Jongste aktiwiteit:

Chris Chameleon
vir

Chris Chameleon

*teks van Chris pas uitgereikte album, jy en ek en ek en jy aan.

MY BEMINDE (Die Deurbraak)

die sipresse buig
hulle kniel en ek hoor dis van die wind
maar ek weet dis net ‘n gerug

nes die glans van die eerste blaar
die wonder van geboorte
ek het n ontluikende spriet gesien
haar hoof skugter gelig
gesig na die lig gerig

ek weet waarom die tier
(sy gespikkelde spiere nouliks deur die
glans van sy vag vervat) sy luisterlose sluip
in die naguur glim

dit is

soos die waters wat in golwe breek
hulle gee hulle lewens lank aan hierdie doel
die sand en die ontelbare, die ontelbare die nageslagte van sterre
van beloftes omarm, omspoel, omvat een teiken
van die enorme ruim omhul

hulle is daar geplaas
hulle is daarom waarneembaar
hulle is daar geplaas

om jou te besing my beminde

NIE SONDER DIE LIEFDE NIE

en die stof onder ons
en die grond waarop ons
die grond waartoe ons terugkeer
altyd om en om en om
en die wind
die wind wat deur en deur en deur
altyd om en in ons wentel
in ons om en om en om tol

en die hemele
en die sterre

geen vlinder het ooit sy vlerke
in die son af en aan en aan laat sien nie
en die stilte van die nag, die dag
die môre môre môre nie sal wees nie

en die hemele
en die sterre

nee dit was niks nie
dit bestaan nie
dit is niks nie
dit is nie
sonder die liefde nie

KOM

kom
terwyl ons soggens op die son
wag om in strale om te kom
van die genot van ons onbesonne som

kom
totdat die wêreld om ons keer
totdat van weer en weer probeer
ons talle falinge nie meer makeer nie

kan ons twee tyd saam spandeer?
ek kan aan niemand dink nie
met wie ek liewer tyd wil spandeer nie
ek is hier en hier is jy
wil nêrens anders wees nie
nie as ek sonder jou daar moet wees nie

DIE INTIMITEIT VAN ONS GREEP

sou die voëls hul sang
die oproep om die môre
die brandende bal dan nie?

sou die lower skilfer
blare welvarend die grond tegemoet
die dou?

sou die silwer skerwe
die hemellig verplaas
in die waters
die nimmereindigende herskepping?

en die diepte?
die diepte daaronder
waarin geheime die verborge
donker betekenis gee?

as ek jou in my omhelsing
die intimiteit van ons greep
nie meer nie nie meer nie?

AANGEKONDIG

die sonlig kondig dit reeds sedert die eerste opkoms aan
sonder versuim

ek bemin jou ewig
voordat jy gebore is
voordat ek jou ontmoet het
voor ek bestaan het

ek voel hierdie liefde nie
ek kan dit nie sien nie
dit het geen vorm nie
ek kan dit nie bewys nie

die sterre bevestig dit in hul langsame nagwandelinge
die golwe getuig daarvan, onverpoosd, keer op keer

DIE ONOMSKRYFBARE

die uitspansel, die oneindigheid
so ver dat dit slegs hier in die hart van
minnaars geken kan word
om vergestalting te vind in ontroering
die belofte van betekenis

die onsin van die wetenskap
die volle omvang van die onvervatbare

wat vorm gee
waarsonder alle dinge vormloos is
die liefde wat ‘n woord is
waarvan alle woorde ontoereikend beskryf
die liefde wat sny deur grond, die bloed van metaal en die eter

sonder om te verwond
die liefde wat leeg is
sonder begeerte
sonder besoedeling, sonder tekortkoming

wat alles vul
alles beteken
alles beskryf
alles vervat
alles vervorm
alles is
en niks wat is enkel is nie

‘n GLINSTERENDE HERINNERING

‘n glinsterinde herinnering
die uitspansel ‘n versinsel in
‘n ongekende ewige
om en om en om en om en om en om

al die jare wat nooit was nie
en dae wat ons nie geken het nie
gister wat nie was nie
waarvoor daar vandag nie woorde is nie
om en om en om en om en om en om

dit het nie ‘n naam nie
alles wat nooit was nie en alles wat nooit sal wees nie
en niks wat is nie
dit was alles niks nie
nee dit was niks dis niks daarsonder nie

niks sonder die liefde nie

en klank al wat klank was
al die grond
al die water
die metaal en al wat daar is

niks sonder die liefde nie

om en om en om en om en om en om

RINKINK

rinkink!

OPPE EN AFFE

dit sal maar atyd daar wees my liefling
oppe en affe
wanneer die herfs jou oor die berge nader trek
moenie te diep in hulle inkyk nie hartjie,
wanneer die swaweltjies voor die reën speel
doelloos raai in eensame groepsverband
wanneer die namiddag son die reën in druppels vonkel
wanneer die poue skree
wanneer die suurlemoene hul geel smaal
wanneer die versengende middag jou tap
wanneer die aand stil om jou word
wanneer die huis nie teruggesels nie
wanneer die bed nie terug omhels nie
wanneer die nag jou vreemd omsingel
wanneer iemand opstaan vir die geritsel by die nagvenster nie
wanneer die dageraad sy rooi verraad

dis oppe en affe
dis kom en gaan

DIE REDE

in die donker oneiendigheid
van my lewe, die lewe voor my lewe en
die lewe daarvoor
het ek gedwaal
ek het gestrompel deur
vertakte weë
soms kon ek die son nie sien nie soms het die son my verblind

in lewe op lewe en lewens daarvoor het ek verdwaal
kon ek my weg nie vind nie
wie ek was en waar was verswelg
in die mistigheid van ‘n verlede wat ‘n idee geword het
die besliste waarvoor daar geen getuienis is nie

het ek asemsnakkend gehardloop,
die leed van my toewyding het my gefolter
tot ‘n soort dood toe gefolter

tot die nuwe lewe toe

tot die volgende verdwaling
het ek gesoek soek na die rede waarom ek soek
en ek het niks gevind nie
en in die pylvak van my doellose omswerwinge
in die laaste gang van oneindige spiraal

waarom waarom
ek weet waarom ek verdwqaal het
ek weet waarom die nagte my vervreem het
ek weet waarom ek nie rus kon vind nie
ek weet waarom ek doelloos gestap gestrompel gevlug het
waarom ek verdwaal het
waarom die lig my verblind het

waarom die nag die weg verswelg het
ek verstaan my eensaamheid
ek bergyp waarom ek die weg kwyt geraak het

al my verdwaling
dit was alles gerig hierop:

opdat ek jou sou vind

AALMOES

die dae’t hul eie gang gegaan
en het jou weer en weer vergewe
en ja, dis laat
en hoor jy die geluide van die nag al?

en die lang halms se dae is uitgedien
en die valskerm vra vlug

as jou hande kon aanraak
o die skeikunde verbied dit
sou jy my dan kon aanraak?
kyk, my wens verskiet dit!

is jou aalmoes weersien
en ek wag tot dan
en ek wens dit was nou
dat ek jou weer sien
maar ek sal wag tot dan




Woorde is my asem en skryf my passie!!! Ek waardeer elke stukkie kritiek, verkieslik positief, maar kan die negatiewe ook hanteer. Dankie dat jy die tyd neem om na my werke te kyk en dit te beoordeel. Ek is n Boeremeisie in murg en been... mal oor die wye natuur van plaaslewe wat my omring Ek is getroud met die wonderlikste man (Willie). Ons is geseend met 3 pragtige dogters en 'n kleinseun en 3 kleindogters. My verhouding tot my Skepper loop baie diep en ek dank Hom elke dag vir al die voorregte en genade gawes wat ek so onverdiend ontvang... Loutering is deel van my lewe en ook daarvoor dank ek Hom daagliks want dit maak dat daar altyd groei in my lewe is...

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed