begeer het,” Oscar was nie seker of hy met die kind of met homself gepraat het nie. Hy het nooit regtig sy eie monster gekonfronteer nie. “Toe…toe maak ek iemand seer. Ek het haar vertroue verbreek. En toe vind haar… toe vind iemand anders uit en hy het my geslaan. So, dat ek amper in die hospitaal beland het. Ek moes vlug of hy het my doodgemaak. Ek het alles verloor,” Oscar se stem het gebreek.

Realiteit. Fait accompli. Vir die eerste keer vandat hy die stad verlaat het, het hy dit wat gebeur het vir iemand vertel. Aan homself erken.

Oktober het vraend na die dokter gekyk, asof hy gewag het om die gelukkige einde van die storie te hoor. Vir Oscar was daar nie ‘n gelukkige einde nie. Maar hy kon dit nie vir die kind sê nie.
“Maar,” gaan hy aan na ‘n oomblik van stilte, “ek het weer van voor af begin. Stadig maar seker het ek opgestaan en nou probeer ek opmaak vir die foute wat ek gemaak het. Niks in die lewe is onoorkombaar nie. Daar is altyd ‘n uitweg. Iemand wat jou kan help.” Oscar het dit nie geglo nie. “In my geval het die mense van Kuruman my gehelp. Jý, liewe Oktober, het my gehelp. Jy het my gehelp om weer te onthou wie ek is, en hoekom ek ‘n dokter wou word.”

Die ys het klein bietjie gesmelt toe Oktober weer geglimlag. Maar die glimlag is oomblikke later met ‘n frons vervang. “En die man wat jou seergemaak het? Waarvoor jy gevlug het?”

Oscar het self gewonder. Het die man se woede bedaar? Het hy en daai vrou geskei? Dink een van hulle ooit nog aan die dokter wat hulle huwelik verwoes het? “Hy gaan my nooit kan kry nie,” antwoord hy – sonder enige geloofwaardigheid. “Die mense van Kuruman beskerm my.”

Oktober het sy kop ingedagte laat sak. Oscar kon amper sien hoe die gedagtes deur die kind se kop maal, maar hy het geduldig gewag. Die dokter het geweet die was ‘n baie belangrike oomblik, maar definitief nie ‘n oomblik om druk op die kind te plaas nie.

Na ‘n ewigheid lig Oktober weer sy kop op. Daar was ‘n donkerte in sy oë. Oscar was nie seker of dit hartseer of haat of angs was nie. Hy het wel geweet dat dit die waarheid was.

“Die seuntjie in die prentjie… Dis ‘n ander seuntjie waarvan ek weet. Die tannies by wie hy bly wil hê hy moet dinge doen. Lelike dinge. Maar hy wil nie dit doen nie. Dis nie reg wat hulle wil doen nie,” Oktober het vir ‘n oomblik geaarsel, asof hy gewonder het of hy meer inligting moet gee. Blykbaar het hy daarteen besluit. “En dan maak die tannies hom seer, omdat hy nie wil doen wat hulle sê nie.”

Dok Oscar het agteroor gesit op sy stoel. Daar was half ‘n verligting, maar ook ysingwekkende vrae.

“Waar is… die tannies?” vra Oscar, versigtig om nie te veel op een slag van die kind te vra nie.
“In die huis. Ek het…” Oktober se oë rek so groot soos pierings toe hy sy fout agterkom, maar Oscar maak asof hy dit nie agtergekom het nie. “Die seuntjie het ‘n manier gekry om die tannies in die huis te hou. Solank as wat hulle daar is, gaan hulle niemand seermaak nie.”
‘n Klop aan die deur laat Oscar swets. Dis sy sekretaresse se teken om hom te sê dat die sessie verby is, en dat die volgende pasiënt daar was. Hy wou nog keer, maar Oktober het klaar met sy boeksak in sy hand gestaan. Dit het gelyk asof die seuntjie ligter was op sy voete as gewoonlik.

*
Dok Oscar het weer na die papiertjie gekyk wat Bernadine vir hom gegee het. Net 6 karakters. Die nommer van ‘n plot is al persoonlike inligting wat die skool se kantoor van Oktober gehad het. Geen ouer se naam of telefoonnommer of identiteitsnommer of geboortedatum. Niks. En niemand kan met sekerheid sê waar en wanneer Oktober by die skool ingeskryf het nie. Dis asof hy net nog altyd daar was.

13/666

Dit was die derde keer wat hy op en af met die sinkplaatpad gery het, voordat hy uiteindelik die syfers op ‘n verrotte stuk hout raakgesien het. Oscar het wrang geglimlag. As hy ‘n bygelowige ou was, het die nommers hom dalk senuweeagtig gemaak. Maar as ‘n geleerde man het hy geweet dit was maar net nommers.

‘n Nou twee spoor paadjie het digte bosse in verdwyn. Die ruig groen struike en bome was nogal ‘n vreemde verskynsel hier op die rand van die Karoo waar water maar skaars is. Dalk was die plot op die oewer van ‘n rivier? Dit het Maart laas gereën, so die meeste riviere en spruite in die omgewing is kurkdroog. Die hele kontrei was naarstigtelik opsoek na water, maar die inwoners sê dat die eerste reën eers in die eerste week van November kom. Volgende week.

Soos wat Oscar die paadjie volg is dit asof die bome ruier en ruier word. Dit het naderhand vir hom gevoel asof hy iewers in die Amasone is, ver weg van die semi-woestyn landskap van die Noord-Kaap. Die son se strale het geen kans gestaan teen die digte groei van die massiewe bome se blare nie. ‘n Onheilspellende donkerte het van buite tot in sy motor gevloei asof dit dik, swart teer was. Uiteindelik het die pad bietjie wyer geraak en die bome was verder uitmekaar uit. Voor hom het ‘n groot kliphuis getroon, soos ‘n spinnekop wat in ‘n donker hoekie sit en wag vir haar prooi.

Dok Oscar het die motor afgeskakel. Sy ore het begin tuit in die onmiddellike stilte. Stilte? Geen voëls se gefluit of krieke of sonbesies of enige geluid wat tekens van lewe weggegee het nie. Al Oscar se oorlewingsmeganismes het hom gewaarsku om te vlug. Maar Oscar het genoeg gevlug. Hy was hier vir Oktober. Na Oktober se onthullings die vorige middag, het die dokter besluit dat die tyd van praat verby was. Hy moes iets doen. Geen kind, veral nie so ‘n saggeaarde, dierbare kind soos Oktober, mag in sulke omstandighede lewe nie. Dit was nie ‘n lewe nie. Dit was oorlewing.

Oscar het dit eers oorweeg om die polisie te betrek, maar het daarteen besluit toe hy mooi daaroor dink. Wat sou hy vir die polisie sê? ‘n Seuntjie het ‘n prentjie geteken van monsters? En wat daarvan? Moes die polisie iemand in hegtenis kom neem oor ‘n prentjie?

Oscar was nou bietjie spyt dat hy nie maar iemand of ten minste iets – ‘n wapen van een of ander aard – saamgebring het nie. Maar daar was nie nou meer omdraai nie. Die skool sou amper uitkom, en die dokter wou die “tannies” konfronteer sonder dat Oktober dit moes sien.

Daar was nie regtig ‘n verskil tussen die werf en die boskasie om die huis nie. Daar was geen teken van ‘n tuin nie. Die huis self het duidelik al beter dae gesien. Alhoewel dit ‘n basiese kliphuis was, was dit duidelik dat daar jare laas enige instandhouding gedoen was. Die mees opvallendste van die huis was die planke wat oor die vensters vasgespyker was. Dit het Oscar herinner aan die Amerikaners wat hulle vensters so toemaak met planke as daar ‘n tornado op pad is. Of ander moeilikheid. Dié planke was egter slordig voor die vensters vasgeslaan; spykers was skeef ingeslaan en party plekke was dit duidelik ‘n derde of vierde probeerslag om die plank daar te hou. Amper asof ‘n kind dit gedoen het.

Oscar het vir ‘n oomblik voor die deur gestaan en wik en weeg wat om te doen Sy oog het ‘n lyn wit poeier op die grond voor die deur gevang. Hy het afgebuk, ‘n bietjie in sy vingers opgetel en van naby bekyk. Suiker? Sout? Vreemd. Hy het opgestaan, sy hande afgeskud en weer na die deur gestaar. Daar was geen teken van lewe in of om die huis nie. Dis mos nie moontlik dat Oktober, wat nog te sê ‘n hele gesin, daar gewoon het nie. Oscar het om die huis begin stap en op ‘n voetpaadjie afgekom wat op die oog af gereeld in gebruik is. Hy het die paadjie gevolg, sy oë opsoek na enige leidrade wat die duisende vrae kan antwoord. Die paadjie het geloop tot voor ‘n klein twee-man-tent. Reg rondom die tent was daar ook ‘n aaneenlopende lyn van die wit poeier. Hy het versigtig die tent oop gerits en binne geloer. Binne was ‘n klein matrassie met ‘n verbleikte Batman laken oorgetrek. In die een hoek was daar ‘n kers en ‘n boksie vuurhoutjies, en aan die anderkant ‘n stapel skoolhandboeke. En ‘n halwe pakkie sout. Sy gedagtes herroep die bygeloof dat sout beskerming bied teen die bose. Nóg ouvrou stories.

Oscar het sy kop hartseer geskud. Was dit regtig waar Oktober gebly het? Waar was sy mense? Waar was die “tannies”?

Die haartjies in Oscar se nek het begin regop staan. Oscar het senuweeagtig om hom begin kyk. Iemand het hom dopgehou. Hy het stadig in die rondte gedraai, sy oë op skrefies om enige gevaarte in al die donker hoeke van die bosse te probeer raaksien. Toe sy oë oor die intimiderende klipgebou soek, vang sy oog ‘n beweging tussen die planke voor een van die vensters. Hy het doodstil gestaan en konsentreer, maar daar was geen verdere beweging nie. Dalk het hy hom verbeel. Hy loer na sy horlosie. Dit was baie later as wat hy gedink het. Die skool het al uitgekom. Die tyd was op.

Soos ‘n swart sluier wat gelig word van ‘n gesig, wyk al die vrees uit Oscar se gemoed. Maande se frustrasie borrel op en oor. Weke se woede oor die verwaarlosing van klein Oktober sluit aan by die vloed van emosies.
Oscar het genoeg gehad. Vandag sou hy die monsters konfronteer. Hy het vasbeslote terug gestap na die voordeur en met mening aan die verwaarloosde deur geklop. Die klop was hol en het weergalm deur die huis asof dit ‘n leë saal was. Weer slaan hy met die kant van sy gebalde vuis aan die deur.

“Hallo! Ek is hier om te praat oor Oktober,” het Oscar gebulder met al die gesag wat hy bymekaar kon skraap. “Ek weet wat julle doen! Dit stop nou!”

Hy het vir ‘n oomblik weer doodstil gestaan en luister. Al wat hy gehoor het was die getuit van sy ore. En… Was dit…? Dit het geklink asof iemand aan die ander kant van die deur staan en swaar asemhaal. Die vrees het weer probeer om Oscar teen gevaar te waarsku. Te waarsku teen wat? Tannies? In sy geestesoog het hy weer die drie swart figure met bebloede messe gesien. As hy bang was, hoe moes Oktober dan gevoel het? Oscar het voor die naaste venster gaan staan en deur ‘n gaping tussen die planke geloer. Hy kon net donkerte en vormlose swart kolle sien. Hy het sy selfoon uitgehaal en met die liggie deur die gaping geskyn. Die vertrek was oënskynlik leeg. Net buite die kring van die flou selfoon liggie was daar ‘n swart vorm wat onmiskenbaar die silhoeët van ‘n menslike figuur was.

“Ek kan jou sien! As jy nie nou oopmaak nie, bel ek die polisie!” Woede en vrees het wipplank gery in Oscar se kop. Hy gaan in elk geval die polisie bel. Hy het sy selfoon voor hom gehou en die skerm opgeroep om ‘n nommer te bel, maar besef hy het nie geweet wat die polisiestasie se nommer was nie. Dalk 10111? Was dit ‘n noodgeval? Hy het ‘n geskuifel in die huis gehoor en die selfoon weer in sy sak gedruk.

“Te hel met dit!” het hy meestal vir homself gesê en ‘n ent voor die deur gaan staan. Dalk is daar nog kinders daar binne. Sy roeping was om mense te help. Nie huisvrouens wat net aandag soek nie. Mense wat regtig hulp nodig gehad het.

Oscar het die deur gestorm en die verwaarloosde hout het soos vuurhoutjies verkrummel onder die gewig van sy skouer. Hy het letterlik met deur en al die huis ingeval. Toe hy weer tot sy sinne kom, beur hy orent en begin die vertrek om hom inneem. Die flou lig val op ‘n pentakel wat op die vloer, reg voor die deur, geteken is. Sy oë probeer die donker gewoond raak, maar dis te donker om enige iets in die res van die vertrek te kan sien. Die haartjies in sy nek het bevestig dat iemand hom dophou. In die hoek van sy oog het Oscar ‘n beweging opgemerk en met dreigende vuiste in die rigting van die beweging gedraai.

Agter Oscar het ‘n swart figuur beweeg en blitsig, soos ‘n perdeby se angel, ‘n mes in Oscar se been gesteek en weer uitgetrek. Oscar het gegil van die pyn en angsbevange in die rigting van die gevaar gedraai, maar daar was net donkerte. Agter hom het ‘n ander gedaante beweeg, stil maar blitsig, ‘n mes in Oscar se ander been geplant, en weer die donkerte in verdwyn. Oscar het verbouereerd besef hy moet vlug. Maar ‘n derde swart gedaante het gehurkend agter hom ‘n mes laat flits en sy een achilleshiel afgesny. Sonder om die man kans te gee om te reageer, sny die gedaante die ander hakskeen se tendon ook af. Oscar het inmekaargesak. Net sy pynkrete het die stilte verbreek.

Hy het omgerol op sy rug, hulpeloos soos ‘n pasgebore baba – sy bene nutteloos. Uit die donker het drie figure nader gestap en in ‘n sirkel om hom gaan staan. Hulle het die kappies van hulle mantels afgehaal en drie beeldskone vroue onthul. Elkeen met gitswart hare, bloedrooi lippe en oë so bruin dat dit soos swart gelyk het in die flou lig.

‘n Skaduwee het in die deurkosyn verskyn. Die buitelyne van ‘n klein, tengerige kind.

“Nee!” Oktober se gil was soos die van ‘n gewonde dier. “Asseblief… Moenie…”

Die drie vroue het elkeen met ‘n sagte glimlag na die kind, wat nou op sy knieë was, gekyk.

“Dankie, Oktober,” het die een vrou eindelik gesê in ‘n stemtoon soos stroop en gif.

Hy het dit weer gedoen. Dalk per ongeluk. Hy het wéér vir hulle gegee wat hulle wou gehad het. Dit was die lááste keer. Nooit weer praat hy met enige iemand nie.

Oktober het sy gesig laat sak na die grond, terwyl die trane kronkelpaadjies oor sy vuil wangetjies maak. Oorwonne. Gebroke. Hy het opgemerk dat die wit lyn voor die deur nie meer ‘n soliede lyn was nie. Doc Oscar moes die massiewe gaping wat gemaak het toe die deur afgebreek is. Die vroue was klaar weer besig om hul gekweste prooi se hande vas te bind. Desperaat het Oktober opgespring en na die tent toe gehardloop om die pakkie sout te kry. Dalk. Net dalk kon hy hulle nog daar binne vaskeer. Maar hy het geweet dit is te laat. Teen die tyd wat hy weer voor die oop deur gaan staan het, was hulle weg. Dok Oscar was ook weg. Geen geluid. Geen teken van lewe. Net rooi kolle bloed as bewys dat Oktober se enigste vriend daar was.

*
Elke jaar, op 31 Oktober kom die Dogters van Eva van die Ou Geloof bymekaar. Daar is meer van hulle as wat mense wil weet of ooit sal erken. Buurvroue. Susters. Vriendinne.

Die mense wat nie van beter weet nie sal hulle dalk “hekse” noem.

Die Dogters van Eva gee egter nie om wat die mense dink nie. Die Allerheiligste Aand is ‘n belangrike aand vir álmal – of hulle nou daarvan hou of nie.

Die kind, Oktober, verstaan nie nóú sy plig nie, maar eendag sal hy verstaan en dit met oorgawe doen.

Die aarde soek ‘n offerande. Bloed vir reën. Die aarde is dors. Bloed vir reën.

*
Bernadine glimlag toe die eerste swaar druppels lomp op die droë grond plof, en die hele werf vul met die reuk van nat grond, reën en nuwe lewe.

“Ek dink hierdie jaar gaan die reënval weer goed wees,” sê sy en vat ‘n slukkie tee.

Langs haar knik haar man instemmend.

Sy knipoog vir haar man, en vee ‘n sliert van haar gitswart hare agter haar oor in. Sy gaan Doc Oscar nogal mis. Hy was so ‘n aangename, hulpvaardige man, selfs al het hy sy sondes orals saam met hom gedra.

Dit is ongelukkig die lot van ‘n vreemdeling. Skielik hier vandag. Skielik weg more.

Op die radio begin Koos Doep droewig sing.
“As niemand van jou hoor nie; as niemand van jou weet nie, kan jy tog niks verloor nie. Kan niemand jou vergeet nie…”

‘n Ironie. ‘n Cliché.

“En skielik is jy vry,” sing Bernadine die laaste paar woorde saam. “…Doc Oscar,” voeg sy ingedagte by.

Riaan Palmer

Maart 2022 – OOP projek

1.Die wilde vlamlelie (2722 woorde)

Ek het ‘n diep teug lug probeer inasem. Ek wou elke reuk in die wêreld inneem.

Ek het dit gemis.

Dis snaaks hoe dit die mees vanselfsprekendste dinge is, wat jy die meeste mis. Reuk. As ek nog net eenkeer iets – enige iets – kon ruik. Jy besef dit nie, maar reuke is betowerend. Al die reuke wat so oud soos die wêreld self is. Duisend geure van duisend plekke. Soos die bekoorlike aroma van dennenaalde. Die reuk van vars brood uit Ouma se kombuis wat jou kindwees met heimwee vasgevang het. Die kruierige geur van laventel wat ‘n kalmte oor jou bring. Die heerlike aroma van ‘n bottel Nescafé Classic as jy die seël oopskeur. Jou Ma se Red Door parfuum – iets tussen rose en lemoen – wat jou geliefd laat voel. Pa se Old Spice wat jou veilig laat voel…
Reuke het die mag van heimwee, herinneringe en emosie, soos nie eers ál jou ander sintuie sáám kan uitlok nie.
Híér het ek verwag om die geur van nat grond, bas en mos te ruik. Die lelies. Dalk.

Die werklikheid was seker die stank van ontbinding wat alles oorheers.

Maar ek kon niks ruik nie. Was dit wat voorgelê het? Niks? Die antwoord het agter die deur gelê.

*

Dit het alles begin toe ek die deur vir hom oopgemaak het. Hy was ‘n kort man, tog gespierd – in so ‘n mate dat hy intimiderend gelyk het, ongeag van sy statuur. Sy gesig was soos die van iemand wat die held in ‘n romantiese komedie moes wees. Gitswart hare. Skoongeskeer. Sy donker oë het byna onnatuurlik naby aanmekaar gesit. Ek het in my binneste gegiggel vir my Ma se waarskuwing om niemand te vertrou wat se oë naby mekaar sit nie.
Hy het verduidelik dat hy ‘n nuwe intrekker in die woonstel langs myne was, en het homself net kom voorstel.
Nick.

Ek het hom ingenooi vir ‘n koppie koffie. Hy het gemoedelik gesels, maar my gedagtes was nie by sy woorde nie. Ek was betower. Hy was ‘n god. Die perfekte balans tussen sjarme en misterie; dalk ‘n titseltjie gevaar. Hy was terselfdertyd fassinerend en ontoeganklik. Ontasbaar vanweë sy ooglopende foutloosheid – verhewe bo ons gewone sterflinge. Hy het so ‘n karaktersterkte gehad, dat hy eintlik ontstellend aantreklik was in ‘n aanloklike en verbode manier.
Dit was liefde met die eerste oogopslag. Nick.

*

Ek het haar vlugtig gesien toe ek my deur oopmaak en sy verby gestap het. Dit was net ‘n oomblik in die eindeloosheid van tyd, maar dit het gevoel soos ‘n ewigheid. Ek kon my oë toemaak en elke moontlike detail van haar herroep. ‘n Bos bloedrooi hare wat soos lawa uit ‘n vulkaan gevloei het. Gevaarlik maar fassinerend. Haar soepel lyf onder die sonrok het gesmeek om verken te word – ‘n hipnotiserende wonder. Daar was ‘n vonkel in haar groot groen oë wat my uitgedaag het om lank genoeg daarin te staar, sodat ek die bron van die lig kon vind. Haar lippe… Dáái lippe. Bloedrooi. Soos die vlamlelies wat wild langs die rivier gegroei het. Sy was beeldskoon. Ek was verkneg asof sy ‘n vloek oor my uitgespreek het.
Dit het my gewalg.
Dít was terug.
Ek het gedog ek het Dit oorwin. Ek het weggevlug met die hoop om nuut te begin. Maar Dit was terug. Dít het my weer gekry en nes geskrop in die bekende.

*

Ons romanse het vinniger gebeur as wat ek ooit kon voorspel. Hy het my meegesleur met sy sjarme en die betowering van onvoorwaardelike – blinde – liefde. Die een dag het in die volgende gevloei sonder dat daar enige keer daaraan was. Dit was asof ons liefde vir mekaar die mees natuurlikste ding op die aarde was. Soos asemhaal.

Dit was nie net die manier hoe hy na my gekyk het nie; met ‘n mengelmoes van smagting en wellus in een deurdringende blik. Dit was ook nie sy voorkoms nie, hoewel ek elke oomblik elke sentimeter van sy lyf ingeneem en sinnelik met my oë geniet het. Dit was nie die diep donker poele in sy oë, die harde lyn van sy kakebeen of die kuiltjies in sy wange wanneer hy daardie magnetiese glimlag vir my geflits het nie. Ook nie die raafswart hare met ‘n enkele krul wat altyd voor sy oog geval het nie. Ek kan nie met eerlikheid sê dat dit nié enige van daardie bekoorlikhede was nie.
Ek dink wat my die hardste van alles getrek het, was die manier hoe hy my laat goed voel het oor myself. Hy het my gesien met ander oë. In my eie oë was ek lelik. Dalk nie lelik nie, maar waaragtig nie sag op die oog nie. Gewoon. Vervelig. Niemand van belang nie. Maar hy het my soos ‘n godin laat voel. Hy het my goed genoeg geag om in sy heilige teenwoordigheid te kon wees.

Ek het die hekke van my hart met oorgawe oopgegooi. Ek was syne.

*

Ek het begin ongeduldig word. Nee. Nie ek nie. Dít. Dít is ‘n Roofdier wat moontlik uit die donker dieptes van die verste uithoek van die kosmos gekom het. Dít het die heerskappy van my lewe geneem. Ek kan nie sê presies wanneer nie. Een dag was Dit nie daar nie. Die volgende dag was dit. Ek is sy gevangene. Die Roofdier is my heer en meester. Ek is totaal hulpeloos in sy teenwoordigheid. ‘n Dienskneg vir sy wil.
Ek het al vele male probeer ontsnap. Maar sodra ek probeer protesteer of rebelleer, onderdruk het Dit my soos ‘n slaaf onder die sweep, in plek gehou word. As ek vir ‘n oomblik onafhanklik wou optree, het Dit my herinner dat ek geen vrye wil het nie. Ek was ‘n gevangene.
En nou. Nou wou dit haar hê. Die Roofdier het alles wat mooi is gehaat. Skoonheid moes verwoes word.
Nóú.

Die wilde vlamlelies was besig om oop te maak. Die tyd het aangebreek.

*

Ek het die briefie vroeg die Sondagoggend by die deur gekry. Die reuk van sy duur, manlike naskeermiddel het oor die papier gehang, en ek het vir ‘n oomblik – in ‘n dwaas – met toe oë aan die brief geruik, voordat ek dit oopgemaak het. In ‘n netjiese handskrif het hy ‘n misterieuse boodskap geskryf. Hy het gevra dat ek hom moet ontmoet vir ‘n piekniek daardie middag. Onderaan het hy ‘n gedetailleerde kaart geteken van ‘n staproete om by die geheime bestemming uit te kom. Ek het breed geglimlag, en die brief teen my bors vasgedruk en in die rondte gedraai. Soos ‘n skoolmeisie. Belaglik. Die middag sou perfek wees. Die mees romantiese oomblik in die geskiedenis van tyd. Ek was gereed om myself vir hom te gee. Hy sou my eerste wees.

*

Ek het die nuwe kombers oopgegooi en reguit getrek. Die kombers sou net eenkeer gebruik word. Die Roofdier het op en af geloop, soos ‘n maanhaarleeu in ‘n dieretuin wat na die vlaktes van die savanna smag. Die beeld van haar was konstant in my geestesoog.
Beeldskoon. Aanstootlik. Verruklik. Gruwelik. Die Roofdier het my egter gekeer om jammer te voel vir haar.
Die wêreld behoort aan roofdiere. Dit het nog altyd. Dit sal vir altyd. Dit is maklik om die feite te vergeet, veral wanneer jy agter toe deure is; beskerm deur ligte en soliede mure. Die roofdiere wag egter dat jy net een tree na buite sal gee. Die kat-en-muis speletjie was eintlik lagwekkend maklik. ‘n Stadige jagtog so geleidelik dat die prooi nie eers besef het dat sy gejag word nie, en uiteindelik sou sy doodeenvoudig net gaan lê om verskeur te word.

*

Ek het nog ‘n sluk van die rooskleurige wyn geneem en met ‘n oorweldigende ekstase ‘n diep teug van die geurige reuk van blomme en die skoon van die kabbelende stroom, ingeasem. Om my het die vlamlelies geblom. ‘n See van rooi. Soveel rooi. Bloedrooi orals om my.
Hy het agter my gesit en my in sy sterk arms vasgehou. Hy het my in my nek gesoen voordat hy opgestaan het.
“Maak toe jou oë.”, het hy geheimsinnig gesê. Die heiligheid was weg. Ek kon dit in sy stem hoor. Dit was ‘n toon wat die fyn haartjies oral op my lyf laat regop staan het. Maar ek het dit ignoreer. Vroue word konstant gewaarsku teen roofdiere. My verstand het geskreeu: Hardloop prooi, hardloop. Maar my hart het alles geïgnoreer.
Ek het my oë toegemaak en soos ‘n stout kind gegiggel. Ek het Nick hoor beweeg agter my. ‘n Oomblik van stilte. Toe ‘n skielike onkeerbare duister, pyn en duiseligheid. Ek het my oë verskrik oopgemaak. My ore het getuit. Ek het op my rug gelê en Nick het oor my gestaan met ‘n groot klip in sy hande. Hy het dit bo sy kop gelig, iets gesê en die klip met mening afgebring na my gesig.
Iets gesê. “Alles wat mooi is, moet sterf. Hy beveel dit.”
Hopeloosheid en donker het my oorweldig. Dit het my siel vasgegryp soos die kloue wat ‘n tier in sy prooi slaan.

*

Ek het die rots bo my kop gelig. Die Roofdier het gebrul. Hy was in sy element.
“Alles wat mooi is, moet sterf. Hy beveel dit.”
Die vonkel – daardie ondeunde lig – in haar oë was weg.
Met krag en oormag het Die Roofdier aangeval en vernietig. Haar skedel het soos ‘n granaat oopgebreek. Die binnekant was net so bloedrooi soos ‘n granaat.
Die opdrag was voltooi. Die skoonheid het gesterf. Maar Die Roofdier het oorgeneem terwyl ek hulpeloos eenkant staan en kyk het. Weer is die klip afgebring. En weer. En weer. En weer.
Die eens pragtige wese was nou ‘n bebloede gemors. Stukkies been. Vleis. Hare. Bloed.
Rooi. Rooi. Rooi.

Die vlamlelies het skaam hulle gesigte weggedraai, want nie eers hulle was só rooi nie.

*

Ek dink ek het haar in die kombers toegedraai. Ek dink ek het haar in die vlak graf gegooi. Ek dink ek het haar bedek met grond. Het ek?
Ek het die kraan oopgedraai en die rooi van my hande probeer was, maar dit het bly sit asof dit deel was van my vel. Ek het deur die trane geskrop en geskrop. Ek was nie meer seker of dit haar bloed of my eie bloed was nie.
Die Roofdier het tevrede spin-geluide gemaak, uitgestrek – vol gevreet.

*

Die dood was heeltemal anders as wat ek verwag het. Seker nie dat ek geweet het wat om te verwag nie. Dit is asof daar ‘n oop deur was en ek het deurgestap en ek was in ‘n ander vertrek. Ek sê maar vertrek want ek weet nie wat die regte beskrywing is nie.
En dit was dit. Ek was dood.
Daar is geen wenner of verloorder wanneer dit kom by die dood nie. Almal is gelyk. Almal moet aan die einde van die dag sy finale bevel gehoorsaam. Tog voel ek soos ‘n verloorder. Dit was onregverdig.
Ek was bewus dat ek iewers in die teenwoordigheid van my gebroke liggaam was. Asof ek deur ‘n baie vuil venster die wêreld, daar my graf, net-net kon uitmaak. Die rivier. Die mos. Die bloedrooi vlamlelies. Die hoop grond.
Daar was nog ‘n deur. Dit het my geroep. Genooi om verlos te word. Maar ek was nog nie gereed om aan te beweeg nie.

Die storie was nog nie klaar nie.

*

Inspekteur Grobler het stadig deur die woonstel gestap. Dit was die derde dag in ‘n ry wat hy die hele dag in die woonstel spandeer het. Daar móés leidrade wees. Die meisie kon nie net so verdwyn nie. Niks in die woonstel het daarop gedui dat sy nié sou terugkeer nie. Maar dis nou al vyf dae vandat haar ouers haar vermis aangegee het. Spoorloos.
Grobler het met ‘n sug op die bank neergeplons en na ‘n vuil kol op die plafon gestaar. Wat het hy misgekyk? Die forensiese span het ook niks gekry nie. Sy gedagtes het gemaal opsoek na iets, enige iets…
Skielik het die polisieman bewus geword van ‘n reuk. Hy het sy oë toegemaak en toegelaat dat sy neus die boodskap stuur na sy verstand. Dat sy verstand die regte herinnering oproep en die antwoord bied.
Die antwoord het vinnig gekom. Vlamlelies!
Die geur het die inspekteur vir ‘n oomblik teruggeneem na sy ma se tuin waar die vlamlelies welig gegroei het. Vir ‘n oomblik was hy weer die onskuldige seuntjie onbewus van die wreedheid van die wêreld.
Grobler het opgestaan met ‘n frons. Waar sou die reuk vandaan kom? Hy sou tog vroeër die week al die reuk opgemerk het. Hy het weer deur die woonstel begin loop, en in haar slaapkamer se drempel tot stilstand gekom. Die reuk was byna oorweldigend in die vertrek. Sy geoefende oë het oor die vertrek gevloei soos water. Toe vang sy oog het iets bloedrooi op die bedkassie. Hy het nader gestap, die rooi blom opgetel, daaraan geruik en toe teer tussen sy vingers gerol. Waar sou dít vandaan kom?
Hy het afgebuk en noukeurig na die juwelekissie waarop die blom gelê het, bestudeer. Toe sien hy dit uiteindelik raak. Byna onopsigtelik was die naat van ‘n laaitjie aan die onderkant van die kissie. Die inspekteur se hart het vinniger begin klop. Hy het ‘n paar rubberhandskoene aangetrek en die laaitjie versigtig oopgetrek. Binne in die laaitjie was ‘n pakkie briewe. Hy het die boonste gevoude papier opgetel en ‘n sagte reuk van naskeermiddel opgemerk. Of was dit vlamlelies? Hy het die brief eers vinnig, en toe ‘n tweede keer baie stadiger en noukeurig gelees.
Dit was al wat die polisieman nodig gehad het om sin te maak van alles.
Waar. Wanneer. Maar die belangrikste was wie.
‘Liefde. Nick.’
Nick. Die buurman.

*

Nick het geglimlag. Die boeie was dalk om sý hande, maar hy het ook geweet dat die kettings om Die Roofdier se kloue was. Die Roofdier het wanhopig gemaal, opsoek na ‘n uitkom kans. Maar Nick sou Dit nie toelaat om te ontsnap nie. Nooit weer sou Dít kon verwoesting saai nie.

*

REEKSMOORDENAAR VASGETREK

Nick Clay, ‘n 30-jarige man van Port St. Johns is Vrydag in hegtenis geneem in verband met verskeie moorde. Die inhegtenisname het gevolg na ‘n polisie ondersoek om die vermiste Me. Lily Feuer op te spoor. Feuer was Clay se buurman in ‘n woonstelbok in Ferry Point. Die soektog het die polisie gelei tot by verskeie grafte langs die Ntloloba rivier in die Silaka natuurreservaat. Teen die tyd van publikasie was die oorskot van veertien mense, vermoedelik almal vroue, in vlak grafte langs die rivier gevind. Volgens Inspekteur Daniel Grobler verskeie sake teen Clay oopgemaak. Bewyse dui daarop dat Clay moontlik verantwoordelik vir die verdwyning van vele jong vroue in die Port St. Johns en omliggende distrikte was. Inspekteur Grobler wou egter nie uitbrei nie, aangesien dit ‘n voortgaande ondersoek is.
Een van die lyke wat gevind is, is vermoedelik die van Lily Feuer wat sedert Sondag al vermis is, maar forensiese toetse moet nog gedoen word om die identiteit te bevestig. ‘n Verteenwoordiger van die Feuer familie sê dat Lily se ouers hoopvol wag vir die uitslae van die forensiese toetse, maar as dit wel Lily is, hulle haar ten minste met respek en liefde tot ruste kan neerlê. Lees meer op bladsy 3

*

Ek het opgewonde voor die wagtende deur gaan staan. Ek het geglimlag want ek het geweet wat agter die deur was. Die Roofdier was gevang.
Die vriendelike man langs my het my hand gevat.
“Kom. Dis tyd.”, is al wat hy gesê het. Dit is al wat nodig was.
Hy het die deur oopgemaak en ‘n oomblik gewag dat ek alles inneem. Ek was oorval deur die reuk van spookasem by ‘n kermis. Die reuk van karamel voor jy jou tande in ‘n blokkie fudge slaan. Die reuk van eerste reën wanneer die aarde stowwerig en dors is. Die aroma van die oseaan fyn sproei wanneer die golwe magtig teen rotse slaan. Red Door. Old spice.
‘n Rustige vrede het oor my gekom. Hierdie was nie ‘niks’ nie. Definitief nie.
Die man deur die ingang gestap en ek het gevolg.
Ek het my vergaap aan die wit lig wat oënskynlik uit hom gekom het.
En sy vlerke.
Pragtige, wit vlerke.

Riaan Palmer

April 2022 – En toe… projek

1.Oorlog vir onskuldiges (795 woorde)

Fiksie geïnspireer deur die politieke worsteling wat gelei het tot die gebeure by die SANW Wits hoofkwartiere, asook die Helderberg lugramp waarvan die oorsaak tot vandag toe nog ‘n raaisel is.

*

“War is peace. Freedom is slavery. Ignorance is strength.” George Orwell

30 Julie 1987
9:45 AM
Sowat 100 meter van die motor af is die ingang van die SANW Wits hoofkwartiere. Hein Grosskopf trek ‘n diep teug lug in en maak sy oë vir ‘n oomblik toe. Sy eie hartklop is oorverdowend in sy ore. Hy skuif die rathefboom na ‘D’ en sit ‘n baksteen op die versneller, terwyl sy voet nog op die rem rus. Sy gesigsuitdrukking is somber. Hy druk die knoppie van die wekker op die bom langs hom en die wysers begin tik. Hein klim-val haastig uit die kar, terwyl die voertuig slakkepas in die rigting van die hek rol.
Hy kyk ‘n oomblik die motor agterna. Hy wil graag sien dat dit suksesvol is, maar hy kan nie bekostig om gevang te word nie. Hy draai om en spring in ‘n ander motor waar sy kader sit en wag, voordat hulle met skreeuend bande om die hoek verdwyn.
Die motor wat sonder bestuurder die SANW se ingang bekruip soos ‘n roofdier, kry momentum. Twee soldate wat wag staan, kyk onrustig na die motor wat stadig die straat afkom, en haal dan die masjiengewere van hulle skouers af. Iets is nie pluis nie. Hulle begin onseker rondkyk vir hulp. Sowat 20 meter van die mans wat paniekerig wonder wat om te doen, ry die motor teen die sypaadjie vas en kom tot stilstand. Vir ‘n oomblik is dit asof die hele wêreld stilstaan. En toe volg die ontploffing. ‘n Skokgolf splinter elke venster in ‘n 200-meter radius. 68 mense, waarvan 28 burgerlikes is, word oorval met pyn. Een soldaat gaan nooit weer sy ma sien nie.

*

27 November 1987
10:23 PM
Hendrik Rademeyer maak die tas oop, bekyk die drie metaalbuise vir die soveelste keer, en maak die tas weer senuweeagtig toe. Buite is ‘n kakofonie van klanke wat meeding om die hardste te wees. Nagklubs. Restaurante. Mense wat hard praat en lag. Hy wens hy kon deel wees van die pret daar buite. Taiwan is tog ‘n plek om jouself te verloor. Maar hy kan nie. Sy missie is te belangrik. Binne in die klaarblyklike onskuldige silinders in die tas, is meer dood as wat enigiemand moontlik kan indink. In twee van die metaal houers is glasbuise met somaan in. Oftewel O-pinacolyl methylphosphonofluoridaat as jy iets van chemie af weet. ‘n Vloeistof wat omskep word in ‘n dodelike gas wat genadeloos enigeen wat dit durf inasem, bykans onmiddellik verdoem. Die konkoksie met komplimente van die Duitsers. In die ander houer is sogenaamde Rooi Kwik. ‘n Geheimsinnige chemiese stof wat deur die Russe uitgedink is. Dit word in bomme gebruik en is net so verwoestend soos ‘n klein atoombom, sonder die nagevolge van radiasie.
Die inhoud van die tas is Hendrik se bevelvoerders se antwoord op uMkhonto weSizwe se aanvalle. Die terroriste faksie moet vir eens en vir altyd leer dat hulle nie met die regering kan mors nie. Massavernietigingswapens is die antwoord.

*

28 November 1987
2:01 PM
Chin-lung Dou gooi verveeld een na die ander tas op die band wat stadig die bagasie na die vliegtuig se bagasieruim toe lei. Elke nou en dan is daar ‘n geluid om aan te dui dat nóg ‘n passasier se besittings nie heel gaan aankom by die bestemming nie. Nie dat Chin-Iung omgee nie. Sy salaris as bagasie hanteerder is hopeloos te min om méér moeite te doen. Sy base maak dit altyd baie duidelik: “Tyd is geld.” Daar is nie tyd om elke stukkie bagasie soos ‘n porselein pop te hanteer nie.

*

28 November 1987
3:33 PM
In die bagasieruim van die Boeing 747-200, oftewel die Helderberg, val ‘n druppel vloeistof op die panele onder die stapel bagasie. Nóg ‘n druppel. En nog een. Die vloeistof word egter nie deur die aluminium gestuit nie. Die somaan vreet deur die metaal soos ‘n ruspe ‘n blaar verorber. Onder die paneel verwoes die ongenaakbare vloeistof elektriese drade se rubber omhulsels. ‘n Vonk spat. En nog een. En toe is daar ‘n vuur. Die vuur brand, smelt en verswelg alles in die pad. Die Rooi Kwik vat vlam en so word al 159 onskuldige siele aan boord se lot finaal neergeskryf in die boek van die lewe.

*

29 November 1987
8:00 Pm
Riaan Cruywagen se bekende gesigsuitdrukking is verslae.
“…Die laaste kommunikasie met vlug 295 was omstreeks 00:07 en toe 30 minute later deur owerhede as noodtoestand verklaar…”

“Once you hear the details of victory, it is hard to distinguish it from a defeat.” Jean-Paul Sartre.

Riaan Palmer

Mei 2022 – OOP projek

1.Stemme

Was dit Carroll of Hubbard wat gesê het “‘n ware vriend weet alles van jou af, maar bly steeds lief vir jou”? Ek’s seker dit was Hubbard. Carroll was meeste van die tyd te hoog op boom om sulke insiggewende wyshede te skryf. Wie dit ook al was, was reg. Dít is wat Bessie vir my is. ‘n Ware vriendin. Sy wéét. Sy weet álles. Tog verwerp sy my nie omdat ek kammakastig ‘mal’ is nie.
Ek dink nie ek is mal nie.
Weet mal mense dat hulle mal is?
Ek is seker ek sal weet as ek mal is.
En as ek nie weet nie, sal Bessie my sê. Dis wat sy doen. Sy is soos ‘n spieël wat my wys wie en wat ek regtig is.

Ek het Bessie ontmoet in ‘n koffiewinkel. Een van daai bekende kettingwinkels waar mense toustaan vir té duur koffie, wat nie regtig lekkerder is as enige koffie wat jy uit ‘n blik uit kry nie. Ek het verveeld gewag terwyl hulle my koffie voorberei het. Emmakoelêma het langs my gestaan en kliphard kommentaar gelewer oor die ander mense in die winkel. In haar stoute Kaapse dialek wat my altyd laat glimlag het. Ek het maar net my oë gerol en my kop met ‘n glimlag geskud. Niemand anders in die raserige winkel het haar gehoor nie. Niemand anders kón haar nie.
Dis asof sy uit die bloute uit verskyn het. Bessie. Bruin hare. Groen oë. ‘n Paar sproete op haar neus en wange. So al asof iemand besluit het om haar sproete te gee, maar halfpad verveeld geraak het en opgehou het om die kolletjies te verf. Sy het my hand gevat en met ‘n pen daarop op begin skryf. My eerste reaksie was om my hand weg te ruk, maar die kalmte in haar gesig en die warm van haar aanraking het my laat ontspan en ek het haar laat begaan.
Emmakoelêma het egter dadelik hier langs my stof opgeskop. “Hei! Wat ma’ djy? Djy los vi’ hom nóú of ek blissem vi’ djou!” Ek het vir Emmakoelêma geglimlag en oog geknip. Maar sy was nie geamuseerd nie. Sy het haar opgeruk, uitgeloop en by die kar gaan wag.
Toe Bessie klaar geskryf is kyk ek nuuskierig na wat sy op my hand geskryf het. “Bessie.” En ‘n telefoonnommer. Die pragtige bruin-haar meisie het elegant omgedraai en begin uitstap. Sy het vir ‘n oomblik weer na my gekyk. Sy het haar hand na haar oor en mond toe gebring – uitgestrekte duim en pinkie – asof sy ‘n denkbeeldige telefoon vasgehou het. Sy het die woorde ‘bel my’ gevorm met haar lippe sonder om die woorde hardop te sê. Ek het my naam elders in die winkel gehoor en toe ek omkyk sien ek die barista my koffie op die toonbank neersit. Ek het weer teruggekyk na waar Bessie gestaan het, maar sy het reeds tussen die skare mense in verdwyn.
Dit het my ‘n week gevat om genoeg moed bymekaar te skraap om Bessie te bel. Sy het vriendelik geantwoord en ek het hakkelrig aan haar verduidelik wie ek was. Sy was in ekstase dat ek haar uiteindelik gebel het. Ons het dadelik gekliek. Asof ons ‘n leeftyd al vriende was. Toe ons oproep tot ‘n einde kom was ek stomgeslaan dat ons byna twee ure gepraat het. So het dit vir nog ‘n week gegaan. Ek het haar elke dag gebel en ons het ure aaneen gepraat. Oor alles. En alles. Ek het haar oplaas genooi vir ete by my huis. ‘n Veilige spasie vir my én boonop is ek ‘n goeie kok.

Sy het op die kop seweuur voor my deur gestaan. Uitgevat in ‘n vloeiende groen rok wat net die regte plekke van haar lyf geaksentueer het. Ons het langs die tafel gaan sit en begin wyn drink. Soos ou vriende wat mekaar jare laas gesien het, en ‘n leeftyd se stories gehad het om te deel. Dit het egter nie baie lank gevat voordat sy ‘dit’ agtergekom het nie. Of eerder hulle? Ek het my bes probeer om hulle te ignoreer, maar hulle maak dit onmoontlik.
Eers het Dawie van die een bank na die ander een in die sitkamer gespring. Dit was egter nie lank of Gomgat was ook in die sitkamer nie. Hy het natuurlik vir Dawie gewaar en het hom heen en weer in die sitkamer rondgejaag. Elke keer as hulle naby ‘n lamp of die TV gekom het, het my gesig onwillekeurig skeef getrek omdat ek verwag het hulle gaan iets breek. Gomgat het vinnig ongeïnteresseerd geraak met die speletjie en Bessie opgemerk wat oorkant my gesit en gesels het. Hy het nader gewaggel met sy logge trollyf en oor haar skouer getuur. Ek het weer my mond skeef getrek toe dit lyk asof die borrel snot wat uit Gomgat se neus gehang het, op Bessie se skouer gaan drup. Ek het op my tande gekners en met kwaai oë na Gomgat getuur. Sy blik het my gluur gesien, en hy het dadelik die gang af verdwyn. Bessie het egter ook my gluur raakgesien.
“En nou…?” het sy onseker gevra.
“Ek… Daar… Nee… Daar is iets in my oog. Jammer. Jy het gepraat van julle vakansies op Jeffreys?” het ek dit probeer wegpraat.
Nie dat dit veel gehelp het nie. Minute later was Mindie daar.
“Wie is sy? Wat doen sy hier? Wat drink sy? Hoekom het sy ‘n groen rok aan? Wat is die kolletjies op haar gesig? Gaan sy my nuwe mamma wees?” ‘n Oneindige string vrae uit die blondekop meisie se mond, terwyl sy nuuskierig heen en weer om Bessie geloop het. Die irritasie moes so duidelik soos daglig op my gesig gewees het. Ek kon sien Bessie raak ongemaklik, maar ek het deurgedruk met my storie oor my matriek vakansie op Jeffreys.
Emmakoelêma het weer háár verskyning gemaak en ‘n rits vloekwoorde in Bessie se oor geskreeu. Basies het Emmakoelêma gevoel Bessie is niks beter as ‘n goedkoop prostituut nie.
Die woede het gekook en geborrel in my. Kon hulle my nie net vir één aand in rus en vrede laat nie?
Bessie het haar glas wyn neergesit en haar arms voor haar gevou.
“Toe! Uit daarmee! Vir wat lyk jy soos wat jy lyk?” het Bessie met ‘n frons gevra.
“Wat bedoel jy? Dis maar my gesig. Dis hoe ek maar lyk.” Ek het heuning oor die woorde gedrup. Hopeloos te veel soetheid want die woorde het onnatuurlik stroperig, amper singerig uitgekom.
“Asseblief tog. Jy flous niemand nie. Dit lyk asof jy enige oomblik jou moer gaan pluk, die tafel gaan omgooi en my aan my strottehoof gaan gryp en die lewe uit my druk. Is jy ‘n reeksmoordenaar?” Bessie se stemtoon het nie heeltemal ooreengestem met haar woorde nie. Sy was geamuseerd. “Dit lyk al die hele aand asof jou aandag op iets anders is hier rond is. Wat is dit? Muise? ‘n Ander meisie? Spoke? Wat pla jou so?”
Ek het my kop moedeloos laat sak. Die tyd het aangebreek. Ek sou haar vertel, en sy sou haarself verskoon en vir die res van haar lewe vir al haar vriendinne vertel van die mal ou by wie sy gaan eet het. Ek was al gewoond daaraan. Dit het al meer keer gebeur as wat ek wil of kan erken. Dit is juis hoekom ek my hart agter slot en grendel gebêre het.
“Ek… ek het…denkbeeldige vriende.” het ek dit uitgeblaker en my gereed gemaak vir die bespotting.
Bessie het doodstil bly sit, sonder om enige emosie op haar gesig te wys. So het ons vir ‘n oomblik in stilte gesit terwyl die olifant geduldig in die middel van die vertrek gesit en wag het.
Uiteindelik het sy haar skouers opgetrek en gevra, “En?”
“Wat bedoel jy ‘en’?” Ek was oorbluf.
“Is dit die einde van jou storie? Wat daarvan dat jy denkbeeldige vriende het?” het sy met opgetrekte skouers gevra.
“Ek… Maar…” Woorde het my totaal ontgaan. “Ek bedoel ek het denkbeeldige vriende. Soos ‘n kind. Ek is dertig jaar oud, en ek is omring met allerhande fiktiewe mense, diere en ander vreemde wesens. Hoe is jy vergenoegd daarmee?”
“Weet jy dat hulle denkbeeldig is; dat hulle nie bestaan nie?” Sy het haar glas wyn opgetel en, klaarblyklik, baie ontspanne agteroor gesit.
“Natuurlik.” My stem het met die enkele woord dit baie duidelik gemaak. Ek is nie mal nie. Ek weet hulle is nie werklik nie.
“Nou wat is dan nou eintlik die probleem?” Sy het geglimlag en ‘n groot sluk wyn gevat voor sy aangegaan het. “Denkbeeldige vriende is deel van ‘n kind se grootword proses. Alles sielkundiges stem ooreen dat daar niks fout daarmee is nie. Sommige studies toon selfs dat kinders met verbeelding-vriende beter af is as die wat nie het nie. ‘n Kind oefen om met ander mense te kommunikeer, om duidelik te leer praat, idees uit te druk, beurte te maak, speletjies uit te vind en konflik te oorkom deur saam met die fiktiewe maat te speel. Dit stimuleer en oefen die verbeelding en kreatiwiteit van kinders, help hulle om onderskeid te tref tussen fantasie en werklikheid, stimuleer privaat spraak, vergemaklik geselskap en leer hulle om nuwe lewensgebeurtenisse die hoof te bied. En ek kan so aangaan. Een voordeel na die ander. So hoekom dan nou nié ‘n denkbeeldige vriend hê nie?”
Ek was stomgeslaan. Dit was asof Bessie ‘n kenner op die gebied van denkbeeldige vriende was. “Net een probleem. Die woord ‘kind’ is orals in jou verskonings. Ek is dertig… Dertigjariges het nie denkbeeldige vriende nie.”
“Wie het besluit jy mag nie meer denkbeeldige vriende hê nie? Op watter ouderdom moet jy ontslae raak van daai vriende?” Bessie se houding was uitdagend. Asof sy wou hê ek moet met haar redeneer.
“My ma. Toe ek veertien was het sy in geen onduidelike terme laat verstaan dat ek te oud was vir – verskoon die Frans – ‘sulke soort kinderkak’. En die samelewing oor die algemeen stem saam. Insluitende dosyne vriende en meisies wat die verte ingevlug het my geheim uitkom of as ek oor die saak wil praat. In kort meen almal ek is mal.” Die uitgeputte verslaenheid in my stem was duidelik.
Bessie het haar glas volgemaak en weer agteroor gesit. “Vertel my. Praat daaroor.”
Dit was die begin van ons vriendskap. Onvoorwaardelik. Vriendskap is ‘n vreemde, wisselvallige, teenstrydige en soms uitdagende verskynsel. Vriendskappe word gemaak, gevorm, geskaaf en geskep deur gefokusde inspanning en moeite. En tog is ware vriendskap, sodra jy dit erken, in sy wese moeiteloos. Party vriendskappe word deur tyd gevorm. Ervaringe wat jy saam met iemand beleef. Maar nie ek en Bessie nie. Dit was onmiddellik ‘n vriendskap wat selfs lewensmaats sou jaloers maak.
Daar was egter niks seksueel omtrent ons vriendskap nie. Ons was sielsgenote maar vriende, en ons altwee het dit geweet sonder om dit te sê.
Onvoorwaardelik.

Ek kon Bessie alles vertel. Of eerder van almal vertel. Emmakoelêma, die plat-op-die-aarde Kaapse antie wat altyd sosiale kommentaar lewer. Mindie, die kleuter wat altyd alles bevraagteken. Dawie en Gomgat. Die kabouter en trol wat jare gelede karakters in ‘n TV-storie was, wat my vriende geword het. Ek weet nie eintlik wat hulle gedoen het, anders as om op my senuwees te werk nie. Dan was daar Klipklop, ‘n perd wat my heel eerste denkbeeldige vriend as kind was. Hy wou altyd rond hol en speletjies speel. Maar siende dat ek dertig jaar oud was en nie te vinde was vir kinderspeletjies nie, het ek hom afgeskeep. Bliksem, die swart hond wat opgedaag het as ek net begin goed voel het oor my lewe. Bliksem kon nie praat nie. Hy het net hartseer, depressie en selfveragting oor my kom strooi en dan in die hoek gaan sit en wag. En daar was DOOD. ‘n Geraamte geklee in ‘n swart kleed en ‘n seis in sy linkerhand. DOOD het altyd gekom as Bliksem lank genoeg langs my bed geslaap het. Wanneer ek die slaappille en bottel Vodka voor my by die tafel gesit het of met die pistool in my hand gesit het, het DOOD gekom. Met sy hand op my skouer het hy altyd gevra of ek seker is. Ek was nie bang vir DOOD nie. DOOD was vriendelik. Hy was altyd ernstig, maar sag. DOOD wou my nie saam met hom vat nie, al was ek gereed om saam te gaan.
“Asseblief moenie. Nog nie.”, het hy altyd in sy droë stem gesê. En elke keer het hy my oorreed om net nog ‘n dag aan te gaan. Dan het hy geknipoog en geglimlag – alhoewel hy nie oë of lippe gehad het nie, tipies vir ‘n geraamte – voordat hy verdwyn het.

Bessie het na my geluister en my gehelp maniere kry hoe om my span “vriende” te hanteer wanneer ek in die publiek of tussen ander mense was. Haar voorstelle het gewerk soos ‘n bom. My spulletjie kamerade was naderhand net agtergrond geraas, soos ‘n radio wat iewers speel, maar nie hard genoeg is dat jy die deuntjie kan herken nie. Bliksem na Bessie in my lewe gekom het, baie selde sy verskyning gemaak. Dit het beteken dat ek DOOD nooit meer gesien het nie. Ek kon uiteindelik leef sonder om konstant te vrees dat mense gaan dink ek is mal.

Dit was ‘n Saterdagoggend. Ek het op en af tussen rye hemde en broeke gedwaal opsoek na nuwe uitrustings vir die nuwe ek. Bessie het my nou en dan nader geroep as sy ‘n hemp of baadjie vir my wou wys wat sy gedink het sal by my pas.
Ek was besig om twee hemde voor my uitgehou om mooi te kyk watter kleur ek die meeste van hou, toe iemand my op die skouer tik.
“Vir wat tik jy aan my?” het ek gemaak kwaai gevra en omgedraai om te sien wat Bessie vir my wil wys.
“Sjoe, maar jy is kwaai!” Die skraal man, met die groot neus en seeblou oë was nie Bessie nie. Dit was Dennis.
Dennis. Dennis wat ‘n paar jaar terug ‘n baie goeie vriend was, maar op ‘n stadium al hoe minder en minder met my begin praat het. Naderhand het hy glad nie meer my oproepe of boodskappe geantwoord het nie. Omdat ek in sy opinie mal was, het ek aangeneem.
Dennis het met ‘n breë glimlag sy hand voor hom uitgesteek en ek het sy hand gevat en blad geskud asof sy hand ‘n slang was.
“Hoe gaan dit met jou? Wat maak jy in die lewe?” Dennis het met my gepraat asof hy my nie verloën het nie.
“Ag. Dieselfde. Jy weet mos ek is die oninteressantste persoon op aarde.” Ek het die pot heuning uitgehaal om die woorde soet te maak, maar daarteen besluit. Vir wat moes ek maak asof ons vriende of iets is?
“Ja, ja. Ek glo dit nie vir ‘n oomblik nie. En het jy al vrou gevat?” Blykbaar het hy nie die venyn in my stem opgetel nie, want hy was steeds té vriendelik.
Ek wou eers sê ‘nee’, toe ek Bessie so ent weg gewaar waar sy met ‘n frons aan ‘n baadjie se mou gepluk het.
“Ek het ja.”, het ek geantwoord met ‘n selfvoldane glimlag. Ek het ‘n kort fluit gegee en toe Bessie omkyk na my toe, beduie ek dat sy moet kom.
“Bessie, dis Dennis. Dennis, dis Bessie my verloofde.” Het ek met ‘n stout glimlag gesê en vir Bessie geknipoog.
Dennis het gefrons en sy oë het soekend gekyk na waar ek gewys het.
“Ek… Waar…?” Dennis was vir een of ander rede onseker oor iets. Ongeskik.
Daar was mos niks vreemd omtrent die situasie nie. Jy groet mos net iemand aan wie jy voorgestel word.
“Ek moet gaan. Maar dit was goed om jou weer te sien.” het Dennis uiteindelik kortaf gesê, ‘n tree agteruit gegee omgedraai en begin wegloop. ‘n Paar tree verder het hy egter weer omgedraai en met ‘n hartseer in sy oë gesê, “Gaan sien iemand. Groot asseblief.” Sonder om te wag vir ‘n antwoord het hy weer omgedraai en uit die winkel verdwyn.
“Wat de…” Ek was geskok. Dit was glad nie hoe ek Dennis geken het nie. Hy was ‘n mense-mens en altyd vriendelik met almal.
Ek het vir Bessie gekyk, en my mond oopgemaak om om verskoning te vra vir Dennis se ongeskikte gedrag. Maar geen woorde het uitgekom nie. ‘n Oomblik van helderheid. Bessie het my blik vermy en na die vloer gestaar sonder om na iets te kyk.
Die wêreld het begin draai. Krake het in my gevorm en my wêreld het begin verbrokkel.
Bessie. Was. Een. Van. Hulle.
Die trane het onbeheerst oor my wange gerol. Bessie het opgekyk en haar hand uitgesteek om die trane af te vee, maar ek het weggetrek dat sy my nie kon bykom nie.
“Ek dog jy het geweet?” het sy gesê met trane vlak in haar oë.
Ek dink nie ek is mal nie.
Weet mal mense dat hulle mal is?
Ek is seker ek sal weet as ek mal is.
En as ek nie weet nie, sal Bessie my sê.

***

“Skisofrenie.” het Dokter Verster weer gesê. “Maar dis glad nie ‘n doodsvonnis of iets nie. Ons neem jou vir ‘n paar dae op, kyk watter medikasie werk vir jou en ons monitor jou vordering noukeurig. Voor jy jou oë uitvee is alles onder beheer en normaal.”
Ek het nie geantwoord nie. Moes sy met my praat asof ek ‘n kind was?
Sy het nog ‘n rukkie gebabbel oor wat ‘skisofrenie’ was en wat dit nou eintlik beteken het vir my en die toekoms. Toe sy vir ‘n oomblik stilbly staan ek op en verduidelik baie duidelik aan haar dat ek in geen malhuis opgeneem gaan word nie. Sy het gesug en in die onleesbare doktershandskrif op ‘n voorskrifpapier geskryf en dit aan my oorhandig. Sonder om verder iets te sê of te vra het ek haastig uit die kloustrofobiese spreekkamer ontsnap.
‘n Rukkie later, in die veiligheid van my huis, het ek by die kombuistafel gesit. Voor my het ‘n ry botteltjies met pille wat die Dokter aan my voorgeskryf het, gestaan. Om die tafel het my span vriende gestaan. Mindie. Dawie. Gomgat. Emmakoelêma. Klipklop. Bliskem. DOOD.
Bessie.
Ek het van die een na die ander gekyk. Hulle het in doodse stilte na die botteltjies pille op die tafel gekyk.
Hoekom? Hoekom moes ek nou eintlik pille drink? Net omdat een of ander dokter besluit het ek is ‘siek’ – soos wat sy dit gestel het. Skisofrenie is ‘n siekte. Sy’t eintlik bedoel ‘mal’. My vriende hier om my het my géén skade aangerig nie. Ek na vir Bliksem gekyk.
Denkbeeldige vriende is goed vir jou. Ek het weer deur die lys voordele van denkbeeldige vriende opgenoem, wat Bessie destyds gelys het. Bessie was die beste ding wat nog ooit met my gebeur het. Sonder twyfel. So…
“Vriende. Beste vriende. ‘n Lewe sonder vriende is soos om sonder sonskyn, suurstof of water te probeer oorleef. Nee.” Ek weer van die een karakter na die ander een gekyk. “Ek is lief vir julle.” Ek het opgestaan, die botteltjies pille opgeraap en in die asblik gegooi. Ek het weer gaan sit en met elkeen van my vriende begin praat, uitgevra oor hulle dag of wat hulle vanaand wil doen. Soos wat vriende maar gesels na ‘n lang dag.
Ek was gelukkig.

***

Dokter Verster kyk hartseer deur die waarnemingsvenster na die man by die tafel. Die man praat joviaal en geanimeerd met onsigbare mense om hom. Dit is altyd vir haar hartseer wanneer geestesversteurings so lank vat voor dit gediagnoseer word. Sy ma of pa of eintlik énige iemand in die gemeenskap moes die tekens gesien het en iets vir hom gedoen het. Maar meeste mense vrees geestesversteurdes. Die hospitaal is vol van mense met dieselfde storie. Uitgeworpenes. Ongewenstes van die samelewing.
Dokter Verster skryf ‘n paar notas in haar verslag voordat sy weer na die man kyk.
Ten minste lyk hy gelukkig.

Riaan Palmer

Junie 2022 – Winterlandskap projek

1.’n Koue gebed

Ek het my hande weer teenmekaar gevryf en warmte binne-in probeer blaas, maar dit was nutteloos teen die ysige wind wat deur been en siel gesny het. Ek het my een hand weer in my jas se hand gedruk, wat klein bietjie gehelp het, en met die ander hand die leisels weer vasgehou. Die hings se asem het wolkies mis gelos sover as wat hy geloop het. Ek het die arme dier jammer gekry want hy het nie die luuksheid van ‘n jas of iets gehad nie. Die koue diskrimineer nie. Dier. Mens. Voël. Insek. Plant. Die winter het genadeloos die hitte van alles en almal kom steel en die dwase wat nie geskuil het nie, het die duurste prys betaal. Ek het gevoel soos ‘n dwaas. Ek het egter nie ‘n keuse gehad nie. ‘n Lewe was op die spel en ek was die enigste een wat die lewe kon red.

Iewers tussen drie- en vieruur – doodsure in die winter – was daar ‘n gehamer aan die plaashuis se deur. Ek het dadelik geweet waaroor die gehamer gegaan het. Lewe en dood. Die eienaar van die geklop was Jakob Tamat. Ek het hom ingenooi en ‘n paar stompies in die koolstoof se maag gegooi om die hitte weer aan die gang te kry. Natuurlik ook die keteltjie aan die stook gekry, want jou buitekant kan nie warm word as jou binnekant nog koud is nie.
“Jakob, wat maak jy uit in die koue? Die koue sal jou vat en jou dood los net daar waar hy jou gekry het.”
“Dok, dis Jantjie. Die koors wil hom nie los nie. Die koors staan buite die deur en klop om Jantjie te vat.”
“Hoe lank het hy al die koors?”
“Van eergister af.”
“Watter ander simptome het hy?”
“Dok, hy hoes en dit klink of sy bors sing. Dis asof hy nie asem kry nie.”
Ek was byna seker dat dit longontsteking was. Met die koudste koue saam het ek baie gevalle van longontsteking dié winter gesien. Dis hoe Jakob se vrou, Maria, ook dood is – toe die winter skaars begin het. Die mense is te arm om ordentlike medisyne te koop. Hulle gebruik sommer allerhande bossies en kruie en goed wat hulle in die veld pluk, maar dit help niks. Penisillien was al wat gehelp het vir longontsteking.
Jantjie was die enigste familie wat Jakob oorgehad het, so ek kon nie net medisyne stuur nie. Ek moes gaan seker maak die kind kry die regte mediese sorg.
“Jakob, ons ry sodra die son opkom. Ons kan nie nou ry nie, dis te koud. Die diere gaan te swaar kry. Kom ons vat jou donkies in skuur toe.”
“Ek kan nie, Dok. Ek moet teruggaan. Jantjie is alleen by die huis. As hy iets moet oorkom as ek nie daar is nie…”
Ek het geweet ek sou hom nie anders kon oortuig nie. Niks kan ‘n ouer keer om sy kind te beskerm nie. Ek het ook geweet die koue kon dodelik wees. As ek ook nou gery het en ek of my het iets oorgekom, sou dit katastrofies wees.
Jakob het die laaste bietjie koffie afgesluk en gemik vir die deur.
“Sit ‘n koue lappie op die kind se voorkop en gee hom van dié.” Ek het ‘n botteltjie Doctor Shoops in sy hand gestop. Dit sou ten minste help vir die kind se hoes en benoude bors. “Dan sien ek jou net-nou.”
Ek het in die deur staan en kyk hoe die man sy donkiekar omdraai, die twee haaks donkies aan die loop soebat en die donker in verdwyn.

Ek het gewag tot die eerste sonstrale oor die randjie loer, toe saal ek die hings op en val in die pad. Ek het kort voor lank die donkies se spore met die karretjie se parallel lyne agterna gekry, en dit begin volg. ‘n Myl of twee toe merk ek een van die donkies het begin sleepvoet loop, en nie veel verder nie het die ander ry spore ook begin strepe trek soos die donkie begin sukkel het. Die vrees vir Jakob en sy donkies se lewens het op en af in my gedagtes gehardloop.
Die tekens van Jakob se reis deur die ysveld het ‘n storie vertel. Plek-plek in die sukkel-loop sand was die donkies se spore verder uitmekaar uit, soos Jakob hulle aangehits het om deur te druk. ‘n Paar plekke in die ryptrap van die winterlandskap het die spore gewys dat ‘n donkie op sy knieë neergesak het. Dan was daar ‘n stel mensespore waar Jakob by die donkie gaan staan het om hom regop te help.
Nog ‘n myl verder, toe die hings oor die randjie sukkel, toe sien ek wat ek gevrees het. Jakob se donkiekar. Eenkant in die eerste sonstrale het een van die donkies gestaan opsoek na die bietjie warmte wat die oggendsonnetjie gebied het. Voor die donkiekar het Jakob gesit met sy hande op die ander donkie wat plat op die grond gelê het. Die donkie het op haar sy gelê en vlak asemgehaal – die mis van haar asem skaars sigbaar. Jakob was in trane.

“Jakob, ek…” Ek kon geen woorde kry nie.
“Dok.” Die man het nie opgekyk nie. Sy hart was gebreek.
Ek het van die perd af geklim, vir ‘n oomblik gewonder wat om te doen, en toe ek nie ‘n antwoord kry nie maar my hand op sy skouer gesit.
“Bid asseblief saam my, Meester.” Hy het met pleitende oë na my gekyk.
Bid vir ‘n donkie? Ek het geretireer. “Jakob. Ek moet by Jantjie uitkom! Ek kan nie nog tyd mors nie…”
Jakob het sy kop geskud en af gekyk. “Dis nie tyd mors nie, Meester,” het hy deur ‘n hernude vloed trane gesmeek. “Dis belangrik. En ek het iemand by my nodig om my sterk te maak.”
Die donkie se lyf het stil geword. Sy het haar laaste asem gegee. ‘n Knop het in my keel gevorm en ek het dit probeer wegsluk, maar dit het hardkoppig bly sit.
Ek het langs Jakob gaan sit, en oor die donkie se lyf gevryf. Die donkie was reeds yskoud. Haar lyf was lankal dood – dit was net haar gees wat haar tot dáár gebring het.
Jakob het my hand gevat. Sy hand was kouer as ‘n blok ys, en ek het dit stywer vasgehou om bietjie van my hitte vir hom te gee. Hy het sy kop gebuig en sy oë toegemaak en ek het sy voorbeeld gevolg.
“Here. Ek weet daar kan nie lewe wees sonder dood nie. Maar Here, dit voel of die dood altyd op die verkeerde tyd kom. Soos ‘n dief kom vat die dood alles wat ek het. Maar Here, wie is ek om vir U te sê wat U moet doen en wanneer U mag neem. Ek is maar net Jakob Tamat.” Die man se stem was eerliker as enige predikant s’n wat ek nog ooit hoor bid het. “Liewe Heer. Ek stuur haar terug na U toe. Maak asseblief die hekke vir Dassie oop en roep die engele om haar die hemel in te neem. Gee vir haar ‘n ereplek want sy het haar lewe gegee. Sy was ‘n getroue dienaar wat altyd alles gegee het, tot met haar laaste tree. Seën die hande wat haar na U toe stuur. Ek het haar gebreek vir my kind se onthalwe. En Here wanneer dit eendag my beurt is om deur die poorte te stap, laat tog toe dat Dassie saam met Maria daar wag, en my vergesel na U huis toe. Dankie dat U Dassie vir my geleen het.”
Ek het gewag vir die amen. Ek kon die man se smart in sy lyf voel en in sy siel hoor, en dit het my smart ook geword. As ek maar net die helfte soveel geloof as hierdie man gehad het, sou my siel gered wees.
“En Here. As dit U wil is, seën die Dok se hande. Jantjie is al wat ek oor het. Asseblief. Amen.”

Ek het ‘n oomblik in die stilte bly sit. Geen voël of insek het ‘n geluid gemaak nie. Nie eers die winter se ongenadige wind het gefluister nie. Die wêreld het ‘n oomblik stilgestaan om eerbied te betoon aan ‘n donkie.
Jakob het opgestaan, die trane weggevee en met ‘n glimlag gesê “Gaan maar, Dok. Jantjie wag vir jou.”
“Jakob, met my medisynesak op die perd is daar nie plek vir jou nie, anders kon jy saamry. Maar ek sal so vinnig moontlik by Jantjie uitkom en dan vir jou hulp terugstuur.”
“Wees rustig oor my, Dok. Gaan help net vir Jantjie. Ek sal wag dat Bokkie bietjie hitte kry,” Jakob het in die rigting van die ander donkie wat lui-lui loop en wei het, beduie, “en hom voor die waentjie span. Bokkie is sterk. Hy sal my daar kry.”

Vyftien minute later spring ek van die perd af, gryp my medisynesak en storm die gehug binne. Jantjie probeer flou regop sit, maar hy kom nie op nie.
“Wie is daar? Pa? O, dis Dok…” Die kind se stem was sag en droog.
Ek het nader geloop en aan die kind se voorkoop gevoel voor ek sy pols gevoel het. Hy was vuurwarm van die koors, maar dit was nog nie te laat nie. Ek het ‘n gesonde maat penisillien in sy boud gespuit, ‘n nat lap op sy voorkop gelê en die groot wag gewag.
Sowat ‘n uur later praat die kind weer. “Waar’s my pa, Meester?” Die kind was nog swak, maar ek het geweet dat hy sou deurtrek.
“Hy’s amper hier, seun.”
Ek het die stofie met nog hout gevoer en weer my plek op die stoel voor die vuurtjie ingeneem. Die hitte het al goed pad gevind deur my lyf.
Ek skrik toe Jakob skielik agter my praat. “En toe?” Jakob het van oor tot oor geglimlag. Hy het langs Jantjie op die bed gaan sit en die kind styf teen hom vasgedruk. Terwyl hy die kind vasgehou het, het hy saggies begin praat – net-net te sag dat ek kon hoor wat hy praat. Maar ek het nie nodig gehad om te hoor nie. Die man was besig met ‘n gebed. En buite het ‘n donkie gebalk.

Party helde se name sal die wêreld nooit ken nie. Daar sal nooit standbeelde vir hulle opgerig word of liedjies oor hulle geskryf word nie.
Maar ek het hulle name geken. Die Here ook.
Bokkie. Dassie. Jakob.

Riaan Palmer

Julie 2022 – Wat skryf ek projek

1.Verskrikking van Juffrou Groffen-van Molendolf (986 woorde)

Elke skool het een. Een van daai onderwysers wat Hitler soos ‘n Care Bear laat lyk. Juffrou Groffen-van Moldeldolf was Hoërskool Onsdinkonskan se tiran, despoot en diktator. Die kinders het haar gehaat. Sy het kinders gehaat. Soos dit ook in enige skool is het Juffrou Groffen-van Moldeldolf ook ‘n bynaam gehad: Ou Visoog. Die bron van haar bynaam was as gevolg van die feit dat sy ‘n glasoog gehad het. En met “feit” bedoel ek dat elke skolier dit vir ‘n “feit” geweet het, maar niemand was seker hoe hulle dit geweet het nie en of dit regtig die waarheid was nie. Dalk het die gerug ontstaan omdat Ou Visoog se oë partykeer in twee verskillende rigtings gekyk het. Nie altyd nie. Net wanneer sy de moer in was. Jy was nooit seker of sy vir jóú of vir Fanus aan die anderkant van die klas gekyk het nie.
Ou Visoog was stokoud. Dit was een ding waaroor niemand kon saamstem nie. Sy was 60 óf 120. Haar gemene streek was absoluut ‘n bewys daarvan dat sy ‘n drilsersant in die eerste wêreldoorlog was, of ‘n veldkornet in die Eerste Boereoorlog. Niemand het haar toorn vrygespring nie. As jy ‘n A+ in ‘n toets gekry het, was jy ‘n gatkruiper of het jy op ‘n manier geknoei met ‘n crib notes. Het jy gedruip was jy ‘n domonnosel pateet wat gedoem was om eendag ‘n straatveër te word. Daar was geen oogappel in haar klaskamer nie. Elke kind was gelyk in haar oë: laer as slangbollie op die bodem van die see.

Gideon Beukes was weer een van daai seuns wat ‘n anderwêreldse aantrekkingskrag en fisiese volmaaktheid soos ‘n Griekse god gehad het. Hy was kaptein van die eerstespan; krieket en rugby, al was hy nog net 16 jaar oud. Hy het die nuutste en koelste klere gedra en altyd ‘n storie gehad om te deel oor sy manewales. As een van die meisies vir nege tot twaalf maande “verdwyn” het omdat sy een of ander “siekte” opgedoen het, is daar in Gideon se rigting geloer. Hy het met moord weggekom. Onderwysers het altyd in ‘n ander rigting gekyk as hy ‘n skoolreël oortree het. Baie van dit het te doen gehad met die feit dat sy pa ‘n neurochirurg was wat gereeld vir ‘n nuwe dak vir die skoolsaal betaal het of klere vir die hele rugbyspan geborg het. Soos dit maar met bedorwe brokkies gaan het Gideon geweet hy kan met enige iets wegkom. Daar was geen lyn wat reg van verkeerd geskei het vir Gideon nie. Hy eenvoudig net gedoen wat hy wou. Die wêreld was Gideon se speelpark.

Dit het begin soos enige ander moedelose Maandagoggend. Totdat Gideon by die skool opgedaag het. Dit was glad nie ‘n vreemde verskynsel dat Gideon Maandagoggend met ‘n babbelas by die skool aangekom het nie. Hierdie was egter die eerste keer dat Gideon dronk by die skool aangekom het. Die reuk van drank het oor hom gehang soos ‘n sjebeen na toemaaktyd. As jy ‘n vuurhoutjie naby hom getrek het was die kans goed dat almal in die omtrek met eerstegraadse brandwonde sou wegloop. Soos die geluk, of ongeluk, dit wou hê was die eerste periode op ‘n Maandagoggend aardrykskunde. Oftewel, ‘n uur van hel by Ou Visoog.

Soos die spul tieners die klas ingestap het – met die gewone doodsvrees in hulle oë – het die walms van drank ook ingestap. Juffrou Groffen-van Moldeldolf het stadig met ‘n frons agter haar lessenaar gerys soos ‘n donderstorm wat opsteek in die Noorde. Haar oë het begin skeeftrek toe sy, met haar neus in die lug, begin snuif soos ‘n roofdier wat bloed ruik. Haar een oog het rus gekry op Gideon. Die ander een iewers teen die dak. Gideon was bietjie groen om die kiewe. Duidelik kon selfs sy jong, gesonde lewer ook net sóveel drank hanteer. En wat nie in kan bly nie moet uit. Daardie oomblik was nie té ver in Gideon se toekoms nie.
“Meneer Beukes,” het Ou Visoog met ‘n ysingwekkende glimlag gefluister. “Kom hier.”
Gideon se groen gelaat het bleker geword. Selfs die magtige, onaantasbare Gideon was versigtig in Juffrou Groffen-van Moldeldolf se teenwoordigheid.
“Juffrou?” het Gideon gefluister toe hy slingerend voor haar te staan kom.
“Wys vir my waar is die Panamakanaal…” het sy deur haar tande gesis terwyl sy die aardrykskunde aardbol nader gestoot het.
Gideon het nóg bleker geword en sy mond het soos ‘n vis s’n geluidloos oop en toe gemaak.
Toe bars die bom. Ou Visoog word bloedrooi in die gesig en trek weg met ‘n tirade. Sy vervloek Gideon, sy ouers, verlangse ooms en tannies en selfs sy kat. Sy gil dreigemente van skorsing, tronkstraf en die doodstraf. Met elke nuwe sin word haar stem ‘n oktaaf hoër, naderhand so hoog dat al die honde om die skool begin tjank.
Soos wat OU Visoog gil en skree swaai sy haar arms verwoed rond. Met al die op en af en heen en weer beweging sak haar brassière tot om haar middel.
“…julle daar bo gaan hard val…” En sy swaai haar arms van bo na onder. Haar een bors glip oor haar bloes se kraag en hang soos ‘n papsak wyn op haar maag. Sy word stil en kyk wat op haar maag aangaan. Sy gee ‘n gil, gee ‘n tree agteruit en beland op haar rug met ‘n “oemf!”. ‘n Glasoog rol oor die vloer en kom teen Gideon se skoolskoen tot stilstand.
Gideon se gestel kan nie meer alles inhou nie en dit wat in sy maag was word oor Visoog se tafel gesproei asof ‘n tuinslang oopgemaak is.
Toe alles en almal tot bedaring kom, hang daar ‘n stilte van stiltes oor die klas.
Gideon vee sy mond met sy mou af en bekyk die anargie voor hy droog sê, “Kyk juffrou, ek het Panama raakgekots. Dis mos waar die kanaal ook is?”

Riaan Palmer

September 2022 – Snelhelheidsprojek

2.Wat was. Wat is. Wat gaan wees – 1187 woorde

Kerneels het die folio papier opgefrommel en omsingel met ‘n gebalde vuis. Vir ‘n stuk papier was dit baie swaar. Bagasie. Foute. Spyt. Hoe langer hy daaroor gedink het, hoe swaarder het dit geword. Hy het die papierbal so ver as wat papier toelaat, van hom af gegooi. Hy het dit agterna gekyk. Die opgefrommelde papier het terug gestaar. Asof dit Kerneels getart het.
Dit het selfvoldaan gekoggel, “Wat help dít jou nou?”.
Die swaar van die vervloekte papier het in sy hand agtergebly, en deur sy hele lyf gevloei en sy wese gevul, totdat hy nie meer regop kon bly nie. Kerneels het verslae neergesak met sy rug teen die muur. Hy’t sy kop laat sak. Verslaan. Hy het sy oë toegemaak. Dalk om die trane te keer. Dalk om net ‘n oomblik van die wêreld, van dié oomblik af te ontsnap. Maar in sy geestesoog het die stuk papier by hom gespook. Swart letters wat hom verdoem het. Hy het sy HPCSA eksamen – die mediese raad se eksamen – gedruip. Vir die tweede keer. As jy nie HPCSA eksamen deurkom nie, kan jy nie ‘n internskap by ‘n hospitaal doen nie. Sonder ‘n internskap kan jy nie ‘n mediese dokter word nie. As jy nie ‘n dokter kan word nie…is jou drome in skerwe.
“Maar hoe? Hoekom?” Kerneels het sy oë weer oopgemaak. Frustrasie en moedeloosheid het posgevat en bly klou.
Die bal papier het venynig gegryns. “Onthou die aande wat jy saam jou pelle gaan suip het? Onthou jy toe jy eerder rekenaarspeletjies gespeel het, in stede daarvan om ‘n handboek toe lees? Een na die ander reeks op Netflix gekyk. Pret nóú! Leer is more se probleem. Maar more is te laat. Altyd te laat. Net soos spyt.”
“Dis waar. Maar dit was laas jaar. Nie hierdie jaar nie! Ek het geleer uit my foute. Hierdie jaar het ek alles gegee. Dae en nagte om geleer en hersiening gedoen en dan weer hersiening gedoen.”
“Hoe kan ‘n stuk papier jou loopbaan, drome, toekoms vernietig?” Hy het sy kop stadig geskud. “Nee, dis nie die stuk papier nie. Dis ‘n versameling van verkeerde besluite. Oomblikke waar ja of nee ‘n verskil gemaak het. Of dalk…dalk is ek maar net dom. ‘n Onnosele sukkelaar wat vir ‘n oomblik gedink het ek is goed genoeg om ‘n dokter te kon wees.”
Kerneels se hele toekoms het in duie gestort. Die wêreld om hom het grys geword. Die kleure het verdwyn asof dit nog nooit bestaan het nie – asof geel, groen, blou, rooi blote illusies was.
Daar was dosyne mense wat verby Kerneels gestap het. Hulle het almal nog hoop, drome en toekomste gehad. Maar hy was alleen. Onsigbaar. Met niks.
Kerneels raak skielik bewus van ‘n ou man wat langs hom op die grond sit. Enige iemand anders sou verbaas gewees het, of selfs opgestaan of geretireer het. Maar vir Kerneels het niks saakgemaak nie. Niks. Tog het hy nuuskierig in die ou man se rigting gekyk. Daar was iets bekend aan die man. Die man se gesig was ingekleur met plooie – elkeen ‘n storie van kommer se fronse, maar ook van toe-oog lag. En sy oë… die blou oë was nog jonk. Vol avontuur, hoop en lewenslustigheid. Die oë het gestaar na die bal papier, wat nog steeds so ent weg gelê het. Net nog ‘n papier, maar met meer teleurstelling as wat ‘n stuk papier ooit moet wys.
“Dit voel nogal soos die einde van die wêreld,” sê die ou man skielik. Sy stem onbeskaamd, of dalk opsetlik, gevul met simpatie. Of was dit empatie?
Kerneels het net instemmend sy kop geknik en saam gestaar na die papier.
Na ‘n lang stilte gee die krake mee, en die dam wat Kerneels se hoop en drome gehou het, breek. Trane. Hartseer. Moedeloosheid. Hy huil soos ‘n baba. Die ou man sit sy arm om Kerneels se skouers. Kerneels laat dit toe. Hy was eintlik dankbaar dat die ou man dit gedoen het. Hy het toegelaat dat die man, soos ‘n boesemvriend, sy seer deel. Dit was natuurlik. Alhoewel die ou man ‘n totale vreemdeling was, het Kerneels hom al ‘n leeftyd geken.
Toe daar nie meer trane oor is nie, sê-fluister Kerneels – meer vir homself as vir die ou man, “Eendag gaan ek terugkyk na hierdie oomblik toe. My toekoms-self gaan my haat. Hy gaan my haat vir my verkeerde besluite. My toekoms-self gaan my haat vir ‘n loopbaan, en ‘n toekoms, wat geruïneer is. Ek haat myself nou. Ek kan myself net indink hoe bitter ek eendag gaan wees. Vol selfveragting. Spyt…” Kerneels se stem was vol aanstoot, asof hy gepraat het van walglike ekskresie.
Die ou man het bly staar na die papier, en asof hy lank daaroor moes dink, uiteindelik begin praat. “Ek is oud. Ek het baie om oor te dink. Oor alles wat die jong-ek gedoen het. Al die besluite wat die jong-ek gemaak het. Dalk verkeerde besluite. Of besluite wat verkeerd gevoel het in daai oomblik.” Die ou man het geglimlag, asof ‘n goeie herinnering sy gedagtes kom verras het. Die lagplooie in die hoeke van sy oë het nog so bietjie dieper, of mooier, geword.
“Maar, dit kan ek jou met alle eerlikheid vertel. Jou toekoms-self kyk terug na jou verlede-self, jou jong-self, met gemengde gevoelens. Sentiment gevul met hartseer en liefde en deernis. Jou toekoms-self weet hoe hard jy probeer het en hoe moeilik dit was. Jou toekoms-self wens hy kan jou ‘n drukkie gee en vir jou sê om net aan te hou, deur te druk en jou kop omhoog te hou. Jou toekoms-self wens hulle kan jou die pyn spaar wat die selfhaat bring. Hy weet dat jy die beste probeer wat jy kan. Alles en selfs meer gee. Jou toekoms-self is nie kwaad nie. Daar is geen haat nie. Hy vergewe jou en wil graag hê jy moet so mooi na jouself kyk. Leef. Besluite maak. Foute maak. Verstaan. Jy is soveel meer as jou foute. Ons leer uit mislukking uit, nie uit sukses nie.”
Die ou man laat die woorde in die lug hang. Dan staan hy op, vinnig en flink asof baie jare nie ‘n tol geëis het op die ou bene nie.
Hy loop tot by die gehate bal papier. Vir ‘n oomblik lyk dit asof die papier probeer vlug, maar die ou man raap dit vinnig op. Hy kyk Kerneels in die oë, deurdringend tot in sy siel, terwyl hy die papier voor hom uithou.
“Dis net ‘n spoedlokval. Jou reis hou nie op net omdat jy gevang is in ‘n spoedlokval nie. Jy vergewe jouself vir jou fout, en jy pak die reis weer aan. Om vorentoe te kan gaan, moet jy dit wat agter jou is laat los.”
‘n Groot groep studente stap babbelend tussendeur Kerneels en die ou man. Toe hulle verby is, is die ou man weg.
Kerneels weet nie hoe dit gebeur het nie, maar dit het gebeur. Hy besef waar hy die ou man vandaan ken. Die blou oë is eintlik onmiskenbaar. Hy sien dit tog elke dag in die spieëlbeeld wat terugkyk.

Riaan Palmer

Oktober 2022 – Liriese projek

1.Onvoorwaardelik te laat

“Hoe kan ek liries raak oor iemand wat dit aan my gedoen het? Dis al klaar swaar genoeg dat ek moet gaan, nou moet ek nog maak asof ons na aanmekaar was. Asof die liefde nog daar was. Tog…sy was my ma. Sou dit anders gewees het as ek by haar was toe sy dood is? Sou ek haar kon vergewe? Sou sy jammer vir my gesê het? Sy sou my ooit daar wou gehad het? Vyf jaar. Vyf jaar wat sy my nie gesien het nie. Hy – my sogenaamde pa – is al drie jaar gelede oorlede. Kon sy my nie intussen probeer opspoor nie? Ek was nie by sy begrafnis nie. Hóm sou ek, en sal ek nóóit vergewe nie. Mense moet seker nie die haat hier binne hou nie. Dit maak jou siek. Maar my moeder…”
Skielik vloei die trane.
Ek kan dit nie keer nie. Soos die dam se wal wat breek. Vir vyf jaar het ek die krake toegesmeer met kleefband en volstruiskop, maar hierdie was die kraak wat die hele spul laat ingee het.

* * *

Dit was vreemd om weer by die huis waar ek groot geword het, in te stap. Dit was asof ek ‘n vreemdeling was. Zelda, my suster, het ‘n opgewonde gil gegee toe sy my sien, my stormgeloop en omhels.
“Dankie dat jy gekom het! Sy sou…” ‘n Skaduwee het oor haar gesig geval, maar sy het probeer opgewonde bly. “Kom! Danie en die kinders is in die sitkamer.”
Ek het haar gevolg na die sitkamer toe – asof sy ‘n vreemdeling gelei het, al het ek 18 jaar hier gewoon.
Dit is asof die huis vasgevang was in ‘n tydkapsule. Niks het verander nie. Behalwe vir een ding: daar was nie ‘n enkele foto van Pa op die mure nie. Daar was wel nog steeds foto’s van my as kind oral teen die mure en op tafeltjies. Kind. Sorgeloos. Onskuldig. Geliefd.
In die sitkamer het Danie opgestaan, sy hand uitgesteek en “hallo” gemompel. Ek kon die koue in sy hand voel. Asof emosie ‘n letterlike temperatuur was. Toe raak hy weer kamma besig met sy selfoon. Pa se kind, deur en deur.

Na die koffie, en die “vertel my wat gaan in jou lewe aan” het ek deur die huis geloop. Ou herinneringe opgeroep wat my laat glimlag het. Maar meer seer herinneringe wat van voor af wonde wat lank in donker hoeke van my geheue weggesteek was, in die lig gesleep het.
Ek het in die kombuis gaan staan, reg voor die oond. Hier waar sy haar dae vertoef het om die lekkerste gebak op te tower. Vrolik, in haar element, met ons gesels het. Hier waar ons as sy nie gekyk het nie, ‘n konfyttertjie uit die pan gegryp en in ons monde gedruk het, en dan het die vuurwarm konfyt omtrent blase gebrand op ons tonge. Sy het altyd gemaak asof sy nie die vermiste tertjies opgemerk het nie. Maar nou dat ek teruggedink het, onthou ek die ondeunde glimlag wat sy probeer wegsteek het. Dit was die mooi van my kinderlewe. Die lekker. Ek het weer besef hoe eenvoudig, tog skaars geluk is: ‘n koppie koffie, ‘n warm konfyttertjie, ‘n ma se ondeunde glimlag en ‘n liefdevolle soen op die voorkop. Geluk is ‘n ervaring wat net ‘n kind ten volle kan ervaar. Sonder die skade en wonde van die lewe, is daar net die onskuldige geluk van die kind. Tog, het ‘n kind geen waardering of konsep van wat hy het nie. As ek maar net een dag weer…
Ek het die gang afgestap en in my ou slaapkamer se deur gaan staan. Alle tekens van my bestaan was uit die kamer verwyder. Geen teken dat hierdie die eens veilige hawe van ‘n tienerseun was nie. Ek weet nie wat ek verwag het nie. Dat die kamer steeds sou lyk soos die dag wat ek hier uit is? Gereed vir die oomblik wanneer die verlore seun sou terugkeer?
Alhoewel die vertrek anders gelyk het, het die emosie nog swaar in die kamer gehang. Soos bloed wat ‘n wit hemp gevlek het – jy kry nooit weer daardie vlek uit nie.
Dit was in hierdie vertrek wat alles verander het. Dit was hier waar Ma gewys het vir wie sy die meeste omgegee het. Dit was nie vir my nie.
* * *
Dit was seker die grootste – belangrikste oomblik van my lewe. Ek het hulle vertrou met my lewe deur hulle die teerste deel van my siel te wys. Die oomblik van kwesbaarheid het baie, baie moed geverg. Hulle moes respek gehad het vir die oomblik. Vir my. ‘n Goeie ouer sou dit dalk aanvaar het as ‘n geskenk. Ek is gebore uit húlle liefde vir mekaar. Húlle het my lewe gegee. Sy het my gedra vir nege maande en my die wêreld ingebring. Op daardie oomblik wat hulle my die eerste keer vasgehou het, moes hulle – of ten minste Ma – oorweldigende, onvoorwaardelike liefde gevoel het? Liefde. Dit is al wat ek gevra het op daardie dag – daardie oomblik. Onvoorwaardelike liefde.
Ek het na hulle toe gekom, uitgeput deur die ondraaglike innerlike sielsangs, hoopvol dat hulle my weer so styf sou vashou soos die eerste keer wat hulle my vasgehou het. Dit was ‘n eens-in-‘n-leeftyd oomblik. Hulle het net een kans gehad om daarop te reageer. En hulle het gefaal. Ek is nie verbaas dat Pa gefaal het nie. Maar Ma? Niks sê nie, net daar staan, is ook ‘n reaksie
Ek het ‘n duisend keer besluit nóú gaan ek hulle vertel, maar die vrees het altyd gewen. Vrees vir die pyn wat saam met afsku en verwerping sou kom. En my vrese was op die ou einde geregverdig. Soos ‘n nagmerrie wat jy het, net om wakker te skrik en te besef dis eintlik die realiteit. Ek het hulle liefde nodig gehad om my te beskerm teen die res van die wêreld – teen die samelewing. Maar hulle was deel van die wêreld. Die “hulle” teen wie my ouers my eintlik moes beskerm.
“Moffie!”, was Pa se eerste reaksie. Geweld was sy tweede reaksie. “Ek fokken bliksem die mof uit jou uit! Geen pissie seun van my gaan my verneder deur sy kak besluite nie!” Hy het dreigend nadergekom, en ek het geretireer. Ma het ook geretireer. Sy het ingekrimp agter hom gaan staan asof sy aan sy kant was. Asof sy hom woordeloos van agter af aangepor en opgesweep het. Sou ‘n ander ma – ‘n liefdevolle ma – nie tussen ons kom staan het nie? Haar kind probeer beskerm het nie?
Pa se plathand het my wang getref soos ‘n sweep. Ek het emosieloos probeer staan, maar ek kon die trane vlak in my oë voel. Ek het in sy oë gestaar. Smekend.
“Dis nie iets wat mens besluit nie, Pa! Dis liefde, Pa! Hoe is liefde verkeerd, Pa? Weet jy ooit wat is liefde?” Dis wat ek wou skreeu, maar al my moed was opgebruik.
Toe ek nie reageer op die klap nie, toe maak hy ‘n vuis, en sit al sy woede en teleurstelling in daardie hou. Ek moes ‘n oomblik my bewussyn verloor het, want toe ek weer by my sinne kom, toe sit-lê ek teen die muur. Pa was weg. Ma het vir my gestaan en kyk, in trane. Toe, sonder om ‘n woord te sê het sy kopskuttend omgedraai en verdwyn. Min het ek geweet dit sou die laaste keer wees wat ek haar sou sien. Daardie aand het ek die vreemde van die nag ingevlug. Enige plek sou beter wees as dáár – my ouerhuis.
* * *
Die oorweldigende emosie jaag my by die kamer uit. Ek loop haastig na die agterplaas toe om te ontsnap. Ek voel weer soos daardie aand. Asof ek wil hardloop en bly hardloop. Toe ek in die tuin kom daal ‘n rustigheid oor my neer. Ma se tuin was haar trots. Regdeur die jaar – enige seisoen – was daar iets wat geblom het. Ek stap van bedding tot bedding en bewonder elke plant, wat met soveel sorg en liefde vertroetel is.
“As sy maar net haar kinders met soveel sorg en liefde vertroetel en beskerm het”, dink ek bitter.
“Dit was altyd haar tweede grootste trots,” praat Zelda skielik agter my.
“O,” sê ek sonder om om te kyk, “en wat was haar grootste trots nogal?” Ek probeer hard om nie sinies te klink nie.
“Haar kinders…”
Ek lag kliphard en draai om om te sien of Zelda sarkasties is. Hoekom sal sy wees? Sy het al die nodige liefde en aanvaarding ontvang wat ‘n kind toekom, want sy was ‘normaal’.
Die skaduwee val weer oor haar gesig. “Ma het dié vir jou gelos,” sê sy en druk ‘n koevert in my hand, voor sy die huis in verdwyn.
Ek draai die koevert om en om in my hande. Dit voel asof ek ‘n bom vashou. Voorop is my naam in Ma se elegante handskrif geskryf.
Christiaan.
Ek skeur die koevert bewerig oop, en haal ‘n opgevoude papier uit. Ek ruik die reuk van Ma se White Diamonds parfuum, maar is nie seker of dit my verbeelding is en of dit van die brief af kom nie.
‘n Brief van Ma af.
My liewe Tiaan.
Ek weet nie of jy hierdie woorde ooit gaan lees nie. Ek weet nie of jy die woorde wíl lees nie. Ek kan maar net hoop en bid dat hierdie woorde ‘n weg sal vind tot by jou.
Jammer my liewe Tiaan. Jammer sal nooit genoeg wees nie, maar weet dat ek opreg jammer is.
Ek wens ek kon daardie oomblik weer oor doen. As ek maar net geluister het na wat jy wou sê. Maar dit was vreemd vir ons. Onverwags. ‘n Skok. Ons het grootgeword in ‘n wêreld waar gay mense ‘n afskuwelike ding was. Dis by ons geïndoktrineer dat hulle sondaars is, wat net so erg as verkragters en moordenaars is. Ek weet, dis nie ‘n verskoning nie. Ek is jammer. Ek is so, so jammer, my kind, dat ek jou nie kon help of red nie, dat ek nie deur die vrees en selfhaat gesien het wat jy leef nie. Ek kan myself nie indink hoe dit moet voel om te probeer leef in ‘n wêreld wat jou verafsku nie. Nóg erger, ‘n ouer wat jou verafsku. Wat met jou gebeur het is my grootste en diepste hartseer.
Ek het nie ‘n oomblik ophou wonder waar jy is nie. Waar het jy die eerste aand geslaap? Hoeveel aande het jy sonder kos gaan slaap? Wat het jy gedoen om te oorleef? As dit nie vir jou suster en haar Facebook gedoente was nie, sou ek seker nooit die vrede gehad het om te weet dat jy nog leef en gelukkig is nie. Ek wou jou sus al gevra het om vir jou ‘n boodskap te gee van my af, maar die skaamte was so groot. Hoe kon ek my liewe kind weer in die oë kyk na wat ek daardie aand toegelaat het?
Daar was nie ‘n dag wat verbygegaan het wat ek nie aan jou gedink het nie. Ek het gedink hoe trots ek altyd op jou was, en steeds is, dat jy so ‘n wonderlike mens is. ‘n Bedagsame en liefdevolle seun. My kind wat sensitief is vir die wêreld om hom, en altyd sy bes doen om ander mense se seer minder te maak. Dit was nie net ek wat jou lief gehad het nie, ander het ook so baie van jou gedink, opreg gesê wat ‘n ongelooflike mens jy was. Min wetende dat jy self so groot kruis gedra het.
Ek moes jou gehelp het daardie aand. Ek moes hóm met die vuis geslaan het. Hy wat jou so veroordeel het, was nie ‘n tiende so goeie mens, so ‘n man as wat jy is nie. Ek het besef hoe min ons regtig weet van die mense vir wie ons lief is in ons lewens, maak nie saak hoe naby aan ons aan mekaar leef nie. En die ironiese ding is dat jy altyd so aandagtig na ander luister en hoe oplettend jy is vir ander mense se gevoelens.
Jy was so dapper daardie aand, my seun. Om jou hart oop te maak vir jou ouers, en dan breek hulle jou hart in ‘n duisend stukke. Ek het oomblikke later eers besef wat gebeur het, wat eintlik gebeur het, en ek het dadelik teruggegaan na jou kamer toe om jou styf vas te hou en te beskerm. Maar jy was weg. En my hart het ook in ‘n duisend stukke gebreek. Ek was ontneem van soveel wonderlike oomblikke saam met my wonderlike kind. Wat ons nog alles kon praat. Watter mooi herinneringe ons saam kon maak.
Sal jy my vergewe my liewe Tiaan? Onthou, behalwe vir daai oomblik van swakheid – van verwarring – het ek jou lief met alles wat ek het. Onvoorwaardelik. Ek is jou ma. Jy is my kind. Niks kan ooit daai liefde wegvat nie.
Ek mis jou.
Jou ma.

* * *
Die begrafnisgangers het met afwagting na my gestaar. Hier en daar was ‘n snik en ‘n neus wat geblaas word, wat die stilte gebreek het. Ek het gewonder hoeveel van ‘hulle’ het geweet ek was die verlore seun. ‘Hulle’ het seker almal gedink ek het geen reg gehad om iets te sê oor my ma nie. Hoeveel van ‘hulle’ het my verafsku vir dit wie ek was.
Ek was nie daar om met ‘hulle’ te praat nie. Ek was daar om met Ma te praat.
Hoe raak jy liries oor iemand wat jou vir net enkele oomblik in ‘n leeftyd teleurgestel het? Met liefde. Sy het my aanvaar vir wie ek is, want ek is haar kind. Ek vergewe haar vir haar foute, want sy is my ma. Ek is self nie sonder foute nie, so wie is ek om nie te vergewe nie?
Ek het my keel skoongemaak en na die groot foto van my ma gekyk. Ek het my verbeel dat sy voor die oond staan met haar stoute glimlag.
“My liewe Ma. Hoe sê mens totsiens vir iemand? Iemand wat my hele lewe daar was vir my. My geskraapte knieë gedokter het, my op die voorkop gesoen het as ek opgewonde was oor iets en my ‘n stywe druk gegee het as ek hartseer was oor iets. Hoe sê mens totsiens vir iemand wat jou die verskil tussen reg en verkeerd geleer het? Iemand wat jou onvoorwaardelik lief gehad het. Jy’t my my naam gegee. Jy’t my die kleur van jou oë gegee. Ek sien jou gesig elke keer as ek my eie gesig sien.
Ek – ons – is hartseer oor die dood van ‘n goeie mens. Dit is uit hierdie hartseer dat ‘n gevoel van dankbaarheid na vore kom. Ek voel geëerd om jou as ‘n ma te gehad het. Jou dood herinner my dat my tyd op hierdie pragtige planeet beperk is en dat ek elke geleentheid moet aangryp wat ek het om te vergewe, te deel, te verken en lief te hê. Ek kan aan geen beter manier dink om Ma te eer as om só te lewe nie. Ek vergewe jou. Ek vergewe myself.”
Riaan Palmer




Woorde is my asem en skryf my passie!!! Ek waardeer elke stukkie kritiek, verkieslik positief, maar kan die negatiewe ook hanteer. Dankie dat jy die tyd neem om na my werke te kyk en dit te beoordeel. Ek is n Boeremeisie in murg en been... mal oor die wye natuur van plaaslewe wat my omring Ek is getroud met die wonderlikste man (Willie). Ons is geseend met 3 pragtige dogters en 'n kleinseun en 3 kleindogters. My verhouding tot my Skepper loop baie diep en ek dank Hom elke dag vir al die voorregte en genade gawes wat ek so onverdiend ontvang... Loutering is deel van my lewe en ook daarvoor dank ek Hom daagliks want dit maak dat daar altyd groei in my lewe is...

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed