Jongste aktiwiteit:

‘n Vriend in Nood
vir

‘n Vriend in Nood

In ‘n huis in Molenstraat op Die Bult in Potchefstroom het vroeër-dae ‘n oubaas gebly met die naam van oom Jan Kowa. En hy was iemand met wie die skoolkinders graag gesels het, en dit is een van hulle wat my van hom vertel het. Deur die depressiejare het dit met oom Jan Kowa, soos omtrent met almal, swaar gegaan. Die enigste werkie wat hy kon kry, was om in diens van die munisipaliteit pad- en straatmaker te word – met die pik en graaf natuurlik. Maar oom Jan Kowa het nie te lank met die pik gekap nie, toe kry hy bevordering.  Hy word toe, wat hy genoem het, “‘n hoofman over tien”. En hy lê die pik neer en kry ‘n voormansgraaf om hier en daar ‘n streep mee te trek, sodat die ander kon sien waarlangs hulle moes kap. En so sien die kinders as hulle smiddags huis toe kom, die werkers met die pikke kap, en daar eenkant sien hulle die hoofman over tien op verskillende maniere op sy graaf leun – die een dag hand in die sy, en die ander dag anders. Maar dit het nie lank geduur voor oom Jan Kowa en een van die munisipale werkers stry kry nie. Dié wil hom toe kom leer pad maak. En dit was net daar en dan dat oom Jan Kowa homself as ‘n hoofman over elf beskou en die amptenaartjie fluks opdons. Dit was die einde van die hoofman over tien (of elf), want die volgende middag toe die kinders van die skool af kom, kap oom Jan Kowa soos voor sy bevordering weer met die pik, en ‘n ander man staan met die voet op die graaf en die hand in die sy.

Dit kon oom Jan Kowa nie sluk nie, want hy was ‘n man wat gevoel het dat daar meer in hom steek. En toe werk hy net om geld te spaar sodat hy sy eie onderneming kon begin. Maar voor hy nog self gereed was, tref die geluk hom. Die gemeente het van sy plan te hore gekom en toe haak hulle hom met ‘n bietjie kontant. En so kon oom Jan Kowa toe vir hom ‘n trolletjie en ‘n muil koop en Die Bult en omgewing se ligte transportwerkies doen. Eers was dit net die normale soort goed wat die mense hom gevra het om te vervoer. Maar gou het almal agtergekom hoe handig dit is om vir oom Jan Kowa met sy verbykom in die straat, sommer hulle winkelnotisies ook te gee. En so het hy en die muil later hulle hande vol gehad om elke dag se klomp werk af te handel. En dit was op een so ‘n besige dag dat ‘n baie droewige slag skielik vir oom Jan Kowa getref het, maar die uitkoms ewe onverwags, en mild, eenvoudig net daar was.

Die weer  het vroeg al begin dig word en oom Jan Kowa moes ekstra spook om alles afgelewer te kry voor die reën dalk uitsak. En die weer word swaar, maar daar’s geen genade nie; oom Jan Kowa moet deurdruk. En daar slaan die weer die muil in die tuig dood. Die mense van die naaste huise help af dra die trollie leeg en bring die vrag onder dak, sodat oom Jan Kowa se skade nie nog groter moes wees nie. En hulle was pas klaar, toe begin die wolke uitvasel, en die moontlike storm is verby.

Maar daar staan oom Jan Kowa toe omtrent net waar hy was toe hy nog by die munisipaliteit gewerk het. Hy kon wel intussen sy gesin aan die lewe hou, maar van iets wegsit, was daar geen sprake nie. En daarom sou hy sonder die pik en die graaf nie weer ‘n muil kon koop nie. En die mense drom daar om die trollie saam en hulle praat oor die geniepsige verlies wat oom Jan Kowa gely het, en hulle simpatiseer en probeer praat moed in, en gee raad. En hulle praat onder mekaar oor die ramp wat ook vir hulle getref het. Want Die Bult se hele vervoerstelsel was met net een klap van die weer daarmee heengeslaan.

En toe hulle nog so staan, kom loop professor Du Toit, die bekende Totius, daar aan. En hy beskou die ramp en hoor die treurigheid aan. En hy sê: “Nou mense, ek het oom Jan Kowa ‘n pond jammer.” En hy haal ‘n pondnoot uit sy sak en sit dit op die waentjie neer. En daar begin kry die omstanders Jan Kowa elkeen volgens sy vermoë jammer: een vir tien sjielings, ‘n ander vir ‘n halfkroon, nog een vir sewe-en-ses, en ‘n volgende vir sewentien-en-‘n-sikspens. En so stroom die jammerte in kontant in £, $, en so aan. En daar het hulle oom Jan Kowa uiteindelik ‘n heel nuwe, lewendige muil jammer gekry. So gaan die karweidiens op Die Bult toe voort, en almal is gelukkig en tevrede. Behalwe oom Jan Kowa. Want van dié dag af kon hy nie sy werk met ‘n ewe vredige gemoed as voorheen verrig nie. Daarvoor het hy op sy rondtes ‘n te lastige lewensraaisel in die hart saamgedra. Die naar ding wat hom bly pla het, was die vraag hoeveel van die mense hom die dag daar om die wa uit jammerhartigheid jammer gehad het en hoeveel hom jammer gekry het om hulle hom nodig gehad het.




Woorde is my asem en skryf my passie!!! Ek waardeer elke stukkie kritiek, verkieslik positief, maar kan die negatiewe ook hanteer. Dankie dat jy die tyd neem om na my werke te kyk en dit te beoordeel. Ek is n Boeremeisie in murg en been... mal oor die wye natuur van plaaslewe wat my omring Ek is getroud met die wonderlikste man (Willie). Ons is geseend met 3 pragtige dogters en 'n kleinseun en 3 kleindogters. My verhouding tot my Skepper loop baie diep en ek dank Hom elke dag vir al die voorregte en genade gawes wat ek so onverdiend ontvang... Loutering is deel van my lewe en ook daarvoor dank ek Hom daagliks want dit maak dat daar altyd groei in my lewe is...

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed
  • Fanus Strydom het ‘n nuwe publikasie gemaak

  • Amanda het ‘n nuwe publikasie gemaak

  • Amanda het ‘n nuwe publikasie gemaak