Uys Krige
Die afwesige siel
Die bul sal jou nie ken nie nog die vyeboom,
nog die perde nog die miere van jou eie huis.
Die kind sal jou nie ken nie nog die agtermiddag
want jy is dood vir altyd.
Die plat kant van die leiklip sal jou nie ken nie,
nog die swart mantel waarop jy verdelg is.
Selfs jou eie stomme herinnering sal jou nie ken nie
want jy is dood vir altyd.
Die herfs sal kom met al sy slakkies,
trosse van mis en saamgehurkte heuwels,
maar niemand sal jou in jou oë wil kyk nie
want jy is dood vir altyd.
Want jy is dood vir altyd,
dood soos al die dooies van die aarde,
soos al die dooies wat vergeet word
soos ‘n klomp dooie brakke in ‘n hoop.
Niemand sal jou ken nie. Nee. Maar ek besing jou.
Ek besing vir later jou gestalte en jou grasie.
Die verhewe volwassenheid van jou begrip.
Jou honger na die dood en die smaak van sy mond.
En die treurigheid ten grondslag van jou manhaftige vreugde.
Ons sal lank moet wag vir die geboorte, as hy ooit gebore word,
van ‘n Andalusiër so helder, so ryk aan avonture.
Ek besing jou swier en jou kordaatheid met woorde wat kreun
en ek herinner my ‘n droewe wind deur die olywe.
Plaashek
Bloedrooi die alwyn langs
die slingerpad.
Dis of daar vonke uit
elk vuurpyl spat.
Maar niks, niks roer nie…net
‘n luggie wat
skrams aan die ritselende grassate vat.
Daarbo die blou, blou lug,
daaronder die rivier
wat deur die boorde kronkel met
‘n groen swier.
Niks stoor die yle swewende
Bergstilte hier.
Na al die jare maak ek weer
‘n plaashek oop.
Waar het my paaie
tog nie geloop
Om my hier by ‘n hek te bring
van al my waan gestroop,
maar met my denke helder
en in my hart die hoop?
Die hek staan in die skad’wee van
‘n kremetart.
Die stilte in my’s volkome met
Niks troebels, niks verward.
Ek lig die knop…Ek maak
‘n hek oop in my hart.
Ken jy die see?
Ken jy die see, Meneer ken jy die see?
Hy lyk nou soos jou voorstoep blink geskuur
en kalm soos min dinger hier benee
maar hy’s gevaarliker as vlam of vuur
Dan sê jy nog, Meneer die vis is duur…
Wat van die storms wat nooit ophou raas?
Jy sit pal in jou kombuis klam en guur,
en hoor die wind al woester, wreder blaas
en daar’s geen sprokkel hout meer vir jou vuur
Dan sê jy nog, Meneer die vis is duur…
Was jy al van jou bootjie soos ʼn veer gevee
deur ʼn grys golf hoog soos ʼn tronk se muur
wat help dit om te spartel en te skree “Nee Nee”!
Sluk jy eers daardie waters sout en suur
Dan sê jy nog, Meneer die vis is duur…
Sien jy die krom ou vroutjie daar, Mevrou Mathee,
Wat telkens ver, ver oor die golwe tuur
Sy dink die briesie bring
Haar seuns betyds terug vir tee
Hul slaap al drie agter die kerkhof muur
Dan sê jy nog, Meneer die vis is duur…
Die Blinde se Geloof
Maria gaan na Betlehem.
Sy trek alleen deur die woestyn.
Die blink bronsson brand uit die blou,
die skadukolle krimp en kwyn.
Sy dra die kindjie, vas en sterk
– net haar hart, van jammerte, beef.
Hy is so fraai, so … lief asof
‘n lente in sy oë leef.
Die kind vra toe om water waar
Maria uitrus langs die pad.
“Vra nie om water nie my lief.
Vra nie om water nie, my skat.
Want die riviere is troebel of
hul beddings droog, vol stof en sand.
Die blinkwit klippies in die spruit
skitter of hul binne brand
en bloed vloei uit die fonteine,
bloed van die kinders van ons land.”
Maar oorkant teen die rantjie soos
in ‘n rustige someroord
wys daar die groen lower, staan
daar ‘n bloeiende vrugteboord
vol honderde lemoene wat
aan ‘n wild-vreemdeling behoort.
Die tuinman is ‘n blinde boer,
‘n kêrel met goot oë dood.
“Gee my net een lemoentjie vir
my kind … O help ons in ons nood !
Die arme bloedjie wil vergaan.
Hy hyg van dors hier op my skoot.”
“Kyk, pluk maar self die vrugte, vrou.
Ja, neem soveel jy nodig het.
Pluk daardie grotes, dan word al
die kleintjies straks vanself spekvet.”
Maria staan slank op haar tone,
haar houding skoon soos ‘n gebed.
Sy reik ‘n sneeuwit hand omhoog.
Haar seun rus op ‘n gousblombed.
Sy buig … hy kry ‘n groot lemoen,
die knapie lag en skop van pret.
Maria pluk die goue vrug
stil, een vir een, ‘n stuk of tien.
Toe skielik bloei die hele boord met
‘n oes soos nooit aanskou sinsdien.
En toe hulle afdaal van die rant,
begin die blinde boer te sien.
Hy duisel … of meteens die helder dag
deur al die duister in hom dring,
asof dié blanke lig, dié gloed
met silwer stemme in hom sing.
Sy oë vang die vêr rante waar
hul bewe in ‘n lugspieëling …
“Wie is die liewe vrou wat my
so ‘n genade en blydskap bring ?
Wie is die kindjie, wie is die vrou ?”
vra hy met skor bewende stem.
Dit was die Heilige Maagd, die Kind
op hul ver tog na Betlehem.
Die soldaat
In hierdie dorre verlatenheid
van ‘n vaal wêreld
wat langsamerhand veryl, vervloei
sy vae omlyninge verloor
in ‘n nog valer hemel,
alleen
langs die stofpad deur die woestyn
stap
‘n enkele soldaat.
En Fort Wajier lê ver, lê ver,
onderkant die eerste ster.
Net
‘n jong soldaat
alleen.
Alleen
met die wêreld van lief en leed
wat hy omdra in sy hart,
verborge, apart,
en wat slegs hy van weet.
Alleen
in die woestynaand se skemering
wat stadig om hom kring
vaal soos die stof
waardeur sy swaar soldateskoene plof.
En Fort Wajier
– enigste oase in dié woesteny
waarheen elk kronkelende kameelpad lei,
waar smiddags ‘n suggie wind stil deur die blare stryk,
die stekende hitte, sidderende gloed dan voor die koelte wyk;
al oord waar saans die palms silwer glinster onder die maan,
diep, diep onder in die steil swart putte die stil waters staan;
enigste plekkie in die wildernis
waar lamplig, mensestemme, water en voedsel te vinde is –
lê ver, lê ver,
onderkant die eerste ster.
Met sy helm op sy kop,
bandolier om sy lyf,
watersak op sy heup,
roer oor sy skouer,
stap hy aan deur die stof:
‘n enkele vaal stippel
teen die nog valer vaal
van die ontsaglike hemel,
die ontsaglike aarde,
in hierdie grou grensgebied
waar die dag
hom meng met die nag,
die lig hom gestadig
oplos in die skaduwee.
En Fort Wajier lê ver, lê ver,
onderkant die eerste ster.
‘n Enkele vaal stippel
in die vaal heelal.
Maar terwyl die soldaat aanstap,
aanstap,
al maar aanstap
langs die stofpad deur die woestyn,
rek sy skaduwee hom trapsgewyse uit,
trek dit skuins oor die pad,
oor ‘n breë strook lawaklip heen
tussen die doringbome in.
Die skaduwee van die soldaat
val oor die pad.
Die skaduwee van die soldaat
val oor die woestyn.
Die skaduwee van die soldaat
val oor Afrika.
Vas en strak en swart en dreigend
val die skaduwee van die soldaat
wyd oor die wêreld.
En Fort Wajier lê ver, lê ver,
onderkant die eerste ster.
VERRE BLIK
Op die kaal berg
‘n ponie en sy ruiter alleen.
Strak-roerloos teen die hoë gloed,
man, perd: ‘n swart standbeeld van steen.
Hoogtes en dieptes, pieke, kranse
waar die bergstilte suis
en in die diep verborge klowe
die ver, silwere geruis
van tuimelende strome.
Die dag, nog eensamer, sterf in die eensame bome.
Die maan stoot teen die oosterkim
met sy bleekwit impala-horing.
Maar dis nog dag daar…. O wêrelde van lig
so ryk, so kalm! elk piek straal soos ‘n toring
van goue vrede bo die heuwels en die vêr valleie,
die dorpies stil en wit soos in ‘n droom:
o hemelse gloed, tydlose glans bo hierdie wye
grootse wêreld vol stilte en lig, lig sonder grens of soom…
O mense van my ras, ondanks alles wat ons skei,
steeds aan my gees, my siel, my hart verwant,
wees groot en ruim en sterk, wees vry,
vol lig en stilte, soos die suiderland!
Lied van die lemoen
“Wat het die son met jou gedoen, lemoen?”
“Hy’t my gestreel, hy’t my gesoen.
Nou is ek rooi en ryp en rond,
‘n vreugde vir die oog en mond!”
“Die son het jou met lig geraak, lemoen?”
“Hy’t my geskroei, gebrand, geblaak.
Nou is ek vuur uit daardie bron,
die ene vlam; die ene son!”
“En snags die maan…wat van die maan, lemoen?”
“Haar silwer arms om my geslaan.
Toe’t van haar koelte in my gegaan,
stil in my sap gesypel, langsaam aan!”
“Die aarde het jou niks gesken, lemoen?”
“Sy klei, deur dou of reën gedrenk.
Nou is ek son én maan en dang én nag,
het ek van aarde en lug en hul vog, hulk rag!”
“Wat het die mens met jou gemaak, lemoen?”
“Vir my gesorg, oor my gewaak.
Nou’s ek dié seën op sy strewe,
simbool van vrugbareheid en lewe!”
“Wat moet ons met jou doen, lemoen?”
“Ek wil ‘n goue glans wees tussen groen,
gepluk word dan, só met my lot versoen,
lemoen wees slegs, lemoen, lemoen, lemoen!”
Die seemeeu
Tussen die wit huis
en die wit huis,
teen die wit wolk,
teen die grys berg
hoog bo die see
silwer en grys
silwer en grys
van golwe aaneen
tot die verste vaal
horisonne heen,
styg en daal,
styg en daal
die wit seemeeu
aaneen
alleen …
Wat sing die see?
Wat kla die wind?
Wat roep die meeu?
Wat snik die hart
aaneen
alleen?
Die see sing,
die wind kla,
die meeu roep,
die hart snik
tussen die wit huis
en die wit huis
op die helder dag
silwer en grys,
silwer en grys;
waarheen?
waarheen
aaneen
alleen, alleen, alleen?
Die rymelaar se lied
Hulle sê my versies is niks wêrd,
Van digkuns weet ek kop nog stêrt.
My ritme is mos ook verkeerd,
Die mense is tog so geleerd.
My versies skeur hul uitmekaar,
En daarmee is hul glad nie klaar,
Want ook my versmaat is nie reg.
My versies, o die is so sleg!
Hul’ het geen goeie woord daarvoor,
Hul rys hul stem in slegsêkoor …
Die woorde borrel op in my,
Hul kom vanself; ek kan nie swy.
Die klankevloed oormeester my,
Dit is spontaan; ek kan nie swy.
My sirkel van gedagtes dy
Al breër uit; ek kan nie swy.
Die reënboog van my digtrant kry
’n Nuwe kleur; ek kan nie swy …
My moeder sê sy lees hul,
Vir haar is hul so mooi;
Dus skrywe ek nie vir jul,
Maar net vir haar en my.
Fragmente uit TRAM-ODE
O wakker mars van name deur my gees
van stede, dorpe, plase – plekke waar ek eens gewees het,
waar ek verlang het om nog eendag te wees
toe ek as seun, verruk, onder die lamplig saans van hulle
gelees het…
Daar is ‘n haltjie, Dwaal,
te midde van die vale
godverlore dor Karoo.
En Arequipa in Peru.
Granada is ‘n sprokiestad in Andaloe.
Popocatepetl heet ‘n berg se piek in Mexico.
Die laaste stasie voor my tuiste het die mooi Xhosanaam, Waku.
Terra del Fuego, Tristan da Cunha, Put-Sonder-Water,
Kilimandjaro en Ruitersbospas;
en die Brahmapoetra en Baardskeerdersbos….
O Aldarin! o name, o versugting!
Op Pelgrimsrus in die Transvaal
wil ek weer hoor hoe klink my taal
skoner, welluidender as Provencal.
……
Waar is die wonder en die ou geloof
wat ek eens had as kind by Bontebokskloof?
Is daar nog loekwartbome om te roof
in die skadu van Leeukop, by Tamboerskloof?
Wat het die vuur, die vlam gedoof?
Die sprakeloos verrukking en die lofsang wat loof?
……
Maar die hart ken sy verdriet
oral, in elk landgebied,
in Kaapstad sowel as in Madrid.
Lied van die Fascistiese bomwerpers
(Aan Petronella)
Ons gons uit die blou.
Ons dreun bo die aarde.
Luister! Luister!
Ons is die stem van die nuwe Spanje
en van die nuwe kruistog
in hierdie jaar ’37 van ons Liewe Heer
is ons die wit vaandels,
die baniere, die pluime …
Ons waai op al die winde.
Ons stroom uit alle oorde.
Ons wapper in triomf
teen die blou balkonne van die lug,
bo die wit terrasse van die hemel;
en ons stem is één kreet
van vreugde en oorwinning:
Lewe Christus, die Koning!
Ons is mooier as die albatrosse,
ons is witter as die seemeeue,
ons is vinniger as die mens se gedagte:
nog voor julle ons sien,
as julle ons nog skaars gehoor het,
val ons skaduwee op julle,
staan ons hoog bo jul kop,
skiet ons oor jul stad
en van ‘n hoogte van twee myl
lê ons ons eiers
in die goue nes van Spanje.
Ons vlerke is dié van die engele,
hoor hoe ruis hulle, hoor hoe druis hulle!
Luister! o luister
hoe sing ons ons lied van liefde,
hoe prewel ons ons vrome gebede.
Want ons is die rosekrans
van die biskoppe en die hoëpriesters.
Ons glip deur hul gebenedyde vingers.
Geduldig ryg hulle ons uit,
tel hulle ons af
en langsaam
die een na die ander
deur die blou kalmte van die dag
val ons swart krale
af na die aarde
op die stede
en die dorpe
en die plase …
Want ons, ons is die redding,
ons is die skans, die setel,
die veilige heilige vesting
wit en hoog bo-op die berg se top.
Ons is die stem, die woord van God
wat bom en staal en lood en vlees en bloed geword het:
Lewe Christus, die Koning!
Hoor julle ons lied, hoor julle dit?
Ons vlerke druis dit,
ons motore ronk dit,
ons skroewe soem dit,
ons masjiengewere stotter dit
en ons bomme
bulder dit
soos donder wat dreun
wyd en syd
oor die aarde …
Dis ‘n nuwe lied
en dis ‘n ou-ou lied.
Dis die lied van die wêreld,
dis die lied van die mens.
Die Pous sing saam
en al die rykes van die aarde,
die uitskot van Europa
in ons Vreemdelinglegioen
en die More uit Marokko
waarheen ons hul verdryf het
ná sewe eeue van verdrukking
in die naam van die Verlosser,
en wat ons nou weer terugbring
in die naam van die Verlosser.
Hoor julle dit? o hoor julle dit?
Hoe die lied klim en klim
hoër, al hoe hoër
soos duisende leeurike
styg na die son;
hoe dit groei en swel,
groei en swel
soos ‘n koor
van siters en skalmeie,
luider, al hoe luider
tot oplaas dit die ganse hemel vul,
‘n golf, ‘n stroom, ‘n vloed van klank
wat soos ‘n wolk van wierook rol
tot teen die wit troon aan
van God, die Allerhoogste,
‘n jubellied, ‘n lofsang
met één aanhef slegs,
één tema,
één refrein:
Lewe Christus, die Koning!
Want ons is die sprinkaanplaag van God,
die gésel vir die ongelowiges.
O kyk na ons, kyk na ons,
hoe ryk ons is en hoe geseën:
ons staan, verheerlik, teen Sý Hemel,
Hy bekroon ons met die stralekrans van Sý lig,
silwer op ons vlerke skitter die son!
Ons kom oor die oop see,
oor die goue vlaktes en die grys sierras.
Uit Palma de Majorca en Burgos,
uit Duitsland en Italië
swewe ons in swerms
en swart en skoon
skuif ons skaduwee
oor die grond.
O hef jul gesigte na bo
vanwaar jul hulp sal kom.
Kyk na ons! O kyk na ons
met jul wit verwonderde gesigte
waar jul sit gepak in jul trems,
waar jul loop deur die strate van jul stad,
waar jul drentel Sondagmôrens
oor die pleintjies van jul dorp in die son
of onder die koel platane
afstap langs die alamédas,
waar geskaar om die gloriétas
julle stil en bedees
luister na die musiek
van die skoenmakersgilde.
Kyk na ons, kyk na ons!
Julle wat die rooi lemoene
pluk in die boorde.
Julle wat op bruin donkies
mark toe ry deur die wit stof
van die slingerpad oor die berge.
Julle wat buk-buk gaan
al tussen die goue koring
en dan as julle ons hoor,
jul sekels half laat hang
oor die knikkende are
terwyl julle die sout sweet vee
uit jul donker oë.
Kyk na ons, kyk na ons,
sodat julle ons sien
en ons julle sien,
opdat ons julle verdelg
soos onkruid van die aarde!
Want ons, ons is die grys sekels
wat suis en wat suiwer
en die koring skei van die kaf.
Ons is die belofte en die voorspelling
en ons is die vervulling.
Ons is die verskrikking en die straf.
Ons is die vergelding en die toorn van bo,
ons is die basuin van God wat skal
luid uit die goue sale van die son:
Lewe Christus, die Koning!
Ora pro nobis …
Bid vir ons! Bid vir ons:
dat ons afstort op die stede
soos arende op hul prooi,
dat ons moed ons nie begewe nie,
dat ons spoed ons nie faal nie,
dat ons motore nie stok nie,
dat die afweergeskut ons nie tref nie,
dat die fabrieksfluite en -sirene
die kinders nie waarsku nie,
dat ons die vrouens oorval
voor hul die kelders bereik,
en dat ons die oop see haal
– waar die visse ons nie kan torpedeer nie –
voor die vliegmasjiene van die vyand
mag opstyg uit die stede
soos brommers uit ‘n lyk;
dat ons dan mag terugkyk
hoe die dag daar breek
bo die goue dorpies
en die wit stede
in vlamme feller, woester
as dié van die rooidag.
Sic transit gloria mundi …
alle vlees is gras.
Te Deum laudamus …
Laat ons bly wees! Laat ons bly wees
dat Sy ryk nou kom,
dat ons ryk nou kom,
Sý Koninkryk in die hemele,
óns koninkryk op die aarde:
Lewe Christus, die Koning!
Stort in puin, o hospitale
en skole en klinieke.
Verteer in ons vlamme,
biblioteke en gestigte.
Ons wil julle gelyk maak met die grond
opdat ‘n nuwe Spanje
opstyg uit sy as.
En julle wat arm is en nederig,
julle wat gras eet en smeek om brood,
julle wat nie kan lees of skrywe,
julle wat veg
in die sneeu en ys van Teruel,
teen die hange, kaal en koud, van die Somosierra,
in die modder van die loopgrawe voor Madrid,
op die dorre vlaktes van Extremadura,
langs die rooibruin oewers van die Guadalquivir,
in die skroeiende son bo Córdoba,
julle wat veg
vir leie en griffels,
penne en boeke,
sodat julle mag lees en skryf,
sterf, o sterwe
in jul nood en ellende
en seën ons
want jul erf:
die Koninkryk van die Hemele!
Sterf, arbeiders in jul krotte!
Sterf, gitaners in jul grotte!
Sterf, boere sonder grond,
want nou gee ons jul ‘n stuk grond:
‘n swart gat in die grond
ses voet by drie
as julle gelukkig is.
Sterf, demokrate, republikeine!
Sterf, anargiste, godloënaars!
Sterf, rooi gespuis!
Sterf, Katolieke
wat nie wil saamsing
in ons heilige koor nie!
Sterf, vrouens en kinders
in jul duisende en tienduisende!
Sterf, saad wat nog slaap in die baarmoeders!
Lewe Christus, die Koning!
(Daar hang ‘n jonkman aan die Kruis,
Hy dra ‘n doringkroon.
Sy oë is droewig,
droewer as die reën,
en Sy wonde bloei aanhoudend.
Altyd sonder ophou
drup-drup Sy warm bloed
af op die wêreld.
Wend julle na Hom.
Hy sal verstaan.
Hy sal vergewe … )
Sterf, toekoms! Sterf, hoop!
Sterf, liefde en medelye!
Sterf, Spanje!
Lewe Christus, die Koning!
Uit “Vishoring”
Vir Herman Steytler
…..
Kom kyk, mensdom, kom kyk!
Toet-toet-teroet! Toet-toet!
Dis viste, viste van
die fynste voorste bloed…..
Kolstert, marsbanker, daeraad,
stompneus en kabeljou…
Kyk, kyk, die kleure net!
Dis silwerwit, dis silwergrou,
goudgeel en groen, dagbreek se rood
en daardie diepseeblou.
Het jy ooit in jou lewensdag
so ‘n fancy dress aanskou?
Of is dit dalk ‘n reënboog wat
hier by my piekniek hou?
Kyk net hoe glinster hul
soos douvoordag die dou.
Kolstert, marsbanker, daeraad,
stompneus en kabeljou.
Fyn uitgevat en silwerskoon,
my rooi ou rooi romeintjie.
En daardie vietse fransmadám, sy met
die groot swart oë, die ou kleintjie.
Ag, dat hulle almal eindig moet
aan die endjie van ‘n lyntjie!
Kom koop, toet-toet! Kom koop, toet-toet!
Of het jul dalk geen breintjie.
Dink aan die Grote Visterman,
Hy wat sy Stok oor almal swaai,
die kleinste ou klipvissie en
die yslike mensvreter-haai.
Hy’t mos sy eie lewe
soos koringkorrels uitgesaai
opdat ons alger later
die ewige geluk mag maai.
Daarom moet ons in vrede leef,
wit, bruin en swart en kind en kraai,
moet ons mekaar verdra, verstaan,
ja, hiersô aai en daarsô paai….
Ek weet dis swaar, verbrands,
maar ons moet traai
om te probeer
en traai…. en traai… en traai…
(Hier’s tjy al weer, tjou Kaffertjie!
Lat stan daai vis! Loep in tjou maai!)
Onthou die groot, groot Visstok wat
oor almal swaai.
En koop, toet-toet, kom koop, toet-toet,
my vissies van Valsbaai!