Jongste aktiwiteit:

Antjie Krog
vir

Antjie Krog

ODE VIR ‘N ANDER LEWE 

ek wil ‘n ander lewe hê
ek wil in ander strate loop
ek wil in ander stede met ‘n lift ry
en uitstap op ‘n nuwe vloer
in ander supermarkte wil ek
ander kos van ander rakke haal
ek wil ander tande hê
ek wil rokke dra en ligte geel sandale
ek wil ander paaie ry
ander berge deur my ruite sien
ek wil ‘n ander lewe hê

ek wil ‘n ander ruimte hê
wat ek met jou nie hoef te deel nie
ek wil in plekke wees waar ek na jou verlang
en nie verlange met vertroudheid bly verwar nie
ek wil jou mond mis
ek wil jou oë terughê
ek wil jou in my kop hê nie in my bed nie
met geliefde tale wil ek jou oproep
en volbrag in jou teregkom

ek wil ‘n ander kans hê om my liefde
in my kinders te smee
(terwyl ek skryf, verskyn hul gesigte
soos op ‘n monitor): geliefde kind
ma wil hê dat jy moet weet
dat ek ontroer is deur jou weerlose dapperheid
dat ek duisel van hoe diep jy in liefde bly belê
hoe delikaat jy jou uniekheid ontplooi
jou hande, voete, jou geslote agterkop
en mooi oë kan ma snags uit haar kop opsê

ek wil om ‘n nuwe ruimte pleit
waarin ek kan sê dat ek jul elkeen
die liefste het (en as jy nodig het
dat ek jóú die liefste moet hê ¬
dan sê ek dit hier, ek het jou die allerliefste
nét soos die ander, my kind)
dat wat jy is, my bly verwonder
dat hoe jy is, my groots maak
dat ek jou in my gedagtes oor en oor omhels
en teen my vashou
gun my ruimtes waarin my aanmatigende angs
my skerp geringskattings tot niet kan gaan
waarin jy kan weet dat niemand jou
ooit so bevrydend onvoorwaardelik
en belemmerend liefhet soos ek nie

l’envoi
ek wil ‘n ander lewe hê
waarin ek onbevange aanraak
en onverganklik omgee
ek’s moeg vir my tekortskietende hande
my papende brein en snedige tong wil ek nie meer hê nie
ek’s moeg geskuif van:

hoe bly jy jonk na hoe bly jy lewendig
van hoe bly jy lewendig na hoe het jy lief
van hoe het jy lief na hoe het jy ten goede lief

ek is sat om ‘n leeftyd lank
‘n ander lewe te moet hê

Uit: Verweerskrif

Uit: dagboeke aan die begin van die twintigste eeu

 
tifus oral

swaar reëns val elke aand
en weer om middernag
snags is die plek ‘n vloed

ons lê        ons
probeer slaap
in ‘n paar duim modder

die storm woed deurnag
die lykshuis se tent waai weg
die volgende oggend lê hulle daar
rye en rye deurweekte lyke
hare wild
oë en monde gesper teen die hittige son
ek kyk nie weer op nie
jou roes vlegsel het ek vir ‘n oomblik sien hang

in die donker

my jongste kind
is dood
in die stikdonkerte
ek kon
sy gesiggie
nie sien nie
hy ook
nie
myne nie

roofsonnet

die littetekens van die oë
is die wond van die liggaam
‘n deurletselde liggaam

in primêre hegting pas die rande perfek op mekaar
‘n skoon wond wat heel
tot dunskoon littetekenlyn
in sekondêre hegting is die weefsel beskadig
probeer die vel van die kante af ingroei soos kikoejoe
maar vel kom net eenmaal (veral palmvel en voetvel)
vel goei nooit onbepaalbaar horisontaal nie
daarom bring letsels altyd kleur

littetekens kom oral voor behalwe in been
as skelet bly ons die langste mens
daar waar on dieselfde is, gaan ons die moeilikste tot niet

Uit: dagboeke uit die laaste deel van die twintigste eeu

ek sien my kind
hy slaap tussen tyres
daar’s skuim om sy mond
hy’s miskien reeds dood
hulle trek hom uit die bak
hulle gooi hom op die grond
hulle weier dat ek hom vashou
my voordeursleutel val op die grond

**
maak sop
dik boontjiesop
hulle toyi-toyi die straat af
ons praat nie
ons beweeg nie
hulle skree:  let the spy die
hulle gooi klippe deur die venster
moenie huil nie Nonthuthuzelo, sê jy
‘n mens sterf net eenmaal
kom sit boontjies in die pot

hulle sê jy’s van agter geskiet
hulle sê jy’t Biko verraai

windows 2000

die aarde hang onklaar
as die wind opkom
staan die kind in Kloofstraat met sy tas
kindertjie myne! roep ek hom aan
daar waar my hart die digste klop

soos altyd is ek elders
ek dink hom om tot amandels
amadels wat ophaal armsvol gepelde lig
ek trek sy fluistering ná in my matrys van bloed

die kind sku ingedoke oor die straat
dun langbenig lomp soos ‘n oopklapleer
ortodonties kwyl hy teen die wind

dis ek
dis ma hier
sy oë staan op die punt om my te verlaat
die wind seur oor die berg
die wind splint van hom af al wat kind is
die aarde lê onklaar

ek verdig rondom hom
verby alle skuld alle drome alle verwagtinge
verdig ek om hom heen

want ek het hom lief
so way
way anderkant my hart

Uit: skryfode

om te kan skryf moet ek myself binne kom
deur myself te buite te gaan

ek verlaat die daglig
die sleur van gefabriseerde stemme
en gaan ondergronds

ek reis soos ‘n gedagte

dis stil hier
en volkome afgesluit
veilig          privaat
ek tas die wande af
ek gryp in die ongegronde donker grondelings rond
om my stem te vind
om die geluid van die gedig te hoor
die reël wat sag oopspat van êrens

en die skryf, die neerskryf, vind plaas in selfgeveg

(bogronds
wag die man wat ek liefhet
Sondae stap hy teen Leeukop
as die laatmiddag sloep teen die klip
die ruimte wat nie is nie
is nié, sê hy)

dit problematiseer die neerskryf
en ek baklei myself tot die dood toe

ek kan jou nie afleer nie
as ek jou net stywer kan vashou

‘n deur word oopgestoot na behaaglike son
elke keer as ek jou sien

niks by te voeg

niks by te voeg
niks toe te voeg
oor hoe diep dit lê as

klanke soos vere val
in Baadjiesvlei en Biedousrivier
so soos ‘n asemveeg so lig

geluidloos in voorwêreldse stilte val
die klowe oop van Krakadou
en Vaalheuningberg tot by Wupperthal se klipperste klip

‘Stapelklip Opmekaagklip Skeugklip
Swamklip,’ sê Jakoobs Zimmerie, ‘by Vgottandjiesklip
plant ons rgog en ywe’

as die helikopter van die minister land
spat donkies onder bloekombome die rante uit
kanaalwater murmel reglings ‘mits deze

mits deze,’ sê Jakoobs, ‘waarg mense is
is altyd mos                 ongemakke’

nie die intimiteit van jou voorkop, mooi soos reën nie

nie die intimiteit van jou voorkop, mooi soos reën nie
nie die geweld van jou liggaam, agter lakens terughoudend nie
nie wat na my toe kom van jou lewe nie
sal soveel slanke genade hê
as om jou te sien slaap nie

miskien sien ek jou soms
vir die eerste maal

jy met ‘n borskas van koejawel en heliotroop
en roeserige skubbe van pynappel
jy met jou verwaande verdriete
vlek die hoeke blou

ons sal uithou bymekaar

al skil die son aan die dakteëls
al kook die staat net oorskietwoorde
stop ons ons sakke met suurstof
en die vuurwerke van vinke
al ry my oë die lap van die horison
al ry die middag die berghange bloots
al vorm die berg ‘n kompakte lyn teen die nag

ons sal uithou bymekaar
ek sien jou soms vir die eerste maal

(latyns-amerikaanse pryslied)

 

Lady Ann
weer eens
voor ‘n leë bladsy lynloos A4

‘n opening begin saggies pruil
iets vibreer deur, my asemhaling daal

tot ingehoue rakeling ek wag
potloodpunt net bokant die bladsy

die effe weefselklopping speur ek al
my sintuie stamp liggies teen mekaar

‘n kind roep verrrerig / ‘n deur klap / voetstappe kom af in die gang

ek gryp na die opening – selfs ‘n blerts sal doen!
liefkoos dringend die al hoe sluitender spier

‘n doodsheid slaan op uit my voete ek staan voor gladde wand

‘n kind kom versigtig die kamer binne / is mamma besig? / sy oë grys en gehawend

niks wat ek doen interesseer jou meer nie

                                  Windham
                              1 Nov. 1793

niks wat ek doen interesseer jou meer nie dit
weet ek jou onverskilligheid
bly verkiesliker bo jou afwesig wees dit
wil ek self aan jou sê en afskeid
neem – roofsugtig my hand onder jou vel sit.

ek is gister met Andrew Barnard getroud
in St. George’s op Hanoverplein
ek weet die nuus ruik nie eens na venyn

my hawe is verseker teen verdriet
ek skuil waar geen wisselende liefheid
of koudheid of nuk
of hartstog of ontrouheid
my langer (my ooit weer)
kan verneder of verruk.

ek wou ‘n tweede lewe deur jou leef

ek wou ‘n tweede lewe deur jou leef
Lady Anne Barnard, wys jy is moontlik:
blote optekenaar van die daaglikse brood
in ‘n era wat alles verander óf uitdruklik

‘n taal van rewolusie en komplotte weef
slawe bevry adellikes klinies roof
en met jou tog deur die binneland
boere tot die bene kloof

maar uit jou briewe kom jy voor my staan:
hand in die sy as ligsinnige dwaas pen
in ink geslepe snob naïewe liberal
deur die nikswerd aan jou sy van standpunt verwen

gearriveer met jou hele frivole lewe sit ek nou beserk
met jou op my lessenaar: as metafoor is jy fôkol werd

op ‘n dag voel my man

op ‘n dag voel my man ek verdien
wel ‘n groter boekrak van melamine

digbundels voorheen emosioneel
gerangskik, nou alfabeties beveel

  • D.P.M. Botes se Wat is ‘n gewone man?

 

goddank neem die poësie met Boerneef ‘n aanvang

yskoud sien ek Cloete staan knus
teen ons enigste terroris!

rats onalfabeties en mauve bou Stephan Bouwer
met private dele tussen die twee ‘n buffer

Cussons stapel op soos snye brood
(langer kon ek haar nie koop)

toe: die beheersde Eybers my classy heldin
wat die wrangste gebied met die kilste woorde in

Jonker en Krog dans hand in die sy – snotneuse
begin by ons lees op pad na Louw in die volgende ry!

stug en sterk hou die Manne in die kosmos kerk
verby M tot waar Komas, groot opgewerk

sonder Ziervogel te sê
teen losbandige Stet moet lepellê

bitter smaal Smal smaller smal Spies
langs hulle staan later Stockenström in Grieks

Watermeyer kon sekel sny in die hoogste klas
maar verkies om die “volk” vir Volkskas op simbaal te pas

My oog val op die vergete stapeltjie Hambidge…
so kom woon tussen Eybers en my – die nouveau riche

Lady Anne by die mikrogolfoond

o my susters in kombi’s en stasiewaens
met stylvolle donkerbrille en hare teen die grys getint
liggame wat sogens in fleurige leotards*
jog en gym en joga
verbete klou aan soepelheid en Pil

soos ons by mekaar op oorbrûe verbyjaag
in stofwolke stop langs sportvelde
aandagtig sit en tydhou voor musiekkamers
mekaar aan die huil bid op Bybelstudies
wonder ek: van watter breed is ons?

in die meedoënlose metodiek van beplanning
herken ek die waansin van wa-pak
die drif waarmee kinders gedryf word
tot uithaal en byhou ruik na kamp en kroep

soos ons op sandersonlinne sit en aai en paai
en die mans by ingeboude kroeë druk drink en desperaat praat oor naai
weet ons ons is die laaste
die laaste wat kinders teer laat verblond op melk en heuning
ons is die laaste
agter ons onder ons langs ons
stort met die sagte geluid van as
strukture wat ons soort in stand hou
in hulle maai.

*wat pas by die voetlose tights, wat pas by die leg warmers, wat pas by die polsband, die kopband
Jerusalemgangers, 1985 (1e Uitgawe; 1985; Human & Rousseau)

ons dorp
XII
salon fraai vroutjie
sag gepunt sleep hare in die drain
skedels ontbloot hul dooie vel
onder infra-lig David highlights asseblief

“Nonna vir 12 jaar sien ek
Piet-hulle feitlik elke naweek.”
“Stomme Ben. Hy maak so geld.

Vermoed niks. Koop vir almal drinks
by die klub.” “Johanna weet van sy
stories, maar sy’t te veel om te verloor.”

“Ek het destyds self op hulle afgekom.
In sy kantoor – hulle brille mooi
netjies op sy lessenaar.”

“Jan wou nie kant kies in
die verkiesing. Die munisipaliteit
is nou by Louw en vennote.” “Ek hoor álles

by dr. Vos se vrou.” “Almal kla
oor die pastorie, agteraf.
Dominee praat uit oor dankoffers.”

“In huis Edelkroon gooi juf. Blease
Bybels in die toilet.” “Agnes
gaan sit gou geld in die meter.”

highlights David asseblief.
huise gestil met oggendson.

XIII

maandae kom die boere dorp toe
met jeeps van onlangse modder bespat
om pienkwang kinders in koshuise te laat
pos parte en koöperasiemeel plase toe te vat

soggens as hulle stoor toe gaan
kom veertig engeltjies staan
tien met trekkers aan die koppenent
tien met stropers aan die voetenent

tien wat wek
tien wat dek
rondom hulle verrys
‘n aardse paradys

woensdae drink die dorpsmevroue tee
tot op die sleutelbeen gedieet
in driestukpakkies pak guitige pastelletjies
rondom ‘n geelhouttafel en weet: die tee

val tarips-taraps uit die silwer servies
in rippie-rippie rinkel Royal Albert
koppietjies wat tinkel en koer-koer doek
pruil porseleinduiwe op die gehekelde tafeldoek.

buite hardloop kindertjies: Marli, Carli, aspatat
spat Lize, Rize waternat; Cornel en Marisan (of Marizaan)
of Mari-Zané) rolskaats met Jacques, Stephan
en Jean-Herman Botha deur die lowerryke straat

vrydae laat meeste plaasvrouens hare doen
vet bosduifies skuif uit duitse motors
wat buffer teen buffer langs die hoofstraat staan
agterin sit Liesbet met die jongste erfgenaam:

lag baba lag
jou pappa het gaan jag
met sy teleskopiese Sauer en Sohn 30.08

wielie wielie ons dorp se walies
die vingers deur die tralies
is wit en vet en bloot
buite die lekkergoedhuis
word waaragtig vuur gestook.

beware of the dog

I vanaand is ek sonder jou

vanaand is ek sonder jou
jy is daar
ek is hier

ons het getrou
dat jou daar
en my hier
soos brûe in mekaar kan vou

maar nou
word jou daar daagliks daarder
en my hier hierder
alles om ons setup na behore te onderhou

na 9 jaar getroude lewe liefste
is ek nog steeds sonder jou

by die dood van ouma Jeanette Bekker

as oudste kleinkind ook geliefdste
saam gewoonstel vir sub A losies my
iepekonder fiemies vertroetel jy my

verswakte benerigheid was jy groots

frimmelvry my nek geskrop met ‘n haarnaald
my kashoek uitkrap boeke volgens grootte
pak my ontsmette kos voer geklem my oë

kan jou naboots

smiddae oor fyn wit hekelwerk buig jy
ek met kruissteek op ‘n teemus terwyl Springbok
in namiddagson die groot Passie

voor ons verbyloods

saans lees jy Krismiskinders daarna
Esegiëls drek op roosterkoek tot
slapenstyd verhaal ek my dag teen elke

emosie weer eens weerloos

oor oupa Krog se vroeë dood die wil
van God se maai in kamers teen weerlig
verdig Makkapietjie deur ons gemaak

‘n poppietjie blinde broos

in ouetehuise maak jou vuiste kop aan
dekens neus en mond swawel verbete onder
inknat oë valstande eenkant in die mond

geskuif asof van iets doods

Otters het jou nog betyds bereik
jongmeisieagtig jou hare wat oor die kussings
sprei laat blaaie los deur vingers gly:

“Waar kom die kind aan alles wat so bloots ry?”

Otters in Bronslaai, 1981. (1e Uitgawe, 1981; Human & Rousseau)

weer eens

ek kom weer eens nie uit met my budget nie
die suiker en die melkkoepons is op
langs my masjien lê stapels stukkende klere
spinnekoppe weef macramé teen die mure
my gesin grawe in leë koekblikke na iets om te eet
my baba het brandboudjies
my dogtertjie swere
my oudste hakkel van een of ander tekort
my man byt op sy tande
stoot die koolbredie agteruit
en druk sy sigaret stadig in die bordjie dood…

hou jou by jou lees, sê ons grootste digteres
hoe de hel dóén mens dit?
ek weier om te eindig tussen wier en gras
of kinderloos met ‘n minnaar langs die see
of
met die herzogprys in ‘n vreemde land
god- en grysverlate

hoe en waarmee oorleef mens dit?

ek krap verwaterde ghwelle uit die opwasbakpropsif
sodat hawermoutwater en swoerd
kan uitloop in die drein vor die venster
die nappyliners word ingeaas in die kleinhuisie
die vuil doeke met sunlight ingeseep die sterte gewas gepoeier
die een skreeu van die honger
die ander een van woede
die oudste met sy senuweeagtige groentemesstem
probeer ‘n hele superman-vlug bo die lawaai uitkerf

my man maak die deur teen almal toe
en draai die Mozart-klavierkonsert ‘n hele rat harder

en ek word mal

my stem gil ‘n mengermalermixermincer
my neus lek soos ‘n yskas
my oë bibber soos eiers in kookwater
my ore word posbusse wat tuit van almanakke
die kinders rand my aan met hulle luidrugtigheid
selfsugtigheid
astrantheid
vernielsugtigheid
hulle vrese komplekse onsekerhede dreigemente node
kap my “beeld as moeder” steaksag op die plankvloer
ek ruik na kots en kak en sweet
na saad en uie
ek illustreer ‘n kombuis
met hare vaaalgeklits teen die stroewe novilon van vel
die taai melkkoepons van rug buig belangeloos
onder die vadoekvaal kamerjas
die bene soos blouseep fyn beaar
pantoffels krul soos potskuurders om voete

ek is dikbek soos ‘n meelsak
afgechip soos ‘n melkbeker
my hande ouer en droër as gisteroggend se toast
deel slae halfhartig teen die kabaal
gaan sit dan hierdie sondagmôre op die treetjie
neither nugter nor verleë
en wonder

hoe en waarmee oorleef mens dit?

ballade vir ‘n 5-jarige huwelik

vanoggend met ontbyt vorm ons die klassieke spotprent:
jy met jou welige hare wat blink om jou nek en ore tros
jou oë penblou en skerp ingestel reeds op vandag se werk
jou hande korreleer presies die argitektoniese opsy
van perfekte spek en eiers
my gesig ongewas, sweterig van ontbyt maak
lê pofferig geplooi, ‘n kussinghaal keep my wang
my hare ongekam en my hande vol tissues, hooikoors en kinders

dan wonder ek wat het gebeur?
ek behoort artikels te lees oor hoe om jou man te behou
ek behoort pastelagtige rome vir my vel te koop
fyn hoëhak-sandaaltjies en kettinkies
ek behoort weer Miss Balmain te gebruik en kantsakdoekies
‘n breastlift te kry sodat my tieties weer rosig en lewendig
onder jou hande kan vroetel,/span>
die leervelle oor my maag en gewese sexy boude te laat wegsny
(die baldadige moeras tussen my bene is goddank tydloos)

en dan?
dan weet ek nie verder nie
hoe lank voordat ons mekaar se vleis met naels van die ribbes ruk
mekaar se skedels in vreemde huise oor die matte rol
mekaar se genitalieë saam met uie in bredies rasper
cocktails met mekaar se oë versier
blou maraschino-kersies dobberend op lang kil martini’s?
(drink my altyd so met jou oë…)

ek staan op en laat vir jou ‘n roos kantoor toe stuur
sedert ek daardie oggend opgekyk
en jou tussen die karikature betrap het
het ek jou lief

selfportret

na soveel maande kom sit ek om ‘n gedig te skryf
soos ‘n leë maag rammel leë wolke agter die fyn reën
die blaai onder my hand is lynloos
die potlood skerp en vars
valslik probeer ek in ‘n swoon ingaan
een of ander esoteriese beeld vasgryp
-vroeër was ek so goed daarmee-
maar elke beeld staan sonder dimensie
van ewigheid, kosmos en dít wat groot poësie sou maak

drop dit, ek strek my arms, krap my nek, en

vang myself in die spieël, die gesig is byna dertig
in borduursteke lê fyn plooitjies om my oë
en ritsel deur die reliëf van wangbene en slape
sagte deegblasies rys onder my oë
soos ‘n vetkoektang sper die kepe van die neus af mond toe
waar ek wil lag oor my sagte lippe nog
my tong wat soos ‘n pienk akkedissie aan saadtrosse kan hang
my stem wat ekstase so goed kan na-hyg agter sterk wit emalje
totdat ek die nek sien:

die bruin suede-handskoen om my keel

wat die spieël met die reëngedempte lig nié sê nie:
is dat sy smôrens skilfers op haar wenkbroue kry
hare uit haar neus moet knip
haar snor moet afhaal met room op die kruissteek bo-lip
onderkant die versteende swartkoppies op haar neus
die witkoppies op haar ken
dat haar tong agter aanpak en swart gebars is van rook en wyn
dat haar kiestande vaal gestop is
haar kliere al hoe strammer poësie uitknars

en dat sy snags al hoe asmatieser snork deur haar strot.

naweekpas

skutter 68474790 K
D-Kompanie uit die kommando vir Bloemfontein-distrik
het die naweek pas gekry
die eerste skurfte van geweld
reeds barsies in die kolf van sy slape
sprei venynig skrootfyn oor die sneller onderlip
in loopgrawe verskans swel sy takdun enkels
skuil sy oortromme en tong
klawerkoeëls onder sy vingers
klanke van geweerloopfluite
en ‘n hewige opmars van simbale oor die veld

daar’s ‘n vreemde vrees in my voetsoldaat se oë
die skertsblou verdonker halt gespanne
in baretkakie saluut
vanuit my arms mortier sy liggaam telekse van onrus en veldmyne
die hele huis ruik meteens na oorlog
soggens is daar bloed aan die takke
en kry ek soms my skutter buite
sy geweer soos ‘n varkblom in sy arms

sy skouers weerloos laai ek sondagaand by die kamphek af
en keer magteloos
en pasloos terug
om met blote bestaan
‘n toekoms vir sy ondergang te bou

Mannin, 1975. 1e Uitgawe; 1975; Human & Rousseau

êrens slaap jy

êrens slaap jy nou
onbewus van die see en die berg
slaap jy onbevange soos ek jou al soveel kere sien slaap het
met jou hande wat aanhoudend roer
jou slaaplos onderlip
ek het opgestaan sonder om jou wakker te maak
my klere aangetrek en geloop
(‘n voël teen die hange stort deur die grys Kaapse oggend)
ek verlaat jou vrywillig
want jy slaap rustig en vervuld
soos altyd volkome onbewus van my droomlose oë langs jou
jy het my nie meer nodig nie
jy het my deurgeleef

hoe sal ek voortaan moet lewe
om ooit wéér te lewe?

geboorte

my liggaam skreeu ‘n pad uit Nasaret
die kind wat goddelik myne is
die kind wat vassak in Silo
die kind wat ryp word in Rama
en water wat huppelend breek kort duskant die Olyfberg
o ek voltooi die reis na Bethlehem
om vir ewig getel te word
met ‘n kind wat sluise oopbeur
draaiend worsteldraaiend sy weg uit my úit forseer

eindelik die lieflike gevaartetjie vieslik van rose en bloed
beurend pragtig tussen my bene uit skeur uit
speeluitglipbesmeerdinmyarmsjubelendvangeboorte
jubelend van pyn jubelend van krag o ek bons bons bons oor my
seunskind my enigste my mooiste my kleinste my dierbaarste
was hom skoon met bies
sy arms langs sy lyfie draai hom toe met doeke
in ‘n krip van liedjies sku sangertjies uit ‘n skemer kamer
en voed hom
dat sy voetjies uitwaaier in my voetspore
sy hande my nooit beskore snare speel
sy rosige slakkie vrugbaar swel van vreugde
o voed hom uit my hart

die wyses uit die ooste
herders geurende van wol en engelglans
en die innige Josef aan my sy
bekyk ek
om later as alles verby is
julle ook sinvol te bedink.

ek het ‘n huis

ek het ‘n huis
wat ek elke dag skoonmaak

ek het ‘n wasgoedlyn
gespan in die jaart
langs die vygies af
wat die hele winter blom

ek het ‘n kind
wat pap eet
en onder my hande groei

ek het ‘n man
wat soggens gaan werk
elke aand terugkom
en saans teen my aan die slaap raak.

GESALFDE

Eendag sal ek oor die vlaktes na julle toe ry
alleen, op ‘n afrikanerkalf
en julle sal onder mekaar sê: Kyk sy’s dan gesalf
want die een wat nou in die rooigras bly
is nat van suiwer doringboomgom.

Julle sal sien hoe rats my
arms julle weerligtonge vang,
hoe my hande hulle ryg en
soos krale om my heupe hang.

Julle sal die skulp van my
woorde teen julle ore druk
en ek sal sien hoe die
soetheid julle oë verruk.

Dan sal julle onder mekaar sê:
kom ons bou drie strooise daar
een vir haar kalf, en een vir haar
en een vir die Blits wat die hamerkop dra.

OMDAT

My maer hande steek vir jou ‘n kers aan
omdat jy my maat geword het
toe ek na ‘n kwartaal
nog somber alleen tussen die ander sit,
omdat jy my pouses uit die
biblioteek kom haal
om saam liedjies te sing in die saal,
omdat jy my maat bly
t.s.v. my skilferhemp en nylontrui
omdat jy lief vir my geword het
en my selfs vashou teen jou bors
t.s.v. my dimpelbene en die
ryp puisies wat op my wange kors.

My kers brand
omdat jy kaalvoet saam met my
deur die dorp loop
en wag as ek iets in ‘n
supermark koop
omdat jy pouses vir my brood gee,
smiddae vir my wiskunde verduidelik
en soms oor my skoon hare vee

omdat jy my maat is en so daarin berus
al skinder almal oor jy ‘n seun
en ek ‘n meisie is

omdat jy verstaan as ek weg van jou kring
en agter die gordyn kruip
as jy operette sing.

Kyk hoe bewe my kers nou
hy sê dankie en hy bid vir jou.

EK WIL (vir John)

Ek wil jou so graag gelukkig maak
ek wil vir jou verse skryf
sober en soepel soos jyself
ek wil vir jou sing
snags terwyl jy slaap
ek wil myself vir jou gee
stil soos ‘n koorsboom
soet en oop soos mispels
soos mopanies in die herfs
soos maroelas in die somer
bruin en heel soos kremetart
vurig soos die bloeiende handjies van ‘n kafferboom
ek wil jou so graag iets gee wat jy kan saamdra
wat by jou sal bly soos ‘n klein warm akkedissie
eendag as jy oud en allenig in die son sit.

Wiskunde

Elke dag sterf ek 35 minute lank
vasgetangens in my bank
en voor die bord boer
‘n iemand wat my wiskunde voer.

Gevra: Trek lyk AB en vind dan C.
Bewys: Ek trek AB
Ek konstrueer ‘n middelloodlyn
op… verby die sterre
en vind C
alleen.
Op Pythagoras sit hy kruisbeen
en ween, en ween
so hél alleen.

Wetenskapmannetjies

Julle sit onder swart teleskope
en kyk na die son
tot julle besef dat julle nooit daar sal kom.
Pateties bepaal julle dan ligjare
en vertel dat die son as’t ware
inkrimp en eendag gaan verdwyn.

Ons sit maar hoog op die windpomp
en kyk hoe die son sy kop stamp
teen die rant
hoe hy bloei
hoe die vaal lug gloei
hoe die bome tot silhoeëte verskroei.

Daarom liewe menere teken ek klawertjies
tussen my huiswerk, kry en 26%

want ek luister eerder na
die verdwaalde korhaan
tussen die bossies by die tennisbaan
ek kwadreer liewer my vreugdes
en vind dan die logaritmes van my hartseer
want syfers bring ‘n eensaamheid
wat geen mens kan keer.

Jy raak my nie meer

Jy raak my nie meer
die haartjies op jou wange
die bitterwit huisies van jou mond
die warm holte van jou hand
die soet lepel van jou tong
die droë distel van jou liefde
roer my nie meer
jy het glansloos geword soos dié om jou.
En nou eers na al die baie stil dae
kan ek sonder hartseer
aan jou dink
en bly wees oor jy nie weet
hoe my lekhart leegbloei
in my oë.

digter wordende

om op ‘n oggend wakker te word binne-in klank
met vokaal en klinker en diftong as voelspriet
om met aarselende sorg die effensste roerings
van lig en verlies in klank te kalibreer

om jouself meteens gekniel te vind
bo-oor die hoorbaar kloppende wand
van ‘n woord – soekend na daardie presiese
moment wat ‘n versreël volloop in klank

wanneer die betekenis van ‘n woord swig,
begin gly en hom eindelik oorgee aan geluid
van dan af smag die bloed na die inkantasie
van taal – die enigste waarheid staan gevél in klank
die digter dig met haar tong
sy haal asem – ja, diep uit haar oor

 Ma

Ma, ek skryf vir jou ‘n gedig
sonder fênsie leesekens
sonder woorde wat rym
sonder bywoorde
net sommer
‘n kaalvoet gedig –

want jy maak my groot
in jou krom klein handjies
jy beitel my met jou swart oë
en spits woorde
jy draai jou leiklipkop
jy lag en breek my tente op
maar jy offer my elke aand
vir jou Here God.
jou moesie-oor is my enigste telefoon
jou huis my enigste bybel
jou naam my breekwater teen die lewe

ek is so jammer ma
dat ek nie is
wat ek graag vir jou wil wees nie.

Hierdie gediggie deur Antjie Krog verskyn in haar bundel “Eerste Gedigte” wat in 1984 verskyn het.

ERENS IS JY

hier waar ek nou skrywe
weet ek dat jy êrens is
dat jy ook nou lê onder die oop venster
en uitkyk na die donsige maan op die werf
ek is al drie jaar lank op soek na jou
en waar jy ookal is
ek sal jou vind
en as ek voor jou staan
sal ek weet:  ek is vir jou gemaak
na jou liggaam is ek geskape
na jou maat gevorm
ek is gesny uit jou been
jou denke sal myne omhels
jou begin sal my begin wees
jou einde my einde
jy sal my bestyg soos ‘n gier
en in my maagdelikheid jou nes kom bou
want na jou liggaam is ek gemaak
na jou maat gevorm
en as ek die dag my hand in joune sit
sal ek my padkaarte bêre met die wete:
my reise op soek na jou is nou verby.

dit rammel sag

dit rammel sag. die aarde lig haar skedel.
vanuit die binnevlerk van wolke veer
die donderweer al met die stil verhemeltes
van berge langs. ‘n tiptol stip die mees

intieme plek aan in die esdoringboom –
die plek waar die stam die stilste boomwees hou.
o, roerloos wag die boom. die weerlig stroom
uit vlakke blou, die veld voel hoe haar ganse

vel oopsnou na die geur van dragte vol
geloftes. in haar hare bloei die rose.
haar laaste koelte damp vanuit haar oksels

sy knoop haar lang hart los. nog nooit was sy
so karig, so alleen, of het sy so
gesmag na reën wat net nie, nooit nie kom nie

die blikbul van lavigny

van borsspiere bult is hy uitgeput. sy lyf
van onverganklik jonkwees gedaan
sy verwende borskas sak diep tussen
sy pote in as hy die blonde koringveld

opwaarts swiep in ‘n vaag-onthoude snak
van geluk – wanneer laas is sy sjarme
metafories betas? roerloos roes sy
bal. sy lieste ril beskermend teen soet vergane

geilheid vas. wat moet word van hierdie
on-ejakulerende jagse bul? sy horing hang. sy
stert tril nog om solitêre swier maar sy lyf is
een opgehoopte dom vrag vrees … hy weet die groot

inmekaarstort kom en druk sy kwylbek vir
oulaas vrypostig tussen persblou pruime in.

(Uit: Verweerskrif, Umuzi, 2006, opgeneem in Versindaba 2006. Marlise Joubert (samesteller), Protea Boekhuis, 2006)

Klein vrede

Vanmiddag wag sy vir hom in ‘n klein hoëmuurhuisie
half toe-oog ingekruip agter ‘n straatstoepie
5.12 hang hy sy hoed aan die haak
trek sy baadjie uit en sy gooi kookwater deur die koffiesak

vee haar hande aan die geblomde voorskoot en wag darem
dat hy haar eers teen hom vasdruk, so skuinserig met die een arm

voor sy hom die dag se nusies vertel
die gat in die heining, die hond, Anna-jannie het gebel

Na ete haal sy die Bybel uit die boonste laai
en hy lees vir hulle van Israel se afgode teen die berg Sinaï

haar hande vou ‘n stopskulp in syne as sy bid:
Onse Vader wat hoog bo die aarde in die hemel sit …

Die maan rys soos ‘n koringmeelbrood bokant die dak
sy was skottelgoed met lifeboy en ‘n omgesoomde meelsak

hy luister nuus op die treetjie by die agterdeur
oor dinge wat met ander mense in die wêreld gebeur

Later as die luggie begint trek
die windpomp klap-klap in die dam in lek

sit hy die sproeier af, maak die hoenderhokke toe
sit die kat uit en kom langsaam kamer toe.

In die na-nag as die wind uit die noorde begin
skuif die maan oor hul bed dieper die kamer in

tot op die woorde geraam in krulle:
My vrede gee Ek julle.

Rouklaag

ondergronds het ’n rif geskuif
die aarde struikel
verward swik die son
toe sy asem hom verlaat het in die nag
het die sterre geduisel
want alles is verstrengel
wurgend aan sy dood
sy dood en die dood alleen
ineens is alles droef
asof ons in ’n groot skadu staan
asof glas deur ons breek
asof klip in ons splinter
asof ons gedagtes in fluisterende wanhopige groepe rondvlug
soos assegaaie in die grond bly vassteek
trillend
in Qunu weier die beeste vanoggend om uit die kraal te gaan
by Lusikisiki lê die visse na aan die oppervlakte
in Mveso maak die korhane geen geluid nie
die gedagte aan Mandela laat ons binnekante knak
(ons wou sy sterwende liggaam nie sien nie)
ons kan selfs nie die mond oopmaak nie
(ons wou sy sterwende liggaam nie sien nie)
om te begin praat oor sy dood om te praat oor sy dade
(ons wou sy sterwende liggaam nie sien nie)
oor sy bloed wat pyl soos ’n luiperd na geregtigheid
(ons wou sy sterwende liggaam nie sien nie)
om te vertel van sy werke, sy sagte ongelooflike krag
(ons wou sy sterwende liggaam nie sien nie)
die lieflike nate van sy blommende vergewende kopbeen
(ons wou sy sterwende liggaam nie sien nie)
die stormram van sy tong
wat toekomste tot ’n verbonde kern wring
ons kan nie reg laat geskied aan Ons Grote
(ons wou sy sterwende liggaam nie sien nie)
ons wil dit nie sien nie
in die voetpaaie, op die sypaadjies, in busse langs die paaie
bondel ons swyend bymekaar, ons die gewones
ons sprinkel ons trane oor hom
ons besprinkel die erflating
van die Vreeslose Kryger wat ons eenmaal regeer het
ons besprinkel die lyk wat gewas moet word
ons besprinkel die geopende bloed van Mandela
ons gewones was hom nie met water nie maar met liedere
met droefheid neem ons sy liggaam
ons was dit, ons bad dit
met hande wat hom liefhet, raak ons aan sy dade
ons gee hom aan, van hand tot hand
hoog bokant ons koppe
die man wat ons van onsself gered het
o singende bloed van die seun van uNosekeni
o palms van Mveso vol sterre en reën aan die oewers
o arms van Qunu wat ’n land se diepste wonde omhels
die Groot-Aanmekaarbinder
niemand se strottehoof kan Mandela se lied end-uit sing nie
niemand ontglans ooit ons Groot Saambinder vir ons nie
niemand oortref hom in morele gesag nie
geen leier is nog ooit só deur sy mense lief gehad nie
hy wat ons beste gesig was
hy wat ons aan onsself teruggegee het
die beliggaming van die wêreld se smagting
na iemand wat omgee
wie se dade onbeskaamd goedheid wou bring
geliefde Mandela, bring seën op ons, jou kinders
laat jou lewe sy vingerafdruk op ons almal laat
dit sal lank duur voordat ons ooit weer ’n mens so edel
iemand so genesend en koppig mooi
so taai van inbors so streng insluitend van beginsel
so elegant en oorrompelend van hart in ons sterflike arms kan hou

(Gebaseer op die weeklag geskryf vir Moshoeshoe 1 LITHOKHOKISO tsa Moshoeshoe le tse ling deur David Cramer Theko Bereng).
Antjie Krog

(Uit: Versindaba 2008. Protea Boekhuis, 2008.)
Antjie Krog

Abecedarium vir Afrika

Aardvark Armadil Alikreukel Akkedis
Buffel Bradysourus Bokmakierie Blaasopvis
Cape Cobra Cactoblastis Camembert Codlingmot
Damaralandse Dik-dik Diederik Duif Dikkop
Eekhoring Engelvis Elsie Eland
Feniks Fiskaal Flamink Fisant
Gapermossel Giraffa Gaboenadder Gemsbok
Hartebees Hiëna Hadida Hotnotsgod
Ietermago Impala iMpevu Ibis
Jakkals Janfrederik Jagluiperd Jellievis
Klaasneus Kakelaar Kwena Korhaan
Lelietrapper Leeu Lystrosaurus Likkewaan
Muskeljaatkat Mahem Manatee Maraboe
Nagmuis Nonaap Njala Ghnoe
Ouvolk Oorbietjie Otterjasie Otterjou
Pylstert Pietjoutjou Pofadder Pou
Quagga Quil snuif op Engels aan die lot
Ratel Roerdomp Rinkhals Rot
Speg Selekant Songololo Saagvlerkswael
Tiptol Tsetsevlieg Troupand Tarentaal
Uil Ungulungu Unicorn (Kalahariduin sy huis)
Vlakvark Vlindervis Vader-langbeen Volstruis
Wildebees Waaierstert Wulk Wildehond
Xhama laat in Xhosa spore op die grond
Yellowtail Yellowfinch en Yslike Ystervark
Zambesi-haai Zambenenje Zoeloelandse kruipmol met baard

Ja alles van hier van huis en van haard
Alles wat kruip volgens suidelike kaart
Alles wat fladder, doodle of dool
Wag reikhalsend op die koms
van die Amazi-voël

(Uit: Versindaba 2009, Protea Boekhuis, 2009)

Klein vrede – Antjie Krog
Vanmiddag wag sy vir hom in ‘n klein hoëmuurhuisie
half toe-oog ingekruip agter ‘n straatstoepie
5.12 hang hy sy hoed aan die haak
trek sy baadjie uit en sy gooi kookwater deur die koffiesak
vee haar hande aan die geblomde voorskoot en wag darem
dat hy haar eers teen hom vasdruk, so skuinserig met die een arm
voor sy hom die dag se nusies vertel
die gat in die heining, die hond, Anna-jannie het gebel
Na ete haal sy die Bybel uit die boonste laai
en hy lees vir hulle van Israel se afgode teen die berg Sinaï
haar hande vou ‘n stopskulp in syne as sy bid:
Onse Vader wat hoog bo die aarde in die hemel sit…
Die maan rys soos ‘n koringmeelbrood bokant die dak
sy was skottelgoed met lifebuoy en ‘n omgesoomde meelsak
hy luister nuus op die treetjie by die agterdeur
oor dinge wat met ander mense in die wêreld gebeur
Later as die luggie begint trek
die windpomp klap-klap in die dam in lek
sit hy die sproeier af, maak die hoenderhokke toe
sit die kat uit en kom langsaam kamer toe.
In die na-nag as die wind uit die noorde begin
skuif die maan oor hul bed dieper die kamer in
tot op die woorde geraam in krulle:
My vrede gee Ek julle.

restourasie

probeer vir my lief wees
al is dit net vir nou
jou obelisk sonlig konstrueer dir verby my oë
verby verslete ontrjou en verbruinde monoliet
versier opnuut my suilhoof met eier- en spiespatrone
met rytjies akantblare
knot my lateie innig met jou stemtapisserieë
my sybeuk en skip herbou dit op die skadulose tekenborde
van jou bors
sny my skoon op albanene horisontaal vertikaal
beplan my
herbou my
restoureer die hartruïne tussen my arms
maak my jóú maaksel
lansetvensters damasseer in elke ruimte in

sodat ek vanaand transigtig en heilig is
en weer eenmaal
nie ék nie
maar jý is

en

bevrugting

uit-asem en juigend
staan ons teen mekaar op
jy skiet my vol blomme
blitsende kalkblank asters uit jou loop
jou blonde krulle skreeu eskaders
en klief my vingers
my naels in die skanse van jou staalsag rug
my tong patrolleer uit jou bors
soos hygende bloed
want jou keel ruik na aarde
o jou keel ruik na aarde
ons bars deur blokkades wilde son en splytdun glas
uit-asem en juigend en magtig
tref ons mekaar
voluit en volkome
met die tromp-op klank van kneusing en bloeisels
ek roep sirenes in jou murg-in oop…
minder
die stuifmeel en kruit pols stadiger
en al hoe minder
heel bloei ons leeg in mekaar se wonde

later vanuit jou innige oë bokant my
kartets ’n klein granaat in die tyd van vrede
geluidloos en liefdevol
tussen my heupe

grond

onder bevele van my voorgeslagte was jy besit
had ek taal kon ek skryf want jy was grond my grond

maar my wou jy nooit
hoe ek ookal strek om my neer te lê
in ruisende blou bloekoms
in bees wat horings sak in Diepvlei
rimpelend drink die trillende keelvel
in tafsytossels in leksels gom
in doringbome afgegly na die leegtes

mý wou jy nooit
my verduur kon jy nooit
keer op keer skud jy my af
rol jy my uit
grond, ek word langsaam naamloos in die mond

nou word geveeg om jou
beding verdeel verkamp verkoop versteel verpand
ek wil ondergronds gaan met jou grond
grond wat my nie wou hê nie
grond wat nooit aan my behoort het nie

grond wat ek vergeefser as vroeër liefhet

 

rondeau in vier dele

„Table Mountain symbolized all that is strange and enigmatic to an ‚outsider’
looking in at the Cape of Good Hope.“
Hoerikwaggo – Images of Table Mountain Nicolaas Vergunst

1.
van binne     van buite
van binne buite     van buite binne
van binneste buite na buitenste binne
van binne en buite benoemers na binne en buitenste berg

van binne   van buite
van binne buite hang buite binne saam
hang binne benoemers met buitenste berg van binne na buite
van buite na binne
van binne buite

van binne Camissa van binne soet water
van binne Camissa van buite vars water
van binneste binne vars water vars soet
van binne van buite

van buite Golfo van buite Golfo dentro
van buite Golfo dentro das Serras van buite
van buite Golfo
van buite van binne

van binne buite van buite buite
van bobaas benoemers van die berg van die water
van buitenste binne na binneste buite

van binne    van buite
van noem en van vat
van vat en verwoes
van verwoes en verrot
van binne van buite
van binneste vat van buitenste noem

van toevlug     van uitvlug
van uitvlug     van skeidslyn
van skeidslyn as lyn tussen orde en chaos
van buitenste buite
van binne

ek sien ’n portaal    ek sien’n bewaker
ek sien ‘n plek    ek sien net soet water
van binne van buite
van noem en van vat
van toevlug van uitvlug
van berg van die see    van berg van die tafel
van binne van buite
van binneste binne van buitenste binne

van hoop        van apart
van apostel     van governor
van hoofman van vat    van hoofman van gee
van ruilplek    van stormplek
van godplek   van geeplek
van vat en van vat

2.
van binne     van buite
van binne buite     van buite binne
van binneste buite na buitenste binne
van binne en buite benoemers na binne en buitenste berg

van binne   van buite
van binne buite hang buite binne saam
hang binne benoemers met buitenste berg van binne na buite
van buite na binne
van binne buite

van binne Camissa van binne soet water
van binne Camissa van buite vars water
van binneste binne vars water vars soet
van binne van buite

van buite Golfo van buite Golfo dentro
van buite Golfo dentro das Serras van buite
van buite Golfo
van buite van binne

van binne buite van buite buite
van bobaas benoemers van die berg van die water
van buitenste binne na binneste buite

van Tafelberg Klipman van buite Mons Mensa
van binne van buite
van binne buite van buite binne
van tafel van klip van binne van buite
Mons Mensa van klip en van buite
Mons Mensa van klip en van Mensa
Hoerikwaggo van binne van buite
van binneste buite Hoerikwaggo van buite
Hoerikwaggo van binne Hoerikwaggo van buite
Hoerikwaggo van binneste buite

sonder godsdiens van buite
is hulle diere van binne
as diere het hulle geen siele van binne
van buite

sonder siele van binne
is hul gedoemdes van buite
is daar geen regte van binne
van diegene van buite
op land of op lewe

3.
van binne     van buite
van binne buite     van buite binne
van binneste buite na buitenste binne
van binne en buite benoemers na binne en buitenste berg

van binne   van buite
van binne buite hang buite binne saam
hang binne benoemers met buitenste berg van binne na buite
van buite na binne
van binne buite

van binne Camissa van binne soet water
van binne Camissa van buite vars water
van binneste binne vars water vars soet
van binne van buite

van buite Golfo van buite Golfo dentro
van buite Golfo dentro das Serras van buite
van buite Golfo
van buite van binne

van binne buite van buite buite
van bobaas benoemers van die berg van die water
van buitenste binne na binneste buite

Umlindi
Umlindi We
Umlindi Wemingizi
Umlindi Wemingizimu
van binne van buite
van binneste buite Umlindi
Umlindi Wemingizimu
Umlindi kwaggo
Hoeri Umlindi
Hoerikwaggo Umlindi
Umlindi Wemingizimu Hoerikwaggo Mons Mensa

berge van buite is die wêreld van binne
is buite nou binne en binne nou buite

party bestyg berge om verder te sien
party bestyg berge om die self af te lê
party bestyg berge om ’n God te aanbid
party bly bloot teen die hange

party bestyg berge om hulleself te toets
party bestyg berge om grense te skep
party bestyg berge om hulde te bring
party bly in grotte bloot teen die hange

party bestyg berge om daaroor te heers
party bestyg berge om verdeling te bring
tussen binne en buite
en binneste binne en buitenste buite
binneloos buite  buiteloos buite
buitenste buiteloos buite
buitenste buite van buite
wanneer gaan binne en buite van binnebuite tot niet

4.
van binne     van buite
van binne buite     van buite binne
van binneste buite na buitenste binne
van binne en buite benoemers na binne en buitenste berg

van binne   van buite
van binne buite hang buite binne saam
hang binne benoemers met buitenste berg van binne na buite
van buite na binne
van binne buite

van binne Camissa van binne soet water
van binne Camissa van buite vars water
van binneste binne vars water vars soet
van binne van buite

van buite Golfo van buite Golfo dentro
van buite Golfo dentro das Serras van buite
van buite Golfo
van buite van binne

van binne buite van buite buite
van bobaas benoemers van die berg van die water
van buitenste binne na binneste buite
van buite van binne
binbuite buitbinne
buitbinnende buite binbuitende binne
van binte van buide
van buidbintende buide
van buide binte van binte buide
van buidenste binte van bintenste buide
van binbuid
bnuid bnid
bnidbnuid
bnud

gebenedyde

sedert

ons die pad begin loop
het, het die irisse
uitgeblom die verla-
te oogballe van die
ligbloues die gevou-
de stil vlermuise van
die perses sedert ons

die pad begin loop het
het die gras in die saad
gekom het die botter-
blomme hulle blare soos
naelknipsels laat val
die japonikas wat
soos kamerjasse tus-
sen die seders hang is

bruin van die takke ge-
pluk sedert ons die pad
begin loop het, het die
bloureën se blink ponie-
sterte uitgeblom het
die waterval banksias
haar ineenstorting vol-
tooi sedert ons die pad

begin loop het, het die
swaels begin terugvou
die jasmyne diep uit
hul slagare begin
geur die sneeu op die spit-
se gesmelt sedert ons
die pad begin loop het
het ‘n man geluidloos

agteroor gekantel
deur die lug wat ons in-
asem ag, dis al die
lug van die aarde oor-
weldig met die dun ge-
luid van verdriet sedert
ons die pad begin loop
het word ons saans donker

van tong en vertaal ons
ontbinding ons enkels
ruik reeds die reuk. maar god!
hoe sterk ons dye hoe
vurig hoe vlug van fi-
ligraan die hart wat ha-
merend die niet in neuk

oggendtee

terwyl sy teemaak vloei iets vreemd
bekends af langs haar binne-dy. soos ink.
na jare bloei sy weer.

sy staan oorrompel
asof ‘n hele boord in haar keel op
roei. geluk lek oral in. haar lyf

stoot luike oop na appels
en koeltes wat waas van voëls
sonbesies en snikhete vertes

asof ‘n kind se lag weer oorloop in die bad
sy voel haar wange weerloos
word. innig en deurbloos van daaglikse

nabyheid. asof haar buik jonk
en sterk uitswel om die mooiste wat sy was
haar nek verlief neem met soveel lig

sy dra die tee uit op die stoep
die lug blus sag vir dié tyd van die oggend
die stad lê soos ‘n volgeloopte dam

hy kom sit langs haar. rustig roer hy
sy tee. so sit hulle. so ver reeds nagelaat
in verlies. vir hulle vrugbaarheid so

seldsaam sorgvuldig ná aan mekaar

Afrikaans liefdeslied

Nie die intimiteit van jou voorkop mooi soos reen
nog die geweld van jou liggaam agter lakens terughoudend
nog wat na my toe aankom van jou lewe
Sal soveel slanke genade hê
as om jou te sien slaap nie

miskien sien ek jou soms vir die eerste maal

jy met jou borskas van koejawel en druif
jy met die ooglede klam, die slape silwer en vinkel
jy vlek ons uithoeke smaltblou en geruisloos soos verdriet

maar ons sal uithou bymekaar

selfs al hamer die son teen die dakpanne
selfs al kook die staat net clichés
ons stop ons sakke met suurstof
en die vuurwerk van vinke
selfs al ry my oe die horison bloots
selfs al runnik die maan met haar flanke
selfs al vorm die berg ‘n kompakte lyn teen die nag

ons sal uithou bymekaar
ek sien jou soms vir die eerste maal

nòg familie nòg vriende

alles praat heen deur die dooies
na my toe
jou bros bondel bene
my liefste liewerlee
lê lankuit bewaar
ek is oraloor wakker vannag
maar van my het so min gekom
jy’s al wat ek in die wêreld had
liefste dooieling
alleen en koud is dit tussen
my ribbes Afrika het my alles laat prysgee
dis so donker
dis so kil
sagte koggelaar
van my het so min gekom
ek is af
tot my laaste vel

LOFSANG
Antjie Krog
kom herwaarts geliefdes
met voete vlugtig oor bolandse berge
oor koel valleie varkoor
versamel in die vlaktes
trek op uit die Hantamgebergtes
               uit die Koue Bokkeveld
en die Witteberge naby Bethlehem
vertoef nie vir klere nie
ook nie vir brood of wyn nie
snel geluidloos deur die donker
net die hoewe van die aarde wat sterre vonk
en silwer mane wit salpeter teen sy flanke
want ‘n kind is vannag gebore
‘n seun is gegee in vreugde ontvang en gebore
‘n seun wat die aarde langs sal huppel
oseane sal opvang in sy strandemmer
sy speelgoed oor vastelande strooi
oor kape met windrigtings sy helder top laat tol
en die son soos ‘n ghoenie-ghoen in sy agtersakkie dra
o kom herwaarts geliefdes
vrolik en seëvierend
psalmsing
met goud en wierook en mirre
en kniel op die berge waar daar son is
gevange
en heerlik en bloesend gekruisig
teen die aardse ritme van die ewigheid.
6
1 Share
Like

Comment
Share



Woorde is my asem en skryf my passie!!! Ek waardeer elke stukkie kritiek, verkieslik positief, maar kan die negatiewe ook hanteer. Dankie dat jy die tyd neem om na my werke te kyk en dit te beoordeel. Ek is n Boeremeisie in murg en been... mal oor die wye natuur van plaaslewe wat my omring Ek is getroud met die wonderlikste man (Willie). Ons is geseend met 3 pragtige dogters en 'n kleinseun en 3 kleindogters. My verhouding tot my Skepper loop baie diep en ek dank Hom elke dag vir al die voorregte en genade gawes wat ek so onverdiend ontvang... Loutering is deel van my lewe en ook daarvoor dank ek Hom daagliks want dit maak dat daar altyd groei in my lewe is...

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed
  • Fanus Strydom het ‘n nuwe publikasie gemaak

  • Amanda het ‘n nuwe publikasie gemaak

  • Amanda het ‘n nuwe publikasie gemaak