Jongste aktiwiteit:

Anzé Bezuidenhout
vir

Anzé Bezuidenhout

Lees meer bydraes deur Anze

BRONS KLAS

Teenstellings projek 2016

3.Oorwinningsgloed

soos ongesuurde brode
het die oudag in jou oë gebreek
terwyl jou mond sag oor die wonder
van Pasga spreek –
dan het die oewers van jou Eufraat
wreed in twee geskeur
tot waar die souttraan
oor jou wange, die dors
moes voed

laat die bitter beker
eens verbygaan;
vergeef dan tog hierdie
wanhoopstraan, en
die eenvoud van
my karig’ bestaan
hier waar ek op stofpaaie
van die lewe gaan
kom was my in die wonder
van die Ewige Bloed
omkring my in U,
Oorwinningsgloed

© Anzé Bezuidenhout

Carpe diem projek 2016

3.My hartedief

koesterend speel die sonstrale
oor die kartels van my lyf
met warm vingerhale
word koue uitgedryf

elke oomblik vasgevang
soos ‘n helder reënboog
in my hartkamer gehang
laat ‘n vonkel in my oog

neurie ek jubelend saam
geniet elke kosbaar oomblik
vergeet van verborge traan
want die lewe is heerlik

ja, die lewe is ‘n lied my lief
en jy bly ewig – my hartedief

© Anzé Bezuidenhout *Engelse sonnet

PROJEK LIEFDE VIR AFRIKAANS 2016

2.Kleurvolle Josefskleed

Ek is een van die Evasvolk
wat bidblind broos
deur emosies kolk
soos wanneer die son
wil kartelbreek ook horison
dan tuimel ongebruikte
alfabetletters
in *bont stiltes oor die
oewers van my praat

Hier hang ek verskeurde
lanferlappe van
anglisismes;
met engels bevlek
aan die winkelhak van
Afrikaanse genade
koop so ‘n nuwe vrede

Vreugdevol klee ek
myself met die HAT
en spelreëls van welleer
dan dans die letters in ink
soos ‘n kleurvolle Josefskleed
in ‘n nuwe jubelgesang

© Anzé Bezuidenhout

*Leen woord/beeld Ingrid Jonker

Lente projek 2016

3.Lente-kotiljons

Wie rig my seisoene
as ek rondomtalie
deur windvlaagtes
van oos na wes;
kromgebuig
deur hittige somer beur,
in nurksheid deur
amber van die herfs
my pad probeer vind,
ploeterend
deur wintersreën
om dan uitbundig
te kotiljons op
‘n lentelied,
terwyl ek in
verborge gange
*spog-jasmyne kweek
om hierdie swarthond
se gehyg te breek.

© Anzé Bezuidenhout

*Leen woord Antjie Krog

Oktober projek 2016

2.Vir jou plant ek ‘n Seder

vir jou plant ek ‘n trotse seder
om die wind se stem te keer
stuur ek die klanke van ‘n tortel
om jou diep binne te kalmeer

want teen jou bors anker ek my onrus
die nietigheid van my wees
dis in die olyfboom van jou vrede
waar ek my daagliks salf

dis by jou voete waar ek oor genade vra
want jy weet hoe om my verset te vertaal
jy ken die verskuilde Didimus in my
maar ook my honger en my dors
wat ek net in jou koelte kan les

vir jou plant ek ‘n trotse seder
teen die Outeniqua berg
omring met protea en fynbos
en ook ‘n varingblaar
om deur jou hare te vleg

© Anzé Bezuidenhout

3.Alcatraz

Op ‘n verlate eiland
het ek na jou gedelf
maar al wat ek kon kry
was versteende ghwano
op die vensterbanke
van ‘n gepansterde
Alcatraz.

Swart tralies het
jubelklanke toegespin
terwyl die kras van die seemeeue
die bleek uit my irisse steel
en verdwaalde krappe
het sku onder die gruis
van my voete kom teel.

© Anzé Bezuidenhout

Silwer klas

‘n Stem vir Gesondheid – 1 Nov tot 30 Nov 2016

1.Guillain-barré

As die groot boom van die Libanon ‘n klaaglied huil
en oornag ‘n reus se krag ongevoelig kom steel
is daar nêrens ‘n plek waar my warboel emosies kan skuil
wrang kronkel my gedagtes deur ‘n verwronge druiweprieel.

Deur die kosbare silwerkroon, fluister skeefgetrekte woorde
op die lispelgange van kromgebuigde takke
vorm letters; (dom) in totale wanakkoorde
soos blomme deur verdraaide en vergete wrakke.

Met sy lugweë tot koggel-klank erg gestriem
so asof tongverdroogde woorde tot krummels val
terwyl trane deur verwese ooglede priem
en vuiste onmagtig bal.

Dan veredel ek my liefde in elke kosbaar blaar
terwyl ek steeds in weemoed na hom staar.

© Anzé Bezuidenhout

2.Genade van ‘n insulien naal’

Onder die moegheid wat my neervel
ontbrand in my hierdie geweldige dors
weet ek dat daar iets met my geduld skort
as my tong verdroog in ‘n woestynkors.

In die bose kringloop van ‘n oormaat glukose
draf ek paaie na die gemakhuis
ontbind in my ‘n ongekende bose
maak die siekte hom stil in my tuis.

Dan begin my visie met my parte speel
ook amandel wat in wasems in my asem ruik
sal ek ooit weer kan sluk verby die knop in my keel
hoe bedaar naarheid as ketoasidose al my krag gebruik.

Deur die genade van ‘n insulien naal’
word my toekoms dan ongevoelig bepaal.

© Anzé Bezuidenhout

April ope projek

3.Ek wil deur jou storm breek

ek wil my woorde
soos ‘n vlamrooi klimop
teen jou latwerk laat rank
jou siel met Picasso-woorde
op die sagte moeseliendoeke
van jou oog se kyk verf
deur die vloed van jou drif
wil ek oor branders loop en

D A N

deur jou storm breek
waar ek in jou wese
(asemloos en stil)
anker gooi

©Anzé Bezuidenhout

Mei 2017 – Moederdag Psalm/Vonkfiksie projek

2.Korale van moederliefde

in die ooptes van die velde
waar ribbokke vry kan wei
tortel jou koesterwoorde
teer deur die gange van my hart

met die krag van geloof
aan moedersknie geleer
loop ek ‘n stormbende plat
word my tafels met olie gesalf
en Vrede bedrup my lewenspad

meer suiwer as diepsee korale
kosbaarder as perels, is die kyk in jou oë
as jy vir my berge wil versit
welg’luksalig wandel ek met jou voorbeeld
op God’s pad word my liefhêdade nimmer moeg nie

© Anzé Bezuidenhout

3.Die seën van jou kindskap

vir die musiekleier ‘n psalm van Anna
‘n kneg van die Alleshoogste welgeluksalig is hy
wat die liefde van ‘n moeder besit
die hitte van haar omarming beleef
in die geheimenis is jy kunstig
in haar lende geweef
met moedersmelk reeds
is jou siel gevoed met ewigheids-spyse
jou hoof met olie geseën en;
het jou tree in groen weivelde vertoef
wyl jou tafel oorloop van liefde
omdat jy in jou kindskap haar eer
sal jy jubel in jou grondgebied en
geen onheil by jou tent ervaar nie

© Anzé Bezuidenhout

Junie FAK projek

3. Flankeer gedagtes

soos ‘n lanterfanter*
drentel jy deur bos en dal
daar by Tafelberg se kant
neurie jy jou omgee
sing jy van blomme en
die blou-blou see

spoorlangs verby die storm-en-drang
wat steeds flenter en fladder
deur die omwenteling
van jou onthou
dan sing jy maar weer van blomme
en die blou-blou see

flankeer jou oë deug’loos
tussen lettergrepe rond
gryp jou vingers
na’n nuwe môrestond
en prewel jy vir oulaas
van blomme en
die blou-blou see

© Anzé Bezuidenhout
FAK- Sing jy van blomme

*lanterfanter – leegleer

Julie oop en nuwe projek

3.In die begin
pruttel -gedagtes
versamel bont-letters
in dryfhout uit my hart;
nes ‘n hemelse lullaby
versamel dit nektar
deur skerfieswimpers
om inktrane
op papier
te drup

skei dit die lig
van duisternis
(soos in die begin)
en daar staan geraam
die verskil tussen
goed en kwaad
in dié boom van
mensgemaakte
wraak

so kom die dae dan
waar die son sy tree
moet maskeer
sodat gevegstyd
stil kan staan
vir ‘n nuwe vrede
om te begin

(soos in die begin)
– en ook dit
was goed

© Anzé Bezuidenhout

Eervolle vermelding:

My bastion

in die donker dae
toe my asem stom
(soos kameelboggels)
in my oë gehang het,
het jou omgee en
stil verstaan
soos ‘n Josefskleed
om my gevou

toe die aasvoëls
se aanhoudende gepik
my uitmekaar wou skeur
en hadidas se stemme
my mal wou maak
het jy ystermure
om my broosheid
gebou

deur stormwinde
wat riete in my pols
wou knak en buig
het jy deur die git
van my hartsmandjie
gebreek en saggies
vir my nuwe vlerke
gekweek

jou wese is my bastion
want in jou stilte
het ek my vrede
gevind en
in jou palms
die wonder
van ons toekoms
gesien

© Anzé Bezuidenhout

Augustus 2017 – As die seisoene draai projek

3.Kerende seisoen

skarlankenrooi bloeiselbreek my lag
deur die klanke van ‘n nuwe skeppingsdag
verby die natwimper worstelings van gisterdae
wat wou dolosgooi in my hart

benede Hemelse vaandels
reënboog ‘n wedergeboorte
onder hisopstingels wat edik verruil vir wyn

dan bars ‘n drie-uur-duisternis
oop in die soel songroet van jou vat
terwyl jou mond warm in myne ‘n nuwe herberg vind

met die kerende seisoen daal nuwe vrede soos ‘n duif
wat fontein in die kronkels van my hart

© Anzé Bezuidenhout

September 2017 – Seisoene projek

Eervolle vermelding:

Seisoenspore
die maanblom se geur
rank vanaand ‘n sirkel
om die sekelmaan
terwyl my woorde
bruê bou
tussen gister en nou
die geroep van die kolganskuikens
breek die son en
weef ‘n altaar
met brokkies goue lig
so draai die seisoene
altyd op hul spore terug

© Anzé Bezuidenhout

Oktober 2017 – Fees projek

3.Heilige fees      

deur oseane sal ons hande hou
soos deur duinesand wat korrel en skuif
harte wat koer en fladder soos ‘n duif
my hart vir ewig aan jou toevertrou . . .

my woorde kniel heilig voor jou voete
hou fees in jou liefdevolle koelte

© Anzé Bezuidenhout

November 2017 – Oop projek

Eervolle vermelding

Uurglas-tyd

diep binne my fladder die geur
van gedroogde Jasmyn
terwyl my oë skipbreuk ly
onder tortelklanke

dan prewel my kwesbare mond
strofes van sprokie-vervullings
van ons kosbar’ eenword
in die ure van ‘n breekbare nag

so breek snedes van sinne in
spinneweb deur die blare en
waai soos fakkels hemelwaarts
tussen tak-silhoeëte weg

in pais kom breek ‘n sonsoen op my vel
ek vang die uurglas-tyd in die palm van my hand
sodat geluk stil sy herberg kan vind
op die spore van die wind
 
© Anzé Bezuidenhout

Desember 2017 – Kerviering projek

Eervolle vermelding

Genadereën   

hier in die hartklop van Suid-Afrika
wil ek aan jou, in jou eie taal
vertel van ’n nuwe seisoen
van die oer-ou Kersverhaal

in die begin was alles woes en leeg
“Laat daar Lig wees” het God gesê
die somerson het jubelend
oor Afrika gebreek
terwyl ’n Hand vol sterre
sawens nou die Suiderkruis
in engellig laat blom
so kan ons altyd weer
op ons roete na Hom toe kom

toe, in die stad van Betlehem
klingel daar die engelkoor
saam met die klanke
van die Heil’ge Kind
en iewers kan jy hoor
hoe fluisterbid
die somerwind:

die Redder, ook vir ons gekom
hier in die hartklop van ons Afrika
waar genadereën oor alles spoel
’n Boerehart wat
nog met eerbied kniel
en Hom as Koning
van die heelal sien

© Anzé Bezuidenhout

Januarie 2018 – Weerbegin projek

1. ’n Nuwe begin

dis amper nuwe jaar
vieruur in die oggend
gaan stap ek ’n lang ent
om in die naglug te baljaar
die morester lyk of sy verjaar
skitter helder dog bewend
en om my is die naglug bytend
wyl die melkweg om my skaar

tree vir tree huppel ek voort
tot vêr verby die eendedam
wilgerskadu’s verdwyn in die niet
dis mos hier waar ek hoort
onder my voete is die grond klam
en is die wilgerlote nog nuut

© Anzé Bezuidenhout

Februarie 2018 – Liefdesprojek

1.Lawakors van liefde

terwyl die son sy
nagsê strale robynrooi
oor die kim laat val
‘t die nag stilweg gebloei
waar dit halfmaan
soos ‘n vaderlandswilger
aan die koepel boog

die krag van jou minnelied
het die songloed opgevang
‘n lawakors laat vlam
en jou loogwarm liefde
soos smeltende was op my hart
laat reën wyl die landskap
sag verander in seën
© Anzé Bezuidenhout

2.Liefdes-spore

deur die vlak van my hart
het die dieptes van jou spore
mildelik ontkiem en langs die
horrelpootpaaie het die skaamwit
van varkore woordlangs
soos fonteine oopgebars

die donkermaan
het helder ontplof
onder die bruidskuim
se spierwit spoeg
waar dit stil genadebrood
breek oor die oewers
van my siel

goedheid en guns
het bruisend stroomversnel
deur die spasies van my dink
wyl jou liefde stroom-op
deur my wese koggel
om dan sag te breek
in die proe van my mond
© Anzé Bezuidenhout

3.Hart- silhoeëtte

deur rankspasies van my hart
vlinder miljoen ongespreekte woorde
karos die diepste denke en
balsem die lof van my voel

die geur van affodille
troetel my sinne en
in my oë skyn ‘n nuwe reënboog
waaraan my drome hang

in die gerwe van jou liefdespalms
bloei my skemers ‘n lentelied
waar jou asem oor my suis
buig my wese in aanbidding

ons vingers knoop nuwe sonne
in die polsing van ons liefde
en jou woorde beitel
hart-silhoeëtte wat my verteer
© Anzé Bezuidenhout

GOUE-KLAS

Maart 2018 – Digkuns projek

3. Finale verblinding

Brandend val my woorde op toonlere
van vallende sterre
my gefrommelde hart
maak biltongfraiings
in die egbreekson

met jou gereïnkarneerde verraad
het jy ‘n Judasmantel gedra
wyl jou skandelippe
die waan van maagdom spieël

soos oopmond papawers
het jou oë jou verraai
van die walgingsvrot
wat Jakobstrap-lere klim

die openbaring
(van jou hoeveelste val)
het die vredeskoepel
wreed uit die hemel geskeur

my lugkastele en drome
hang aan bebloede kruise
en duisternis, ja jou
duisternis het my kyk

finaal verblind!

© Anzé Bezuidenhout

April 2018 – Paasfees projek

3.Via Dolorosa van die Boabab 

in seekat tentakels
van worteltakke
soos doringkroon
wat na die hemel strek
staan  Kremetart
in passiespel

met letselmerke
van jare se verniel
in spykerskrif
oor stam getrek
staan die Boabab
as baken op horison

gooi sy skadu’s
in genade so wyd
oor veld en dier
so majestieus
dog nederig voor
voete van die Heer

stom getuie van
lank gelede se
via Dolorosa
omraam die arm takke
steeds die mensdom
in genade so wyd

© Anzè Bezuidenhout

Mei 2018 – Moeders projek

3.Sereen soos poësie 

deur die ruising
van die vrugwater om my
klingel jou stem
deur die polsing
van die naelstring
brand jou liefde deur my
alles, ja alles in Afrikaans

Moeder jou liefde in
eg Afrikaanse tongval
was sereen soos poësie
en het my geseën
in volrond woorde
ja, my fondasie was vas
en seker in Afrikaans

©Anzé Bezuidenhout

Junie 2018 –  Poëtiese orde projek

2.Winterreën (Goue lid)

Ek staan alleen
en skielik is dit aand;
so het die winter my
met ‘n blanko blad gelaat,
waar sy haar nat asem
in grou slierte
oor die bergpieke vee.

Ysig doen sy haar sustersdans;
deur takke van die Soetdoring
wat gedienstig en nederig
(asof in stil aanbidding)
voor haar aanslag buig.

© Anzé Bezuidenhout

Augustus 2018 – Haikoe projek

3.Klokkespel 

ou klokke koggel
vanuit wit vestingtorings
jy bly leegplek weg
 
© Anzé Bezuidenhout

Eervolle vermelding:

Arabiese lente

lewe sielesmart
arabiese lentebloed
deurdrenk die erfgrond

© Anzé Bezuidenhout

September 2018 – Spyse vir die siel projek

2.Roete kodes 

 jou spore het jy in kodes agtergelaat
as ‘n roetekaart vir my om jou te vind
tussen skadu’s in die kleur van agaat
en jou wese se reuk soos ‘n bontrooi lint

deur die bosveld se vaal stofpad
verby die waaigras op die dam se wal
immer opsoek na jou – my skat
sal ek aanhou stap deur berg en dal

want jy is die wilde wind van my vlees
op die voetpad van ons liefde sal ek bly
dis in jou oë waar ek van liefde lees
as my voete oor die landskap gly

maar waar die donker my van koue laat verstyf
besef ek – tyd het ons roete kodes reeds herskryf

© Anzé Bezuidenhout

Oktober 2018 Projek

1.Jou voetspore bepaal – Intertekstualiteit

jy wat so graag filosoof wil wees
sonder ouderdom wat jou siniel sal vlek
wat manmoedig rond wil jol
sonder kettings of gebooie
waar jy op jou voorwaardes
vryhand wil bid en leef
met jou whiskey en koerant
salig met jou nakroos
vlegsels van vrede weef
wyl jou draadmandjies
weemoedig roep

so kyk jy dan mis
dat elke dag se seën
verskuild in afgekoude
potlode lê en
lewe warrel by jou verby
:lewenswysheid kom deur leef
van luierdae tot gryskopknik
met gedagtes en herinneringe
van voetspore –

deur jouself gestap

© Anzé Bezuidenhout

Met erkenning aan: Koos Kombuis (André Letoit)

in en uit {1982}

as om my hele lewe lank stadig oud te word
agter ‘n lessenaar met ‘n afgekoude pen
en twee draadmandjies
wat weemoedig uitroep
:in en uit

* Intertekstualiteit

3.Droomspore – Uitheffings tegnieke – parentese)

deur die kneusing
van ‘n gewonde droom
was jou stem die lullaby
wat my kon tula
teen die skeuring
van die wegholwind

die wêreld lê verdwaald
in die leemtes van my woorde
en my trane word
ontvlugtingsbrûe
op papier

tog word drome hergebore
(al loop spore dood)
en kry hoop nuwe ankers
in bloureënblomme
as die engel hees
met panfluitklanke
die uurglas van
gisterwinde
stroop

© Anzé Bezuidenhout

November 2018 projek

2.Sag soen die Nylstroomson 

 
my hart lê vasgevang
in Nylstroom se natuur
waar in die gloed van
‘n laataand vuur onder
die hemelkom hang
is die groot genade (asof
sonder swaartekrag)
gevul met Vryheid van Bo

die mooiste van mooi
is die sonsopkoms
oor die Springbokvlakte;
dis daar waar die son
haar roete na opkoms verpas
en ‘n wyle sprakeloos vertoef
om die reinheid in te adem
van die breekmooi natuur

dis hier waar die bosduiwe in vryvlug
oor doringbome en wit karee vlieg
deur die onmeetlike ruimte
gevul met bosveld geure
en onder insek getjir
nooit stil word nie

die landskap se unieke bekoring
wat my wange saggies soen
betower opnuut my hart
onder die strale
van die bosveldson

© Anzé Bezuidenhout

Desember 2018 projek

2.Verslane loutering 

my menswees se loutering
lê in die blou weerkaatsing
van my oë –
in die klop
van my witsandhart

soos ‘n eggo
oor die ronding van ‘n duin
daar waar my drome
toegewaai lê
loop my spore
afge-ets op klam sand
onder soutlug

as nostalgie
my na die bloudam jaag
soekend na
lang vergete illusies
om dan by die broekieskant
van die branders
tussen brokkelskulp
en uitgespoelde algeblaar
te verdwyn
net soos gister se pyn

daar in die vreedsame natuur
van nuutgebore gedagtes
wat my heimwee verstaan
en my diep verborge spoke
finaal verslaan

© Anzé Bezuidenhout

3.Die versteende son

onder die sirkels van die songloed
in die vlamrooi van die aalwynblom
het jou emosies oop en vry gelê
terwyl die dieptes van jou kyk
die landskap in groen laat bot

daar waar die duine hulle kruise trek
en die doringbome hul skadu’s los
het die tyd stil gaan staan
onder die omhelsing van jou mond

die hoeksteen van jou asem
het my boupilaar geword
waar jou kaalvoetspore
versteen het in tyd

© Anzé Bezuidenhout

Januarie 2019 Projek

3.Tanka 2

Kersfees is verby
warm winde draal alom
somerasem huil
nuwejaar se blinkskoene
staan vergete in die hoek

© Anzé Bezuidenhout

Februarie 2019 projek

3.Die rietjiesgras sal weer fluit (Goud)

daar by die treinperron op Wupperthal
onder die knarsende klanke
van honger vuurtonge
het die uurglas bykans leeggeloop;
die geel van my geliefde soetdoring
het reeds na vuil mostert verkleur
en die rietjiesgras huil in roet
tydens die felle verassingsuur

*
(dit terwyl die potlood in my hand
steeds soekend hang;
soekend na woorde
tastend na metafore
om my smagtingskruik
met botgroen jasmyne te vul
bly my gedagtes soos bloureën
oor die heinings loer
soekend na ontsnaproetes
tot in die holtes van jou hart
sodat ek deur die vensters van jou oë
die waarheid van opregtheid kan lees)

*
daar by die treinperron op Wupperthal
staan ons steeds beteuterd rond
en bid vir die reënwinde se huil
om die gloeiende vernietiging te blus
sodat die rietjiesgras weer
sorgloos kan fluit
in helder sonskynwind
daar in Wupperthal

© Anzé Bezuidenhout

Maart 2019 projek

3.My allerliefste . . . 
 
liefsteling, skenk, ja stuur daagliks vir my troos;
met ‘n boodskap van mirre uit die dieptes
van jou binnekant en sein jou bekoring
in safraangeel koring, kom stuur jou boodskap
aan my in rooi (so helder soos die son)
en hanteer my teersag soos ‘n Noagsduif
omhels my met die groen van ‘n olyfblaar en;
sprei jou vlerke soos engellig – heilig en veersag

kom genees die brakwater van ons onseker tye
met die roer van jou hand, verkwik my
innerlike met ‘n wit engelsoen en
dra my na die rooi van die wegsakson
met jóú vlerke sal ons dan verder vlieg

© Anzé Bezuidenhout

*Neologismes – engellig & Noagsduif & wegsakson
* Interteks – Breyten Breytenbach.(Allerliefste, ek stuur vir jou ‘n rooiborsduif)
 
Allerliefste, ek stuur vir jou ‘n rooiborsduif

Allerliefste, ek stuur vir jou ‘n rooiborsduif
want niemand sal ‘n boodskap wat rooi is skiet nie.
Ek gooi my rooiborsduif hoog in die lug en ek
weet al die jagters sal dink dis die son.
Kyk, my duif kom op en my duif gaan onder
en waar hy vlieg daar skitter oseane
en bome word groen
en hy kleur my boodskap so bruin op jou vel

Want my liefde reis met jou mee,
my liefde moet soos ‘n engel by jou bly,
soos vlerke, wit soos ‘n engel.
Jy moet van my liefde bly weet
soos van die vlerke waarmee jy nie kan vlieg nie

April 2019 Humor projek

1.Gebroke windpomp 

so ry ons mos
deur die klein karoo
eenkant staan
die windverwaaide meul
verlate teen die horison

ja, sug pa hard en swaar
en bly dan ‘n wyle stil
dan kyk hy verward na ma
en sê in ‘n hartseer stem

“maar my magtig vrou,
daai ouman op die vaal horison
is nou mos werklikwaar
skoon moer-toe gepomp”

© Anzé Bezuidenhout

Mei 2019 projek

1.Verskroeide land  

die aarde lê verraai onder mensevoet
hulle sien kwansuis die uitsonderlike raak
tog bly die hemel doofstom
en wolke –
die wolke breek  in wit
terwyl die son
dooierus vat
oor die daaglikse goed
verstrooid – gewring;
swaar gewond
onder haat en nyd
van die mensdom

dis dan wat my woorde uit die son
se oranjebruin kardoes
ontwaak uit ‘n hongersnood
wat swaarder as vere weeg
só bring ek my waarheid
onverdund (gevul met
mý vreugde;
mý verdriet)

maar die son sal weer oor Afrika skyn
en die wind,
die wind sal weer
oor die kranse in Godsvrede gloed

© Anzé Bezuidenhout

Junie 2019 Projek

2.Winterkaros 

 
deur ‘n ysige wintersvlug
kristal haar asem
tiekiedraai en swaai haar yskaros
dansend om die knersarms
van gestroopte boom en plant
wat swart na binne blom

dwalend in verwondering
deur verstrengelde stoppelgras
wat flenter-vlerk knak en buig
verkrummeld op die aarde neersyg
terwyl stingels smagtend
op ‘n nuwe lente wag

soos ‘n vergeelde foto hang nou die dag
in die winterasem se dwarrels geraam
vergete grepe van ‘n eens baldadige lewe
waar sonneblomme nog kon lag

© Anzé Bezuidenhout

Julie 2019 projek – ‘n Reis in tyd

3.Die somer sal weer kom 

My ink het swart modderspore gelaat terwyl my smeking gewag het op beloftes van ñ nuwe dag.

Die Sabbat het geruisloos
verby gesluip;
ñ loflied versteen in sout

en die son –
die son het skuiling gaan soek teen die aanslag van die wind
tóg, iewers deur die nag
het die aarde se as
tien grade teruggeskuif,
reg onder die glimlag van die maan
want daar, dáár het die vyekoek genesing van Bo gebring –
nou jubel my wese opreg
as ek by die tempelpilare vertoef

en ek wéét –
die somer sal weer kom.

© Anzé Bezuidenhout

*2 Konings 20

Augustus 2019 – Wilde wind projek

2.Vreugde in blou

deur die duisende Judasse
wat my pad sou kruis
het ek die opregtheid
van die reën geruik
waar dit op die windasem
skoppelmaai sou ry;

vrees het gesteier
die wind het orkane gedraai
skadu’s het gesmeek
om ’n nuwe verbond te smee
onder druppels van vergifnis

nou lê my vreugde in blou geraam
skaats dit saam
tussen soetgras en besembos
op die stem
van ’n sagte Somerswind

© Anzé Bezuidenhout

September 2019 – Verplasings projek

2.Ék is ‘n skarlakenvrou 
 
in die groot stad Jerigo
was ek ‘n skarlakenvrou
ék was ‘n skandvlek –  ‘n klad
op my trotse familienaam
want my dagloon
is uit my hoerlewe gekry
terwyl ek duiwels
bloots sou ry

sewe dae lank
het die basuine geblaas
terwyl vrees aan my binneste kou

min het ek geweet
vergifnis kan in rooi
oor kleistene hang
al was ek ook
tot my dood toe bang

die rooi van Sy bloed
het my van die duiwels bevry
en staan my naam
in die boek van die Lewe
verewig van smet bevry

oorwinnend het
die basuine sewe dae lank geblaas
en ék is gered – oplaas

© Anzé Bezuidenhout

Oktober 2019 – Kleur projek

1.My nuwe Kanaän

ek bloei in granaat
terwyl ek hurkend sit
opsoek na die verlore skyn
van die son se krag

soms vind daar
smokkelhandel
in die kobalt
van my gedagtes plaas;
word donker oorloë
in amber geveg
terwyl braambosse in oker brand
vloed riviere kleurloos
klankloos weg

dan weer skitter die gewyde spasies
in flonkerspasies
met ‘n tikseltjie kleur
wat my heelal voltooi
en aan my ‘n nuwe
Kanaän bind

© Anzé Bezuidenhout

November 2019 – Laat lente projek

2.Lentedans

spoorloos het winter
sy asem uitgeblaas;
die son het vuur gepak
teen die blou-blou lug

as die dag se spore mank raak
onder die hitte van die twaalfde uur
stuur ek ‘n *bloedrooi koesterbrief
vir jou my lam – my lief

dan dans die wind vandag sy
eenbeen flaminkedans
oor die botsels groen
wat soos manna aan bome hang

onder sagte tortels van die duif
lag die kim skemertyd in oker;
vou ons hande origami vlegsels
as ons met rooiwyn ons liefde vier

© Anzé Bezuidenhout

*Interteksualiteit – Breyten Breytenbach

Desember 2019 – Dans asof niemand kyk nie projek

2.my kleivlerke

vandag wil ek my kleivlerke sprei
op die klanke van Mendelssohn
tot verby die Jordaanrivier
om daar ‘n olyftak te soek
wat nuwe drome
sal bring

my voete sal kwartelspore maak
op Vivaldi se vier seisoene
wat dool op die wind
sweef op die groenduif se vlerk
‘n sfeer van voldoening
laat kring

dartels van my hande vry laat tas
deur Wolfgang Amadeus
se elfde sonate klanke
wat deur die donker eklips
sal dring

vandag wil ek my kleivlerke sprei
bedelbakkies met my hande maak
onbeheersd huppel en dans
terwyl my voete luid
hallelujas sing

© Anzé Bezuidenhout

3.Darteldans

skugter spore dartel
onder die sterrekoepel
se konfetti-reën
terwyl Orion wag speel
bepaal die Suiderkruis
asemloos die koers

stadig bou die ritme
tot ‘n magtige crescendo
wat soos die Augrabies
rivieroewers oorspoel

op die reëlmaat
van die natuurorkes
groei fetusdrome
tot dit in barendsnood
tussen stoppelgras
op die klanke van
‘n statige wals
geboorte skenk

met die volgende asemteug
fluister die wind
encore…  encore…

© Anzé Bezuidenhout

Januarie 2020 – OOP projek

3.Verspilde lewe
 
agter toe deure walg
‘n oorvol asbak en
‘n omgevalle glas

my vlerke balanseer op
breekpuntsnare terwyl
kraaie die oorskietlag
uit my oë pik

daar hang ‘n bloedmaan
in die skeure van my hart
kromskeef klim my woorde
oor die lotsbesef
van skewe grense

die wete kom ongeraam
tussen die verlede en nou
dalk is daar tog iets
wat mens nog
lewe kan noem

© Anzé Bezuidenhout

Februarie 2020 – Limeriek projek

3.Piet Pompies

Ou Piet Pompies sit en sug
Hy kla oor die pyn in sy rug
Sy kaiings braai
Sy vrou is kwaai
Nou suip hy maar onder ‘n brug

© Anzé Bezuidenhout

Maart 2020 – Triomfboog projek

3.Seëpoort
 
kwylend vlerk my oë
oor die vergane triomf
van ‘n gevalle Jerusalem
wat agter ‘n dowwe konstelasieglans
tralies trek oor my sig

wurgend gord verwarde denke
die lamheid van my lendene
as jy onnoembare afgode aanroep
knielend voor triomfboë
wat in stomheid
op bergtoppe skreeu

my redding kom uit die blou-blou lug
vanuit die Goddelike triomfboog
van die Almagtige God

© Anzé Bezuidenhout

April 2020 – Grendel projek

2.dan breek die son 
 
deur ’n duisend konstellasies
waar menigte melkweë
voetboeie vries
en my pols onreëlmatig laat
stotter
oor eggo’s deur my kop
wat geen uiting kon vind
onder skadu’s van ’n engelvlerk
het die maan finaal verdwyn
en donker versteen
onder die aanklag
van my hart se geween
tog
bly hoop klop
aan die grendeldeur
waaragter
’n goudgeel Son weer
vir mý sal blom

© Anzé Bezuidenhout

Mei 2020 – “Ek wens dat ek…” projek

3.ingeperkte drome
 
ek wil weer ‘n kleurvolle harem bou
tussen die wêreld se dolle gejaag
waar ek jou styf teen my bors vashou
sonder om vrese te moet verjaag

ek wens dat ek weer my skaduwee kan vind
waar dit ligvoet van boom tot boom dans
sonder iets wat my vryheid knel en bind
my laat verlang na ‘n toekoms – ‘n kans

met al die onsinnige inperkings en grense
word ons gekerker met vae vooruitsigte
en my siel vaar binne ingekampte grense
met slegs droomvlerke en engel vergesigte

met krag en genade sal ons die ellende verduur
en bid hulle vind spoedig ‘n wonderkuur

© Anzé Bezuidenhout

Augustus 2020 – OOP projek

1.Onsigbare pyn

waar die maan
in stille eerbied sekel
sif verlange deur die sterre
soekend na die
eggo’s van jou stem
wat vertroosting bied
in die woorde
van jou lied

dit is dan wat
die nagkoepel
in sterstof huil
Orion knipperoog
sy boog span
na die einders
waar die onheil
onsigbaar skuil

© Anzé Bezuidenhout

2.Die lied van die reën

bo die geklingel en geraas
en onder die korhaan se groet
baljaar die reëndruppels
teen die berg se hang
soekend deur rots en klip
na ‘n  uitbreekplek

snuiwend draf die waterloop
tussen distel en doringbos
teen die skuinste af
om plonsend rus te vind
waar spoelklip en rivier
mekaar ontmoet

© Anzé Bezuidenhout

September 2020 – Liefdesprojek

1.Jy is my vrede

waar jy my hare saggies in sterstof verf
het die maan jaloers gekyk
hoe die melkweg in spikkels
deur my oë tree

my vingers boetseer jou hart se klop
as jy ‘n duisend vuurvliegies inmekaarvleg
en dit laat sirkel om die skerfiemaan
tot dit in my hartklop kon anker gooi

die son van jou liefde het soos
‘n oranje appelkoos geskitter
en my getrek soos ‘n mot na ‘n kers
met my vlerke wiegend op die wind

in jou hitte het ek vrede gevind.

© Anzé Bezuidenhout

Oktober 2020 – OOP projek

2.JY IS DIE ROOI VAN MY KANNABOS

soggens met songroet
as ek
my van jou moet speen
sien ek die uitspansel
in jou oë ontkiem

wanneer jóú hande
reeds reikhalsend na
die strepiesmaan
agter die newels reik

maar dis jou kyk
wat my inkatrol
na daar waar
die kannabos
bloedrooi blom

© Anzé Bezuidenhout

3.STEENSON

ylings onder
droogtegreep
sien ek die laksman
vasbeslote nadersluip
die hadida klief die stilte
met skor kreet
ek hoor die lammers
verhongerd blêr

terwyl die bloedemmer van
die steenson
rooistof en dwarrelwinde
meng
alles verder laat kantel en
skroei
kap die Janfiskaal
verbete aan sy grafskrif op
die verdorde
boombas

wat tot klip verstom

*
onder die sirkels van die songloed
in die vlamrooi van die aalwynblom
het jou emosies oop en vry gelê
terwyl die dieptes van jou kyk

die landskap in groen laat bot
daar waar die duine hul kruise trek
en die doringbome hul skadu’s los het
die tyd stil gaan staan

onder die omhelsing van jou mond

die hoeksteen van jou wese
het my boupilaar geword
waar ons kaalvoetspore

versteen het in tyd

© Anzé Bezuidenhout

November 2020 – Samesyn-projek

1.JY IS DIE ROOI VAN MY KANNABOS

soggens met songroet
as ek my van jou moet speen
sien ek die uitspansel
in jou oë ontkiem

wanneer jóú hande
reeds reikhalsend
na die strepiesmaan
agter die newels reik

maar dis jou kyk
wat my inkatrol
na daar waar
die kannabos
bloedrooi blom

© Anzé Bezuidenhout

Desember 2020 – OOP-projek

2.Verrineweerde grense

vergeel lê die rubikon
se dofgevatte grense,
skeef betas;
motgevreet
so erg verrinneweerd
dog op paaie
ongeteer
met geen omdraaipunt
dwarrel daar
‘n verdwaalde
engelveer

© Anzé Bezuidenhout

3. Stof illusies

illusies spiraal
verby skadu’s
van tollende sand
deur die eggos
van visioene
weggesteek in
vermiste drome
lank reeds
weggedros –
vergete
verlore

net soos gedagtes
verkrummel;
… doodgebore

© Anzé Bezuidenhout

Januarie 2021 – Verwagting(s) projek

1.Roekeloos

die lewe was ‘n donkerput
waar ek bloeiend in ink
onder die swaard
van ander se opinie moes staan
donker gisters was die gids
wanneer my woorde
sleepvoet oor die skerm flits
agter die glimlag
wat speel om my mond
sou jy die skadu’s
van seerkry
in my oë sien blits

maar nou kan jy
my weer aanskou
sonder gelapte maskers
hier sal jy nou ‘n nuwe vryheid vind
wat my in lig kom kroon
my opnuut ophef
na die Heilige troon
waar ek roekeloos;
onbesorg
kan lag en dans
met hande
wat koorsagtig
reik na die blye verwagting
van wat vandag en
die onbekende more bring

© Anzé Bezuidenhout

2.Skadu’s

deur die doringtakkraal
skreef my oë
soekend na letters
om grendels
agter pikswart klipstapels
af te breek
om my woorde
weer as lofoffers
met wierook te bedien
buite die skadu’s
in aanbidding te dans

Sola gratia is my lewensreis
in verskillende skakerings van voel
van beleef en herleef
berge klim
oor heuwels beur
tot daar waar die son
die Mopanie weer omhels
die bospatrys se stem
deur die ooptes skreeu
pantsers om my hart
uit die skadu’s skeur
my asem weer
met mirre geur

© Anzé Bezuidenhout

Februarie 2021 – Liefdes projek

2.Gekneusde letsels

die innigheid
van jou stem het my genooi
om weer my woorde
as inkoffers
in blanko spasies te verf
en my gebrokenheid
aan die Kruishout
te laat sterf
in jou het ek gevind
die een wat my letsels
lees in braille
deur die aanvaarding van my
onsekerheid
insinkings
gehalteloosheid
onsinnige minagting

want

in die gloed van jou oë
het die bitsigheid
van gekneusde woorde
gesmelt

en…

met die oopbreek van dié naald se oog
het jy my opeens
na die wederkoms laat verlang

© Anzé Bezuidenhout

3.Ek weet jy sal

tydens donderstorms
en onheil wat rondom flits

weet ek jy sal

die lig wees in mý donker
my anker in onstuimigheid
die stemme laat verdrink
wat teen die mure weerklink

want jy

ken my onsekerheid
hou my hart se onafhanklikheid
in die holte van jou hand;
kalmeer elke emosie

want jy laat my
sien my vir wie ek werklik is
wie ek werklik kan wees

want jy –
voltooi my

© Anzé Bezuidenhout

Maart 2021 – Liefdes projek

1. In jou is my rus

in jou handpalm
lê my pynbrokkels;
teer kom bou jy
met die splinters
‘n mosaiek –
‘n meesterstuk
gelas met lym

in jou oë
se sagte glans
skitter die ligbron
wat deur my duisternis breek
lagplooie oor my skete kerf
terwyl ek my hand
in vertroue
na jou toe
uitstrek

oor die kepe langs jou mond
trek my vingers
nuwe roetes
wat ons saam
in vreugde bind
want in jou my lief
het ek my rus;
my vrede gevind

© Anzé Bezuidenhout

April 2021 – Oordenkingsprojek

1.Asemlose denke

in afwagting se bleek
lê die kim asemloos, ongeverf en grou
in die skadu’s van die eerstelig (op die
sonbraaksels – van oker, oranje en rooi) en wag

begin om só nuwe dwarshoutpaaie te soek
want gebreekte stiltes het ook ‘n doel
splinterglas kan tog ook skitter en skyn en –
donker dieptes besit ‘n ander koel;

reënboë bring ná duisternis
nuwe hoop – waar lig uitkring

© Anzé Bezuidenhout

*Neologismes

Sonbraaksels (Son + braaksels = kleure van die sonstrale)

Dwarshoutpaaie (Dwars + paaie = moeilike paaie om te stap)

 
3.Bepeinsing
 
op die tik-tok ritme
van die toktokkie se geklop;
in die felheid van die sonbesie se geklaag
brand sewe kleure van ‘n prismaboog

iewers daarbo word die wind
steeds gevoed op die fluisters –
die fluisters van jou stem
wat eggo uit die hemelkoor

mankoliekig draf my onthou dan
deur vér-verlang en oudag se slaggatdraaie

© Anzè Bezuidenhout

*Neologismes:
Prismaboog – Prisma + boog = reënboog
Slaggatdraaie – Slaggat + draaie = seerkry onthou paaie

Mei 2021 – OOP Projek

3.Bosveldstorm

soos ‘n swanger vrou
het die uitspansel
gesprankel
in skakerings van wit en blou
terwyl die windasem
oor jakarandas
se pers klokkies
rinkel en wals

jaloers het die wolke
na die hemelruim gegluur
as sonstrale uitbundig
hitte na die aarde stuur
bedonderd klink die kreun
waar wolke teen mekaar
dreun en beur;
onverwags ‘n witlig
na die aarde blits
om so die son
se gloed te blus

bleek staar die uitspansel
na die wreedheid rondom heen
want soos meel word water
na benede gestort;
son se verblyf
word snel ingekort
as glashelder druppels
soos lawa oor die aarde skeur
en stof die helder water
na modderbruin verkleur

as die jaloerse reëndans dan bedaar
kan die bleekheid van die hemel
weer na blou verkleur
kom dans die son oor elke glastraan
wat nou met lofprysing
aan gekneusde
blare klou

© Anzé Bezuidenhout

Junie 2021 – Interteksualiteits projek

3.my volk my taal

so bou ek linies:
kom plant die woorde
vir ons geliefde taal
met die krag van my pen
wat swartinktrane huil

oor ‘n bastion wat krummel
en roekeloos, onverskillig
in die ystergreep van
kortsigtige mense

val

die mure rondom my
is nie om ander uit te hou
maar om my en my taal
te beskerm teen die kille verval
dit te gryp wat my kan skaad

dít te koester:
dan te vertel
op stom papier

© Anzè Bezuidenhout

*Bronteks Inkmoderator met apologie

Julie 2021 – OOP Projek

1.VIER-HONDERD-EN-90

sewentig maal sewe
sal ons die wang móét draai
ons onmag besef

voor die haan drie maal kraai

lente somer herfs en winter
seisoene wat ons lewe tooi
wind water vuur en grond
die chaos van ons bestaan –
die Hand teen die muur
méne méne tékel ufarsin
het dit reeds vir ons vertaal

staan vas op hierdie kronkelpad
uit rots vir ons
op Kruishout vasgeslaan

© Anzè Bezuidenhout

Augustus 2021 – As die blare val projek

3.BERKE-POLKA

die son steek vandag
verby die koue wind

die berkeboom
se welige bui in groen
het oornag verander:
geel en oranje
plek-plek ook neutbruin
kastanjet na benede
teen witbleek kolle
van geskende bas

sorgvry en vreesloos
sif dit neer
na aardse
seën

tussen wildesampioen
en winter se verposing
word dit eers
oor ‘n seisoen
met stof en aarde een

© Anzè Bezuidenhout

September 2021 – Positiwiteits-projek

1.Metamorfose

as kind van die natuur
was sy die wildeblom
gebore met die gawe
om na donderstorms
vitaal te skitter, te bot

want

sy was die wildeblom
geskend gekneus en krom
verhef tot wierook
in die goue kom

© Anzè Bezuidenhout

 

2.Die lied van die reën

bo die geklingel en geraas
en onder die korhaan se groet
baljaar die reëndruppels
teen die berg se hang
soekend deur rots en klip
na ‘n uitbreekplek

snuiwend draf die waterloop
tussen distel en doringbos
teen die skuinste af
om plonsend rus te vind
waar spoelklip en rivier
mekaar ontmoet

© Anzé Bezuidenhout

Oktober 2021 – Akrostiese projek

1. Sekellig

oor die hemelstraat
klos die suiderkruis
tussen sterre en komete
om die hemelruim se sfeer
benede orion se swaard
en onder die aandster se glim
rank daar ‘n sekellig

© Anzè Bezuidenhout

2.Oktobermaand

Onder Boegoebergdam
kring groen lelieblare
tussen water wat klots teen die
oewer se wal, daar
baljaar die wilgertak
elkers in die wind se lag
rondomtalie swaeltjies
malend in die sproei wat
aamborstig deur die sluise val
as dit spat teen klip en kant en
na benede vlug om
dan rustig verder te vloei.

© Anzè Bezuidenhout

Desember 2021 – Metafoor projek

3.Eggo’s van Bakkrans

ver verby Caledon
se droë rivierloop
lê jou spore ge-ets
my kaalvoetkind;
duskant Citrusdal
koggel eggo’s jou
teen Bakkrans se hang

dit my laat wonder
wat is die haas
my wegholkind
wat is dit –
dit wat jou jaag

want tot deur droë stoppels
wat in die kragdrade
se span kraaines maak
flikker daar
tog altyd
lewe en hoop

© Anzé Bezuidenhout

Januarie 2022 – DRAMA projek

2.Krummels en sand

dowe ore;
onsiende oë
weier gespanne om op water te loop
terwyl die Bo-kleed skeur
sypel emosies
nes weggooiwyn
krummel harte
soos Nagmaalbrood
van ‘n onheilslewe –
terwyl vis en brood
vergete lê
want die mensdom
bou torings
op fondasies
van krummels en sand

© Anzé Bezuidenhout

*Sinoniem: Drama = gespanne

2022- Naaswenner in McGregor Internationale digkompetisie

31 Januarie 2022 – Ontvang Akroniem vir Afrikaans van GHA

Februarie 2022 – Liefdesprojek

1.Spikkelliefde

waar die Tambotieboom
in ‘n bruingloed van henna staan –
kom skarrel ‘n rooiborsduif
wat in skarlaken blom;
iewers in die agtergrond
die Neushoring
wat saggies
binnemonds brom

met malse vreugdes-Hossanas
dwarrel die oggendwind
oor tenger grassade wat
knielend voor die trippelgang buig
uitbundig hul vreugde betuig

in die geur van doubedrupte
grond, spel die natuur jóύ naam
skryf met die spikkelveer
(van ‘n verdwaalde taren-
taal) minnebriewe op
my binne ruite

vul my met die soepelheid
van jou krag

© Anzé Bezuidenhout

3.Vasdans tussen die sterre

daardie oomblik
toe my dink wou verdwool
in gister se grou
waar stiltes galm;
stom in verlange skreeu
moes ek nederig erken
ek is net ‘n eensame mens
wat ook na
vasdans
tussen die sterre smag
terwyl my kersvlam uitbrand
om lig in ander
se duister te wees

© Anzé Bezuidenhout
*verdwool – sinoniem verdwaal vlg AFR sinoniem woordeboek Louis Esterhuizen

Maart 2022 – OOP projek

1.Donsveer woorde

in die dorre landskap
van menslike onvrede
soek ek vergeefs
na die geel
van ‘n helder
sonneblom
om my weer terug te lei
na die oewers
van daardie plek
waar waters van rus
geluidloos oor my kan spoel
waar ek met woorde
sag soos donsvere
in die skadu’s van lig
die son se strale kan vang
diamantsterre
alkant van die sekelmaan
kan hang

dan sal my siel in vryheid sing
met woorde van kleur
wat donker leegheid
na lig transformeer

©Anzé Bezuidenhout

3.Daardie dag

dit was ‘n bewolkte dag in Maart
die somer was sonlig
maar winter –
winter het geskuil
in die skaduwee van die wind
dit was soos die maan
wat dele van my wou verduister
vir priemende krateroë
wat deur die oop spasies
van niks
na die toeganklike hitte
van innigheid laat smag

© Anzè Bezuidenhout

April 2022 – En toe… projek

1. Ek wil…

deur drie uur duisternis beur
verby dít wat die mensdom so verskeur
met blinde oë my vertoë as offers bring
lofliedere met stom letters in braille sing
verby geroeste spykers my smarte uithuil
in die Kruishout se skadu gaan skuil
wreedheid en onheil uit doringkrone vleg
duiwelse begeertes na goedheid verkneg

en toe die voorhangsel skeur
het die wonder klaar gebeur
is die dure prys finaal betaal
óns skuld na onskuld vertaal

© Anzé Bezuidenhout

3. Outeniekwa-gedagtes

my oë draal oor die sluiers van die son
rondom lê die uitspansel in riffelkarton
ek is tydelik verlos uit die stad van beton
my afsaalplek nou ‘n ou murasie
uit ‘n lank vergete generasie

nou verpurper die kim en trek bloed
verskuild lê die Outeniekwa in gloed
teen kranse weerklink die kiewiet se roep
maak klaaglik nes in my gedagtessloep
toe – in die kring van kameeldoringvuur
prewel ek ‘n bedelgebed in dié na-nag uur

© Anzè Bezuidenhout

Julie 2022 – Wat skryf ek projek

1.Die Lente kom

juigend bars oranje uit die sonbron
strelend oor die rante van die balkon
draf spelend oor die koue blokkiesvloer
só breek lewe deur die winterskokon

© Anzé Bezuidenhout

2. misterieuse

die opening van die donkerblou deur
laat my wonder wat daar binne gebeur
geheimsinnig in die donker gehul
starend na my soos oë wat aanhou treur

© Anzé Bezuidenhout

September 2022 – Snelheidsprojek

2.Reëndans

oor heuwels en bergtop begin die dans
teen hemelkoepel sien jy die wonder
van geilwit blitse, hoor jy die donder
agter donker wolkemassas verskans

ru weerklink die windlied wat draai en swaai
daar waar die stofdans padlangs koning kraai

© Anzé Bezuidenhout

Oktober 2022 – Liriese projek

3.verpulpte trane

in lila huil jou trane
waar dit soos ametis sterre
aan die donker takke hang
nes ‘n wafferse sigeuner
wat haar kaftan draai en swaai
dans jy die lamfer hoerdans
oor die heuwels van ‘n verlore stad
verby die rooilig area
waar toeters hiet en gebied
tot diep in die ghetto’s
waar hulle getrou
nog die bar mitswa vier
terwyl bande onverskrokke
voortspoed en jou delikate pers
teen swart teerpaaie
laat kners

© Anzé Bezuidenhout

November 2022 – OOP Projek

1.Memoires

ek wil vir jou uit my duisternis skryf
sodat rus en vrede jou
in ‘n moskombers omvou
jy alle swart gedagtes
soos helder sterre
teen die donkernag se blou
kan verf

in gebroke taal
dwaal my sinne
deur die lewe se wildernis
waar niemand dit kan vertaal nie
tonnels kronkel deur nat mure
sweef soms hoog soos arende
maar kruip ook skaam weg
saam met swamme
in verrotte boomstompe
nou bly die kringe van my alfabet
uitdy soos die weerkaatsing
van ‘n eensame tarentaal
in die donker van ‘n waterpoel

ek skryf vir jou ‘n wildernis
in die ink van die son se rooi
met ‘n troupantveer
en met die stem van ‘n hoopvolle maan
sing ek vir oulaas
‘n lalalied

net vir jou

© Anzé Bezuidenhout

2. Kluisenaarshart

waar ek kluisenaarstil
in die skadu’s van my kamer sit
voel ek hoe die donderstorms
diep binne my bedaar
spinnerak en gisterrommel
weggooibagasie word
staar ek nou –
(van spoke bevry)
na buite;
iewers uit die melkweg
daar waar sterre lepellê
val ‘n hemellig van benede
migreer deur atmosfeer
van lig na duisternis
voor dit sonder skuilte
‘n nuwe woning
in die stikdonker vind

© Anzé Bezuidenhout

Desember 2022 – Samesyn projek

1.Bitterwyn

waar ons ongesuurde brood breek
en bitter wyn uit geroeste kanne skink
(onder die skyn van valse samesyn)
brokkel verf van gevlekte en gekraakte
en graffiti besmeerde mure – bespreek dan
in soveel moontlike byvoeglike naamwoorde
verskillende wonderkure
vir die herstel van sogenaamde
verrotte bure

bly ons doof vir kadawers
wat hamer aan die binnedeure;
die gekap aan die binnemure
waar ons dan dikgevreet
na ander hap;
hygend verstik
aan bittere
aalwynsap

© Anzé Bezuidenhout

3de PLEK McGregor 2022 digkompetisie

Desember 2023 – Veldslag projek

2.Beurtkrag van my gees

jou hande was vol donker
nagmerries en angsgedagtes
tog het ek stil gelê; biddend
dat hierdie galbeker om sal val
maar my woorde my vrese en my stem
was in ’n kokon geweef

in hierdie donker tydens die
bittere  beurtkrag van my
gees het ek verward na
feetjies en verdwaalde engele
teen die plafon gesoek

want jy, oom met die donker stem,
het elke kinderdroom kom steel –
kom vergruis daar waar jý
kromsekel oor my buig en het jy
elke brokstukkie
manna van my gesteel

ja – jý was die beurtkrag van my gees …

© Anzé Bezuidenhout
*kromsekel

 

Februarie 2024 – Dolos projek

3.Dolosbeen-dade

met spoeg en klei word osse gebou
om voor die dolosbeen van verraad te span
goed deurdinkte sluwe woorde bars
soos rotsstortings deur die barometers
van ‘n ontvanklike hart
só – en met voorbedagte rade
word kakebeenwaens voorgehou
vir die kaalvoet Drakensbergtrek
af in die dal van versteekte smart
terwyl die kinders lag en speel
sal leuentaal bly aanteel
om later in die donker nag
in ‘n foltergeboorte te eggo
teen bitter waarheid
wat breek deur die eerstelig
en eindig in die wrang ritme
as die suiderkruis die aarde vlek
onder die silwerstreep
van ‘n vallende ster

© Anzé Bezuidenhout

 




Woorde is my asem en skryf my passie!!! Ek waardeer elke stukkie kritiek, verkieslik positief, maar kan die negatiewe ook hanteer. Dankie dat jy die tyd neem om na my werke te kyk en dit te beoordeel. Ek is n Boeremeisie in murg en been... mal oor die wye natuur van plaaslewe wat my omring Ek is getroud met die wonderlikste man (Willie). Ons is geseend met 3 pragtige dogters en 'n kleinseun en 3 kleindogters. My verhouding tot my Skepper loop baie diep en ek dank Hom elke dag vir al die voorregte en genade gawes wat ek so onverdiend ontvang... Loutering is deel van my lewe en ook daarvoor dank ek Hom daagliks want dit maak dat daar altyd groei in my lewe is...

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed