Jongste aktiwiteit:

CJ Langenhoven se spreuke
vir
0 views

CJ Langenhoven se spreuke

Liefde en vriendskap

Deur twee dinge is my lewe vir
my leefbaar gemaak: die liefde wat ek
gegee het, en die liefde wat ek gekry het.

Die gedienstige engel het
gekom in ‘n huis waar daar liefde was,
en met ‘n glimlag omgedraai,
en gesê: My diens is hier oorbodig.

Alle godsdiens is liefde, en die meeste
liefde is afgodsdiens.

Wie liefde verwar met sinnelikheid, sien ‘n
engel aan vir ‘n aap.

Hoe korter jy jou kuier maak, hoe gouer sal jy
weer genooi word.

Om my naaste lief te hê is vir my
‘n sware gebod. Met die mense daargunter kry ek
dit nog op ‘n manier reg.

Dis makliker om die gemeente lief te
hê as jou buurman, en die hele menslike
geslag as jou vrou se familie.

As twee vriende eenmaal getwis het,
kan hulle afmaak maar die vorige vriendskap
kry hulle nooit weer terug nie.
Buiten wanneer hulle met mekaar getroud is.

Jy sê “ja” waar jy moes “nee” gesê
het omdat jy die ander nie wil aanstoot gee
nie. Maar reken hoe het hy jou aanstoot
gegee met sy versoek!

As jy nie van iemand hou nie, doen hom ‘n
weldaad. Daarna sal jy hom liefhê.

Die teëspoed sif die vriende uit wat die
voorspoed geoes het.

Aan ‘n nuwe wa kan jy sien of dit
‘n goeie skilder was, aan ‘n oue of dit ‘n
goeie wamaker was.

Trek liewer vir jou vriend jou broek
uit as om vir hom vir ‘n baadjie borg te staan.
Anders loop julle naderhand albei nakend.

Die prys van vrede is vooruitbetaalbaar,
die van twis agterna.

Liefde is nie kunsmatig nie.

Borgskap is ‘n kind van vriendskap, maar hy
vermoor graag sy ouer.

Die manteldraaier maak vriende
ál in die rondte, totdat hy op die end ál
in die rondte vyande het.

Hoe meer tevrede ‘n man met my is,
hoe meer tevrede is ek met hom.
En hoe gouer is ons al twee ontevrede.

Die ware vriendskap, nou, is nie
te koop nie; want vriendskap vind nie sy lus
in neem nie, maar in gee.

Die vriendskap wat jy moet koop is ‘n
duur artikel. Jy sal nie weer jou prys kry as jy
dit van die hand wil sit nie.

Gooi vir jou gas “tjiekorie”
by die koffie en hy sal die “tjiekorie”
onthou en die koffie vergeet.

Moenie vriendskap en besigheid meng nie —
jy bederf albei.

‘n Man wat nie vyande het nie deug
nie vir ‘n vriend nie.

Moenie by die hemel gaan soek na die engele nie,
soek by die engele na die hemel.

Maak jou vriendelikheid goedkoop en
hou jou vriendskap duur.

Afwesigheid is die vyand van liefde en
die vriend van vriendskap.

As jy regtig wil seermaak, soek iemand
wat jou liefhet.

Moenie jou vriend vergeet nie; dit sal hom
seermaak. Maak jou vyand daarmee seer.

Daar is één opsig waarin ek my dierbaarste vriend
net so behandel soos my bitterste vyand. Ek steek
my skande vir albei ewe sorgvuldig weg.

Dooie vriendskap is die aas van
wetsgeleerde kraaie.

‘n Skare is ‘n versameling van eensames.

Stuur jou buurman se vee skut toe
en vind die skutgeld te min om vir jouself
nog ‘n veewagter te huur.

Wat ek van Job die meeste bewonder is
nie die geduld wat hy onder sy
teëspoed betoon het nie, maar dié wat hom
gekeer het dat hy sy drie
vrinde nie één vir één by die deur
uitgeskop het nie.

Koop jou wingerdstokkies van
jou buurman. Jy het nie die vreemde
wingerd se druiwe geproe nie.

Dis nie reg van my buurman om te bid
vir reën solank as my gerwe nog op die land lê nie.
Waarom dink hy net aan sy eie belange?

Vat al die kwaad wat jy in jou
buurman sien en al die goed wat jy in jouself
sien, en maak daar ‘n derde mens uit.
Hy sal maar naastenby so lyk
soos elk van julle twee.

Vlyt en loon

Die wêreld die draai:
Vir die swaar wintertyd om ons lande te saai —
Of om luilekkerlewend die ploeg te laat roes,
En daarna ons vrugte of onkruid te oes.

Stuur die luiaard na die miere en hy
sal daar rondom die miere lê en hy sal hom
verlustig in die vlyt en bedrywigheid
wat aan die gang is. Want hy hou van werk —
die luiaard: solank as dit nie
hy is wat werk nie.

Stuur die luiaard na die miere, en as
hy nie te lui is om te gaan nie sal hy te lui
wees om weer terug te kom.

Kla oor jou kooi as dit ‘n ander is wat dit
vir jou opgemaak het.

Daar is geen luiaard wat glad nie wil
werk nie. Hy verlang maar net na ‘n ander soort
werk as dié wat hy nou moet doen.

Dis net so moeilik om maklikheid in
die ou wêreld te kry as wat dit maklik is om
moeilikheid te kry.

Die luiaard is die enigste man wat van sy slaap sal
moet rekenskap gee.

Waardeer die werk van jou vrou.
Jy kan nie op die aarde ‘n ander kneg kry vir
dieselfde diens en dieselfde prys nie.

Met spaarsaamheid sal jy uit die kleinste inkomste
iets oorhou; met verkwistery sal die grootste vir
jou te min wees.

Besorg jou eie boodskap en reken
die moeite teen die wat die misverstand
jou sou gekos het.

As sport ons daelikse plig was,
sou ons die werk wat ons nou moet doen
byderhand neem vir ons plesier.

Die man wat vandag hierdie vak bevlieg
en môre daardie wys self dat
hy nie weet wat sy roeping is nie.
Sy inkomste wys dit ook.

Salomo het by ‘n luiaard se akker verbygeloop.
Had hy bietjie vertoef dan kon hy gebie het op die
vendusie.

Hoe swaarder ‘n man aan sy goed gekom het, hoe
swaarder bring hy daaraan deur.
Swaar-kry: lekkerkry; lekker-kry: swaarkry.

Daar is één goeie ding wat ‘n slaaf soms
koop wat vir sy baas te duur is. Die goeie ding
is rus en die prys is arbeid.

Daar is mense wat kan doen wat hulle wil, maar
dit is die wat wil doen wat hulle kan.

Ek was so besig om kanse te soek
dat ek my geleenthede een vir een laat
verbyglip het.

Die ryk man het mos nie nodig om
so suinig te wees nie. Maar hy is nie ‘n ryk
man wat suinig geword het nie:
by is ‘n suinige man wat ryk geword het.

Help jou swakke mededinger op
die bene bly. As hy tot niet gaan, kom daar
straks ‘n sterke in sy plek.

Ontydige vlyt is die merk van die luiaard.
Dis sy verskoning vir ontydige rus.

Ons reken ons geluk vir ons loon en ons
straf vir ons ongeluk.

Welvaart is die dogter van matigheid en
die moeder van weelde.

My swaarste pad trap ek self vir my plat,
en swaarste is die wat my voete nooit vat.

Daar is geen kuns by sukkel en geen
sukkel by kuns nie.

Die man wat ek na soek, is nie die wat
die minste foute maak nie, maar
die wat die meeste foute regmaak.

En verder die boer wat nie saai nie
sal nie misoeste kry nie, maar hy sal geen
goeie ook kry nie.

Het die daeraad lief en die dag sal jóú liefhê.

Slaap laat solank as jy jou eie baas is
en daar sal ‘n tyd kom wanneer ‘n baas jou
sal laat vroeg opstaan.

‘n Man wat oor homself baas is, is nooit
die kneg van ‘n ander nie.

Dis die flukse perd wat flou word.

Meer moeite as wat die vlytige het vir sy loon,
het die luiaard verniet.

Op die ou end werk die vlytige man vir homself,
die luiaard vir ‘n ander.

In die sweet van sy aanskyn eet die
Adamskind sy brood; in die sweet van ‘n
ander se aanskyn sy pastei.

Leer jou ambag so goed dat jy jou altyd
kan verhuur aan ‘n baas wat daar minder kennis
van het as jy. Dan sal jy sy baas wees.

‘n Presiese baas hou nie nalatige knegte lank nie.
Dié wat hy nie wegja nie loop weg.

Maak in die somer hout bymekaar en
sit in die winter by die vuur.

Om van ‘n ou ding ontslae te raak,
verf hom nuut.

Vir sy eie voordeel beklee ‘n man
‘n beroep; vir die voordeel van sy ewemens volg
hy ‘n roeping.

‘n Goeie ambagsman kry nooit sy werk
na sy eie sin nie; ‘n slegte kry dit nooit na die sin
van sy klandisie nie.

Elke artikel wat hy maak is ‘n nuwe
skoonheid waarvan hy die skepper is: dis syne
en ‘n ander kon dit nie só gemaak
het nie, want sy siel het hy daarin uitgegiet.

Die slegte ambagsman beveel sy werk aan;
goeie werk beveel sy ambagsman aan.

So ‘n ambagsman is die gelukkigste mens op
die aarde. Sy arbeid is sy lewenslus.
Sy hardste werkdag is sy keurigste vakansie.
Nie om die prys of die loon nie,
maar om die heerlikheid van sy werk,
werk hy.

Ploeg self op die klipland en gee vir
jou kneg die sagte grond. Dan sal jy jou
kneg behou en jou ploeg ook.

Moenie by die huis rondlê en jou knegte
werk toe stuur nie. As jy vir jou
eie belange traag is, hoe kan jy verwag dat
hulle vir ‘n ander s’n ywerig moet wees?

Doen jou eie werk. Dis verveliger
om te wag solank as ‘n ander jou ketel kook
as wanneer jy hom self kook.
Tog gaan dit gouer, want hy is nie so spaarsaam
met jou hout nie.

Om die luiaard gisteraand nie moeg
was nie, het hy vannag nie gerus nie en
daarom is hy vanmôre nog lui.

Die goedkoopste manier om aan
jou lewensmiddel te kom is om daarvoor te
werk. Die duurste is om dit te steel.

As jy geen stuk kennis het van
die ambag waar jy ‘n man voor huur nie,
bekyk sy gereedskap. Hy sal nie
in jou belang oppassender wees as in
sy eie nie.

Staan by die man wat by die dag werk
om te sien dat hy nie te stadig
is nie, en by die man wat by die stuk werk
om te sien dat hy nie te haastig is nie —
of huur twee, een by die dag en een by die stuk,
en laat die een die ander skaam maak.

Maak vir die man wat nie omgee nie
goeie werk. Die man wat omgee sal dit by
hom sien en ook by jou kom bestel.

As jy jou werk sleg doen omdat jy jou
loon te min beskou, sal jy nooit
goeie werk doen nie: want jy sal nooit genoeg
loon kry na jou eie sin nie.

Ons betaal ons onwillige knegte altyd te veel, ons
gewilliges altyd te min.

Betaal ‘n donkie se prys en moenie ‘n perd se
diens te wagte wees nie — maar jy betaal maklik ‘n
perd se prys en jy kry ‘n donkie se diens.

Daarom het Adam en Eva die
Paradys nie gewaardeer nie omdat hy hulle
niks gekos het nie.

‘n Man wat nog nooit self iets
bymekaar gemaak het nie, het altyd slim
planne hoedat ‘n ander sy geld
behoort te gebruik wat daarvoor gewerk het.

Die geluk van die skyf is by die
roer, en die geluk van die oes by die boer.
Die belangstelling van die kneg moet
jy toekry: jy kan dit nie huur nie.

As ek die begeerte mog waag,
sou ek dit graag so wil hê dat die engel
wat my kom haal huis toe, my daar
bring met die verslag:
“Ek het hom by sy werk gekry.”

Waardes en waagmoed

GEE MY ‘N MAN
Wat sê wat waar is
As die duiwel daar is
Wat doen wat reg is
As die regter weg is
Wat trou by sy gewete bly
As hy straf in plaas van beloning kry.

Maar tussen hakies wil ek net
dit opmerk: baie van ons voorouers het
stoomharte by die ossewaens
gehad; baie van ons het remskoenharte
by die stoomwaens.

Dit beteken nie altyd veel om
‘n man van belang te wees nie. Die belangrikste
persoon op ‘n begrafnis is die dooi man.

Skeur jou los van jou eie nasie
of en verwonder jou dat die ander nasies nie
oormekaar val om jou in te neem nie.

Die verkwisterige man eet die vrugte
van sy lewe groen op; die inhalige laat hulle
sit tot hulle vrot is.

Daar is honde wat maar net hoef
te knor. Dit is die wat reeds tevore gewys
het dat hulle kan byt.

Moenie skryf om ongevraagde raad
aan te bie nie. Jy weet nie of die man nie
miskien te dom is om te weet dat
jy slimmer is as hy nie.

Moenie skryf om te preek nie.
Jy weet nie of die man nie miskien self meer besorg
is oor sy siel as jy oor joue en syne saam nie.

Moenie versuim om jou brief nog
‘n slag oor te lees nie. Miskien weet die man
nie dat jy beter is as die foutjies
wat jou ontglip het nie.

Ek sê nie al die suur mense is fariseërs nie.
Maar naastenby al die fariseërs is suur.
In alle geval, solank as hulle onthou om fariseërs
te wees. Want dis ook ‘n inspanning.

Verbeel jou ‘n wêreld sonder ‘n skaterlag,
sonder eens ‘n glimlag. ‘n Hemel op
aarde, sal die fariseër sê. Uit so ‘n hemel sou
ek wegloop hel toe.

Die toets van ‘n man is, hoeveel daar nodig
is om hom te laat lieg.

Waar is die waarheid. Ja, waar is hy, dis waar.
Maar waar is hy?

Bly spaarsaam opdat jy die vermoë mag behou om
vrygéwend te bly.

Daar is mense wat hulle oë so knaend
daarbo op die Hemel gevestig
hou dat hulle nie sien hoe min goed hulle hande
hieronder op die aarde doen nie.

Leen jou ore uit aan iedereen wat ‘n tong het,
maar moenie jou tong uitleen aan iedereen wat ore
het nie.

Doen wat reg is en maak die Voorsienigheid
aanspreeklik vir die gevolge — in plaas van, soos
nou, te maak soos jy lekkerkry en die Here die
skuld te gee van die gevolge.

Beny ‘n man sy spaarsaamheid en sy volharding en
jy hoef hom nie sy onafhanklikheid te beny nie.

Die geveinsde man doen soveel moeite
om die deug na te aap dat ‘n mens
jou verwonder waarom by nie sommer
meteens die egte artikel aanskaf nie.

Dis nie swaar om die waarheid te praat nie.
Wat swaar is, is om jou gedrag so te hou dat die
waarheid binne jou vermoë bly.

Om af te breek is geen kuns nie.
‘n Klein babetjie kan ‘n blommetjie verniel wat
dit ‘n God gekos het om te maak.

Om te luister na ‘n gesprek wat vol
vloekwoorde is, is net soos om te kou aan
‘n mondvol koring wat vol klippe is.

Frisgewaag is half gewonne: maar dis
maar die eerste helfte.

Moenie ‘n man help wat homself kan help nie. Jy
maak hom hulpeloos vir die toekoms en jy
vermors die hulp wat jy vir ‘n werklik behoeftige
moes gespaar het.

Ons glo aan die vreemde profeet omdat al wat
ons van hom weet goed is. Dit moet goed wees,
want ons hoor dit van hom self.

Die man wat ál dae lekker kos het, eet nooit
lekker nie; en die man wat heeljaar vakansie hou,
het geen één rusdag nie.

Voordat jy ‘n nuwe koers inslaan, bereken
eers of jy weer sal kan omdraai as
jy jou altemit vasloop, en onthou geen pad
is na weerskante toe afdraand nie.

Die man wat sy saak gewin het, beskuldig nie die
regter van partydigheid nie.

‘n Man wat sy toevlug tot ‘n leuen moet
neem, vind dikwels uit dat hy in ‘n huis gaan skuil
het wat nie ‘n agterdeur het nie.

Waar die moeilikheid so groot is as ‘n berg,
klim die wyse bo-oor; die dwaas
graaf ‘n tonnel onderdeur en bly binne vassteek;
die lafaard draai om.

Die enigste tyd wanneer gespaarde
geld niks werd is nie, is wanneer jy ‘n goedkoop
artikel gekoop het.

Skat jou bekwaamheid te min om mee te spog
en jou karakter te hoog om mee te speel.
Op dié manier sal jy jou selfrespek bewaar en
die respek van jou ewemens verseker.

Berou is ‘n ewigdurende rente op ‘n skuld waarvan
die kapitaal nooit vereffen kan word nie.

Ek het baie paaie geloop op die ou wêreld
en ek weet van meer wat ander
mense probeer het; maar op die ou end weet ek
nie van ‘n ligter pad as die regte nie.

Hoe min mense sou te veel drink as
die hoofpyn in die prop was in plaas van in die
boom van die bottel!

Hoe meer waarheid daarby is, des te
gevaarliker is ‘n leuen. Die oneerlike melkboer
sal niemand bedrieg as hy die bottels
vol skoon water maak nie.

Aanneemlikheid en waarskynlikheid is
die lewensbloed van ‘n leuen. ‘n Leuen wat uit die
staanspoor uit nie geglo word nie is ‘n doodgebore
duiweltjie.

Die meerderheid is reg, die minderheid opreg.

Behandel jou meerdere met beleefdheid omdat
dit jou plig is; jou gelyke omdat dit jou
plesier is; jou mindere omdat dit jou voorreg is.

Die duiwel probeer nie om goeie mense te verlei
nie. Hy weet nie waar om hulle te kry nie.

Hoe min opinies sou daar in die wêreld gewees
het as ons almal die moeite moes doen om eers ‘n
saak te verstaan en dan te beoordeel!

As iemand se kritiek oor my werk gunstig is, doen
ek nie die moeite om te ondersoek of hy ‘n
bevoegde beoordelaar is nie.

‘n Mens bie in die begin omdat jy
die artikel wil hê. Naderhand bie jy omdat
die ander hom wil hê.

Gaan na die geregshof gewapend met
geregtigheid. En met goeie getuie en ‘n knap
advokaat.

Jy eet aan jou eie tafel lekker
omdat jy weet hoe dit in die kombuis toegaan.
Aan die vreemde, omdat jy dit nie weet nie.

As jy nie wil inhou nie moet jy
naderhand uithou; en as jy nie kan aanhou
met teëhou nie moet jy maar
tevrede wees om op te hou met byhou.

Moenie huil oor die kwaad wat jou vyand jou
aangedoen het nie. As jy hom nie kan laat huil nie,
moenie hom laat lag ook nie.

Jy mag nie kan kies tussen jou vyand
se haat en sy liefde nie, maar jy kan kies tussen
sy haat en sy minagting.

Die na-aper is nie eens ‘n aap nie, want die
aap is sommer self ‘n aap.

So wie geleer het om vas te trap, het daarby
geleer om nie op sand te staan nie.

Doen wat reg is en jy sal baie stampe kry,
maar nie in jou gesig nie.

Nederigheid kan nooit val nie.

Hoe weelderiger woord hoe skraler gedagte.

Om doeltreffend te lieg,
moenie die waarheid heeltemal omdraai nie:
hou hom skuins.

Rek die waarheid en jy doen aan
hom te kort.

Ek neem nie die papier kwalik dat hy geduldig is
nie, maar die leser.

Sy baie oefening in aanmerking
nemende sou jy kosbare woorde verwag
van die babbelaar.

Daar mag halwe eiers wees wat beter
is as leë doppe: maar die halwe eiers wat na my
koers toe gekom het, was nog altyd vrot.

Dis wáár daar is nie rook sonder vuur nie: maar
hoe meer rook hoe minder vuur.

Afguns is ongegunde hulde.

Om van my hoogmoed ontslae
te raak het ek nederigheid aangekweek, en
dáárop hoogmoedig geword.

Met ‘n man wat met homself tevrede is, is
niemand anders tevrede nie.

Die man wat agter sy eie goed kyk, sal nie sy
buurman s’n vat nie.

Kleinserigheid is die voorkant van seerkleinigheid.

Die kontante betaler is baas van sy sak.

Die waarde van die koelte is in die warm son
rondom hom.

Die afdraande van die heenreis is die opdraande
van die terugkoms.

Sonder net daardie één soort rusies
waar weerskante gelyk het, sou daar vrede
op aarde wees.

Maak staat op die raad van die man wat
twyfel of dit reg is: die man wat nie twyfel nie het
die saak maar van één kant af beskou.

Draai jou verkyker om om jou buurman
se foute waar te neem, en hy sal van die ander kant
af daardeur kyk en jou deugde vergroot sien.

Die preke wat die meeste indruk
op ons maak, is dié wat ons die minste nodig het.
Hulle maak die indruk omdat hulle
ons op die soort kwaad wys waarvoor ons uit
ons eie die gevoeligste is.

Wysheid en kennis

Die wêreld die draai
Nou is hy vriendelik en dan is by kwaai:
Vandag is hy soet en môre weer suur;
Geen blydskap hou stand en geen droefheid duur.

Die slim man ken al die paaie; die wyse
ken die één regte pad.

As jy met die onkunde van ‘n ander
spot, is jou kennis nie so uitgebreid dat jy jou eie
onkunde besef nie.

Moenie eers skryf en dan dink nie. Dink liewer
eers en skryf dan nie. Skryfwoorde is nie
mondwoorde wat wegwaai nie. Of wat jy later kan
oorstry nie.

Die mooiweer sal jou nie beskadig omdat jy jou
jas en sambreel verniet saamgeneem het nie.

‘n Man wat ‘n verkeerde roeping kies,
is nes ‘n boer wat sy kliprante omploeg en sy geil
grond laat leeg lê.

Moenie jou kordaatstuk herhaal nie. Strakkies wys
jy daarmee dat die kolskoot ‘n gelukskoot was.

Die held is versigtig vóór die gevaar
en dapper daarin; die lafaard is dapper vóór die
gevaar en versigtig daarin.

Van alle smagte is die verwesenliking minder
heerlik as die verwagting.

Aan elke silwerrandjie is daar ‘n wolk.

Om ‘n antwoord te weier is
om die betekenisvolste antwoord te gee.

Hoe minder jy ag gee op die toekoms,
hoe meer sal hy ag gee op jou.

Moenie die gewigtige brief, of die
kwaai brief, of die slim brief, vandag pos nie.
Slaap daaroor en pos hom môre.
Dis beter as om hom môre terug te wens.

Prosedeer oor ‘n baadjie en hou jou
broek klaar vir die onkoste.

Moenie my so goed vertrou om my
dokument te teken vóórdat jy dit gelees het nie.
Ek het jou nie so goed vertrou om met jou
belofte tevrede te wees sonder jou
handtekening nie — vertroue is al wat
bedrog op vertrou.

Soek vir jou ‘n dokter wat jou goeie moed inpraat
en ‘n prokureur wat jou slegte inpraat.

Hou jou glimlag vir jou vyand,
jou trane vir jou vriend, jou hart vir jou
ewemens, jou oordeel vir jouself,
en jou gewete vir jou God. Hou jou vermoë,
hou jou geloof, hou jou naam, hou jou
skoon, en hou jou bek.

Die fariseër is die valse vriend van
die godsdiens wat dit meer kwaad doen as al
die openbare vyande daarvan.

Gee ‘n man wat jy hom skuld voordat hy dit vra,
en jou raad nadat hy dit gevra het.

Soos `n skeermes in die hand van ‘n aap, so is
geleerdheid in die kop van ‘n dwaas.

Jy kan mense huur om vir jou kinders
se geleerdheid te sorg; vir hulle opvoeding moet
jy self staan.

Jou kind kan sy geleerdheid nog by
die skool agterlaat: sy opvoeding sal hom
vergesel tot in die graf.

Geleerdheid is die opleiding vir
‘n ambag; opvoeding is die opleiding vir die
gebruik van die ambag.

Dieselfde water draai die wyse se meule wat die
dwaas se grond verspoel.

As jy ‘n onaangename taak het,
voer hom dadelik uit, anders kom al die
onaangenaamheid van die lange
vooruitsig nog daarby.

As jy met ‘n man stry, gooi hom
liewer met ‘n emmer water as met ‘n klip.
A1 maak dit hom nie so seer nie,
hy kan dit nie teruggooi nie.

Die onkundige man dink, die kundige
man weet. Die eerste dink dat hy weet; die tweede
weet dat hy maar dink.

Om dood te gaan is geen kuns nie:
die slegste kry dit reg. Om te lewe is ‘n kuns:
die beste kry dit nie goed reg nie.

Daar het al beter mense gelewe as
ek en jy, en toe hulle dood is, het die wêreld
darem sonder hulle aangesukkel.

Pas op vir ‘n na-paadjie.
Daar moet ‘n rede voor wees dat die hoofweg
nie daarlanges gaan nie.

Stilbly is ook ‘n woord, en daarom kan jy daarmee
ook lieg.

As jy ‘n gerugte wil versprei, moenie hom loop en
rondskree nie. Fluister hom vir ‘n diepe geheim aan
twee bure. Neem twee getroudes.

By die een oor in en by die ander mond uit.

Die gefluisterde woord trek verder as die
geskreeude.

Daar is nie ‘n hoogmoed so trots en ongenaakbaar
nie as die verstandelike hoogmoed van die
onverstandige man.

Moenie eers baklei en dan hardloop nie: hardloop
eers solank as jy nog vars en heel is.

Die kortste draai is die omdraai.
So kort dat hy swaar is.

Die beste keer is die eerste keer.

Om jou één eie taal tot nut
te gebruik is ‘n groter kuns as om sewe
vreemde by te leer.

As jy jou verbeel dat jy gelukkig is,
is jy gelukkig.

Die indringer is soos ‘n doring. Hy soek
nie plek nie; hy maak plek.

Dis deur te veel mooiweer dat die
woestyn onvrugbaar is.

Die keffer blaf niemand bang nie: hy blaf
van sy eie bangigheid.

Die ou manier is maar die beste.
Anders sou hy nie kans gehad het om
oud te word nie.

Dis makliker om die siel te bekeer
as die liggaam.

Jy kan nie met skoon hande modder gooi, nòg met
‘n reine mond gif spoeg nie.

Aanstoot kan nie gegee word waar hy nie geneem
word nie.

Die mensekind leer eers om te luister, dan leer hy
om te praat en dan verleer hy om te luister.

‘n Spioen deug nie of hy moet so onvertroubaar
wees dat weerskante hom vertrou.

Daar is niemand wat minder mense se sin voldoen
as die Here nie.

Met die skape en die bokke bedoel die
gelykenis, reken ek, die dom mense en die slimmes.
Ek sien swarigheid vir jou en vir my.

Die martelaar behaal onsterflikheid
deur ‘n ontydige dood, die hervormer deur
‘n ontydige geboorte.

Die moeilikheid van die twismaker
is om sy reg te kry wanneer hy gelyk het;
van die bedrieër om vertrou te word wanneer hy
eerlik is; van die leuenaar om geglo te
word wanneer hy die waarheid praat.

Gelukkig vir die waarheid is eners lieg
swaarder as bont lieg.

‘n Halwe begryper het ‘n goeie woord nodig.

As jy dan dwing om te val, val solank as jy nog
op die onderste sport is.

As jy die swareweerslag nog hoor, het die blits
jou nie geraak nie.

Die water vind die misrekening uit
in die syfers van die ingenieur. Gods werk
redeneer nooit vals nie.

Ledige pyp hou toe jou kraan,
Dan sien ons jou vir ‘n volle aan.

Leierskap

Die grote hoef hom nie groot te hou nie.

Die nadeel van ‘n hoë posisie is die
aandag wat hy trek. Onder tussen die skare
hoef jy maar net vir ‘n ordentlike hoed
te sorg. Bo-op die leer sien hulle jou broek
en jou — skoene ook.

Die drywer maak ‘n slegte leier uit.

Dis omdat dit so ‘n opoffering
is om ‘n publieke posisie te beklee dat daar
bestrede eleksies is. Die bokke val
oormekaar om hulle te laat slag vir die altaar.

Daar is mense wat die grote wêreld
wil verbeter, maar jy sou die werk nie
aan hulle toevertrou as jy nagaan hoedat
hulle hulle eie plekkie in orde gehou het nie.

Jy sal vir ‘n man stem om die sake
van jou land te bestuur wat
jy nooit sou droom om jou eie sake
aan toe te vertrou nie.

Al verdien ‘n man dit nie,
eer hom na sy posisie. Dis al genoeg dat
hy die posisie oneer aandoen.

‘n Man moet vóór wees om van agter in
die rug gesteek te word.

Wees ‘n redelike man wanneer
jy jou politiek beraam, ‘n dweper wanneer
jy dit uitvoer.

Die volmaakte regering wag vir
die tyd wanneer elke burger sal geleer het
om homself te regeer.

Selfregering gee jou nog nie vanself
‘n volk wat regeer, nog minder ‘n regering
wat homself regeer nie.

Ek het nog nooit van ‘n politiek
gehoor wat nie met mooi woordjies ondersteun
word nie.

Baie hande maak slegte werk.

Waai ‘n vlag en tel die helde; roep om
vrywilligers en tel die vlag.

Wed op die vurige hardloper vir die kort reisies.

Hoor die hoenderhaan roem.
“Ek het gekraai,” kraai hy, “dat die dag moes
breek en kyk daar breek hy.”

Hoe meer ‘n man hom laat gebruik,
hoe minder bruikbaar is hy.




Woorde is my asem en skryf my passie!!! Ek waardeer elke stukkie kritiek, verkieslik positief, maar kan die negatiewe ook hanteer. Dankie dat jy die tyd neem om na my werke te kyk en dit te beoordeel. Ek is n Boeremeisie in murg en been... mal oor die wye natuur van plaaslewe wat my omring Ek is getroud met die wonderlikste man (Willie). Ons is geseend met 3 pragtige dogters en 'n kleinseun en 3 kleindogters. My verhouding tot my Skepper loop baie diep en ek dank Hom elke dag vir al die voorregte en genade gawes wat ek so onverdiend ontvang... Loutering is deel van my lewe en ook daarvoor dank ek Hom daagliks want dit maak dat daar altyd groei in my lewe is...

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed
  • Fanus Strydom het ‘n nuwe publikasie gemaak

  • Amanda het ‘n nuwe publikasie gemaak

  • Amanda het ‘n nuwe publikasie gemaak