Jongste aktiwiteit:

Ina Rousseau
vir
0 views

Ina Rousseau

GEWAARWORDING IN DIE HERFS

Ek wat reeds was in daardie donker dal
van pyn wat vir my vol verskikking was,
weet nou dat na jou dood die fyne gras
veel teerder in die herfswind bewe, en die val

van bloue reën oor smal, geboë bome
my vaster aan die wonder van die aarde bind.
Die drang wat na my aangedryf kom op die wind
bring weer die diep verrukking van my eerste drome,

want anders het die bloue dae my geword,
en die verdorde blare wat op winde gaan.
En anders vloe die sonlig deur die laan
en langs die voor wat langs die kieselstene stort.

Ek moet nou dikwels al die dinge wat moes sterf
in diep vertedering herdenk deur dié gety.
Hoe sou jy hierdie prag waardeer het as ook jý
deur pyn van wording só ’n aarde kon beërf.

KATEDRAAL

Storm: ek kan die angs van die geeboue
wat verwilderd aan my voete lê, nie meer verduur.
Na duisend eeue bly my vorm nog behoue
soos ’n gebalsemde figuur, maar om my hurk die mure
kwynend soos die lywe van verdorde vroue …

Terwyl die weerlig en die winde hees
gebreekte stene en sinkplate in die strate slinger,
staan my gedaante skuldig en bedees
tussen die skerwe en bouvalle,
hunkerend na hul onmag en hul vrees …

En daarom bid ek: Ruk my, ruk my neer –
laat my ook soos die ander sterflik wees…

Kwatryne

“Op hierdie kleed borduur ek week na week
soos jy beduie, Lewe, elke steek.
O laat my hierdie ingewikkelde patroon
voltooi voordat die ragdun garing breek!”

*
Op hierdie kleed borduur ek week na week
soos jy beduie, Lewe, elke steek.
O laat my hierdie ingewikkelde patroon
voltooi voordat die ragdun garing breek!

*

Ek weet wanneer ek in jou arms skuil:
die wind het buite opgehou met huil;
die wolf en lam wei rustig bymekaar
en kinders soek die basilisk se kuil.

*

In hierdie klug vergeet soms ‘n akteur
heel onverwags sy reels en loer versteur
en angstig na die skerms links en regs
maar geen souffleur se stem dring tot hom deur

*

Die reis na U het ek reeds duisend maal
aanvaar, maar jammerlik nog steeds gefaal:
in droom versink die bushalte verbygery
of agterlosig die verkeerde trein gehaal

*

Nog Kwatryne:

“Agter die skerms …” 

Agter die skerms, lank reeds gegrimeer
aanskou ek die verhoog se glans en kleur
en wag dat u my toelaat om oplaas
my rol te gaan vertolk, O Regisseur.

*

As daar applous was vir die laaste maal
en U die décor moeg na onder haal,
sal U vir ons wat ons kostuums uittrek
volgens ons moeite en geduld betaal?

*

In hierdie klug vergeet soms ‘n akteur
heel onverwags sy reëls en loer versteur
na die coulisses links en regs
maar geen souffleur se stem dring tot hom deur.

*

Ofskoon die saal se ligte nie meer brand
vra menigeen aan die verhoog se kant
nog steeds: Is ek van hierdie klug die held
of teen die agterdoek ‘n figurant?

Die mens van God

Op ʼn dag in Sy lang geskiedenis
Het God Sy mens beplan;
En het Sy mens bemin
Van die minuut van ingewing af
Deur al die miljoene en miljoene
Bloeiende en kwynende millenia,
bemin hom steeds mennend vandag, bewaak
nag en dag agterdogtig Sy lieflingsgewrog,
en tot grondstof vervloek is dié en is dít
wat Raka sê vir die mens van God.

Eden

Staan daar nog in Eden êrens,
Verlate soos ‘n stad in puin,
Met poorte grusaam toegespyker,
Deur eeue die mislukte tuin?

Word daar nog die swoele dae
Deur swoele skemering en nag vervang
Waar donkergeel en purpur vrugte
Verrottend aan die takke hang?

Sprei daar ondergronds ‘n netwerk
Soos sierkant deur die rotse heen
Die sware onontgonne riwwe
Van goud en onikssteen?

Vloei daar deur die natgroen struike
Nog met kabbeling wat ver weerklink,
Die viertal glasblink waterstrome
Waarvan geen sterfling drink?

Staan daar nog in Eden êrens,
Verwaarloos soos ‘n stad in puin,
Gedoem tot langsame verrotting
Deur eeue die mislukte tuin?

Sondag op Stellenbosch

In hempsmoue lê mans koerant en lees,
die vrouens raas en maak komkommerslaai
terwyl hul toesien dat die vleis nie brand –
half-elf word daar ‘n kerkdiens uitgesaai.

Smiddags na die rus kom vragte mense aan
uit Wellington, Grabouw en Klapmuts op besoek.
Die grootmense praat voetbal; kinders staan
verveeld op stoepe rond, eet stukkies koek.

Saans lui die kerkklok luider; dogters keer
humeurig met hul naweektassies terug;
die vrouens gaan die wasgoed vir die meid sorteer,
die mans maak gou ‘n visstok heel, en sug.

Die kinders sit aan somme nors en swoeg;
mans wonder waar hul skoon slaappakke is –
die vrouens moet die tafel dek vir môre vroeg;
die mans gaan slaap, vermoeid van al die rus.




Woorde is my asem en skryf my passie!!! Ek waardeer elke stukkie kritiek, verkieslik positief, maar kan die negatiewe ook hanteer. Dankie dat jy die tyd neem om na my werke te kyk en dit te beoordeel. Ek is n Boeremeisie in murg en been... mal oor die wye natuur van plaaslewe wat my omring Ek is getroud met die wonderlikste man (Willie). Ons is geseend met 3 pragtige dogters en 'n kleinseun en 3 kleindogters. My verhouding tot my Skepper loop baie diep en ek dank Hom elke dag vir al die voorregte en genade gawes wat ek so onverdiend ontvang... Loutering is deel van my lewe en ook daarvoor dank ek Hom daagliks want dit maak dat daar altyd groei in my lewe is...

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed