Jan en die windspook
Vanoggend kry ek die raarste sms van my vriend Jan. Ons gesels so bietjie en ek vra bietjie uit en toe vertel hy my die storie. Vir diegene wat Jan nie ken nie kan ek net noem dat die ou maar redelik stil en eensaam is. Hy woon alleen en eet alleen, maar hier en daar kuier hy ook, maar ek ken nie die “kuieraars” nie, want Jan is privaat. Ek en Jan praat op sms en Whatsapp, en nou en dan gaan drink ons ‘n ietsie, as daar ietsie is om te “selebreer” soos hy altyd sê. Jan was getroud, maar is later jare weer geskei, blykbaar het die ou se maag en veral die winderigheid daarvan die oorhand oor die huwelik gekry, tog so ‘n jammerte.
Ewenwel, Jan vertel my toe hy was in Kuruman, blykbaar daar vir ‘n kuier gegaan, by wie weet ek nie, maar die “kuieraar” kan lekker kook, en kyk, Jan is ‘n man wat lekker kook lekker kan geniet, veral as dit by die eet kom. Jan het huistoe gekom met so ‘n heerlike bakkie beesstert bredie, van daai wat so taaierig en sopperig is om die been, met kluitjies ook nog daarin, saamgebring. Blykbaar vreeslik baie lekker, of altans, so sê hy. Al probleem was dat die bredie uie in gehad het en Jan en uie, enige uie, is nie maats nie. Die ou se maag blaas op, en dan af, en dan weer op en natuurlik weer af, en Jan, omdat hy alleen woon en nie die ongerief van die op- en afblasery wil verduur nie, druk maar so bietjie met “force” die afblasery, sodat die opbalsery langer sal vat.
Jammer, maar die storie waord nou lank, so ek skuif aan. Laasnag het Jan toe lekker geëet en inni bed geklm, en met die ontspanning, soos die ou se lyf nou lê voel hy die maag begin weer sy perkaters, maar hy weet die ontspanning van slaap sal sorg dat dinge sommer outomaties gebeur.
Toe voel hy blykbaar iets. Jan sê my dit voel vir hom of daar iets of iemand op sy bed loop, daar aan die voetenend, en hy sê hy voel hoe iets aan die komberse trek, nie rem nie, net liggies trek. Die ou sê sy hele ou lyf en al sy dinge het stokstyf getrek van angs, sy oë was styf toegeknyp, sy mond saamgepers en sy hande aanmekaar vasgeklou. Met die sametrekking en angs gebeur dit toe dat sy maag besluit dis afblaastyd en, oudergewoonte, gee Jan met die sametrekking to ook ekstra “force” aan dié “selebrasie”, en blykbaar het dit dreunend ge”selebreer”.
Jan reken die trekkery aan die komberse het dadelik gestop, die gordyne het so ‘n warreltjie gegee en toe gaan die badkamer deur vinnig toe. Hy sê my die verligting was so groot dat hy maar net die komberse styf om sy nek getrek het en sommerso, afgeblaas en ontspanne, weer aan die slaap geraak het.
Ek vra toe of hy nie gaan inspekteer het wat die badkamerdeur toegemaak het nie. “Nee” sê Jan, “As dit dan nou in die badkamer wil woon omdat ek so afblaas, dan is dit sy probleem” het die ou geantwoord. Ons sal maar die ding annerdag verder moet bespreek wanner ons weer ietsie drink.
© Grootvissie
Julie 2017