Jongste aktiwiteit:

Oupa se motorkar
vir

Oupa se motorkar

Wie se oupa dit is sal ek liewer nie sê nie, maar dit was iemand se oupa.

En toe breek die dag aan dat oupa besluit het om ‘n “mouterkar” aan te skaf en op te gradeer vanaf die skotskar aangesien dit tyd is vir moderne dinge. Nou kyk, dit was event van die jaar, groter selfs as die kerkbasaar en die lanbouskou! Die kispakke is uitgehaal en die gemeste kalf is geslag en die familie en vriende is almal genooi na die geleentheid. Ook die kinders se maniere en tafelmaniere is weer opgeskerp, met die hulp van ‘n plathand en die familie plak natuurlik! Almal is so opgewonde dat net die ram en die windpomp werk op die plaas vir die vooraangaande week.

So breek die dag toe aan! Oupa en sy 2 handlangers klim op die skotskar oppad dorptoe (iemand moes die hekke oopmaak en natuurlik die skotskar terugbring)
Daar gekom, vertel die mannetjie met sy potloodsnorretjie, platgekamde middelpaadjie en kruisbande vir oupa alles van die kar af, wat oupa nmatuurlik grensloos geirriteer het, want wat kan die klein snotkop hom nou eintlik leer.

En daar gaat oupa…met ‘n geruk en gepluk aanvanklik, maar die euforie van die kar ryery het hom net beetgepak, toe onthou hy wat hy nie gevra het nie…. hoe stop mens die ding!!!!!? By die eerste hek het Swartbooi dit net gemaak, die 2de een, net-net…..van die derde hek af het die hekke nie meer die paal gehaal gehaal nie en die huis met almal daar is oppad.

By die huis staan almal toe gereed, hare platgekam, kispakke aan, rooi boude…. gereed! Opgewonde en nuuskierig, salig onbewus van oupa se dilemma, daar word gejuig en gejubel, oupa wat die bose masjien nie kan stop nie ry om en om die opstal want die petrol wil nie op nie en almal is onder die indruk hy wil spog! Totdat hy begin skree,”Pietman!” En daar doen hy nog ‘n rondte……”Kry klippe! Nog ‘n rondte….almal kry dadelik klippe en wag vir die volgende bevel……..”Gooi uit sy oë, dat hy nie kan sien waar hy loop nie!” Kyk, toe reën dit klippe, maar die satanskind hou aan loop! Einde ten laaste ry oupa die kar in die waenhuis in, waar dit gerukstop teen die agterste muur en die deur dadelik toegemessel is net vir ingeval jy weet… Wat van daai kar geword het weet ek nie, maar ek weet vir ‘n feit dat dit nie bevry is voor oupa se dood nie!




Woorde is my asem en skryf my passie!!! Ek waardeer elke stukkie kritiek, verkieslik positief, maar kan die negatiewe ook hanteer. Dankie dat jy die tyd neem om na my werke te kyk en dit te beoordeel. Ek is n Boeremeisie in murg en been... mal oor die wye natuur van plaaslewe wat my omring Ek is getroud met die wonderlikste man (Willie). Ons is geseend met 3 pragtige dogters en 'n kleinseun en 3 kleindogters. My verhouding tot my Skepper loop baie diep en ek dank Hom elke dag vir al die voorregte en genade gawes wat ek so onverdiend ontvang... Loutering is deel van my lewe en ook daarvoor dank ek Hom daagliks want dit maak dat daar altyd groei in my lewe is...

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed