Jongste aktiwiteit:

Hennie Fritz
vir

Hennie Fritz

Lees meer bydraes deur Hennie Fritz

BRONS KLAS

Teenstellings

1.’n Verhaal op elke gesig – Hennie Fritz

“Die gesiggies in hierdie deel van die dorp is darem maar iets om na te kyk,” sê ek en my kollega vir mekaar, so amper uit een asem, terwyl ons by ons prokurower se kantoor uitstap. Die skoon vars goed geklede vriendelikheid wat agter elke lessenaar en ontvangstoonbank vir ons groet, is in suur kontras met die afgeleefde blik, doelbewuste miskyke of die wuiwende seksuele dienswerkers aan die oorkant van die paaie waar ons die ekonomie aan die gang hou; of soms dink ons so.

Die relaas oor elke mens se keuse van waar en wat hy is, is sekerlik al rug-af gery, maar dit is egter ons medemense se gesigte wat meer as gereeld by my spook; die sogenaamde goeies net soveel soos die sosiaal onaanvaarbares. Alhoewel, indien ek konsekwent daaroor moet betrag, dan bepaal die sosiale struktuur waarbinne ons leef grotendeels wat en wie aanvaar word, en wát nie.

Verlede Sondag moes ek en ons enigste oorblywende tienerseun noodgedwonge die groen heuwels van ons slaapdorp verlaat om laatoggend die amper verlate strate van ’n Elsiesrivier op pad kantoor toe aan te durf.

Ná die kantoorbesoek wou ek sommer brandstof vir die binnebrand van die sedan ook ingooi. Terwyl die dampe van die vars vloeibare loodvrye goud lustig rondom ons hang, trek daar ’n Cortina met dampe van sy eie langsaan by die pompstasie in. Die manne sit voor en die twee vrouens met die kind sit agter en almal rook; by gebrek aan ’n suurstofmasker, so ook die jongeling. Die musiek op die andersins stille Sondagoggend is blêrend uit die een of ander Afrikaansdans – of Sokkie en jol- of so iets-album. Die bestuurder stamp sy stompie in die hoek van sy mond en sleep sy plakkies oor na die gerieflikheidswinkel terwyl hy sê-vra “50 bucks”.

Sy oorpakbroek is nie baie skoon nie en op die Cortina se “bonnet” sit daar vatmerke as getuienis van ’n onlangse herstel. Die ou karre is mos so en sommige van hul eienaars ook.

Ons seun staar hangend, half skuins, hier voor my verby om die Cortina en sy mense beter te sien; hy ken nie die werklike lewe Cortina’s nie en sommige van hul insittendes nog minder. Hy kom nie aldag in aanraking met Afrikaanse mense, sogenaamd sý mense, wat Sondae raas, oorbelle deur hul oogbanke dra en hul hare snaaks sny nie. Hy weet almal dra deesdae tatoes, maar nie die hondjie-, hartjie- en cupido-prentjies van goedkoop tatoe-kunstenaars uit dele van die dorp wat hy nog nie van gehoor het nie.

Hier voor my kan ek die glimlag van verwondering van sy gesig sien afgly terwyl hy skielik besef dat hy ’n nuuskierige toeris in sy eie stad is!

Die bloedbelope koue terugkyk wat hy uit die Cortina kry, bevestig hom as ’n vreemdeling in hierdie dorp.

Sy mooi skoon seunsgesig in die venster van ’n netjiese blink voorstedelike sedan is meteens net so uit sy plek soos die vrou met die toutjieshare en die stompie by een van ons vooraanstaande tantes se Saterdagoggend tee-onthaal en daarmee saam, al die sondige vooroordeel wat die vergelyking mag dra.

Die jong professionele vrou, ’n regsgeleerde in ’n netjiese ontwerpersrok, sykouse en keur juwele, se oë glimlag saam met die spierbewegings om haar mond toe ons manne ’n grappie tydens ons bekendstelling gister maak. Sy is gemaklik in hierdie omstandighede en die plek waar sy haar bevind. Sy hoef nie te veel oogkontak te maak nie en haar vriendelikheid strek tot aan die einde van die armlengte wat genoeg is om die dagtaak verrig te kry. Sy het ons nie nodig vir meer as wat sy wil beding of beoog nie. Dít is moontlik waarom haar beroepskorrekte gesig aanvaarbaar en vir ons as honger-en-dors-na-skoner mense, selfs buitengewoon aantreklik sou wees.

Op die hoek oorkant ons kantoorgebou is daar ’n geboë man wat so onlangs soos maande gelede ’n jongman was. Hy was lenig, maar gespierd met lang hare, eintlik amper aantreklik en goeie tande.

Toe het hy straat toe getrek.

Daar kan hy nie om vlugtelingstatus aansoek doen nie; hy kan nie ’n uitreik van enige goedsdiens-organisasie verwag nie, want hy is een van te veel wat opgegee het. Hy en ander soos hy, is nie ’n vlugaansluiting en nog ’n dag te perd ver van die sogenaamde Westerse beskawing af nie en hy sit nie vasgegordel agter die ystergordyn, of êrens in die Ooste nie. Hy word vir nie vir sy geloof, of selfs gebrek daaraan, vervolg nie; hy is net hier.

Sy verlies aan behoorlike breinwerking, die insinking van die laaste deel van sy menswaardigheid en elke kosbare gram goeie chemiese denke, is saam met sy liggaam, sy hare en sy tande daarmee heen. Sonder seremonie en aankondiging het hy net tot niet gegaan.

“Dis sy eie skuld!” gil ons almal van die sypaadjie af en uiteraard elke hardop stem met genoeg meriete daarby: “Ons ken sy soort!”

Ons slim mense, ons ontwikkeldes, geleerdes het die vermoë om vinnige afleiding uit gesigte te maak en om dit dan te gebruik om ons ‘n voorsprong in die voorspelling van ’n persoon se karakter en gedrag te gee. Dit help ons om te onderskei wie is gesond en wie lyk siek. Dit laat ons onderskei wie om te vermy, wie jy kan terg en wie dalk sy beuel geblaas wil hê.

Gesigsoordeel gee ons ‘n gevoel van ’n ander se godsdienstigheid, seksuele oriëntasie, losbandigheid, aggressie, bekwaamheid, afhanklikheid, intelligensie, en selfs betroubaarheid! Dit alles net op die sigwaarde van hoe hulle lyk en op sterkte van jou en my insigte; dieselfde oë waarna ander na jou kyk my ou!

Soms kan ek ‘n boek deur die omslag oordeel, maar meer as gereeld, speel daar ’n verhaal op elke gesig wat ek ontmoet. Kyk ’n slag na ’n ander mens se gesig en doen jou bes om hom of haar raak te sien, want as jy nie die skeet van ’n stukkende mens daarná kan herken nie, is die oordeel net op jou!

Hennie Fritz

September 2018 – Spyse vir die siel projek

3.Dalk is dit nuus 

Êrens in die wye Kaap slaap daar vanaand ’n motortjie of dalk ’n mens of ’n dier onder ’n seil wat nie aan hom, dit of haar behoort nie.

My openingsreël hou nou nie juis besondere nuuswaardigheid in nie, maar dit was tog die wekroep wat my sluimerende kwelling oor vrae met én sonder antwoorde vandag nodig gehad het …

Die werklikheid waarin ons lewe, is dat daar ontelbaar baie nuuswaardige dinge elke oomblik van elke dag in ons lewensruimte ingepomp word. Laasgenoemde is op sigself nie aardverwarmende nuus nie.

Die ander werklikheid is dat daar nie een oggend of ’n aand is wat ek en die geliefde nie ’n meestal nuttelose nuusopskrif met mekaar deel en soos vername ontleders, sonder antwoorde, strompel om kommentaar oor “21 mynwerkers het hierdie jaar al gesterf; drie plaasmoorde binne 26-uur; Zetler se moord; ‘n vermiste tienersokkerspan in Thailand; Ashwin Willems … Roger Federer … Julius ….” en die kuberkrakers en die geldwa-rowers en … ons kind se kar se seil wat vannag gesteel is, te lewer nie!

Vir ’n aantal maande is dit asof ek net nie die gedagtes wat normaalweg redelik gemaklik en gereeld in my gemoed rondwip, kan vastrek en neerpen nie.

Ek het soms getwyfel of dit werklik ék was wat die lawwe opstelletjies en ander goedjies die afgelope sewe, agt jaar geskryf het en of dit nie maar net ’n stowwerige herinnering aan ’n tydelik beheptheid met gevoelens en sulke goeters was nie.

Ek het soms net na my gedagtes gesit en staar en probeer sin maak uit die absolute gebrek aan skryflus, om selfs nie eens van die afwesigheid van ordelike denke te praat nie!

Ek het meer as telkemale die afgelope maande kriewelrig voor my eie oordeel geswig en sake-, mense- en geestesgoeters laat verby seil sonder om ’n stap nader aan my eie ervaring daaroor en daarvan te gee.

Dit is en was ’n toestand wat my gefrustreerd en hartseer en befoeterd laat; ’n toestand wat my herinner aan die dae toe ek die krake toegestop het, eerder as om dit oop te krap en te wys; ’n toestand wat sekerlik nie sonder rede ontwikkel het nie en waaraan iets gedoen kan word.

’n Ruk gelede het ’n ander kerkmens se beskouing, dat skrywers soms die mag van die pen misbruik om agter te skuil, my nogal onkant betrap, amper soos ’n nommer 10 wat beide die flanke en die bal gelyktydig teen sy bors moet vang!

Onderstebo sê ek jou.

’n Keerpunt in my soeke na skriftelike lus was egter toe ’n sosiale blad se vriend die afgelope naweek Martin Luther aangehaal en met ’n onbeplande insetsel en so die struweling in my gedagtes na ’n slotsom help vervoer het met: “As jy die wêreld wil verander, tel jou pen op en skryf.”

Dít is wat joernaliste die wêreld en internet vol doen. Elkeen wat ’n rubriek of ’n artikel oor die een of ander leeswaardige gedagte/gebeurtenis/persoon/land/span of planeet kan skryf, doen so en elke uitgewer op elke nuusplatform en publikasie gryp dit, betaal dit en versprei dit.

Die een wat die nuus vinniger en verder kan versprei wen die resies vir ’n oomblik, tot die volgende oomblik wanneer die volgende nuusberig die wêreld tref asof dit die tol van die bol wil tilt!

24 uur van elke dag en elke keer wanneer ek my slim-foon optel, die rekenaar oopmaak; tydig en ontydig, genooid en selfs ongevraagd.

Die nuus is voor my aangesig, ek sien dit, lees dit, glo dit … daar tussen my gemoed en my gedagtes dring die nuus hom in en soos die einste nommer 10, skop die nuus die wil vir iets meer en beter die pawiljoen in.

Weg was my behoefte om ’n “wêreld te wil verander” en weg was my oortuiging om bo die swaartekrag van ons omstandighede uit te beur en my selfverloëning te keer, om die “pen” op te neem, om die gedagtes wat tussen my “hart” en “verstand” vasgevang sit uit te kry, al is dit net vir myself.

Vriend Jannie het baie jare gelede vertel hoe hy die nuusdraers van daardie dae, dit is: koerante en die draadloos en die insypelaar van die gesinstyd, daardie telekommunikasiestelsel vir uitsaai en ontvangs van bewegende prente, oorwegend uit- en afgeskakel het. Hoe hy sy tyd en gedagtes eerder op die dag se beter prioriteite en sy mense leer bestee het; en Jannie is reg.

Die beswaarmaker-saamlesers sal beslis nou te velde kan trek en standpunte rondslinger dat “’n mens moet weet wat in die wêreld aangaan” en dat “net ’n volstruis sy kop in die sand druk” en hoop dat die gevaar sommer self sal weggaan.

Elke denker en volgeling van die nuus sal uiteraard suiwere waarheid in hierdie argument vind, behalwe ek.

Ek wíl weet wat in die wêreld aangaan, wanneer ek verkies om te weet; ek wil ingelig en bekommerd raak oor die nuusopskrifte en moorde en dit en dat, sonder dat dit my besonderse denke daagliks verswelg. Ek wil my gedagtes daaroor brei en giet in ’n vorm wat my pas, sonder voorskrif of ’n ander se beheer.

Op neef Philip se koffietafel het daar altyd ’n beeld-afdruk van “Die Denker” gestaan – miskien staan dit steeds daar, ek weet nie.

Die krom kaal manlike figuur sit peinsend oor sy hand en staar; diepdenkend en vir my ’n versinnebeelding van hoe kwesbaar ’n mens onder die kwelling van vrae met én sonder antwoorde kan wees; hoe kwesbaar ’n gemoed teen die aanslag van die nuus kan wees.

Dalk is dít tóg nuus.

Hennie Fritz




Woorde is my asem en skryf my passie!!! Ek waardeer elke stukkie kritiek, verkieslik positief, maar kan die negatiewe ook hanteer. Dankie dat jy die tyd neem om na my werke te kyk en dit te beoordeel. Ek is n Boeremeisie in murg en been... mal oor die wye natuur van plaaslewe wat my omring Ek is getroud met die wonderlikste man (Willie). Ons is geseend met 3 pragtige dogters en 'n kleinseun en 3 kleindogters. My verhouding tot my Skepper loop baie diep en ek dank Hom elke dag vir al die voorregte en genade gawes wat ek so onverdiend ontvang... Loutering is deel van my lewe en ook daarvoor dank ek Hom daagliks want dit maak dat daar altyd groei in my lewe is...

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed