Jongste aktiwiteit:

ID du Plessis
vir

ID du Plessis

Rietfontein

By Rietfontein se leidam, as die reier staan en droom,
En gepluimde peerboomtakke bloeisels sprinkel oor die stroom,
Word op maanverligte nagte nog ‘n sombere tafereel
Van haat en lus en liefde deur gestorwenes afgespeel.

Wit is die water
En blond is die maan,
En bly is die paar
Wat gearmd daar gaan,
Versilwerde bome
Ruis in die laan;
Wit is die water
En blond is die maan.

‘n Honderd jaar gelede het die buurt se mooiste blom
So in die helder maanlig na die peerboomlaan gekom;
Maar terwyl sy en haar minnaar in confettie-bloeisels staan,
Het ‘n ander in die skaduwee langs die dam se wal gegaan.

Wit is die water
En bleek is die maan,
Wie is dit wat daar so
Geruisloos gaan?
‘n Huiwering trek
Deur die bome in die laan;
Wit is die water
En bleek is die maan.

O salig die verrukking wat die suiwere liefde bring,
En vrolik het die harte van die paartjie daar gesing
By Rietfontein se leidam, in die wit lig van die maan;
Maar oorkant langs die peerboom het ‘n skaduwee gegaan.

Wit is die water
Maar bleker die maan,
Wie is dit wat daar so
Doelbewus gaan?
Verdonkerde bome
Bewe in die laan;
Wit is die water
Maar bleker die maan.

Kortstondig soos die dou wat smôrens skitter op die roos,
Kortstondig was die enkel uur van samesyn se troos,
Op bloedbevlekte bloeisels lê die paartjie in die laan,
Terwyl ‘n swart gestalte onder peerboomtakke staan.

Bloed in die water
En bloed in die laan,
Wie is dit wat daar so
Roerloos bly staan?
Vormlose skaduwees
Kruip oor die maan;
Bloed in die water
En bloed in die laan.

By Rietfontein se leidam, as die reier staan en droom,
En gepluimde peerboomtakke bloeisels sprinkel oor die stroom,
Word op maan-verligte nagte nog ‘n sombere tafereel
Van haat en lus en liefde deur gestorwenes afgespeel.

Bloed in die water
En bloed in die laan,
Wie is dit wat daar so
Skuldbewus gaan?
Vormlose skaduwees
Kruip oor die maan;
Bloed in die water
En bloed in die laan.

Kaalvoet klonkie

Verflenterde kaalvoet klonkie
Wat groente verkoop in die reën,
Met jou lelike skurwe tone
En jou lendelam hoepelbeen,
Jy kom met jou venterliedjie
Deur die mistige Kaapse straat
En helder sing jy die woorde
Op jou eie koddige maat:

Lekka, lekka ywe,
Laat die ghantang nader skywe!
Tamaties en ywe vars van die Strand
En baie kiri slam by die hys se kant!

Jy kom uit ‘n deel van Kanaldorp
Waar die dienders gewapend moet gaan
En die weerlig van ‘n skeermeslem
In ‘n donker hoek neer mag slaan.
Miskien kon jy “Bismillah” sê
Vanmôre, omdat in die kas
Wat dae lank so leeg moet bly,
Daar weer ’n broodjie was?
Of dink jy aan Nuwejaar
As die troepe deur Waalstraat stroom
Van de Bo-Kaap na die Onder-Kaap
Langs die stomp van die Slaweboom?
Is dit wat jou so laat bokspring
En dans op jou hoepelbeen,
Verflenterde kaalvoet klonkie,
As jy groete verkoop in die reën?
En hou van die vrolike klanke
Waarmee jy die winter tart.
Sing jy hierdie ligte deuntjie
Bo ‘n somberte in jou hart?
En as jy óp na die Boereplein
Met jou boepens-mandjie gaan,
Dan trek jou parmantige liedjie
Deur die strate agter jou aan:

Lekka, lekka ywe,
Laat die ghantang nader skywe!
Tamaties en ywe vars van die Strand
En baie kiri slam by die hys se kant!

Katriena

Katrina van die Bo-Kaap
Het voor haar deur gestaan.
‘n Boot lê in die hawe,
Matrose kom al aan

Oor Strandstraat na die Boereplein,
Die donker strate in;
en netnou sal Katrina
Se nagtaak weer begin.

‘n Halfverlepte hoedjie hang
Parmantig oor een oog.
Die rooi veer is verrinneweer,
Maar staan nog met ‘n boog

Katrina dra haar beste rok.
Sy stryk die kreukels plat.
So fyn asof  ‘n vryer wag
Het sy haar uitgevat.

Maar eer sy van haar huis gaan,
Kyk sy ‘n keer weer om:
Lank sal die leë ure wees
Voordat sy daar kan kom.

Katrina stap deur Roosstraat:
Astrant, met slentergang.
Wie raai nou aan haar houding
dat sy na huis verlang?

Nou kom sy by haar susters:
Die rawe van die nag
Wat by die hoeke uitskel
Of somber staan en wag.

Katrina ken haar roeping:
‘n Harpy van die eer;
‘n Noodgedwonge rower
Wat alles tóg ontbeer.

Katrina haat die lewe,
Katrina vrees die dood.
Katrina gaan haar slentergang,
Verdien haar bitter brood.

As ek my vreemde liefde

As ek my vreemde liefde bloot moes lê,
Wat sou die vrome skenders van die skoonheid sê?
Sou hul, met heilige verontwaardiging,
Besoedelende vingers God-waarts steek,
En na dié self-regverdigende reiniging
Hul eer aan my kom wreek?
Of sou ‘n sprank van hierdie vuur wat in my gloei
Ook hulle aanraak, sodat hul verstaan
Die liefde neem ‘n duisend vorme aan?

 

 




Woorde is my asem en skryf my passie!!! Ek waardeer elke stukkie kritiek, verkieslik positief, maar kan die negatiewe ook hanteer. Dankie dat jy die tyd neem om na my werke te kyk en dit te beoordeel. Ek is n Boeremeisie in murg en been... mal oor die wye natuur van plaaslewe wat my omring Ek is getroud met die wonderlikste man (Willie). Ons is geseend met 3 pragtige dogters en 'n kleinseun en 3 kleindogters. My verhouding tot my Skepper loop baie diep en ek dank Hom elke dag vir al die voorregte en genade gawes wat ek so onverdiend ontvang... Loutering is deel van my lewe en ook daarvoor dank ek Hom daagliks want dit maak dat daar altyd groei in my lewe is...

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed