Jongste aktiwiteit:

DF Malherbe
vir

DF Malherbe

Slaap

Wat is die slaap ‘n wondersoete ding!
Sag op haar bloue oë daal die vaak
soos maneskyn diep waterkuile raak
om daar te droom in silwer skemering.

Vir laas beef oor haar lippe ‘n fluistering:
“Nag, Pappie.” Ek merk hoe langsaam hy genaak,
wat drome soet tot werklikhede maak:
in vaderarms rus my lieweling.
Sluit so my oë, God, wanneer vir my
u Engel wenk ter laaste, lange rus
en ek van wilde woeling hier moet skei;
dat my dan stille drome huis toe sus
en sterke Hand deur duisternisse lei.
Sluit so my oë, God, as ek gaan rus.

Die rooivlerkspreeu

O rooivlerkspreeu,
ek hoor jou lied,
‘n diep verhaal
van warm verdriet…
Ek hoor jou klae,
jou stemklank soos in kinderdae,
en soek dan hier,
dan daar,
tot ek jou op die tak gewaar,
allenig op die eiketak,
so somber-swart,
so windverward!
Die reënbui en die winterkou…
die berg is toe van wolkegrou,
die stormweer smoor
jou klagte dood:
bo in die berg is hongersnood.
Die donker kom,
die stormwind fluit-
my hart herhaal
‘n honderd maal
die smeking van jou stemgeluid!
O rooivlerkspreeu,
so somber-swart,
so noodverward,
ek hoor jou in die noordewind.
O bedelaar-kind,
verstom, verkluim,
in raaisel-dom
van kouer, wrede
wêreldruim!

Middernag

Dis donker, donker middernag:
nader kruip die Zoeloemag,
kruip swart adders om die laer,
opgeblaas al deur die gras;
en geen windjie wek die slapers-
slaap is soet na arbeidslas:
droombeeld laat ’n kindjie lag,
moederarms omhels dit sag.
Rondom, geklem in Kafferhand,
smag duisend assegaaie, want
hulle het al nege lange dae
in somerhitte dors gely.
O, is die Dood ook so innig-bly
as op warm lyf hy lê sy hande?
Aan haar hart druk moeder sag
haar kindjie en slaap – dis middernag!

Verby

Die see is swart van bloute, swart,
die wit malgasse is aan buit,
hul kol die see met skittersneeu,
en land toe sny ‘n visserskuit.

Die see is swart van bloute, swart,
en ‘n swoelte oor die berge kom,
‘n voorspook van die noordewind
wat sê: die somertyd is om.

My hart is o so weemoedswaar,
want somerson se lied is uit – d
ie wit malgasse is verdol,
die wit malgasse buit en buit . . .

Jakob Ontong

Jakob Ontong, moeg van maaiwerk
heeldag op die hawerland,
slinger-sukkel na die hoogte
stoksielalleen stof en sand –

met die erfstuk van sy tata,
blinkgevryfde ou kitaar –
sukkel deur renosterbossies,
gannastruike en taaibosblaar,

totdat hy die plaaspad opvang –
struikel in die growwe gruis
al maar boontoe waar die plaaspad
met die dorpspad maak sy kruis;

met sy kuif nes wildehawer,
wit volstruisveer op die hoed:
albei streel die voornagluggie
met ‘n stoom van veldgeursoet.

Gou maak, gou maak, want om twaalfuur
moet hy op die kruispad staan;
voor die eerste haankraai
wil hy kunsvolleerd die snare slaan!

Daar wag Damoen, meester-speler,
om die vingers lomp en traag
met een kunsles reg te tower
dat die snaarwerk juig en klaag.

Gou maak, Ontong, amper twaalfuur,
netnou sal die dorpsklok slaan;
op die kruispad regstaan, Ontong,
voor die kraai van hoenderhaan.

More-aand vir Saartjie Dawids
bruilof op die onderplaas.
Wat sien sy in Willem Skeeloog?
Kan net kopslaan, vloek en raas?

Al te los van sin is Saartjie:
een nag het sy hier vir hom
trou belowe op die kruispad
toe hul van die diens af kom.

“Jakob,” het sy hom geantwoord,
“Ek is joue vir lewenstryd!”
Maannag het haar word verheerlik,
donker nou oordek sy spyt.

Los van sin en van gedagte,
Saartjie, swaar lê voor en wag:
more-aand begin jou angste,
more is mos jou bruilofsdag.

As die pare om die vyeboom
stofslaan, o bewaar jou hart!
o, die ou kitaar se angel!
o, die snare dra my smart!

Middernag – en op die kruispad:
dis die oomblik dat hy’t waag,
vang die snare, maar sy vingers,
swaar van arbeid, strompel traag.

Ontong-tongtoeng-tongtoeng-tongtong!
Wegstaan, wegstaan as hy kom.
Doemeroem-roemeroem! – nog nie, nog nie,
hartklop dreun saam: doemeroemerom!

Ontong-tongtoeng-tongtoeng-tongtong!
simpel nog van klein-herhaal.
Doemeroem-roemeroem! – nog nie, nog nie,
dis ‘n vuurvlieg wat verdwaal.

O daar is hy, Ontong, deurspeel!
Sink jou siel in die ou kitaar;
Damoen, drie maal mens se hoogte,
groei al hoër, wit pilaar!

Ontong, deurspeel: doemeroem-toentoeng!
Speel-speel effens staan opsy;
harder laat die snare klae
tot die meester sweef verby!

Doemeroem-doemeroem! Bind die akkoorde,
donker is die klank van wraak!
Nooit nie was jou lewe ryker,
dit is hoër as aldagtaak.

En nou skuiwe oor die kruispunt
langsaam weg die wit pilaar . . .
Ontong slaan sy diepste hale
op sy tata se kitaar.

Doemeroem! dreun dit oor die vlakte,
huis toe waar die hane ontwaak.
Met die snaardreun groei sy hartstog,
donker is die klank van wraak!

Om die vyeboom, langs die huisie
wals die pare nooit nie sat;
Ontong het hul skoon betower
met sy diepslaan en sy vat

in en oor die snarewerk hene . . .
dreun sy wysies sielsgebore,
vreemde krag bestuur sy hande –
Ontong spraakloos, spelverlore.

Doemeroem! smelt sy smart en liefde,
toeng-toeng! Skree sy wilde wraak,
en die bruid se danslus weier,
weet nie wat haar hart so raak.

Wilder dreun sy hartklop same
nou die middernag genaak;
Saartjie word van angs bevange,
weet nie wat haar hart so raak.

Daar rys Ontong van sy sitplek,
nuwe klanke klae die snare:
dis nie weer ‘n simpel danswys . . .
en verwonderd staan die pare.

En hy sing, eers sag met toengtang
sing hy uit sy smartgeheim,
totdat stem met snaarwerk saamdreun
in een wrede klankgerym:

“Wat hier speel, is nog in my hande,
maar die speel is nie van my;
vurig was my offerande,
maar die loon is groot vir my.

Damoen het my siel verower
op die kruispad gisternag;
hand en hart deur hom betower
op sy wenke staan en wag.

Anders was dit een aand, Saartjie,
op die kruispad, ek en jy –
myne vir lewenstyd, nè Saartjie?
Vals jou eed – en wraak vir my!

Elke middernag, ontroue,
sal jou Damoen swaar kom kwel,
dat jy bewe in sy kloue
tot die haan kraai – dis jou hel.

En verniet jou diep verlangste
om jou skuldgevoel te ontkom,
tot jy in jou donker angste
soebat dat die dood mag kom.

Dis die uur nou van vergelde,
Damoen ken sy ty den taak:
so moet ek die boodskap melde,
so neem Jakob Ontong wraak!”

En die bruid val neer in floute,
en die gaste staan verstom –
Ontong glip die voetpad langes:
Doemeroem-doemeroem-doemeroem!

DIE LIED VAN DIE NAGWIND.

Ek lê op my bed, so onrustig—
dis middernag lank al verby;
en ek hoor hoe die nagtlike koelte
deur eike en denne sig sprei.

Dit ruis nes die siltige waters,
wat daar skuif oor die sandige strand,
gehoor deur die wandelaar van verre,
wat seewaarts hom haas oor die land.

O nagwind, o nagwind, kom sê my,
wat spreek tog jou ruisende lied?
Vertel jy ’n tyding van liefde?
Bring jy vrede of wee en verdriet?

Dit is my of duisende stemme
van mense reeds lang weggekwyn,
vermeng met jou ruisende sugte
hul eggo van droefheid en pyn.

Die voorsang van duisende wesens,
nie-gebore, vertolk my jou sug,
die lied van hul komende weedom
die dra jy so sag deur die lug.

O nagwind, ek hoor maar deurgrond nie
jou klaende, suisende sang—
my harte klop sneller en sneller,
my kinderlik harte word bang!

AWENDBLIK.

Oor ver, verre lande;
oor blou, bloue rande
sien ek vliesige wolkies verspreid —
oor hoog, hoë gronde
sag gewieg, ongebonde —
die lug welf so blou en so wyd.

Oor ver, verre lande,
oor blou, bloue rande;
deur die aandson se strale beskyn,
sien ek vry, ongemete
ongemerk en vergete,
die wolkies so stil-stil verdwyn.

Nes die vlugtige beelde
van die sterwend vergeelde
wolke, in die lugte verspreid,
so sink daar geslagte
soos ’n vlieënde gedagte
in die eindlose ruim van die tyd.

NA DIE DROOGTE.

Gestil is ons klae,
die droewige dae
van wanhoop en wee is verby;
die blinkende komme
en geurende blomme
bedek nou die vlakte en vlei.

Langs eensame hutte
en stofdroë putte
woel nou weer mense en vee;
aan damme en kolke
het die loodsware wolke
hul stromende gawe gegee.

Weer beur uit die gronde
die grassies ontbonde,
van hul sluimerende broeislaap bevryd,
en sprei oor die sande,
om kaal-nare rande
’n groenende, sagte tapyt.

Die kaal afgesnoeide
en deur sonbrand verskroeide
bossies die spruit alweer mooi,
en die saadjies die vul weer,
die blaartjies die krul weer,
deur die sonlig se strale genooi.

Die westewind streel weer,
die westewind heel weer
die wond, wat hy ru het geslaan;
en sy luggie die swewe,
bring lus en bring lewe
o ver soos die hooglande gaan.

In die veekraal se kaalte,
langs die voetpad se vaalte
woel die kalwers op huppelende gang;
en daar ver uit die vleie,
waar die skaaptroppe weie,
kom die stygende lammergesang.

In hul soekende vrae,
in hul angstige klae
meng sig dof die moeder-gekreun;
en dit swel tot akkoorde
in die eensame oorde,
wat swaar en stadigies dreun.

Hoor die lied van die velde,
wat die skape vermelde,
as die môreson hulle beskyn!
Hoër geswewe,
bo rande verhewe,
versterwe die sware refrein.

My harte juig mede
en my dankbare bede
word éen met die skape se lied;
en saam klim na bowe
om die Skepper te lowe,
ons lofsang na swaar en verdriet.

As die vrolik en blye
gansies in rye
so glad oor die watertjies gly,
en gesèls so plesierig
en snap weer so gierig
na kossies, orals gesprei;

as die doodsheid verby is,
kos volop te kry is
en die voëltjies weer lewendig sing;
as die vlak in sy weelde
sy ryker bedeelde
gawe aan wat lewe, kom bring:

dan herleef ook my harte
deur geen kwelling, geen smarte,
geen donkere beelde gedruk;
en vry soos die winde,
deur geen bande te binde,
styg my siele en droom van geluk.

Verby is ons klae,
die droewige dae
van wanhoop en wee is verdwyn;
en ’n luggie die swewe,
bring lus en bring lewe
so ver soos die hoogvelde dein!

DIE ROOSKNOPPIE.

Daar onder in my tuintjie,
daar staat ’n boompie teer;
daaraan sit net één knoppie —
één roseknop, nie meer.

Elke aand en elke môre
gaan ek die knoppie kyk;
die hoop straal uit sy ogies —
hy sal as rosie pryk!

Die stormwind is gekome,
die takkie afgeskeur,
die blaartjies is verlep al —
die knoppie geel gekleur!

Ek sien so menige knoppie
in die wêreldgaarde groei;
die hoop straal uit die ogies —
maar ag, — geen rosie bloei!

O LANDE VOL GRAAN.

Vlakte aan vlakte, oor heuwels heen,
lande vol groen, vol golwende graan!
Breed sprei die sonlig sy stralende seën
oor swellende saad met beloftes belaan.

Aan miljoene, miljoene van buiende blaar
hang die windjie se asem in ruisend gesweef . . .
hoor die sug van verlange uit die swellende aar,
die stem van die lente wat sê: ek wil leef!

Verlange wat groei met die stygende son,
verlange om te ryp tot goudgeel prag —
so sterk soos die drang van ’n borrelende bron,
om te beur uit die aarde na die lig van die dag.

Die stem van die wind oor die halmgekoes,
halms nog groen van jong geluk —
is die siddering van hoop op die somer se oes
as die waens sal kraak van die gerwe se druk.

So ver as my oog oor die buiende blaar
kan wei, staan die grond met groenheid oorlaan;
en my siele wieg mee met jul spelend gebaar —
o belowende, lewende lande vol graan!

DIE SEE IS VOL VAN EWIGHEID.

Die see is vol van ewigheid,
van golwedeining op en neer —
tot wiegelwêrelde uitgespreid,
op maat van eindloos kom en keer.

Uit watergraftes diep gedolf,
rys langvergete mensewee;
die winde dra van golf tot golf,
van golf tot kus die treursang mee.

Die see is vol van klaaggeluid,
van stemme wat geen rus kan kry,
van siele wat eeu-in eeu-uit
in smart-herhaling hooploos ly.

Oor waterwydtes om en om
tot marmerrand van verre kus—
ruis daar van oos tot wes, alom,
’n eeuesang van nimmer-rus.

Die golwe kom, die golwe keer,
in vrolike spel van sonne-lus,
in pikswart nag van stormeweer —
en sing hul lied van nimmer-rus.

Daar ’s ewigheid in seegeluid,
in ver gedreun van kus tot kus —
waar golwe wieg eeu-in eeu-uit
op maat van nimmer-nimmer-rus.

SLAAP.

Wat is die slaap ’n wondersoete ding!
Sag op haar bloue oë daal die vaak,
soos maneskyn diep waterkuile raak
om daar te droom in silwer skemering.
Vir laas beef oor haar lippe ’n fluistering:
„Nag, Pappie.” Ek merk, hoe langsaam hy genaak,
wat drome soet tot werklikhede maak . . . .
in vaderarme rus my lieweling!
Sluit so my oë, God, wanneer vir my
U Engel wink ter laaste, lange rus
en ek van wilde woeling hier moet skei;
dat my dan soete drome huistoe sus
en sterke Hand deur duisternisse lei . . . .
Sluit so my oë, God, as ek gaan rus!




Woorde is my asem en skryf my passie!!! Ek waardeer elke stukkie kritiek, verkieslik positief, maar kan die negatiewe ook hanteer. Dankie dat jy die tyd neem om na my werke te kyk en dit te beoordeel. Ek is n Boeremeisie in murg en been... mal oor die wye natuur van plaaslewe wat my omring Ek is getroud met die wonderlikste man (Willie). Ons is geseend met 3 pragtige dogters en 'n kleinseun en 3 kleindogters. My verhouding tot my Skepper loop baie diep en ek dank Hom elke dag vir al die voorregte en genade gawes wat ek so onverdiend ontvang... Loutering is deel van my lewe en ook daarvoor dank ek Hom daagliks want dit maak dat daar altyd groei in my lewe is...

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed