Jongste aktiwiteit:

WEG Louw
vir

WEG Louw

“Naggesprek”:

 

“En toe het ons avontuur begin

met woorde wat ‘n lewe lank sou duur.

Want woorde is die wee na die hart,

waarmee mens tastend – soos ‘n blinde op goed geluk –

na ander mense soek, saam uitgespoel

in een gesamentlike nood; maar meer:

ook na die waarheid en die hart van dinge”

en

“Dit was lees, maar meer as lees, ook lewe:

nie net agter die woorde aan, want woorde –

het ons begin besef – was sin, was klank,

maar meer as blote klank van tong en lip;

was drif, meer selfs as drif: verlossing ook

van drif, ‘n wyse om daaroor te heers,

dit diensbaar te maak aan eie innerlike gees.”

 

 

“Geloftedag, 1967”

“Seeslakke skryf hierogliewe

soos spore van die waansin neer.

Hul soek die see en sterwe stil

– hier aan sy rand – van waternood.”

 

Bitter winter

Wat se mens as dit skemer word,

as oor die vlei die wilde eende

met ver verlate skreeue vlieg?

Wat weet mens in die winternag

as die slaap van jou gewyk het en jy

met oop oe in die donker le?

Is woorde dan nog nodig? Of weet

jy dat die sterflikheid soos reen

diep tot in die wortel week?

 

Maria

Deur daardie tuintjie het sy stil gegaan,

haar hande needr’ig oor haar bors gevou,

toe hy, verblindend soos die son, daar staan:

drie wit lelies het hy in sy hand gehou.

 

Half-skaam, verleë, het sy opgekyk

en is opeens met groot vrees bevang:

sy oë het van haar nie afgewyk,

sy vleuels het oor heel die tuin gehang.

 

“Geseën is jy onder die vroue” – sy woorde –

of was dit winde? – verruis nog in haar oor,

toe hy teen die son in goue vlug verdwyn …

 

Sy het haar neergebuig en half-versmoorde

klein snikkies in haar hart gehoor,

van verlossing reeds die vreugde en die pyn.

(WEG Louw)

 

Golgota

Met rooi, gewonde voete en die pyn

van dorings wat Sy hoof in spot omsluit,

het Hy – gelaaf met mirre en bitter wyn –

teen Golgota Sy droewe gang gestuit.

 

Soldate het Sy klere uitgetrek

en luid getwis oor kleed en lendedoek;

sy naakte liggaam het hul oopgevlek

oor stam en balk en dit met smaad vervloek.

 

Die wrede spykers word deur vlees en been

met felle slae ingejaag: Sy hande,

verstrak in laaste, goddelike seën,

het Hy wyd uitgebrei oor alle lande …

 

Die vroue roep in duisternis en treur …

Die aarde beef … Die tempelvoorhang skeur.

 

Stil aand

Vanaand het ek weer so verlang,
in grondelose vrees
van eie gryse eensaamheid,
dat jy by my moet wees,

dat ek die wye koeltes van
jou stem om my kan voel,
soos die rimp’ling van die somerreën
vervlugtig oor my spoel.

En toe ek deur die duister wind
wat oor my huisie waai,
die knip hoor lig, het heel my hart
in vreugde opgelaai …

Nou sit ons voor die vuur en speel
die vlamlig deur ons hare …
Laag waai die reënwind buite deur
die afgevalle blare.

Nagreën

Die reën skuifel deur die straat,
verby my venster, mensverlaat …
Soos ‘n trossie narsings wat verkwyn,
flikker die druppels teen my vensterruit
waar die geel straatlig daardeur skyn;
en voel die wind
met bleek vingers, soos ‘n kind,
aan die swaar gordyn, wat plooi
in die lamplig, teer en droef papawerrooi.

Voël

‘n Voël vlieg voor my venster verby,
‘n naalddun lyn wat daaroor gly
en die glas in twee vlakke sny;

die wêrelde val apart en bly
elk in sy enkelheid geskei =
ek hierbinne, en daarbuite hy.

 

Avondmaal

Daar was ‘n stilte in die oppersaal

toe Hy met sterk, verhewe Hand Hom draai

en sê: “Die man wat My vannag verraai,

sit saam met My aan hierdie avondmaal …”

In twyfel het hul daardie woord herhaal,

en wis nie dat hul vóór die hanekraai

soos blare van ’n boom van Hom sou waai …

Maar één was doodsbleek teen die lampestraal!

Toe het Hy brood geneem en God gedank,

dit met die hand gebreek en dit geseën:

die beker het Hy boordevol gegooi

met wyn wat dartel was en vonkelrooi –

maar, hoog gehou, was in geen hand voorheen

ooit wyn so rooi, ooit aardse brood so blank!

 

Versamelde Gedigte van WEG Louw.
Ek sal opstaan en na my vader gaan;
opstaan uit my vodde en my vuil;
opstaan en onder die volle maan
wat geel streep oor die vleiland, gaan en huil
aan sy breë skouer, en hom saggies vra
om alles te vergeet en te vergewe
die jongkrag van my hoon wat hy moes dra;
dat ek weer soos ‘n kindjie klein die lewe
vol sonskyn voel, die vreugde van my werk
in die wingerd waar pers die swaar korrels hang;
dat ek weer voel my hande jonk en sterk,
die voorjaarskoelte saggies teen my wang –
Voorwaar, onmiddellik na my vader sal
En moet ek gaan, en aan sy voete val.

 

‘n Boer
O om boer te wees wat werk
Met sy hande in die son
die liewe, lange dag; om saans
moeg terug te kom
van die lande en te slaap
tot die rooidag deur die vensters breek,
en teen die tweede hanekraai, oor die ryp,
die ploegstert vas te hou

O om boer te wees en te werk
in God se sonskyn en reën;
om nooit te twyfel dat Hy weet
wat die beste is; om nog te glo,
as sy hart wil breek,
en voel dat hy, boer alleen,
met God kan praat, en dank
as laag-druipend daal die reën …




Woorde is my asem en skryf my passie!!! Ek waardeer elke stukkie kritiek, verkieslik positief, maar kan die negatiewe ook hanteer. Dankie dat jy die tyd neem om na my werke te kyk en dit te beoordeel. Ek is n Boeremeisie in murg en been... mal oor die wye natuur van plaaslewe wat my omring Ek is getroud met die wonderlikste man (Willie). Ons is geseend met 3 pragtige dogters en 'n kleinseun en 3 kleindogters. My verhouding tot my Skepper loop baie diep en ek dank Hom elke dag vir al die voorregte en genade gawes wat ek so onverdiend ontvang... Loutering is deel van my lewe en ook daarvoor dank ek Hom daagliks want dit maak dat daar altyd groei in my lewe is...

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed