Steve Hofmeyr
Deur jou vingers…
Jy, in die huis van haat verdwaal.
Daar’s ‘n prys om te betaal.
Soek jy bang in ‘n donker gang, waar die lig deur die luike val.
En hier, leer die fout wat jy begaan.
‘n Goue les daaraan.
Jy’t my hart ontvoer oor jou koue vloer.
Waar jy vir my alleen laat staan.
Vra ek te veel om saam met my dit te deel, wat ander bymekaar hou?
Vra ek te veel om saam met my dit te deel, wat ‘n hart van jou wil hê?
Kyk, hoe ek deur jou vingers val.
En die donker my kom haal.
Kyk, hoe ek deur jou vingers val.
Kyk hoe val ‘n man van staal.
In die slot van ons verhaal.
Waar ek deur jou vingers val.
Dis ek, wat jy deur jou vingers saai.
Deur jou rug op my te draai.
En weg te loop, terwyl jy hoop dat ek jou soos ‘n boek om blaai.
Vra ek te veel om saam met my dit te deel, wat ander bymekaar hou?
Vra ek te veel om saam met my dit te deel, wat ‘n hart van jou wil hê?
Weerstand
Wegstap word gemeet in ohm
en die nag se wind moet uit wees
die herd se vlamme flou
en die reen se spene ook.
My erewoord moet sag wees
sagter as die wegstap wees
en jou terugroep net ‘n grap.
Jou woonsteldeur moet oopstaan
en jou geur moet doodloop buite.
Jy moenie by die venster waai
en ek aanhoudend omkyk nie.
Daar moenie baie tyd wees nie
die kar moet dadelik vat
die Vaalrivier moet droog wees
en die N1 stil en afdraand
en godweet ek moet net onthou
dat ek niks hier moet vergeet nie.
Maar die selluler moet afbly
en die bulte om Johannesburg
glad nie na jou lyf kyk nie.
Die asemsoet savannas moenie
in jou rigting sink nie
en niks wat Manie Kitching speel
moet my aan jou laat dink nie.
Maar dit sal jy wat bly nie weet nie.
Wegstap word gemeet in ohm.
Al vergeet jy my
Al vergeet jy my vir altyd
langs ‘n mylpaal op jou pad
onderstreep jy steeds die prentjies
in die hoeke van my hart
Leg die kaart van liefde
al neem dit jou n jaar
tot die malmaak van ons briewe
en die oë op ons bedaar
gou gesiggie skud my hand
as die lense vir ons loer
net ‘n oomblik naamloos alhoewel jy in my boer
Ek Spartaan
ek Spartaan
wat ligdag op sy beuel bly blaas
om almal wat hom volg te haas
in rigtings wat sy leerryk span
met vlerk en vuis en roemerplan
maar saans alleen in tente wit
vleuellam langs sy bed bly bid
deur die wegbyt van ‘n traan
verbied vir hom die spog-Spartaan
wat in my popcorn snak en snik
en trane oor ‘n Disney pik
as prentjiesmense aan mekaar
hul hartstog op die doek verklaar
en agter titels staan en waai
vir my – leek wat nog oor liefde raai –
want alles wat mens moet verstaan
bly duister vir die spook-Spartaan
wat reelloos oor Vivaldi raak
(wat hom ewig aan my inste traak)
dat ek dae lank deur my venster staar
om versies buite te gewaar
maar vashaak in die sleutel A
dan onvoltooid die lied verlaat
om buite in die reen te staan
en skree: ek Spartaan
uit: “Valkuns” deur Steve Hofmeyr
Vervlakte Vrystaat
Duskant Skilderkrans langs
die N1-bord wat se daar’s
nimmereindigende myle wat voor ons le
vir altyd se geel gloed
vervlakte Vrystaatvlaktes
Darem ‘n rooi vlek Jerseys
hier en daar wat
wyd laagsnoet wei soek
en langs ‘n kaktus
klapstert staan en staar
oor jou Godverlatenheid
Wie het jou so drooggesuig
Die warm wind wat eers verspot
deur jou doringbome lispel en
dan skielik opskiet in ‘n warrel
wat winduit kamma dan in waan
jou windpompstoot kom boikot
en jou skroef en blad verwoes.
Se my wie se water waarvandaan
het jou ratrumoer geroes?
Erens onder in jou dale
in kraal en strooisgehug
erens le jou wateraar
gewurg
En die nimbus-ikoon bokant jou gly
toe-oe tog weloorwoe oor
jou dekmantel van goudgeel stalagmiet
smekend en verkalk en tog
verruklik puur
En in my truspieel pryk
op die N1-bord se gatkant
‘n halfgeskeurde pe plakkaat
wat aan’t flarde halfbeloof:
HIERDIE
IS ONS
VOLKSTAAT
-Uit Valkuns deur Steve Hofmeyr-
Gedy
ek smag die dag
‘n wyle langer
en vang die sonsak
in ‘n beter tyd
en skink
dit oor jou uit
gedy tyd
gun on seen monument
een gaping
in jou ewigheid
om hierdie saamstesyn
te vier
gedy
Sag
I wept not, so to stone within I grew
– Dante Aligbieri
Enduit sal jy ook nie verset nie.
Jaarliks retireer die Kalaharikoggelmander
en meeu op jou, gebreekbeitel deur die branders.
Ou Rotsvas! Klou sal jou nie red nie.
Die windharp speel jou requiem en slyt
jou pag met plooi as paaiement en
pluk die stinkkruid uit jou hoof se bos sement
en diep so – geruisloos – jou staal op en stuifmeel uit.
Anker jou benede! Dís waar jy jou pyn verberg.
Ek weet. Maar die suurreën wat sag van bo
val, posjeer jou vir die kies van die ego-
lose fees: waar alles berg – na bol verdwerg.
Priem my met jou teer lanset, ja,
doen so voort en jy sal my oorwin,
want niks is harder nie, my lief,
as sag
Blaupunt
Ek verlang na die langspeelplaat
se grynspiraal na binne
en die wêreld deur die gaatjie.
Die eerste snit geCreamyToffee-vinger
maar die naald sal inval waar hy wil
en die spil bekruip. Akuut
die krappe by dieselfde draai
33 grootmensleuntjies/minuut
… cross out hearts and we hope to die*
maar vroeg al deur niniel verraai.
*Games people play – Joe South
Bepeinsing
Sou jy my in dié wintermaande
minder dynserig kon nader
die deur inbars in plaas van
suutjies vra of jy maar kan
uitgaan vir ‘n pizza saam
met vriende en ‘n tyd beraam
om terug te wees sodat dit
my sal pas
as ek jou in die somerson
die kans kon gun om self te blom
Verraai
Op ‘n public do waar ons belowe het ons sal maak of ons mekaar nie ken nie
Ek groet u met die hand:
die bros formaliteit van
‘n vlugtige visitekaartjie
en ‘n siek aanwesigheid
van patos.
Dié tydelike verkwanseling
van my versweë kwota lus
en kwes van kyk en nie mag mag vat nie
lees u seker in my oë, my lief.
Ek veins die vreemde ons,
oordryf dit als miskien, my lief.
Ek versin verward die protokol wat
my verhole drif moet demp maar …
perdalks het hy dit reeds begryp,
want hy lei u kras na die kaviaar
en kringe buite my bereik.