Jongste aktiwiteit:

Joan Hambidge
vir

Joan Hambidge

Ongerymdhede

Ongerymdhede dring die dag binne
my shrink  (soos my heiland)  hoor my nie
my vriende versaak my
misverstande tussen my en haar
word woedende stiltes
die natuurskoon bedreig my
die oseaan woed ‘n springgety
en ‘n skip sukkel om oor die einder te verdwyn
en die here weet:
ek kan nie eers meer ‘n fokken vers fabriseer nie
dus wag ek, geduldig,
voel die vesels van die vers
laat die dices weer val
draai die rymwoordeboek, speel Russian Roulet
ongerymdhede in ‘n vrye vers
praat van dae gevul met stiltes
my vriende en my shrink begryp nie meer
misverstande tussen my en haar stapel op
soos onbetaalde rekeninge
die natuurskoon pas nie in nie (dis geen natuurvers)
en ‘n skip sukkel om oor die einder
van die vers te verdwyn
en die oseaan bly immer magtig, wydgestrek.

foto in rou

Joan Hambidge
Beskeie waag ek
vanaand ‘n gedig
oor jou Nee eintlik vir jou

ek wou begin:
die argetipiese seksgodin
wat ander voor en na
leepoog weg laat kyk

besluit: té dramaties
gewigtig lomp
ensovoort

my onvermoë word nou
net ‘n oomblik lank
opgehef

wanneer ek met ‘n skok
Bert Stern se L.A.-foto
sien

dat toeval hier net toevallig
was, glo ek nie
Marilyn Monroe in rou!

net die skouers wys effe
lyf (verder niks)
soos ons gewoond was

jou kop skalks weg áfgedraai
jou hand voor jou mond
asof jy stil waarsku: ek word nie meer gebruik

jou linkeroog bot toe
selfs die wimpers glimmend swart
dan: die immer wit gebleikte hare

O altyd witter ja witter as sneeu
begin swart uitskif
in jou sagte swanenek
hiervolgens moes jy wel weet
(kyk selfs die moesie wit)
of was jy reeds tot-die-einde-toe

moeg?
die dood is net ‘n droom

 

Brooklyn-brug

 

Thy cables breathe the North Atlantic still.

Hart Crane

 

I too knitted the old knot of contrariety …

Walt Whitman

 

O Brooklyn-brug,

veel besonge oorgang

van lewe na dood,

jy staan opgeteken

in Walt Whitman

en in Hart Crane.

Ook Jack Kerouac

besing jou.

Maar dit

is Majakofski

ver terug in 1925

wat glo

jy sou selfs

die Oordeelsdag

oorwin

en oor die débris staan.

Hierna sal

alles vervorm

en verwerk word

met jou

as model.

Daar was

so ‘n dag,

genaamd 9/11,

toe jy weerstand bied,

ook ‘n uitkoms was.

Amateur-fotograwe

kon

die vuur en rook en swael

ópvang

vanaf jou onwrikbare posisie

wyl

‘n boot geluidloos

onder

deur jou vaar.

 

(c) Joan Hambidge

 

*

 

Nagmerrie

 

Daar is geen poësie

glo moontlik na Auschwitz?

Jeroen Bosch se triptiek:

deurgesaagde lywe,

folterkamers,

stank en bloed

in ‘n cauchemar.

‘n Kop bars oop

granate spat oor

die convertible

want Anita kom nooit

met die môretrein:

Zapruder op sy pos

en op youtube speel

Happy birthyday, Mr President

waar die twee gedoemdes

nou aanskou

hoe Stalin en Hitler

hul folterwoorde eet

in ‘n hel van herhaling:

die droom ‘n blote grotteschi?

Monsters en chimeras

bevolk ‘s-Hertogenbosch

toe ‘n brand in 1463

die jonge Jeroen

se dorp verwoes:

in die Museo del Prado,

Madrid word sy kuns,

echt een nachtmerrie,

agter glas gestolp:

Adorno was nooit daar.

 

(c) Joan Hambidge

 

Philip Seymour Hoffman R.I.P.

 

Wie sou ooit kon raai

dat jý weerloos gevind

sou word met ‘n naald,

prikkende slang

om jou arm gedraai?

 

Of dat jy voete eerste

by jou rykmansapartment

nie die pers sou kon systap?

 

Jy was immers berug

om (self)konfrontasie,

besoeke aan ‘n rehab

om ‘n reputasie te red.

 

Die talentvolle Meneer Ripley

ruk jy aan stukke – hierna maak hy

van jou ‘n voetskrif;

in die laaste kwartet kyk jy

lodderoog in ‘n spieël

met ruwe wenkbroue

agterdogtig en slu.

 

Jy word telkens jou karakter:

lispelende, psigopatiese

Truman Capote

trap jy fyn fyn

na in die spoor.

 

Waar begin jy

en eindig hy?

 

Lewe, weet ons,

behels meer as boogie nights,

roem of faam ‘n blote sinekdogee.

As kind vertolk jy

Hompie Kedompie

en in die voetspore

van die grotes sou

jy gewis kon volg

met ‘n King Lear of ‘n Richard III.

 

Nou net jou ryk of nalatenskap

vir ‘n high of ‘n score:

“A horse, a horse, my kingdom for a horse!”

 

Verslawing ‘n blote benoeming

vir die beste ondersteunende akteur;

na die derde keer

genadeloos,

‘n laaste Oscar

oorhandig

sonder bedankingstoespraak

of applous.

 

Time out

 

Iewers buite tyd bestaan ons:

in die voorportaal van die Demantoid

drie horlosies se wysters staan botstil:

 

Tokio, New York, Istanbul…

wyl ‘n kersliedjie klokkie-klokkiespel,

verkies ek tog ‘n klokkespel in Amsterdam.

 

Met jou het ek tyd gewen, meen ek:

my selfoon wys immers ‘n dag agter

oor die tydverskil tussen Oos en Wes.

 

My onopgemaakte bed verklap

‘n nag vol drome, hunkeringe

na daardie tyd toe jy, les bes,

 

onversadig, tydsaam en tydloos

die oggendwekkers saam beleef het:

klokke van die Katolieke kerk,

 

die muezzin se dralende gebed,

tot die dénouement: stadige

liefdemaak in ‘n tydlose liefdesbed.

 

Hanoi

 

(c) Joan Hambidge

 

*

 

Liefdesgedig as reisgedig:

 

1 Om uit te check

 

Ek het jou verlaat

soos uit ‘n hotelkamer

gecheck: sonder adres

of foonnommer,

boonop nat handdoeke,

‘n onopgemaakte bed

agtergelaat

met ‘n vullisblik

vol verwyte,

foltering en verset.

My tas voor die deur

en die kodenommer

van die slot (soos my hart)

nou net aan my bekend.

Bykans vergeet

om vir die ekstras

van ons liefde te betaal.

Die rekening

hiervoor

sal waarskynlik

vir altyd

onvereffen bly.

 

 

2 Deur die doeane

 

‘n Packlite-rugsak, handtas,

dagboek, kamera, selfoon,

beursie, rekenaar, paspoort

 

geskandeer

 

om dalk iets ongehoords uit

te wys? Soos ‘n a-ritmiese

hartklop? ‘n Onthou-virus?

Dalk ‘n verwytende klont?

 

Tog bly hierdie sisteem

in gebreke

 

om ‘n handvol verse

se metriese patroon

vas te stel.

 

Jambies of anapes?

Dit wis ek nie.

Weet net

jy het immer

elke gedig oor jóú

hartgrondelik verpes.

 

 

3 Zip up your chakras

 

In ‘n droom verskyn

jy vraend aan my:

wat het ek gedoen

om hierdie stilte

te moet verduur?

Woordeloos, ek,

net om later

my nogmaals

te verweer

teen astrale vrae

ná voltooiing

van dyn en myn.

Nou’s dit

“zip up your chakras”

soos die liedjie lui;

dog geen woundology,

geen gedig.

 

 

4 Spoorsny

 

‘n sms

bazoeka

deur ‘n tonnel

waar ek

skuilhou

teen jou:

weer jou af

en vee

voetspore

dood

deur ons

te delete:

nou loop

ek vorentoe

en fnuik jou

met sandale

se spore

wat agtertoe

wys.

 

Saigon 2013

 

(c) Joan Hambidge

 

*

 

Gedig

 

 

‘n Reis soos ‘n gedig

loop immer op twee vlakke.

Moord eis speurder

soos ‘n liefdesvers

jy en myn(e) opeis:

liefde word tog dood-slag?

Iewers tussen Saigon

en Hanoi op pad na

Halong-baai

pleeg die digter

‘n pleonasme rapat

soos ‘n onbebroeide eier

raak dié referensie

kant nog wal.

Ek hoor jou vra:

hoe was die landskap

in IndoChine?

Blaas my siel.

Daar is geen mirakels

of muses hier.

Niks wat Cleanth Brooks

sou behaag;

net die Japannese linguis

ter harte neem

oor gevaarlike woorde…

Dus nou náskryf in stof.

Die leser, nes die digter

word vervlaks gefnuik.

 

(c) Joan Hambidge

 

Vers vir Mandela

 

Na ‘n ándersoortige Ceylon

verban verbruik verneder

na ‘n sel

met ‘n naam uitgekerf:

trotseer jy op Robbeneiland

die verblindende son.

 

Vreemdelinge vaar

van heinde en verre

per boot na daardie oord.

 

En jy het gewag

– ‘n vreeslose verbanning -.

Toe na ‘n ander ruimte

verstoot:

 

die Victor Verster

tot die groot V

van Vryheid

 

voor die alsiende oog

van soveel kameras,

 

wég van Verraad

die lang pad na Vergifnis:

‘n vredesteken,

V

 

soos lydsames,

verdoemdes,

askete voor jou

van insurgent tot held,

skuif verlede oor hede:

 

Nelson Mandela,

Rus in Vrede.

 

(c) Joan Hambidge

 

*

 

Huishoudelike oorlog

 

Immer aan die einde

van nog ‘n liefdespel

bly stofsuig die allerlaaste opsie:

die klein blou Bosch-krokodil

sluk met onverdrote ywer blindelings

die reste van ‘n verhouding op.

Knersend op sy plastiek-tande,

‘n ekstensie van sy eienares,

rig hy hom op al die hoeke

en draaie van ‘n huishouding

vol matrioska-poppies, maskers

uit Wes-Afrika en ‘n voedoe-figuur

perdalks uit Kuba?

En ja, het hy nie attitude nie!

Onvermoeid sonder slag of stoot

word elke onsigbare stoffie opgesuig.

Na soveel jare ontsluit ek sy pensie

en vind tot my verbasing

verlore versreëls: ‘n ietsie van Eybers,

‘n skeutjie somber Spies,

‘n krieseltjie woedende Krog

en veral ‘n flentertjie eiegoed:

“Jy’t weggegaan

en jy bewoon

‘n stowwerige katakombe

van ‘n blou bedonnerde Bosch-stofsuier

sonder ‘n wakende kat

met twee Russiese munte

op jou blinde oë.”

 

(c) Joan Hambidge

 

*

 

Emily D op Facebook

“I dwell in possibility”.

 

Hoeveel volgelinge

sou jy op Facebook trek?

Oor hoop as die ding met vere

wat woeker in die siel?

Oor jou liedere van eensaamheid

met spaars, afgetelde sillabes?

Sou jy elke dag aanmeld

en ‘n boodskap laat

oor nog ‘n dag sonder voorval

of gebeurlikheid?

Dalk iets vertel van die singende

bome, die klaende huidjie-hu

of die blomme in jou tuin?

Sou jy iemand un-friend

of afweer wat niks begryp

van die hartslag van ‘n aandagstreep?

Hoe sou dit tog alles klop?

Die intens private digter

uitgelewer aan sengende,

sinnelose sinergie?

 

(c) Joan Hambidge

 

“Poësie is verbittering,

hemelse heuning wat vloei

uit ‘n onsigbare heuningkoek

vervaardig in die siel.”

Federico García Lorca

 

Vir Jdl

 

Hoe ironies

dat sy wat dink

nes Federico García Lorca

dat poësie hemelse heuning is,

spruitend uit ‘n onsigbare heuningkoek

allergies is vir stiltes.

 

Dat om buite woorde

of sonder woorde te wees

(met jou hoed in jou hand,

kom jy regdeur die land-

skap van ‘n gedig)

haar van jongs af steur?

 

Om die gedagte van afskeid,

die omtes van die hart,

die geweld-van-stilte

woordoordadig te verken

en in die tuin van Emily D.

in Amherst, Mass. ‘n klipgooi

van Sylvia P. se Smith College,

dáárdie zoemende by te hoor:

 

die aandagstreep in ‘n vers

sinkroniseer met die hartslag

van die digter verslaaf

aan swart bytjies op papier

 

al om die wit en apostroof.

 

(c) Joan Hambidge

 

*

 

Besetzung

 

Vir lank was jy

in my gemoed

soos ‘n droogte

geteisterde gebied:

 

gebid om die reën

van jou aandag,

leibeurte afgewag,

die stofstorms van jou stilte

gade geslaan.

 

Selfs die Landbank

het die lenings

van jou liefdevolle lyf

ópgeskort.

 

Toe ná ‘n biddag

vir reën

spoel alles weg.

 

Ek verlaat ons kleinhoewe:

uitgeboer en bankrotverklaar,

 

trek weg,

sonder ‘n transport-akte

of hoop op ‘n nuwe staning

onder die sterre met jou.

 

(c) Joan Hambidge

 

*

 

Weer eens

 

Soos Eybers en Krog.

 

Vir Jdl

 

Ek kom weer eens nie uit

met my digterlike budget nie:

 

‘n halfgekykte Short Cuts grom

in die swart DVD-speler.

 

Die kouewaterkraan gor

sonder water weens verbouings

en verbrekings by die bure,

 

‘n troostelose hemp

(let op die personifikasie)

kla sonder knope

 

en ‘n halwe Valentino-pizza

gril vir ‘n duisendpoot

langs ‘n blikkie Doom.

 

Hou jou by jou lees,

beveel Elisabeth Eybers

en Anna Krog, kenners op dié gebied.

 

Hoe de fok doen jy dit

wanneer jou eks onverwags sms

en soos ‘n haai deur die nette

 

glip na aanspraak op jou psige

en jy woordeloos en ontheemd

voel soos ‘n Russiese beer

 

in ‘n tropiese dieretuin,

terwyl die apies pis

op verbygangers?

 

Ek maak aanspraak

op my digterlike gespreksmaat,

hy bedien my altyd tog van raad,

 

en wens ek was iewers

in ‘n vreemde ruimte,

ver weg van huishoudelike ellende

 

met stof wapperend

vuil vensters,

en ‘n bril vol groenspaan.

 

(c) Joan Hambidge

 

*

 

Hoeveel onse in jou pond?

 

 

Wie is die ewige jy,

die aangesprokene?

Petrarca had sy Laura,

Dante ‘n Beatrys.

Lesers van poësie vra taks,

wie is die “jy” in elke vers?

 

Hoeveel onse in my pond?

Soveel jy’e staangemaak,

uitgestal en ópgestop

in my somber sange.

 

Die digter is ‘n lykskouer,

nee, vivisektor en in Istanbul

by nabaat, beantwoord ek jou vraag:

 

“Hoeveel geliefdes had jy?”

 

Daar was net één, één Groot Liefde,

die matriks of matrys:

 

haar regte naam moet sy nog kry,

inmiddels doop ek haar

 

ónomwonde en paradoksaal,

en beslis finaal:

Ars Poetica.

 

(c) Joan Hambidge

 

*

 

Onbeantwoorde vraag

 

 

Hoeveel verhoudings had jy?,

vra die reisgenoot direk.

Om die oë te vermy,

skil sy die dop van ‘n eier

en bied ‘n antwoord

in ‘n metaverslag:

 

Die “sy” in Palinodes laat haar dig:

 

Ter in die

 

As ek jou topografies

moet voorstel

(stip soos die woord eis)

 

dan ‘n Mediterreense stad.

‘n Warm, wolklose dag

word sonder sein

 

winderig, stormagtig.

En onvoorspelbaar

stil. Bewegingloos.

 

Drie maal per dag

dink ek nou aan jou.

 

Soos dié drie

 

weerstoestande: geluk,

misverstande; maar

veral – onhoudbaar

 

die blywende stilte.

 

Die “sy” in Vuurwiel laat haar skik:

 

Dizain

 

Deesdae wanneer ek ‘n vrou ontmoet

op my hoede, kopsku, wonder nie meer

oor haar sagte mond of ander goed,

en of sy haar oë onderwaters, ensomeer,

oop- of toehou en of sy gil vir meer,

sy haar kop (uiteindelik) finaal verloor.

Nee, ek bêre my bedelaarshoed, uit en oor

en wonder -by voor- en nabaat- stet!:

watter triek gaan sy uit die hoed toor:

Hoe my neerlê op waffer Prokrustesbed?

 

By voorbaat dan,

elke vers in

hierdie donker labirint,

‘n kriptonemie,

‘n onbeantwoorde vraag.

Dalk daar is niks om hieruit te trek,

behalwe dat die “sy” of “jy”

telkens dieselfde wond vergestalt?

So tussen stilte

en stip verlaat sy

stiekem

die museum

van smart.

 

(c) Joan Hambidge

 

*

 

Naam

 

 

Ek kon nooit maar nooit jou naam sê

nes jy nooit maar nooit die naam

van ons geheime liefde wou besê.

Jou langsame dubbeldoor-naam

bly te lank in my gemoed draal

soos ‘n swart vergeet-my-nietjie.

Nou het ek oplaas jou naam gesê;

in ‘n klein ritueel suiwer ek my,

vind toevallig vanoggend ‘n amulet:

‘n helende, afwerende dizain.

 

(c) Joan Hambidge

 

You never finish a poem, you just abandon it

 

Paul Valéry

 

Gestel ek sou jou,

my voormalige geliefde,

aan die skryfproses gelykstel,

mag dit dalk só lyk:

 

aanvanklik is jy ‘n vrye vers

met soel en soepel beelde,

 

vol somer en sonreise

na vreemde, eksotiese bestemmings.

 

Dan word ons ingeperk in die strak

patrone van ‘n distigon se koppige koeplette;

 

vérder in die tyd begin die reëls

van ‘n sonnet sig meedoënloos geld:

jy in jou oktaaf en ek

in my sekstet

 

met die wending

van ‘n vertrek.

En nou?

 

Nie veel het oorgebly:

ek plaas jou in

‘n haikoe:

 

“die winterreën

spoel trane van jou vertrek

op my vensterruit”.

 

Jy, nou my kritikus,

sal waarskynlik

nie eens dié vers

lees nie.

 

Daar sal geen resensie

hiervan verskyn,

geen uitwys

van temas of tegnieke.

 

Nee, net jou stilte

skerper as afwysende kritiek.

 

(c) Joan Hambidge

 

*

 

Hotelkamer Istanbul

 

Kyk mooi,

sou ek sê,

‘n foto maak ‘n punt

in die groter komposisie of studium,

aldus Roland Barthes in Camera lucida:

die reistas toegesluit met ‘n reisbiljet,

en effens meer na links ‘n wasgoedsak

langs ‘n geel hemp en swart een

oor die stoelleuning uitgehang

voor die televisie se dooie oog.

Fresko’s uit die Bizantynse tyd

op die tafel: helaas onbespiedbaar.

‘n Gapende leerhandsak

(moeg soos die afwesige fotograaf)

regoor die rugsak

rustend op die bed

langs ‘n bottel parfuum,

reukweerder, selfoon en laaier.

Maar dis die pen

nou opgetel

om iets neer te stip

van daardie helder kamer.

Die lig van die Chora-Kerk

van Konstantinopel

aan die insypel

inkyk, inspeel

en vredig oor alles gespoel:

inkblou soos ‘n getyelose see.

 

(c) Joan Hambidge

 

*

 

Pneuma

 

Die onaantasbare iets, genaamd

siel, psige, onbewuste

is lotsbepalend;

dit wat ligter of swaarder

as ‘n veer

op ‘n Egiptiese skaal

lê: setel dit binne-in

of buite die self?

Dalk vasgevang in taal,

aldus Jacques L.,

in ‘n triadiese verbintenis

verbeelde-simboliese-reële

vasgeknoop?

Nee, meen jy:

net so min

as wat die vierkant

kan sirkel

of die reghoek

se vierkantwortels

maklik verplant

is die psige, siel,

of-wat-ook-al,

té veel onder neon-ligte,

ge-youtube, ge-wikipedia

soos ‘n wafferse celeb

in Cannes aan die handtekeninge

verkwansel, die pers aan’t pypkan,

vir jou Keltiese aard

in navolging van John O’Donohue

nou maar een te veel.

Die siel onderneem

‘n duimpiereis

en verkies stilte bó

die myle en myle van leë praat.

 

(c) Joan Hambidge

 

*

 

Katabasis

 

We live life forwards and think about it backwards.

Howard Nemerov

 

Dieper delwend die verlede in

lesend aan die vyfde edisie

van die Norton

ontdek

 

ek ‘n vers van Simon Armitage

oor hoe jy nooit ‘n gil

kan stilmaak nie.

 

Verder die hel in

speel skeeloog Sartre

harpisikord

en sing vals-vals

die hel-is-ander-mense;

 

met Dowe Peet

aan’t klippe kap

met ‘n armed vision

en wete van Satan-Helios;

 

nes Dirk-der-duisende

hoor daar is moer

in sy grootkoffieboek

se digterlike parade.

 

Is ek dan steeds Eurydice

wagtend op Orpheus

of word dié proses

meer-en-meer

‘n anabasis?

 

What the hell!

Jeroen Bosch trip-

tiek ‘n laaste oordeel

met sy visies

van die helnaarmaals.

 

Op my ou ramkietjie

met net een snaar

speel ek immer op papier

só heuristies aanmekaar.

 

(c) Joan Hambidge

 

*

 

Enantiodromia

 

 

Ek is ‘n gedig

wat ‘n plek

soek om te gebeur:

 

op my psige ingebreek

deur katdiewe

van die digkuns.

 

My paspoort en ID

raak soek as ek vra:

wié roep daar?

 

Op reis in ‘n sirkelgang

weet ek nou

jy sal klip uit bloed tap.

 

‘n Orkaan waai

die huis van die gedig

hermeties onderstebo:

 

Jannie Smuts dra

in sy saalsak

Kantwerk –

 

wolf, wolf

blaas blaas

voor die deur:

word eerder mana (sic!)

uit die hemele

 

van die onbewuste

soos Carl Gustav

dit netjies stel:

 

complexio oppositorum

hou my dag en nag

tobbend oor oorgange:

 

dié bostaande formule

onbegrypend nes ‘n akker

breek in my gemoed:

 

gedagvaar deur die dood

en verloën oor die liefde,

dus as hermiet verban.

 

Die spreker (én leser)

bly skuilhou én kopkrap in die

kelders van onthou.

 

(c) Joan Hambidge

 

*

 

My Oom

 

glo ’n telefoonoperateur

laat die lyne suis

tussen

hom en my pa.

Snaaks,

my pa het nooit

daaroor gepraat nie:

oor sy broer

se werk by die sentrale.

Een nag het ek dié oom

op die bed sien sit,

waar hy gesels met homself.

Daar was ’n kind

se dood by ’n viergangstop

iets was daardie dag

soos telefoonlyne gekruis.

Die ander kind heet hierna Hope.

My oom word ’n alkoholis

oor sy kind se dood.

Daardie kind het saam

met sy ouma gesterf

op ’n kruising, onverwags,

sonder ’n telefoon na God

en waarom, weet ons nooit.

Op Tulbagh daardie tyd

met die aardbewing

het my tante glo

voor die vuur uitgeloop,

gedink dis die Oordeelsdag.

Dit was God, glo my,

wat net hard die aarde berispe.

 

(c) Joan Hambidge

 

*

 

Analepsis

 

 

Verslaaf aan die parentese, dit is ek,

wagtend op die finale punt, ook dit is ek.

Niks word ooit ópgehef, niks word vergeet,

aan herinneringe vasgebind soos jy weet.

Ons skeiding (’n soeke na rus) word ’n kommapunt.

Eer ek opnuut begin, tel ek sillabes, dalk ’n amfibrag?

Anadiplosis? Herhaling, liewe leser, my knelpunt.

Geen Pindarus, geen anti-strofe, net ek wag.

Ek is net dit: aan die parentese verslaaf.

 

(c) Joan Hambidge

 

*

 

Matriks

 

Ek is ek is op

my eie sofa

my eie analis

luisterend

na die analisant

vis na klarigheid

Ek is ek is op

soek na stilte

dansend Derwies

Rumi in ‘n sirkel

Ek is ek is op

weg van pyn

mislukking

ingeslukte woorde

my tong uitgesny

Ek is ek is op

pad om te sien

hoe die digkuns

se matriks

die gietvorm

moedervorm

deur letterparades

van die Ek

ontset word

 

(c) Joan Hambidge

 

*

 

In Memoriam: Carl Mischke *

 

Each of us has his own rhythm of suffering.

– Roland Barthes

 

Interne weerstand,

só beskryf jy hierdie proses,

in ’n ander tydsgewrig.

Meegaande gedig,

waaroor ander regters oordeel,

’n obiter dictum

vir jou wat jou einde

unheimlich aankondig:

 

Vesting

 

“Ten minste

is ek veilig hier.

Bedags blaf

opreggeteelde honde;

snags gloei versteekte oë

– infrarooi wonde.”

 

Jy is meer as ’n statistiek

of kortsluiting:

jou oorlye laat ’n merk, ontwrig

diegene wat in jou

veld van aantrekking beweeg het.

Ons sal jou onthou:

Groot verseboek

is immers ’n Fort Knox

waar geen moordenaar betree.

Ingeperk, ja geskaad,

maar met ’n locus standi,

’n holte vir die voet

binne die kanon

nóg een wat voortydig

die digkuns verlaat.

 

* Hierdie vers is op versoek van Litnet geskryf.

 

(c) Joan Hambidge

 

*

 

My suster se skoene

 

 

Ek leen my suster se suede-skoene

vir ‘n uitstappie

met my ouers en Tante

deur die Blyderivier-canyons.

My Tante, op besoek,

uit die Strand

met haar Bolandse bry.

Ek leen my suster se suede-skoene

vir die fynfamiliewals

met ‘n enigste blou-oogbroer,

glo as loods verongeluk

waaroor hulle murmureer

en hul pa word ‘n stilte-afgrond.

Ek leen my suster se suede-skoene

onwetend toe

hoe ek vir altyd die spoor

sou vat deur familie-dongas

roepend roepend verdwalend

na versakings, verstillings:

vlugtend vérvandaan.

 

(c) Joan Hambidge

 

*

 

Die digter as akteur in Venezia

 

Do I contradict myself?

Very well then I contradict myself,

(I am large, I contain multitudes.)

 

Walt Whitman

 

I

 

In hierdie stad waarin soveel filmmakers

die dood se gruwelike weerkaatsings

vasgevang het, herdenk ek Freud

oor Nachträglichkeit; waar ego was,

sal id bly huiwer en ondergronds stotter:

moenie nou kyk nie, maan ek myself

toe ‘n vrou inmekaarsak op ‘n brug.

Hier het die beeldskone Tadzio gestap

in ‘n verrottende stad met Visconti

agter sy kamera winkend, wuiwend.

Daar is geen genade vir my hier nie,

nog behorendheid, nog met sorg

van vreemdelinge of vriende.

In elke steeg is daar afdrukke

van my pynlike psige,

onthoue van ‘n proses:

my lewe gefotografeer

deur ‘n transportasie

van liefde tot verraad.

 

II

 

Orals waar hy was, meen Freud,

was ‘n digter vóór hom, word my mantra.

‘n Ander optekenaar (jonger, driftiger)

neem die stad tóé akuut waar.

La Dominante, Serenissima,

Stad van Water, Stad van Maskers

word jy gedoop deur besoekers.

Vir my is jy die stad van siekte,

ongeneeslik en vol letsels;

Dirk Bogarde se aangeplakte grimering

smeltend en morsend

in Visconti se Morte a Venezia

dui hierop.

 

III

 

Nou sterf ek my jonger self af,

die digter van die Romantiek,

ewig soekend na die Volmaakte.

In elke grag ruik ek die uitskot

van ‘n weggesmyte vers;

elke nuwe poging soos stellasies

rondom ‘n gebou in ‘n sinkende stad.

Op die piazza San Marco

word DSK, die moderne Casanova,

opgemerk langs ‘n vrou wat lyk

op ‘n karakter uit Almodóvar.

Waar liefde was, sal leed bly draal.

 

IV

 

In ‘n eerste rolletjie ongerepeteer,

skryf ek my naam op lei,

krabbel met vetkryt

op bruin papier en leer

woorde neerplaas

met ‘n sag-op, hard-af.

Altyd alleen op die speelgrond

met die kamera

se klank op “silence”.

In my tweede rol

vertolk ek die kind

lesend in ‘n biblioteek

weg van priemgetalle

of matematiese simbole.

In hierdie “flashback”

draal die kamera oor

‘n begraafplaas

waar engelvlerke druis.

Later as ‘n vyftienjarige

op ‘n rooi dubbeldekkerbus

deur ‘n stad van grou beton reisend.

“Cut, cut”, roep die digter-as-regisseur.

Klein vinjette met die jong akteur

so deur die teks-van-‘n-lewe gemanipuleer.

Daar was vele oorgange of brûe

beter verhaal in distansie

met slordige “footage” krullend

op die vloer.

In ‘n Latyn-handboek

‘n naam ingeskryf,

datumstempels in biblioteekboeke,

wat-het-die-kind-gelees?

Die ongeduldige regisseur

fokus op ‘n speelgrond leeg,

die kind met haar vader

voor die hoof se kantoor:

jy-moes-net-sê…

Op ‘n skoolrapport staan:

“Sy droom te veel.”

 

V

 

“Om poësie te skryf, is om dood

te gaan”, staan dit opgeteken

in ‘n voosgevatte dagboekie

oopgemaak in die Laverna.

Die grootste vrees

in die digterlike bestaan

‘n gedig as konterfeitsel

of blote naskryfsel:

replikas van brons-perde

voor die St. Markus-katedraal

of flets vertalings

van tekste

sonder die polsende krag

van die oerteks.

 

VI

 

Dit is acqua alta vandag.

Stad van Verglipping,

so roep ek jou

in jou “elegante aftakeling”,

‘n argief van soveel indrukke.

Vele kere was jy die deurtog

na my onrustige psige

vir hierdie “latter day”-Marco Polo

of Shylock.

Disegno

coloritto

meedoënloos

gerepeteer

tot die Volmaakte Skoot:

eenmaal was ek ‘n mens,

kon ek my woorde

op die verhoog van die lewe

met my as ‘n souffleur,

regisseur

en vele “under studies”,

vertolk.

 

(c) Joan Hambidge

 

*

 

Jackie O

 

“When you look back on your life, you hardly recognize

the person you once were. Like a snake shedding skins.”

Jacqueline Bouvier

Mevrou Kennedy

Jackie O

 

equestrienne

eerstevrou

mode-ikoon

 

glimlag skelm

soos die Mona Lisa

draai die Franse óm

 

haar pinkie

grabbel die flenters

van ‘n brein op

 

toe sy oor ‘n

sitplek spring geZapruder

met ‘n pienk Chanelrok bebloed

 

vir die aankondiging

langs LBJ

haar seun salueer

 

‘n stoet;

sý elegansie,

grasie, styl

 

kruip weg op Skorpios

met Ari O

waar die paparazzi

 

háár teregstel

tweekeer geweduwee

begrawe langs JFK,

 

hul seun, Patrick

en Arabella,

‘n stilgeborene.

 

(c) Joan Hambidge

 

*

 

Oscar Pistorius

George Steiner had gelyk

in The death of tragedy

hoé onmoontlik dit blyk

te wees om ná Nietzsche

te praat van iets soos tragedie.

The Blade runner

word The Blade gunner:

in ‘n wenkslag begryp

ons “he could turn on a tickey”.

Soos ‘n koeël uit ‘n geweer,

‘n moderne Achilles,

met voete van plastiek.

Hubris? Hamartia?

Straf die gode die ongehoorsames?

Of moet ons volstaan

soos Pier Paolo Pasolini

in sy film oor Oedipus Rex:

in ons verwonding lê

ons krag

én ondergang?

Nou wag ons op die Staat versus

Pistorius, en veral die pers

se ónbetroubare interpretasie

en ‘n siek soap opera

in medias res.

 

(c) Joan Hambidge

 

*

 

Lucian Freud, ‘n selfgesprek

“I want to paint work as flesh”

I

 

Alles wat ek skilder

vir selfgebruik en plesier.

Niks ontglip my priemende blik nie,

alle vlees word verf.

Net dit wat buite die skildery se raam

bestaan, word my soektog,

met onverdrote ywer,

spits beskilder

asof, asof

dáárdie objek ook ek

sou kon wees. Die smakkende lyf

van ‘n oorgewig vrou,

‘n onwennige meisie met haar hond

wat haar bors vir die kyker (en my) wys,

naakte vrou teen omsingelende lakens,

lieflike, kaal Kate Moss;

ja, dit alles is die storie-van-my-lewe.

Woedende portrettis dié is ek,

nes Francis Bacon,

met elke kwashaal val ek die doek aan

dis ek, dis ek, dis ek…

 

 

II

 

Telkens maak ek my kwas skoon

vir die helder besinning

om iemand anders mý te maak.

Kom sit aan my voete,

luister na my verhale

sodat ek jou kan vertel wie jý is.

Om te skilder, is om te veg

met jouself, en gots ja,

en jou familie

wat oor jou skouer loer.

 

(c) Joan Hambidge

 

*

 

Vivaldi

 

My moeder presenteer my

met vier seisoene van Vivaldi.

In ‘n Venesiese winter verblind,

hoor ek steeds Nigel Kennedy

se viool vlugvoetig gly

tussen die vier wisselinge.

‘n Klein, verlore kasset berg

‘n vertolking, nes my ervaring

iets nou probeer verbind

voor die Vivaldi-uitstalling

oor haar – wat anders as jy –

wintermaande se koue vermy

en haar teen dank én stry

in ‘n gebreekte sonnet bevind.

 

(c) Joan Hambidge

 

*

 

 

Gérard Depardieu

 

Gérard Xavier Marcel,

heet Petarou as kind,

verlaat skool op vyftien,

beur na buite,

hitsige humeur,

nabootser, liegbek,

opskepper, danser,

veral akteur.

Wat lê agter die man

met die ystermasker?

Is hy dalk Cyrano de Bergerac

of Obelix? Of ‘n Gedoemde Jean

de Florette? Marguerite Duras

meen ‘n beeldskone wegholtrok van ‘n man.

 

Bekroond en bemind

Chevalier du Légion d’Honneur

en ‘n sintuig vir die regte oomblik,

daardie ding genaamd “tydsberekening”,

om dialoog te improviseer

of klavier te speel

voor die kameras

– Stanislawski sou sê:

“un coup de chapeau!” –

en sy eksvrou meen hy is ‘n digter.

 

Triomfantelike, uitspattige Gérard Depardieu

se lewe is ‘n swak geredigeerde film

van ‘n melodramatiese teks:

word elke jaar groter

as lewensgroot met die daalders

en die drienks.

Dronkbestuur, egskeidings,

die openbare verloëning van sy seun,

‘n junkie en prostituut

sterf op die koop toe ontydig.

Nou wag ons vir die slot

van hierdie B-film:

gedupe en geduplo.

 

(c) Joan Hambidge

 

*

 

Elisabeth Eybers

Ek staan nie voor jou skildery nie,

nee, dit afgetrek van ‘n webwerf

http://www.arttoday.be/dumas3-2.html

waar elke uiting, gedagte, kliek

opgevang en bewaar word:

selfs gedigte, moet jy weet,

word tans blitsig elektronies versend.

Anders as ‘n brief van jou aan my,

met ongebruikte posseëls

– vir hergebruik, maan jy ironies –

in die koevert toegevou

teen ‘n slakkepas

uit ‘n verre Amsterdam.

Nes Marlene Dumas wat langsaam

jou portretteer, beskilder en uitstal.

Hierdie is nie ‘n brief nie,

dis ‘n opname van ‘n kyker

wat ‘n gesprek tussen

‘n skilder en digter

opteken en verdraai.

Ek tel Groot verseboek

op en lees “Portret”:

“nou stil en helder en apart”

kon jy, predikantsdogter

uit die dorre Wes-Transvaal,

jouself in afdrukke plaas.

Hoe raam ‘n mens tog ‘n vers?

Was die digkuns werklik

‘n onderdak of ‘n blote tussensang?

Hoe voel jy neffens Naomi Campbell

of Amy Winehouse?

In my troebel halfjaar

is dit jou oë

stip, agtervolgend

wat iets verraai:

voetjie-vir-voetjie

word mens woordimmigrant,

bekyk jy die lewe

vanaf ‘n sobere afstand,

is dit kruis of munt,

immer immer ter wille

van die ander dors

se hartritmiek.

Diana Prinses van Wallis (1961 – 1997)Daar is te veel woorde, te veel hulde,
te veel spekulasie, te veel treursange
oor jou: ‘n prinses van nêrens..
In ‘n eeu van atoomontploffings, ruimtereise,
hartoorplantings, VIGS
leef jy ‘n sprokie
is jy die slapende skone deur ‘n prins
wakker gekus voor die priemende blik van die pers.
Eendag, lank lank gelede was daar…
word ‘n harde werklikheid
toe jy oornag – daar was ‘n goeie fee – verander
in die meisie met die rooi skoentjies
wat dansend van ongeluk die honger oog nooit ontsnap.
Elke besonderheid elke intimiteit
word aan die wêreld opgedis
(koue liefde is immers die pers se gunstelingdis).
Van voorblad na agterblad na middelblad.
Jou pyn, jou ongelukkige jeug,
eetversteurings word uitgekots
in gesimuleerde simpatie, eenwording.
Hoe word mens simbool?
Wanneer bereik die gewone objek
soos ‘n hart (kloppende orgaan) simboliese betekenis?
Is dit eers wanneer die hart breek?
Of die hart oorgeplant word?
Of as sake-van-die-hart allemansgoed word?
Grootoog-meisie, asof jy jou eie begrafnis repeteer,
sit jy langs Elton John by Gianni Versace se diens.
Min wetend hoe die wêreld ongerepeteerd
sou éénword met jou media-dood.
Jy kon die wêreld ruk tot stil-
stand, tot ‘n aanskou-
like begrafnis van ‘pomp and circumstance’,
tot die strooi van rose…
Droomverlore : verlore droom
word die prinses van nêrens die prinses van orals.

Joan Hambidge

Ernst van Heerden (1916-1997)

“Daar is iets finaals in hierdie somer,
iets bitters, weerloos, onverdiend”

Die hele dag is stug van afskeid neem van jou.
‘n Herfstelike lig broei soos op ‘n hemelvaartplakkaat.
Daar waar jy nou is, werk hulle sag met jou?
Hoe was die oorvaart? Had jy genoeg munte vir die Styx?
Is dit waar dat digters met verse mag betaal?
As dit so is, stuur aan my die internet-adres
of iets dergeliks vir digters ‘in memoriam’.
Ek sal vertel van jou weerlose ure en verliese
wat deur jou verse soos daardie aamborstige klok bly tik.
Van die ‘ wreedheid van meegevoel’; van die vader
wat die kind tot in sy najaarswys versaak.
“My Papa’s waltz, oh My Papa’s waltz”, sou jy roep.
En sy sugte, sy aanhoudende hoes bly hoor
toe jy met die lewe se mes lewend afgeslag is
vir dié bedryf: “Algemeene Handelaar van die woord”.
Die literêre oefening het pynlike praktyk geword:
die digter ‘n oer-dier, ‘n skarrelende akkedis,
‘n piepende vlermuis, ‘n verspotte bergskilpad.
Was die afskeid swaar? Het jy weer gedroom
van daardie Karoostasie, Middernag
met die hol perron se ligte wat in jou skryn?
Yk, letsel, blessure, vermink, verdriet –
al vir jare wagtend op die oorgang.
Maar jy moes nog in woorde droom,
die stygings en dalings van jou handpalm tors,
die verpligtinge van jou eenlingskap besê.
Jy het nie vergeefs geleef nie, vriend.
Rus nou. Ons leer uit jou ordening en variasie.
Hoe jy verse meet en pas, van jou maskers;
veral: “die lewe is eensaam,
soos die dood”.

Joan Hambidge

Olga Kirsch (1924-1997)In Jiddisj blykbaar geen woord of begrip
vir teleurstelling, verydeling, verspeel.
Desondanks moes jy in ‘n vreemde taal
‘n tweede, ongenaakbare ballingskap binnegaan.
‘n Digter kan nooit haar erfenis verloën:
“By die riviere van Babel, daar het ons gesit,
ook geween en aan Sion gedink…”
Met jou verse oor die diaspora, vervolging
die verdriet van jou mense naam gegee.
Hoeveel woorde is daar vir pyn?
Eensaamheid, illusie, verdriet, angs, kommer…
Dié kon jy opvang, stulp en bowenal vertaal
in hunkerende, ylende melodieë.

Joan Hambidge

Johann Johl (1951 – 1996)

Vir jou sal ek ‘n handleiding skryf
oor die treurvers, oftewel lykdig.
In memoriam. Opgesom (). Afgesluit.
Geleerdes weet te vertel (ek sien
jou oë kreukel oor dié parodie) matematies
werk dié vers met ‘decorum‘ oftewel staat
van die oorledene. Dames en Here ek stel u voor…
Dan volg die ‘prooemium‘ (inleiding)
en ‘n uitskel teen die doodsoorsaak (vituperatio).
(In jou geval ter wille van kinders onvermeld.)
Natuurlik is daar lof (laus) mits hy ‘n beroemde was.

Geliefde vriend. Vergeef my die afwyking
van die struktuur van verlies, roubeklag, oproep,
doodsoorsaak en vertroosting.
Op Latyn, nog meer geleerd, ‘iacturae demonstratio‘, ‘luctus‘,
adhortatio‘, ‘causa‘ en ‘consolatio‘.

Ek sal my eie treursang skep, afwyk
van dié reëls en voorskrifte:
“Ienkel, dienkel, dalie kind…”
Te sentimenteel vir jou, my ironikus.

Skrap – delete.

Hoe verder jy van my staan, hoe nader die lyding.
Dié onverwagse stuk ironie besoek my vanaand.
Iewers – miskien langs die Moskwa, Duna of Isar –
kon jy in Russies leer hoe die streng doeane
jou driekeer mens verklaar: eers mens; toe lyk.
Ten slotte: verdrietige huldeblyk.

Joan Hambidge

Eugène N. Marais (1871 – 1936)

Daar is niks wat jy liefhet wat nie
van jou weggeneem sal word nie.
– Dorothy Parker

I

Hoe durf ek skryf oor jou: ‘n onbekende?
Gereduseer tot ‘geval’, morfinis, afwykende…
Boonop in ‘n onbekende tyd…
Hoe kan ons ooit in ‘n gedig regstel
dit wat jou ontneem is (soos ‘n ongeskryfde gedig)
en aan jou toegedig word: ‘n lewe in ‘n verkeerde tyd,
ruimte, dimensie – jou tyd vér vooruit?

II

Die vers broei wekelank in my.
Jy is meer as ‘n ‘groot verlange’;
gestol in die agterruimte van ‘n kleinlike tyd
sien jy alreeds die onbewuste in ‘n miernes;
weet die enkeling is ontersaaklik
vir die groter geheel.
Iets onsigbaars, onsêbaars (noodlot het geen dekorum)
bly talm: hesperiese flitse van verdriet.

III

Daar word beweer die jongste van dertien
‘n Vervloekte met ‘n Kaïnsmerk:
Onsigbare, tastende Derdeoog.
Doodsbalju, kroonprins van die hel
besef as klein kind die wonderwerk van vooraf
weet: ‘n kooltjie vuur stig ‘n bosbrand aan.
(N)iemand kon die lyne in jou palm lees:
die selfmoordenaar, ‘n swart forel, beur stroomop.
Wis van jongs af sy verdoemende lot:
stuur af op ‘n swak gerepeteerde slot.

IV

Iewers vertel die heldersiendes kan ons vervloektes red:
bevry al die visse in die see…
Alles begin oënskynlik met ‘n spel: die smokkel
met sinne eers ‘n heling teen insomnia;
later ‘n nuttelose panacee teen senu-uitputting,
Die dobbelsteen bly verkeerd val;
die kaarte wys ‘n ómgekeerde Skoppensboer.

V

Dit staan geskryf teen die tempels
in moeilik-ontsyferbare hiërogliewe
teen die graf van Ramses II
dat vrede vir die vervloekte wél bestaan.
“Daar sou ek vrede weer besef
waar Tebes in die stil woestyn”…
Die gedig skryf sigself; vang die boodskappe
uit die ander oord onbevange op.
Laasnag droom ek van jou – met jou panamahoed
en dandy-pak in Egipte:

VI

“O Diep Rivier, O Donker Stroom,
Hoé lank het ek gewag, hoe lank gedroom
Die lem van liefde wroegend in my hart?”
Vir jare sou die koors van berou, verwyt
om jou hang en elke geliefde of flirtasie
weer daardie eerste verlies uitspeel:
‘n droewe deuntjie op ‘n outydse pianola..
En toe jou moeder sterf, in in teen die Groot Niet
kon sy jou ook nie vertroos; net verder ontstig
met haar doodswoorde: “Daar’s niks.”

VII

Ses dekades later in die wagkamer
tussen hier en die on-sienlike Daar
wonder ek: hoe kan ‘n mens jou verlos?
Spiritiste meen mens bly gevange:
herhaal die skoot oor en oor
soos ‘n teisterende droom
sonder logiese begin of einde
maar met die flitsende boodskap:
“O, Diep Rivier, O Donker Stroom…”

VIII

Met drif het jy jou somberheid uitgeleef:
jou pennehouer ‘n skedel…
Die verlies van die verswygde liefde:
soos die pik van ‘n slang.
‘n Wond wat sweer word kouevuur.
Verswelg in koorsdrome ont-
glip jy tydelik: ‘n kobra in deurskynende glas.
Was dit swak-geskommelde kaarte?
‘n Kruis en munt?
Opsluit moes jy dobbel, die dices skud
in teen die donker dieptes van die stroom:
‘n Walvis sluk jou heelhuids in.

L’envoi

IX

Van gesoignéerde, strydvaardige joernalis
gedemoveer tot bedremmelde, behoeftige boemelaar.
Is daar nog trane vir poësie?
Of leef jy nog in die selfgeskepte hel
van sinsbedrog, ‘n noodlotsroep?
Vanaand swem al die visse
van die Tierra del Fuego tot Groenland,
van die Kaap tot Wladiwostok
en roep:” Hy’s bevry, hy’s bevry!”




Woorde is my asem en skryf my passie!!! Ek waardeer elke stukkie kritiek, verkieslik positief, maar kan die negatiewe ook hanteer. Dankie dat jy die tyd neem om na my werke te kyk en dit te beoordeel. Ek is n Boeremeisie in murg en been... mal oor die wye natuur van plaaslewe wat my omring Ek is getroud met die wonderlikste man (Willie). Ons is geseend met 3 pragtige dogters en 'n kleinseun en 3 kleindogters. My verhouding tot my Skepper loop baie diep en ek dank Hom elke dag vir al die voorregte en genade gawes wat ek so onverdiend ontvang... Loutering is deel van my lewe en ook daarvoor dank ek Hom daagliks want dit maak dat daar altyd groei in my lewe is...

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed