Jongste aktiwiteit:

Estelle Rubow
vir

Estelle Rubow

Lees meer oor Estelle

BRONSKLAS

Oktober 2017 – Fees projek

3.Dagbreek oor Brandberg    

oor diep geplooide pers ravyne breek ‘n nuwe dag
die berg vat vlam in roes en rooi, ‘n skone simfonie
die oggend breek oop soos ‘n volryp vrug – ‘n fees, ‘n harmonie
die berg ontwaak in goue glorie ná die donker nag

hy kaats vir jou die oggendson in die kleur van ryp granaat
en oor sy kruin van rooi graniet loop snags ‘n melkwegstraat

Estelle Rubow

November 2017 – Oop projek

Eervolle vermelding

As daar ’n god . . .

as daar ‘n god die ewigheid beskik
skepper van ruimte en van tyd,
wat materie en energie
in die groot heelal rangskik
itspansels sonder einde of begin
in ‘n grootse kosmos orden

lê vir my waarheid in die melkweg
in die spel van lig en donker
die opkoms van die son en maan
in seisoene wat kom en gaan
waar ek, so klein en nietig mens,
in hierdie groot verwantskap staan

Estelle Rubow
Desember 2017 – Kersvieringe projek

1. ’n Kerswens aan jou   Wenner

Ek wens vir jou ‘n kersfees
met die soetste druiwe uit die kaap
met vonkel in jou druiwesap
en ‘n huppel in jou stap

Ek wens vir jou waatlemoene rooi
en appelkose in jou boord,
– met goue sonlig in die vrug –
wat wit bloeisels om jou strooi

mag die somerson se skynsel
‘n aandblos op jou wange los
gevolg deur goue dae en silwer nagte
– dis aan jou my kersfeesgroet

Estelle Rubow

Eervolle vermelding

Kersgroete uit die Namib   Eervol

Ek pluk vir jou die blinkste ster
uit die Namib se hemelruim
soos die een in Bethlehem
lank gelede in die Judea-woestyn
om vir jou die lig te wees
aan jou voet die weg te wys
waar jy op vreemde paaie reis
sodat jy in gees met my
kan wees in hierdie kersgety

©Estelle Rubow

Februarie 2018 – Liefdesprojek

1. Daardie dae

 onthou jy daardie dag
– ek dink dit was oktober –
op ‘n sonnige agulhas-strand
wolkies wit soos rafels kant
die vonkelwyn se borrels
het deur my hart gebruis
jou belofte kon ek hoor
bo die branders se geruis

onthou jy daardie dag
– iewers laat in juliemaand –
in ‘n koue nat namakwaland
die warm gloed van muskadel
het deur ons bloed gevloei
by die kaggelvuur se hitte
kon ons vervulling vind,
daar is ons vir altyd aan mekaar verbind

herinneringe vir ons oudag
van ons lewensreise saam
gebeure in ons lewe
wat ons elke jaar kan vier
nostalgiese gedagtes
die bitter-soet onthou
gevul met somerson
en goue uur
die warm gloed van muskadel
en soms ‘n kaggelvuur

Estelle Rubow

SILWERKLAS

Maart 2018 – Digkuns projek

1.Skedelkus

in ‘n oer en vreemde land
op ‘n afgeleë verlate strand
soekend na vergane skepe
– net nog dryfhout in die sand –
skedel skulp en seewier in die son
kaats lig in pers en perlemoen
en aan ‘n soutlagune se soom
lê die karkas van ‘n kormorant

waar heuwels teen die blou lug welf,
in golf en lyn en kleur vervloei
word klip en rots en bleker sand
‘n skeidslyn aan die horison
in hierdie groot verlatenheid
waar wind en see my siel wil sus
hier vind ek vrede, vind ek rus
in die stilte van die skedelkus

Estelle Rubouw

2.Soms

soms is jy vir my die skaduwee
soos wolke voor die felle son
wat swart geskroeide vlaktes laaf
kortstondige oases skep
waar ek soos in ‘n koel fontein
‘n oomblik weer tot rus kan kom

soms is jy vir my die somerson
wat deur die blare speel
in ligkolle teen mure dans
soos skoenlappers in spatsels geel
het jy eens my hart kom steel
en aan die son gehang

soms –
as die strand in pienk en wit flamink
en die branders uitspoel op die sand
as die seemis teen die hemel sprei
en koraal lig op die strand neervlei
wil ek in pers en sagte blou
vir jou sê hoe lief ek jou

Estelle Rubouw

April 2018 – Paasfees projek

1.Paasfees in Palistina 

Dis Paasfees in Jerusalem.
Duiwe sing hul lentelied
in palms en olyfbome.
Pelgrims volg die lydensweg
in die voetspore van Jesus.
Met die Via Dolorosa
stap hul die Pad van Smarte
tot waar duiwe draai oor Golgota.
Bokant die Grafkerk van die Heiligste
skitter duiwevlerke in die son,
word die aansteek van die Vlam
‘n simbool – ewige lewe van die Lam.

In Palestina is dit lente
waar papawers bloedrooi bloei,
Onder beleg volg Nazareners
die ou pad na die stal
in Christus se Geboortekerk
wyl die “ster van Bethlehem”
wit onder hul voete blom.
Tussen ruïnes by die Gazastrook
waar lewerike broei
weergalm helder hulle lied
bo chaos en verdriet.

Hoe lank nog sal in Bethlehem
die Heilige Vuur se vlam steeds skyn
eer dit verswelg word deur die drif,
die drang na mag en grondbesit?

Estelle Rubouw

Februarie 2019 projek

2.Onsterflikheid 

In ‘n tydelike staat van net maar wees
skulp ek soos die kluisenaarskrap
in ‘n liggaam net geleen,
in die hier en nou maar nietig mens,
verganklikheid van bloed en vlees.

My aardse bestaan deur tyd bepaal
– die uurglas wat my lewe rig –
die opkoms van die son en maan,
seisoene se siklies’ kom en gaan
van my verwyling hier die somtotaal.

Maar my bewussyn, ja my siel
– nooit gebore of gesterf –
swerf saam met golwe van die tyd
wat om en om en op spiraal,
geëien deur die ewigheid.

©Estelle Rubow

Mei 2018 – Moeders projek

1.Ons kombuistaal Afrikaans 

Om die kospotte van ons moeders
in die smeltkroes aan die kaap
in gesellige kombuise
het ons ons taal leer praat

kaaskop en duusman,
maleier en khoi
het elkeen sy deel in die potjie gegooi
‘n knippie van dit, ‘n knypie van dat
met ‘n skeutjie wyn so reg uit die vat,
van springbok en koedoe is biltong gemaak
bobotie met blatjang en borrie vir smaak
‘n mengelmoes Hollands en Engels en Frans
word toe ‘n aitsa gesels-Afrikaans!

Estelle Rubouw

Junie 2018 –  Poëtiese orde projek

1. Oggendlied 

as die nag nog huiwer in indigo-blou,
my droom nog soos misvlae
aan onwerlikheid klou,
ryg flaminke hul groet
aan die seewind se grou

wyl misslierte uit die naglug wyk
sing die bossanger borrelend
die morestond rooi,
breek sy bruisende liedjie
die dag wondermooi

die see lê wyd en baie blou,
kaats sterre na die son
kormorante vleg ‘n swart lint
aan die westerkim,
en op die strand lê die veer
van ‘n pienk flamink

Estelle Rubow

Julie 2018 – Oop projek

3.‘n Dag soos dié 

die dag was winderig en warm
– soos dit maar met ooswind gaan –
dit ruk en pluk als heen en weer
en dwing die stof deur elke skeur

maar hierdie dag was anders…

wolke het soos skepe
voor die son verbygedryf
die son’t tussen wolke deur
strepe silwer oor die see geverf

en later, toe die wind bedaar
het die son ook laag gaan lê,
die wolke, lug en see getooi
in klatergoud en rooi

hierdie dag was ongewoon,
vol wind en kleur en skaduwees
‘n dag soos dié kom nooit weer nie,
nooit presies weer só nie

©Estelle Rubow

Augustus 2018 – Haikoe projek

1.Haikoe 3 

Vriend’lik geel die lig
van die kers se flikkervlam
… pynlik tog die skroei

Estelle Rubow

September 2018 – Spyse vir die siel projek

1.Sonnet vir my siel 

my siel smag na die stil woestyn
soos ‘n hert smag na die beek
waar ek soos in ‘n blink fontein
my dorre gees kan week

waar rante swart teen blou lug welf
en soutpanne in wit kristal
(lank nie meer die sout gedelf)
hul kunswerk in die son uitstal

waar verlate, vlak valleie
die sonlig in spookpoele kelk
die vlaktes bleek, beskeie
onder die aanslag van die son verwelk

… ek wil een word met dié somber land
die stil bestaan van klip en sand

©Estelle Rubow

Oktober 2018 Projek

1.Reën in die groot karoo (Pantoen) 

as dit reën in die groot karoo,
druppels op die stoepe dans
en griffel teen die vensterruite,
wil ek soos aurora in groen satyn
druppels op die stoepe dans,
dans met die reën daarbuite
wil ek soos aurora in groen satyn
gly op die rug van twee reënboë,
dans met die reën daarbuite
en griffel teen die vensterruite,
gly op die rug van twee reënboë
as dit reën in die groot karoo

©Estelle Rubow

2.Persiese kwatryne 

tenger beur wortels na beneë
na water wat moet lewe gee
hul te verlos uit ‘n bitter lot
wat hul moet aanvaar, gedweë
*********
Outeniekwawoud gaan sy eie gang
bergstrome paar met voëlgesang
spruite gevoed deur verrotte blaar
bars uit in groei wat dood vervang
********
eensaam tussen rook en as
‘n stil figuur, gebreekte glas
dwaal sy deur ruïnes
wat eens haar toevlug was
*********
drome van lig en kleur gestroop
my woordlose krete stom van nood,
nou dwaal net nog spoke
in die skemer stilte na jou dood
©Estelle Rubow

Januarie 2019 Projek

2.Nuwejaar 1 

stadig breek die dag
die son baar ‘n nuwe jaar
nuwe lewensweë
mag somerson se skynsel
‘n blos op jou wange los

Estelle

Mei 2019 projek

1.Die lekker lewe 

Ek bring vir jou presentjies
in kardoesies van papier
samoesas uit die bo-kaap se
ou Slamaierwinkel
(daardie een van Leipoldt
waar dit so lekker kon rintinkel).

Ek koop vir jou koeksisters
by Saterdag se kerkbasaar
(met die soetste, soetste suikerstroop
wat teen jou ken afloop)
ek bring dit in ‘n bruin kardoes
want dit verdryf die Sondag blues.

Ouma se kardoesies
gelaai met lekkernye
(dadels, mebos, droë wors
of ‘n pluksel plomp ryp vye)
was versier met mooie prentjies
– haar idee van klein presentjies.

Ons het so graag gaan fliek
by die Vrydag-matinee
(Funny Girl en My Fair Lady
en Old man from the Sea)
al peuselend ons springmielies
uit krakende kardoesies.

In ‘n lewe van plastiek
het kardoesies opgeraak
maar al gaan dit goed of gaan dit woes
leef ek steeds die lekker lewe
(in Leipoldt se rooibont kopdoekkleure)
uit ‘n bruin papierkardoes.

©Estelle Rubow

Junie 2019 Projek

1.Winter aan die weskus

Die son het ongesiens verbygegaan
versluier en verberg
die mis het soos ‘n grys gordyn
als onderlangs verdwerg.

So het die dag verbygesleep
grou en grinterig
die see gedemp, ‘n meeu
geruisloos in die somber lug.

Die middag laat het opeens die mis
soos ‘n oester oopgebreek
en die golwe, woes en blou soos ink,
het met die son gespeel.

Estelle Rubow

2.Winter in Stellenbosch

Die reen sif nou al dae en nagte lank
in winterskemering oor
naakte boom en wingerdstok,
en oor my dak se reeds deurweekte nok.

Die wind sug stil, eentonig
– asem sonder drif –
wyl lewe langsaam pols
in ‘n staat van diepe slaap en rus
die eike woord’loos skeletaal
half versluierd in die mis.

In Dorpstraat staan bankies
– reëndeurdrenk, verlate –
Die Braak lê soos van wans af braak
en die bome drup-drup in oordenking
hul eie reëntjie oor die deurnat gras.

Estelle Rubow

GOUEKLAS




Woorde is my asem en skryf my passie!!! Ek waardeer elke stukkie kritiek, verkieslik positief, maar kan die negatiewe ook hanteer. Dankie dat jy die tyd neem om na my werke te kyk en dit te beoordeel. Ek is n Boeremeisie in murg en been... mal oor die wye natuur van plaaslewe wat my omring Ek is getroud met die wonderlikste man (Willie). Ons is geseend met 3 pragtige dogters en 'n kleinseun en 3 kleindogters. My verhouding tot my Skepper loop baie diep en ek dank Hom elke dag vir al die voorregte en genade gawes wat ek so onverdiend ontvang... Loutering is deel van my lewe en ook daarvoor dank ek Hom daagliks want dit maak dat daar altyd groei in my lewe is...

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed